2 Samuel 11:1-27 – 2015

26 Julie 2015 Pinelands (Koninkrykstyd)
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Die arme koning Dawid, ‘n man van die Here, wat so deur Batseba se tentoonstelling van haar naakte liggaam verlei is dat hy nie anders kon as om by haar te slaap nie. Wat het sy aangevang!? Die uiteinde van haar verleiding was haar man se dood. Ai Batseba.

Hoeveel gelowiges is daar nie wat hierdie teks so lees nie? Ek woon eenkeer ‘n bybelstudie by wat deur ‘n man gelei word. Die tema van sy dagstukkie was “Take care,” en die hele stuk gaan daaroor dat hy vrouens waarsku om tog nie so aan te trek dat mans nie ‘n ander opsie het as om hulle te verkrag nie. Moenie noupassende klere dra nie, moenie rompies dra wat bo die knie sit nie, moenie moulose rokke dra nie, want dan soek jy om verkrag te word. Soos Batseba. Sy wou mos in die oopte bad…

Dawid was ‘n goeie koning gewees. Tot hiertoe lees ons van sy politieke en militêre suksesse. 2 Sam 8:14-15: “Die Here het Dawid die oorwinning laat behaal net waar hy gegaan het. Dawid was koning oor die hele Israel en hy het sy hele volk met reg en billikheid geregeer.” Maar op ‘n dag het daar ‘n draaipunt gekom en ‘n ander kant van Dawid se karakter het deurgeskemer. Dit was lente en al die manskappe het opgetrek om te gaan oorlog voer. Maar hierdie keer gaan Dawid nie saam nie. Plaas het hy maar gegaan…

Op hierdie stadium was Dawid 6 vrouens ryk, 7 as ons vir Mikal bytel, maar die twee se verhouding het erge spanning verduur. Feit is, hy het nie ‘n tekort aan vrouens gehad nie. Maar eendag na sy middagslapie gaan hy uit op die dak van die paleis en hy stap daar rond. Daar anderkant sien hy ‘n vrou bad – sy was waarskynlik ook op haar dak wat laër was, met haar diensmeisies wat haar help om te was nadat haar menstruasiesiklus verby was. Vrouens was tydens hul maandstonde kulties onrein gewees, en hulle moes daarna ‘n reinigingsbad hê. Hierdie tyd van die maand is egter ook ‘n vrou se mees vrugbare tyd, met die grootste kans op swangerskap, en dit is waarskynlik waarom die skrywer hier vir ons noem dat dit haar reiningingsbad was. Om in ‘n binnehof op bo-op jou dak te bad, was ook nie ‘n ongewonde ding om te doen nie. Verál nie in die lig van die feit dat al die mans weg was om te gaan oorlog voer nie. Wel, die keer almal behalwe een…

Die vrou was vir Dawid baie mooi, en hy het oor haar laat navraag gedoen, wat vir ons aandui dat hy haar nie vooraf geken het nie. “Dit is Batseba dogter van Eliam, die vrou van Urija die Hetiet.” ‘n Baie uitgebreide bekendstelling. Gewoonlik word ‘n vrou net bekendgestel deur haar te verbind aan haar man, maar hier hoor ons ook wie haar pa was. Dit sê vir ons dat Batseba nie sommer enige vrou was nie, sy was nie van laë stand of ‘n diensmeisie nie, sy kom uit ‘n goeie familie. Nie adellik soos koning Dawid nou is nie, maar nietemin goeie stoffering. Haar man se naam, Urija, beteken “Yahweh is my lig”. Hy was een van Dawid se beste soldate.

Dit is insiggewend dat Batseba se naam net een keer genoem word in die verhaal, en dit is wanneer Dawid se amptenare vir hom sê wie die mooi vrou is wat hy gesien het. Van hier af verloor sy haar identiteit en word daar bloot na haar verwys as “die vrou” of “Urija se vrou”. Dat sy haar eie naam het maak nie meer saak nie – Dawid het net haar naam nodig gehad sodat hy die regte vrou kon laat haal.

