1 Samuel 16:1-13 – 2015

28 Junie 2015 Pinelands (Koninkrykstyd)
Prediker: Dr Tiana Bosman  

Wat ek hou van die OT is dat ons mense ontmoet en leer ken oor die bestek van baie jare, dikwels dekades. Ons kry in die OT te doen met mense se lewensverhale. Ons sou in sommige gevalle dalk selfs kon praat van biografieë, en die een persoon se biografie is verweef met en vloei oor in die volgende se biografie. 1 Samuel 16 is maar een gebeurtenis binne drie groter lewensverhale – die verloop van die lewe van Saul, die eerste koning van Israel, die verloop van die lewe van Dawid, Saul se opvolger, en Samuel, die man wat beide vir Saul en vir Dawid as konings oor Israel oor gesalf het.

In 1 Samuel 15 gee Samuel aan koning Saul ‘n opdrag van die Here af: Die Here het nie vergeet hoedat Amalek die Israeliete teengestaan het toe hulle destyds uit Egipte getrek het nie. Die tyd van afrekening het nou aangebreek. Saul moet met sy manskappe optrek en al die Amalekiete verslaan – niemand mag bly lewe nie, nie eens die kleinvee wat aan die volk behoort het nie. Saul het sy manskappe opgeroep en hulle het gaan veg. Die Here was aan hulle kant en hulle het die geveg gewen. Maar Saul was ongehoorsaam gewees – hy het nie almal laat doodmaak nie. Almal is om die lewe gebring, maar hy het Agag, die koning van die Amalekiete, se lewe gespaar, asook die mooiste, beste en vetste kleinvee, beeste en lammers. Die ander vee het hy egter van kant gemaak. Die Here was bedroef dat Hy vir Saul koning gemaak het, want, het Hy gesê, Saul het nie sy opdrag uitgevoer nie, en Hy het vir Saul as koning verwerp.

Samuel was baie ontsteld toe die Here die nuus aan hom meedeel en hy het die Here die hele nag om uitkoms gesmeek. Maar die Here het klaar besluit. Samuel het die volgende dag vir Saul gaan konfronteer oor wat hy gedoen het (of nie gedoen het nie). Tot die dag van sy dood het Samuel nie weer vir Saul gesien nie, maar hy het oor Saul getreur. Ons moet onthou Saul was vir Samuel amper soos ‘n eie seun. Hy was Samuel se leerling, sy protégé. Van die dag af dat hy as seun by Samuel opgedaag het op soek na sy pa se donkies wat weggeraak het, en Samuel van die Here af hoor dat hy hierdie jongman as koning oor Israel moet salf, en Saul dan kort daarna met sy openbare inhuldiging kleinkoppie trek en daar anderkant tussen die bondels goed gaan wegkruip – te bang en onseker oor die verantwoordelikheid wat sy kant toe kom. Van daardie dag af het Samuel vir Saul onder sy vlerk geneem en hom in sy taak as koning begelei. En nou dít.

1 Samuel 16: 1-13 lees…

Vs 1 – Isai se oupa is Boas (Rut se man) en nog 6 generasies terug is Peres (die kind van Juda by sy skoondogter Tamar toe sy haarself as prostituut voorgegee het.

Vs 2 – In die vorige hfst het Samuel vir Saul goed op sy plek gesit (15:25-28), maar nou is hy bang vir wat Saul dalk mag doen indien hy uitvind dat Samuel ‘n nuwe koning gaan salf.

Vs 6 – Soos Saul was Eliab lank en aantreklik gewees. (Met Saul se inhuldiging het die die mense dadelik opgeval dat hy ‘n kop langer is as enige van sy volksgenote en Samuel het oor hom gesê: “Sien julle die een vir die wie die Here uitverkies het? Daar is niemand soos hy onder die hele volk nie!” (10:23-24). Nou weer ‘n mooi lang man. En moenie vergeet van Eliab se inherente status as oudste seun nie.

Vs 7 – Die Here kyk nie na ‘n mens se oë (voorkoms) nie, maar na die hart.

Vs 11 – En Isai het gesê: “ Daar is nog een oor, die jongste.” Qatan het drie verwante betekenisse: jongste, kleinste en onbelangrikste. In die OT was die inderdaad so dat die jongste die onbelangrikste was. Hierdie een word nog nie een belangrik genoeg geag om in die tel te wees, of saam met die grootmense te eet nie. Hy moet eerder skape oppas. (Interessant – dat Dawid later as koning bekend sou staan as die herder van sy volk…)

Amper soos Aspoestertjie – net ingrype van buite af kan hierdie persoon laat geld.

Vs 12 – Rooi dui dalk op sy jeugdige voorkoms, blosend.

…met pragtige oë en ‘n mooi voorkoms (mooi op die oog)

(Interessant – God het pas vir Samuel gesê hy mag nie op grond van die uiterlike oordeel nie, maar nou is Dawid tog ook baie aantreklik. Maar hy word nie op grond hiervan gekies nie, maar op grond van God se keuse van hom.)

Vs 13 – Dit is die Here wat vir Dawid salf, Samuel is net sy “ instrument”.

Opvallend dat Dawid en Samuel slegs hier en in 19:18 direkte kontak met mekaar het.

(Vs 14 – Dawid ontvang die Gees van die Here en die Gees gaan weg van Saul af.)

Die, in God se oë, gewese koning Saul aan die een kant en opkomende koning Dawid aan die ander kant. En in die middel is Samuel, een van Israel se sterkste leiers, laaste in die lyn van die rigters en die eerste groot profeet, die een wat namens God vir Saul en Dawid as Israel se eerste konings gesalf het.

