Matteus 22:15-22 – 2014

19 Oktober 2014 Koninkrykstyd Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman

22: 17 belasting = “sensos” > sensus. Die sensusbelasting wat jaarlikse deur individuele burgers betaal moes word vir hulle burgerlike reg.

22:20 Wie se beeld en wie se inskripsie

Dieselfde woord as LXX Gen 1:26 (mens na beeld van God geskape) en Kol 1:15 (die Seun is die beeld [eikoon] van God)

22: 21 Gee terug (return)

22:22 verwonderd

 

Van ‘n regering se wanbesteding van die burgers se swaarverdiende belastinggelde hoef niemand ons iets te vertel nie. Ook in die Bybelse tyd was mense onwillig om belasting te betaal. In Handelinge 5:37 dink Lukas terug aan die jaar 6/7 nC toe Judas die Galileër ‘n opstand gelei het om die betaling van belasting teen te staan. Dit was egter nie suksesvol nie. Nou, omtrent 3 dekades later, nader ‘n groep mense vir Jesus om te hoor wat hy te sê het oor die betaal van belasting aan die keiser.

 

Om te weet wat hier aangaan is dit nodig dat ons die politieke situasie van daardie tyd verstaan. Die Jode het lankal reeds (539 vC) teruggekeer uit ballingskap en hulle weer in Israel gevestig. Intussen het Israel onder Romeinse jurisdiksie gekom. Die Romeinse Senaat het vir Herodes (self ‘n Jood) aangestel as goewerneur of “koning” van die Jode, en so was die Herodiaanse ryk van Israel vanaf 37 vC ‘n kliënte ryk van die Romeinse Ryk. As staat was Israel op ekonomiese, politieke sowel as militêre vlak ondergeskik aan die Romeinse Ryk. Hulle kon dus nie onafhanklik funksioneer nie. Hulle was nie hulle eie baas nie. Hulle het nie eens hulle eie geldeenheid gehad nie.

 

Herodes was op goeie voet met die keiser van Rome want dit was die man wat aan hom hierdie ereposisie onder sy volksgenote gegee het. Vir Herodes was dit ter wille van internasionale verhoudinge dus baie belanglik dat sy Joodse volksgenote gehoorsaam is aan die bepalinge van die Romeinse Ryk. Sy mees lojale volgelinge onder die Jode het bekendgestaan as die Herodiane. Dit was ‘n polities-gemotiveerde groep en hulle het geglo dit was hulle verantwoordelikheid om te help toesien dat die Jode die Romeinse wette gehoorsaam. Maar, soos ons weet het meeste Jode die Romeine as hul grootse vyand beskou. Hulle was immers uitgelewer aan die onderdrukking van die Romeine, hulle het bitter min regte van hul eie gehad, hulle is uitgebuit om in armoede te leef, hulle kon nie eens die doodsoordeel oor een van hul eie volksgenote voltrek as die Romeinse goewerneur (wat die keiser verteenwoordig het) nie die laaste ja-woord gespreek het nie. Die Jode se identiteit het afgehang van hul geloof dat God vir hulle ‘n nuwe leier uit die nageslag van Dawid sou stuur, en dat hierdie leier ‘n Joodse opstand sou lei en Rome sou oorweldig en die keiser sou onttroon en die nuwe koning van die volk sou word.

 

Die Fariseërs weer was ‘n baie streng godsdienstige groep wat daarop geroem het dat hulle die wette van die OT slaafs navolg. Die Herodiane en die Fariseërs het nie noodwendig om dieselfde vuur gesit nie, maar hulle het een ding in gemeen gehad – hulle wou vir Jesus uit die weg uit ruim. Daarom skuif hulle nou al hul verskille opsy, en hulle span saam in ‘n gemeenskaplike plot teen hom.

 

Hulle begin deur vir Jesus heuning om die mond te smeer: “Meester, ons weet dat u opreg is en God se weg waarheidsgetrou onderrig en u aan niemand steur nie, want u neem nie die aansien van persone in aanmerking nie.” Bybelkenners meen dat dit waarskynlik een van die mees skynheiligste sinne in die hele Bybel is. “Sê dan vir ons wat is u opinie…”

 

Die Romeinse regering het ‘n uitgebreide belastingstelsel gehad. Daar was belasting op besittings en grondgebied, handelsbelasting, inkomstebelasting, pad- en hawebelastings en dan ook die sensusbelasting. Laasgenoemde is hier ter sprake. Dit is belasting wat jaarliks deur elke landsburger betaal moes word vir die reg om ‘n burger van daardie land te wees.

 

“Waarom toets julle my, hupokritai?

Waarin lê die toets? In die feit dat dit ‘n strikvraag is met geen regte antwoord is nie. ‘n Catch-22 situasie. Want, sê Jesus “ja, julle moet aan die keiser belasting betaal,” dan gaan die godsdienstige Fariseërs kwaad wees oor sy antwoord. Maar sê hy “nee, julle moenie aan die keiser belasting betaal nie,” dan gaan die Herodiane hom aangee as ‘n opstoker by die Romeinse owerheid. Hy kan nie na die kant toe of na daai kant toe wen nie.

 

Maar Jesus antwoord nie “ja” of “nee” nie. Hy swaai die ondervraging om sodat diegene wat hom wil vasvra die voor-die-hand-liggendheid van die antwoord self moet ontdek. “Wys vir My die munt waarmee julle belasting betaal?” Hulle bring toe ‘n silwer denarius te voorskyn.

