1 Konings 3 – 2015

16 Augistus 2015 Pinelands (Koninkrykstyd)
Prediker: Dr Tiana Bosman 

 

Eendag lank lank gelede was daar ‘n wyse prins. Na sy pa se dood, was hy die troonopvolger, vooraf so bestem deur God. Hy het met ‘n pragtige prinses van ‘n naburige koninkryk getrou, en sy volk regeer tot eer van God. Kort daarna het God in ‘n droom aan hom verskyn, en Hy beloof aan hierdie jong koning wat ookal sy hart begeer.

Omdat die koning nederig was, het hy geweier om te vra vir rykdom, mag of ‘n lang lewe. Hy antwoord eerder: “Ek is maar net nog ‘n kind, en ek weet nie of ek kom of gaan nie, so onervare is ek. Gee asb vir u dienskneg ‘n luisterende verstand sodat ek u volk goed kan regeer en sodat ek kan onderskei tussen reg en verkeerd.”

God was so beïndruk met die jong koning se versoek, dat Hy beloof het om nie net daaraan gehoor te gee nie – om hierdie koning die wyste mens in die geskiedenis te maak – maar om ook aan hom te gee dit waarvoor hy nie gevra het nie: Ongekende rykdom en aansien en ‘n lang lewe.

Soos die tyd aanstap het die koning se goeie reputasie deur die hele land versprei. Koninklikes het van oraloor af gereis, veraf plekke, om te luister na die koning se wyse spreuke en regsuitsprake. In ooreenstemming met sy wysheid en God se seën, het die koning se rykdom en mag verby alle perke gegroei. Hy het strategiese politieke en ekonomiese alliansies gesmee; ‘n vloot van skepe gehad, ‘n manjefieke tempel en paleis gebou, handel gedryf in luukshede soos goud, silwer en ivoor, die omvangrykste wysheidsliteratuur van sy tyd op skrif gestel, ‘n Goue Tydperk in sy koninkryk beleef, en uiteindelik na veertig jaar se suksesvolle regering het hy die troon aan sy seun oorgegee…

Eendag lank lank gelede was daar ‘n uitgeslape prins. Nadat sy pa, die koning, dood is, het die prins die moord op sy ouer broer, die regmatige opvolger tot die troon, beplan en deurgevoer. ‘n Onnodige moord. Hy bestyg daarom die troon van sy vader met bloed op sy hande. Aan die begin van sy heerskappy is hy op ‘n vergeldingsveldtog uit. Hy pleeg al die wraak moorde wat sy pa op sy sterwensbed versoek het (kompleet soos The Godfather). Hy handel sy pa se unfinished business af. Daarna bou hy die koninkryk van sy drome. Hy glo dat hy oor goddelike wysheid beskik en dat hy ‘n goddelike mandaat het. Die koninkryk wat hy bou spreek van rykdom, aansien en mag.

Die koning het ‘n onversadigbare strewe na meer en nog meer. Om sy buitensporige lewe moontlik te maak, hef hy belastings wat so hoog is dat sy volk dit nie kan verduur nie. Sodat hy beheer kan hê oor kennis, versamel hy die omliggende wêreld se wysheidstradisies. Ten einde sy grootse bouprojekte te voltooi, forseer hy duisende mense om dwangarbeid te verrig. Om sy begeertes te bevredig, versamel hy ‘n harem van 700 vroue en 300 byvroue. Sy geestelike rusteloosheid maak dat hy heidense heiligdomme bou en offers bring aan ander volke se gode.

Die gevolge van sy keuses is rampspoedig. Teen die einde van sy heerskappy, kon sy volk nie meer die verskriklike laste van die buitensporige belasting en slawerny waaraan hy hulle onderwerp het, verdra nie. Weens sy heidense praktyke weet hulle nie meer hoe om te onderskei tussen afgodery en ware aanbidding nie. Omdat hy vir homself alleenreg tot die verstaan van God gegee het om ‘n stempel te plaas op sy eie persoonlike wysheid, kon sy onderdane hulself nêrens of tot niemand wend vir goddelike leiding en hulp nie.

