Matteus 25:14-30 – 2014

11 Mei 2014 Pinelands Pase 4
Prediker: Dr Tiana Bosman

Hierdie is so ‘n welbekende gelykenis dat ek seker eintlik nie eens daaroor hoef te preek nie. Ons almal ken dit, weet wat daar staan, leer dit vir ons kinders. Meeste christene (eerste-wêrelds in elk geval), hou eintlik baie van hierdie gelykenis, want dit motiveer ons om te presteer, dit moedig ons aan om die beste te word wat ons kan word. Maak die beste gebruik met dit wat die Here vir jou gegee het. Woeker met jou geld, jou eiendom, jou talente, sodat dit wat die Here aan jou toevertrou het, kan vermeerder. Wees slim en laat dit wat jy ontvang het vir jou werk.

Ek praat reg nê? Die gelykenis maak mens opgewonde, dit vuur jou aan, maak jou lus om so gou moontlik na die diens huis toe te gaan en weereens na jou begroting en jou beleggings te gaan kyk, om seker te maak of jy en jou gesin steeds op koers is, opwaarts natuurlik… Want vir die wat slim woeker met dit wat die Here aan hulle toevertrou het, vir hulle gee Hy sommer dubbel soveel of selfs meer. En weë die luiaard wat nie weet hoe om wins te maak nie, want so ‘n mens is nutteloos, hy of sy sal in die buitenste duisternis beland, sal ween en op hul tande kners.

Ek lees ‘n kommentaar oor die gelykenis wat so mooi ‘n verband lê tussen die Griekse woord vir die grootste geldeenheid in daardie tyd, ‘n “talent”, en dan die Engelse “talent”. Dit is heel gepas, sê die skrywer, dat die Griekste geldeenheid wat in hierdie gelykenis as voorbeeld voorgehou word, juis diesefde woord sal wees as die Engelse “talent” (of die Afrikaanse “talent”) wat verwys na ‘n persoon se “spesiale bekwaamheid” of “gawe”. Hy sê dat ons nie die Griekse voorbeeld van geld moet deurtrek na ons gebruik van geld vandag nie, maar dat die gelykenis eerder gaan oor die betekenis van “talent” as “spesiale bekwaamheid” – daai 1 of 2 (of 5) vermoëns wat die Here vir jou gegee het, daai dinge wat jou spesiaal maak – werk daaraan sodat jy die beste jy moontlik kan wees.

Ek is lus en sê “wat ‘n wonderlike toevalligheid!” dat die Griekse “talent” van 2000 jaar gelede nou juis op die klank af dieselfde woord is wat vandag in Afrikaans ook “talent” is en verwys na iemand se spesiale eienskappe of gawes. Of ‘n mense egter so kan speel en spring tussen twee sulke uiteenlopende tale, is iets wat ons onsself moet afvra…

Hoe dit ookal sy, dit lyk asof die gelykenis een van twee betekenisse kan hê. Vir die meer vermoënde christene onder ons beteken die gelykenis dat ons so met ons geld en ons beleggings en ons besittings te werk moet gaan, dat dit deurlopend groei toon. Vir die vermoënde gemeentes: dat ons so met ons kerk se geld en beleggings te werk moet gaan dat dit opwaarts groei. Dit ís immers die Here se geld. En wie weet, as ons so mooi daarmee werk dan doen die Here dalk vir ons wat die eienaar in die gelykenis vir sy flinke en wyse slawe gedoen het – Hy gee dit dalk net alles vir ons om onsself mee te verryk! “Want aan elkeen wat het, sal gegee word, en hy sal oorvloed hê, maar wie nie het nie, van hom sal ook wat hy het, weggeneem word.”

Vir die christene wat nie so vermoënd is nie, beteken die gelykenis dat hulle eerder moet fokus op hul besonderse eienskappe wat hulle van die Here af gekry het en dat hulle die beste van daardie bates moet maak.

Na die finansiële of na die “gawe” kant toe, moedig die gelykenis van die talente ons dus aan om uit te styg, om suksesvol te wees, sodat ons deur die Here geprys kan word en nog meer vrylik uit sy hand kan ontvang – ons verdien dit immers, het tog hard gewerk daarvoor of daaraan. Diegene, daarenteen, wat nie suksesvol is nie, die wat nutteloos blyk te wees, van hulle sal die Here ook die bietjie wat hulle het wegneem.