“Wie se beeld is hierop, en wie se inskripsie?” (“Wat sê die muntstuk vir julle? Aan wie behoort dit?”) “Die keiser s’n.” Die beeld van Tiberius Caesar sou in Jesus se tyd op die muntstuk wees.

“Nou daar het julle dit mos. Gee dan terug aan die keiser wat hom toekom en aan God wat Hom toekom.”

 

‘n Twee-ledige antwoord. Nie ‘n of-of soos wat die mense verwag het nie, maar ‘n en-en antwoord.

 

Nr 1. Of julle nou daarvan hou of nie, julle is burgers van hierdie land, en julle staan onder die regering van die keiser van Rome. Hy is dalk nie julle voorkeur as leier van die land nie. Maar dit is soos dit is. Julle het ‘n verantwoordelikheid om goeie landsburgers te wees. Deel daarvan is om aan die keiser terug te gee wat aan hom behoort. Julle moet natuurlik julle belasting betaal. Dit is die beeld van sy kop wat op julle muntstukke is. Daardie muntstukke skenk aan julle in hierdie land ‘n sosiale, politieke en ekonomiese struktuur. Ja, alles loop dalk nie vlot nie. En die regering mag dalk korrup wees. Moontlik word julle geld onverantwoordelik bestee. Maar mens maak nie een verkeerd met ‘n ander verkeerd reg nie.

 

In Jesus se tyd het die Jode dit allermins maklik gehad onder die Romeinse regering. Tewens, dit is nou in die laaste week van Jesus se lewe. Die konflik tussen hom en die Joodse godsdienstige leiers en ook die Romeinse regering is besig om breekpunt te bereik. Binne enkele dae sal Jesus deur hierdie einste regering tereggestel word. Deels ook juis omdat hy dit vir die leiers van die land (godsdienstig sowel as polities) moeilik gemaak het met sy sosiale kritiek en die manier waarop hy ongeregtigheid in die samelewing oopgevlek het. Maar selfs as julle onderhewig sou wees aan ‘n heidense regering wat die Seun van God sou kruisig of wat christene vervolg – selfs dan moet julle julle belasting betaal. Paulus het dieselfde gesê in Romeine 13. Petrus ook in sy briewe. Mense wat gely het onder die regering van die land waarin hulle gewoon en gewerk het.

 

Nr 2. Vir julle groep mense wat glo dat julle aan God behoort, stop julle verantwoordelikheid egter nie by die (terug)betaal van belasting aan die keiser nie. Julle is burgers van 2 ryke. Julle het ‘n verantwoordelikheid ook binne die Ryk van God. Julle moet ook aan God teruggee wat aan Hom behoort. Wanneer Jesus vroeër vra “Wie se beeld sien julle op die muntstuk?,” dan gebruik Hy dieselfde woord (eikoon) vir “beeld” wat in Genesis 1:26 gebruik word om te sê dat die mens “na die beeld van God” geskep is. Met hierdie teks was die Fariseërs baie goed bekend. Hulle sou dadelik die onderliggende betekenis van Jesus se antwoord hoor. Die muntstuk dra die beeld van die keiser en daarom moet julle dit aan die keiser teruggee. Maar gaan dink ‘n bietjie na oor wat dit is wat die beeld van God dra, want dit behoort aan God, so gaan gee dit terug aan God.

Natuurlik behoort alles in die skepping aan God. Maar meer gefokus as dit: Óns is geskape na die beeld God, en as gelowiges wéét ons dit. Ons moet onssélf aan God teruggee. Wie ons is en wat ons besit – dit alles staan in diens van God en sy Ryk.

Jesus glip uit die strik wat die Fariseërs en die Herodiane vir hom gestel het, en hulle was verwonderd oor sy antwoord. Dit is min dat ons lees dat Jesus se vyande op ‘n positiewe manier verslaë en verwonderd was oor dit wat Hy gesê het. Ironies genoeg sou hulle hom elk geval ‘n paar dae later oorlewer om gekruisig te word.

Ek sluit af met enkele laaste opmerkings. Die antwoord op die mense se vraag was eintlik so voor die hand liggend. Kyk na die muntstuk en sê My wat julle sien. Die beeld van die keiser. Dan behoort dit mos aan die keiser. Ek wonder of die tweede deel van Jesus se antwoord ook so voor die hand liggend is? Wanneer ons in die spieël kyk, of wanneer ons na mekaar kyk, of wanneer die wêreld, ons mede-landsburgers na ons kyk, is dit ook so duidelik soos met geld, dat ons die beeld van God op ons dra? Dat ons aan God behoort? Dat ons in sý diens staan? Of is dit dalk so dat geld duideliker kommunikeer/harder praat as christene?…

En fokus ons dalk so op die geld in ons sakke dat ons vergeet dat ons self in God se hand is? Dat die geld in ons sakke ook daarom in God se hand is, en uiteindelik nie ons s’n is om oor te besin nie maar God s’n? En wanneer ons dit waag om daaroor besluite te neem, doen ons dit met die baie duidelike bewustheid van ons verantwoordelikheid teenoor God en teenoor sy Ryk?

Of het die geld in ons sakke so op ons begin afvryf dat dit dalk eerder lyk asof ons aan die geld behoort as aan God?

Mens kan nie twee meesters gelyk dien nie… Ons Pinelanders, vir wie dien ons? As ander van buite af na ons kyk, wie se beeld sien hulle raak?

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.