Markus 9:1-9 – 2015

15 Februarie 2015 Sondag van Verheerliking
Prediker: Dr Tiana Bosman

Daar is veral 5 gebeurtenisse in Jesus se leeftyd op aarde wat uitstaan: sy doop, verheerliking, kruisiging, opstanding en hemelvaart. Nie te lank terug nie het ons oor sy doop gepraat. Vandag is dit in die kerklike jaar die Sondag van Verheerliking (in Engels die “transfiguration of Jesus), en daarom juis hierdie teks.

Jesus en drie van sy dissipels gaan teen ‘n hoë berg uit waar hulle heeltemal alleen is. Sy voorkoms verander daar voor hulle oë. Sy klere het blink geword, spierwit, so wit soos niemand op aarde iets kan beik nie. Skielik verskyn Moses en Elia aan hulle en hierdie twee manne wat lank terug geleef het raak aan die gesels met Jesus.

Waarom juis Moses en Elia? Ons kry nie ‘n verduideliking daarvoor in die teks nie. Maar wat ons wel weet is dat Jesus in die bergrede vir die mense kom leer het dat Hy gekom het om aan die geskrifte van die wet en die profete hul ware en volle betekenis te gee. Nou in die Bybelse tyd het Moses die wet verteenwoordig en Elia het die profete verteenwoordig. Dit maak dus heeltemal sin dat dit hierdie twee manne is wat aan Jesus verskyn.

Om dit nog verder te vat: Aan die einde van sy lewe het Moses die Moabvlakte opgeklim. Daar het die Here vir hom die beloofte land gewys en met hom gepraat en toe het hy gesterf. Die storie loop dat die Here hom self daar iewers begrawe het, maar niemand kon ooit Moses se graf vind nie (Deut 34:6)! Geen mens het dus vir Moses sien sterf of daarna bewyse gevind dat hy dood is nie.

Elia, weer, het nie gesterf nie. Sy leerling Elisa het gesien hoedat ‘n wa van vuur met perde van vuur aan die einde van sy lewe vir Elia in ‘n stormwind in die hemel opneem (2 Kon 2).

Die man van die wet en die verteenwoordiger van die profete, van wie niemand gesien het dat hulle sterf soos ander mense nie, verskyn nou tydens Jesus se lewe aan Hom op die berg. Die hele OT getuienis tree hier in gesprek met Jesus, die Een om wie die hele NT getuienis draai.
Dit is waarskynlik hierom dat Petrus drie hutte wil bou – een vir Jesus, een vir Moses en een vir Elia. In ‘n gebaar van eerbied wil hy monumente vir die drie “groot geeste” in hul geskiedenis bou, een van wie hy nogals die voorreg het om persoonlik te ken. Maar Petrus het nie geweet waarvan hy praat nie. Hy en die ander twee was totaal verskrik – vandaar Petrus se onvanpaste reaksie. Wat beslis nog nie tot Petrus deurdring nie, is dat Jesus op geen manier aan Moses en Elia, hoe groot figure hulle ookal was, gelykgestel kan word nie. Moses en Elia kan nie in dieselfde asem as Jesus genoem word nie. Hy is heel anders en veel groter as hulle.

Terwyl Petrus nog so praat, het ‘n wolk sy skaduwee oor hulle gegooi en ‘n stem het uit die wolk gesê: “Dit is my geliefde Seun, luister na Hom!” Dieselfde aankondiging as met Jesus se doop – ‘n herbevestiging van wie hierdie Jesus is – maar hierdie keer gaan God nog verder en sluit Hy ‘n opdrag in: “Luister na Hom.”

Skielik het hulle, toe hulle rondkyk, niemand anders behalwe net Jesus by hulle gesien nie. (In Matteus lees ons die dissipels het baie bang geword en op die grond neergeval, maar Jesus het na hulle toe gekom, aan hulle gevat, en gesê: Staan op en moenie bang wees nie.” En toe hulle opkyk het hulle niemand gesien nie, net Jesus alleen.)

