Matteus 16: (13)21-28 – 2014

31 Augustus 2014 Koninkrykstyd Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman

Agtergrond

Vir die dissipels was dit nie maklik om te verstaan wie Jesus is nie. Tewens, hulle vrae en hulle gedrag getuig deurentyd van die misverstande wat hulle gehad het rondom sy identiteit. Vandag lees ons ‘n teks waarin dit blyk dat Petrus intussen tot insig gekom het, nie meer so traag is van begrip nie, maar die lig gesien het oor wie Jesus dan nou éíntlik is…

Die gedeelte begin waar Jesus en sy dissipels na die dorpies naby Sesarea-Filippi gaan. Dit was ‘n heidense gebied waarbinne die Romeinse keiser geëer is, en name soos Seun van God, Verlosser en selfs God is aan die keiser toegeken. Diegene wat hulself in die gebied bevind het en nie aan die keiser die eer gegee het wat hom toekom nie, kon met die dood gestraf word. Jy moes dus jou woorde tel, want jy weet nooit wie jou sou kon hoor nie.

Lees Matteus 16: 13-28

Vs 13: Jesus is oppad na Jerusalem”, sy eindbestemming. Hy beweeg nie nou meer net amper lukraak van plek tot plek om mense te leer en te genees nie. Daar is ‘n wending in sy bewegings, Hy het nou ‘n spesifieke doel voor oë, en daarvoor moet Hy na Jerusalem toe gaan. Hy wil graag sy dissipels met Hom saamneem op hierdie weg, vandaar dan sy vraag…

16: Petrus antwoord Hom baie gewaagd, inaggenome die gebied waarbinne hulle hul bevind…

28: Sy koningsheerskappy: Verskeie moontlikhede. 1) die verheerliking van Jesus op die berg, wat net hierna gebeur. 2) Jesus se opstanding en hemelvaart. 3) Jesus se rol in die kerk. 4) Die vernietiging van Jerusalem (en vormgodsdiens / wettiese godsdiens). 5) Jesus se wederkoms.

Boodskap

Wat gaan hier aan? Eers lok Jesus die dissipels uit om te sê wie hulle dink Hy is, en wanneer Petrus dan letterlik sy eie lewe in gevaar stel deur vir die eerste keer ‘n bietjie insig te toon en reg te bely dat Jesus die Christus is – dan prys Jesus hom eers, net om hom en die ander dissipels saam met hom net daarna te vermaan dat hulle vir niemand mag vertel wat hulle weet nie. Plaas dat Hy dankbaar is omdat iemand uiteindelik iets begin verstaan van wie Hy is en waarom Hy gekom het.

Net nadat Jesus dan vir die dissipels vermaan het om ‘n wag voor hulle mond te sit, begin Hy hulle leer met die mees onvanpaste en verregaande lering waarvan hulle nog ooit gehoor het. Hy vertel dat Hy na Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly onder die hande van die familiehoofde en die geloofsleiers, en dat Hy doodgemaak moet word, en op die derde dag opgewek moet word. Dit is die eerste van drie kere dat Jesus sy dood en opstanding aankondig en Hy praat reguit met hulle hieroor. Nou is Petrus die een wat vir Jesus eenkant neem (nogals heel pastoraal!) en vir Hóm berispe en probeer stilmaak. Maar Jesus draai om en berispe op sy beurt vir Petrus met ‘n aanklag waarin Hy hom “Satan” noem, en ‘n skandalon, ‘n struikelblok!

So: Eerste vra Jesus vir die dissipels wie sê hulle is Hy (en Hy verwys na Homself as die Seun van die Mens). Toe Petrus, op die hoogtepunt van sy geestelike lewe, bely dat Jesus die Christus is, toe maak Jesus hom stil en belet Hy die dissipels om vir enigiemand te vertel wat Petrus pas kwytgeraak het. Hierna noem Jesus Homself ook nie weer die Christus nie, maar Hy verwys deurentyd na Homself as die Seun van die Mens. Boon-op sê Hy dat Hy baie moet ly en selfs doodgemaak moet word. Petrus is ontsteld dat Jesus so oor Homself praat en probeer Hom daarom stilkry. Maar Jesus vererg Hom en noem vir Petrus “Satan”. Hy maak hom met dieselfde woorde stil as wat Hy vantevore die demone stilgemaak het! En Hy noem hom ook ‘n struikelblok – by die gelykenis van die onkruid tussen die koring praat Jesus van die onkruid as struikelblokke (dieselfde woord!) Petrus wat met die beste bedoelings op aarde probeer om eenkant vir Jesus van hierdie “vreeslike dwaling” af te kry om ‘n lydende persoon te word, word as “Satan” en “skandalon” ge-etiketeer. Wat gaan hier aan?

