Matteus 20:1-16 – 2014

21 September 2014 Koninkrykstyd Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman

 

Teksnota

Vs 4: Ek sal julle betaal wat regverdig is. | 15: …of is jou oog boos omdat ek goed is?

Boodskap

Inleiding: inklok en uitklokstelsel van die fabriekswerkers wat betaal word vir die ure diens gelewer. Input = output.

Daar is iets hiervan ook in die werk van die NGK predikante – hoe hoër jou kwalifikasies en hoe langer jare jy “diens gelewer het” binne die kerk, hoe groter is jou salaris. In ander beroepe werk dit dikwels ook so – na gelang van jou ervaring beding jy ‘n groter pakket.

 

Die punt is die wêreld werk met trappe van vergelyking. En soos jy voorgaan in jou lewe klim jy stadigaan die leer totdat jy, hopelik darem voor jou aftrede, bo uitkom. As jy nie voor aftrede jou daar bevind nie, dan is jy ‘n mislukking.

 

Dit is juis hierdie wêreldse perspektief wat die harde werkers in die gelykenis tot soveel ontsteltenis gelei het. In plaas van jare of selfs dekades waarin jy jouself in ‘n beroep bevind, speel hierdie gelykenis oor een dag af.

 

In die hemel gaan dit so: ‘n Boer gaan vroegoggend (6hr) uit om arbeiders vir sy wingerd te huur. Hy gaan na daai straathoek toe waar al die werkloses saamdrom, almal mense op die broodlyn, almal in nood om werk te kry anders is daar nie vanaand kos op die tafel nie. (Destyds was dit die markplein.) Hulle stamp en stoot waarskynlik om voor te kom, om raakgesien te word. Maar daar is te veel werkloses en die boer kies net ‘n paar. Hy kom met hulle ooreen dat hy hulle elkeen 1 denarius sal betaal aan die einde van die dag. Dit is die gewone dagloon gewees – net mooi genoeg geld om vir nog ‘n dag in die behoeftes van die werker en sy gesin te voorsien. Hulle is tevrede. Dis immers die betaling wat hulle gewoond was, dit was regverdig, want in daardie tyd was die fokus nie op opgaar en rykdom bymekaar maak nie, maar om genoeg te hê om van te leef.

 

9 hr die oggend het die boer weer uitgegaan en nog werkers gesien wat ledig op die markplein rondstaan in die hoop dat iemand nog vir hulle werk sal gee. Hy nooi hulle ook om in sy wingerd te kom werk en hy onderneem om vir hulle te betaal wat regverdig is. So doen hy ook teen 12hr en weer teen 3hr die middag. Teen 5 uur gaan maak hy ‘n laaste draai op die markplein en daar staan sowaar nog ledige werkers rond. Mans vir wie daar nie meer hoop is dat hulle nog die dag gehuur gaan word nie (die son gaan immers amper onder!), maar hulle het ook nie die moed om met ‘n leë hoed in die hand terug te gaan huistoe nie. Want wat sê hulle vir hulle vrouens, wat sê hulle vir hulle kinders…? Hoe kyk hulle hulle in die oë? “Waarom staan julle die hele dag hier ledig rond?””Omdat niemand ons gehuur het nie.” Let op – dis nie mense wat onwillig was om te werk nie! Inteendeel. Maar niemand wou hulle in hul werkskorps hê nie. Om die een of ander rede was hulle nie goed genoeg geag nie. Dalk ‘n mank been of ‘n gebreklike hand. Miskien ‘n blinde oog of net eenvoudig te oud. Dalk was hulle te kort om vroeër in die dag raakgesien te word. Miskien was van hulle Samaritane en wie wil nou ‘n baster-Jood op jou plaas hê? “Gaan julle ook na die wingerd toe,” sê hy vir hulle, “ en gaan werk vir ‘n uur voordat die son heeltemal ondergaan.

