1 Samuel 16:1-13 – 2015

28 Junie 2015 Pinelands (Koninkrykstyd)
Prediker: Dr Tiana Bosman  

Wat ek hou van die OT is dat ons mense ontmoet en leer ken oor die bestek van baie jare, dikwels dekades. Ons kry in die OT te doen met mense se lewensverhale. Ons sou in sommige gevalle dalk selfs kon praat van biografieë, en die een persoon se biografie is verweef met en vloei oor in die volgende se biografie. 1 Samuel 16 is maar een gebeurtenis binne drie groter lewensverhale – die verloop van die lewe van Saul, die eerste koning van Israel, die verloop van die lewe van Dawid, Saul se opvolger, en Samuel, die man wat beide vir Saul en vir Dawid as konings oor Israel oor gesalf het.

In 1 Samuel 15 gee Samuel aan koning Saul ‘n opdrag van die Here af: Die Here het nie vergeet hoedat Amalek die Israeliete teengestaan het toe hulle destyds uit Egipte getrek het nie. Die tyd van afrekening het nou aangebreek. Saul moet met sy manskappe optrek en al die Amalekiete verslaan – niemand mag bly lewe nie, nie eens die kleinvee wat aan die volk behoort het nie. Saul het sy manskappe opgeroep en hulle het gaan veg. Die Here was aan hulle kant en hulle het die geveg gewen. Maar Saul was ongehoorsaam gewees – hy het nie almal laat doodmaak nie. Almal is om die lewe gebring, maar hy het Agag, die koning van die Amalekiete, se lewe gespaar, asook die mooiste, beste en vetste kleinvee, beeste en lammers. Die ander vee het hy egter van kant gemaak. Die Here was bedroef dat Hy vir Saul koning gemaak het, want, het Hy gesê, Saul het nie sy opdrag uitgevoer nie, en Hy het vir Saul as koning verwerp.

Samuel was baie ontsteld toe die Here die nuus aan hom meedeel en hy het die Here die hele nag om uitkoms gesmeek. Maar die Here het klaar besluit. Samuel het die volgende dag vir Saul gaan konfronteer oor wat hy gedoen het (of nie gedoen het nie). Tot die dag van sy dood het Samuel nie weer vir Saul gesien nie, maar hy het oor Saul getreur. Ons moet onthou Saul was vir Samuel amper soos ‘n eie seun. Hy was Samuel se leerling, sy protégé. Van die dag af dat hy as seun by Samuel opgedaag het op soek na sy pa se donkies wat weggeraak het, en Samuel van die Here af hoor dat hy hierdie jongman as koning oor Israel moet salf, en Saul dan kort daarna met sy openbare inhuldiging kleinkoppie trek en daar anderkant tussen die bondels goed gaan wegkruip – te bang en onseker oor die verantwoordelikheid wat sy kant toe kom. Van daardie dag af het Samuel vir Saul onder sy vlerk geneem en hom in sy taak as koning begelei. En nou dít.

1 Samuel 16: 1-13 lees…

Vs 1 – Isai se oupa is Boas (Rut se man) en nog 6 generasies terug is Peres (die kind van Juda by sy skoondogter Tamar toe sy haarself as prostituut voorgegee het.

Vs 2 – In die vorige hfst het Samuel vir Saul goed op sy plek gesit (15:25-28), maar nou is hy bang vir wat Saul dalk mag doen indien hy uitvind dat Samuel ‘n nuwe koning gaan salf.

Vs 6 – Soos Saul was Eliab lank en aantreklik gewees. (Met Saul se inhuldiging het die die mense dadelik opgeval dat hy ‘n kop langer is as enige van sy volksgenote en Samuel het oor hom gesê: “Sien julle die een vir die wie die Here uitverkies het? Daar is niemand soos hy onder die hele volk nie!” (10:23-24). Nou weer ‘n mooi lang man. En moenie vergeet van Eliab se inherente status as oudste seun nie.

Vs 7 – Die Here kyk nie na ‘n mens se oë (voorkoms) nie, maar na die hart.