Ons het hier te make met een van die grootste misverstande van die Christelike geloof. ‘n Geloof wat voortvloei uit die Joodse geloof van die OT. Daar waar die volk twee maal in ballingskap weggevoer is, waar hulle alles verloor het – hulle mense, hul besittings asook hul identiteit – waar hulle onderdruk is deur die heersers en die magstrukture van die Babiloniese en die Persiese Ryk. Daar waar die profete opstaan uit die puin en die boodskap van hoop en bevryding begin verkondig. “Hou moed, hou uit, byt vas, in die lyn van Koning Dawid sal daar ‘n nuwe Koning kom, die Messias. Hy sal die verlossing bring. Hy sal ons vry maak. Hy sal op die troon sit en regeer. Hy sal ons volk herstel, en ons sal weer met hoop en vreugde kan leef.” Sedert die tyd van geweldige verliese en intense onderdrukking in die OT sien die volk met reikhalsende verlange uit na die dag waarop die belofte van die profete in vervulling sal gaan, die dag waarop die nuwe koning na vore sal tree, sy volk sal lei, en met militêre strategieë en geweld die Romeinse mag sal onttroon.

Die Hebr woord wat in die OT gebruik is vir die koning wat sal kom is “Messias”. In die Grieks van die NT is dit “Christus”. Dit beteken “Gesalfde” of “Koning”. Wanneer Petrus dus bely dat Jesus die Christus is, spreek hy hiermee sy verstaan uit van Jesus as die langverwagte Messias, die Christus wat op glorieryke wyse gekom het om die volk deur middel van ‘n politieke opstand te lei en te bevry. Petrus wil met sy belydenis sê dat die rewolusie op hande is.

Maar hiermee kan Jesus Homself nie vereenselwig nie. Dat Hy die Christus is, is waar, maar dan nie die Christus is wat mense verwag het nie. En solank mense sy titel verkeerd gaan verstaan, kies Hy dat hulle hulle moet weerhou daarvan om dit te gebruik. Daarom doen Hy weg met die titel “Christus” en noem Hy Homself eerder die “Seun van die Mens”. Jesus is die enigste een wat herhaaldelik so na Homself verwys. En Hy begin dan die dissipels leer wat die titel “Seun van die Mens” beteken. In híérdie titel lê sy roeping opgesluit, sy taak, die rede waarom Hy op weg is na Jerusalem: Hy sal baie moet ly, Hy sal verwerp word en Hy sal doodgemaak word. Niks sê dit beter as “Seun van die Mens” nie – Seun van God wat volledig mens geword het, wat afsien van die beeld van heerlikheid en glorie wat mense vir Hom in gedagte het, wat nie gekom het om ander te laat ly en om die lewe te bring nie, maar om self te ly en te sterf. Hierdie roeping van Jesus is wel ook ‘n politieke roeping, dit is ‘n rewolusie, maar nie een wat gedryf word deur mag en geweld nie.

As Petrus Hom dan probeer stilmaak sien Jesus die werke van die teenstander (Satan) in Petrus se gedagtes. Net voor Jesus sy openbare bediening begin het, het die satan Hom reeds in die woestyn versoek om van sy rol as lydende Messias af te sien. Die volgende aanval is deur Jesus se grootste vertroueling – Petrus. En die satan gebruik hom op die hoogtepunt van sy insig oor wie Jesus is! (Dis dalk ‘n goeie waarskuwing – mens se geestelike hoogtepunte is nie altyd die veiligste tye in jou lewe nie!) Die verskriklike is juis dat Petrus die regte belydenis oor Jesus kan uitspreek, maar steeds die perspektief van die satan verteenwoordig! Jesus ontmasker die satan wat nie dink aan wat God wil hê nie (‘n lydende Messias), maar aan wat die mense wil hê (‘n grote triomfantlike Messias!). Petrus se fantasieë van mag moet afgebreek word deur duidelike en helder realisme.

En toe leer Jesus die dissipels wat dit hulle sal kos as hulle kies om agter Hom aan te stap as die Seun van die Mens, en nie as die Messias soos hulle dit wil verstaan nie.