Waarom gebeur hierdie bonatuurlike verskynsel juis hier? Want die dissipels het nodig om gerusgestel te word rondom Jesus se identiteit. Enkele dae tevore het Hy heeltemal onverwags die ontstellende nuus aangaande sy eie naderende dood aan hulle meegedeel. Dit was die eerste keer dat Hy sy dood aangekondig het. Tot hiertoe het die dissipels nog geglo dat hulle saamstap met die man wat ‘n rebellie-beweging op die been bring en wat die Romeine van die troon gaan afveg en wat dan die nuwe koning van die Joodse volk sal wees. Hy wat alle mag en glorie vir die volk sal herstel. Petrus was so ontsteld toe Jesus oor sy dood praat dat hy Hom eenkant geneem en hom tereggewys het. Maar Jesus draai om en berispe op sy beurt vir Petrus: “Gaan weg van my, Satan, want jy bedink nie die dinge van God nie, maar die dinge van mense.”

Die dissipels is tot in hulle diepte geskok in die anti-klimaks van die dood wat Jesus oor Homself aankondig. Nou, met die verheerliking van Jesus op die berg, sy voorkoms wat verander en blink, spierwit word, en God wat oor Hom praat soos met sy doop as sy “geliefde Seun,” herbevestig God aan die dissipels Jesus se eiesoortige en goddelike identiteit. “Julle dink dalk julle het julle misgis met hierdie man wat sy dood tegemoet stap, maar moenie ‘n fout maak nie. Ek sê wéér: ‘Hy is my geliefde Seun.” En dan verder: “As julle dalk gedink het om Hom nie meer so ernstig te neem na die ander dag se aankondiging oor sy dood nie, moenie daai fout maak nie. LUISTER (STEEDS) NA HOM.”

Dus: na die dissipels se vrees en onsekerheid oor Jesus, help die verheerliking op die berg vir hulle om te onthou dat Hy meer is as wat hulle besef, dat daar iets van God aan Hom is, al verstaan hulle al minder en minder daarvan.

Nadat die dissipels weer op die berg bewus gemaak word van Jesus se andersoortigheid, en nadat God hulle dan ook herinner dat Jesus selfs meer is as Moses en as Elia, want Hy is sy geliefde Seun, wat word nou van hier af vorentoe van die dissipels verwag? Hieroor is daar nie onsekerheid in die teks nie. “Luister na Hom,” sê God vir die dissipels. Markus vertel dat hulle toe om hulle rondgekyk het en niemand anders behalwe net Jesus by hulle gesien het nie. In Matteus lees ons hier dat hulle in vrees reageer en op die grond neerval. Maar Jesus kom na hulle toe, vat aan hulle en sê: “Staan op en moenie bang wees nie.” En toe hulle opkyk het hulle niemand gesien nie, net Jesus alleen. Alles is weer soos dit was toe hulle pas daar bo aangekom het. Dit is tyd om weer by die berg af te gaan.

Die laaste ding wat die dissipels nou moet doen is om so opgesweep te word deur hierdie bonatuurlik ervaring dat hulle nie weer wil teruggaan nie die lewe toe nie. Die laaste ding wat hulle nou moet doen is om monumente te bou. Nee. Matteus vertel hoedat hulle nog verkeer in ‘n toestand van oorweldiging oor die goddelike openbaring wat hulle ontvang het, toe kom vat Jesus aan hulle, en mens hoor in sy daad van aanraking en sy woorde iets van: “Word wakker en moenie bang wees nie. Julle het nou gesien, maar ons moet aanbeweeg. Staan op, dis tyd om terug te gaan na die lewe toe. Daar is ‘n moeilike pad wat gestap moet word, en ek wil dit graag met julle aan my sy doen…”

Om saam te vat:

  1. Jesus neem die drie dissipels op teen die berg en daar bo sien en hoor hulle iets van sy goddelikheid as die ware Seun van God. Hulle is totaal verskrik maar word ook daardeur meegevoer – Petrus wil selfs monumente bou.
  2. Die rede waarom Jesus hulle opneem en hulle sy verheerliking sien, is waarskynlik omdat hulle dit op die stadium so nodig gehad het. Jesus het pas vir die eerste keer vir hulle vertel dat Hy sy dood tegemoet stap en nie die troon nie. Hulle twyfel aan Hom, hulle is onseker, hulle is bang. Hulle het nodig om gerusgestel te word. Hier benadruk God dan weer aan hulle dat Jesus inderdaad sy Seun is.
  3. Die openbaring op die berg beteken nie dat die dissipels (en Jesus) hulself nou van die wêreld mag onttrek en net op God se bonatuurlik openbaring fokus nie. Die dissipels het vir ‘n oomblik ‘n glimps gekry van wie Jesus is sodat hulle weer kan terugkeer na die realiteit, maar die keer met meer vertroue in Jesus as voordat hulle teen die berg opgegaan nie, en die keer met ‘n baie duidelike opdrag van God af dat hulle na Jesus moet luister.

Ons mag dalk nou vra waarom ons nie almal hierdie openbarings van God af ontvang nie. As geloofsversterkings wanneer ons die dag ‘n bietjie af voel of sukkel om te glo. Ons moet egter onthou dat ons in ‘n ander tyd leef as die dissipels. Hulle leef voor Jesus se kruisiging, opstanding en hemelvaart. Hulle weet op hierdie stadium al dat Hy gaan sterf, maar hulle verstaan nog nie dat Hy ook werklik gaan opstaan nie. Dis vir hulle ‘n heeltemal vreemde gedagte (Markus 9:10)! Hulle het nodig om op ‘n “bonatuurlike” manier deur God verseker te word.

Maar ons leef nou, en ons het veel meer as wat die dissipels gehad het. Ons het nie net die wet en die profete nie, ons het ook die evangelies en die briewe van die NT. Ons hét, in die Bybel, die bonatuurlike openbarings van God en sy woorde vanuit die hemel. Dis ons Bybel. Dis daarom ook ons verhale. Ons het verder die ooggetuienisse van mense wat vir Jesus gesien het na sy opstanding. Ons hoef nie meer daaroor te vrees of te wonder soos die dissipels nie. (Onthou: ook net drie dissipels het gesien en moes later gaan vertel daarvan – nie almal nie.) Ons wéét Hy het opgestaan. Ons wéét Hy lewe weer. Ons moet ophou soek na God in die bonatuurlike, en eerder fokus daarop om te voel hoedat Jesus ons aanraak. Hoedat Hy midde die gewone lewe saam met ons stap. Sy hand op ons skouer, sy “staan op en moenie bang wees nie. Stap saam met My die pad van die lewe.” En hoe verder ons met Hom saamstap, hoe meer sal ons ontdek dat God juis nie net in die bonatuurlike verskynings is nie, maar integraal deel van die lewe van elke dag.

Verheerliking

En toe ons wakker word sien ons ‘n man gemaak van son

en twee wat skynend is by Hom: ou vaders van ons ras:

ons drie het toe verstom gaan deurmekaar praat, iets

van hutte bou – ag, enigiets om hierdie dag te onthou,

ons drie bewus van ons vuil voor sy verblindende wit –

Selfs H‎y het Hom grys gehou met ‘n wolk vermom

en vir Moses en Elia koesterend gevou in Hom, en met ‘n stem

gespreek ín in ons bot begrip – en vir niemand

het óns weer terug in die dorp kon sê dat ons vir een korte uur

gesien het hoe hierdie Jesus lyk vir God …

Nou loop hy weer argloos langs ons, bruin soos ons aarde bruin

en skraal van ons karig eet en sweet ons sweet

in die kleed wat Nikodemus hom gegee het, maar nou

wanneer hy praat weet ons sonder nate is sy woord

en dat hy self ‘n wit vuur naatloos een is met sy heelal.