Daar is ‘n probleem met hierdie verstaan wat ons het van die gelykenis. Dien ons werklik so ‘n Here? ‘n Here wat ons beloon na ons verdienste – hoe meer ons verdien, hoe meer sal Hy vir ons gee. Sing ons dan nie van sy “onverdiende guns alleen” nie? En dien ons werklik ‘n Here wat, as iemand dit nie regkry om ‘n sukses van sy of haar lewe te maak nie, om dit wat die Here vir hom of haar gegee het, te vermeerder nie – dat die Here daardie persoon so sal straf dat Hy die bietjie wat hy het van hom sal wegneem? Is dit die tipe Here wat ons dien?

Die mense in Jesus se tyd het nie Engels of Afrikaans geken nie. Die tale het nog nie eens bestaan nie. So kom ons vergeet heeltemal van die betekenis wat die Afrikaanse woord “talent” vir ons het. Kom ons lees die gelykenis soos wat die mense in Jesus se tyd dit gehoor het, kom ons luister daarna asof ons 2000 jaar terug geleef en na Hom geluister het. Ons lees dit met sy letterlike finansiële betekenis, maar ook teen die agtergrond van finansies in daardie tyd…

Toe die 12 stamme in die Beloofde Land ingetrek het, was die belofte dat elke familie ‘n stuk grondgebied/land sou ontvang, en dat daardie grond vir altyd aan hulle sou behoort. Daarom was dit so belangrik vir die uitgebreide familielede – die ooms en die neefs – om, wanneer ‘n man geldelike probleme gehad het en die risiko geloop het om sy land te verloor, hom te help, of om die eerste reg te hê tot die koop van die land (die lossersreg, Rut), sodat die grond binne die breër familie kon bly. Mense kon eintlik nie bekostig om te verloor wat hulle besit het nie, want goedere was beperk gewees. Daar was nie onbeperkte middelle nie. Die land wat daar was, was soos ‘n koek. Elke familie het ‘n skyf ontvang, dalk nie ewe groot nie, maar tog, en alles is uitgedeel. Daar was nie ‘n skyf van die koek oor waarmee mens sou kon “speel” nie. So was dit ook met geld. En met mag en status en eer. As iemand meer gevat het as wat hom toekom, dan het dit noodwendig beteken dat iemand anders iewers verloor wat hy gehad het. As iemand meer eet as wat aan hom uitgedeel is, dan het iemand anders honger gely. Die een se wins was letterlik die ander se verlies. ‘n Eerbare mens was iemand wat net belanggstel het in dit wat hom toegekom het. Selfs al het hy meer begeer, sou hy nie daardie behoefte bevredig het nie. Want dit was om te peuter aan die ekwilibrium van die samelewing.

Teen hierdie agtergrond kan ons verstaan waarom dit teen die wet van Moses was om rente te vra wanneer iemand geld by jou geleen het. Om rente te vra was so goed soos steel. Om goeters bymekaar te maak terwyl jy dit nie nodig gehad het nie, was beskou as diefstal. ‘n Gesegde vanuit hierdie tyd lui: “Elke ryk persoon is of onregverdig, of die erfgenaam van ‘n onregverdige man”. As iemand ryk was, het hy gewoonlik of iemand uitgebuit, of gesteel van ‘n ander persoon, of bedrog gepleeg. Jy kon nie ryk en eerlik wees nie. Ryk mense het hulle eer, hulle sosiale posisie in die samelewing verloor – want hulle het nie eerbaar geleef nie.

Aan die ander kant: om arm te wees het beteken dat jy nie dit wat aan jou toebedeel is, kon beskerm nie. Jy was ook nie in staat om jou eer te handhaaf nie. Jy het geen mag meer gehad nie. Jy was weerloos.

Maar ‘n boer maak ‘n plan. Die slim, of eerder slinkse, eiendomsmagnate van daai tyd het hulle slawe gebruik om hulle vuilwerk vir hulle te doen. Die slawe het elk geval niks gehad om te verloor nie, want hulle was die groep mense in die samelewing wat geen eer gehad het nie. So, indien jy steeds as eerbaar beskou wou word, maar tog hebsugtig was en meer wou hê as wat jou toekom, dan het jy jou slawe jou sake laat behartig. Soos, byvoorbeeld, die man in hierdie gelykenis.