So het dit gekom dat die koning se vyande teen hom opgetrek het. Alhoewel hy probeer het om terug te veg, was God se hand teen hom, en hy het nie baie suksesse behaal nie. Kort daarna is hy dood sonder dat hy die lang lewe gehad het waarvan hy gedroom het. Sy seun probeer om die opstandige volk terug te forseer tot slawerny, maar hulle bied weerstand. ‘n Burgeroorlog breek regdeur die land uit wat vir dekades sou duur. Die koninkryk verdeel in twee, en die roemryke koning se eertydse goue droom ontbind. Al wat oorbly is chaos.

Twee uiterste verhale van hoe ‘n koning sy volk kan regeer. Die naam van die koning in die eerste storie: Salomo. Die naam van die koning in die tweede storie…: die einste Salomo.

Wie was Salomo regtig? ‘n Wysaard of ‘n dwaas? ‘n Koninklike of ‘n vraat? ‘n Leier of ‘n tiran? Wat moet ons van hom glo? Die stories waaroor ons die heel meeste lees, en die meeste preke hoor, teken die prentjie van die wyse koning: Hy kon énigiets vanaf God vra, maar sy hartsbegeerte is wysheid. Hy demonstreer dit net na sy droom in die uitspraak wat hy lewer toe twee prostitute na hom toe kom en stry oor wie se baba lewe en wie s’n is dood. ‘n Hele boek vol spreuke word onder die naam van Salomo saamgestel – die Spreuke van Salomo, seun van Dawid, koning van Israel. (Of al hierdie spreuke uit die mond van Salomo self kom, is natuurlik ook hoogs aanvegbaar, net soos wat Dawid nie al die psalms geskryf het nie.)

Ons fokusteks is 1 Kon 3. Kom ons kyk mooi daarna, want binne hierdie wonderlike getuigskrif van Salomo steek daar alreeds waarskuwings dat dit maar die een kant van die man is wat ons hier ontmoet. In die eerste vers lees ons alreeds, heeltemal objektief vertel, dat Salomo hom verbind het aan die familie van die farao, die koning van Egipte, deur te trou met die farao se dogter. Maar hoor julle dit regtig? Koning Salomo het getrou met die dogter van die vyand! Slim… Maar slim van sy baas. Binne ‘n tydperk in die geskiedenis waar God sy volk verbied het om met ander volke te ondertrou, het Salomo met hul grootste vyand se dogter getrou. Die rede: nie in die eerste plek liefde nie, maar om politieke alliansies te smee. In 11:1 lees ons dat koning Salomo lief was vir uitlandse vroue. Behalwe die dogter van die farao het hy ook vrouens uit die Moabiete, Amoniete, Edomiete, Sidoniërs en Hetiete gehad. Dit was die nasies waarvan die Here vir die Israeliete gesê het: “Julle mag nie met hulle omgaan/slaap>verhoudinge hê nie…want hulle sal julle net verlei om hulle gode te aanbid. Salomo het egter juis op hierdie vrouens verlief geraak.” (700 vroue en 300 byvroue gehad).

Vs 2-3: “Salomo het sy liefde vir die Here betoon deur alles te doen wat Dawid, sy pa, hom voorgeskryf het, behalwe dat hy nog op die hoogtes offers gebring het.” Dit is amper ‘n sylangse opmerking, maar hier lui tog ‘n waarskuwingsklokkie. Salomo het die Here gedien, ja, maar hy het ook nog so af-en-toe aan die afgode gaan offers bring op die hoogtes. Wie weet – dalk was hy juis nou by Gibeon om eintlik aan die afgode te offer, en nadat God in ‘n droom aan hom verskyn het, het hy dadelik afgegaan na Jerusalem om dáár (waar dit goed en reg is) voor die verbondsark aan die Here offers te bring.