  • Sheila Cussons

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Markus 1:29-39 – 2015

8 Februarie 2015 Epifanie 5
Prediker: Dr Tiana Bosman

Die wêreld van Jesus. Mense het dinge heeltemal anders verstaan as vandag. En daar was baie dinge waarvoor hulle geen verklarings gehad het nie, maar wat ons wel vandag verstaan en selfs kan hanteer. As ons bv siektetoestande neem. In die tyd van die Bybel het die mense nie die mediese kennis gehad wat ons vandag het nie. Daar was nie Medi-Clinics nie, nie dokters en tandartse nie. Nie dermatoloë nie. Nie sielkundiges en psigiaters nie. As jy ‘n pisgiatriese toestand gehad het was dit of die maan wat jou siek gemaak het of demone wat in jou ingevaar het… Die mense het geglo aan die magte in die lug wat in stryd is met mekaar, wat in jou inkom, en wat van jou ‘n slagoffer maak in hul eie stryd teen mekaar.

Natuurlik kan alle vergestaltings van die bose in daardie tyd nie net aan siektetoestande toegeskryf word nie. Die bose was self ook ‘n mag om mee rekening te hou. Dink bv aan die onrein gees(te) wat in Mark 1:21-28 in ‘n man was en wat vir Jesus geskree het “Los ons uit, Jesus van Nasaret! Het U gekom om ons te vernietig? Ek weet wie U is. U is die Heilige van God!” Jesus spreek hom skerp aan: “Bly stil en gaan uit hom uit!” Jesus het egter daardie geeste kom bind – hulle het géén meer houvas op ons nie!

Feit bly staan – die enigste siektetoestande wat aan die mense bekend was was dinge soos koors (word warm of koud), melaatsheid of ander velsiektes, gebreke soos om blind of doof of verlam te wees, die vrou wat aan bloeivloeiing gelei het, en psigiatriese toestande is genoem “maansiekte” (die pa van die maansiek kind in Mark 9) en dan aan ‘n onrein gees toegeskryf – maar beteken hierdie “onrein gees” noodwendig iets soos ‘n demoon? Vandag gaan ons (hier) nie sê dat iemand met ‘n demoon beset is nie.

Dis net agtergrond oor die wêreld van daai tyd.

Lees Markus 1: 29-39

‘n Dag in die lewe van Jesus

Opgebou uit:

  • 3 van Jesus se openbare bedieningsaktiwiteit – genesing, uitdrywing en prediking
  • 1 persoonlike geloofsdissipline

– Genesing van Petrus se skoonma (koors) en haar reaksie in die privaatheid van ‘n huis

Koors was gevaarlik. Antibiotika het nie bestaan nie. Hy red dalk haar lewe. Herstel ook haar posisie in die samelewing. Sy genesing van haar lei tot daar bediening aan Hom. Natuurlike uitvloeisel – wanneer Jesus iemand aanraak kan jy nie onaangeraak verder leef nie. Petrus se skoonma het ook ‘n volgeling geword, en na alle waarskynlik ‘n dissipel – een van die wat by die kruis gestaan het (wat nie weghardloop het soos die res nie).

– Aand breek aan, einde vd Sabbat – genees siekes en dryf demone uit by die deur vd huis. Almal het daarheen gekom. Die hele dorp. Jesus het gewild geword. Vir hulle iemand soos ‘n “gewilde towenaar”. David Blaine (kulkunstenaar). (Daar was ook baie ander wondergenesers – “niemand het nog iemand wat blind gebore was genees nie…” Wat hierdie genesing betref was Jesus uniek.). Die mense stroom agter sy wonderwerke aan en nie agter sy woorde nie. Die algemene publiek weet van Hom oor Hy mense gesond maak en demone uitdryf. Hulle soek Hom vir wat Hy kan doen en nie vir wie Hy is en wat Hy preek nie.

Demone herken Hom wel maar mag nie sê nie. Die messiaanse geheim in Markus. (Demone mag nie sê nie, diegene wat genees is moet stilbly, ook die dissipels moet die geheim bewaar.) Want die mense is nog nie gereed om te hoor nie, sal nog nie verstaan nie… Werklike begrip het eers rondom die kruis en na die opstanding begin vorm.

Jesus het mag oor die demone – dryf uit, hulle ken Hom, Hy maak hulle stil.