‘n Talent was die grootste geldeenheid van daai tyd. Gelyk aan 6000 dae se werk vir die gemiddelde man. ‘n Talent was dus, vir alle praktiese doeleindes, so goed soos ‘n miljoen rand. ‘n Man gaan op reis en vertrou sy besittings aan sy slawe toe. Die een is in beheer van 5 milj rand, die ander 2 milj en die derde moet omsien na 1 milj. Die ryk man gaan op reis en met sy terugkoms tref hy die volgende aan: Die eerste slaaf het met die 5 milj onder sy beheer gewoeker en wins gemaak van nog 5 milj rand. “Mooi so, goeie en getroue slaaf, oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Deel in jou eienaar se vreugde!” Die volgende slaaf met die 2 milj het ook ‘n wins gemaak van nog 2 milj rand! “Mooi so, goeie en getroue slaaf…!”

Kyk mooi. Wat gebeur hier, teen die agtergrond van die destydse samelewing? Die eerste 2 slawe was uit op winsbejag – ‘n praktyk wat teen die wet was, en baie suksesvol daarin. Hulle het skandalig opgetree, hulle het ten koste van ander mense hulle baas se geld verdubbel. Hulle was skuldig aan uitbuiting. Hulle word beloon, want hulle is nes hulle baas.

(Soos wat ek aan die preek werk flits die woorde “Number One” en “Nkandla” en “korrupsie” sonder dat ek dit kan keer heeltyd voor my oë.)

Die derde slaaf kom en gee vir sy baas die 1 milj net so terug wat hy aan hom toevertrou het. Hy het nie weggehardloop met die geld nie. Hy het ook nie probeer wins maak daarmee nie. Hy het bloot gesorg dat hy die geld wat aan sy baas behoort, veilig hou totdat hy terugkom. Soos wat mens van ‘n eerbare persoon sou verwag… Volgens die destydse rabbynse wet as die veiligste plek om iets te bêre juis om dit te begrawe, want dan kan jy nie verantwoordelik gehou word vir die verlies indien jy die goedere begrawe het en dit word gesteel nie.

Wat die baas betref was die derde slaaf lui en toon sy optrede dat hy nutteloos is. Hy beteken niks vir die baas nie, want hy bring hom niks ekstra in die sak nie. Hy het nie genoeg besigheid“savvy” nie. Daarom verag sy baas hom. En as straf word die 1 milj waarvoor hy verantwoordelik was, aan die eerste slaaf gegee – die een wat die mees korrupte van almal was, die een wat 5 milj by ander mense gesteel het, mense wat se léwens daarvan afgehang het. En dan sluit Jesus af deur die raak gesegde van die destydse tyd in die baas se mond te plaas: “Want aan elkeen wat het, sal gegee word, en hy sal oorvloed het; maar wie nie het nie, van hom sal ook wat hy het, weggeneem word.” (As jy nutteloos wil wees in my diens, stuur ek jou hel toe.)

In die lees van hierdie gelykenis moet ons nie ‘n analogie trek tussen die optrede van die ryk baas en die optrede van die Here nie. Hierdie gelykenis probeer nie (soos die vorige een) sê hoe dit in die koninkryk van die hemele sal wees nie. Die gelykenis wil eerder vir ons sê hoe dit op aarde sal gaan in die tyd voordat die koninkryk kom. Hoe absoluut korrup dit gaan. Hebsugtig. Ongebalanseerd. ‘n Wêreld waarvan die skaal gebreek is, omdat die een kant so swaar weeg dat die pendulum kraak.

Slawe het geen eer of mag gehad nie. Nogtans het die derde slaaf soos ‘n eerbare mens opgetree, soos een met mag – hy het die mag vir homself toegeëien om te besluit om nie na sy skelm baas se pype te dans nie. En deur aan die baas terug te gee net dit wat hy van hom ontvang het, het hy skaamte oor die baas gebring (hy het hom geshame). Hy het niks gewen daardeur nie, eerder verloor, maar is dit dan nie waarop Jesus sy dissipels voorberei het nie?

