Matteus 6:5-15 – 2014

8 Junie 2014 Pinelands Pinksterfees
Prediker: Dr Tiana Bosman

Wat is gebed? Hoekom bid jy, of eintlik moet ek eerder sê hoekom bid ons? Is gebed gerusstellend… of dalk eerder gevaarlik? Is dit moontlik om verkeerd te bid? Alles vrae waarop ek nie nou antwoorde gaan gee nie, wat wat hopelik deur die loop van die boodskap duideliker sal word.

Lees die teks.

Hierdie gebed wat Jesus vir sy dissipels leer staan bekend as die model gebed van alle tye. Hoe dan nou anders, dis immers Jesus wat dit vir mense leer. Paul Tillich praat van die Onse Vader as die gebed wat die wêreld omspan. Ons sou kon sê dat die hele wêreld binne hierdie gebed ingebed word, dat die hele wêreld daarin vasgehou word, bymekaargehou word, en, as ons die gebed leef soos wat ons hom praat, dat die wêreld daardeur heel word, ja, selfs hemel word. Hemel op aarde. Dis die doel van die Onse Vader gebed – om die hemel op aarde sigbaar te maak, om God se koninkryk te laat kom.

Dit is moontlik om verkeerd te bid. Daar is skynheiliges wat graag op die straathoeke bid of elders waar die mense hulle kan sien. Hulle gebruik ‘n stortvloed van woorde, en daarom dink hulle dat hul gebede verhoor sal word. Maar eintlik bid hulle nie tot God nie, maar eerder so dat die mense hulle kan hoor, het hulle nie vir God in die oog nie, maar hul toeskouers, of toehoorders. Hulle dínk nie eens aan God terwyl hulle kastig met Hom praat nie. Hulle wonder eerder wat die mense sal sê van hulle gebed.

Jesus sê vir sy dissipels dis nie nodig om ‘n klomp woorde te gebruik wanneer hulle bid nie, “want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.” Gebed is dus nie ‘n geleentheid om met al ons behoeftes na die Vader te gaan nie. Gebed is nie ‘n inkopielys wat ons kan afmerk soos wat ons ons versoeke opnoem of aframmel nie. Gebed is nie sodat God moet hoor wat ons nodig het nie. Hy weet dit al klaar. God het nie ons gebede nodig nie. Ons bid nie ter wille van God nie. Ons bid ter wille van onsself. Ons bid nie om vir God aan die beweeg te kry nie. God is in elk geval voortdurend besig in die wêreld. Ons bid om onsself tot beskikking te stel van hierdie werk van God. Ons gebed, wanneer ons dit reg verstaan en reg bid, het ten doel om onssélf in beweging te bring.

Terese van Avila het dit besef. Ons hoor dit in haar aangrypende gebed:

Here, sedert u hemelvaart is óns u liggaam op aarde.
Ons hande is nou die enigste hande
waarmee U u werk wil doen.
Ons voete is nou die enigste voete
waarmee U in hierdie wêreld wil rondgaan.
Ons oë is die enigste oë
waarin mense nou U deernis en ontferming
kan sien uitstraal na hierdie hartseer wêreld.
Here, óns is nou U liggaam hier op aarde.

Sy het Jesus se gebed verstaan, en dit in haar eie woorde teruggebid tot God. Ons gaan nou vanoggend na die Onse Vader gebed kyk, in die hoop en vertroue dat ons ook na vanoggend dalk bietjie beter verstaan wat dit is wat ons bid, wat ons vra, en wat dit van óns vra. Al is it net een ding wat ons bybly – gebed is nie ‘n passiewe aksie nie. Dit is nie om ‘n lys versoeke tot God te rig en dan agteroor te sit en geduldig (of nie so geduldig nie) te wag totdat Hy dit verhoor het nie. Nee, gebed is eerder ‘n aktiewe daad. In die bid van die Onse Vader meld ons onsself as’t ware aan, stel ons onsself tot die beskikking van God se werk op aarde.

Ons Vader wat in die hemel is…
Die dissipels word baie spesifieke beleer om “ons” te bid, en nie “my” nie. Om nooit net hulself in die oog te hê nie, maar alle gelowiges. Ons Vader.