Vs 11 – En Isai het gesê: “ Daar is nog een oor, die jongste.” Qatan het drie verwante betekenisse: jongste, kleinste en onbelangrikste. In die OT was die inderdaad so dat die jongste die onbelangrikste was. Hierdie een word nog nie een belangrik genoeg geag om in die tel te wees, of saam met die grootmense te eet nie. Hy moet eerder skape oppas. (Interessant – dat Dawid later as koning bekend sou staan as die herder van sy volk…)

Amper soos Aspoestertjie – net ingrype van buite af kan hierdie persoon laat geld.

Vs 12 – Rooi dui dalk op sy jeugdige voorkoms, blosend.

…met pragtige oë en ‘n mooi voorkoms (mooi op die oog)

(Interessant – God het pas vir Samuel gesê hy mag nie op grond van die uiterlike oordeel nie, maar nou is Dawid tog ook baie aantreklik. Maar hy word nie op grond hiervan gekies nie, maar op grond van God se keuse van hom.)

Vs 13 – Dit is die Here wat vir Dawid salf, Samuel is net sy “ instrument”.

Opvallend dat Dawid en Samuel slegs hier en in 19:18 direkte kontak met mekaar het.

(Vs 14 – Dawid ontvang die Gees van die Here en die Gees gaan weg van Saul af.)

Die, in God se oë, gewese koning Saul aan die een kant en opkomende koning Dawid aan die ander kant. En in die middel is Samuel, een van Israel se sterkste leiers, laaste in die lyn van die rigters en die eerste groot profeet, die een wat namens God vir Saul en Dawid as Israel se eerste konings gesalf het.

Oor al drie persone het ek nou reeds heelwat gesê, maar die fokus vanoggend is nie op die konings nie, maar eerder op die profeet. Die lewenslesse wat Samuel moes leer.

Hoe hanteer mens oorgange, teleurstelling en nuwe toekomsmoontlikhede?

“Hoe lank gaan jy nog treur, Samuel?” Amper ‘n vorm van aanmaning. God tik vir Sameul oor die vingers, ruk jouself nou reg, kom oor jou teleurstelling (get over it), daar is werk om te doen.

Dit is nie maklik vir Samuel nie, want ten spyte van hulle konflik was daar ‘n baie nou band tussen hom en Saul. Hulle was goeie vriende, leermeester en leerling, en Samuel sukkel om te aanvaar dat die Here vir Saul verwerp het (selfs al hét Saul dit verdien.) Moontlik wonder Samuel ook oor homself – sy eie onvermoë om vir Saul so te mentor dat hy die regte keuses maak. Hy is in rou want vir alle praktiese doeleindes is die jong seun wat gekom het op soek na sy pa se donkies (1 Sam 9) nou dood vir Samuel. Hulle het mekaar nie weer gesien. Samuel word selfs bang dat Saul hom dalk sal doodmaak indien hy uitvind dat Samuel opdrag ontvang het om ‘n nuwe koning te salf. Sy emosies wissel van woede na hartseer na vrees.

Nadat die verhaal dan sy verloop neem en Samuel wag op die seuns van Isai om voor hom verby te kom, koester hy aanvanklik dieselfde verwagtinge as toe hy vir Saul gesalf het. Hy soek weer ‘n lang, aantreklike man. Wanneer hy dus vir Eliab sien, aanvaar hy dat hy die nuwe koning is. Maar God leer vir Samuel dat hy van sy vorige verwagtinge moet afsien – om die waarheid te sê, hy moet hulle verleer (unlearn). Samuel kyk nog na fisiese statuur, maar God leer hom om af te sien van menselike logika en eerder te vertrou op God se leiding.

Hoe hanteer Samuel die teleurstellings in sy roeping/beroep (terwyl hy bewustelik onder die leiding van die Here geleef en gewerk het)? Hy het dit nie maklik gehad nie.

