Genesis 4:1-16 – 2015

19 April 2015 Pase 3
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Wie van julle ken die uitdrukking “hy/sy dra die Kaïnsteken”? Wat beteken dit wanneer ons so sê? In ons omgangstaal verwys die Kaïnsteken na die merk van ‘n moordenaar. Want Kaïn het sy broer vermoor, en daarna het God hom vir ewig gemerk. Ons lees die verhaal in Gen 4: 1-16…

So bietjie konteks om die verhaal in perspektief te plaas: Kaïn en Abel was die eerste twee seuns van Adam en Eva. Kaïn is dus volgens die Bybelse verhaal die eerste mens wat gebore is en Abel is die eerste mens wat gesterf het. Dit is tog ook belangrik om te onthou dat die storie van Adam en Eva, en van hul seuns eers baie laat in die geskiedenis van die OT neergeskryf is. Nadat die volk herhaaldelik nie gehoorsaam was aan die Here nie en einde laaste in ballingskap weggevoer is, nadat hulle alles verloor het en toe hulle in ‘n vreemde en vyandige land sit, toe besluit hulle om op papier te vertel waar hulle vandaan kom, sodat hulle deur hierdie skrywe aan hulle identiteit uitdrukking kan gee – wie hulle is, en wie hulle God is.

Eva skenk geboorte aan Kaïn: “Ek het met die hulp van die Here ‘n man geskep!”, en die Hebreeuse ww “ek het geskep (kaniti)” klink soos die naam Kaïn. Sy kry toe weer ‘n kind en sy noem hom Abel, wat beteken “asem, nietigheid, niks”. Die woord “Abel” kom 5 keer voor in Prediker 1:2 om die punt tuis te bring “alles kom tot niks!” of soos die Engelse vertalings sê “emptiness, emptiness, all is empty!” of “meaningless, meaningless, everything is utterly meaningless!” Net so was dit ook met Abel – hy het voor sy tyd gesterf. Useless.

Want hy het ‘n beter offer aan die Here gebring as sy broer Kaïn, en die Here het sy offer aangeneem maar nie die offer van Kaïn nie. Kaïn het baie kwaad geword hieroor (was waarskynlik jaloers) en sy gesig het geval. Die Here konfronteer toe vir Kaïn oor sy woede: “Waarom is jy kwaad? Waarom hang jou gesig so?” En die Here probeer om ‘n hartsverandering by Kaïn teweeg te bring, maar volgens die teks lyk dit nie eens asof Kaïn iets terugsê nie (so dikbek en wraakgierig was hy dalk al).

Kaïn het wel daarna met sy broer Abel gepraat en toe hulle in die veld was het hy hom oorweldig en doodgemaak. Wanneer iemand iemand anders met voorbedagte rade kwaad aangedoen het, het hy dit gewoonlik in die veld gedoen, weg van die mense. So is dit vandag nog – mense word dikwels op afgeleë plekke seergemaak of vermoor.

Toe die Here hierna met Kaïn praat het hy nie stilgebly nie.

“Waar is jou broer Abel?”

“Ek weet nie. Is ek dan my broer se oppasser?”

“Wat het jy gedoen!?

Die bloed van jou broer roep van die aarde af na My. Vervloek is jy dan nou…”

Hierdie roepe (van Abel se bloed van die aarde af) tot God is die smekinge van die slagoffers van ongeregtigheid (dit is deur die OT die konteks waarbinne hierdie Hebr ww gebruik is.) In die NT word Kaïn ‘n paar keer voorgehou as ‘n voorbeeld van ongeregtigheid (1 Joh 3:12 en Judas 1:11).

Toe sê Kaïn vir die Here: “My straf is te swaar om te dra. U verdryf my nou van my grond af, en tot U het ek nie meer toegang nie. Ek sal ‘n doellose swerwer op aarde wees, en wie my raakloop, sal my vermoor.” Die vrees vir vergelding. Wie sou die bloed van Abel wreek? Net sy pa en ma was daar. Dalk ander (latere) kinders van Adam en Eva…

Maar die Here sê vir hom: “Nee! Wie vir Kaïn vermoor, sal sewe maal gestraf word.”