Ek sluit af met ‘n paar opmerkings om die wêreld van toe en die wêreld van vandag by mekaar uit te bring:

Jesus het geleef in ‘n tyd toe die beginsel van beperkte goedere gegeld het. Daar is net soveel van alles, en as jy meer vat as wat jou toekom, dan kry iemand anders noodwendig minder as wat hom toekom. Ons leef vandag asof daar geen einde aan middelle is nie, asof alles onbeperk is. Wanneer dinge op raak, dan vervaardig ons net nog. Ons sal selfs fracking doen as dit nodig is, solank ons rykes se voertuie net kan ry. Dink ook maar aan ons vermorsing van water en ons vernietiging van woude… Is daar regtig vandag so ‘n onbeperkte hoeveelheid van alles? (Is daar nie al klaar mense wat geen water meer het nie? Onbeperkte goedere geld vandag net as jy ryk is…)

Jesus het geleef in ‘n tyd toe die gemeenskap, die groep, belangriker was as die invididu. ‘n Eerbare mens het omgegee vir ander, uitgereik na ander, en vir hulle gehelp. Vandag dink ons net aan onsself en ons gesinne. ‘n Eerbare man is een wat goed vir sy gesin kan sorg en elke jaar vir almal op ‘n oorsese vakansie kan neem. Om ‘n gedeelte van wat jy het in die breër gemeenskap in te ploeg, is onverantwoordelik. Wat dink jy doen jy?!

In Jesus se tyd was ‘n eerbare mens iemand wat tevrede was met dit wat hy gehad het, en nie heeltyd gestreef het daarna om meer en mooier te besit nie. Want dit het beteken dat iemand anders in die proses sy goed sou verloor. Vandag verdien ‘n mens respek wanneer jy mooi lyk, in ‘n groot huis bly, ‘n fancy kar besit en ‘n topposisie by ‘n groot firma beklee. Wie wil nou ‘n onderwyser wees wat in ‘n staatskool vir gewone kinders (soms baie arm kinders) help om in hulself te glo, terwyl jy in ‘n finansiële firma se lugversorgde kantoor jou en ander se geld kan tel en uitwerk hoe om dit op die vinnigste moontlike manier te laat groei – die groei van ryk kliënte se geld is deesdae baie meer belangrik as die gesonde ontwikkeling en groei van die land se kinders.

Ek weet nie wat om verder te sê nie. Ek is eintlik te bang om meer as dit te sê. Ek wil nie hierdie gelykenis vir elkeen van julle probeer toepas in 2014 en in jul eie lewens nie. Ek wil maar net hê dat ons moet gaan nadink oor wat die gelykenis werklik beteken het toe Jesus dit vertel het. Ek wil hê dat ons moet besef dat Jesus nie die eerste slaaf as voorbeeld aan sy luisteraars voorhou nie, maar die derde slaaf – die een wat eintlik as die “loser” wegstap, die een met niks nie – behalwe natuurlik die feit dat hy eerbaar opgetree het. (As dit nog vandag van enige waarde is, eerbare optrede. Ek ken mense wat sal sê dis net plein onnosel om eerbaar en eerlik te leef terwyl jy met die teenoorgestelde kan wegkom.) En dan wil ek heel laaste ook hê dat ons bietjie moet nadink oor die waardes waarvolgens ons ons lewens inrig. Waardes van
– Beperkte teenoor onbeperkte middelle
– Die belang van die groep teenoor die individu
– Lê ons eer in hoe ons optree teenoor ander mense of in hoe ons lyk en hoeveel ons besit?