 

Met hierdie laastes maak die boer geen ooreenkoms oor wat hy hulle gaan betaal nie. Maar dis nie moeilik om die som te maak nie. As jy ‘n dagloon kry vir 12 ure se werk, dan kry jy ‘n fraksie daarvan vir 1 uur se werk. Dus nie naastenby genoeg vir die volgende dag se basiese behoeftes nie, maar jy gaan darem huistoe met die styfheid en die trots van een uur se werk in jou spiere.

 

6hr breek aan en die laastes word eerste betaal – een denarius, ‘n volle dagloon elk. Hulle moes totaal verbyster gewees het. Die werkers wat in die ry staan en wag is opgewonde oor die verwikkelinge, want indien die laastes wat net 1 uur gewerk het ‘n volle dagloon ontvang, dan is daar van hulle wat 12 dae se werk se geld gaan ontvang! Maar nee, soos hulle verbykom kry elkeen ‘n een denarius muntstuk in die hand.

 

Wat gaan hieraan? Dit is mos nie regverdig nie?! Ja dit lyk seker nie regverdig nie, maar dan hang dit af van watter kant af mens kyk. Is dit regverdig dat al die werkers van die oggend af al staan en wag vir werk, maar net sommiges word gekies? Is dit regverdig dat daar mense is wat 11 ure op ‘n dag moet staan en wag vir werk voordat iemand hulle raaksien? Is dit regverdig dat iemand kan en wil werk, maak nie saak wat hulle betaal word nie, maar daar is nie vir hulle werk nie? Is dit regverdig? Is dit nie bitter ironies dat die enigste mense wat geïrriteerd raak met hierdie gelykenis diegene is wat nie werkloos is nie, wat nie nood het nie, die’s wat van vroegoggend al goed gevind is en kon inval, die wat reeds genoeg het om van te leef.

 

Die harde daglange werkers is besig om somme te maak, berekeninge, om op te weeg. Hulle werk volgens die input-output beginsel, en hierdie proefbalans klop nie vandag nie. Hulle wys nie hulle betaling van die hand nie, maar hulle gaan mor by die boer: “Hierdie laastes het 1 uur gewerk en u hanteer hulle asof hulle gelyk is aan (equal to) ons wat die hele dag in die son gewerk het.” “Vriend,” antwoord die boer vir een van hulle, “ek tree nie verkeerd/onregverdig op teen jou nie. Het ons dan nie ooreengekom op 1 denarius nie?…Ek wil vir hierdie laaste een gee presies soos vir jou. Mag ek nie met my goed maak wat ek wil nie? Of is jou oog boos omdat ek goed is?”

 

‘n Paar opmerkings:

 

1.) Ek dink nie hierdie gelykenis gaan enigstens oor die verdienste of nie van jou saligheid nie. Soos in – party mense het vroeg in hulle lewe reeds tot bekering gekom en van toe af al “goeie werke” gedoen, maar ander het weer eers op hul sterfbed tot bekering gekom (die misdadiger aan die kruis). Maar maak nie saak in watter groep jy val nie. Solank jy net voor jou dood tot bekering kom dan is jy gered. Dit is die algemene uiteensetting van die gelykenis. Dis ook wat ek gelees het in my voorbereiding. Ek dink dis hoe meeste mense die gelykenis verstaan. En gebruik – gee liewer nou al jou hart vir die Here, want sê nou maar net ‘n kar ry jou dood en jy het nie tyd gehad voor die fatale slag om dit gou-gou te doen nie… Op hierdie manier word die gelykenis ‘n waarskuwing, amper ‘n dreigement – kry reg jou sake want jy weet nooit wanneer dit jou einde gaan wees nie. (Dit kom mos soos ‘n dief in die nag.) [die fliek Calvary: “you have a week to set your house in order”.]

