Johannes 6:51-69 – 2015

24 Augustus 2015 Pinelands (Koninkrykstyd)
Prediker: Dr Tiana Bosman 

 

Dit is aan die einde van die eerste eeu, ongeveer 60 jaar na Jesus se kruisiging. Skeuringe het oor die afgelope dekades binne die geloofsgemeenskap van die Jode ontstaan. Daar was diegene wat steeds sterk gewortel was in hul tradisies en die leringe van die OT, hulle het getrou na die sinagoges gegaan en hulle onderwerp aan die gesag van die fariseërs en die skrifgeleerdes. Hulle ganse lewe was gerig op die presiese nakoming van die wette van ouds. Die skeiding van rein en onrein was onbetwisbaar en niemand moes die lyn oortree as jy binne die gemeenskap van God wou bly nie. Wetsgetrouheid en reinheid was die hoogste strewe.

Daar was egter ook diegene wat ontwrig was deur die bediening van Jesus ‘n paar dekades gelede, die rabbi sonder kwalifikasies, die verkondiger van dwaalleringe, die rewolusionêre leier, die politieke en godsdienstige “stirrer” wat die prys daarvoor betaal het toe sy eie mense hom oorlewer aan die Romeinse regering en dié hom die doodstraf oplê – om gekruisig te word soos alle ander Jode wat in opstand kom teen die regering van die dag. Daar was ‘n groep Jode wat hom ernstig geneem het en wat steeds, na alles, gestreef het om in sy voetspore te volg.

Die Christene (navolgers van Jesus) se werklike breuk van Judaïsme sou eers later kom, maar die godsdiensleiers het nie gehou van die nuwe groep se sieninge, gewoontes en vreemde taalgebruik met hul nuwe gedagtes soos “opstanding”, “hemelvaart”, “Jesus leef en is koning al sien julle hom nie,” en die nuwe gebruike soos nagmaal en die doop van heidene nie. Hierdie nuwe groep was formeel nog deel van die groot groep en almal het saam na die sinagoge gegaan en steeds ook gesamentlike dienste gehou, maar daar het ‘n punt gekom waar die godsdiensleiers voet neergesit het en sterk weerstand gebied het teen die nuwe Jesus Beweging: “Julle is welkom om die dienste in die sinagoge by te woon, maar nie as julle julself met hierdie nuwe groep en leringe vereenselwig nie. Kies: die een of die ander.” En so het dit gekom dat een geloofsgemeenskap in twee geskeur het en die navolgers van Jesus verbied is om die sinagoge te betree.

In hierdie tyd skryf Johannes, ‘n lid van die Jesus Beweging, sy evangelie aan medenavolgers van Jesus. Dit is ‘n tyd van geweldige verlies. Nie net het hulle hul sinagoges en toegang tot die formele aanbiddingsgeleenthede verloor nie. Daarmee saam het ook ‘n stuk verlies aan identiteit gekom – hul medevolksgenote het hulle van die tradisie afgesny. Die Romeinse regering was ook al hoe meer vyandiggesind teen die Jesus Beweging – hulle het gedink die probleem is uit die weg geruim met die kruisiging van Jesus, maar toe nou nie… Hou verder in gedagte dat die tempel in Jerusalem baie onlangs heeltemal afgebreek is en die heilige stad Jerusalem het nie meer die troos en vertroue gebring wat dit oor eeue heen gedoen het nie.

Waartoe moes die Christene hulle wend in hierdie onsekere en onstuimige tyd? Die wet van Moses is nie meer so duidelik nie, aanbidding in die tempel het tot ‘n einde gekom, die sinagoges is buite perke, die Romeine maak die lewe vir hul moeilik (of knip dit kort). Waar moes die volgelinge van Jesus krag en moed vandaan kry om aan te gaan?

Teen hierdie agtergrond skryf Johannes sy gedagtes neer oor die persoon van Jesus. Vir ‘n volgeling van die nuwe weg, skryf hy, is Jesus die Wysheid van God, die Woord, hy is die Lig vir die wêreld, hy skyn in die duisternis en die duisternis kan hom nie uitdoof nie, hy is verfrissende fonteinwater, hy is die Goeie Herder, Hy is die Weg, die Waarheid en die Lewe.