Ons Váder…
Totdat Jesus dit vir sy dissipels geleer het, het die volk nooit vir God “Vader” genoem nie. Dit was ondenkbaar gewees! Reg deur die OT sou hulle praat van El Shaddai of van Jahwe of van Elohim, en die Jode mag vandag nog nie die naam “Jahwe” eens uitspreek nie. God is ver, God is onpersoonlik, onaantasbaar, en on-familiêr. Niemand verwys na God as “Vader” nie.
Maar hier kom Jesus en Hy moedig die dissipels aan, meer nog – Hy gee aan hulle die opdrag, om vir God as “Vader” aan te spreek. In die Aramees van Jesus se dag “Abba” wat die sagste, intiemste vorm van “Vader” kon wees wat mens kon kry. Iets soos “Pappa” vandag. Hiermee kom sê Jesus vir die dissipels dat God juis nie ver, onpersoonlik en dalk so bietjie afsydig is nie. God is naby, Jesus het die verhouding tussen God en mens kom herstel, en soos Jesus mag ons Hom ook nou “Vader” van noem. Hy is nie sommer net “God” op ons lippe nie. Hy is méér as God, Hy is God ons Vader.

…wat in die hemel is, soos wat die mense in die Bybelse tyd hulle wêreldbeeld verstaan het: Daar is die aarde met die mense en die diere daarop, bo die hemelkoepel is God in die hemel, en onder die aarde is die chaos magte. Vandag weet ons dat die skepping nie heeltemal so voorgestel kan word nie, dat alles nie so geskei kan word van mekaar nie, dat die hemel nie ‘n plek daar bo die wolke iewers is nie, en dat God inderdaad ook nie net in die hemel is nie, maar ook op die aarde. In die lewe van sy Seun het Hy as mens deur ons strate kom stap, en in die uitstorting van sy Gees met pinkster is Hy steeds op die aarde, is Hy nader aan ons as ons eie vel.

Na die aanhef van die gebed, daai gedeelte waarin ons vir God as “Vader” aanspreek, volg twee inhoudelike afdelings. Heel eerste kry ons die 3-U bedes en daarna die 3 kerk/ons-bedes.
Jesus leer ons om eerste te bid om God se saak, en om eers daarna ons eie menslike nood en behoeftes voor Hom te bring. Doen ons dit nog so in ons gebede? Bid ons ooit nog eerste vir God se saak en daarna eers vir onsself en ons mense? Volg ons die volgorde wat Jesus ons leer? Of erger nog, is dit eerder so dat ons heeltemal nalaat, dat ons glad nie eens by God en sy saak uitkom wanneer ons tot Hom as Vader bid nie?… Eerste, sê Jesus, moet julle só bid:

Laat u Naam geheilig word;
laat u koninkryk kom;
laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel…

Laat u Naam geheilig geheilig word.
As God hierdie gebed verhoor, dan vra dit dat ons ons lewenstyl sal aanpas en verander. God se naam word geheilig wanneer ons as sy kinders heilig lewe, soos in Levitikus 19 – dat ons nie lieg, bedrieg of steel nie, dat ons nie onregverdig sal wees nie, nie sal skinder of haatdraend sal wees nie. God se naam word geheilig wanneer Hy deur ons lewens verHEERlik word. Wanneer Christene leef soos die een wie se naam hulle dra – wanneer ons soos Jesus Christus leef, dan word God se naam geheilig. Wanneer ons teenoor mense optree soos wat Jesus opgetree het, dán word God se naam geheilig. Sy naam word nie buite ons om geheilig nie, maar deur ons.

Laat u koninkryk kom.
Met Jesus se koms het die koninkryk reeds gekom, maar dit moet ook nog finaal deurbreek. En hoe anders gaan God se koninkryk op aarde sigbaar word as ons as gelowiges dit nie vir die wêreld sigbaar maak nie. Jesus sê immers dat ons sy werk hier op aarde moet voortsit, en Hy gee aan ons sy Gees om ons daarin by te staan.

Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.
Hier bid ons dat die aarde soos die hemel sal word. En dit beteken dat die stukkie aarde wat ons bewoon, daar waar ek leef en beweeg en werk – dat daardie ruimte vir ander mense ‘n stukkie hemel op aarde sal wees, dat mense by my iets van God se teenwoordigheid sal ervaar. Want dit is wat die hemel is – om in die teenwoordigheid van God te lewe.
Origenes het van hierdie bede gesê: “ As die wil van God op aarde gedoen word soos in die hemel, sou die aarde nie langer aarde gewees het nie, maar sou ons almal in die hemel gewees het.” Wanneer ons die nuus kyk is ons só vér van die hemel af. Wat ‘n groot verskil sal dit nie maak as alle Christene so begin leef dat hulle vir ander mense ‘n stukkie hemel op aarde vestig nie? Maar CS Lewis en oor Sartre sê tereg dat ons dikwels kies om, agv ons eiewilligheid en selfbelang, eerder die lewe vir ander hel te maak, as hemel.

Na die 3 U-bedes wat in wese daarom gaan dat God deur ons sy naam sal heilig, sy koninkryk sal laat kom, sy wil sal laat geskied sodat die aarde al meer soos die hemel sal begin word, volg die 3 kerk-bedes of ons-bedes.

Die eerste bede begin baie konkreet: Gee ons vandag ons daaglikse brood.
Die dissipels was eenvoudige mens, arm mense, sonder ‘n oorvloed besittings of groot inkomstes. Hulle was maar vissermanne. Wanneer Jesus hulle leer om te bid vir hul daaglikse brood, dan leer Hy hulle om vir God te vra om te voorsien in hul daaglikse behoeftes en niks meer as dit nie. Hy leer hulle nie om te bid vir groot huise, of duur motors, of groot salarisse nie. Hy leer hulle om te bid vir brood vir elke dag.
Mense wat so bid, mense wat weet dat hulle vir hulle basiese behoeftes van God afhanklik is, sulke mense is ook baie meer in voeling met die nood van ander. Sulke mense sien om na ander mense, help sorg dat ander mense ook brood kry. Veral as ons meer as brood het vir elke dag, veral ons wat in oorvloed leef – hoeveel te meer word ons nie opgeroep om te deel met die wat nie het nie, sodat hulle ten minste die minimum sal hê om menswaardig te kan leef.

Vergeef ons ons oortredings, soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.
Weet ons eens wat ons bid?! Soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree. Sê nou maar net God doen wat ons vra, sê nou maar net Hy vergewe ons in dieselfde mate waarin ons ander vergewe? Wie van ons sal dan nog knus en veilig voel wanneer ons dit van Hom vra? Dis ‘n gevaarlik gebed om te bid.