  • Die eerste profetiese woord wat hy moes spreek, was ‘n oordeelsuitspraak teen Eli, waarskynlik die enigste vaderfiguur wat hy ooit werklik geken het (1 Sam 3: 11-14).
  • Nadat hy die Israeliete suksesvol gelei het in hul aanval teen die Filistyne (1 Sam 7), kom vra die volk vir hom vir ‘n koning. En sê die volk vir hom dat sy eie seuns net so korrup is soos die seuns van Eli! Hoe moes dit nie vir Samuel voel om dit te hoor nie. Die Here moes hom troos met die woorde: “ Toemaar Samuel, dis nie vir jou wat die volk verwerp het nie, maar vir My. Dis nie jy wat nie meer goed genoeg is vir hulle nie, dis Ek.”
  • Hierna salf Samuel, onder leiding van die Here, vir Saul as koning, maar om elke hoek en draai stel Saul hom teleur. Kan dit wees dat Samuel ‘n slegte leermeester was? Lê die fout dalk eerder by Samuel as by Saul? Wat doen hy dan verkeerd? God verwerp die koning wat Hy gekies het nadat Samuel vir jare probeer om die einste koning te lei en te leer om ‘n goeie koning te wees.

Samuel treur oor Saul. Dalk treur hy ook oor sy eie lewe en hoedat dit nie verloop het soos wat hy gehoop of gedink het dit sou nie. Tog, ten spyte van sy hartseer en sy mislukkings bly hy ontvanklik vir die Here se woorde en vir nuwe moontlikhede. Hierdie verhaal dra nie die diepe troos wat ons graag vanuit die Bybel wil hoor nie, dit maak nie alles daar en dan beter nie, maar dit skets vir ons ‘n realistiese beeld van die menslike toestand en van maniere waarop ons mislukkings kan hanteer. Dalk vra dit in sommige gevalle van ons dat ons ons sal afsny van die verlede en vorentoe sal kyk na ‘n nuwe toekoms, hoe moeilik die oorgang ookal mag wees. Ons ervaar dikwels spyt en droefheid oor vorige mislukkings – soms realisties so, ander kere verbeel ons ons dat dit wat skeefgeloop het ons skuld was – maar God los ons nie in ons ellende nie. Hy stap met ons verder, gee nogmaals leiding, skep nuwe moontlikhede, selfs wanneer ons dit nie kan raaksien nie.

Samuel se salwing van Dawid is die laaste daadwerklike ding wat hy gedoen het. Hy het nie aanvanklik gedink dat Dawid eens ‘n keuse sou wees nie, maar hy het God vertrou. En so eindig sy “ beroep” met hoop – hy het ‘n nuwe leier gesalf. Die mees onwaarskynlike leier van almal, maar nietemin die een wat God gekies het. Dawid, nie sonder sy eie foute en mislukkings nie, maar tog ‘n man na God se hart. Samuel se beroep het nie sommer net iewers doodgeloop nie, selfs al het hy waarskynlik dikwels so gevoel. Sy beroep, en veral sy laaste daad in gehoorsaamheid aan God, het in ‘n nuwe toekoms ingeloop, nuwe hoop en nuwe lewe.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Markus 5:1-20 – 2015

21 Junie 2015 Pinelands (Koninkrykstyd)
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Vier keer deur die loop van Markus se vertelling, het Jesus en sy dissipels na die oorkant van die See van Galilea gegaan – drie keer met ‘n boot en een keer het hulle te voet gereis daarheen. Dit was ‘n vreemde bestemming gewees, ‘n omgewing waar mens nooit ‘n Jood sou aantref nie, want die heidene het daar gewoon. Hierdie is die eerste keer dat Jesus sy dissipels oorneem na die “land aan die ander kant” toe. Jesus is so vasbeslote dat hulle daar moet uitkom, dat Hy hulle selfs ‘n lewensgevaarlike storm laat trotseer. Maar net toe die dissipels dink dis verby met hulle, toe bestraf Jesus die wind en kalmeer Hy die see.

Hulle vaar na die gebied van die Geraseners, in die streek van die Dekapolis (Tien Stede). Die Romeinse veterane (oud-soldate) het as deel van hulle vergoedingspakket plotte land in die gebied ontvang. Hierdie was geharde manne en die regering van die streek was eintlik in hulle hande. Alhoewel daar ook baie gewone heidense landsburgers gewoon het, het die veterane die besluite gevel (called the shots).

