Matteus 17:1-8 – 2014

2 Maart 2014 Sondag van Verheerliking
Prediker: Dr Tiana Bosman

Boodskap

Daar is veral 5 gebeurtenisse in Jesus se leeftyd op aarde wat uitstaan: sy doop, verheerliking, kruisiging, opstanding en hemelvaart. Nie te lank terug nie het ons oor sy doop gepraat. Vandag is dit in die kerklike jaar die Sondag van Verheerliking, en daarom juis hierdie teks. Jesus vat drie van sy dissipels – Petrus, Jakobus en Johannes – bergop en daar verander sy voorkoms voor hulle oë, en word daar sedertdien na hierdie moment verwys as die verheerliking van Jesus op die berg (in Engels die “transfiguration of Jesus)…

Teen my gewoonte in, het ek vandag ‘n 3-punt preek! In die eerste plek wil ek met julle praat oor die gebeurtenis wat afspeel op die berg. Daarna kyk ons na vraag waarom dit juis hier in Jesus se lewe en bediening gebeur. En heel laaste moet ons vir mekaar sê “Hoe nou verder…” Wat moes die dissipels hiervan maak? En wat kan ons vandag daarvan maak.

1. Jesus en drie van sy dissipels is alleen bo-op die berg. Sy voorkoms verander daar voor hulle oë, sy gesig begin straal soos die son, en sy klere word so wit soos lig. Skielik verskyn Moses en Elia aan hulle en hierdie twee manne wat lank terug geleef het begin met Jesus praat.

Waarom juis Moses en Elia? Ons kry nie ‘n verduideliking daarvoor in die teks nie. Maar wat ons wel weet is dat Jesus in die bergrede vir die mense kom leer het dat Hy gekom het om aan die geskrifte van die wet en die profete hul ware en volle betekenis te gee. Nou in die Bybelse tyd het Moses die wet verteenwoordig en Elia het die profete verteenwoordig. Dit maak dus heeltemal sin dat dit hierdie twee manne is wat aan Jesus verskyn.
Om dit nog verder te vat: Aan die einde van sy lewe het Moses die Moabvlakte opgeklim. Daar het die Here vir hom die beloofte land gewys en met hom gepraat en toe het hy gesterf. Die storie loop dat die Here hom self daar iewers begrawe het, maar niemand kon ooit Moses se graf vind nie (Deut 34:6)! Geen mens het dus vir Moses sien sterf of daarna bewyse gevind dat hy dood is nie.
Elia, weer, het nie gesterf nie. Sy leerling Elisa het gesien hoedat ‘n wa van vuur met perde van vuur aan die einde van sy lewe vir Elia in ‘n stormwind in die hemel opneem (2 Kon 2).
Die man van die wet en die verteenwoordiger van die profete, van wie niemand gesien het dat hulle sterf soos ander mense nie, verskyn nou tydens Jesus se lewe aan Hom op die berg. Die hele OT getuienis tree hier in gesprek met Jesus, die Een om wie die hele NT getuienis draai.

Daar is ook baie ooreenkomste met God se verskyning aan Moses in Eksodus 34. Drie manne klim saam met Moses op teen die berg, ‘n wolk oordek hulle, Moses se gesig straal, en God oorhandig die wet aan Moses. Dit is waarskynlik hierom dat Petrus drie hutte wil bou – een vir Jesus, een vir Moses en een vir Elia. In ‘n gebaar van eerbied wil hy monumente vir die drie “groot geeste” in hul geskiedenis bou, een van wie hy nogals die voorreg het om persoonlik te ken. Wat nog nie so lekker tot Petrus deurdring nie, is dat Jesus op geen manier aan Moses en Elia, hoe groot figure hulle ookal was, gelykgestel kan word nie. Moses en Elia kan nie in dieselfde asem as Jesus genoem word nie. Hy is heel anders en veel groter as hulle.

Terwyl Petrus nog so praat, het ‘n helderligte wolk sy skaduwee oor hulle gegooi en ‘n stem het uit die wolk gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.” Presies dieselfde aankondiging as met Jesus se doop. Hierdie keer gaan God net nog verder: “Luister na Hom.”