Toe gee die Here vir Kaïn ‘n teken dat niemand wat hom raakloop, hom sou doodmaak nie.

Oor hierdie teken wat die Here vir Kaïn gegee is daar al hoeveel boeke geskryf en flieks gemaak, meestal rillers. En die interpretasies oor wat die teken presies was, is geweldig verbeeldingryk. Van die mees bekende opinies is die volgende:

  • Kaïn het melaats geword.
  • Hy kry ‘n brandmerk op sy gesig.
  • Hy kry ‘n spesiale teken (‘n moordenaarsteken) op sy voorkop.
  • Daar verskyn ‘n letter op sy voorkop as teken van skande.
  • Hy kry ‘n spesiale tatoeërmerk.
  • Sy wit vel verander onmiddellik na swart en so word hy die vader van die swart ras. (!)
  • Daar groei ‘n horing uit sy voorkop.

Niks waarvan ons iets in die Bybelse verhaal teruglees nie… Inteendeel. Tekens is gewoonlik in die OT aan mense gegee om hulle aan God se goedheid en sorg te herinner (reënboog, besnydenis, wonderwerke). Die betekenis van die Kaïnsteken was juis nie negatief nie, maar positief. Dit was dalk nie eens ‘n sigbare teken op sy liggaam nie. Want hierdie teken was nie om vir Kaïn te merk deur hom te stigmatiseer as ‘n moordenaar nie, dit was om hom te beskerm. Dit was nie ‘n teken van God vir andere sodat hulle vir Kaïn van ver af al as moordenaar kon herken nie; dit was ‘n teken wat God aan Kaïn self gegee het. God het aan hom ‘n waarborg gegee dat hy niks sal oorkom nie. Dit is God se verbond met Kaïn, tekenend van sy eindelose genade wat groot genoeg is om die moordenaar, die goddelose in te sluit.

Ironies: Kaïn maak dit baie duidelik aan God dat hy nie sy broer se oppasser is nie (hy was eerder sy moordenaar!). Nietemin beloof God aan die einde van die verhaal dat Hy Kaïn se oppasser sal wees.

‘n Klompie hoofstukke later in Genesis leer ons vir Jakob ken – die jakkals, die bedrieër. Ook goddeloos. Hy wat vir sy lewe moes vlug na ‘n vreemde land, weg vanaf sy familie en weg vanaf God. Maar daar op die vreemde grondgebied, by Berseba, kom ontmoet God hom een nag in ‘n droom (Gen 28). So dat Jakob die volgende oggend toe hy wakkerword, uitroep: “Die Here is op hierdie plek en ek het dit nie besef nie!… Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel.”

Die Here is waar goddelose mense hulleself bevind.

Godsdienstige mense dink hulle ken God, hulle beskou God se teenwoordigheid as vanselfsprekend. Hulle is so seker dat God juis en verkieslik in hulle midde is, en deur hulle werk. Ons moenie so seker wees nie. Flip Theron sou voor sy dood skryf God het Godverlate plekke en Godverlate mense nodig om Hom te openbaar. Kaïn. Jakob. Vele ander in die geskiedenis van die Bybel. Die moordenaar aan die kruis langs Jesus. Die ongelowige Romeinse offisier. Jesus self… Nêrens was ‘n plek so Godverlate soos daai dag op Golgota nie. Daar waar die groot “Goddelose” (Luther noem vir Jesus die grootste van alle sondaars omdat Hy die hele wêreld se sonde op Hom geneem het), daar waar Hy sonder God gesterf het sodat ons nooit sonder God hoef te wees nie. Nêrens was God so naby soos daai dag op die Godverlate koppie buite Jerusalem nie. Daar waar die mense ook verstom uitgeroep het: “Hierdie man was werklik die Seun van God!”

Die Kaïnsteken is nie die teken van ‘n moordenaar nie. Dit is die teken van ‘n geredde moordenaar. Dit is daarom die teken van ‘n begenadigde persoon. Kaïn is deur die teken deur God geregverdig. Dink julle julle is goeie mense? Goeie gelowiges? Om goed te wees maak jou nie ‘n kandidaat vir die genade van God nie. God gaan haal ons juis ver anderkant dit. Aan die verkeerde kant – dis waar Hy Hom openbaar, dis waar Hy ons gaan haal, dis die mense vir wie Jesus goddeloos geword het en kom sterf het. Sodat Hy ons goddeloosheid kan wegvat, want self kan ons nie daarvan af weghardloop nie.