En laat ons nie in die versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose.
Ons dink dikwels net aan versoekings in ‘n ligtelike luim, wanneer ons grappies maak. Dis nie meer iets waarteen ons baie doelbewus elke dag waak nie. En tog was dit een van die dringendste bedes van die vroeë kerk. En lees ons dikwels van die versoekings in die briewe van Paulus en Petrus en Jakobus. Niemand het meer geskryf oor versoekinge as Martin Luther nie. Juis ook omdat hy die aanslaë daarvan so persoonlik beleef het. Luther is die man wat gesê het mens moet gaan slaap met die 5e bede (Vergeef ons ons oortredinge) en dan in die oggend opstaan met die 6e bede (laat ons nie in die versoeking kom nie).
Ons moet pleit om van die versoekinge bewaar te word, omdat die gevaar bestaan dat ons deur die versoekinge van God losgeruk word. Dit gaan nie hier om die weerstaan van ‘n stukkie koek of ‘n sjokolade nie, daar gaan nie hier om versoekinge wat tog so maklik op ons heupe gaan sit as ons daaraan toegee nie. “Ek kyk nog net vir die koek dan het ek al klaar 2 kg opgetel.”
Dit gaan daarom dat ons, dalk selfs sonder dat ons dit agterkom, die gevaar staan om vir God te los. Dit is nie sonder rede dat die gebed om van versoekinge bewaar te word, reg aan die einde van die Onse Vader staan nie. Die teoloog Bouma sê tereg dat hierdie bede teruggryp na al die ander vorige bedes. “Hier,” sê hy, “ word die feit dat die Ons Vader gevaarlik is vir die bidders self op die spits gedryf en pleit ons om van ons eie gebed bewaar te word.” Want, as ons bid om die koms van God se koninkryk, as ons bid om God se heeskappy, en deur dit te bid onsself bereid verklaar om daaraan mee te werk, watter verskriklike aanvegtinge sal daar nie wees as ons dink dat ons bereid moet wees om ons vyande te vergewe soos wat God ons vergewe nie?
Watter aanvegtinge as ons dink dat alle ander mense moet help in die voorsiening van hulle daaglikse brood en om die lewe vir hulle moontlik te maak nie –as ons nou bv dink aan almal wat hierdie week uit hul informele huise in Nomzamo uitgesit is en op die oomblik sonder vaste heenkome sit, ‘n gemeenskap wat ‘n saal moet deel, in die winterkoue, ‘n gemeenskap wat nie vir hulself kan praat nie want hulle stemme het geen gesag nie, hulle stemme word nie gehoor nie. Watter aanvegtinge om liewer nie daaraan aandag te gee nie, liewer nie te wil weet nie, want as ons weet dan voel ons dalk ‘n bietjie skuldig, en daarvoor is ons nie lus nie… As sulke situasies ons paaie kruis, en ons kyk anderpad, dan ís ons skuldig.
Watter aanvegtinge om te bid dat God se naam geheilig sal word en te weet dat dit vra dat ons so moet leef dat ander Hom te alle tye in ons sal sien, en dat ander na Hom toe aangetrek word omdat hulle Hom in ons lewens raaksien.
Watter aanvegtinge om dag na dag ons lewens en ons kantore en ons huise so in te rig dat ander, wanneer hulle dit betree, sal voel asof hulle in die hemel is.

Ja, Vader, laat kom ons nie in die versoeking om hierdie voorafgaande bedes te bid, maar dan nie self te leef nie. Verlos ons van ons selfbelang en eie wil. Verlos ons van die bose.

Om te bid ís gevaarlik. Om onnadenkend te bid, om onsself aan die slaap te sus terwyl ons die woorde prewel, is gevaarlik want ons steur ons dan nie juis aan die gebed op ons lippe nie. En diegene wat hierdie gebed bid en dit ernstig bedoel, moet júís nie slaap nie maar wákker wees, paraat, gereed om die koninkryk sigbaar te maak, op hul hoede teen die versoekinge wat dikwels so ongesiens opduik.

Om hierdie gebed te bid en werklik daarby “in te koop”, om dit ernstig te bid en dan ook daadwerklik jouself in diens daarvan te stel, dit is ook gerusstellend. Want ons rig nie hierdie gebed tot ‘n veraf, onpersoonlike, kil en koue God iewerste buite ons bestaansruimte nie. Nee, ons rig hierdie gebed tot ons Vader, die Vader wat Homself in sy Seun aan ons kom bekendstel het, die Vader wat Jesus se offerdood aanvaar het as genoegsame prys om vir ál ons sondes te betaal, die Vader wie se Seun die donkerste vorm van die Bose, die Dood, oorwin het sodat ons dit moontlik sal vind om ook teen die Bose op te staan, die Vader wat die Seun verheerlik het en sy Gees aan ons, bínne ons, gegee het om ons te lei en te leer, die drie-enige Vader, Seun en Gees wat sáám met ons, ín ons, déúr ons aan die gebed gestalte gee – die Een wat deur ons sy koninkryk laat kom, die Een wat deur ons dit hemel op aarde maak vir diegene wat ons paaie kruis, die Een wat elke dag vir ons sorg sodat ons ook vir ander kan sorg, die Een wat ons vergewe en omdat ons van en uit daardie vergifnis leef, dit vir ons inderdaad moontlik maak om ander ook so te vergewe, die Een wat belowe dat ons nooit bo ons kragte versoek sal word nie, maar dat ons tot enigiets in staat is juis omdat Hy vir ons die krag gee. Aan hierdie Vader behoort die hemel en die aarde, die krag en die heerlikheid, die heiligheid en die koninkryk tot in alle ewigheid.

Amen.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.