2 Samuel 18 – 2015

9 Augistus 2015 Pinelands (Koninkrykstyd)
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Die verhaal is ingebed in ‘n groter narratief met die aanloop reeds in 2 Samuel 13. Eintlik moet ons dit terugneem na hfst 11 toe, waar Dawid vir Batseba verkrag, en die verskriklike gevolge daarvan, as Dawid vir Urija (Batseba se man) vermoor en met Batseba trou. Dit alles was verkeerd in die oë van Here. Daarom stuur die Here vir Natan na Dawid om sy straf aan te kondig (2 Sam 12). As deel van Dawid se straf se “die swaard nooit meer uit sy huis weggaan nie” (daar sal altyd onderlinge stryd wees), ‘n vriend sal oop en bloot met Dawid se vrouens slaap, en die eerste kind wat Dawid by Batseba verwek het, sal sterwe (2 Sam 12: 10-14).

Voor die einde van hfst 12 sterf die kindjie al. Die onderlinge stryd in Dawid se huis begin in 2 Samuel 13. Daar lees ons hoedat Amnon, Dawid se seun, slinkse planne beraam en sy halfsuster Tamar (Dawid se dogter) verkrag. Tamar is in ‘n toestand en sy vertel haar broer Absalom wat gebeur het. Absalom het vir Amnon gehaat oor wat hy aan sy suster gedoen het. Hy het haar in sy huis geneem en versorg, want sy was ‘n wrak gewees. Koning Dawid, die pa van hulle almal, het van alles gehoor wat gebeur het en hy was woedend, maar hy het niks daaromtrent gedoen nie.

Aangesien Amnon glad nie gestraf is vir sy verkragting van Tamar nie (‘n straf wat na regte deur Dawid opgelê moes word – koning en pa), het Absalom reg in eie hande geneem en vir Amnon vermoor. Hierna het hy, uit vrees vir wat Dawid hom kon aandoen, gevlug en vir drie jaar in Gesur gebly. Dawid het intussen vrede gemaak met Amnon se dood en hy het verlang daarna om weer vir Absalom te sien (2 Sam 13:39).

Die verhaal neem sy verloop. Al wil Dawid die vrede tussen hom en Absalom herstel, het Absalom bedekte motiewe om die Israeliete weg te steel van Dawid af (sodat hulle hul lojaliteite kan skuif en oorloop na hom toe dat hy hulle nuwe koning kan word, hfst 14 en 15). Die opstand van Absalom was so ernstig dat Dawid en sy mense vir hulle lewe uit Jerusalem gevlug het. Dawid het egter sy tien byvrouens agtergelaat om die paleis op te pas. 2 Samuel 16:21-22 vertel dat Absalom ‘n tent op die dak van sy pa se paleis opgeslaan en daar, voor die oë van die hele Israel, by Dawid se byvrouens geslaap het. So word nog ‘n straf wat Natan in hfst 12 aangekondig het, waar.

Absalom was daarop uit om Dawid om die lewe te bring sodat hy die nuwe koning van Israel kon word. Dit is om hierdie rede dat die oorlog van 2 Sam 18 uitbreek, die oorlog waartydens Absalom se manne verslaan word en hy sy eie lewe verloor…

Lees/vertel 2 Sam 18

Dawid en sy manskappe staan op die vooraand van die oorlog teen Absalom en sy volgelinge (die Israeliete). Aanvanklik was Dawid van plan om saam te gaan veg (hy het mos nou sy les geleer van agterbly as die ander gaan veg…), maar sy manskappe het hom afgeraai want hulle is bang hy sterf (3). In vers 5 gee Dawid dan aan sy bevelvoerders hierdie bevel: “Saggies om my ontwil met die jongman Absalom”. ‘n Vreemde versoek tydens ‘n oorlogsituasie – wees tog saggies met my grootste vyand. En die hele weermag het gehoor toe Dawid hierdie bevel gee aangaande Absalom.

Wanneer Dawid hierdie bevele uitdeel aan sy bevelvoerders, doen hy dit in sy amptelike hoedanigheid as koning. Dit is egter so dat sy amptelike rol as koning hier vervleg word met sy persoonlike rol as vader. Dit is immers sy eie seun Absalom wat teen hom in opstand kom en aan die ander kant van die oorlogslinie gaan staan. Alhoewel hierdie seun so opstandig is dat hy sy pa se dood verlang, wil Dawid as vader deur sy direkte bevel verseker dat sy seun nie doodgemaak word nie, selfs al sou hy dit dalk verdien. Dawid moet egter ‘n professionele afstand handhaaf in die uitdeel van bevele. Daarom kies hy om eerder na Absalom te verwys as “die jongman” in plaas van “my seun”. Dis tog interessant om daarop te let dat die manskappe “saggies” moet werk met hierdie jongman “om my (Dawid se) ontwil…” [Ons sien aan die einde van die verhaal hoe Dawid geen professionele afstand meer kan handhaaf nie wanneer sy emosies oor hom die oorhand kry en hy al sy skanse laat sak – in so ‘n mate dat dit dreig om sy beeld as koning skade te berokken.]