“As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën, en sy kruis opneem en My volg. Want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind.”

Om jouself te verloën – Dit gaan nie hier om die ontkenning van persoonlike ervaringe of jou eie unieke menswees of jou menslike regte nie. Dit gaan wel om ‘n roepe weg van ‘n selfgesentreerde lewe waar jy vir jouself die belangrikste persoon in die wêreld is, na ‘n lewe wat gerig word deur die liefde van God. ‘n Liefde wat in opstand kom teen onderdrukkende magstrukture en dit uitdaag, selfs as (of juis omdat) jy nie die een wat onderdruk word nie.

Dit vra ‘n bereidwilligheid om agv hierdie radikale liefde jou kruis op te neem. En dan nie in die vorm van ‘n hangertjie om jou nek of as metafoor vir persoonlike lyding, soos bv die slagspreuk van “elke huis het sy kruis” en daaronder gaan ons gebuk, maar dit moet jy maar gelate aanvaar en voortstrompel onder die las daarvan en in die hoop van ‘n hemelse beloning eendag nie. Dit gaan nie om ‘n passiewe aanvaarding van jou lot nie. Hierdie verstaan van kruisdra het nie in Matteus se tyd bestaan nie. Fisiese houtkruise het algemeen voorgekom. Dit was die wrede vorm van doodstraf wat deur die keiser opgelê is vir almal wat polities andersdenkend was – dus ook vir almal wat nie meer die keiser as God aanbid het nie, maar wat bereid is om te bely dat hierdie Jesus man die ware Messias is. Indien iemand tydens hul ondervraging deur die regering se veiligheidsmagte sou erken dat hulle hul vereenselwig met die heerskappy van God, sou dit klagtes van opruiendheid meebring in ‘n wêreld waar Caesar alleen as heer erken mag word. Selfverloëning gaan dus om baie duur politieke keuses. Kruisdra beteken dat ons bereid sal wees om die verwerping van die wêreld te aanvaar in ons besluit om vir Jesus te volg. Jesus roep ons tot ‘n bereidheid om tereggestel te word as dit is wat dit vra om sy heerskappy te bely in ‘n land of ‘n gebied waar ander heersers (skynbaar) die hef in die hand het. In die aanloop tot die opstand het die Joodse nasionaliste die volk aangemoedig om die swaard op te neem teen Rome. Hierteenoor kom Jesus met die radikale andersoortige roeping om die kruis op te neem. Om aktief bereid te wees daartoe, om aktief gereed te maak vir hierdie pad, op weg na Jerusalem, op weg na Golgota.

Ons moet versigtig wees om die kruise wat ons dra te vinnig te vergeestelik. Dit het eintlik niks met die geestelike te doen nie, maar alles met die werklike lewe – daar waar mense uitgebuit word, onderdruk word, verneder word, daar waar hulle van hul regte ontneem word, daar waar kinders se regte op veilige huise en opvoeding en onderrig hulle ontneem word, daar waar weerlose mense in vrees lewe omdat moordenaars en verkragters in die strate loop, en omdat mense nie meer weet of hulle hul kinders kan leer om die polisie of die dominee of die onderwyser te vertrou of nie. Daar waar dokters bang is om hulle werk te doen omdat hulle nie veilig is by die staatshospitale waar hulle werk nie. Dit is om in opstand te kom teen alle magte wat in die weg staan van die heerskappy van God op aarde. Dit is om strukture wat ongeregtigheid in stand hou, aktief teen te staan en om nuwe strukture op te rig wat gebou is op geregtigheid en vrede en integriteit. Daar waar jy jou kruis opneem omdat jy glo in wat reg is, en omdat jy doen wat reg is, nie ter wille van jouself nie, maar ter wille van ander wat jou nodig het, ter wille van die koms van die koninkryk. Dit kan selfs beteken dat jy jou lewe verloor, maar dan nie omdat ander dit neem nie, maar omdat jy bewustelik bereid was om dit te gee.