Die Kaïnsteken was ‘n eenmalige teken, binne ‘n spesifieke konteks gegee aan die eerste man wat gebore is omdat hy sy broer vermoor het. Maar die van ons wat weet dat ons goddeloos is, hoef nie afgeskeep te voel nie. Want intussen het ons die grootse van alle tekens ontvang – een wat teruggryp tot by die eerste mense en wat vooruitgryp na die laastes toe. Die teken van die kruis, as herinnering aan die daad aan die kruis.

Ons bevind onsself in ‘n wêreld waar daar nie meer hoop is nie. Waar die magtiges die swakkes uitwis. Op ‘n kontinent waar homoseksuele mense in baie lande vervolg en doodgemaak word. In die NGK waar broers en susters van ons nie ander broers en suster as familie wil erken nie. (Die Noord-Kaap sinode skryf 3 weke terug ‘n verklaring waarin hulle nie [meer] die VGK as hulle broers en susters erken nie.) In ‘n land waar mense vermoor word net omdat hulle vreemdelinge is en te veel Suid-Afrikaners haat vreemdelinge. Suid-Afrika, kleine landjie wat ons is hier aan die voet van Afrika, haal tans die wêreldnuus agv die Xenophobia wat hier heers! Die premier van Gauteng, David Makhura, het vandag tot ’n dag van gebed verklaar vir ’n einde aan xenofobiese geweld.

God wil hierdie dinge nie hê nie! Hy is lief vir die swakkes, die homosekuele mense, die verstote familielede, die vreemdelinge. Hy was lief vir die jonger broer Abel. God het nog altyd maar ‘n sagte plekkie vir die minderes gehad.

Tog is alles nie verby nie. Alles is nie “meaningless” of “empty” soos Abel se naam suggereer nie. Daar is nog hoop. Dit kom wel teen ‘n prys en sommiges verloor hulle lewe in die stryd. Maar daar was lanklaas soveel hoop, want ons staan in die lyn van Kaïn en Jakob is ons aartsvader. Daar is nog hoop omdat God die goddelose regverdig. Ons hoef nie so bang te wees wanneer ons om ons kyk nie – God openbaar Homself op die mees Godverlate plekke.

Ek lees van ‘n landkaart in die Britse museum wat dateer uit die 16 e eeu. “Allerhande skrikaanjaende aantekeninge is daarop gemaak. Op sommige plekke staan daar: hier is reuse; dan weer: hier is drake; en ‘n volgende keer: hier is vurige skerpioene. Die wetenskaplike, sir John Franklik, het die kaart vir ‘n tyd in sy besit gehad. Hy het die skrikwekkende aantekeninge doodgekrap en dwarsoor die hele kaart geskryf: Hier is God!”

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Jesaja 52:13 – 53:12 – 2015

4 April 2015 Goeie Vrudag
Prediker: Dr Tiana Bosman

147 sterf in Kenia Bloedbad (Die Burger 4 April 2015)

Die dodetal in die aanval deur Al-Sjabaab-militante Donderdag by die Garissa-universiteit in die noordooste van Kenia het tot 147 gestyg.

Vroeër het die land se departement van binnelandse sake gesê minstens 79 mense is beseer.

Kenia se nasionale rampbeheersentrum het Donderdagaand gesê die 16 uur lange beleg is verby en die vier gewapende aanvallers, wat die universiteit voor dagbreek bestorm het,  is dood in die daaropvolgende operasie deur veiligheidsmagte.

Meer as 580 mense is tydens die operasie in veiligheid gebring.

Volgens ooggetuies het die aanvallers gedurende die beleg nie-Moslemstudente geskiet en gyselaar geneem.

Die VSA het die aanval veroordeel en sy hulp aangebied om Al-Sjabaab te stuit. Reuters het berig die Withuis het ‘n verklaring uitgereik waarin Amerika sy hulp aanbied.