Nadat Dawid se manne die Israeliete in die Efraimbos verslaan het, dws na afloop van die oorlog, het Absalom “per ongeluk Dawid op Dawid se manne afgekom / het sy pad per ongeluk met hulle pad gekruis”. Die oorlog is verby! Absalom se manne is verslaan! Maar hy leef nog, en sonder enige versterkings van manne saam met hom, loop hy hom per ongeluk vas teen die vyand. Die muil waarop hy gery het, het onder die digte takke van ‘n groot akkerboom deurgestap, en Absalom se kop het in die boom (in die mik van twee takke?) vasgehaak, maar die muil het aangehou loop, so dat Absalom tussen hemel en aarde gehang het. Totaal en al weerloos. Uitgelewer aan die genade van die vyand. En Dawid het hulle so mooi gevra om tog genadig te wees met hierdie man…

Toe iemand wat dit gesien het vir Joab gaan vertel, roep Joab uit: “Wat?! Jy het hom gesien! En waarom het jy hom nie net daar tot teen die grond geslaan nie?! Ek sou vir jou tien silwer muntstukke en ‘n eregordel gegee het.” Die man verset hom toe teen Joab en herinner om aan Dawid se bevel: “Saggies om my ontwil met die jongman Absalom.” Maar Joab steur hom nie daaraan nie, gaan self, steek vir Absalom met sy swaard, en sy wapendraers storm nader en slaan hom heeltemal dood.

Absalom is nie in die familiegraf van die koningshuis begrawe was wat die gebruik was nie, maar hy is begrawe soos wat ‘n vervloekte persoon begrawe sou word – sy lyk is in ‘n diep gat in die bos gegooi, en hulle het ‘n groot hoop klippe op hom gepak (17).

Twee boodskappers hardloop om die nuus van die oorwinning aan Dawid oor te dra. Dawid se eerste vraag aan elke boodskapper is na die welstand van die jongman Absalom. Die eerste boodskapper (een van die manne in Dawid se leër) wil nie die slegte nuus aan Dawid oordra nie en sê dat hy nie kennis dra van Absalom se welsyn nie. Die tweede boodskapper, ‘n Kussiet, weet nie dat dit inderdaad slegte nuus sal wees vir Dawid nie, en uit sy antwoord is dit vir Dawid onmiddellik duidelik dat Absalom gesterf het.

Dawid het begin bewe van ontsteltenis, en hy het opgeklim na die kamer bokant die poort (waarskynlik om, in sy diepe droefheid, nie so in die openbare oog te wees nie) en daar het hy gehuil. Terwyl hy heen en weer geloop het, het hy gesê: “My kind, Absalom, my kind, my kind Absalom. Wie sal tog gee dat ek sterf in jou plek? Absalom, my kind, my kind.” Hier vind nou ‘n verskuiwing plaas. Tot hiertoe het Dawid herhaaldelik na Absalom verwys as “die jongman”. Noudat hy die verskriklike nuus kry dat hierdie jongman dood is, laat sak hy alle professionele skanse en raak hy slegs ‘n pa wat treur oor sy seun vir wie hy baie lief was en nou is die seun dood – “my kind, my kind”.

Die koning worstel van die begin van die hfst af met die balans tussen sy rolle as koning en as vader. Eers hou hy die nodige afstand, maar dat hy as vader besorgd is oor die veiligheid van sy seun, skemer tog van die begin af deur: “Saggies, om my ontwil…”