Jesus hulle gaan aan wal by ‘n begrafplaas van alle plekke! Daar anderkant teen die berghang wei ‘n groot trop varke. En hulle verwelkomingskomitee – ‘n man met ‘n onrein gees in hom wat tussen die rotsgrafte woon, dag en nag skreeu en homself met klippe stukkend kap. ‘n Man so sterk dat hy nie eens met ysterkettings en boeie vasgebind kan word nie. Niemand kon hom beheer nie. Jesus praat eerste, nie met die man nie (vir al wat ons weet kon die man nie meer vir homself praat nie) maar met die gees binne hom. Dit is ongewoon vir ‘n mens om ‘n gees eerste aan te spreek. In daardie kultuur was dit gewoonlik die persoon met die groter gesag, die persoon hoër op in die hierargie, wat eerste gepraat het. Heel bo was God of die gode, dan die geeste, en eers dan die mense (ook in verskillende hierargiese groepe). Die feit dat Jesus eerste praat, en dat die gees dan in onderdanigheid reageer, moes vir die dissipels gewys het dat Jesus nie sommer maar net ‘n mens is nie. Immers – hulle moes dit reeds geweet het. Het Hy dan nie nou-nou net die onstuimige natuur getem nie? Nou luister nie net die see en die wind na Hom nie, maar ook die onrein gees. Beide magte buite menslike beheer…

“Onrein gees, gaan uit die man uit!”

Die man val voor Jesus neer en die gees skreeu in ‘n harde stem: “Los my uit, Jesus, Seun van die allerhoogste God! Ek besweer U by God, moet my nie pynig nie!”

“Wat is jou naam?” (Weereens – die persoon in die hoër sosiale posisie is die een wat die ander se naam eerste vra.)

“My naam is Legioen, want ons is baie!” En die een gees wat eintlik baie is smeek vir Jesus om hulle nie uit die gebied uit weg te stuur nie.

‘n “Legioen” was ‘n afdeling van 3000-6000 manne in die antieke Romeinse weermag. Dat die gees(te) homself nou “Legioen” noem in ‘n omgewing wat deur Romeinse veteraan soldate “beset” word, kan nie sommer ‘n toevalligheid wees nie. Voeg hierby toe dat die einste Romeinse soldate bekend was daarvoor dat hulle die varke kultus (swine cult) aangehang het, is dit nog meer betekenisvol dat die gees(te) nou vra dat Jesus hulle na die varke moet stuur sodat hulle in hulle kan invaar. Jesus laat dit toe, en die varke storm (soos ‘n troep soldate aan die begin van ‘n veldslag) in die see in en versuip.

Julle hoor hoe hierdie gebeurtenis deurtrek is van militêre nuanses? Dit lyk vir my asof dit die eintlike storie agter die storie is: In ‘n omgewing wat gebuk gaan onder die mag van die Romeinse heerskappy (hier by uitstek so weens al die soldate in die omgewing) kom Jesus aan wal. Hy is nie bang vir die mag nie. Inteendeel, die mag is bang vir Hom en erken onmiddellik sy gesag. Jesus dryf die mag uit die man uit, die mag neem besit van die varke wat hulle eintlik aanbid, ironies kan die varke hulle help nie maar verdrink hulle eerder. Die uiteinde is dat die omgewing bevry is van die onderdrukkende Romeinse mag. (Nog nie op hierdie oomblik nie, maar die beurtenis is ‘n duidelik heenwysing na wat kom.) Daar is nou ‘n nuwe gesag aan die orde – die gesag van Jesus Christus, Seun van die allerhoogste God.