Teen die agtergrond van Markus se wêreldbeeld. Voor Jesus gekom het het die Satan die wêreld regeer. Hy was die hoof vd huishouding (Mark 3). Met die koms van Jesus en die aanbreek vd koninkryk verander alles! Jesus het nou die Satan as hoof vervang! God gryp in en neem beheer oor. Jesus se genesings van mense en sy uitdrywing van demone dui op sy gesag oor beide die natuur (siektes) en oor die onsigbare maar dreigende magte in die lug (bose).

Hoe kry Jesus dit reg? Waar kom hierdie mag en gesag vandaan?

Dit kom vanaf die Vader wat Hom gestuur het. Sy gehoorsaamheid aan sy roeping. Hy is hier om die wil van die Vader te doen. Laat Hom nie side-track deur die sideshows van genesings en uitdrywings nie.

Jesus se fokus is reg…

– Vroegoggend – afsonder by verlate plek en bid. Die Bron van sy gesag.

– Simon ea kom soek Hom want “almal” soek Hom. Hy is die middelpunt van belangstelling, the “man of the moment”! Gewild. In groot aanvraag weens sy openbare sukses.

Jesus moet kies tussen die aansprake van bewonderaars en sy roeping om ook aan ander die boodskap van die nabye koninkryk te bring.

– Hy gaan nie terug op die mense se versoek nie, maar beweeg verder na die naburige dorpies. Nie omdat Hy nie meer siek mense wíl genees nie, Hy het immers hoeveel die vorige dag en aand genees. Sy beweegrede is dus nie om genesing van ander siek mense te weerhou nie, maar om nou eers voort te gaan met dit waarvoor Hy gestuur is – om na die ander dorpies van Galilea te gaan en om ook daar te gaan preek.

Jesus waarsku wonders is nie waarvoor Hy gekom het nie. Dis nie waaroor dit gaan nie. Dis ‘n sideshow wat te doen het met die konteks van die tyd. Hy vrees dat hulle Hom dáárom sal glo.

Hy moet fokus op dit waarvoor Hy gekom het.

Hy doen wat Hy in 1:14-15 al gesê het Hy gaan doen toe Hy sy roeping opgesom het.

– Preek deur die hele Galilea en dryf demone uit.

Uitdrywing van demone was ‘n konkrete vergestalting vd koninkryk wat naby gekom het / op hande is / aangebreek het (1: 14-15). Die bose kan geen houvas meer oor ons kry nie! Jesus het ‘n einde daaraan gemaak. Die koninkryk het aangebreek!

Rom 8: 31-39

Ons enigste troos in lewe en in sterwe is dat Jesus Christus, aan wie ons behoort, ons uit alle heerskappy van die duiwel verlos het.

Geen dood, lewe, engele, magte… alles wat hulle bang gemaak het vir die lewe, níks kan hulle verwyder van God nie.

Meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet

Paulus sê ons hoef nie meer te vrees vir die donker dinge wat ons bedreig nie.

NT Wright: Die kerk kan ook magte vd duisternis ervaar, maar nie dieselfde as in die Bybelse tyd nie. Jesus het die magte eens en vir altyd kom oorwin. Na die kruis op Golgota het hulle nie meer gesag oor God se skepping nie. Dit is die boodskap van die koninkryk wat aangebreek het, die boodskap wat mense nuut en vry laat leef…

Vandag dieselfde lyn van geloof, ons kan dieselfde bely. Die dinge wat ons vrees lyk dalk bietjie anders. Die “(vergestalting van) bose” of gevaar in ons lewens is nie soseer donker geeste wat in die lug sweef en enige oomblik in ons kan inkom en van ons liggame gesit kan neem nie. By ons en in ons belewing van die wêreld is dit eerder dinge soos kanker, VIGS, die strale van die son, werkloosheid, die besluite van ons president, xenofobia – dís die dinge wat ons bang maak. Selfs Eskom bring nie meer lig nie, maar het hulle ook na donkerte gewend. (Bloemfontein, man aan 2 suurstof masjiene gekoppel, dood agv beurtkrag). Daar is nie geeste in die lug wat van ons besit gaan neem nie, maar daar is baie ander dinge waarvoor ons vandag bang is.