 

Glo ons dan nie in die onverdienstelike genade nie? Glo ons dan nie dat dit die Here is wat ons red en nie ons goeie werke nie? Sê ons dan nie dit gaan nie oor meriete nie maar oor genade? Dit kan mos nie in die koninkryk van die hemel so wees dat mense vroegoggend of ten minste deur die dag (deur hull lewe) al moet inval en hulle moet afsloof in die diens van die Here, sodat Hy hulle aan die einde van die dag kan betaal vir wat hulle gedoen het nie?! Selfs al betaal Hy vir almal dieselfde bedrag. Selfs dan druis hierdie beskouing in teen die hart van die evangelie. Want as ons werklik in die genadige verlossing van God deur Jesus Christus alleen glo, dan kán ons nie sê dat God ons aan die einde van die dag gaan betaal nie, ongeag die bedrag. Dit is nie dat God die input-output stelsel gebruik maar Hy maak almal se output dieselfde nie. God gooi hierdie stelsel heeltemal weg!

 

As die gelykenis nie hieroor gaan nie, waaroor dan?

 

2.) Anders as in ander gelykenisse lê die antwoord oor waaroor die gelykenis nou eintlik gaan in wese nie in die (eerste deel van die) antwoord van die boer nie (13-15), maar in die vraag van die werker. Sy fokus is nie op die hoeveelheid geld wat elkeen betaal is nie. Hy vra nie.: “ As u vir die laastes 1 denarius betaal, waarom betaal u nie vir die eerstes 12 nie?” Sy vraag lê dieper as dit: “Hierdie laastes het 1 uur gewerk en u hanteer hulle asof hulle gelyk is aan (equal to) ons wat die hele dag in die son gewerk het.”

Die eerste werkers (die verdienstelikes) se probleem lê nie daarin dat hulle nou eintlik 12 denarius wil hê nie. Hulle het ooreengekom op 1 denarius, en eintlik is hulle tevrede daarmee. Hulle probleem is dat die laatkommers nie minders as 1 denarius kry nie. Hulle probleem is dat die laatkommers hanteer word asof hulle nie laatkommers was nie. Hulle probleem is ten diepste dat die laatkommers dieselfde as/gelyk aan hulle hanteer word. Hulle probleem is dat God almal oor die dieselfde kam skeer, selfs die wat in hulle (bose) oë dit nie werd is nie.

 

3.) Op die ou-end gaan dit hier oor dat ons almal van die genade van God leef, dat ons as gelowiges dit vir onsself toeëien, dat ons onsself noodwendig plaas in die groep werkers wat vroegdag of ten minste vroegerig in die dag al begin werk het. Maar ons gun nie ander op wie ons neersien om dieselfde deur God hanteer te word nie. Ons raak kwaad as God sy genade bewys aan mense wat volgens ons standaarde dit nie verdien nie. Ons wil nie oor dieselfde kam geskeer word as die verloorders, die waardelose mense wat niks kan doen met hul lewens, die have nots en die have beens nie. Ons is immers mos nie só nie. Ons is darem beter as dit, God moet ons darem met meer respek behandel as dit.

Selfs al ís dit ‘n goeie kam. Want ons gun alle mense nie dit nie. Ons wil God se genade vir onsself hou. Al is daar meer as genoeg vir ander mense ook. Ons kan nie verstaan dat álle mense gelyk-waardig is voor God nie. Dit maak dat ons mor. Dit maak dat daar mense woon in die koninkryk van die hemele wat na ons mening nie daar hoort nie.

