2 Samuel 11:27-12:25 – 2015

2 Augustus 2015 Pinelands (Koninkrykstyd)
Prediker: Dr Tiana Bosman 

 

Uittreksels uit gister se Geestelike waardes, Dirkie Smit, Die Burger, Saterdag 1 Aug 2015:

Sy weet nie wát het haar besiel nie. Dis nie sý nie. Dit moes die tequila wees. Met dié storie – oor ’n meisie op ’n naweeksaand in ’n kroeg – laat Trevor Noah die Gotham Comedy Club in New York skater. Hulle hang aan sy elke woord en wending. Hulle verstáán hom. Dit dawer en dreun soos hulle gil van genot. Hulle herken dié storie. Dis ’n skets so reg uit eie ervaring, van dié soort verskoning. Dis nie regtig ek nie. Ek weet nie waarom ek my so wangedra nie. Waar my woorde en skandalige gedrag vandaan kom nie.

Ek is nie regtig só nie. Maar dié landgenoot, wat binnekort Jon Stewart se The Daily Show-uitsending oorneem, weet presies wat hy doen. Hy is iewers heen op pad. Dis nog net sy begin. Nee, sê hy, jy ís so. Dit ís jy. Moenie die tequila wil skuld gee nie, dis jý. Jy wás al so vóór die tequila. Dié laat maar net wat reeds binne-in jou is uitkom. Sodat almal kan sien wie jy regtig is, ook jy sélf. Al ontken jy hóé. …

Dit herinner aan Søren Kierkegaard, die 19de-eeuse denker. Ook hy wou passievol sy lesers help om hulself te ontdek, ágter eie self-misleiding te sien wie hulle waarlik is, en ook hý was oortuig van die krag van humor, ironie en lag in dié proses. Die kloof tussen wie ons is en wie ons dink en sê ons is gaap soms só groot dat net grappe, spot en ironie dit kan oorbrug. Of gelykenisse… As iemand ernstig sou praat – in geskrifte, meditasies, selfs preke – kan ons altyd wegkruip agter ons eie argumente, en die tequila, of die skuld van ander. Dis eers as mense ons aan die lag kry vir die belaglike en dán skielik uitwys, maar dis mos óns, ons lag eintlik vir onssélf, dat ons dalk mag ontdek, nee, dis jý. … Dis jý wat só reageer.

(Skuinsgedruk self bygevoeg)

Alle stories wat goed vertel word en op ‘n skerp manier die draak steek met die waarheid, lei egter nie altyd eers tot lag voordat dit uitmond in selferkenning nie. Sommiges het niks om oor te lag nie, en begin by ‘n reaksie van woede vir die karakter wat dan eindig by skuldbelydenis…

Tel die drade op van verlede week…

– Persepsies (Batseba het vir Dawid verlei, of was saam met hom skuldig aan owerspel)

– Magsmisbruik (Dawid as koning dink hy kan doen wat hy wil)

– Rippeleffek van sonde en ons staan altyd voor die keuse om weer te besluit: Hoe nou   vorentoe.

Teks 2 Sam 11:27b – 12:25

11:27b: Maar wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here.

12:1: Daarna het die Here vir Natan na Dawid toe gestuur. Natan het by hom gekom en gesê: “Daar was twee mans in een dorp. Die een was ryk en die ander een arm.

2: Die ryk man het vreeslik baie skape en beeste gehad,

3: maar vir die arm man was daar nie baie nie, behalwe vir (slegs) een klein ooilammetjie wat hy gekry het. Sy was syne, en sy het grootgeword saam met hom en saam met sy kinders, sy het van sy krummeltjies geëet en uit sy beker gedrink en in sy skoot geslaap, en sy was vir hom soos ‘n dogter.

4: Daar het ‘n reisiger by die ryk man aangekom, en die ryk man het gespaar (kon dit nie oor sy hart kry nie, hml) om te neem van sy skape en van sy beeste om voor te berei vir die reisiger wat na hom toe gekom het, en hy het die ooilammetjie van die arm man gevat (lqh), en hy het (haar) voorberei vir die man wat na hom toe gekom het.”

