Markus 1:4-11 – Johannes 1:19-34 – 2015 – Johannes die Doper

11 Januarie 2015  Epifanie 1
Prediker: Dr Tiana Bosman

Wie was Johannes die Doper? Mense skets hom as ‘n vreemde karikatuur, en nie sonder rede nie. Tewens, dit is juis hoe hy deur die evangelieskrywers aan ons bekendgestel word. Hy het geleef in die woestyn van Judea. Sy klere en diëet het gepas by iemand wat in die woestyn woon. Hy het ‘n kleed van kameelhaar gedra met ‘n leergordel om sy heupe (soortgelyk aan die kleredrag van die profeet Elia – 2 Kon 1:8) en hy het springkane en wilde heuning geëet. Springkane en ander droë insekte was algemene kos in die woestyn. In Lev 11:22 word springkane en krieke gelys onder die groep insekte wat rein is en wat die volk wel mag eet. Op die koop toe het hy vir die mense die vreemdste nuus verkondig: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele is op hande! (Mat 3:2)”, en “Ná my kom Hy wat sterker as ek is. Ek is nie eens werd om te buk en die riempies van sy sandale los te maak nie. Ek doop maar net met water, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop (Mark 1:7; Luk 3:16; Joh 1:27).” En dan het hy hulle in die Jordaanrivier met die bekeringsdoop (proselietedoop) gedoop (heeltemal iets anders as die doop wat ons vandag ken). In hierdie hoedanigheid het Johannes as ‘n profeet van God opgetree, die een wat die pad vir die Here gereedmaak.

Ons sou dink dat dit die taak van die Skrifgeleerdes en die godsdiensleiers moes wees, om die pad vir die Here gereed te maak. Maar dit blyk dat hulle so opgegaan het in hulself en in hul magspele en soeke na rykdom, dat hulle van almal dalk Johannes se voorbeeld die heel nodigste gehad het. Die taak om die riempies van jou meester se sandale los te maak, was een van die heel laagste take van ‘n slaaf, maar Johannes was so nederig dat hy homself nie waardig genoeg geag het om selfs dit te doen vir die een wat na hom sou kom nie, ten spyte van die feit dat Johannes self ‘n profeet was.

Die leiers is nuuskierig oor hierdie vreemde man wat mense in die Jordaan doop. Ons lees hoedat die Sanhedrin in Jerusalem die priesters en die Leviete stuur om uit te vis oor wie Johannes die Doper nou eintlik is.
“Wie is jy?” vra hulle hom.
“Ek is nie die Christus/Messias nie.”
“Is jy Elia?” (Sommige het verwag dat Elia sou herleef/nooit gesterf het nie om ‘n voorloper vir die Messias te wees.)
“Nee, ek is nie.”
“Is jy dan die Profeet?” (Nog ‘n Messiaanse voorloper dalk? ‘n Verwysing na Deut 18:15, ‘n profeet soos Moses, wat teen hierdie tyd al ‘n eskatologiese figuur in die algemene geloofskringe geword het. Hand 3:22 sê dat Jesus hierdie profeet is)
“Nee!”

Veral Johannes se eerste antwoord is baie belangrik. “Ek is nie die Christus nie”. Die Messiaanse verwagting was groot en die Jode is op die uitkyk vir die Messias wat sou kom. Johannes tree op as ‘n profeet van God en mense kon hom dalk misgis as die Messias, die Christus. Heel moontlik het hierdie storie oor Johannes se identiteit al onder die mense versprei en was hy self baie bewus van die bespiegelinge. Wanneer die mense dan vra “Wie is jy?” ruim hy dadelik die onsekerheid uit die weg: “Ek is nie die Christus nie”. Hiermee sê hy vir die volk : “Ek is nie die een vir wie julle so lank al wag nie. Ek is nie julle verlosser nie, ek kan julle nie red nie. …Ek is bloot maar die een wat in die woestyn roep: ‘Maak die pad vir die Here reguit’”.
En die volgende dag terwyl Johannes weer tussen die mense besig was sien hy vir Jesus na hom toe kom en hy wys Hom uit: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” “Nie ek nie, maar Hy.”

Johannes praat meer oor Jesus as wat hy oor homself praat. Hy wat so huiwerig was om oor homself uit te wy, gee ‘n aangrypende getuienis oor die identiteit van Jesus (Joh 1:26-34).

Die interessante is nou om te hoor wat Jesus later oor Johannes te sê het. Terwyl Johannes in die tronk was het Jesus met die skare gepraat oor hom (Matt 11:7ev). “Toe julle na die woestyn gegaan het, waarna het julle gaan kyk? ‘n Riet wat deur die wind rongewaai word? Waar waarna hét julle dan gaan kyk? ‘n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, mense met deftige klere woon in konings se paleise.” Johannes was juis nie ryk en magtig nie. Hy het nie vanuit ‘n gegoede omgewing gekom nie. Sy lewenstyl staan in sterk kontras met die van die religieuse leiers in Jerusalem wat in relatiewe rykdom en weelde geleef het. “Maar waarna het julle dan gaan kyk? ‘n Profeet? Ja, ek verseker julle, selfs meer as ‘n profeet… As julle dit wil aanvaar – hy is Elia wat sou kom.”