Urija was een van sy soldate, maar Dawid is die een in die magsposisie, en daarom dink hy hy kan vat wat hy wil, al behoort “dit” nie aan hom nie. Hy vat die vrou dan ook en kry klaar met haar – alles in een kort vers (4): Hy het sy amptenare gestuur en hy het haar gevat en sy het gegaan en hy het by haar gelê (geslaap) en sy het teruggegaan huistoe. In 1 Sam 8: 11-18, toe die volk so vir ‘n koning smeek, het Samuel hulle al gewaarsku met die woorde: “Julle koning sal vat wat aan julle behoort – julle dogters, julle lande, julle slawe en slavinne, julle jong manne…” Hierdie werkwoord (לקח) dra binne die konteks die betekenis van magsvergrype. In die verhaal van Dawid se “vat van Batseba” is geen sprake van ‘n aanloop tot die daad nie, geen verhouding tussen hulle wat oor tyd heen ontwikkel het nie, geen liefde nie, slegs maar Dawid se oë wat lus geraak het vir wat hy gesien het. Hy kon of wou homself nie beteuel nie. Hy hoef ook nie te nie, of so het hy klaarblyklik geredeneer, want hy is die koning. Dawid het vir Batseba verkrag, en sy was in geen posisie om hom teë te staan nie. Soos later in die verhaal duidelik word, maar wat Batseba nou alreeds weet, is dat koning Dawid die mag het om oor haar man se lot/lewe te beskik. Wie weet wat sal met Urija gebeur as sy die koning teëgaan?

Soos wat dit dikwels is met ‘n persoon wat sy mag misbruik, kry Dawid wat hy wou hê. Maar daar kom ‘n kinkel in die verhaal. Die vrou wat tot nou toe nie ‘n woord gesê het nie, moet verdere vernedering smaak deur vir Dawid te laat weet, dws sy moet deur boodskappers werk om die nuus by hom uit te kry: “Ek is swanger.” Wat ‘n weerlose uitspraak vir ‘n vrou, veral in haar situasie – die konteks waarbinne sy geleef het, en haar man weg op die oorlogsveld. Al waaraan sy kan dink is om vir Dawid te laat weet – hy het haar misbruik en verkrag, maar hy is ook die enigste een wat hierdie situasie kan beredder. Wie weet, dalk is hy eerlik en erken hy wat hy gedoen het. Natuurlik sal daar skande oor hom kom, maar as koning is dit baie onwaarskynlik dat hy ‘n swaar straf sal moet dra. Ander konings en leiers het al met soortgelyke dade weggekom (vandag nog), net omdat hulle magsposisie hulle beskerm het…

Waar Dawid die geleentheid het om verantwoordelikheid te aanvaar vir wat hy aangevang het, maak hy dit nou eerder erger en erger. Hy het ‘n goeie kop op sy skouers en hy besef: As hy net vir Urija vinnig genoeg by sy vrou kan uitkry om by haar te slaap, dan kan die baba wat gebore word deurgaan as Urija se kind.

Dawid stuur ‘n boodskap na sy bevelvoerder Joab om vir Urija na hom toe te stuur onder die voorwendsel dat hy by hom wil uitvind hoe dit op die oorlogsfront gaan. Hierna stuur hy vir Urija huistoe om bietjie te gaan rus. In die Hebr sê Dawid vir hom: “Gaan af huistoe en gaan was jou voete.” Nou ja, voete was kan dood eenvoudig voete was beteken, MAAR in die OT konteks was die uitdrukking “om jou voete te was” ook ‘n eufemisme vir seks gewees. So, “Urija, dankie vir die nuus van die front af. Gaan nou maar huistoe en gaan was jou voete, wink wink.” En om seker te maak dat Urija Dawid se groothartigheid verstaan om aan hom ‘n nag saam met sy vrou te gee, stuur hy ‘n geskenk ook agterna.

Maar Urija gaan nie huistoe nie. Hy gaan slaap eerder daardie nag saam met die slawe van die koning by die paleisdeur. Want hy is ‘n soldaat wat sy sout werd is. Hy is eerbaar en lojaal. Soldate het tydens oorlogtyd nie seks gehad nie. Dit was een van die regulasies gewees. Vir Urija om af te gaan huistoe en die kat in die donker te knyp, selfs al het Dawid dit in soveel woorde aangemoedig, sou ‘n ernstige oortreding wees – selfs strafbaar indien dit aan die lig kom. En as Dawid se plan gewerk het, sou dit natuurlik aan die lig kom, want hoe anders het die vrou dan swanger geword? Haar man natuurlik!