5: Dawid se neus het baie erg gebrand (hy was woedend) oor die man, en hy het vir Natan gesê: So seker as die Here leef, die man wat hierdie ding gedoen het is ‘n kind van die dood (Afrikaans dalk iets soos: so goed soos dood).

6: Die ooilam – daai man moet viervoudig vergoed as gevolg van hierdie ding wat hy gedoen het, en omdat hy nie gespaar (hml) het nie/nie deernis gehad het nie. (Die punt is – hy hét gespaar (vs 4), maar hy het sy éie gespaar en nie die arm man s’n nie!)

7: Natan sê toe vir Dawid: “ is die man! So sê die Here, die God van Israel (Co amar Yawh Elohim Ysrael :

8: Ek het aan jou gegee die huis van jou heer en die vrouens van jou heer in jou skoot, en Ek het gegee vir jou die huis van Israel en Juda, en as dit te min is, dan sou Ek toevoeg vir jou om te kyk en te kyk! (oneindig baie!)

9: Waarom het jy die woord van die Here geminag deur te doen wat verkeerd is in sy oë? Vir Urija die Hetiet het jy doodgemaak met die swaard, en sy vrou het jy gevat vir jou as vrou. Vir hóm het jy doodgemaak met die swaard van die Ammoniete!

10: En nou sal die swaard nooit weer uit jou huis weggaan nie, want jy het My geminag en jy het die vrou van Urija die Hetiet gevat om jou vrou te wees.

11: So sê die Here: Kyk! Ek is op die punt om tot stand te bring teen jou ramp/ellende vanuit jou eie huis. Ek sal jou vrouens voor jou oë vat en Ek sal hulle gee vir jou vriend, en hy sal by jou vrouens lê (slaap) voor die oë van hierdie son.

12: Want het gedoen in die geheim, maar Ék sal hierdie ding doen voor die hele Israel en voor die son.

13: Toe sê Dawid vir Natan: “Ek het gesondig teen die Here.” En Natan antwoord vir Dawid: “Die wonder is (gam) die Here het jou sonde laat verbygaan en jy sal nie sterf nie.”

14: Máár (moenie dink Ek is klaar gepraat nie – ) omdat jy deur hierdie ding so veragtelik teen die Here opgetree het, sal die seun wat vir jou gebore is sekerlik sterf.”

24: Dawid het vir Batseba, sy vrou, getroos. Hy het na haar toe gegaan en by haar gelê (geslaap) en sy het ‘n seun gebaar, en Dawid het hom Salomo (afgelei van shalom, vrede) genoem. Die Here het hom liefgehad,

25: en Hy het deur Natan die profeet ‘n boodskap gestuur dat hy Jedidja (Geliefde van die Here) genoem moet word, ter wille van die Here.

Boodskap

Natan was ‘n profeet van die Here in diens van die koninklike hof tydens die bewind van Dawid en Salomo. Hy het in moeilike situasies vir die koning raad gegee, en, sien ons hier, ook tereggewys. Dawid het een van sy seuns Natan genoem – vernoem na hierdie profeet vir wie hy baie respek gehad het.

Natan se baie slim tegniek van ‘n gelykenis vertel sodat hy nie sommer met die deur in die huis val en vir koning Dawid beskuldig nie (want waartoe is Dawid dan nie alles in staat nie!), maar hy vertel ‘n storie, skynbaar oor iemand anders se magsvergrype en die hartseer gevolge daarvan, sodat Dawid self die oordeel fel. Eers nadat Dawid die onreg raaksien en veroordeel, gaan Natan ‘n baie dapper stap verder deur die vinger na hierdie onaantasbare man wat dink dat hy verhewe is bo die wet te wys: “ Jy is die man!”

