Romeine 14:1-13a – 2014

14 September 2014 Koninkrykstyd Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman

Agtergrond: die groter prentjie

‘n Paar jaar (nie eens ‘n dekade nie) na Jesus se kruisiging en opstanding het Paulus tot bekering gekom. Toe Jakobus, die broer van Jesus, en Petrus en Johannes hom enkele jare later (40 nC) ontmoet het, was hulle baie bly gewees. ‘n Man wat eens die Christene vervolg het, het tot bekering gekom en nou self een geword! En hulle is bly dat hy ook preek.

Teen 50 nC het die verhoudinge versuur. Paulus gaan na Jerusalem waar hy voor die Raad van Apostels opgeroep is om sy bediening aan die heidene te verdedig. Die Christelike gemeenskap in Jerusalem, onder leiding van Jakobus, het geglo dat die Joodse Messias in die eerste plek vir die Jode gekom het. ‘n Paar bekeerlinge uit die heidendom was nog aanvaarbaar, maar ‘n gefokusde bediening slegs onder die heidene – dit was ongehoord! Jakobus en Petrus keur nie Paulus se bediening goed nie. Bekeerlinge moes die besnydenis en die Mosaïese wet onderskryf – ‘n wet wat onder meer handel oor wat rein is en wat nie, wat jy mag eet en wat jy nie mag eet nie, watter dae jy as feesdae moet uitsonder en watter dae nie…

Maar nou daag Paulus in Jerusalem op met ‘n onbesnede Griekse bekeerling aan sy sy, Titus (lees Ga 2:1-10). Hy kry moeilikheid van Jakobus en Petrus (wat die Raad van die Apostels verteenwoordig) af. Hy noem hulle valse gelowiges omdat hulle die voorrang van die Tempel en die Wet aan mense voorhou. En hy weier om aan hulle leringe toe te gee.

Later jare is Paulus weer etlike kere voor die Apostels gedaag om verantwoording te doen oor sy leringe. Paulus bedryf ‘n ander teologie. Hy glo anders as Jakobus en Petrus. Paulus glo dat ‘n mens nie deur die werke van die wet geregverdig word nie, maar slegs deur geloof in Jesus Christus (Gal 2:16, Rom 3:28).

Jakobus beskou die siening as onsinnig. “Kan geloof jou red?” “Selfs die demone glo, en bewe!” (Jak 2:14, 19). Volgens hom is geloof sonder die werke van die wet dood (Jak 2:26). Jakobus beskuldig vir Paulus daarvan dat hy mense leer om die wet van Moses te versaak en om hulle nie te steur aan die besnydenis nie (Hand 21:21).

Paulus weer: As mense hulself laat besny dan sny hulle hulself van Christus en van sy genade af (Gal 5: 1-4). (Luther stem met Paulus saam en wou die boek Jakobus uit die Bybel skeur!)

2 Kor 3:7-8: Paulus noem die letters wat op klippe gegraveer is (die 10 gebooie) die bediening van die dood!

Tussen al hierdie heen en weer redenasies vereis Jakobus dat Paulus ‘n reiningingsritueel moet ondergaan en die Naseretiese eed moet aflê. Die Naserene was streng onderhouers van die wet. Die doel van die ritueel was dus om vir die vergadering in Jerusalem te demonstreer dat Paulus nie meer glo soos wat hy tot dusver gepreek het nie (dat Christus die einde van die Tora, die wet is)(Hand 21 / Num 6:2), en dat hy vir Jakobus gelyk gee…

Daar is duidelik nie ‘n gebrek aan teologiese verskille en interne politiek binne die geskrifte van die Bybel, en selfs die briewe aan die eerste gemeentes nie…

Dit is teen hierdie agtergrond dat Paulus sy paragraaf in Romeine 14 skryf.

Lees Rom 14:1-13a

Vs 5-6 Doen die dinge “vir die Here” (Grieks sê niks van “tot eer van die Here” nie)

 

Gerig aan gelowiges met verskillende geloofsoortuigings.

Dit gaan nie hier oor die kernsake van die geloof nie, maar eerder oor sake daarrondom, of selfs sake op die periferie, tog nietemin sake wat vir mense so na aan die hart gelê het dat hulle oor-en-weer beswadderinge en beskuldigings geslinger het en oordele gevel het.

 

Wat is dan die kernsake?

  1. Ons geloof in Jesus Christus, en
  2. Die gelykmakende genade van Christus. Dat daar nou geen meer onderskeid is tussen verskillende soorte en groepe mense nie. Almal is gelyk voor God.

En daarom die strewe na eenheid, versoening en geregtigheid vir en tussen alle mense. Alles ingesluit in die wet van die liefde.

Bg is ononderhandelbaar in die verstaan en verkondiging van die evangelie.]

 

Swak in die geloof het nie te doen met mense wat maar pas tot geloof gekom het en nog aan die begin van die geloofspad gestaan het nie. Inteendeel…

Paulus beskou homself en diegene wat soos hy glo (meestal die bekeerde heidene) as die sterkes in die geloof.

Die Xtene uit die ander volke het daarvan uitgegaan dat die verlossing deur Christus ‘n vrymaking van alle vorige rites en gebruike beteken het.