Elkeen wat op die wyse homself verloën, sy kruis opneem en vir Jesus volg, diegene wat bereid is om hul lewens vir Christus en die evangelie te verloor, dít is die mense wat op die ou-end hul lewe sal behou. Daarom kon Bonhoeffer voor sy teregstelling aan die galg in sy laaste afskeidwoorde aan sy vriende sê: “This is the end, for me the beginning of life”. Daarom kon Jesus, die lydende Christus, aan die kruis net voordat hy sy laaste asemteug uitblaas, sy volvoering van sy roeping aankondig, die klimaks van sy aktiewe taak op aarde, die oorwinning in die oomblik van sy sterwe: “Dit is volbring.” Hy wás die Messias, die langverwagte Christus, die Koning wat sou kom. Hy was dit net gans anders as wat die mense verwag het. Hy het gekies om op aarde sy kruis tot die einde te dra en daarvan sy troon te maak

Practice what you preach. As jy vir Jesus as Christus bely, maak seker dat jy wéét wat jy sê. Hy het as die lydende Christus gekom. Dáárin lê sy aktiewe roeping. Ons wil onsself mos christene noem, afgelei van Christus. As jy nie werklik ‘n christen kan of wil wees nie, moet jouself nie so noem nie. Moet ook nie dan oor Christus praat asof jy Hom ken nie. So doen jy meer skade as goed.

Petrus, wat die dissipelkring verteenwoordig, het reg bely, maar verkeerd verstaan. En nadat Jesus hulle drie maal reguit geleer het van sy lyding het Petrus wel by die punt gekom waar hy in woord bereid was om homself te verloën (14:31). Maar toe die oomblik van waarheid aanbreek het sy moed hom begewe en ontken hy enige assosiasies met hierdie Jesus man. Die heel laaste woorde wat Petrus in die evangelie sê, is nie ‘n belydenis nie, maar ‘n eed van ontkenning en verwerping.

Wat wil jy glo oor Jesus? Want dit gaan bepaal hoe jy leef; waarvoor jy leef en vir W/wie jy leef … of sterf.

Wie, sê jy, is Hy?

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Romeine 16: 1-16,21-23 – 2014

10 Augustus 2014 Koninkrykstyd Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman

Verlede Saterdagoggend het ek en JP ‘n inligtingsgeleentheid van sendelinge bygewoon. Mense moes vooraf bevestig of hulle die uitnodiging aanvaar of nie, en steeds het daar mense wat aangedui het dat hulle kom, nie opgedaag nie. Nie weens krisisse nie, maar omdat dit nie meer vir hulle gerieflik was om te gaan nie. Lekkerder dinge het opgeduik. Gister was dit ons buurgemeente (oor grense heen) se damesontbyt. Ons was almal genooi. Hulle wou ons graag bedien. Hoeveel het gegaan? Die 28e September gaan ons kerk se deure toe wees. Die kerkraad het besluit dat ons as gebaar van ons toewyding aan hulle en ons uitreik oor grense, daardie dag almal saam Maitland se diens gaan bywoon. Ek wonder of ons minder kerkgangers gaan hê daardie dag? En wat die redes daarvoor sou wees.
In Romeine 16 sluit Paulus sy brief aan die gelowiges in Rome af met ‘n lange lys van groete boodskappe. Op die oog af dalk ‘n bietjie vervelig en ‘n gedeelte om liewer oor te slaan, maar as ons meer aandagtig lees, sit ons hier met ‘n verstommende boodskap van gelowiges wat nie skroom om grense oor te steek ter wille van die liefde van die evangelie wat hulle dryf nie.
Die brief is deur Paulus geskryf aan die eerste geslag Christene wat in Rome gewoon het. Ons gaan nou die groete boodskap lees, en terwyl ons lees, let op die diverse groep mense wat Paulus hier opnoem…