Terug by die gelykenis. Daar is verskille tussen die gelykenis en Dawid se eie sonde – dalk ook juis omdat Natan nie onmiddellik die aap uit die mou wou laat en sy motief weggee deur die storie té bekend te laat klink nie – maar die bedoeling is duidelik. Die ryk man het vreeslik baie skape en beeste gehad, maar toe ‘n reisiger by hom aan huis kom, spaar hy sy eie skape en beeste en gaan haal die een ou hanslammetjie van ‘n arm man, ‘n lammetjie wat vir die arm man soos ‘n eie dogter was, een wat in sy skoot geslaap het, vir wie hy baie lief was, en die ryk man slag hierdie lammetjie vir die reisiger. Dawid, weer, was ‘n ryk en magtige koning met baie vrouens in sy harem, te kies en te keur, maar toe sy soldaat Urija weg was om Dawid se oorlog namens hom te gaan veg, vat hy die se enigste vrou, neem haar vir homself, en slaap by haar.

Vir ons wat die storie van buite bekyk is die ooreenkomste duidelik. Ons is soos Trevor Noah se gehoor – ons kan lag vir die petalje of huil oor die ironie daaragter, maar dis omdat dit nie ons eie storie is nie dat ons die fyn nuanses kan optel. Dawid sien egter nie die ooreenkomste raak nie. Sy neus raak bloedrooi van woede en sy reaksie is eintlik oordrewe. Hy is só kwaad-ontsteld dat hy vir Natan in die rede val: “So seker as die Here leef, die man wat hierdie ding gedoen het, is ‘n kind van die dood!” “ So seker as die Here leef” – ‘n mens kon nie ‘n oordeel sterker uitspreek as hier nie. Dis amper asof Dawid sê: “ Vervloek is die man!”

“Jý is die man!,” sê Natan … en Dawid se bloed word koud. Dan is dit asof die Here met sy woorde vir Dawid aan die skouers wil vat en skud met ‘n “Besef jy wat jy gedoen het! Maak oop jou oë!” Oordeelsuitsprake volg nou wat in tipiese profetiese formules gegiet is:

כֹּה־אָמַ֨ר יְהוָ֜ה אֱלֹהֵ֣י יִשְׂרָאֵ֗ל “So sê die Here, die God van Israel: Kyk wat het Ek nie alles vir jou gegee nie, Dawid! Onder andere die vrouens van jou heer Saul in jou skoot (soos die hanslammetjie in die arm man se skoot geslaap het), en Ek was bereid om soveel meer te gee as jy wou hê! Maar jy het my woord geminag. Vir Urija het jy doodgemaak, en die vrou wat in sy skoot hoort het jy gevat (die daad van magsvergrype) vir jou as vrou. Jy het jouself aan haar vergryp en hom het jy doodgemaak!” (Nie letterlike deur die swaard nie, boogskutters het hom doodgeskiet, maar die swaard was ‘n beeld van onreg en boosheid.)

Dan die aankondiging van die langtermyn straf – onthou die rippeleffek van ‘n verkeerde daad: “Die swaard sal nooit weer uit jou huis weggaan nie… Ek sal jou vrouens vat en Ek sal hulle gee vir jou vriend…” – Presies wat jy gedoen het, sal Ek doen, net nie in die geheim nie. Daar sal ‘n openbare spektakel daarvan kom.

Dan die skuldbelydenis. Dawid probeer nie teëpraat nie, hy probeer nie ontken nie, hy soek nie redes soos die vrou met die tequila nie. Hy weet hy het met God te make. En hy weet ook hy het netnou self die oordeel uitgespreek oor die ryk man wat sy mag so liederlik misbruik het. As God Dawid se eie oordeelsuitspraak op hom toepas, dan is hy nou so goed soos dood.

Maar die genade van God is groter as die genade van Dawid. Ironies – diegene wat skuldig is aan sonde verdra dikwels nie dieselfde sonde in die lewens van ander nie, en onnadenkend slinger hulle oordele na ander terwyl hulle eintlik aan dieselfde dade skuldig is… Gelukkig is God nie Dawid nie, en wonder bo wonder teen alle verdienste in vergewe Hy hom.

Die onmiddellike gevolge word egter nie opgehef nie, so ook nie die langtermyngevolge nie. Dit is nie net Urija en ander soldate wat hul lewens verloor nie, maar ook die seun wat uit hierdie vergrype gebore word. Dat God ‘n mens vergewe beteken nie dat jy (en ander) nie meer die gevolge an jou dade sal dra nie, dit hef nie jou verantwoordbaarheid op nie.