Niks sal my van die liefde van God vervreem nie.

Omdat die Here ons só liefhet het Hy die aand voordat Hy gevang is die nagmaal ingestel

  • Sodat ons kan onthou dat Hy die magte van die duisternis gebind het;
  • Sodat ons uit die aard van die tekens daaraan herinner kan word dat Hy met sy eie lewe die prys daarvoor betaal het, juis sodat ons vry van daardie magte kan leef;
  • Sodat ons dit saam kan gebruik en mekaar in die boodskap kan versterk;
  • Sodat ons kan weet dat ons nou reeds leef in die tyd van die koninkryk, maar dat daardie koninkryk eendag finaal in al sy volheid sál deurbreek en daar geen meer tekens en stuiptrekkings oor sal wees van die bose wat nog nie sy laaste asem uitgeblaas het nie;
  • Sodat ons ‘n diepe vreugde en vrede kan ervaar, selfs wanneer dit lyk asof die krag in ons lewens afgaan weens siekte en sorge en ons voel asof ons in die duisternis leef;
  • Sodat ons nie anders kan as om in dankbaarheid te ontvang wat vir ons gegee is nie, en vanuit daardie dankbaarheid as veranderde, aangeraakte mense te gaan leef.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Romeine 8:1-11 – 2015

1 Februarie 2015 Epifanie 4
Prediker: Dr Tiana Bosman

Twee primêre emosies, waarna alle ander emosies herlei kan word: Liefde en vrees – wat dryf ons?
Hoekom is ons hier vanoggend? Uit watter emosie is ons geloof gebore?
Liefde teenoor God (wat sigbaar word in liefde teenoor ons naaste) omdat ons ervaar dat ons vrygemaak is en omdat ons daarom nie anders kán as om as nuwe mense te lewe nie?
Of vrees. Vrees vir die duiwel of vrees vir God?
Vrees vir God want ons weet nie wat van ons gaan word indien ons nie glo nie? Ons is in elk geval nooit seker wat van ons gaan word nie. Al wat ons weet is dat ons nie wil hel toe gaan nie… Turn of burn. “Ons skrik onsself in die hemel in…”
Indien ons gedryf word deur vrees eerder as deur liefde, het dit dalk te doen met skuldgevoelens?

Paulus skryf vir die gelowiges in Rome ‘n brief wat tematies uit drie dele bestaan.

Rom 1-8: ‘n Omvattende verduideling oor die regverdiging deur die geloof (Luther) en nuwe lewe wat hieruit voortvloei.
Dit kulmineer in die bekende hfst 8 waarvan ons die eerse deel vandag gaan lees, maar wat dan verder vertel van ons status as aangenome kinders van God, die Heilige Gees wat namens ons intree wanneer ons nie weet wat om te bid nie, en dat niks (nie eens die dood!) ons van die liefde van God kan skei nie.

Rom 12-16: Die regte gedrag wat nou van alle gelowiges gevra word. Rom 12 is waarskynlik een van die mooiste en duidelikste tekste in die Nuwe Testament oor Christelike etiek.

Tussen die twee dele is daar 3 hfste wat die middelste afdeling van die brief uitmaak: Romeine 9-11, wat handel oor die rol van Israel in God se reddingsplan. Het hulle ‘n spesiale plek voor God of nie? Is die hele Israel sonder meer gered en kwytgeskeld of nie? Selfs diegene onder die volk wat nie vir Jesus Christus as verlosser wil aanvaar nie, maar steeds op ‘n elitistiese manier vashou aan die voorskrifte en die wette van die OT wat hulle van altyd af al so spesiaal maak?

Paulus wat self ‘n Jood was maar geroep is om die evangelie aan heidene te verkondig, wroeg oor sy eie volk se plek voor God en hy verloor die stryd. Hy redeneer die kant toe en daai kant toe, vir bladsye aaneen, maar hy kom nêrens nie. Aan die einde van hfst 11 besef hy die futiliteit van sy argument, gooi hy sy hande in die lug en kan hy hom alleen maar uitspreek en beroep op die “diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God. Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en hoe onnaspeurlik sy weë!…”

Lees die teks (vanaf 7:21 – verduidelik dat vaste indelings nie aanvanklik in die Bybel bestaan het nie)
7:21 – Paulus se eie voortgaande stryd. Dan die vryspraak…
8:1 “Geen, hiervan kan julle seker wees, veroordeling / oordeelsuitspraak / straf vir diegene wat is in Christus Jesus.