Die dissipels het baie bang geword en op die grond neergeval. Maar Jesus het na hulle toe gekom, aan hulle gevat, en gesê: Staan op en moenie bang wees nie.” En toe hulle opkyk het hulle niemand gesien nie, net Jesus alleen.

Dis punt 1 – die gebeurtenis wat op die berg afspeel.

2. Nou vir die tweede punt: Waarom gebeur hierdie bonatuurlike verskynsel juis hier? Want die dissipels het nodig om gerusgestel te word rondom Jesus se identiteit. Enkele dae tevore het Hy heeltemal onverwags die ontstellende nuus aangaande sy eie naderende dood aan hulle meegedeel. Dit was die eerste keer dat Hy sy dood aangekondig het. Tot hiertoe het die dissipels nog geglo dat hulle saamstap met die man wat ‘n rebellie-beweging op die been bring en wat die Romeine van die troon gaan afveg en wat dan die nuwe koning van die Joodse volk sal wees. Hy wat alle mag en glorie vir die volk sal herstel. Petrus was so ontsteld toe Jesus oor sy dood praat dat hy Hom eenkant geneem en berispe het: “Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie.” En Jesus dan ewe sterk aan Petrus: “Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.”

Die dissipels is tot in hulle wese geskok in die anti-klimaks van die dood wat Jesus oor Homself aankondig. En met die verheerliking van Jesus op die berg, sy voorkoms wat begin skyn, en God wat oor Hom praat soos met sy doop as sy “geliefde Seun,” herbevestig God aan die dissipels Jesus se eiesoortige en goddelike identiteit. “Julle dink dalk julle het julle misgis met hierdie man wat sy dood tegemoet stap, maar moenie ‘n fout maak nie. Ek sê wéér: ‘Hy is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.” En dan verder: “As julle dalk gedink het om Hom nie meer so ernstig te neem na nou-die-dag se aankondiging oor sy dood nie, moenie daai fout maak nie. LUISTER (STEEDS) NA HOM.”

Dus: na die dissipels se vrees en onsekerheid oor Jesus, help die verheerliking op die berg vir hulle om te onthou dat Hy meer is as wat hulle besef, dat daar iets van God aan Hom is, al verstaan hulle al minder en minder daarvan.

3. Hoe nou verder?
Nadat die dissipels weer op die berg bewus gemaak word van Jesus se andersoortigheid, en nadat God hulle dan ook herinner dat Jesus selfs meer is as Moses en as Elia, want Hy is sy geliefde Seun, wat word nou van hier af vorentoe van die dissipels verwag? Hieroor is daar nie onsekerheid in die teks nie. “Luister na Hom,” sê God vir die dissipels. Waarop hulle in vrees reageer en op die grond neerval. Maar Jesus kom na hulle toe, vat aan hulle en sê: “Staan op en moenie bang wees nie.” En toe hulle opkyk het hulle niemand gesien nie, net Jesus alleen. Alles is weer soos dit was toe hulle pas daar bo aangekom het.

Dis asof Jesus hulle uit hierdie transendente ervaring wil terugroep aarde toe. Asof Hy vir hulle ‘n “reality-check” wil gee. Want die laaste ding wat hulle nou moet doen is om so opgesweep te word deur hierdie bonatuurlik ervaring dat hulle nie weer wil teruggaan nie die lewe toe nie. Die laaste ding wat hulle nou moet doen is om monumente te bou. Nee. Hulle verkeer nog in ‘n toestand van oorweldiging oor die goddelike openbaring wat hulle ontvang het, toe kom vat Jesus aan hulle, en mens hoor in sy daad van aanraking en sy woorde iets van: “Word wakker en moenie bang wees nie. Julle het nou gesien, maar ons moet aanbeweeg. Staan op, dis tyd om terug te gaan na die lewe toe. Daar is ‘n pad wat gestap moet word, ‘n oorgang wat nog gemaak moet word…”