Vs 5: In Gibeon het Salomo die nag ‘n droom gehad waarin die Here vir hom vra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou gee?” Nou as jy jou toekoms as leier van die land oop wil sien, dan moet jy een oggend voor jou volk gaan staan en vir hulle vertel dat God in ‘n droom vir jou kom sê het jy kan vra net wat jy wil hê en Hy sal dit vir jou gee.” Daarmee sê ek nie dat Salomo gelieg het oor sy droom nie, ek sê net dat hy die enigste persoon was wat die droom ervaar het en daarvan kon vertel, en dat ‘n droom altyd subjektief is, en dat ‘n goeie droom so aan die begin van sy regering wonders sou doen vir sy pad vorentoe.

Vs 6-9: Salomo antwoord gepas en nederig. “Here God, U het u dienskneg (dis nou Salomo self) koning gemaak oor u volk. Ek is nog maar net ‘n kind en ek weet nie of ek kom en of ek gaan nie, so onervare is ek. Gee asb vir u dienskneg ‘n luisterende hart>verstand sodat ek u volk goed kan regeer en sodat ek kan onderskei tussen reg en verkeerd.”

“Dit was goed in die oë van die Here, om dít van Hom te vra [So vertel Salomo self die gebeurtenis oor – vir my klink dit na baie fyn brag, om so ‘n sinnetjie in te werk.] “Hy het vir hom gesê: ‘Omdat dít jou versoek is en jy nie vir jou ‘n lang lewe, of rykdom, of die dood van jou vyande vra nie… (tot by vs 14).

Nou as jy jou brood aan beide kante gebotter wil hê, moet jy dit vir jou onderdane gaan vertel – Die Here het gesê jy kan enigiets sê wat jy graag wil hê, jy het in jou nederigheid (en wysheid, en heel strategies) gesê jy soek wysheid om jou volk goed te regeer en te onderskei tussen reg en verkeerd, en dat die Here dan jou versoek aan jou toestaan maar meer nog – juis omdat jy nie vir rykdom en aansien en ‘n lang lewe gevra het nie, gaan jy dit op die koop toe bykry!!! Die lewe kan nie beter as dit nie. Met God aan jou kant en ‘n droom in jou hand wat vir jou amper alleenmandaat gee oor dit wat God gesê het (as jy dít alles van God af gehoor het in een droom, is daar nie juis ruimte vir iemand anders daarna om enigiets anders te hoor nie – daardie persoon sal onmiddellik gestraf word, want jy (Salomo) het in jou droom die reg gekry om goed en sleg te onderskei, om meer wysheid te hê as enigiemand anders in die ganse geskiedenis van die mensdom, en dan nog mag en gesag en ‘n lang lewe daarby (niemand mag dus jou dood beplan nie, dis teen die belofte van God) – dan het jy jouself pretty muh onaantasbaar gemaak…

Ek sê nie dat Salomo nie die droom gedroom het nie. Of dat die inhoud onwaar is nie. Ek sê wel dat ‘n droom altyd subjektief is, en dat Salomo slim/wys genoeg was om dit so oor te vertel dat dit in sy guns sou val. (Meeste stories kan op radikaal verskillende maniere vertel word.) En om nederigheid en jeugdigheid en ‘n gebrek aan ervaring aan die Here voor te hou – dis ook nie so onbevlek eerlik soos wat dit klink nie. Kyk maar na die onregverdige en verkeerde moorde in hfst 1 e 2 wat Salomo alreeds gepleeg het nog voor sy droom. ‘n Kind? Nie soveel kind dat hy nie reeds met voorbedagte rade kon moord pleeg nie. Onervare? Nie met al die beplande moorde op sy kerfstok nie. Nederig? As ons die ander roepingsverhale in die OT gaan lees of persoonlike drome waar mense met God te doen gekry het in hul droom, dan sien ons dat almal spreek van nederigheid, onwaardigheid, gebrek aan ervaring – Dit was deel van die “roepingsritueel. Om waardig te wees wanneer God jou roep, was dit ordentlik om eers darem jou onwaardigheid te erken. Dis amper soos om ‘n stempel te plaas op die outentieke karakter van die roeping.