Skriflesing
Boodskap
Rom 16: 1-2
Febe wat die briefdraer is. Sy was na alle waarskynlikheid ‘n bekeerling vanuit die heidendom gewees. Die eerste genotuleerde diaken in die geskiedenis van die Christendom. Διάκονος verwys hier na meer as bloot ‘n dienares. Eerder na iemand binne die gemeente met ‘n erkende bediening, naamlik die van diaken asook selfs prediker.
Vers 2 getuig van die sterk tradisie van gasvryheid en sorg teenoor vreemdeling. Ontvang vir Febe met ope arms en sorg vir haar, help haar, want sy het ook vir my en baie ander ondersteun. Febe het vir Paulus ook finansieël ondersteun.
Rom 16: 3-16
In 3-16 volg ‘n reeks groete boodskappe wat verskillende funksies vervul. In die eerste plek gee dit aan Febe ‘n lys van name – mense na wie toe sy kan gaan wanneer sy in Rome arriver, mense op wie sy kan staatmaak vir hul gasvryheid en ondersteuning. Hierdie groetes help ook dat die brief wat sy namens Paulus bring gunstig ontvang sal word, want Paulus ken alreeds so baie van die Roomse gemeentes, en ‘n klompie van die leiersfigure by name.
Paulus dra sy groete oor aan 8 vrouens (6 by name), 19 mans en nog ‘n groep slawe – almal woonagtig in Rome. ‘n Uiteenlopende groep mense.
Onder die eerste 6 name is 3 van hulle vooraanstaande vroue in die gemeentes.
Van Priscilla en Akwila en hul goeie werk word daar 6 keer in die NT melding gemaak, en uit 4 van die 6 keer word Priscilla se naam eerste genoem. Soos Paulus was hierde egpaar tentmakers gewees, en hulle het oral waar hulle gegaan het huiskerke in hul huis gevestig. Kommentatore het die eens dat Priscilla die leidende rol geneem het in haar en Akwila se bediening.
Van 4 mense word daar gesê dat hulle geliefd was vir Paulus:
– Epenetus, ‘n voormalige heiden en die heel eerste bekeerling in Asië
– Ampliatus en Stagis, Romeinse slawe, moontlik in diens van die keiser!
– Persis, die Griekse vrou wat al baie vir die Here gedoen het. Persis was ‘n algemene naam vir vroulike slawe van daai tyd. Na haar verwys Paulus nie as “my geliefde vriendin” nie, maar eerder “die geliefde Persis” – ‘n indikasie van hoe wyd en hoog aangeskrewe Persis was by almal wat haar geken het. (In die Romeinse samelewing het vroue waarde gehad en behoort tot verskeie sosiale klasse. In die Griekse samelewing, daarenteen, was vroue niks werd nie – hulle was laer as slawe gewees.)
– Paulus dra sy groete oor aan die egpaar Andronikus en Junias, en dit lyk asof hy hier ‘n troetelnaam vir Junia gebruik – hulle was volksgenote van Paulus, dws Jode wat saam met hom in die gevangenis was. Verder was hierdie egpaar deel van die eerste groep apostels wat deur die opgestane Here self geroep is. Ander apostels het opgekyk na hulle.
– vertel van die Romeinse slaaf Urbanus wat sy medewerker was;
– Van Apelles, ‘n Jood;
– die huis van Aristobulus, moontlik die Joodse kleinseun van Herodes die Grote, die koning wat vir Jesus as baba wou doodmaak! Aristobulus het as ‘n privaat burger gesterf, dws hy was nie in die staatsdiens gewees soos die res van sy manlike familielede nie.
– Herodion was ‘n vrygemaakte Joodse slaaf wat ook eens in diens was van Herodes. Dit was ‘n algemene gebruik om aan die slawe die name van hul meesters toe te ken.
– Paulus stuur groete aan die mense, moontlik slawe, in die huis van Narsissus;
– aan Trifena en Trifosa, twee Romeinse susters. Hulle was nie slawe nie, maar eerder dames in die aristokrasie. Hulle hóéf dus nie te gewerk het nie, maar tog was hulle ywerige werksters vir die Here.
– Rufus (die rooie), ‘n Jood en volgens oorlewering die seun van Simon van Sirene, en sy moeder wat vir Paulus soos ‘n eie ma was;
– en dan ook Asinkritus, Flegon, Hermes, Patrobas, Hermas en al die broers daar by hulle (almal gewilde Griekse slawename).
– Filologus (“lief vir woorde”), ‘n geskoolde Romeinse slaaf;
– Nereus en sy suster, asook Olimpas – almal Griekse name, waarskynlik slawe in diens van die keiser.
Dit is duidelik dat Paulus ‘n sterk band het met diegene wat hier genoem word. 4 van hulle spreek hy selfs as “geliefde vriende” of “geliefde” aan. En Rufus se ma was ook sý ma.
Rom 16: 21-23
8 van Paulus se medewerkers dra saam met hom hul groete oor aan die gelowiges in Rome. Timotus het ‘n Joodse ma en ‘n Griekse pa, Lucius was ‘n Romein, Jason en Sosipater was Jode. Tertius, Gaius en Kwartus was almal Romeine, Gaius nog ‘n bekende ryk man daarby. Erastus ‘n geskoolde slaaf of vrygeborene. Wat net verder wys op die diverse groep mense wat saam genoem word (ek wil amper sê in een asem).
Die sosiale samestelling van die lys is verstommend. Alhoewel daar ‘n klompie Jode was, is meeste van die mense wat hier genoem word heidene. Dit sê iets van die relatiewe balans tussen Jode en heidene in die Roomse gemeentes van daardie tyd. Die meeste van die name was algemene name vir slawe en vrygemaakte slawe (mans en vroue). Dit beteken dat die eerste Christelike groepe in Rome in getalle gedra is deur die laer sosiale klasse in die Roomse samelewing. Tog was daar ook mense soos Priscialla en Akwila wat kontakte en invloed gehad het, en ‘n paar ander ryk mense daarby. Heelwat van die mense het al baie gereis aangesien hulle al persoonlike kontak met Paulus gehad het op sy vroeëre sendingreise, maar nou in Rome woonagtig is. (Onthou – Paulus self was nog nooit in Rome nie.)
Die hoeveelheid vroue wat prominente rolle in die kerke in Rome gevul het in die eerste geslag Christene, is ook merkwaardig. Priscilla was ‘n medewerker, Junia was een van die eerste en leier apostels van die kerk gewees. Maria, Trifena, Trifosa en Persis – almal vroue – is die enigste mense in die lys wat geprys word vil hulle harde werk ook op ander plekke. Hulle verdien respek.