‘n Aandklokreël tussen 18:30 en 06:30 is tot 16 April in ‘n aantal gebiede in Kenia ingestel.

Al Sjabaab-militante, wat bande het met Al-Kaïda, het vroeër verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar.

Dit is dieselfde groep wat verantwoordelik was vir die menseslagting in die Westgate-winkelsentrum in Nairobi in 2013 toe vier gewapendes minstens 67 mense oor vier dae afgemaai het.

– AP; Reuters en CNN

Mense rou oor hierdie naweek. Honderde tref begrafnisreëlings. Baie van hulle is Christene. Soveel het gesterf juis omdat hulle Christene is. Nie net in Kenia nie, maar ook in Sirië en vele ander plekke. Die moordenaars se families rou ook. Want hulle het ook nie lewendig daaruitgekom nie.

En ons rou…

Gisteraand het ons die Christuskers doodgeblaas. Vanoggend is ons by ‘n roudiens. Die liturgie moet eintlik ‘n programmetjie wees: “Ter nagedagtenis van” of “In liefdevolle herinnering aan Jesus Christus”. Dit was gisteraand met die Donkerdiens vir my opvallend dat die (ongelowige?) offisier wat Hom sy laaste asem sien uitblaas het, sou opmerk: “Hierdie man was werklik die Seun van God”. Is dit nie so dat iemand se waarde, of sy ware identiteit, dikwels eers geëer word na sy dood nie? Dat mense eers dan besef wat hulle in die persoon gehad het. Dat ‘n persoon se lof eers besing word wanneer hy of sy dit nie meer kan aanhoor nie. Ons sit ‘n deel van ‘n begrafnisdiens spesifiek daarvoor opsy – en ons noem dit die huldeblyk… Daar is natuurlik niks mee verkeerd nie. Dis goed en nodig om na die dood van ‘n persoon vir mekaar te herinner wat dit is aan hom of haar wat ons sal bybly, wat die nalatenskap is wat ons met ons sal saamneem. Dis net soms so jammer dat ons eers tot ons ware insigte kom van mense nadat hulle gesterf het. Die Here het gesterf en vanoggend is die tyd om vir mekaar te sê wat Hy vir ons beteken het en wat ons met ons sal saamneem.

Met hierdie fokus in gedagte is dit vreemd dat die leesroosterteks vir vandag nie oor Jesus gaan nie, in elk geval is dit nie die oorspronklike bedoeling nie, maar dat Jesaja 52-53 ‘n huldeblyk is wat uitgespreek word by iemand anders se begrafnis. Die eerste 39 hfste van Jesaja speel af in die tyd voor die ballingskap. Die profeet Jesaja is aan die woord en waarsku een en almal oor wat voorlê. Jesaja 40-55 speel dan af tydens die ballingskap. Die Israeliete is verslaan – hulle het alles verloor. ‘n Onbekende profeet, nie meer Jesaja nie, is nou aan die woord. Hy bring ‘n boodskap van troos en verlossing. Meestal is dit hy self wat die volk bemoedig, maar dan vind ons in hfste 52-53 ‘n insetsel waar iemand oor hierdie onbekende profeet praat. Die profeet word “die dienaar” van die Here genoem en een van sy dissipels bring ‘n huldeblyk na sy dood.

Die gedeelte begin en eindig met die versekering vanaf die Here dat die dienaar, wat eens verneder en aangerand is, verhoog sal word; dat die een wat eens onder die misdadigers gereken is, in die toekoms in die geselskap van grotes en magtiges sal verkeer. Tussen hierdie bevestiginge van die Here af is daar dan die gedig van ‘n mede-gelowige wat mettertyd begin glo het in die dienaar of profeet se roeping en sy boodskap, een wat ‘n dissipel van die dienaar geword het, een wat hier in sy huldeblyk vertel van die begindae en die voorkoms van die dienaar, die geweldige lydinge wat hy moes verduur, en sy stille onderwerping tot in die dood.

Skriflesing en boodskap: Jes 52:13 – 53:12

Eers die lofbetuiging van God af: 52:13 – 15…

En dan die dissipel van die dienaar: 53:1 – Hier volg die byna ongelooflike, eintlik geweldig skokkende, vertelling dat die mag van God deur die lewe en veral die lyding van hierdie misvormde, onaansienlike dienaar ten toon gestel is!