Paulus herinner sy lesers dat die voortgaande mag wat die wet van sonde en die dood oor hulle lewens het, nie die finale woord spreek nie en ook nie bepalend is vir hulle posisie voor God nie. Wat saakmaak is dat hulle “in Christus Jesus” is. Dáár lê die verskil. Die blote feit dat jy jouself in hierdie wêreld met Christus identifiseer, veroorsaak ‘n diep spanning in jou wese – want jy blý ‘n gevangene van sonde (die goeie wat ek wil dit doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek). Die “wees in Christus” is wat aan jou die versekering gee dat die eindresultaat vryspraak is. Dat die wet van die Gees sterker is as die wet van die sonde. Dat dit nie die wet van die sonde tot niet maak nie – solank as wat ons deel is van hierdie sondige wêreld bly dit ‘n ewige stryd. Maar vir ons wat ons verlaat op Jesus spreek hierdie wet nie die laaste woord nie.

Daar is vir ons geen meer oordeel in die vooruitsig nie. 8:3 – verlede tyd. Oordeel het rééds plaasgevind, op Golgota. Dis afgehandel, verby. Finish en klaar. Dis waarvoor Christus gekom het – om die prys te kom betaal, die doodstraf. Maar Hy het ook die dood oorwin. God het Hom opgewek. Ons is daarom reeds vrygespreek, reeds verlos, sodat ons nou, hier, op aarde al vanuit daardie verlossing kan leef. Sodat ons vry kan leef, selfs al bly die sonde nog aan ons knaag. Ons word nie meer deur die las daarvan afgedruk nie, want die Gees van Christus wat in ons is, is sterker as die sonde.

Ons kan twee beelde gebruik om iets hiervan te probeer verduidelik. Die eerste is ‘n beeld van die “dood”. Dit gaan soos met ‘n verslaafde. Iemand wat wil leef sonder die drank, of die dwelms, maar hy kan nie. Hy is magteloos. Hy weet hy vernietig sy lewe, en tog kan hy nie ophou nie. Hy verag homself, maar hy kan nie verander nie. Dit is ‘n beeld van die mens in die mag van die sonde, soos Paulus dit teken in Rom 7: “Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek.” Paulus noem die mens ‘n gevangene mag van sonde. Dit laat hom uitroep: “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?” Die gevoel van totale moedeloosheid oor jou eie swakheid wat jou keer op keer pootjie.

Aan God die dank!… Ons word verlos van ons verslawing aan sonde. Maar ons ervaar eers daardie verlossing volkome wanneer die einde van hierdie lewe vir ons aangebreek het. Die stryd in ons liggame gaan voort. Die Gees van Christus ís sterker as ons vlees (ons sondige liggame), maar ons eie verslawing is so sterk dat ons wel nog gaan struikel en gaan val. Die Gees is besig met my (vers 6); die Gees woon in my en regeer oor my (vers 9); die Gees gee nou al vir my die lewe al is ek besig om te sterwe (vers 10); die Gees sal my ook laat opstaan (vers 11).

Die tweede beeld is die van ‘n huis wat lank toegestaan het. Die van julle wat lank weg was met vakansie sal weet. Jy kom terug na ‘n donker huis, bedompig, muwwerig. En die eerste ding wat jy doen is om die vensters oop te gooi, om die lig te laat inkom, en vars lug te laat inwaai. ‘n Oop venster bring nuwe lewe in ‘n bedompige huis. So werk die Gees. Hy waai soos ‘n vars wind deur ons lewens en bring vir ons nuwe lewe en nuwe hoop.