Wat is die lewensingesteldheid wat ‘n christen behoort te hê?
1. Al is jy iemand wat gemeet aan die World Trade Centre persentasies arm is en daarom maar min of geen eer in die oë van die wêreld het nie, kan jy steeds optree soos iemand wat baie eer het. Jy kan die regte ding doen, selfs al is jy ‘n “nobody”.
2. Moenie dink dat jy daardeur ‘n “somebody” gaan word nie. Mense met geld en mag sien om na hulle eie tipe. Moet daarom nie verras word deur onreg nie. Asof, as jy ‘n christen is, die maghebbers dalk anders teen jou sal optree nie. Dit gaan heel waarskynlik nie gebeur nie.
3. Jesus se volgelinge sien nie net hulle naasbestaandes raak nie. Jou familie is baie groter as jy agter die Here aan loop. Jy word geroep om nie net vir jouself te sorg nie, maar om ook lojaal te wees teenoor diegene wat al baie, of selfs alles, in hulle lewe verloor het. Dit wat hulle eens op ‘n tyd gehad het, het of deur hul eie toedoen of deur ander hebsugtiges se toedoen in die rykes se hande beland. Maar dit maak eintlik nie saak hoe dit daar gekom het nie. Ons dien nie ‘n Here wat diegene wat meer en meer maak beloon met nog meer nie, en diegene wat goed verloor verder straf deur alles weg te vat nie. Dis nie die Here wat dit doen nie. Dis die magsvrate van die wêreld wat dit doen. So sal dit gaan voor die koms van die koninkryk. Ons moet anders leef as die vrate, selfs al sou dit beteken dat ons dan ook in die proses geld en besittings sal verloor. Tewens – dit ís wat dit sal beteken.

Toe nou nie so maklike gelykenis nie…

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Lukas 24:13-35 – 2014

4 Mei 2014 Pinelands Pase 3
Prediker: Dr Tiana Bosman

Teks
24 daar is geen konkrete bewyse dat Hy leef nie
25 “Oo, stadige harte van geloof in alles wat die profete gesê het!”
34 Daar was nóg ‘n verskyning behalwe vir die een op die pad!
Twee stelle getuienisse ondersteun nou die vroue se vertelling

Boodskap
“Ons het so gehoop…” sê die twee dissipels op hul pad na Emmaus vir die vreemdeling wat by hulle aansluit.

Wie weet of ons nie dalk na afloop van Woensdag se verkiesing dieselfde sal sê nie? Ons het so gehoop dat Zuma nie vir nog ‘n 5 jaar in die presidentiële stoel sal sit nie. Ons het so gehoop dat dit weer duidelik sal blyk dat die Here aan bewind is in SA. Ons het so gehoop dat daar weer vir ons en ons kinders hoop sal wees…

“Ons het so gehoop dat Jesus van Nasaret, die profeet wat magtig was in woord en daad voor God en die hele volk, dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar nou het ons eie godsdienstige leiers Hom oorgelewer om ter dood veroordeel te word, en Hom gekruisig. Dit is vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het.” Die uitslag is dus vas en seker. Hy het nie gewen nie, Hy het die stryd verloor… Om alles te kroon is daar nou nog ‘n groep vroue uit hulle dissipelgroep wat hulle ook nog verwar. Die vroue was die oggend vroeg by die graf, maar hulle kon Jesus se liggaam nie kry nie. Hulle praat van ‘n verskyning van engele wat aan hulle gesê het dat Jesus lewe! Maar van die manne het toe na die graf toe gegaan, en nes die vroue het hulle Hom ook nie gesien nie. Jesus is nie net dood nie, Hy is nog weg ook.

So deel die twee dissipels hulle uitsigloosheid oor die toekoms met die vreemdeling. Of mens hulle op hierdie punt nog dissipels moet noem, is seker ‘n vraag. Want hulle was eens volgelinge van Jesus van Nasaret, maar Hy is nou dood, daar is nie meer iemand om te volg nie. Kan ons hulle dan nog dissipels noem? Of is daar ook van hulle dissipelskap niks meer oor nie?

Die ironie is nou dat hierdie twee manne, sonder dat hulle dit besef, besig is om saam met Jésus te stap, en om vir Jésus te vertel dat Hy dood is. Die einste Een wie se dood vir hulle so hartseer maak, so wanhopig, so twyfelagtig oor wat die toekoms nóú vir hulle inhou, noudat Hy dóód is (en hulle eie leiers het Hom doodgemaak!), hierdie Einste Een stap nou in lewende lywe met hulle saam en luister na sy storie vanuit hulle perspektief. Hulle dink nog hulle praat met “die enigste vreemdeling in Jerusalem,” die een wat niks van Jesus van Nasaret af weet nie, maar toe spreek hierdie “vreemdeling” hulle aan en Hy begin om die profete en die Skrifte vir hulle uit te lê, al die gedeeltes wat op Jesus betrekking het. “Moes die Christus (dan) nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?” Asof Hy hiermee wou sê: “Is dit wat gebeur het dan nie juis ‘n bekragtiging van hoop as dat dit ‘n boodskap van wanhoop is nie? Ken julle dan nie julle Bybel nie? Ken julle dan nie julle Here nie?”