 

God kyk nie na die werk wat verrig is nie. Hy sien die werker raak. En Hy hanteer die laatkommers nie “asof hulle gelyk is aan” die ander nie. Hy hanteer hulle omdat hulle gelyk is. Omdat hulle in sý oë gelyk is. Is ons nie eintlik maar almal laatkommers nie? In ons nie maar almal mense wat op die markplein rondgehang het in die hoop dat iemand ons sal kies nie. Het ons nie maar almal daar begin nie. Is ons nie maar almal iewers deur God gevind en “opgetel” nie

Die klimaks van die boer se antwoord lê in vers 16: “So sal die laastes eerste wees en die eerstes laaste”. Hierdie gelykenis sê eintlik vir ons dat daar nie eerstes en laastes sal wees in die koninkryk van God nie. Hierdie gelykenis sê dat almal dieselfde is/gelyke waarde het voor God. Eintlik staan ons nie in ‘n ry voor God nie, maar langs mekaar. Maar vir die wat gedink het hulle is eerste sal dit voel asof hulle laaste is, en vir die wat gedink het hulle is laaste sal dit voel asof hulle eerste is. Daar is mense wat gaan voel asof God hulle nie regverdig hanteer nie, en daar is mense wat gaan voel asof God te goed is vir hulle – want elkeen is gelyk, en omdat Hy almal ewe goed hanteer.

‘n Man vertel dat toe hy ‘n kind was het hy eendag vir sy ma gevra: “Mamma, vir watter kind het jy die liefste?”

“Vir die een wat my die nodigste het.”

Dit is hoe dit uitspeel wanneer ‘n ouer vir al die kinders ewe liefhet. Dis nie regverdig nie, dis liefde.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Romeine 14:1-13a – 2014

14 September 2014 Koninkrykstyd Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman

Agtergrond: die groter prentjie

‘n Paar jaar (nie eens ‘n dekade nie) na Jesus se kruisiging en opstanding het Paulus tot bekering gekom. Toe Jakobus, die broer van Jesus, en Petrus en Johannes hom enkele jare later (40 nC) ontmoet het, was hulle baie bly gewees. ‘n Man wat eens die Christene vervolg het, het tot bekering gekom en nou self een geword! En hulle is bly dat hy ook preek.

Teen 50 nC het die verhoudinge versuur. Paulus gaan na Jerusalem waar hy voor die Raad van Apostels opgeroep is om sy bediening aan die heidene te verdedig. Die Christelike gemeenskap in Jerusalem, onder leiding van Jakobus, het geglo dat die Joodse Messias in die eerste plek vir die Jode gekom het. ‘n Paar bekeerlinge uit die heidendom was nog aanvaarbaar, maar ‘n gefokusde bediening slegs onder die heidene – dit was ongehoord! Jakobus en Petrus keur nie Paulus se bediening goed nie. Bekeerlinge moes die besnydenis en die Mosaïese wet onderskryf – ‘n wet wat onder meer handel oor wat rein is en wat nie, wat jy mag eet en wat jy nie mag eet nie, watter dae jy as feesdae moet uitsonder en watter dae nie…

Maar nou daag Paulus in Jerusalem op met ‘n onbesnede Griekse bekeerling aan sy sy, Titus (lees Ga 2:1-10). Hy kry moeilikheid van Jakobus en Petrus (wat die Raad van die Apostels verteenwoordig) af. Hy noem hulle valse gelowiges omdat hulle die voorrang van die Tempel en die Wet aan mense voorhou. En hy weier om aan hulle leringe toe te gee.

Later jare is Paulus weer etlike kere voor die Apostels gedaag om verantwoording te doen oor sy leringe. Paulus bedryf ‘n ander teologie. Hy glo anders as Jakobus en Petrus. Paulus glo dat ‘n mens nie deur die werke van die wet geregverdig word nie, maar slegs deur geloof in Jesus Christus (Gal 2:16, Rom 3:28).

Jakobus beskou die siening as onsinnig. “Kan geloof jou red?” “Selfs die demone glo, en bewe!” (Jak 2:14, 19). Volgens hom is geloof sonder die werke van die wet dood (Jak 2:26). Jakobus beskuldig vir Paulus daarvan dat hy mense leer om die wet van Moses te versaak en om hulle nie te steur aan die besnydenis nie (Hand 21:21).

Paulus weer: As mense hulself laat besny dan sny hulle hulself van Christus en van sy genade af (Gal 5: 1-4). (Luther stem met Paulus saam en wou die boek Jakobus uit die Bybel skeur!)