Ek sê weer ‘n keer dat ek nie probeer sê Salomo het ‘n storie opgedis nie. Dalk wel ‘n bietjie aangedik… Ons moet tog ons oë oophou vir die moontlike slaggate in die storie. En ons moet versigtig wees vir wat ons sê van God oor ons. Salomo het vir homself amper ‘n alleenmandaat tot God gevestig. So dat niemand hom kon check nie, so dat daar nie ‘n Natan kon wees wat sê: “Jy is die man!”, nie. Hy het homself amper onaantasbaar gemaak. En toe het die gevaarlike dinge gebeur: Salomo het sy wysheidspreuke gelewer en daarvoor wêreldryke roem verwerf, leiers het van heinde en verre gekom om na hom te luister. Maar het hy dit self konsekwent toegepas, was dit ‘n maatstaf vir sy eie lewe? Dikwels nie. Hy is eerder ingesluk deur die dinge waarvoor hy nie gevra het nie, maar wat hy tog so mildelik uit die hand van God ontvang het – rykdom en mag en aansien. Niks was meer vir hom genoeg nie. 1000 vrouens! ‘n Paleis wat twee keer langer gevat het om te bou as die tempel! Daaglikse kos op sy tafel, nie net vir Afrika nie, maar vir die hele wêreld (4:22-23). Goud, silwer en ivoor. Alliansies na alle kante toe sodat sy politieke en ekonomiese mag nog verder kan uitbrei.

En iewers het hy vergeet wat sy fokus moet wees. Hy het vir God uit die oog verloor. Ander gode al meer aanbid (hfst 11). Selfs op die berg teenoor Jerusalem het hy ‘n hoogte gebou vir die diens van Kemos, die afskuwelike god van Moab, en vir Molek, die afskuwelike god van die Ammoniete (11:7). Die einde van sy heerskappy (toe hy sterf voordat hy ‘n besondere lang lewe gehad het), was ook die einde van ‘n verenigde ryk. Die mense kon nie meer gebuk gaan onder die slawerny (dwangarbeid) en buitensporige belastings wat hy gehef het nie, ‘n burgeroorlog het uitgebreek, en die koninkryk het in twee geskeur.

So wie was Salomo nou eintlik? Hy was ‘n mens, nes sy pa Dawid. Hy was ‘n wysaard, maar soms tog ook só dwaas. Hy was ‘n koning, maar hy was ook ‘n vraat. Wat hom vergyp het – nie net aan kos nie, maar ook aan vrouens. Hy het die Here God gedien, maar hy het Hom ook nie gedien nie. Hy was vir Hom lief, en hy was ook nie vir Hom lief nie. Die vraag is op die ou-end nie wat glo ons van Salomo nie, want soos ons is hy dán die een en dán die ander. Die vraag is, midde ons menslike lewens: Wat glo ons van God? Wat staan vas oor God? En van Hom glo ons dat Hy ons liefhet, selfs wanneer ons Hom nie terug liefhet nie. Met Salomo se geboorte was God so geroer dat Hy vir Salomo ‘n spesiale liefdesnaam gegee het – “Jedidja”, wat beteken “Die Here het hom lief”. Sy storie eindig waar ons lees van sy 700 vroue en 300 byvrouens en dat “sy hart agter ander gode aangebuig het, sy hart was nie meer voluit (Hebreeus: salem> in vrede) by die Here sy God soos die hart van Dawid sy pa nie.” (11:4) Sy naam Salomo verwys na vrede. Maar aan die einde van sy lewe het sy hart weggewyk van die vrede wat hy by die Here gekry het. (Die Hebreeuse woordspelings vertaal…) Tog: in die oë van die Here was hierdie magtige koning wat gewankel het steeds die baba vir wie Hy Jedidja genoem het – Omdat die Here na ons kyk soos wat Hy na Salomo gekyk het, is ons altyd veilig in sy teenwoordigheid, is daar altyd vir ons vrede by Hom, mag ons, ten spyte van wie ons is en hoe ons lewens lyk, vandag saam die nagmaal uit sy hand ontvang…

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.