Maak Johannes se verduideliking dit makliker vir christene wat reeds vasgeloop voel? Nie op die oog af nie. Hy is die evangelieskrywer wat die meeste in raaisels praat, hy skryf metafories, beeldryk. Hy vertel onder andere dat Jesus die volgende gesê het: “Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir ewig leef. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam wat Ek gee vir die lewe van die wêreld. … Wie my liggaam eet (kou) en my bloed drink, het die ewige lewe… Hy bly in My en Ek in hom. Dít is die brood wat uit die hemel neergedaal het; nie soos die manna wat die vaders geëet het en gesterf het nie. Wie hierdie brood eet, sal vir ewig lewe” (6: 51-58).

Wat Jesus hier gesê het was godslasterlike taal! Vir ons val dit dalk nie so vreemd op die oor nie, want ons is al gewoond aan die gebruik van die nagmaal en die simboliese betekenis daaragter. Maar Jesus maak hierdie uitspraak vroeg in die evangelie van Johannes. Kort nadat hy brood en vissies vermeerder het om die skare se honger maë te voed. In terugskoue kan ons natuurlik die betekenis van die nagmaal hierin lees, en ook met reg, maar vir die aanhoorders van Johannes se evangelie het daardie sakrament nog nie bestaan nie. Dit was totaal ongehoord. Hulle verstaan nog nie eens dat hierdie man gekom het met die doel om te sterf as ‘n misdadiger aan ‘n kruis nie. Ons moet dus ook nie te vinnig spring na ons verstaan van die nagmaal wanneer ons hierdie woorde van Jesus hoor nie – nie as ons die destydse hoorders se penarie wil verstaan nie.

Jesus se uitsprake in Johannes 6 klink vir hulle soos kannibalisme. Dit trek ‘n streep deur al wat heilig is en dit praat onreinheid goed. God het immers ‘n verbod teen die eet van rou vleis en die drink van bloed. Die goddelike opdrag in Lev 17: 10-14 is diep ingeëts in die daaglikse lewe van elke Israeliet. Dis een van die mees basiese wette, so sentraal dat dit vandag steeds die hoeksteen vorm vir moderne Jode se dieët.

Jesus se godsdienstige geloofwaardigheid word sterk in twyfel getrek met hierdie uitsprake. G’n wonder dat soveel Jode wat hom hierheen gevolg het, nou hulle rug op hom draai en wegloop nie. “Hierdie woord (logos) is te erg; wie kan daarna luister?” Selfs sy naaste volgelinge, die 12 dissipels, moet hulle toewyding heroorweeg… “Gee dit vir julle aanstoot?,” vra Jesus hulle; “Laat hierdie w/Woord julle struikel? Is Ek vir julle ‘n struikelblok? … Gaan julle ook nou julle rug op My draai?”

As Jesus nog nie hier direk verwys na die sakrament van die nagmaal wat hy voor sy teregstelling instel nie, wat is sy bedoeling dan wanneer hy sê dat hy die brood en bloed is wat lewe gee en dat ons hom moet eet (kou!) en drink? Hy relativeer die waarde van die manna in die OT, asook die waarde van die brood en die vissies wat hy kort tevore vermeerder het. Daardie voedsel hou nie vir ewig nie, eet dit en jy sal steeds uiteindelik sterf, sê Jesus. Maar eet Mý en jy sal ewig lewe. Dit ís moeilik om te verduidelik, maar dalk kan ons met die volgende identifiseer wat die beeld vir ons makliker maak:

Jy is wat jy eet – Ons ken hierdie uitspraak baie goed. Die kos wat jy eet, word deur jou liggaam verteer en opgeneem, en dit maak van jou die persoon wat jy is. Dit bepaal ook hoe gesond jy is. Soos wat ons fisiese kos nodig het om in hierdie lewe gesond te wees en te kan bly leef, so het ons ook fisiese kos nodig om die ewige lewe te kan leef. Daardie fisiese kos vind ons in die menswording van God – as Hy nie in Jesus van Nasaret méns geword het en homself vir ons kom gee het nie, sou die ewige lewe nie vir ons moontlik gewees het nie. Daar is dus ‘n baie fisiese tasbare betekenis hieraan. Maar natuurlik is dit nie so dat ons konkreet die liggaam van Jesus eet en sy bloed drink nie. Op dieper vlak doen ons dit wel as ons in ‘n intieme verhouding met hom staan, as hy vir ons ontontbeerlik word vir ons voortbestaan, as ons glo/besef dat ons werklikwaar nie kan leef as ons hom nie het nie, as hy nie ten volle deel is van ons bestaan nie, as ons nie in hom is en hy in ons nie.

Ons voel dit van mense ook en ons gebruik selfs daai taal – ek is vir hom so lief dat ek hom kan op(vr)eet. Dit beteken nie dat die ander persoon se lewe in gevaar is omdat jy jou enige oomblik aan hom gaan vergryp nie. Dit beteken wel dat jy besef jy kan nie jou lewe sonder hom indink nie, meer nog, jy weet jy kan nie sonder hom leef nie. Natuurlik is hierdie vergelyking beperkend, want iewers gebeur dit dat ons wel persone waarsonder ons ons lewe nie kan indink nie, verloor, en dan moet ons op ‘n manier voortgaan met die lewe, en kry ons dit selfs reg… maar met Jesus is dit anders – sonder Hom kan ons werklik nie leef nie! Die brood en die vissies wat hy langs die meer uitdeel – dit is lekker en ons geniet dit, maar dit gaan ons nie deurdra nie. Ons het hom sélf nodig, en nie net dit wat uit sy hand te voorskyn kan kom nie.

Jesus was bekommerd omdat die mense nie die wonder van die brood en die vissies reg verstaan het nie. Hy het dit gedoen sodat hulle dieper kan kyk en meer kan verstaan, maar hulle het so gefokus op die oorvloedige brood en vis dat hulle nie die “Oorvloedige Gewer” self raakgesien het nie. Hulle sien ‘n “tydelike” aardse koning wat altyd sal kan sorg vir kos op hul borde, maar toe hulle hoor dat hy eintlik ewige lewe gee en voedsel vir die siel (wat baie meer belangrik is as die aardse liggaam), toe wil hulle hom nie meer hê nie…

“Moaning en groaning” stap die meeste van hulle weg. “En julle, groepie van twaalf, julle wil tog seker nie ook weggaan nie?”

“Here,” antwoord Petrus, “na wie toe sal ons gaan? U het woorde van die ewige lewe. En ons glo en weet dat U die Heilige van God is.”

‘n Laaste gedagte – baie dinge in die Bybel gee aanstoot. En indien ons hierdie evangelie, die Woord van God getrou verkondig – die Woord van God en nie ons eie woorde wat ons daaruit wil haal nie!, dan sal dit aanstoot gee. Dit sit nie gemaklik aan mense se lywe nie. Dit skaaf en dit skuur. Die uitdaging is om nie stil te raak wanneer mense nie meer wil luister nie. Om nie op te hou verkondig omdat mense ophou kom nie. Daar was ‘n groot skare rondom Jesus toe hy hulle by die meer gevoed het. Die mans alleen was 5000! En hy het daarna ‘n groot gevolg gehad! Want hy het vir hulle gegee wat hulle wou hê. Maar toe hy dieper raak en ernstiger praat, toe drentel meeste mense weg, en van die duisende het ‘n groepie van 12, dalk ‘n paartjies meer, oorgebly. Dit is miskien ‘n waarskuwing vir ons vandag – die van ons wat die evangelie verkondig, predikante maar ook ander gelowiges wat hul getuienisse uitdra: Ons moet versigtig wees vir groot gevolge. Dit beteken nie noodwendig dat ons besig is met die regte verkondiging nie. Dit kan juis die teenoorgestelde beteken…

Jesus is die brood en die bloed wat ware lewe gee. Eet Hom, drink Hom, leer Hom ken, en besef dat jy werklik nie sonder Hom kan leef nie.

 

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.