2 Kor 3:7-8: Paulus noem die letters wat op klippe gegraveer is (die 10 gebooie) die bediening van die dood!

Tussen al hierdie heen en weer redenasies vereis Jakobus dat Paulus ‘n reiningingsritueel moet ondergaan en die Naseretiese eed moet aflê. Die Naserene was streng onderhouers van die wet. Die doel van die ritueel was dus om vir die vergadering in Jerusalem te demonstreer dat Paulus nie meer glo soos wat hy tot dusver gepreek het nie (dat Christus die einde van die Tora, die wet is)(Hand 21 / Num 6:2), en dat hy vir Jakobus gelyk gee…

Daar is duidelik nie ‘n gebrek aan teologiese verskille en interne politiek binne die geskrifte van die Bybel, en selfs die briewe aan die eerste gemeentes nie…

Dit is teen hierdie agtergrond dat Paulus sy paragraaf in Romeine 14 skryf.

Lees Rom 14:1-13a

Vs 5-6 Doen die dinge “vir die Here” (Grieks sê niks van “tot eer van die Here” nie)

 

Gerig aan gelowiges met verskillende geloofsoortuigings.

Dit gaan nie hier oor die kernsake van die geloof nie, maar eerder oor sake daarrondom, of selfs sake op die periferie, tog nietemin sake wat vir mense so na aan die hart gelê het dat hulle oor-en-weer beswadderinge en beskuldigings geslinger het en oordele gevel het.

 

Wat is dan die kernsake?

  1. Ons geloof in Jesus Christus, en
  2. Die gelykmakende genade van Christus. Dat daar nou geen meer onderskeid is tussen verskillende soorte en groepe mense nie. Almal is gelyk voor God.

En daarom die strewe na eenheid, versoening en geregtigheid vir en tussen alle mense. Alles ingesluit in die wet van die liefde.

Bg is ononderhandelbaar in die verstaan en verkondiging van die evangelie.]

 

Swak in die geloof het nie te doen met mense wat maar pas tot geloof gekom het en nog aan die begin van die geloofspad gestaan het nie. Inteendeel…

Paulus beskou homself en diegene wat soos hy glo (meestal die bekeerde heidene) as die sterkes in die geloof.

Die Xtene uit die ander volke het daarvan uitgegaan dat die verlossing deur Christus ‘n vrymaking van alle vorige rites en gebruike beteken het.

Die wat al ‘n lang pad met God gekom het, oor geslagte heen, die bekeerde Jode wat steeds vashou aan hul wette en rituele van ouds – swakkes in die geloof.

Die onder die Mosaïese wette – het nog nie die volle vrymakende genade van God aanvaar nie. Reguleer nog die lewe met ‘n reeks van moets en moenies. Die optrede van die apostels en die gemeente in Jerusalem… op gespanne voet met die bekeerlinge uit ander volke. (het nie al die kulturele en selfs godsdienstige bagasie nie).

Die swakkeres is diegene wat ontstel word deur die vryheid van die sterkeres…

Maar Paulus sê die sterkes moet die swakkes nie verag en op hulle neersien nie en die swakkes moet die sterkes nie veroordeel nie.

 

Paulus was heeltyd in die moeilikheid gewees oor sy teologie. Hy moes heeltyd verantwoording doen, verduidelik, mooi praat… En dit het in die weg van sy bediening begin staan. Dit terwyl hy eintlik die een is wat sterk is in die geloof terwyl diegene wat hom beskuldig het swakker was in die geloof. Dit terwyl Paulus bevry was verouderde wette wat nie meer geld nie – wette en rituele wat in die OT ingestel was om vir Israel uit te sonder onder al die ander volke. Wette en rituele wat toe nódig was en belangrik was! Maar waarvan die motiverings weggeval het met die koms van Christus. Want Christus het mure kom afbreek. Dit is nou nie meer net die Jode van Israel nie, maar alle volke wat by God welkom is – ook diegene sonder die spesifieke feesdae en besnydenis en wette itv van die Sabbat ens.