Markus is die eerste evangelie wat geskryf is. Hy het dit geskryf tydens die Romeinse keiser Nero se grootskaalse vervolging van die Christene, kort voor die finale afbreek van die tempel in Jerusalem. Links en regs moes Christene vlug of hulle is gemartel of voor die voet doodgemaak. Watter troos moes daar nie wees vir die gelowiges wanneer hulle hierdie verhaal geskryf deur Markus lees nie, wanneer hulle die eksplisiete militêre terminologie en nuanses herken en iets van hul eie situasie en vervolging deur Nero daarin raaksien, wanneer hulle al begin glo het dat die sterk mag van Nero nie gebind kan word nie, dat daar vir hulle geen uitkoms is nie, geen toekoms meer nie, om dán in hierdie verhaal te hoor: Nero is nie die heerser nie, Jesus Christus is Kurios, Here, en Hy is sterker as Nero en sy weermag, en Hy kan en sal ook hierdie mag bind en tot ‘n einde bring. Dat ‘n man met ‘n onrein gees in hom se storie van heling en herstel so groot effek kan hê dat die hele omgewing direk daardeur geraak word, dat hierdie “geringe” storie heenwys na ‘n nuwe heerskappy waar die onrein regeerders en regerings van die wêreld en hulle trawante nie vir altyd die hef in die hand sal hê nie. Al lyk dit dalk so. Jesus is nie bang vir hulle nie. Jesus is sterker as hulle. Watter troos is daar nie vandag vir ons in hierdie verhaal nie! Om te weet dat daar iewers ‘n keerpunt sal kom in soveel lande waar die burgers gebuk gaan onder die juk van hul regering.

Daar is ‘n tweede, vir ons dalk meer voor die hand liggende, boodskap in die gebeurtenis. Iets meer persoonlik dalk, wat ons aan die lyf voel. Die fisiese genesing van die man. Sy diagnose: Hy het ‘n onrein gees in hom, skreeu dag en nag, verniel homself met klippe, is so deur die samelewing verstoot dat die grafte sy tuiste geword het en die geeste sy vriende (mense het geglo dat geeste wat nie tot rus gekom het nie omdat die mense se lyke nie na behore begrawe is nie, tussen grafte rondgesweef het).

Die hele omgewing het gespreek van onreinheid – die heidense omgewing was onrein vir die Jode, die begrafplaas was onrein, die varke daar anderkant was onrein, die man het ‘n onrein gees in hom. Die omgewing is so onrein dis om iets van oor te kom! Dit is juis waarom mense nie daarheen gegaan het nie! Maar Jesus vaar deur ‘n storm sodat Hy sy voete op daardie onrein grond kan gaan sit. Hy gaan daarheen met ‘n gedetermineerdheid wat nie vir sy dissipels sou sin maak nie.

Wat was ‘n onrein gees? In die Griekse teks word die woord “boos” nie gebruik nie, en die betekenis wat ons daaraan heg is so “boos” dat ons dit dalk eerder nie moet gebruik nie. Wat beteken onrein dan? Dit was meer as net vuil, dit was op rituele vlak onrein, uit plek uit, nie tuis binne die sfeer waar God regeer nie – so iets. Ek wonder of ons deur die eeue nie self binne die vertalings die konnoktasie van “boos” begin heg het aan die bybelse tyd se onrein dinge waarvoor ons nie verklarings (gehad) het nie…

Omdat alle geeste in die hierargie superior was bo mense, kon ‘n onrein gees inderdaad mag gehad het oor ‘n mens. Hulle hoef nie per se boos te wees om mag te hê nie. Hierdie klemverskuiwing (om eerder van onrein/uit plek uit/nie tuis binne die heerskappy van God nie, as van boos te praat) kan reeds baie doen om die stigma rondom die hele saak van geeste binne mense af te breek. Om dan te kan begin insien dis nie noodwendig van die duiwel af nie. Om ook breër te kan kyk en te sê dat onrein geeste binne mense in die bybelse tyd inderdaad verskillende manifestasies kon hê – dan is daar plek vir geeste wat hul spesifieke name het en kwaad doen en skade aanrig soos met die man met Legioen binne hom, maar daar is ook ruimte vir onrein geeste wat onrein is omdat dit siektes veroorsaak wat eintlik nie in ons liggame tuishoort nie.

In die wêreldbeeld van destyds was dit ook ‘n manier om van siektes binne mense te praat, en dat ons vandag dikwels eerder sou praat van die of daai siektetoestand as van die of daai gees (binne ons Westerse konteks). En verder: Siektes het beslis ook beheer oor mense se lewens, onbehandelde siektetoestande is hierargies bo mense, neem van mense besit, vernietig mense, moet behandel of gebind word (deur behandeling of medikasie of iemand wat met gesag bo-oor dit kan praat en dit kan tem.)