Met die kom die drie geselsende manne toe in Emmaus aan, en die “vreemdeling” Jesus maak of Hy verder wou gaan. Maar Kleopas en sy vriend dring by Hom aan: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby.” Hy gaan toe in om by hulle oor te bly.

Om gasvryheid te beoefen was geweldig belangrik in daardie kultuur. Dat die manne vir Jesus (al het hulle Hom as ‘n vreemdeling beskou) ingenooi het, was die ordentlike ding om te doen. Die volgende sou wees dat hulle soos goeie gashere Hom moes bedien met ‘n ete aan tafel. Hulle gaan sit (of sit-lê soos in daardie dae) toe om die tafel, maar kyk: in plaas daarvan dat Jesus wag om deur sy gashere bedien te word, neem Hy die rol as gasheer in en word Hy die een wat húlle bedien. Soos Donderdagaand (sommer nou die aand nog) by die kleiner kring van die twaalf dissipels, neem Jesus hier die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. Hierdie handeling van Hom bring die vermoë om werklik te sien wat voor hande is – Wie voor hande is! – na hulle toe terug, en hulle herken Hom. En nadat Jesus toe verdwyn het, sê hulle vir mekaar: “Het ons harte nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?” Amper of hulle met terugskoue wil sê: “Moes ons nie tóé al geweet het nie?!”

Hulle gedink daar is vir hulle niks meer in Jerusalem oor nie. Hulle het juis daarheen gegaan om fees te vier. Na Jesus se kruisiging en sterwe het hulle hoop op ‘n toekoms gesterf, en het hulle besluit om die stad weer te verlaat. Net om op hulle pad geleidelik te ontdek en later werklik te síén dat hulle hoop nie dood is nie maar léwe; dat die realiteit waarmee hulle na die naweek sit nie Jesus se dood is nie, maar sy opstanding. Dat Hy na alles wat Hy moes ly, weer kon terugkom en nogmaals brood kon breek – die keer nie as ‘n vooruitskouing van wat kom nie, maar as ‘n herinnering van wat gebeur het.

Dit mag dalk lyk asof Jesus inderdaad gesterf het, asof Hy verloor het. Al die bewyse is daar. Die realiteit van die gebeure. Die koning sonder mag. Uitgelewer deur sy eie mense. Bespot en gedood. Die graf. Leeg. Sekerlik nie omdat Hy uit die dood uit opgewek is nie, al sou ‘n groep vrouens dit uit die mond van engele hoor! (Wie kan nou die vrouens ernstig neem?) Sy liggaam is seker eerder verskuif na ‘n ander graf, of gesteel. Wie weet? Dis elk geval baie meer logies as dat Hy opgewek is… Die realiteite van die normale lewe het gemaak dat die Emmausgangers vir Jesus sien sonder om Hom werklik te sien. Dit sou tog nie sin maak dat dit Hy is wat saam met hulle stap nie. Dis tog nie moontlik nie. Hulle wens so dit was (“ons het so gehoop…”), maar dit is nie.

Totdat Hy, nadat Hy gebid het, die brood vir hulle breek…

Die twee Emmausgangers wat in die verhaal in soveel vertwyfeling verkeer, soveel uitsigloosheid, is nie mense wat nog nooit in God geglo het nie. Hulle is nie mense wat in elk geval buite die geloofstradisie geleef het nie. Hulle was volgelinge van Jesus, deel van sy wyer kring dissipels. Hulle is mense wat reeds binne-in die geskiedenis van die hoop gestaan het, die hoop dat Jesus van Nasaret die Verlosser van Israel sou wees. Maar nou, na die naweek se gebeure, het hulle hul hoop verloor.

Amper dalk soos ons. In ons eie realistiese situasies van vasgelooptheid en uitsigloosheid. Situasies van wanhoop. In ons verhoudinge. In ons gesondheid, of eerder gebrek daaraan. In ons kinders en hulle onvermoë om vir hulself ‘n toekoms te bou. In ons land, met die verkiesing so net om die draai… Die van julle wat die koerante lees en die nuus volg sal weet van al die onheil wat vir SA voorspel word. Ons land is reeds knie-diep (of dieper!) in die moeilikheid. Ons sou kon redeneer dat ons nog nooit ‘n goddelike ingrype so nodig gehad het soos nou nie!