Ons wêreld is ‘n wêreld van die dood: in sigself ‘n muwwe wêreld, ‘n wêreld sonder oop vensters, sonder die vars lug van hoop. Die evangelie wat Paulus bring, sê: In hierdie wêreld het God ‘n venster oopgemaak, deur hierdie wêreld waai die vars bries van die Gees van God. Die menswording (kersfees en epifanie) van Jesus is die venster wat God oopgemaak het in ons bedompige wêreld. Ja, ons lewe in ‘n wêreld van dood, maar die Gees bring lewe. En die Gees leer ons om te lewe saam met God.

Romeine 8 is ‘n wonderlike boodskap van vryspraak midde ‘n baie bedompige wêreld en midde ons eie bedompige lewens. Hiervan kan julle seker wees – daar is geen, maar géén veroordeling vir diegene wat in Christus Jesus is nie! Geen teenswoordige of toekomstige straf wat wag nie. Níks om voor God voor bang te wees nie. Níks om te vrees nie. Vs 15: “Julle het nie ‘n gees van verslawing (van God af) ontvang sodat julle weer bang hoef te wees nie; nee, julle het die Gees van kindskap ontvang deur wie ons roep ‘Abba, Vader!’ Die Gees self bekragtig aan ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is is ons ook mede-erfgename met Christus.”

Nou kan daar mense wees wat nie net eenvoudig hierdie vryspraak kan aanvaar en dit omhels en in die liefde van God kan leef nie. Daar is mense wat onmiddellik weer begin wonder – geld dit regtig van my? Kan ek myself hierby insluit?
Nee jy kan nie. Maar God kan. God het reeds! Die blote feit dat jy hier is, dat jy ‘n behoefte het om vandag kerk toe te kom, al is dit net om te soek na iets waarvoor jy nie eens lekker die naam het nie, is reeds genoeg.
En daar is mense wat wonder – maar wat van die ander? Wat van al die mense daar buite? Wat van die hordes wat niks van God en van Jesus wil weet nie? Ek ken sulke mense, hoe gemaak met hulle?

Vir diegene wat daarmee wroeg:
Moenie die oomblik bederf deur strydvrae aan God nie.
Moet jou nie laat sidetrack nie.
Daai diskussie het ‘n plek maar dit is nie bepalend nie. En al het dit dalk ‘n plek (om soms met omsigtigheid in kringe daaroor te praat), ken ons nie die antwoord nie. Want in wese is dit nie ons vraag om te vra nie. Paulus het hom juis hiermee vasgeloop net nadat hy so mooi geskryf het oor die vryspraak van God in Christus. In Rom 9-11 vind ons die dilemma wat ontstaan wanneer ons God probeer speel en wanneer ons met ons klein verstandjies sy verlossingsplan vir die volk of die hele wêreld probeer ontsyfer. Waar Paulus dit probeer doen en ‘n useless mislukking daarvan maak. Hy redeneer homself later so deurmekaar dat hy self moedopgee met hierdie argument aan die einde van Romeine 11, sy hand in die lug opgooi, en al hierdie strydvrae oorlaat aan die diepte van die rykdom en wysheid en kennnis van God… Dít is geloof. Geloof is om die vryspraak van God vir jou eie lewe te aanvaar as ‘n gegewe wat op Golgota reeds afgehandel is, en om die res aan God oor te laat. Ons kan ons alleen maar laat troos dat God ‘n genadige pad met alle mense stap. Dat Hy nie vir my en vir jou nie, maar die héle wêreld so liefgehad het dat Hy sy seun gestuur het om verlossing vir die ganse kosmos moontlik te maak.

Wanneer ons dus hierdie goeie nuus vanoggend hoor, dan moet ons vir ‘n tydjie net in die oomblik vertoef, onsself daardeur laat oorweldig, en dan daaruit leef met stadige treë. Los die nonsens van vrae vra waarvan ons niks weet nie. Namens God (Paulus – “doen ek ‘n beroep op julle!”) – aanvaar die genade, om Christus wil!

Anne Lamott: “I do not at all understand the mystery of grace – only that it meets us where we are but does not leave us where it found us.

Julle kan daarom nie vandag hier uitloop soos wat julle ingekom het nie.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.