Vroeër in sy gesprek met die priesters en die Leviete het Johannes dan juis ontken dat hy Elia is. Hoe moet ons nou Jesus se uitspraak verstaan? Nav die eerste eeuse Rabbynse interpretasie van 2 Kon 2:11 het Elia nog gelewe (nooit doodgegaan nie). Die mense het geglo dat hy die voorloper van die Messias sou wees. Hoe versoen ons nou Johannes se ontkenning (Nee, ek is nie Elia nie) met Jesus se stelling dat hy wel Elia is? (Mat 11:14, 17:12; Mark 9:13). Die punt is dat Johannes nie aan homself gedink het as Elia nie. Op ‘n nederige wyse verwerp hy hierdie hoë titel wat die mense aan hom wou toedig. Maar Jésus sê anders. Jesus verleen aan hom die titel van Elia. Want Johannes het inderdaad die funksie van Elia verrig – deur die pad vir die Here voor te berei. Johannes dink eerder minder van homself as wat hom toekom, maar Jesus herstel sy posisie deur erkenning te gee aan die belangrike rol wat Johannes kom vervul het.

Hierdie gedrag lyk my is tipies van Johannes die Doper, om eerder terug te staan as om die middelpunt van belangstelling te probeer wees. Toe van sy volgelinge in Joh 3:25-30 vir hom waarsku: “‘Rabbi, Hy wat oorkant die Jordaan by u was, van wie u getuig het, weet u, Hy doop ook, en almal gaan na Hom toe.’
Johannes het hulle geantwoord: ‘Niemand besit enige bevoegdheid om iets te doen as dit nie uit die hemel aan hom gegee is nie. Julle is self my getuies dat ek gesê het: ‘Ek is nie die Christus nie. Ek is maar net voor Hom uitgestuur.’…Ek is met blydskap vervul. Hy moet meer word, en ek minder.”

Ons kan so selfsugtig lewe, so op onsself gerig wees, so ons eie eer en aansien soek. “It’s all about me!” Ons wil nie ‘n werk doen waar ons nie raakgesien word nie, of waar ons nie genoeg geld verdien nie. Hoeveel dominees wil nie ‘n predikant van ‘n gemeente wees as dit nie ‘n makrogemeente is nie!? Ons wil om hemelsnaam tog net nie nobodies wees nie maar somebodies! Dit terwyl, indien ons ons lewens aan Christus gewy het en aan die koms van God se koninkryk, ons glad nie veronderstel is om vir ons eie eer en sukses te leef nie. Ons is alleen maar geroep om wysvingers te word wat na Christus toe wys: “Daar is die Lam van God…! Moenie na my kyk nie, sien Hom raak!” Ons is geroep om al minder te word, sodat Hy al meer kan word. In al die evangelies lees ons hiervan. Keer op keer leer Jesus sy volgelinge: “Wie eerste is sal laaste wees, en wie laaste is sal eerste wees…” Hy wat die gestalte van ‘n slaaf aangeneem het en mense se voete gewas het is tot die hoogste eer verhef (Fil 2). En die een wat sy voorloper was en nie eens werd was om die riempies van sy skoene los te maak nie, van hom het Jesus gesê dat hy Elia is!

God gebruik die mees onwaarskynlike mense op strategiese plekke in die geskiedenis om sy plan tot uitvoering te bring. Moses die aangenome kind en hakkelaar. Johannes die woestynbewoner. Jesus, die kind wat buite-egtelik gebore is en geen formele onderrig ontvang het nie… God gebruik veral mense wat nie te veel van hulself dink nie, mense wie se ego’s nie in die weg staan van sy roeping nie.

Dit herinner my aan die verhaal van die priester wat ‘n lang siekbed behad het. Bo die kopstuk van sy bed was ‘n kruis wat teen die muur gehang het. Hy was later so kragteloos dat hy niks meer kon doen nie, nie eens kon praat nie. Maar elke keer as iemand by sy kamer ingekom het, of dit nou die dokter, ‘n besoeker of ‘n versorger was, het hy sy wysvinger opgelig en na die kruis bo sy bed gewys. Daar op die bed het die priester steeds al minder geword, het hy weggekwyn, maar sy heenwysing na Christus was so groot dat dit tot met sy laaste asemteug die Lam van God aan mense uitgewys het. Mag ook ons agter ons ego’s en ons vingers verdwyn sodat ons eie identiteite heeltemal opgeneem kan word deur die identiteit van die Een na wie ons wys: die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Dít is ons roeping.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.