Maar wat as die verkiesing Woensdag kom en die uitslag daarvan nie vir ons as gelowiges gunstig lyk nie? Wat as dit lyk asof die Here tog geen sê meer het in die regering van ons land nie? Wat as dit na dese lyk of die Here dood is vir SA en asof daar vir ons niks meer oor is nie? Waarheen sal ons stap, of ry, of vlieg terwyl ons ons lot teenoor mekaar bekla?

Die verhaal van die Emmausgangers herinner ons daaraan dat die Here nie dood is nie, selfs al lyk dit so wanneer ons om ons kyk. Hy is nie net nie dood nie, Hy is ook nie weg nie. Hy is hier, met ons, stap met ons saam, is aan ons sy, praat met ons, leer ons, lei ons, bly by ons, selfs al kan ons ongelowige oë Hom nie herken nie. Jesus se opstanding en sy daadwerklike teenwoordigheid in ons lewens, hang nie af van ons geloof of ons vermoë om Hom te sien of nie. Wat ‘n diep troos is dit nie! Die Here is by ons selfs al glo ons dit nie, selfs al sien ons Hom nie! Ook dan bly Hy besig met ons. Terwyl ons dit (nog) nie eens besef nie.

Maar sodat ons dit wel iewers kan besef, sodat dit vir ons tot dieper troos kan dien, deel Hy aan ons die sigbare, tasbare, proebare tekens van die nagmaal uit. Hy kom die dissipels se ongeloof, hulle blindheid, te hulp wanneer Hy die nagmaal aan hulle bedien. Toe die sien van Hom nie herkenning by hulle wakkermaak nie, en toe die uitleg van die Skrifte nie genoeg was nie, toe bring die nagmaal die deurbraak. Toe kon hulle vir mekaar sê “het ons harte nie warm geword nie…?” Die teoloog Gollwitzer skryf: “Van toe af het hulle gewéét: dit mag lyk asof ons totaal en al verlate is, dit mag lyk asof ons self ons eie lewenshoop doodgeslaan het, dit mag lyk asof God Hom heeltemal van ons afgewend het, dit mag lyk asof Christus hoegenaamd nie meer daar is vir ons nie, dit mag lyk asof Jesus en sy Woord en die Heilige Skrif heeltemal doodgegaan het vir ons, dit mag lyk asof daar niks meer is om te hoop nie, dit mag so lyk … en in werklikheid is Jesus reeds lankal met ons op die pad…”

Ons het twee weke gelede nagmaal gebruik. Nie soos die twaalf dissipels voor Jesus se kruisiging nie, maar soos die Emmausgangers na sy opstanding. Nagmaal, dan nie as vooruitwysing nie, maar as herinnering, en ook dan wéér as vooruitwysing. Dat die Here leef, dat ons Hoop leef, dat daar vir ons ‘n toekoms is, dat Hy die pad saam met ons stap, met ons besig is, met ons praat, vir ons leer en lei, selfs al sien of herken ons Hom nie aldag nie. Selfs al lyk dit asof Hy nie by ons is nie. Selfs al lyk dit vir ons asof Hy dood is. Miskien is dit juis wat nagmaal wil doen. Dit wil ons aktiveer om te sien. Om te glo. Teen alle hoop in. Te weet.

In Psalm 123: 2 lees ons: “Soos die oog van die dienskneg gerig is op sy heer, en die oog van die diensmaagd gerig is op die hand van haar meesteres – so is ons oë op U gerig totdat U ons genadig is.” Die beeld van die jongvrou wat die hand van haar eienaar dophou vir die geringste teken, beweging, bekende gebaar om daarop te reageer. So is dit met die sakramente. Die brood en wyn, soos ook die doop, is die genadige tekens wat die Here aan ons uitdeel, sodat ons herinner kan word aan sy lewe, sy sorg, sy oorwinning, sy regering. Die tekens gee aan ons die geloofsoë om dit teen alle ander feitlike gegewens in raak te sien.

Het ons harte dan nie al in die verlede warm gebrand in ons wanneer Hy met ons besig was nie? Dit het… anders sou ons nie vanoggend hier gesit het nie…

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.