Om saam te vat:
1. Jesus neem die drie dissipels op teen die berg en daar bo sien en hoor hulle iets van sy goddelikheid as die ware Seun van God. Hulle word daardeur meegevoer – Petrus wil selfs monumente bou. En hulle val neer op die grond.
2. Die rede waarom Jesus hulle opneem en hulle sy verheerliking sien, is waarskynlik omdat hulle dit op die stadium so nodig gehad het. Jesus het pas vir die eerste keer vir hulle vertel dat Hy sy dood tegemoet stap en nie die troon nie. Hulle twyfel aan Hom, hulle is onseker, hulle is bang. Hulle het nodig om gerusgestel te word. Hier benadruk God dan weer aan hulle dat Jesus inderdaad sy Seun is.
3. Die openbaring op die berg beteken nie dat die dissipels (en Jesus) hulself nou van die wêreld mag onttrek en net op God se bonatuurlik openbaring fokus nie. Die dissipels het vir ‘n oomblik ‘n glimps gekry van wie Jesus is sodat hulle weer kan terugkeer na die realiteit, maar die keer met meer vertroue in Jesus as voordat hulle teen die berg opgegaan nie, en die keer met ‘n baie duidelike opdrag van God af dat hulle na Jesus moet luister.

Ons wonder nou dalk waarom ons nie almal hierdie openbarings van God af ontvang nie. As geloofsversterkings wanneer ons die dag ‘n bietjie af voel of sukkel om te glo. Maar ons moet onthou dat ons in ‘n ander tyd leef as die dissipels. Hulle leef voor Jesus se kruisiging, opstanding en hemelvaart. Hulle weet op hierdie stadium al dat Hy gaan sterf, maar hulle verstaan nog nie dat Hy ook werklik gaan opstaan nie. Dis vir hulle ‘n heeltemal vreemde gedagte! Hulle het nodig om op ‘n “bonatuurlike” manier deur God verseker te word

Maar ons leef nou, en ons het veel meer as wat die dissipels gehad het. Ons het nie net die wet en die profete, wat in elk geval so dikwels gemisinterpreteer was nie. Ons het ook die evangelies en die briewe van die NT. Ons hét, in die Bybel, die bonatuurlike openbarings van God en sy woorde vanuit die hemel. Dis ons Bybel. Dis daarom ook ons verhale. Ons het verder die ooggetuienisse van mense wat vir Jesus gesien het na sy opstanding. Ons hoef nie meer daaroor te vrees of te wonder soos die dissipels nie. (Onthou: ook net drie dissipels het gesien en moes later gaan vertel daarvan – nie almal nie.) Ons wéét Hy het opgestaan. Ons wéét Hy lewe weer. Ons moet ophou soek na God in die bonatuurlike, en eerder fokus daarop om te voel hoedat Jesus ons aanraak. Sy hand op ons skouer, sy “staan op en moenie bang wees nie. Stap saam met My die pad van die lewe.” En hoe verder ons met Hom saamstap, hoe meer sal ons ontdek dat God juis nie net in die bonatuurlike verskynings is nie, maar integraal deel van die lewe van elke dag.

Verheerliking
En toe ons wakker word sien ons ‘n man gemaak van son
en twee wat skynend is by Hom: ou vaders van ons ras:
ons drie het toe verstom gaan deurmekaar praat, iets
van hutte bou – ag, enigiets om hierdie dag te onthou,
ons drie bewus van ons vuil voor sy verblindende wit –
Selfs H‎y het Hom grys gehou met ‘n wolk vermom
en vir Moses en Elia koesterend gevou in Hom, en met ‘n stem
gespreek ín in ons bot begrip – en vir niemand
het óns weer terug in die dorp kon sê dat ons vir een korte uur
gesien het hoe hierdie Jesus lyk vir God …
Nou loop hy weer argloos langs ons, bruin soos ons aarde bruin
en skraal van ons karig eet en sweet ons sweet
in die kleed wat Nikodemus hom gegee het, maar nou
wanneer hy praat weet ons sonder nate is sy woord
en dat hy self ‘n wit vuur naatloos een is met sy heelal.

– Sheila Cussons

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.