Johannes 3:1-17 – 2014

16 Maart 2014, 2e Sondag in Lydenstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Opmerkings

Vs 2 – in die nag – waarskynlik omdat hy skaam was om in die dag by Jesus gesien te word. Hy was immers self ‘n belangrike man, ‘n leier van die Jode, Fariseër, kenner van die wet, eintlik ‘n professor in die teologie. Hy was een van die groep mense wat skepties was oor Jesus, wat Hom wou vastrek oor sy leringe. Hy is nie veronderstel om na Jesus te gaan met sy twyfel en sy vrae sodat hy moontlik by Hom iets kan leer nie. Daarom gaan hy in die nag.
Ook opvallend dat Johannes heeltyd die donker en die Lig teenoor mekaar afspeel – deur die loop van sy evangelie. Hier gaan Nikodemus in die donker nag na die Lig toe, al weet hy dit self nog nie…

– ‘n leermeester is wat van God gekom het – “Ons weet dat U ‘n belangrike profeet van God af is”, daaroor is daar geen twyfel nie, die tekens wat Jesus doen getuig immers daarvan. Maar Nikodemus weet nog nie dat Jesus dié Profeet, die verwagte Messias is nie.

Vs 3 – Van bo weer gebore word (2 betekenisse in die een woord). Born from above OR born anew/again. Eerste betekenis is die sterkste: “VAN BO nuut/weer gebore word”. In daardie tyd het die mense verstaan dat God “bo in die hemel is”. Om dus te sê dat iemand “van bo” gebore moet word, is om te sê dat daardie persoon as ‘n nuwe mens uit God gebore moet word.

– koninkryk van God – koningskap en heerskappy van God, sy magsgebied. In Christus is die koninkryk reeds teenwoordig, maar egter nog slegs die begin.

Vs 4 – Omdat Nikodemus nie besef wie Jesus is nie, verstaan hy Jesus se verduideliking letterlik itv fisiese geboorte ipv geestelike geboorte. Nikodemus dink van onder (aards) en nie van bo (hemels, koninkryk) nie.

Vs 5 – water én Gees/wind. Water, wind en Gees word van bo af gestuur. Verder dui water en wind op die lewegewende werk van die g/Gees (krag) van God

Vs 8 – elkeen wat uit die Gees gebore is – jy sien nie sy geboorte nie, maar jy sien die effek van hierdie geboorte op daardie persoon se woorde en dade.

Vs 12 – aardse dinge vs hemelse dinge: Aardse dinge sluit in alles wat op die aarde gebeur, dws ook geboorte, wind en gees. Ook die vernuwende werk van die Gees is deel van die aardse dinge.

Vs 14 – Net soos Moses die slang hoog op ‘n paal gesit het sodat die volk Israel gesond kon word deur daarna te kyk, so moet die Seun van die Mens verhoog word aan die kruis sodat mense tot geestelike insig en verlossing kan kom (geestelik gesond kan word en met geestelike oë kan begin sien.)

Boodskap
Twee Sondae terug het ons die verhaal van Jesus se verheerliking op die berg gelees. Van hierdie verheerliking word in al die evangelies vertel, behalwe in Johannes. Bybelkenners meen dat die evangelie van Johannes in elk geval deurtrek is van getuienisse oor die heerlikheid van Jesus. En dat Johannes moontlik vertel van Nikodemus se gesprek met Jesus om hierdeur dieselfde punt by sy lesers tuis te bring as wat die ander evangeliste wou doen toe hulle oor sy verheerliking op die berg geskryf het.

Wat gebeur daar op die berg? Die dissipels sien Jesus vir wie Hy werklik is. Op ‘n tydstip van twyfel en onsekerheid (Jesus het pas vir die eerste keer sy naderende dood aangekondig) kom bevestig God aan die drie dissipels dat Jesus inderdaad sy Seun is, en dat hulle na Hom moet luister. Hulle gaan af van die berg af terug na die lewe toe, maar dinge is nou vir hulle anders. Later raak dit duidelik dat hulle steeds nie heeltemal verstaan nie, maar nietemin het hulle anders begin kyk na Jesus, hierdie gebeurtenis onthou, so dat hulle dit later kon oorvertel, kon neerskryf. So dat Petrus in een van sy briewe getuig hoedat God sy heerlikheid in hierdie moment op die berg in Jesus geopenbaar het.

