Psalm 32 – 2015

5 Julie 2015 Pinelands (Koninkrykstyd)
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Sonde is ‘n woord wat uit die mode geraak het. Min mense gebruik dit nog. Sommige sielkundiges sal sê dat die hele pratery oor sonde skadelik is vir die mens se gees. Dis nie opbouend vir ons menswees nie. Ons voed die skuldkomplekse van mense, word gesê. So is dit nie net in die samelewing nie, maar ook in die kerk. Gelowiges praat nie graag oor hulle sonde nie, en word maklik kwaad as die dominee daaroor preek. Dit is dikwels maklik om oor ander se sondes te praat, maar oor my eie swyg ek liewer. Ons steek dit weg. Ons wil nie hê dat mense daarvan moet weet nie. Bang dit sal ons reputasies skaad. Ons vrees dalk dat die Here ons ook sal vewerp.

Dit was nie altyd so nie. Daar was ‘n tyd toe daar binne die kerk baie oor sonde gepraat is. Die teoloog Van Ruler het gesê dat dit een van die redes is om kerk toe te gaan – sodat ons oor die sonde kan praat. Hy sê verder dat dit natuurlik nie al is waaroor dit in die kerk gaan nie. Inteendeel!, sê hy, die sonde is nie naastenby so belangrik soos die meeste ander sake waaroor ons in die kerk praat nie. Maar ons moet ook oor die sonde praat. Nie sodat ons daardeur verswelg kan word nie, maar sodat ons daarvan vrygemaak kan word.

Ps 32 is ‘n danklied. Die digter begin en eindig sy lied met uitroepe van vreugde! “Dit gaan goed” wat beteken “gelukkig” of “geseënd” en in die laaste vers “verbly, juig, jubel!”. Hoekom so gelukkig? Wat het dan gebeur? Die digter het die vergifnis van sonde ervaar. In sy lofkrete van verse 1 en 2 gebruik hy 3 verskillende woorde vir sonde. Hierdeur wil hy vir ons sê dat AL sy sonde vergewe is.

Hy was nie altyd so gelukkig gewees nie. Daar was ‘n tyd in sy lewe toe hy baie swaar gekry het. Hy dink terug en erken dat dit die tyd was toe hy oor sy sonde geswyg het. Toe hy nie bereid was om dit by die naam te noem en te bely nie. Sy liggaam het uitgeteer en oud geword en letterlik staan daar hy het heeldag gebrul soos ‘n leeu. Moontlik van pyn. Die digter het geweldige fisiese agteruitgang beleef omdat hy stilgebly het oor sy sonde. Verder sê hy dat God se hand dag en nag swaar op hom gerus het, sy krag het opgedroog soos water in somerhitte. Die slim mense skryf dat dit hier gaan oor fisiese en emosionele agteruitgang, oor die psalmis se verlies van sy hele lewensraamwerk. Ons kan amper sê sy lewe het in duie gestort. Hy het iets ervaar van wat die digteres Maya Angelou omskryf wanneer sy sê: “Daar is geen groter pyn as om ‘n verhaal in jou rond te dra wat jy nie kan oorvertel nie”.

Is dit nie met ons ook maar net so nie? Ons doen iets verkeerd of ons sê iets wat ons weet verkeerd is en dan bly ons stil daaroor. Dikwels in skaamte oor wat ons gedoen of gesê het. Nie net voor God nie maar ook voor mekaar. Is dit nie so dat ons dikwels die mense wat die naaste aan ons is die meeste te nakom nie? Bv binne ons huwelike, ons gesinne, in ons verhoudinge met ons naaste vriende. Ek tree dalk verkeerd op en doen of sê iets wat my man of my kind seermaak. Dan is ek skaam daaroor, of soms bloot net moedswillig, en ek weier om berou te betoon en ekskuus te sê. En daar kom ‘n wig tussen ons wat net al groter en groter word. Die persoon het my dalk al selfs lankal vergewe, maar steeds, solank ek nie bereid is om my sonde by die naam te noem en opreg jammer te sê daaroor nie, kan ons verhouding nie werklik verder groei nie.

So is dit ook in ons verhouding met God. Daar is ‘n onlosmaaklike band tussen sonde-erkenning, skuldbelydenis en vergifnis. Nie dat God ons slegs kan vergewe as ons ons sondes bely nie. Hy is veel groter as dit. Hy kan ons vergewe selfs al bely ons nie ons sondes nie. (vgl Loflied 190:2). Maar ons is nie in staat om sy vergifnis te ontvang en te ervaar voordat ons dit nie bely nie. Die psalmis het dit besef. Toe dit met hom op sy slegste gaan het hy sy skanse laat sak en sy sonde voor God bely. Sy belydenis was nie ‘n ligte of vinnige saak nie. Weereens gebruik hy al 3 Hebreeuse begrippe vir die woord sonde – die 3 begrippe wat gesamentlik die ganse omvang van ons sondige natuur vervat. Die Ou vertaling praat van “sonde”, “ongeregtigheid” en “oortredinge”. Wanneer ons die betekenis van hierdie 3 woorde nagaan verwys dit na:

  • Rebelsheid teenoor God, om in opstand te kom teenoor God. Dalk omdat ons nie saamstem met die pad wat Hy vir ons oopmaak of die dinge wat oor ons pad kom nie. Dan blameer ons God daarvoor.
  • Dit verwys ook na verkeerde, sondige gedrag (dws dit lê in wat ons DOEN),
  • En dan verwys dit ook na‘n sondige houding of ingesteldheid, ‘n houding wat nie in harmonie is met God se wil nie. Bv soos om jaloers of afgunstig te wees, om dislojaal te wees, om oneerlik te wees, om soms net plein lelik te wees met iemand.