Maar dan die grootste wonder – aan die einde van een van die mees tragiese verhale in die Bybel, daar waar klomp mense nou dood op die verhoog van die lewe lê en die gordyne veronderstel is om toe te gaan, net daar word ‘n nuwe begin gebore: Dawid troos vir Batseba. In hfst 11 nadat haar man sterf en sy oor hom ween en skree, doen Dawid niks – hy wag eenvoudig die voorgeskrewe routyd uit en laat haar daarna haal. Maar nou in hfst 12 na die dood van hul eersgeborene troos Dawid vir Batseba. Hy probeer. Van ‘n werklike intieme verhouding lees ons nie (yda ontbreek), maar hy probeer darem.

En Batseba kry vir die eerste keer weer naam terug en sy word later ‘n baie belangrike vrou. Die belofte van hoop lê in die naamgewing van ‘n verkragte vrou wat deur die hele storie identiteitloos was (sy was deurgaans bloot die vrou van Urija en later die vrou van Dawid). Haar menswees word herstel.

En Salomo. Nuwe lewe. In sy naam getuig Dawid van shalom wat weer tot stand gekom het. En in die Here se troetelnaam Jedidja hoor ons ook die klanke van vergifnis en hoop.

Dit vat niks van die sleg weg nie, maar ten minste loop alles nie hier dood nie. In teendeel – God kry dit reg om die geskiedenis so te stuur dat, weens die magsvergrype van Dawid, ‘n geslagslyn voortgesit word waaruit Jesus later gebore sou word. Die verskriklike sonde van een persoon mond uit in die verlossing van die wêreld, nie as gevolg van daardie persoon se sonde nie (ons kan tog nooit verkragting of ander vorme van magsvergrype so goedpraat nie), maar ten spyte van sy sonde.

Die gelykenis van ‘n onskuldige lammetjie wat geslag is, lê die omvang van Dawid se sonde bloot. Generasies later stel die verhaal van die Lam van God wat geslag is, die omvang van die mensdom se sonde bloot. Dawid het op die ou-end sy skuld erken. Dink ons nog steeds na vanoggend dat hierdie net ‘n storie oor Dawid is? Of kan dit dalk wees dat die storie oor Dawid op ‘n manier as ‘n gelykenis gelees kan word wat ten doel het om vandag, nie met direkte lyne en ooreenkomste nie, maar tog onmiskenbaar die vinger na elkeen van ons wil wys: “Jy is die man! Jy is die vrou!” Kan dit wees dat ons, ryk en gemaksugtig soos ons is, ook ons mag misbruik om die armes en weerloses in ons huise of skole of by die werk of in die breër samelewing te ontneem van die bietjie wat hulle het of behoort te hê?

Dit aan die een kant. En aan die ander kant: Is daar nog mense onder ons wat die durf het om soos Natan op te staan en in die naam van God die onreg wat ons raaksien uit te wys en oop te vlek en mense tot verantwoording te roep? Of is ons almal te bang om dalk self slagoffers te word van die een met die hef in die hand? Ons moet tog onthou niémand is onaantasbaar nie. Geen mens het absolute mag nie, al dink hy of sy dalk so. In 2 Sam 11 was Dawid die een “calling the shots”. In 2 Sam 12 word die bordjies verhang en word God die een “calling the shots”. Is ons bereid om sy spreekbuise te wees wanneer ons sien dat mense mishandel of geboelie word , of laat ons ons ook boelie deur die mag van mense? Jesus van Nasaret is gebore om vir ons ‘n voorbeeld te kom wees van hoe dit lyk wanneer mense hul nekke uitsteek vir ander mense wat nie geag word nie. Hoe sing ons? – O Lam van God onskuldig, wat moedig aan daardie kruishout hang…

As ons vandag in ‘n spiëel sou kyk, hoe en waar pas ons in Dawid en Natan se verhale in?

 

 

 

 

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.