Johannes verwys na die verheerliking of die verhoging van Jesus in 3:14-15: die Seun van die Mens moet verhoog (verheerlik) word aan die kruis sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê. Dit is verál na die kruisiging en die opstanding dat daar geen twyfel meer is oor wie Jesus is en wat Hy kom doen het nie.

Elkeen wat in Hom glo… Maar wat beteken geloof? Hier kom ons nou by die rede waarom Nikodemus na Jesus toe gegaan het in die middel van die nag. Sonder dat Nikodemus sy vraag gevra het, weet Jesus reeds wat op sy hart lê, en antwoord Hy hom: “Ek sê vir jou: As iemand nie VAN BO weer/nuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” Hierdie stelling maak vir Nikodemus glad nie sin nie, want in die tradisie van die Judaïsme het die mense geglo dat mens self die oorgang vanuit die sondige bestaan na die nuwe lewe kan maak, natuurlik deur streng wetsonderhouding. Jesus weet egter dat dit onmoontlik is. Persoonlike prestasies en wetsonderhouding bring mens nie in die koninkryk van God in nie. Alleen maar deur VAN BO, vanuit God weer gebore te word.

Ons praat dikwels van bekering as wedergeboorte. Ons sê graag die een of daai een is ‘n wedergebore Christen. Om “wedergebore” te wees sê egter nie genoeg nie. Want wat beteken dit nou eintlik? Dit laat ruimte vir misverstand. Mens sou maklik soos Nikodemus die fout kon maak om te fisies hieroor te dink – so asof jy weer in jou moeder se baarmoeder moet terugkruip om opnuut in hierdie wêreld gebore te word. Iets wat immers onmoontlik is. Maar die Griekse woord hier se primêre betekenis is “om van bo af” gebore te word, dws van God af. Om deur God se Gees weer gebore te word. Nikodemus verstaan dit nie omdat hy te “aards” dink – hy besef nog nie wie Jesus werklik is nie.

Wat beteken dit om “van bo af” gebore te word? As ‘n baba gebore word, dan is dit dieselfde baba wat in die ma se baarmoeder was wat nou ‘n nuwe wêreld betree. En in hierdie wêreld sien die baba nuwe dinge, en leef die baba nuut, anders, leer nuwe vaardighede aan, soos om self te eet en te loop en te praat. Maar dis steeds dieselfde baba as wat in die baarmoeder was. Die baba het nie verander nie; die wêreld het verander. Dalk kan mens wedergeboorte, of om van bo af gebore te word, ook aan die hand van hierdie beeld verduidelik. Wanneer mens uit God as ‘n nuwe mens gebore word, dan is dit steeds jy. Eintlik het die mens nie verander nie. Maar die wêreld waarin jy jou na hierdie geboorte bevind is wel ‘n ander wêreld. ‘n Wêreld waar jy dinge nuut sien, dinge nuut beleef, en op ‘n nuwe manier leef omdat die ritme en die maatreëls in hierdie wêreld totaal anders is as die wêreld waaraan jy gewoond is.

Geloof is om Jesus te sien soos wat Hy werklik is. Dit is as jy in Hom meer sien as dit wat net met die blote oog sigbaar is. Om uit God gebore te word is om jou oë oop te maak vir ‘n Jesus wat nie maar net nog ‘n groot profeet is nie, maar die Messias wat gekom het om die wêreld te verlos; ‘n Jesus wat nie maar net as teleurstellende leier sy dood tegemoetstap nie, maar wat tydens sy doop en later weer op ‘n berg deur God self aangespreek word as sy “Geliefde Seun in Wie Hy Hom verheug”. Om uit God gebore te word is om te besef dat God se volle heerlikheid in Jesus aan die kruis sigbaar geword het. Dat hierdie selfopofferende daad vir ons genesing bring – dat ons gesond word wanneer ons na die kruis kyk, dat ons lewe omdat Hy uit die dood uit opgewek is en weer aan mense verskyn het, dat Hy saam met die Vader in beheer is van die ganse heelal. Dit is om jou oë oop te maak en die koninkryk van God rondom jou raak te sien. Al sien ander dit nie. Geloof, om van bo af gebore te wees, is om seker te wees van die dinge wat gehoop word; dit is om vas te hou aan die dinge wat nie gesien word nie (Hebr 11:1).