Hierdie mense, ‘n mengelmoes van nasionaliteite en kulture, ryk en arm, gesiend en slawe, mans en vroue, ‘n onwaarskynlike groep mense om so saam te bondel, mense wat ons ons nie vandag kan indink dat hulle so spontaan met mekaar kan assosieer nie – Paulus het hulle almal geken, hulle as sy vriende en vriendinne geag, sy helpers, selfs sy mentors en raadgewers (diegene wat voor hom tot bekering gekom het). Paulus gaan van die veronderstelling uit dat hulle mekaar onderling moet ken, mekaar bystaan, , vir mekaar groete oordra, en, sonder om ‘n “big deal” daarvan te maak – mekaar moet liefhê. Die liefde onder hulle is nie veronderstel om ‘n vreemde nuwe opdrag te wees wat Paulus vir hulle leer nie. Dis eerder veronderstel om deel te wees van hulle alledaagse omgang met mekaar.

Die belangrikste vers is waarskynlik vers 16: “Groet mekaar met ‘n soen van Christelike broederskap (letterlik met ‘n heilige soen). Al die gemeentes van Christus stuur vir julle groete” (16:16). Die vers spreek van die liefde en toegeneentheid onder mekaar. “Soen mekaar met ‘n heilige soen” – in daardie tyd ‘n openbare gebaar van respek en agting, van erkenning van mekaar. Om nie vir mekaar skaam te wees nie, om nie ander pad te kyk as julle mekaar op die markplein raakloop nie, om mekaar se menswaardigheid te erken waar ander mense dit kan sien. Vandag so Paulus dalk skryf: “Gee vir mekaar ‘n heilige drukkie as julle mekaar op straat raakloop.” Of “Groet mekaar met ‘n heilige handdruk.” Ook: gaan soek mekaar op, gaan kuier by mekaar, gaan by mekaar aan huis en dra ook so julle groete en julle liefde en sorg en omgee oor. Nooi mekaar uit en aanvaar mekaar se uitnodigings. Vat hande oor grense heen sodat die wêreld kan sien dat alle grense mensgemaakte grense is wat verskillende mense in verskillende hokke plaas. Breek met julle wedersydse verhoudinge daardie grense af en wees ‘n getuienis van goddelike liefde teenoor mekaar en na buite toe. Omhels mekaar. God se liefde ken nie grense nie.

Ek sluit af met die gedig Hande, deur Sheila Cussons:

U gee my die uiterstes om te ken,
van dié wat vorste op die voornaam noem,
tot die nederigstes, dié wat hulle hande
soos ’n offer uit die bruin grond in myne lê,
die gee-gebaar van hulle wat niks besit nie
en altyd oppad na Emmaüs is –
Wellewende hande ken ek ook, wat gul
en grasieus, byna vertroetelend,
myne omvou: die sagte hande van dié wat het.
Maar hoe ook die groet, dis my om’t ewe:
in albei soorte ontmoet ek U,
en albei vlei en bevoorreg my.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Romeine 9-12 – 2014

