Handelinge 1:1-14 – 2015

17 Mei 2015 Pinelands (Pase 7, Sondag na Hemelvaart)
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Naas Kersfees en Paasfees en Pinksterfees is Hemelvaart ook een van die groot feeste van die kerk. Maar dis die een waarvan ons dikwels vergeet, die eerste christelike vakansiedag wat afgeskaf is, die erediens wat ons dikwels nie bywoon nie. Dit terwyl Pinkster, die uitstorting van die Gees, nooit sou plaasgevind het as daar nie ‘n hemelvaart was nie. Dit terwyl hemelvaart die fees van die oorwinning van Christus vier! Hy het nie net gesterf en daarna weer uit die dood uit opgestaan nie. Sy offer is deur God aanvaar! Daarom verhoog God Hom, en kroon Hy Hom as Here en Heerser oor die hele aarde, oorwinnaar oor alle magte, waardig om, by wyse van beeldspraak, aan die regterhand van God te sit en van daar af oor die ganse kosmos te regeer. Totdat Hy eendag weer terugkeer om die finale koms van die koninkryk van God aan te kondig. Want, troos die engele die apostels, “Hy sal net so terugkom soos wat julle Hom na die hemel sien weggaan het”.

Hemelvaart is ‘n groot gebeurtenis, out of this world. Maar die apostels staar Jesus nog so in verwondering agterna, dan gooi die engele dadelik ‘n emmer yswater oor hulle uit: “Galileërs, wat kyk julle so? Kom terug aarde toe.” Baie soos met die vorige verheerliking op die berg, waar Petrus hutte wou bou as monumente, maar Jesus raak hulle aan en skud hulle so bietjie: “Staan op en moenie bang wees nie,” en dan stap hulle weer teen die berg af, Jesus se lyding tegemoet. Maar hier in Handelinge 1 gaan Jesus na sy Vader toe om nie gou weer in liggaam terug te kom nie, want hierdie keer is sy werk volbring, Hy het die lydensweg kom stap, kom sterf, en kom oorwin. Sy taak is voltooi. Maar die apostels? Dis nog nie tyd vir hulle om so deur die hemel meegevoer te word dat hulle nie hul oë weer op die aarde kan rig nie. Hulle het nog werk om te doen. Hulle moet weer berg-af gaan en in Jeruslem gaan wag – want daar sal hulle krag ontvang wanneer die Gees van God oor hulle kom, hulle sal krag kry om die evangelie te verkondig. “Julle sal My getuies wees…”

Die apostels dink die finale oorwinning is behaal en dat die tyd nou uiteindelik aangebreek het vir Jesus om die koninkryk van Israel weer op te rig. Toe Hy gekruisig is, het hulle alle vertroue in Hom verloor, maar kyk nou net!, Hy lewe weer, Hy het die onmoontlike gedoen, Hy het die dood oorwin, niemand kan Hom onderkry nie, nou gaan Hy op die troon van Israel sit! Romeine, pasop!

“Nee,” sê Jesus vir hulle, “julle verstaan verkeerd. Net die Vader ken die tye. Maar dis nie nou al nie. My tyd as mens op aarde is nou verby, maar julle het nog ‘n paar goed om te doen. Julle moet My getuies wees. Julle moet gaan vertel van my kruisiging, en dat Ek opgestaan het, dat julle my weer telkemale gesien het. En julle moet vertel van My hemelvaart, dat Ek leef en dat ek nou saam met my Vader regeer! Julle moet hierdie dinge oral gaan vertel. Alles wat julle gesien het, moet julle gaan vertel. Daarom julle moet teruggaan na Jerusalem. Gaan wag daar. Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom. Want uit julle eie kan julle dit nie doen nie. Sonder die Gees is julle wegkruipers. Maar met die Gees sal julle my verkondigers, my getuies word…”

Daar is ‘n reusesprong tussen die gebeurtenis van die hemelvaart self en die reality check wat die dissipels dan kry dat hulle moet teruggaan na Jerusalem en wag totdat hulle toegerus word vir hul taak. Tog is dit nie negatief nie. Iets nuuts word onder hulle gebore. Die dissipels, wat vroeër nog gestry het oor wie die belangrikste in die koninkryk sal wees (Luk 22:24), is nou “eensgesind” bymekaar (v 14). Ook Jesus se broers – wat vroeër ’n afstand gehandhaaf het – is nou deel van die groep. Waar die dissipels in Getsemane geslaap het eerder as om te bid, volhard hulle nou in die gebed. Hulle is nie ooggetuies wat onaangeraak vertel wat

hulle gesien het nie. Hulle het iets met Jesus deurgemaak wat hulle verander het. Hulle het dinge van Hom gesien en beleef, wat maak dat hulle nie meer dieselfde oor Hom kan dink nie. Hulle het gesien hoedat Hy op sy eie sterf (want hulle was te bang om naby te staan), maar daarna het hulle Hom ‘n hele paar keer weer gesien – wanneer Hy in lewende lywe aan hulle verskyn het! En Hy was nie kwaad vir hulle nie. Hy het hulle nie verwerp nie, Hy het teruggekom en sy pad met hulle voortgesit. Ten spyte van alles. En nou het Hy in ‘n wolk omring weggegaan. Wie sou nou daarvan kom droom?! Hoe vertel mens dit oor? Wie gaan hulle glo. Dis te wonderlik om te glo as jy dit nie self gesien het nie. Maar hulle hét dit gesien. Hulle is daardeur verander.