Ons almal doen dit. Ons almal is so. Laat ons vanoggend eerlik wees met mekaar, ophou om weg te steek. Die groot kerkvader Augustinus het gesê: “Die begin van kennis is om jouself as ‘n sondaar te ken”. Soos die psalmis in vers 5:

“Toe het ek my sonde bely, my oortreding nie weggesteek nie. Ek het gesê: ‘Voor die Here bely ek my opstandigheid;’ en U het my skuld vergewe.”

Die mag van die gesproke woord. Om hardop ons sonde by die naam te noem, met berou te bely. Om dit van jou hart af te kry. Watter bevryding bring dit nie! Die einde van die psalmis se valsheid en verswyging van sy sonde is die begin van sy ervaring van vergifnis! Hoekom sal ons dan ons sonde vir onsself hou? Hoekom moet ons liggaam eers uitteer en ons geestelike lewe agteruitgaan en ons sielewroeging ons inhaal voordat ons ons sonde bely? Dink klink tog eintlik sinneloos. Die Here weet immers in elk geval wat dit is. Ons hoef nie bang te wees vir verwerping as ons ons sonde voor Hom uitspreek nie. Ons hou tog nie op om sy kinders te wees net omdat ons ongehoorsame kinders is nie. Die van julle wat ouers en grootouers is sal weet dat die teendeel eerder waar is.

Ons mag nooit die belangrikheid van skuldbelydenis onderskat nie. Volgens hierdie psalm is daar niks beter as om jou sonde te bly nie. Die openbare skuldbelydenis in die kerk, so skryf Van Ruler, is baie belangrik. Hy skryf: “Elkeen kan dit hoor. Ons doen onsself nie beter voor as wat ons is nie. Inteendeel! Die kerk is die nederigtse en ootmoedigste plek op aarde. Ja, ons moet eerlik en openlik voor ons naaste erken dat ons verkeerd is. Of teenoor die polisieman of die regter wat die verhoor behartig. Kom ons maak ons oë toe en ons bely ons sonde opreg voor die Een wat ons vryspreek.

Skuldbelydenis en verootmoediging (Gebed)

Vryspraak: 1 Joh 1:8-9: “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.”

Martin Luther vertel van ’n droom wat hy gehad het. Hy het gedroom dat die duiwel met ’n lang lys van sy sonde voor hom kom staan het. Luther het toe aan die duiwel gevra of dit al sy sonde is, waarop die duiwel antwoord “nee”. Luther het die duiwel toe weggestuur en gevra dat hy ’n lys van al sy sonde moes maak. Toe die duiwel terugkom met ’n nog langer lys, het Luther gevra of dit nou al sy sonde is. Die duiwel het bevestigend geantwoord. Luther het toe ’n rooi pen geneem en met groot letters daaroor geskryf: “Die bloed van Jesus Christus reinig my van alle sonde.” Vanoggend word dieselfde bevrydende boodskap aan ons verkonding: “Die bloed van Jesus Christus reining ons van alle sonde.”

Skuldbelydenis bring bevryding en vreugde in die teenwoordigheid van God. Kom ons staan en sing ‘n lied om dankie te sê.

Lied: 203:1-3 Loof die Here al wat lewe

Die psalm eindig nie by die digter se skuldbelydenis en vergifnis nie. Dit gaan verder deur vir ons te vertel hoe ‘n persoon se lewe lyk wat vergifnis ontvang en ervaar het. So ‘n persoon slaan ‘n nuwe koers in. Ons moenie net die Here vir vergifnis vertrou, maar ook vir ‘n nuwe begin onder sy leiding en beskerming.

“Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou”, sê God in vers 8.

Wanneer God sê dat hy sy oog oor ons wil hou is dit nie ‘n waarskuwing waarmee hy eintlik wil sê “Ek hou jou dop en jy moet sorg dat jy nie weer verkeerd trap nie”.(I’m watching you…) Nee. Die uitdrukking beteken hier dat God ons wil leiding gee, wil leer, persoonlik by ons betrokke wil wees en die pad saam met ons wil stap. Dwase mense loop hul eie pad na skuldbelydenis. Hulle is soos ‘n hardkoppige perd of ‘n muil wat met ‘n stang in die bek beteuel moet word. Maar die wyse mens wat die wonder van vergifnis beleef het, leef onder die leiding, onder die nuwe bestuur van God. Die goddelose mens het baie pyn en smarte, maar die wat op die Here vertrou word toegevou in sy liefde (vs 10).

Psalm 32 was Augustinus se gunsteling psalm. Hy het dit gereeld gelees. Voordat hy gesterf het, is die woorde van Psalm 32 bo sy siekbed teen die muur geskryf. Hy het dit gebid en dit het hom getroos. Gelukkig is die mens wat vergifnis ontvang!

Deel van ‘n nuwe begin is om ook ons sonde teenoor ander te bely sodat ons verhoudinge met ons medemens ook met God se seën, verlossing en blydskap gevul kan word. Ek wil julle daarom uitdaag om in hierdie week 2 dinge te gaan doen.

  • Indien jy iemand op enige manier te na gekom het (dalk het jy iets verkeerds gedoen, of gesê of gedink) gaan bely dit in die week teenoor daardie persoon.
  • Indien iemand dalk sy of haar sonde teenoor jou kom bely probeer om iets van God se vergewensgesindheid te vergestalt. Moenie die persoon veroordeel nie, maar vergewe.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.