3 Augustus 2014 Koninkrykstyd Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman

Agtergrond
Dis chaos in die Midde-Ooste. Sirië, Irak, Iran. Om nie te praat van die land waar Jesus destyds grootgeword en geleef het nie. Israel. Palestina. Die Palestynse rebellegroep Hamas wat veg teen die Israeliese weermag, maar dis meestal burgerlikes wat sterf. Vrouens en kinders. ‘n Geveg om grondgebied. Dis natuurlik ‘n oorvereenvoudiging van ‘n baie meer komplekse probleem, maar in wese gaan dit tog oor watter groep reg het tot watter stuk grond. Hoe groot is Israel? Behoort Gaza en die Wesoewer ook aan Israel of behoort dit aan die Palestyne. Israel sê dis hulle s’n, die Palestynse sê nee dis húlle s’n. Die Israeli’s is Joods, die Palestyne is Moslems. Aan wie se kant is God? Israel? Palestina?

Paulus skryf sy brief aan die gelowiges in Rome terwyl hy nog in Korinte vertoef tydens die ongure wintermaande. Hy was nog nooit in die stad Rome nie, maar wil graag daarheen gaan. Hy skryf die brief ter voorbereiding daarvan. Die meeste gelowiges in Rome het nie ‘n Joodse agtergrond nie, maar is heidene wat Christene geword het. Daar was egter ‘n handvol Joodse Christene gewees. Paulus wil later graag in Spanje die evangelie gaan verkondig en daarvoor het hy Rome se ondersteuning nodig. Sy brief aan hulle is dus meer as net ‘n kennismaking; dit is ook ‘n tipe getuigskrif oor die teologie wat hy bedryf. Met hierdie getuigskrif wil hy homself as’t ware aan hulle “verkoop” sodat hulle hom op sy sendelingreis na Spanje kan ondersteun.

Paulus se brief bestaan uit 3 groot afdelings:

Rom 1-8: ‘n Omvattende verduideling oor die regverdiging deur die geloof (Luther) en nuwe lewe wat hieruit voortvloei. In die bekende hfst 8 lees ons van ons status as aangenome kinders van God, die Heilige Gees was met namens ons intree wanneer ons nie weet wat om te bid nie, en dat niks ons van die liefde van God kan skei nie.
Rom 12-16: Die regte gedrag wat nou van alles gelowiges gevra word. Rom 12 is waarskynlik een van die mooiste en duidelikste tekste in die Nuwe Testament oor Christelike etiek.
Tussen hierdie eerste 8 hfste en die laaste 5 hfste is daar 3 hfste wat die middelste afdeling van die brief uitmaak: Romeine 9-11, wat handel oor die rol van Israel in God se reddingsplan. Oor hierdie 3 middelste hfste word daar amper nooit gepreek nie. Wat heeltemal te verstane is, want dit is móéilike stof. En ongemaklike stof.
Die Leesrooster stel voor dat daar oor die volgende paar Sondae agtereenvolgens gepreek moet word oor Rom 9, 10, 11 en dan 12. Die indeling is egter aanvanklik gemaak met die oog op liturgiese voorlesings, en nie met die oog op die prediking nie. En dit maak dat mens nie altyd die tekste soos voorgestel kan volg en sinvol of verantwoordelik daaroor kan preek nie. Dit is nie moontlik om Rom 9 of 10 of 11 op hul eie te neem nie. Ons kan dit alleen maar in sy geheel lees, en selfs dan kan ons eers stop as ons Romeine 12 ook in aanmerking neem. Ek lees daarom vir ons grepe vanuit Rom 9-12. (Die ideaal sal wees dat julle die hele 4 hfste volledig sal gaan deurlees by die huis.)
Teks
Reg deur die brief plaas Paulus die klem op God se onuitspreeklike goedheid in Christus om mense vry te spreek. In die laaste helfte van Romeine 8 vertel hy van God se eindelose liefde vir elkeen wat Hy deur Christus vrygespreek het. Maar dan is dit asof Paulus ‘n paar tree terug gee aan begin van hfst 9, wanneer hy skielik begin wonder oor sy volksgenote se posisie voor God. Hy vra die vraag na God se eie getrouheid aan sy beloftes, ten spyte daarvan dat die meeste Jode nie vir Jesus as die Messias wou aanvaar nie. Dit bring Paulus by die vrae : “Het die woord van God gefaal?” (9:6), en “Het God sy volk verwerp?”