Urija is egter te lojaal aan sy koning en aan sy medesoldate om van hierdie plesiertjie gebruik te maak terwyl hulle ontbering beleef. Toe Dawid hom die volgende dag uitvra waarom hy nie huistoe is nie, kan ons duidelik vanuit Urija se antwoord hoor dat hy Dawid se eufemistiese gebruik van die “voete was” reg verstaan het, want hier antwoord Urija nou op die man af: “Sou ek huistoe gaan om te eet en fees te vier en by my vrou te slaap, terwyl die ark en Israel saam met Juda in hutte woon en my aanvoerder Joab sowel as u soldate in die oop veld kamp opslaan? Dit sal ek beslis nooit doen nie!”

Dawid gee nog nie moed op nie. “Bly nog ‘n dag oor jy teruggaan,” sê hy vir Urija. Daai aand maak hy hom dronk in die hoop dat Urija in sy dronkenskap sy vrou tussen die lakens sal gaan opsoek. Maar Urija in sy dronkenskap het steeds ‘n beter karakter as Dawid toe hy sober was, en weereens gaan slaap hy by die slawe. Dawid se brein werk oortyd, en een daad lei na ‘n volgende. Nou is daar vir hom net een oplossing. Smee ‘n komplot met Joab om vir Urija so te stasioneer met die volgende aanval, dat hy in die oorlog sal sterf. Dan is hy dood en almal sal dink dat hy wel in sy wegbreuktyd by sy vrou geslaap het en verantwoordelik is vir haar swangerskap. Sý gaan tog vir niemand die waarheid vertel nie. En Dawid se boodskappers by die paleis weet ook van beter as om hul monde verby te praat. Buitendien, as Urija eers dood is en sy vrou klaar oor hom getreur het, onderneem Dawid, sal hy ‘n baie eerbare ding doen en hy sal met die swanger weduwee trou – net maar nog ‘n vrou op sy kerfstok.

Joab was reeds ‘n moordenaar – in 2 Sam 3 het hy vir Abner om persoonlike redes doodgemaak. ‘n Daad waarvoor Dawid vir hom baie kwaad was! En nou daal Dawid tot die vlak van die moordenaar. En Joab is bereid om sy samewerking te gee. Dawid maak van hom ‘n medepligtige want hy is in die skuld by Dawid. Die grootste ironie van alles hier aan die einde van die verhaal is dat Dawid sy brief met die opdrag aan Joab in Urija se hand stop toe hy teruggaan na die oorlogsveld toe. Urija is onwetend die draer van sy eie doodsvonnis.

Nadat alles uitgespeel het volgens Dawid se uiteindelike verskriklike plan, het meer as een persoon sy lewe in die proses verloor. Dis gewoonlik so – een persoon se verkeerde besluite en dade het ‘n rippel-effek, wat op die ou-end kan veroorsaak dat baie onskuldige mense skade ly. Toe Urija se vrou (nog steeds gebruik die verteller nie haar naam nie) hoor dat haar man dood is, het sy oor hom getreur – Hebr “geween, geweeklaag, hard geskree oor haar heer”. Hoor net daar – sy het nie vir Urija beskou bloot as haar man (ish), neutrale woord, nie, maar as “haar heer”. Sy het vir hom respek gehad. Sy hét hóm liefgehad, en haar hart het gebreek. Nêrens in die verhaal kies die verteller eksplisiet kant of spreek hy ‘n oordeel uit nie. Tot reg aan die einde. Dan sluit hy hierdie gebeurtenis af met: “Wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here.” Let op – nie wat Dawid en Batseba gedoen het nie, maar wat Dawid gedoen het. Koning Dawid is die skuldige persoon in hierdie verhaal.

Twee hoofstukke later herhaal die geskiedenis homself in ‘n ander gedaante. Dawid se seun Amnon verkrag sy halfsuster Tamar. Toe Dawid daarvan hoor was hy woedend, maar hy het niks aan die saak gedoen nie. Hoe kon hy vir Amnon tot verantwoording roep as hy dieselfde sonde gepleeg het? Sy ander seun Absalom was ook woedend en besluit om reg eie hande te neem as sy pa dan nie gaan optree nie. En Absalom vermoor vir Amnon. Sien julle hoe stoomroller een verkeerde daad wat handuitgeruk het omdat Dawid nie die onreg gestop het en verantwoordelikheid wou neem vir sy sonde nie? En nog is dit die einde nie…

Waar is God in dit alles? Midde die verhaal van magsvergrype en verkragting lees ons nie een keer die naam van God nie. Daar word nooit na Hom verwys nie. Behalwe in die laaste sin: Dawid het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here.

