Matteus 25:1-13 – 2014

9 November 2014 Koninkrykstyd 22
Prediker: Dr Tiana Bosman

Ek lees hierdie gelykenis en die eerste gedagte wat by my opkom is: Dit is die Bybelse weergawe van Aspoestertjie (Cinderella). Met enkele verskille. In die Grimm broers se weergawe speel glasskoentjies ‘n deurslaggewende rol, terwyl die Bybelse verhaal eerder sentreer rondom olielampies. Verder het die wêreldse weergawe ‘n “happily ever after” einde, maar die Bybelse weergawe eindig droewig. In Aspoestertjie trou die prins aan die einde met die arm, wees, werkersklas meisie wat eintlik glad nie eens veronderstel was om by die bal op te daag nie. In die Bybel word die deur na die bruilof in die gesigte van die onwaardige meisies toegemaak en sê die bruidegom van die binnekant af: “Ek ken julle nie.” Daar is altyd ‘n donker kant aan feeverhale, maar ek moet sê in hierdie verhaal is ek banger vir die Bybel as vir die Grimm broers.

Dis vir my vreemd dat gelowiges nooit ongemalik lyk met hierdie gelykenis nie. Dat die betekenis vir ons so voor die hand liggend is en gemaklik aan ons sit. Natuurlik, so sê ons vir mekaar, gaan die gelykenis oor die wederkoms van die Here, oordat ons almal gereed moet wees, genoeg ekstra olie moet hê vir die lang wag op sy onverwagse koms. En die olie is of gelyk aan ons goeie werke, of aan die Heilige Gees wat ons vul. Dit is die “tasbare” token wat as toegangskaartjie sal dien tot die koninkryk van die Here. En die onder ons wat te min olie met ons saamgebring het… “Sorry. Ek ken julle nie.”

En uit vrees vir die gelykenis en as voortdurende herinnering dat ons tog om hemelsnaam gereed moet bly, het ons voorgangers ‘n lied geskryf waarmee ons die boodskap van paraatheid van kleins af by ons kinders kan indrill: “Give me oil in my lamp, keep me burning, burning, burning…”

Ek het hierdie week klippe gekou met die gelykenis. Omdat ek die boodskap van die gelykenis en die Here van die koninkryk nie met mekaar kan “trou” nie. Ons moet nooit ‘n gelykenis in die eerste instansie vergeestelik nie. Ons moet dit altyd eers konkreet lees binne die situasie van die tyd waarin dit vertel of geskryf is. Eers daarna kan ons moontlik soek vir ‘n geestelike betekenis ook. Ek kan verkeerd wees, maar ek dink ons mis die punt van die gelykenis heeltemal. Ek dink nie dit gaan enigstens oor die olie in die lampies nie. In elk geval nie vir God nie.

Dan sal die koninkryk van die hemel wees soos… Ons is nou al vertroud met die gedagte dat die koninkryk nie net vir die eendag bedoel is nie, maar dat die begin van die koninkryk van die hemel reeds met Jesus se koms aangebreek het (Die koninkryk het naby gekom – Mark 1). Die hemel is dus nie net vir die eendag bedoel nie. Ons beleef reeds gestaltes van God se ryk. Tewens, ons word opgeroep om die koninkryk sigbaar te maak vir ander mense! Die koninkryk is ook al in die hier en nou. Dis net nog nie volkome nie. Die finale, alles-omvattende oorwinning lê nog in die toekoms.

Die gelykenis begin skeefloop wanneer die bruidegom nie betyds is nie. Al tien die meisies raak aan die slaap, en toe hulle uiteindelik wakkergeroep word en gewaarsku word om gereed te staan, toe is die vyf sonder ekstra olie se lampies al aan die uitflikker. Maar die rede daarvoor is dat die bruidegom die sosiale protokol gebreek het deur laat op te daag. Die fout het nie in die eerste plek gelê by die meisies sonder ekstra olie nie. As hy self laat is, hoe kan hy dan ander wat as gevolg van sy gesloer laat opdaag, straf?

