Romeine 8:1-11 – 2015

1 Februarie 2015 Epifanie 4
Prediker: Dr Tiana Bosman

Twee primêre emosies, waarna alle ander emosies herlei kan word: Liefde en vrees – wat dryf ons?
Hoekom is ons hier vanoggend? Uit watter emosie is ons geloof gebore?
Liefde teenoor God (wat sigbaar word in liefde teenoor ons naaste) omdat ons ervaar dat ons vrygemaak is en omdat ons daarom nie anders kán as om as nuwe mense te lewe nie?
Of vrees. Vrees vir die duiwel of vrees vir God?
Vrees vir God want ons weet nie wat van ons gaan word indien ons nie glo nie? Ons is in elk geval nooit seker wat van ons gaan word nie. Al wat ons weet is dat ons nie wil hel toe gaan nie… Turn of burn. “Ons skrik onsself in die hemel in…”
Indien ons gedryf word deur vrees eerder as deur liefde, het dit dalk te doen met skuldgevoelens?

Paulus skryf vir die gelowiges in Rome ‘n brief wat tematies uit drie dele bestaan.

Rom 1-8: ‘n Omvattende verduideling oor die regverdiging deur die geloof (Luther) en nuwe lewe wat hieruit voortvloei.
Dit kulmineer in die bekende hfst 8 waarvan ons die eerse deel vandag gaan lees, maar wat dan verder vertel van ons status as aangenome kinders van God, die Heilige Gees wat namens ons intree wanneer ons nie weet wat om te bid nie, en dat niks (nie eens die dood!) ons van die liefde van God kan skei nie.

Rom 12-16: Die regte gedrag wat nou van alle gelowiges gevra word. Rom 12 is waarskynlik een van die mooiste en duidelikste tekste in die Nuwe Testament oor Christelike etiek.

Tussen die twee dele is daar 3 hfste wat die middelste afdeling van die brief uitmaak: Romeine 9-11, wat handel oor die rol van Israel in God se reddingsplan. Het hulle ‘n spesiale plek voor God of nie? Is die hele Israel sonder meer gered en kwytgeskeld of nie? Selfs diegene onder die volk wat nie vir Jesus Christus as verlosser wil aanvaar nie, maar steeds op ‘n elitistiese manier vashou aan die voorskrifte en die wette van die OT wat hulle van altyd af al so spesiaal maak?

Paulus wat self ‘n Jood was maar geroep is om die evangelie aan heidene te verkondig, wroeg oor sy eie volk se plek voor God en hy verloor die stryd. Hy redeneer die kant toe en daai kant toe, vir bladsye aaneen, maar hy kom nêrens nie. Aan die einde van hfst 11 besef hy die futiliteit van sy argument, gooi hy sy hande in die lug en kan hy hom alleen maar uitspreek en beroep op die “diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God. Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en hoe onnaspeurlik sy weë!…”

Lees die teks (vanaf 7:21 – verduidelik dat vaste indelings nie aanvanklik in die Bybel bestaan het nie)
7:21 – Paulus se eie voortgaande stryd. Dan die vryspraak…
8:1 “Geen, hiervan kan julle seker wees, veroordeling / oordeelsuitspraak / straf vir diegene wat is in Christus Jesus.

Paulus herinner sy lesers dat die voortgaande mag wat die wet van sonde en die dood oor hulle lewens het, nie die finale woord spreek nie en ook nie bepalend is vir hulle posisie voor God nie. Wat saakmaak is dat hulle “in Christus Jesus” is. Dáár lê die verskil. Die blote feit dat jy jouself in hierdie wêreld met Christus identifiseer, veroorsaak ‘n diep spanning in jou wese – want jy blý ‘n gevangene van sonde (die goeie wat ek wil dit doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek). Die “wees in Christus” is wat aan jou die versekering gee dat die eindresultaat vryspraak is. Dat die wet van die Gees sterker is as die wet van die sonde. Dat dit nie die wet van die sonde tot niet maak nie – solank as wat ons deel is van hierdie sondige wêreld bly dit ‘n ewige stryd. Maar vir ons wat ons verlaat op Jesus spreek hierdie wet nie die laaste woord nie.

Daar is vir ons geen meer oordeel in die vooruitsig nie. 8:3 – verlede tyd. Oordeel het rééds plaasgevind, op Golgota. Dis afgehandel, verby. Finish en klaar. Dis waarvoor Christus gekom het – om die prys te kom betaal, die doodstraf. Maar Hy het ook die dood oorwin. God het Hom opgewek. Ons is daarom reeds vrygespreek, reeds verlos, sodat ons nou, hier, op aarde al vanuit daardie verlossing kan leef. Sodat ons vry kan leef, selfs al bly die sonde nog aan ons knaag. Ons word nie meer deur die las daarvan afgedruk nie, want die Gees van Christus wat in ons is, is sterker as die sonde.

Ons kan twee beelde gebruik om iets hiervan te probeer verduidelik. Die eerste is ‘n beeld van die “dood”. Dit gaan soos met ‘n verslaafde. Iemand wat wil leef sonder die drank, of die dwelms, maar hy kan nie. Hy is magteloos. Hy weet hy vernietig sy lewe, en tog kan hy nie ophou nie. Hy verag homself, maar hy kan nie verander nie. Dit is ‘n beeld van die mens in die mag van die sonde, soos Paulus dit teken in Rom 7: “Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek.” Paulus noem die mens ‘n gevangene mag van sonde. Dit laat hom uitroep: “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?” Die gevoel van totale moedeloosheid oor jou eie swakheid wat jou keer op keer pootjie.