Anders as ons gewone aardse geboorte, is ons geboorte van bo af ‘n voortgaande proses. Omdat ons steeds met ons voete in dieselfde wêreld staan as voor hierdie geboorte, val ons terug en verloor ons soms ons visie op die Here en die koninkryk. Ons kan maar net om ons rondkyk en vind dat dit baie moeilik is om die dinge van hierdie wêreld te sien en om dan deur dit alles heen steeds vir God en sy heerskappy ook raak te sien. Hoop gaan verlore en geloof kan wankel. So was dit ook met die dissipels. Petrus het, nadat hy die verheerlikte Jesus op die berg gesien het en selfs drie hutte as gedenktekens daarvan wou bou, op ‘n latere stadium vir Jesus verloën toe die geloof van hom begin vra het om dinge te sien wat hy toe nog nie kon of wou sien nie. Maar die Here het hom nie gelos nie. Hy het weer aan hom verskyn – die keer veel heerliker nog as op die berg, want toe Jesus na sy kruisiging weer verskyn was dit as die opgestane Here. En Petrus het van daar af verder gestap op die pad van die geloof.

Kom ons gebruik ‘n baie meer onindrukwekkende voorbeeld as Petrus. Ons vat vir Nikodemus self. Hy was nie een van die twaalf dissipels nie. Hy was een van die Joodse godsdienstige leiers. Wat eintlik maar as ‘n lafaard in die middel van die nag na Jesus toe sluip met sy vrae, want hy is bang om in die openbaar by Hom gesien te word. Mense praat graag negatief oor Nikodemus – die man wat te skaam was om voor ander oor geloof te praat. Verder ‘n man van wie daar net nog twee ander kere in die evangelie melding gemaak word. Geen lang stories oor die pad wat hy saam met Jesus gestap het nie. Geen briewe uit sy pen nie.

MAAR as dit nie vir Nikodemus se naggesprek met Jesus was nie, dan het ons nooit Johannes 3:16 gehad nie. En die ander twee kere wanneer ons van hom hoor? Aan die einde van hfst 7 praat die leierpriesters en die Fariseërs sleg van Jesus en beraam hulle planne om Hom gevange te neem. Maar dit is Nikodemus, die een wat voorheen in die nag met Jesus gaan praat het, wat Hom in sy afwesigheid verdedig… En in hfst 19 nadat Jesus gesterf het en al wat dissipel is gaan wegkruip het, dan is dit Nikodemus en saam met hom Josef van Arimatea (wat uit vrees vir die Jode in die geheim ‘n dissipel van Jesus was), wat sy liggaam gaan haal, dit balsem, in doeke toedraai en begrawe. Dit is hierdie twee dissipels van die nag wat die laaste eer betoon wanneer almal anders die Here en sy liggaam versaak het. Dit is hierdie twee wat vir Hom ‘n begrafnis hou.

Is dit nie dalk die sterkste dade van geloof, van wedergeboorte van bo af nie? Nie om te getuig en te praat wanneer dit maklik is en mens veilig voel nie, maar om die Here te verdedig wanneer ander beplan om Hom leed aan te doen, ongeag die feit dat dit vir jou spot op die lyf kan jaag en selfs gevaarlik kan wees. En is dit nie ook ‘n daad van geloof nie – om, wanneer almal anders wegkruip want die Here is dood en daar is geen hoop meer oor nie, om dan sy liggaam te gaan haal en te versorg, en vir Hom ‘n ordentlike begrafnis te gee, om Hom op dié manier te eer wanneer eer aan Hom geensins sin maak nie… Is dit nie miskien die diepste vorm van geloof nie? Om binne die speelveld van die koninkryk te leef, die oog gevestig op Jesus, selfs as dit lyk of Hy dood is, selfs midde ‘n wêreld waar al meer mense glo dat God dood is.

“Die wind waai waar hy wil en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy gaan nie. So is dit ook met elkeen wat uit die Gees gebore is.” Hierdie geboorte is geestelik van aard, nie fisies nie. Daarom nie ‘n “sigbare” geboorte nie. Maar jy hoor die geluid daarvan – mense se manier van kyk in die wêreld, hul woorde en hul dade getuig van hul nuwe geboorte van bo af. “Die Seun van die Mens moes verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.” Hierdie Seun is nie dood nie. Hy is opgewek. Hy lewe. Sien julle Hom? Teen alle bewyse in sien julle Hom steeds? Glo julle dit?

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.