Om terug te kom na die besetene in die verhaal: Hy het ‘n onrein gees in hom gehad. ‘n Gees wat hom kwaad aangedoen het, en ‘n gees wat hom laat kwaad doen het. ‘n Gees wat gemaak het dat ander mense bang was vir hom. ‘n Gees wat van hom besit geneem het, wat sy liggaam beheer het. Was dit ‘n bose gees? Ons weet eintlik nie. Ons weet wel dat die gees onrein was in die sin dat die gees nie gehoort het binne die man se liggaam of in die ruimte van God se heerskappy nie. Daarom het Jesus die gees gestuur waar hy hoort – in die onrein varke in. En hulle (die gees en die varke) het toe sommer met mekaar afgereken.

Min van ons ervaar dieselfde houvas wat ‘n gees op mens kan hê as wat hierdie arme man ervaar het. Hy het Legioen in hom gehad! Eintlik baie geeste in een! Dit is genoeg om van mal te word! Maar is dit nie tog maar so dat ons almal ook met onrein geeste worstel wat soms dreig om beheer oor ons lewens oor te neem nie? Op samelewingsvlak vrees ons die effekte van magsvergrype, verdraaiing van die reg, ekonomiese uitbuiting, gierigheid, hebsug, magsug en geweld. Maar nader nog aan jou eie lyf: Wat van die gees van ongeduld, of van woede, of van vrees? Wat van die gees van rassisme, of van klassisme? En wat van siektetoestande wat so ‘n invloed op ons het dat dit ons totale lewe en persoonlikheid oorneem? Is dit nie miskien ook alles geeste wat in ons lewens gevaarlik teenwoordig is en wat ons by die naam moet noem en in die Here se hande moet oorgee nie? Want ons voel dalk vasgevang, maar Hy het kom wys dat Hy groter is as dit alles. Romeine 8: 37-39: “Ons is meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het. Ek is immers daarvan oortuig dat geen dood of lewe of engele of heersers of teenswoordige of toekomstige gebeure, of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping ons kan skei van God se liefde wat daar in Christus Jesus ons Here is nie.”

Die varkwagters het gesien wat gebeur het en hulle het gehardloop en die mense in die dorp gaan vertel. Die het ook kom kyk en hulle het bang geword want hulle het hulle varke verloor, maar ook het hulle nog nooit so iets gesien nie. Hulle het vir Jesus gesmeek om uit hulle gebied uit weg te gaan. En die man wat genees is – hy wou saam met Jesus gaan, weg uit sy eie omgewing uit. Maar Jesus laat hom nie in die boot klim nie. “Nee, gaan terug na jou huis toe, en na jou mense, en gaan vertel vir hulle alles wat die Here vir jou gedoen het en dat Hy medelye aan jou betoon het.” Dis nie meer nodig vir die man om tussen die grafte te woon nie. Jesus het hom rein gemaak. Hy mag weer met ander mense kontak hê, Hy mag weer die mens wees wat hy gemaak is om te wees, hy is ‘n lewende getuienis van die mag van die Here – in ‘n tyd wanneer die evangelie eers nog net vir die Jode bedoel was, het Jesus hierdie heidense man genees sodat hy die goeie nuus van die evangelie aan die heidene kan verkondig!

Wanneer Jesus mense gesond maak of heel maak, gee Hy nie om om die mees taboe grense oor te steek nie – die grens van Joodse grond na heidense gebied, van rein persoon na onrein, die van veilige omgewings na grafte, van weivelde waar skape wei na daar waar varke wei. Hy stap by situasies en huise in waar ander nie sal droom om te gaan nie. Hy doen dit ook vir óns. En vir mense heeltemal anders as ons.

Mag ons vry word van die bande van die onrein geeste wat ons bind. En mag ons ruimtes skep waar ander mense ook ervaar dat hulle vry kan word van die geeste wat hulle lewens gevange hou.


Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.