Romeine 16: 1-16,21-23 – 2014

10 Augustus 2014 Koninkrykstyd Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman

Verlede Saterdagoggend het ek en JP ‘n inligtingsgeleentheid van sendelinge bygewoon. Mense moes vooraf bevestig of hulle die uitnodiging aanvaar of nie, en steeds het daar mense wat aangedui het dat hulle kom, nie opgedaag nie. Nie weens krisisse nie, maar omdat dit nie meer vir hulle gerieflik was om te gaan nie. Lekkerder dinge het opgeduik. Gister was dit ons buurgemeente (oor grense heen) se damesontbyt. Ons was almal genooi. Hulle wou ons graag bedien. Hoeveel het gegaan? Die 28e September gaan ons kerk se deure toe wees. Die kerkraad het besluit dat ons as gebaar van ons toewyding aan hulle en ons uitreik oor grense, daardie dag almal saam Maitland se diens gaan bywoon. Ek wonder of ons minder kerkgangers gaan hê daardie dag? En wat die redes daarvoor sou wees.
In Romeine 16 sluit Paulus sy brief aan die gelowiges in Rome af met ‘n lange lys van groete boodskappe. Op die oog af dalk ‘n bietjie vervelig en ‘n gedeelte om liewer oor te slaan, maar as ons meer aandagtig lees, sit ons hier met ‘n verstommende boodskap van gelowiges wat nie skroom om grense oor te steek ter wille van die liefde van die evangelie wat hulle dryf nie.
Die brief is deur Paulus geskryf aan die eerste geslag Christene wat in Rome gewoon het. Ons gaan nou die groete boodskap lees, en terwyl ons lees, let op die diverse groep mense wat Paulus hier opnoem…

Skriflesing
Boodskap
Rom 16: 1-2
Febe wat die briefdraer is. Sy was na alle waarskynlikheid ‘n bekeerling vanuit die heidendom gewees. Die eerste genotuleerde diaken in die geskiedenis van die Christendom. Διάκονος verwys hier na meer as bloot ‘n dienares. Eerder na iemand binne die gemeente met ‘n erkende bediening, naamlik die van diaken asook selfs prediker.
Vers 2 getuig van die sterk tradisie van gasvryheid en sorg teenoor vreemdeling. Ontvang vir Febe met ope arms en sorg vir haar, help haar, want sy het ook vir my en baie ander ondersteun. Febe het vir Paulus ook finansieël ondersteun.
Rom 16: 3-16
In 3-16 volg ‘n reeks groete boodskappe wat verskillende funksies vervul. In die eerste plek gee dit aan Febe ‘n lys van name – mense na wie toe sy kan gaan wanneer sy in Rome arriver, mense op wie sy kan staatmaak vir hul gasvryheid en ondersteuning. Hierdie groetes help ook dat die brief wat sy namens Paulus bring gunstig ontvang sal word, want Paulus ken alreeds so baie van die Roomse gemeentes, en ‘n klompie van die leiersfigure by name.
Paulus dra sy groete oor aan 8 vrouens (6 by name), 19 mans en nog ‘n groep slawe – almal woonagtig in Rome. ‘n Uiteenlopende groep mense.
Onder die eerste 6 name is 3 van hulle vooraanstaande vroue in die gemeentes.
Van Priscilla en Akwila en hul goeie werk word daar 6 keer in die NT melding gemaak, en uit 4 van die 6 keer word Priscilla se naam eerste genoem. Soos Paulus was hierde egpaar tentmakers gewees, en hulle het oral waar hulle gegaan het huiskerke in hul huis gevestig. Kommentatore het die eens dat Priscilla die leidende rol geneem het in haar en Akwila se bediening.
Van 4 mense word daar gesê dat hulle geliefd was vir Paulus:
– Epenetus, ‘n voormalige heiden en die heel eerste bekeerling in Asië
– Ampliatus en Stagis, Romeinse slawe, moontlik in diens van die keiser!
– Persis, die Griekse vrou wat al baie vir die Here gedoen het. Persis was ‘n algemene naam vir vroulike slawe van daai tyd. Na haar verwys Paulus nie as “my geliefde vriendin” nie, maar eerder “die geliefde Persis” – ‘n indikasie van hoe wyd en hoog aangeskrewe Persis was by almal wat haar geken het. (In die Romeinse samelewing het vroue waarde gehad en behoort tot verskeie sosiale klasse. In die Griekse samelewing, daarenteen, was vroue niks werd nie – hulle was laer as slawe gewees.)
– Paulus dra sy groete oor aan die egpaar Andronikus en Junias, en dit lyk asof hy hier ‘n troetelnaam vir Junia gebruik – hulle was volksgenote van Paulus, dws Jode wat saam met hom in die gevangenis was. Verder was hierdie egpaar deel van die eerste groep apostels wat deur die opgestane Here self geroep is. Ander apostels het opgekyk na hulle.
– vertel van die Romeinse slaaf Urbanus wat sy medewerker was;
– Van Apelles, ‘n Jood;
– die huis van Aristobulus, moontlik die Joodse kleinseun van Herodes die Grote, die koning wat vir Jesus as baba wou doodmaak! Aristobulus het as ‘n privaat burger gesterf, dws hy was nie in die staatsdiens gewees soos die res van sy manlike familielede nie.
– Herodion was ‘n vrygemaakte Joodse slaaf wat ook eens in diens was van Herodes. Dit was ‘n algemene gebruik om aan die slawe die name van hul meesters toe te ken.
– Paulus stuur groete aan die mense, moontlik slawe, in die huis van Narsissus;
– aan Trifena en Trifosa, twee Romeinse susters. Hulle was nie slawe nie, maar eerder dames in die aristokrasie. Hulle hóéf dus nie te gewerk het nie, maar tog was hulle ywerige werksters vir die Here.
– Rufus (die rooie), ‘n Jood en volgens oorlewering die seun van Simon van Sirene, en sy moeder wat vir Paulus soos ‘n eie ma was;
– en dan ook Asinkritus, Flegon, Hermes, Patrobas, Hermas en al die broers daar by hulle (almal gewilde Griekse slawename).
– Filologus (“lief vir woorde”), ‘n geskoolde Romeinse slaaf;
– Nereus en sy suster, asook Olimpas – almal Griekse name, waarskynlik slawe in diens van die keiser.
Dit is duidelik dat Paulus ‘n sterk band het met diegene wat hier genoem word. 4 van hulle spreek hy selfs as “geliefde vriende” of “geliefde” aan. En Rufus se ma was ook sý ma.
Rom 16: 21-23
8 van Paulus se medewerkers dra saam met hom hul groete oor aan die gelowiges in Rome. Timotus het ‘n Joodse ma en ‘n Griekse pa, Lucius was ‘n Romein, Jason en Sosipater was Jode. Tertius, Gaius en Kwartus was almal Romeine, Gaius nog ‘n bekende ryk man daarby. Erastus ‘n geskoolde slaaf of vrygeborene. Wat net verder wys op die diverse groep mense wat saam genoem word (ek wil amper sê in een asem).
Die sosiale samestelling van die lys is verstommend. Alhoewel daar ‘n klompie Jode was, is meeste van die mense wat hier genoem word heidene. Dit sê iets van die relatiewe balans tussen Jode en heidene in die Roomse gemeentes van daardie tyd. Die meeste van die name was algemene name vir slawe en vrygemaakte slawe (mans en vroue). Dit beteken dat die eerste Christelike groepe in Rome in getalle gedra is deur die laer sosiale klasse in die Roomse samelewing. Tog was daar ook mense soos Priscialla en Akwila wat kontakte en invloed gehad het, en ‘n paar ander ryk mense daarby. Heelwat van die mense het al baie gereis aangesien hulle al persoonlike kontak met Paulus gehad het op sy vroeëre sendingreise, maar nou in Rome woonagtig is. (Onthou – Paulus self was nog nooit in Rome nie.)
Die hoeveelheid vroue wat prominente rolle in die kerke in Rome gevul het in die eerste geslag Christene, is ook merkwaardig. Priscilla was ‘n medewerker, Junia was een van die eerste en leier apostels van die kerk gewees. Maria, Trifena, Trifosa en Persis – almal vroue – is die enigste mense in die lys wat geprys word vil hulle harde werk ook op ander plekke. Hulle verdien respek.