Daarom moet hulle gaan vertel. Al is die verhaal so ongelooflik. Eintlik juis daarom moet hulle dit gaan deel. Want net ‘n ongelooflike gebeurtenis (of reeks van gebeurtenisse) kon die wêreld red. En húlle was ooggetuies daarvan! “Luister mense, God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak. (Ons het dit met one eie oë gesien!)” (Hand 2:36).

Oor getuie wees (martus, marturos) het ons al gepraat. “Getuie” wat beteken het “verteller/verkondiger,” maar implisiet daaraan verbonde, oor die betekenis van “martelaar”. “My werk is volbring, maar julle neem dit nou vorentoe. Julle sal my getuies wees, en soos Ek sal julle ook die prys daarvoor betaal. Ja, nie dieselfde prys as Ek nie, maar pryse en opofferings nietemin. Want wie My wil volg, moet sy kruis opneem en kom.”

En die oorvertel van die wonder gaan glad nie altyd ’n wonderlike ervaring wees nie.

Die dissipels moet teruggaan na Jerusalem teen vir die mense sê: “Hierdie Jesus wat julle gekruisig het, hierdie probleem wat julle gedink het julle uit die pad gekry het, Hy leef! Ons het Hom gesien!” En as die mense sê: “Waar is Hy nou?” moet jy sê: “Wel, Hy is eintlik weg, in ‘n wolk verdwyn, Hy regeer nou aan God se regterhand.” In jou hart weet jy al wat die slim mense van Jerusalem sal sê: “Komaan! ’n Die timmerman uit Galilea, ’n lastige, kastige messias wat ons deur die Romeine laat kruisig het – en julle sê Hy sit aan God se regterhand? Get a life!” En daar staan jy. Jy kan maar net vertel wat jy gesien het – en jy hét dit gesien; jy kan dit nooit vergeet nie. Maar jy kan ook niemand dwing om jou te glo nie. As hulle jou mal noem en jou opsluit, as hulle besluit jy is ’n gevaar vir die samelewing en hulle wil jou ook doodmaak, kan jy niks daaraan doen nie. Jy moet maar vertel wat jy beleef het. Want Jesus het gesê: “Julle sal my getuies wees.”

Wat dit nog moeiliker maak, is wáár Jesus sê hulle getuies sal wees. In die eerste plek in Jerusalem, en dis al erg genoeg. Die stad wat Jesus gekruisig het, sal kwalik sy dissipels met ope arms ontvang as dié kom vertel dat Jesus nou regeer. Samaria is ook nie om van opgewonde te raak nie; dis nie die soort plek waar ’n ordentlike Jood wil wees nie. En die uiteindes van die aarde? Hoeveel mense is nou daarvoor lus? Wat wag dalk daar op jou?

Getuiewees is nie die soort werk waarin jy kan kies vir wie en hoe jy dit doen nie. Jy kan nie met die verhaal in jou eie groepie, waar dit vir jou gemaklik en lekker is, bly sit nie. Jesus wil sy storie wyd en ver laat loop – en die apostels moet die vertelwerk doen! En hulle het dit gedoen. Tsv die teenkanting

Nie in hulle eie krag nie, maar omdat Jesus belowe het: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom …” Dis hoekom hulle nie hemel toe moet kyk asof Jesus se weggaan ’n verrukking is waaraan hulle moet probeer vasklou nie. Hulle moet terug, die alledaagse wêreld in, want dít is waar hulle die storie moet vertel en dit is ook waar die Gees vir hulle wag. Hy maak van hulle getuies. Met die hoofboodskap: “Jesus regeer.

En hoe wys ons na die regerende Jesus wanneer ons oor Hom getuig? Toe ek in 1996 in Angola was het ek die Christo Rei beeld gesien op die koppie buite die stad Lubango. “Christo Rei” beteken “Christus regeer” in Portugees. Dit is ‘n 30 meter hoë marmerbeeld van Christus wat met sy hande uitgestrek staan op die koppie, asof hy die stad en sy mense seën, gebou tussen 1945 en 1950. ‘n Aangrypende beeld. Maar van naderby bekyk sien mens die gate waar koeëls in die beeld vasgeskiet het tydens die oorlogtyd.

Ja Christus regeer, maar nie as Een wat weggevaar het en daarom onbetrokke is by die wêreld en ongeraak deur die pyn en ellende nie. Hy regeer eerder as die Een wat opgevaar het in sy menslike vorm sodat Hy juis steeds by ons kan wees, maar op ander manier, as die een wat reeds oorwin het. Al het Hy oorwin, is Hy met ons, los Hy ons nie, dra Hy die letsels van ons swaarkry, word Hy steeds daagliks daardeur geraak. So regeer Christus en dít is hoe ons van sy hemelvaart getuig.

xtusangola

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.