Die wat al ‘n lang pad met God gekom het, oor geslagte heen, die bekeerde Jode wat steeds vashou aan hul wette en rituele van ouds – swakkes in die geloof.

Die onder die Mosaïese wette – het nog nie die volle vrymakende genade van God aanvaar nie. Reguleer nog die lewe met ‘n reeks van moets en moenies. Die optrede van die apostels en die gemeente in Jerusalem… op gespanne voet met die bekeerlinge uit ander volke. (het nie al die kulturele en selfs godsdienstige bagasie nie).

Die swakkeres is diegene wat ontstel word deur die vryheid van die sterkeres…

Maar Paulus sê die sterkes moet die swakkes nie verag en op hulle neersien nie en die swakkes moet die sterkes nie veroordeel nie.

 

Paulus was heeltyd in die moeilikheid gewees oor sy teologie. Hy moes heeltyd verantwoording doen, verduidelik, mooi praat… En dit het in die weg van sy bediening begin staan. Dit terwyl hy eintlik die een is wat sterk is in die geloof terwyl diegene wat hom beskuldig het swakker was in die geloof. Dit terwyl Paulus bevry was verouderde wette wat nie meer geld nie – wette en rituele wat in die OT ingestel was om vir Israel uit te sonder onder al die ander volke. Wette en rituele wat toe nódig was en belangrik was! Maar waarvan die motiverings weggeval het met die koms van Christus. Want Christus het mure kom afbreek. Dit is nou nie meer net die Jode van Israel nie, maar alle volke wat by God welkom is – ook diegene sonder die spesifieke feesdae en besnydenis en wette itv van die Sabbat ens.

 

Paulus pleit hier dat die leiers van die “Jerusalem-beweging” hom met rus moet laat, dat hulle moet ophou om hom te vervolg en moet ophou om in te meng by sy bediening aan die heidene. Hy is immers deur God geroep om onder die heidene die evangelie te verkondig, hulle is geroep vir die Jode. Paulus vra dat hulle moet ophou om oor hom te oordeel, en hy onderneem om ook nie oor hulle (swakkere geloofsgewoontes) te oordeel nie. Want as beide groepe die werk van die Here doen, as beide groepe die evangelie verkondig, dan doen dit die saak van die Here skade aan as hulle mekaar veroordeel.

 

Wat wel belangrik is, is nie wat ons van mekaar dink nie maar:

  1. Is jy in jou eie gemoed ten volle van jou standpunt oortuig? Is jou hart reg? (5)
  2. Doen jy wat jy doen vir die Here en dank jy God daarvoor? (6) Want niemand leef tog vir homself nie en niemand sterf vir homself nie – hieroor het ons onderskeie groepe dit eens!
  3. Onthou: Of ons lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.

 

HK Vraag en antwoord 1

Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Dat ek in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser Jesus Christus behoort.

Christelike geloof se uitgangspunt – ek behoort nie aan myself nie, maar aan God.

Net so hoort ander (wat vanuit hul geloofsoortuiging anders dink en doen) ook nie hulself nie, maar aan God!

Ons almal het dieselfde eienaar (vs 4) – dis nie vir die werkers om onder mekaar te besluit wie se werk goed is en wie s’n sleg nie, wie die paal haal en wie nie. Nét die eienaar mag daaroor besluit! Dis nie vir ons om onderling te oordeel nie. Dis nie vir ons om mekaar te verag nie.

 

Wat ook dikwels gebeur is dat ons ons eie swakheid verbloem met die swakheid van andere. Die swakheid van ander mag nie ‘n deug raak nie. Dit mag ook nie iets raak waaragter ons met ons eie swakheid wegkruip nie. (Sondag brood en melk koop as vb?)

 

Vs 10-12 as dreigement vir iemand wat nie met jou saamstem nie.

Eindoordeel – beeld in daai tyd om die onbekende van die dood hanteerbaar te maak – motivering vir godsdiens. Dit maak vandag nie sin in die Christelike geloof nie. Maar ons vind nog die reste van daai soort teologie in die NT. As ons as Christene dit bely moet ons nie bang wees vir die oordeel van die eendag nie. Ons verstaan die oordeel nie so nie. Tog verstaan ons wat daarmee bedoel was – jy kan nie aangaan soos wat jy wil nie. As jy weet van watter oordeel jy verlos is, hoekom wil jy daar gaan. (HK se afsien van sonde en nuwe lewe uit dankbaarheid)

 

Ons hooffokus val op die genade van God. Die God wat sy oordeel eens en vir altyd op Golgota voltrek het. As dit waar is moet ons nie mekaar oordeel nie.

 

Die wat mekaar nie aanvaar nie hoor hier dat juis hulle (almal) deur God aanvaar word.

Hulle word opgeroep om mekaar se geloofwaardigheid in die Here te aanvaar (al stem hulle nie oor alles saam nie).

Mense vanuit verskillende agtergronde en denkrigtings word nou saamgegroepeer as Xtene

Daar is net één meriete vir toelating tot die gemeente – en dit geld vir elke mens – naamlik dat God hom/haar aanneem. Dit is die enigste meriete!

Baie belangriker as onderlinge opinies teenoor mekaar is hul hartsgesindheid

Laat ons mekaar aanneem soos Christus ons aangeneem het. Dit is die essensie van gemeente-wees.

 

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.