 

Paulus pleit hier dat die leiers van die “Jerusalem-beweging” hom met rus moet laat, dat hulle moet ophou om hom te vervolg en moet ophou om in te meng by sy bediening aan die heidene. Hy is immers deur God geroep om onder die heidene die evangelie te verkondig, hulle is geroep vir die Jode. Paulus vra dat hulle moet ophou om oor hom te oordeel, en hy onderneem om ook nie oor hulle (swakkere geloofsgewoontes) te oordeel nie. Want as beide groepe die werk van die Here doen, as beide groepe die evangelie verkondig, dan doen dit die saak van die Here skade aan as hulle mekaar veroordeel.

 

Wat wel belangrik is, is nie wat ons van mekaar dink nie maar:

  1. Is jy in jou eie gemoed ten volle van jou standpunt oortuig? Is jou hart reg? (5)
  2. Doen jy wat jy doen vir die Here en dank jy God daarvoor? (6) Want niemand leef tog vir homself nie en niemand sterf vir homself nie – hieroor het ons onderskeie groepe dit eens!
  3. Onthou: Of ons lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.

 

HK Vraag en antwoord 1

Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Dat ek in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser Jesus Christus behoort.

Christelike geloof se uitgangspunt – ek behoort nie aan myself nie, maar aan God.

Net so hoort ander (wat vanuit hul geloofsoortuiging anders dink en doen) ook nie hulself nie, maar aan God!

Ons almal het dieselfde eienaar (vs 4) – dis nie vir die werkers om onder mekaar te besluit wie se werk goed is en wie s’n sleg nie, wie die paal haal en wie nie. Nét die eienaar mag daaroor besluit! Dis nie vir ons om onderling te oordeel nie. Dis nie vir ons om mekaar te verag nie.

 

Wat ook dikwels gebeur is dat ons ons eie swakheid verbloem met die swakheid van andere. Die swakheid van ander mag nie ‘n deug raak nie. Dit mag ook nie iets raak waaragter ons met ons eie swakheid wegkruip nie. (Sondag brood en melk koop as vb?)

 

Vs 10-12 as dreigement vir iemand wat nie met jou saamstem nie.

Eindoordeel – beeld in daai tyd om die onbekende van die dood hanteerbaar te maak – motivering vir godsdiens. Dit maak vandag nie sin in die Christelike geloof nie. Maar ons vind nog die reste van daai soort teologie in die NT. As ons as Christene dit bely moet ons nie bang wees vir die oordeel van die eendag nie. Ons verstaan die oordeel nie so nie. Tog verstaan ons wat daarmee bedoel was – jy kan nie aangaan soos wat jy wil nie. As jy weet van watter oordeel jy verlos is, hoekom wil jy daar gaan. (HK se afsien van sonde en nuwe lewe uit dankbaarheid)

 

Ons hooffokus val op die genade van God. Die God wat sy oordeel eens en vir altyd op Golgota voltrek het. As dit waar is moet ons nie mekaar oordeel nie.

 

Die wat mekaar nie aanvaar nie hoor hier dat juis hulle (almal) deur God aanvaar word.

Hulle word opgeroep om mekaar se geloofwaardigheid in die Here te aanvaar (al stem hulle nie oor alles saam nie).

Mense vanuit verskillende agtergronde en denkrigtings word nou saamgegroepeer as Xtene

Daar is net één meriete vir toelating tot die gemeente – en dit geld vir elke mens – naamlik dat God hom/haar aanneem. Dit is die enigste meriete!

Baie belangriker as onderlinge opinies teenoor mekaar is hul hartsgesindheid

Laat ons mekaar aanneem soos Christus ons aangeneem het. Dit is die essensie van gemeente-wees.

 

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.