En wat sou gebeur as die meisies nie weggegaan het op soek na ekstra olie in die middel van die nag nie? Wat sou gebeur as hulle agter hom aangegaan het, selfs al was hulle lampies aan die doodgaan? Waarom nie net bly al brand hulle lampies nie meer nie, maar ten minste is hulle daar? Sou die bruidegom nie in elk geval bly gewees het om hulle te sien nie? Wie het nou tien lampies nodig as daar reeds vyf is wat brand? En binne die bruilofsaal sou daar soveel lig wees dat die lampies dan iedergeval oorbodig sou wees.

Dalk was dít die vyf dwase meisies se fout. Dat hulle vir olie gaan soek het terwyl hulle liewer maar moes bly. Dat hulle moes vertrou dat hulle goed genoeg is vir die partytjie, selfs al het hulle nie meer olie nie. Dat dit hulle teenwoordigheid is wat tel en nie die olie in hul lampies nie. Maar hulle was te onseker om so uitgelewer te wees aan die vriendskap, genade en liefde van die bruidegom en nie die olie in hul besit nie.

En wat van die wyse meisies wat nie bereid was om hul olie te deel nie? Want miskien is daar nie dan meer genoeg vir hulself oor nie. Hulle is nie seker nie maar better safe than sorry. Waar anders in die Bybel skryf ons selfsugtige gedrag so hoog aan soos hier? Dat dit vir ons selfs navolgenswaardig word!

Soos wie in die gelykenis wil jy eendag wees as jy by die hekke van die paradys aankom?

Soos die wyse meisies wat nie wou deel nie!

Mooi so, goeie en getroue dienaar…

Dink julle regtig Jesus gaan beïndruk wees met hierdie keuse?

Die wyse en die dwase meisies is eintlik baie dieselfde. Hulle word gedryf deur dieselfde vrese. Dat hulle nie genoeg (olie) gaan hê nie. Dat die blote feit dat hulle opdaag en graag daar wil wees nie genoeg sal wees nie. So die wyses stuur die dwases weg om in die middel van die nag iewers anders olie te gaan soek. En teen die tyd dat die dwases terugkom, was die deur reeds gesluit. Wie weet wat die bruidegom gedink het. Dalk het hy gedink dat hulle nie soos die ander vyf meisies vir hom wou wag nie, maar eerder huistoe gegaan het. Maar hulle hét gewag. Die bruilof was vir hulle so belangrik dat hulle op ‘n onmoontlike tyd ekstra olie gaan soek het! Die bruidegom was egter of seergemaak of ontevrede en hy wou nie vir hulle oopmaak nie. Hulle was nie meer welkom nie.

Ons skryf die gedrag van die wyse meisies hoog aan. Die wat het en nie wou deel met die wat nie gehad het nie. Hulle het die dwase meisies weggestuur. Hulle is verantwoordelik, of ten minste medeverantwoordelik daarvoor dat die dwases heeltemal uitgesluit is. Maar ons prys hulle wyse besluite!

Daar is nog een karakter wat oorbly. Die bruidegom. Ons trek hom altyd deur na Christus toe en dan praat ons heeltemal gemaklik oor sy ongasvrye gedrag wanneer hy die dwase meisies wegstuur. Is dit die Jesus wat 99 skape los sodat hy die een wat afgedwaal het kan gaan soek? Dit kan nie wees nie. Jesus stuur nie mense weg wat by die deur staan en klop nie. Selfs al kom hulle met leë hande.

Volgens die eerste eeuse huweliksgebruike het die bruidegom gewoonlik sáám met die bruid gearriveer. Die strooimeisies (soos die tien hier) was die bruid se vriendinne en hulle sou gewag het op die paartjie se koms. Daar is heelwat bybelkenners wat reken dat hierdie gelykenis dus aanvanklik beide die bruid en die bruidegom sou insluit. Maar dit sou dan nie meer inpas by die betekenis wat geleerdes later aan die gelykenis wou toeskryf nie. Want as die bruid en die bruidegom saam by die huweliksfees opdaag, dan kan die bruidegom nie Christus wees nie, want Hy kom, metafories gesproke, met die wederkoms om sy bruidegom (die kerk) te kom haal.