53:2 – 10 – Telkens hoor ons dat die dienaar die sonde van die hele gemeenskap gedra het. Nêrens staan daar eksplisiet dat hy dit vrywillig gedoen het nie. Dit was die Here wat, merkwaardiglik, veroorsaak het dat siekte en lyding hom tref (6). Volgens die OT verstaan van morele oorsaak-en-gevolg sou die normale verwikkelinge wees dat die gemeenskap self vir hulle sondes moes boet. In die lig van hierdie verstaan het almal aanvanklik gedink dat die dienaar gestraf word, deur siekte en swaarkry, vir sondes wat hy self gepleeg het. Dws hy verdien die straf. Dit het eers maar later tot hulle deurgedring dat Hy deur God gestraf en geslaan en gepynig is omdat God om die een of ander onverklaarbare rede besluit het om die straf teen die gemeenskap weg te keer van hulle af en op een, onskuldige dienaar te laat afkom. Die taal van die dissipel wanneer hy dit besef in vss 4-5 is sterk en gelaai met emosie en die impak van hierdie bewuswording het veroorsaak dat hy ‘n dissipel geword het van die dienaar. Wat die omstandighede was van hierdie keerpunt in die dissipel en die groep namens wie hy praat se lewens, weet ons nie. Maar dit lyk asof dit eers gebeur het na die dienaar se dood – toe die mense bewus word van hulle gesamentlike skuld en ook gekonfronteer word om na die dienaar se dood na te dink oor die verloop van sy lewe – ‘n lewe wat nie gespreek het van sonde nie, maar van diens aan God.

Vs 8 stel dit duidelik dat die dienaar nie net aan ‘n ernstige siekte gely het as straf vir die mense se sonde nie, maar dat hy ook op ‘n geweldadige manier terreggestel is daaroor. In vs 7 word die dienaar vergelyk met ‘n lam wat na die slagplek gelei word en in vs 10 lees ons dat hy sy lewe as ‘n skuldoffer gegee het. Die gebruik was om ‘n lam as skuldoffer te bring vir jou sonde en alle sonde en skuld van die sondaar sterf dan saam met die lam wanneer hy geslag word.

Die dienaar is doodgemaak en tog lees ons in vs 10 dat hy ‘n nageslag sal hê en nog lank sal lewe, in vs 11 dat hy weer die lig sal sien en dat hy die Here sal ken. Dit is onwaarskynlik dat die dissipel hier verwys na die dienaar se terugkeer of “opstanding” uit die dood – so iets was immers nog glad nie eens denkbaar nie. Waarom dit hier gaan is die gedagte dat die dienaar ‘n nalentenskap laat. Hy sal ‘n baie sterk teenwoordigheid wees onder sy volgelinge. Hierdie gedagte is tog nie vreemd nie. Ons kan die dienaar hier vergelyk met ‘n mentor wat steeds, na sy dood, lewendig bly in sy volgelinge se lewens, sy dissipels hoor steeds sy stem ego, en dit is ‘n stem wat hulle op die regte pad hou. Jesaja praat van hierdie stem in hfst 30:20-21 wanneer hy sê: “Jou leermeester sal nie meer weggesteek wees nie. Jou oë sal jou leermeester sien. Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ‘n stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs.’”.

Soos die huldeblyk begin het, sluit dit dan weer af met ‘n lofbetuiging van God af oor die dienaar: 53:11-12.

Alhoewel hierdie gedeelte baie konkreet vertel van ‘n dienaar in die OT en die verloop van sy lewe en lyding, is dit nie sonder rede dat verse hieruit soveel keer in die NT aangehaal word en op Jesus van toepassing gemaak word nie. Een eksegeet sê selfs dat dit klink asof hierdie gedig aan die voet van die kruis geskryf is! Ons kan tog nie anders as om iets van die verloop van Jesus se lewe ook in die teks raak te sien nie. Die dienaar van die Here het al vele vervullinge in die geskiedenis gehad. Daar is baie verhale van mense wat onskuldig gely het ter wille van ander. Literatuur oor die Tweede Wêreldoorlog alleen is vol-op daarvan.