2 Samuel 18 is nie ‘n maklike teks om oor te preek nie. Dit begin sleg en dit eindig nog slegter. Hierdie is nie maar net ‘n OT verhaal van ‘n seun wat teen sy pa in opstand kom en ‘n oorlog inisieer wat skeefloop en hom sy eie lewe kos, terwyl die pa gebroke is en wens dat dit eerder maar sy lewe kon wees was dié van sy seun wat in die slag gebly het nie. Die hartseer is dat alles wat hier gebeur, en wat dit voorafgegaan het, integraal deel is van die lewe en die samelewing waarbinne ons vandag leef. Niks vreemds speel voor ons af nie – ‘n Seun rebelleer teen sy pa, is in ‘n magspel met hom betrokke, neem wat nie aan hom behoort nie (steel van sy pa), en dan probeer hy boonop ook sy hand aan moord. Verder spruit hierdie gedrag uit ‘n geskiedenis van familieprobleme, geweld, verkragting en vergelding. Kwaad baar kwaad. Die vernietigende effek is so groot dat niks of niemand onaangeraak bly nie. In situasies van morele verval, waar mense onmenswaardig hanteer word, die afwesigheid van reg en geregtigheid, waar daar met mag gespeel word en lewens geminag word – vanuit hierdie situasies kan niks goed kom nie. Nooit nie! Die een ly op die ou end swaarder as die ander, die een kry seerder as die ander.

Absalom hang aan ‘n boom tussen hemel en aarde, hy word met spiese gesteek en dan vermoor. Deur die OT geskiedenis het mense mekaar keer op keer te na gekom, onregverdig hanteer, geminag, vermoor. Binne die geledere van die volk wat anders moes leef, die volk wat ‘n voorbeeld moes wees wat ander na hulle toe trek, die volk wat ander jaloers moes maak op hulle (egste ware) God, die volk Israel, was dinge ook nie beter daaraan toe. Daarom het hulle alles verloor en in ballingskap beland.

Jare later sou daar weer ‘n man wees wat hang aan ‘n boom tussen hemel en aarde. Nie omdat ‘n muil onder Hom uitgery het nie, maar omdat mense Hom daaraan gekruisig het. En Hy sterf ter wille van die liefdeloosheid van die hele wêreld, ter wille van die wrede vergrype van mense teenoor mekaar.

Maar Hy word opgewek uit die dood. Hy oorwin. Sy kruisiging maak uiteindelik die verkondiging van goeie nuus vir ons moontlik. Die skuld vir die sonde is betaal en ‘n nuwe bedeling breek aan. Dinge is nou heeltemal anders. God het Homself in ‘n mens aan ons kom bekendstel. Hierdie mens is ‘n voorbeeld van ware, egte menswees, soos wat God dit bedoel het. Ons het die vergestalting van liefde en vergifnis gesien. Ons het uit die geskiedenis geleer… SA het selfs ‘n Vrouedag (wat ons vandag vier) ingestel nadat 20 000 vroue in 1956 hulle voet neergesit het omdat vrouens nie dieselfde erkenning en respek in die samelewing kry as mans nie.

Maar dan lees ek vanoggend se koerant, en die eerste opskrifte wat my oog vang is:

  • Genl Jannie Geldenhuys se liefdesoorlog
  • Predikant sonder gemeente – dominee wat vrou glo klap, begin eie bediening; saak teen hom sloer steeds
  • Dis ek, Anna: Dit was taai om die sekspes te speel
  • Wapenvry? Zuma soek moeilikheid
  • Terroriste moor SA man in Mali
  • Advokaat, gee asb daardie R17m. terug (waarmee Zuma jou omgekoop het)

Is dít waarvoor Christus sy lewe gegee het? As alles 2000 jaar gelede verander het met Jesus Christus se koms, hoekom is niks dan anders nie? Hoekom is daar niks van hierdie verandering (in Christus) wat die geskiedenis van die mensdom omgeswaai het, sigbaar in die samelewing en die wêreld rondom ons nie? Wat sê dit vir ons … van die wêreld, van onsself, wat sê dit vir die wêreld van God? Watter prentjie skets ons as Christene van God…

Toe vind ek jou  
deur Francois van Coke & Karen Zoid

Ek lê my wapens neer
Vanaand vir die eerste keer
Sien ek myself in jou oë
Ek het hierdie oorlog verloor
Ek staar na die bloed op my hande
Ek weet ek het verander
Jy dink ek praat net weer
Ek het jou lief
Ek sweer

Geen pretensie
Geen beheer

Buite die stemme wat skater
Vriende wat groet
Sien jou later
Elkeen vind sy pad
Ek weet ek moet ook my skat

Hey, my sweet
Hey, my baby
Jy’s my toevlug
Wil jou nooit laat huil nie
Jy’s my lied
Jy’s my wysie
Ons het ’n hond
Ons het ’n huisie

Ek het genoeg gegee
Ek het genoeg geskree
Ek het lankal terug geleer
Maar nog steeds het ek probeer
Vlug soos ’n verraaier
Van dit wat my vashou
Daar was monsters in die donker
Toe vind ek jou
Ek sweer

Geen pretensie
Geen beheer

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.