In die volgende hfst kom sy sonde op die lappe en word hy tot verantwoording geroep. Maar daarvan lees ons eers volgende Sondag. (Dit is amper soos ‘n riller – op die hoogtepunt van die spanning verskyn daar op die skerm “to be continued…”).

Wat ons tot dusver samevattend kan sê:

– Persepsies is gevaarlik want dit is meestal verkeerd. Ons sê so maklik: Maar ek het gedink dis so en so…, en dan dink ons die feit dat ons die kat aan die stert beetgehad het, verskoon ons van ons oordele. Vir eeue het baie predikante en gelowiges en kunstenaars en skrywers en rolprentmakers die persepsie gehad dat Batseba die skuldige of ten minste medepligtig was, in die verhaal wat ons vandag gelees het. Dit terwyl sy geen aandeel gehad het daarin nie.

As jy in ander se lewens en stories belangstel, sorg dat jy jou storie oor hulle reg agtermekaar het, voordat jy jou eie feite begin opdis.

– Magsmisbruik, ook onder goeie, godsvresende mense, is altyd baie gevaarlik.

– Ons moet pasop om een verkeerde daad met ‘n volgende verkeerde daad te probeer toesmeer. In ons eie lewens, selfs al het ons gesondig, staan ons áltyd weer voor die keuse: hoe nou vorentoe? Ons het altyd ‘n kans om weer die regte besluite te begin neem, ten spyte daarvan dat dit implikasies vir ons lewens sal hê. Alles wat ons doen het implikasies vir ons en andere se lewens. Sommige besluite se implikasies is net veel erger as ander s’n. Ons word dus opgeroep om verantwoordelikheid te neem vir ons besluite en ons dade, om dit in die oë te kyk en aan te spreek.

As ons vandag se verhaal hier ophou lees, dan is dit ‘n tragedie. Dit is in elk geval ‘n tragedie. Daar is geen wenners nie. Dawid dink tans nog hy kom ongeskonde daar uit, maar dit is ook nie waar nie. Waar was God toe dit alles gebeur het? Hoe moet ons sy betrokkenheid of afwesigheid verstaan? Waarom het Hy nie ingegryp nie?

Ek weet nie. Ek vra myself hierdie vrae baie dikwels af, en loop myself altyd vas teen ‘n muur sonder antwoorde. Wat ek wel raaksien is dat die mens die vermoë het om besluite te neem en deur te voer wat direk teen God se wil is. Ons eie sondige wil kan die geskiedenis ‘n ander verloop laat neem as wat God sou wou hê. En dikwels meng God nie in nie, Hy keer ons nie, Hy laat ons begaan. Ons is nie marionette wat deur die Meester se toutjies-trek bestuur word nie. Soos William Ernest Henley dig: “I am the master of my fate, the captain of my soul.”

En tog die onderliggende troos in die laaste sin: “Wat Dawid gedoen het was verkeerd in die oë van die Here.” Wat beteken: Die Here weet. Hy het gesien. Hy is bewus van die verkeerd en die onreg en die onskuldige lewens wat daaronder gely het. Hy trek Hom dit aan, dit ontroer Hom. Hy roep ons tot verantwoording, maar Hy laat ons nooit gaan nie. Hy verlaat ons nie, maak nie saak wat ons gedoen het nie. Is dit nie dalk meer van ‘n troos om te weet dat die Here ten minste weet van ons sonde en nietemin die pad verder saam met ons stap en op manier ons saggies weer in die regte rigting druk (nudge), as dat Hy glad nie weet nie omdat Hy nie omgee nie… Hy gee soveel om dat Hy Homself vir ons kom gee het. Sy genade is so groot dat ons selfs met moord kan wegkom. Ook Hy het dit aan sy eie lyf gevoel…

Twee aangrypende skilderye van Batseba: Rembrandt van Rijn (Hollandse skilder, 17e eeu) en Artemisia Gentileschi (Italiaanse vrou, 17e eeu, sy was self verkrag en het die daad openbaar gemaak sodat die verkragter vervolg kon word – haar dapper optrede was baie ongewoon vir die tyd waarbinne sy geleef het. Haar twee skilderye van Batseba beeld duidelik die weerloosheid op haar gelaat uit.)


Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.