Dit is egter juis, dink ek, die punt van hierdie gelykenis. Die bruidegom hier is nie Christus nie. En dit gaan nie om sy wederkoms nie. Die Evangelie van Matteus is geskryf kort na die afbreek van die tempel in Jerusalem. Die Joodse godsdiensleiers, wat nie vir Jesus as die Messias wou aanvaar nie, was baie ontevrede gewees. Hulle het die volgelinge van Jesus as ‘n rebelle groep beskou, dalk selfs ‘n tipe sekte. Hierdie godsdiensleiers het begin om grense te stel vir wie is in en wie is uit. Wie mag die sinagoge as plek van aanbidding gebruik en wie mag nie. Aanvanklik mag Jesus se volgelinge ook in die sinagoge aanbid het, maar dit het toe verander. Hulle was nie meer welkom nie.

Jesus het die gelykenis vertel om te waarsku hoe dinge gaan word, en Matteus het dit later neergeskryf om die waarheid wat in sy tyd en omgewing plaasvind te ontmasker. Die tyd het aangebreek wanneer aarde godsdiensleiers hulself die reg toeëien om te besluit wie is in en wie is uit. En hulle weeg mense nie op grond van wie hulle is nie, maar op grond van dit wat hulle saambring. Op grond van (dikwels onregverdige) meriete…

Die gelykenisse in Matteus 25 is nie verniet saam gegroepeer nie. Die gelykenis van die tien meisies… Die gelykenis van die man wat op reis gaan en sy besittings aan sy slawe toevertrou – 5 talente en 2 talente en 1 talent. Onthou julle nog? Die slaaf wat net 1 talent ontvang het en wat nie probeer het om ander uit te buit en wins te maak nie was die eintlike eerbare man gewees… En dan die gelykenis van die skape en die bokke waar Jesus vir die mense aandui wie die eintlike wyses en dwases is. Die wat die koninkryk beërf is nie diegene wat ekstra olie gehad het nie, ook nie die slawe wat mense uitgebuit het en winste getoon het wat hul gierige aardse eienaar se hart bly gemaak het nie. Hulle het hulle beloning reeds weg. Hulle het reeds hul rykdom op aarde gemaak. Hulle het reeds die bruilof op aarde bygewoon – ‘n elitistiese bruilof waar net die who’s who welkom was! Maar die wat die koninkryk van die hemele beërf is die wat bereid was om van hulle goed weg te gee, die wat kos gegee het vir die hongeriges, die wat klere gegee het vir die wat naak was, die wat die siekes en diegene in die tronk besoek het, die wat hulle olie gedeel het, die wat gasvry was en nie gesê het “ek ken jou nie,” maar vir vreemdelinge en laatkommers die deur oopgemaak het…

Wees waaksaam, ja, omdat julle die uiteindelike dag en die uur nie ken nie. Wanneer die Seun van die Mens in heerlikheid kom en al die nasies voor Hom byeengebring word.

Julle wat soos die dwase meisies is, wees waaksaam. Moenie fokus op die hoeveelheid olie in jou lampie nie. Die Here kom nie vir die olie nie, Hy kom vir jou. En Hy bring elk geval oorgenoeg lig met Hom saam. As daar nie meer lig vir jou is nie wag dan in die donker. Maar moenie ophou wag nie.

Julle wat soos die wyse meisies is, wees waaksaam. Deel wat jy het al maak dit jou bang. Moenie dat tydelike gerief in die weg staan van diens aan jou naaste nie.

Julle wat is soos die bruidegom, of die godsdiensleiers of die godsdienstiges. Julle wat die sleutels in die hand het, wees waaksaam. Maak altyd jou deur wyd oop vir ander mense. Wees gasvry. Verwelkom mense selfs al het hulle foute gemaak en al kom hulle uit ‘n donker plek.

Wees waaksaam, want op daardie dag gaan die skape verbaas wees dat hulle skape is en die bokke sal verbaas wees oordat hulle bokke is. Die wat laaste was sal eerste wees en die wat eerste is sal laaste wees.

Die sentrale tema van die evangelie van Jesus Christus is een van inklusiwiteit en medelye.

“Jesus,” sê die misdadiger wat aan die kruis langs Hom hang vir Hom, “dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” Anders as die bruidegom van die gelykenis antwoord Jesus: “Amen, Ek sê vir jou: Jy sal vandag nog saam met My in die paradys wees.”

Jý, misdadiger met leë hande en ‘n lewe in die duisternis, jy wat deur mense doodgemaak word omdat jy nie meer in hulle wêreld welkom is nie, jy wat laaste in die ry staan van menswaardigheid, jý sal eerste saam met My die paradys beleef…

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.