Die lewe van Dietrich Bonhoeffer is een so voorbeeld. Bonhoeffer is vroeg in die 1900’s gebore. Hy was een van 8 kinders in ‘n vooraanstaande Duitse gesin. Sy pa, Karl, was die bekendste psigiater in Duitsland. Sy een broer was ‘n wetenskaplike en het saam met Albert Einstein gewerk. Dietrich self het teologie gaan studeer. Hy was een van die beste teoloë van sy tyd, maar hy was baie meer as dit. As predikant het hy sy profetiese roeping sterk uitgeleef deur voor en tydens die WO2 standpunt in te neem teen die Nazi Regime en hy het so sterk gepreek teen rassisme en die onderdrukking van die Jode dat mense blykbaar soms uit sy dienste uitgeloop het wanneer hy begin preek het. Bonhoeffer was ‘n brawe man. Hy het ook ‘n spioen geword – hy was deel van die sameswering om Hitler se ondergang te bewerkstelling. Die inligting het op die lappe gekom en Bonhoeffer is saam met sy mede-spioene gevange geneem. Voor die ouderdom van 40 sou hy sterf. Enkele ure voor sy teregstelling het mede-gevangenes versoek dat Bonhoeffer vir hulle ‘n diens moes hou. Dit was die Sondag na Paasfees. Bonhoeffer het, interessant genoeg, Jesaja 53 gelees saam met 1 Petrus 1, en daaroor gepraat. Hierna het die soldate hom kom haal. Hy het almal gegroet en toe sy een goeie vriend opsy geneem en vir hom gesê: “Dit is die einde, vir my die begin van lewe.” Die kampdoktor getuig dat Bonhoeffer op die grond gekniel en innig gebid het voor hy sy tronkdrag uitgetrek het. By die plek van teregstelling het hy ook gestop en gebid voordat hy die trappies opgeklim het na die galg. Hy was deurentyd braaf en kalm. Die doktor sê dat hy in sy 50 jaar as praktisyn byna nooit ‘n man gesien het wat so absoluut onderhewig aan die wil van God sterf nie.

Daar was natuurlik nog so ‘n man – die Een uit wie se voorbeeld Bonhoeffer sy krag gekry het. Die Een in wie se krag hy kon sterf en die Een wat dit vir hom moontlik gemaak het om te getuig: “Dit is die einde, vir my die begin van lewe.” In die volheid van die tyd neem die verhaal van die dienaar van die Here die mees radikale en grootse dimensies aan wanneer Jesus op ‘n gans anderse, onvergelykbare manier dié Kneg van God word – die énigste algehele vlekkelose Lam wat na die slagpaal gely word, nie ter wille van ‘n groepie volgelinge nie, ook nie ter wille van een volk nie, maar ter wille van die hele wêreld. Dis sy begrafnis wat ons vandag bywoon, sy lewe wat ons herdenk, asook sy sterwe – sy volkome oorgawe, ter wille van elkeen van ons. Vandag is die einde, vir ons die begin van lewe.

Ek verkondig vandag natuurlik nog net ‘n halwe evangelie – die verlossing van sonde is bewerkstellig, maar eers Sondag breek die realiteit van die oorwinning oor die dood en ‘n nuwe toekoms aan. Ons moet hulde bring en die Here se lof besing, gedemp ja, soos dit ‘n begrafnis betaam. Ons word immers bewus van ons eie ontoereikendheid, ons sondigheid, ons medepligtigheid aan die dood van die Een wie se begrafnis ons bywoon. En tog weet ons, hoe ongelóóflik dit ookal mag klink, dat Hy ons vergewe, maar meer as dit, in sy dood spreek Hy ons volkome vry van dit wat ons Hom en soveel ander, en selfs onsself al aangedoen het. Hy laat ‘n nalatenskap van woorde en dade, van fluisteringe in ons oor wanneer ons koers verloor. “Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle lief(gehad) het, moet julle ook mekaar liefhê” (Joh 13:34).

Christus het gesterf. Vandag is sy begrafnis. Dit is die einde… vir ons die begin van lewe.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.