Oor al drie persone het ek nou reeds heelwat gesê, maar die fokus vanoggend is nie op die konings nie, maar eerder op die profeet. Die lewenslesse wat Samuel moes leer.

Hoe hanteer mens oorgange, teleurstelling en nuwe toekomsmoontlikhede?

“Hoe lank gaan jy nog treur, Samuel?” Amper ‘n vorm van aanmaning. God tik vir Sameul oor die vingers, ruk jouself nou reg, kom oor jou teleurstelling (get over it), daar is werk om te doen.

Dit is nie maklik vir Samuel nie, want ten spyte van hulle konflik was daar ‘n baie nou band tussen hom en Saul. Hulle was goeie vriende, leermeester en leerling, en Samuel sukkel om te aanvaar dat die Here vir Saul verwerp het (selfs al hét Saul dit verdien.) Moontlik wonder Samuel ook oor homself – sy eie onvermoë om vir Saul so te mentor dat hy die regte keuses maak. Hy is in rou want vir alle praktiese doeleindes is die jong seun wat gekom het op soek na sy pa se donkies (1 Sam 9) nou dood vir Samuel. Hulle het mekaar nie weer gesien. Samuel word selfs bang dat Saul hom dalk sal doodmaak indien hy uitvind dat Samuel opdrag ontvang het om ‘n nuwe koning te salf. Sy emosies wissel van woede na hartseer na vrees.

Nadat die verhaal dan sy verloop neem en Samuel wag op die seuns van Isai om voor hom verby te kom, koester hy aanvanklik dieselfde verwagtinge as toe hy vir Saul gesalf het. Hy soek weer ‘n lang, aantreklike man. Wanneer hy dus vir Eliab sien, aanvaar hy dat hy die nuwe koning is. Maar God leer vir Samuel dat hy van sy vorige verwagtinge moet afsien – om die waarheid te sê, hy moet hulle verleer (unlearn). Samuel kyk nog na fisiese statuur, maar God leer hom om af te sien van menselike logika en eerder te vertrou op God se leiding.

Hoe hanteer Samuel die teleurstellings in sy roeping/beroep (terwyl hy bewustelik onder die leiding van die Here geleef en gewerk het)? Hy het dit nie maklik gehad nie.

  • Die eerste profetiese woord wat hy moes spreek, was ‘n oordeelsuitspraak teen Eli, waarskynlik die enigste vaderfiguur wat hy ooit werklik geken het (1 Sam 3: 11-14).
  • Nadat hy die Israeliete suksesvol gelei het in hul aanval teen die Filistyne (1 Sam 7), kom vra die volk vir hom vir ‘n koning. En sê die volk vir hom dat sy eie seuns net so korrup is soos die seuns van Eli! Hoe moes dit nie vir Samuel voel om dit te hoor nie. Die Here moes hom troos met die woorde: “ Toemaar Samuel, dis nie vir jou wat die volk verwerp het nie, maar vir My. Dis nie jy wat nie meer goed genoeg is vir hulle nie, dis Ek.”
  • Hierna salf Samuel, onder leiding van die Here, vir Saul as koning, maar om elke hoek en draai stel Saul hom teleur. Kan dit wees dat Samuel ‘n slegte leermeester was? Lê die fout dalk eerder by Samuel as by Saul? Wat doen hy dan verkeerd? God verwerp die koning wat Hy gekies het nadat Samuel vir jare probeer om die einste koning te lei en te leer om ‘n goeie koning te wees.

Samuel treur oor Saul. Dalk treur hy ook oor sy eie lewe en hoedat dit nie verloop het soos wat hy gehoop of gedink het dit sou nie. Tog, ten spyte van sy hartseer en sy mislukkings bly hy ontvanklik vir die Here se woorde en vir nuwe moontlikhede. Hierdie verhaal dra nie die diepe troos wat ons graag vanuit die Bybel wil hoor nie, dit maak nie alles daar en dan beter nie, maar dit skets vir ons ‘n realistiese beeld van die menslike toestand en van maniere waarop ons mislukkings kan hanteer. Dalk vra dit in sommige gevalle van ons dat ons ons sal afsny van die verlede en vorentoe sal kyk na ‘n nuwe toekoms, hoe moeilik die oorgang ookal mag wees. Ons ervaar dikwels spyt en droefheid oor vorige mislukkings – soms realisties so, ander kere verbeel ons ons dat dit wat skeefgeloop het ons skuld was – maar God los ons nie in ons ellende nie. Hy stap met ons verder, gee nogmaals leiding, skep nuwe moontlikhede, selfs wanneer ons dit nie kan raaksien nie.

Samuel se salwing van Dawid is die laaste daadwerklike ding wat hy gedoen het. Hy het nie aanvanklik gedink dat Dawid eens ‘n keuse sou wees nie, maar hy het God vertrou. En so eindig sy “ beroep” met hoop – hy het ‘n nuwe leier gesalf. Die mees onwaarskynlike leier van almal, maar nietemin die een wat God gekies het. Dawid, nie sonder sy eie foute en mislukkings nie, maar tog ‘n man na God se hart. Samuel se beroep het nie sommer net iewers doodgeloop nie, selfs al het hy waarskynlik dikwels so gevoel. Sy beroep, en veral sy laaste daad in gehoorsaamheid aan God, het in ‘n nuwe toekoms ingeloop, nuwe hoop en nuwe lewe.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.