Vanuit sy eie identiteit as Jood, voer Paulus ‘n innerlike stryd rondom die vraag of die Israeliete enige voorkeurposisie by God het, of nie. Dis asof hy van hier af tot aan die einde van hfs 11 homself heeltemal deurmekaar redeneer. Dis uitermate vermoeiende stof om te lees en daar’s nie werklik logika nie. Paulus val heeltyd terug na sy lojaliteit aan sy tradisie, sy kultuur, sy voorgeskiedenis, en dit maak dat sy redenasie later glad nie sin maak nie.

Rom 9: 1-20, 24-27, 30-32

10: 1-4, 9-13, 18, 20-21
11: 1
Hier gryp Paulus na hoop en skryf hy dat hy self ‘n bewys is daarvan dat God nog nie klaar is met Israel nie. (Onthou Paulus het eens die christen Jode vervolg, blind op die Damaskuspad, oë gaan dan oop… As daar vir hom nog ‘n kans was, dank an dit mos ook so wees vir die ander Jode. God is nog nie (nooit) klaar met hulle nie.)

11: 5-7
So, gaan Israel verlore?…

11:11-24
“Het Israel se struikeling hul finale val beteken?” Paulus antwoord in 11b: “Hoegenaamd nie! /God forbid!” Die moontlikheid mag nie eens oorweeg word dat God sy volk wat Hy lank tevore verkies het, sal verstoot nie.

11: 25-32
In Romeine 11:26 sê Paulus dat die hele Israel gered sal word, maar vroeër sê hy in 9:6 dat nie alle Israeliete werklik deel is van Israel nie. Hoe maak ons met hierdie teenstrydigheid in sy argument? Wie is dan nou Israel en wie is nie Israel nie? (Die geheimenis van vs 25!)
Paulus weet eintlik nie wat om daaroor te sê nie. Weet nie hoe om te dink oor die saak nie.
11:29 “As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie.” God is genadig en getrou!

Bordjies verhang – die gelowiges uit die nie-Joodse volke moet nou die Jode in hulle seëninge laat deel. Só kom God se plan tot uitvoer, en Hy ontferm Hom (betoon barmhartigheid) oor almal.

Die baie sterk uitspraak in vs 32 oor God se ontferming wat die laaste woord spreek – nie net oor die Jode nie, ook nie net oor die nie-Jode nie, maar oor álmal. Nadat alles gesê is, 3 hfste se die kant toe en daai kant toe, rondskraap vir argumente en antwoorde wat bevredig, maar elke keer homself vas redeneer da thy eers weer retireer en van voor af probeer…nadat alles gesê is, besef Paulus dat hy hierby (32) moet volstaan. As hy dan nou iets moet sê, dan sal dit dít wees.

Want eintlik praat hy tot hier toe ‘n klomp onsamehangendhede en dis asof hy dit skielik besef hier teen die einde van 11 en dan uit radeloosheid (of dalk uit verleentheid van onvermoë) oorgaan in die wonderlike ontploffing van verwondering oor God, die een wat nie tyd het nie, nie verbonde is nie, wat nie begryp kan word nie – en juis daarom God is.

11: 33-36
Dis amper soos God se gesprek met Job waar hy vir Job sê: Bly jy nou stil en luister as ek jou ondervra: waar was jy… waar was jy toe… verstaan jy dalk dit… Man, jy weet níks. Los dit nou uit. Dis my saak. Ek sal daaroor bekommer. Al wat jy moet doen, is laat jou verwondering oor my gestalte kry in jou persoonlikheid (Rom 12 – waarskynlik een van die mooiste en duidelikste tekste in die Nuwe Testament van Christelike etiek.

Aan wie se kant is God? Israel? Palestina?
Dis die verkeerde vraag. Dis nie ons vraag om te vra nie.
Die eintlike vraag waarmee ons ons moet besig hou, is: Aan wie se kan is ons?
Want as ons aan sy kant wil wees, as ons aan SY KANT (12:1-8) wil wees, dan moet dit so lyk (12:9-21):

12: 1-4a, 9…

God se werke is ‘n geheimenis. Kom ons laat die besluite oor aan Hom. Laat ons erns maak met sy oordeel wat ‘n realiteit sal wees, maar laat ons ook onthou dat sy ontferming tot dusver nog altyd die laaste woord gespreek het. Laat ons oop wees vir nuwe en verrassende manifestasies van God se wil in die wêreld. En laat ons onsself deurentyd die vraag afvra: Aan wie se kant is ons? Dis maar net ons manier van lewe wat daardie antwoord duidelik sal maak.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.