Hierdie mense, ‘n mengelmoes van nasionaliteite en kulture, ryk en arm, gesiend en slawe, mans en vroue, ‘n onwaarskynlike groep mense om so saam te bondel, mense wat ons ons nie vandag kan indink dat hulle so spontaan met mekaar kan assosieer nie – Paulus het hulle almal geken, hulle as sy vriende en vriendinne geag, sy helpers, selfs sy mentors en raadgewers (diegene wat voor hom tot bekering gekom het). Paulus gaan van die veronderstelling uit dat hulle mekaar onderling moet ken, mekaar bystaan, , vir mekaar groete oordra, en, sonder om ‘n “big deal” daarvan te maak – mekaar moet liefhê. Die liefde onder hulle is nie veronderstel om ‘n vreemde nuwe opdrag te wees wat Paulus vir hulle leer nie. Dis eerder veronderstel om deel te wees van hulle alledaagse omgang met mekaar.

Die belangrikste vers is waarskynlik vers 16: “Groet mekaar met ‘n soen van Christelike broederskap (letterlik met ‘n heilige soen). Al die gemeentes van Christus stuur vir julle groete” (16:16). Die vers spreek van die liefde en toegeneentheid onder mekaar. “Soen mekaar met ‘n heilige soen” – in daardie tyd ‘n openbare gebaar van respek en agting, van erkenning van mekaar. Om nie vir mekaar skaam te wees nie, om nie ander pad te kyk as julle mekaar op die markplein raakloop nie, om mekaar se menswaardigheid te erken waar ander mense dit kan sien. Vandag so Paulus dalk skryf: “Gee vir mekaar ‘n heilige drukkie as julle mekaar op straat raakloop.” Of “Groet mekaar met ‘n heilige handdruk.” Ook: gaan soek mekaar op, gaan kuier by mekaar, gaan by mekaar aan huis en dra ook so julle groete en julle liefde en sorg en omgee oor. Nooi mekaar uit en aanvaar mekaar se uitnodigings. Vat hande oor grense heen sodat die wêreld kan sien dat alle grense mensgemaakte grense is wat verskillende mense in verskillende hokke plaas. Breek met julle wedersydse verhoudinge daardie grense af en wees ‘n getuienis van goddelike liefde teenoor mekaar en na buite toe. Omhels mekaar. God se liefde ken nie grense nie.

Ek sluit af met die gedig Hande, deur Sheila Cussons:

U gee my die uiterstes om te ken,
van dié wat vorste op die voornaam noem,
tot die nederigstes, dié wat hulle hande
soos ’n offer uit die bruin grond in myne lê,
die gee-gebaar van hulle wat niks besit nie
en altyd oppad na Emmaüs is –
Wellewende hande ken ek ook, wat gul
en grasieus, byna vertroetelend,
myne omvou: die sagte hande van dié wat het.
Maar hoe ook die groet, dis my om’t ewe:
in albei soorte ontmoet ek U,
en albei vlei en bevoorreg my.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.