Aan God die dank!… Ons word verlos van ons verslawing aan sonde. Maar ons ervaar eers daardie verlossing volkome wanneer die einde van hierdie lewe vir ons aangebreek het. Die stryd in ons liggame gaan voort. Die Gees van Christus ís sterker as ons vlees (ons sondige liggame), maar ons eie verslawing is so sterk dat ons wel nog gaan struikel en gaan val. Die Gees is besig met my (vers 6); die Gees woon in my en regeer oor my (vers 9); die Gees gee nou al vir my die lewe al is ek besig om te sterwe (vers 10); die Gees sal my ook laat opstaan (vers 11).

Die tweede beeld is die van ‘n huis wat lank toegestaan het. Die van julle wat lank weg was met vakansie sal weet. Jy kom terug na ‘n donker huis, bedompig, muwwerig. En die eerste ding wat jy doen is om die vensters oop te gooi, om die lig te laat inkom, en vars lug te laat inwaai. ‘n Oop venster bring nuwe lewe in ‘n bedompige huis. So werk die Gees. Hy waai soos ‘n vars wind deur ons lewens en bring vir ons nuwe lewe en nuwe hoop.

Ons wêreld is ‘n wêreld van die dood: in sigself ‘n muwwe wêreld, ‘n wêreld sonder oop vensters, sonder die vars lug van hoop. Die evangelie wat Paulus bring, sê: In hierdie wêreld het God ‘n venster oopgemaak, deur hierdie wêreld waai die vars bries van die Gees van God. Die menswording (kersfees en epifanie) van Jesus is die venster wat God oopgemaak het in ons bedompige wêreld. Ja, ons lewe in ‘n wêreld van dood, maar die Gees bring lewe. En die Gees leer ons om te lewe saam met God.

Romeine 8 is ‘n wonderlike boodskap van vryspraak midde ‘n baie bedompige wêreld en midde ons eie bedompige lewens. Hiervan kan julle seker wees – daar is geen, maar géén veroordeling vir diegene wat in Christus Jesus is nie! Geen teenswoordige of toekomstige straf wat wag nie. Níks om voor God voor bang te wees nie. Níks om te vrees nie. Vs 15: “Julle het nie ‘n gees van verslawing (van God af) ontvang sodat julle weer bang hoef te wees nie; nee, julle het die Gees van kindskap ontvang deur wie ons roep ‘Abba, Vader!’ Die Gees self bekragtig aan ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is is ons ook mede-erfgename met Christus.”

Nou kan daar mense wees wat nie net eenvoudig hierdie vryspraak kan aanvaar en dit omhels en in die liefde van God kan leef nie. Daar is mense wat onmiddellik weer begin wonder – geld dit regtig van my? Kan ek myself hierby insluit?
Nee jy kan nie. Maar God kan. God het reeds! Die blote feit dat jy hier is, dat jy ‘n behoefte het om vandag kerk toe te kom, al is dit net om te soek na iets waarvoor jy nie eens lekker die naam het nie, is reeds genoeg.
En daar is mense wat wonder – maar wat van die ander? Wat van al die mense daar buite? Wat van die hordes wat niks van God en van Jesus wil weet nie? Ek ken sulke mense, hoe gemaak met hulle?

Vir diegene wat daarmee wroeg:
Moenie die oomblik bederf deur strydvrae aan God nie.
Moet jou nie laat sidetrack nie.
Daai diskussie het ‘n plek maar dit is nie bepalend nie. En al het dit dalk ‘n plek (om soms met omsigtigheid in kringe daaroor te praat), ken ons nie die antwoord nie. Want in wese is dit nie ons vraag om te vra nie. Paulus het hom juis hiermee vasgeloop net nadat hy so mooi geskryf het oor die vryspraak van God in Christus. In Rom 9-11 vind ons die dilemma wat ontstaan wanneer ons God probeer speel en wanneer ons met ons klein verstandjies sy verlossingsplan vir die volk of die hele wêreld probeer ontsyfer. Waar Paulus dit probeer doen en ‘n useless mislukking daarvan maak. Hy redeneer homself later so deurmekaar dat hy self moedopgee met hierdie argument aan die einde van Romeine 11, sy hand in die lug opgooi, en al hierdie strydvrae oorlaat aan die diepte van die rykdom en wysheid en kennnis van God… Dít is geloof. Geloof is om die vryspraak van God vir jou eie lewe te aanvaar as ‘n gegewe wat op Golgota reeds afgehandel is, en om die res aan God oor te laat. Ons kan ons alleen maar laat troos dat God ‘n genadige pad met alle mense stap. Dat Hy nie vir my en vir jou nie, maar die héle wêreld so liefgehad het dat Hy sy seun gestuur het om verlossing vir die ganse kosmos moontlik te maak.

Wanneer ons dus hierdie goeie nuus vanoggend hoor, dan moet ons vir ‘n tydjie net in die oomblik vertoef, onsself daardeur laat oorweldig, en dan daaruit leef met stadige treë. Los die nonsens van vrae vra waarvan ons niks weet nie. Namens God (Paulus – “doen ek ‘n beroep op julle!”) – aanvaar die genade, om Christus wil!

Anne Lamott: “I do not at all understand the mystery of grace – only that it meets us where we are but does not leave us where it found us.

Julle kan daarom nie vandag hier uitloop soos wat julle ingekom het nie.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.