Job 1-2 – 2015

20 September 2015 Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman 

 

Job 1 -2

1: 1 Daar was ‘n man in die land van Us, en Job was sy naam. Hierdie man was eg (met integriteit) en opreg en hy het God gedien en weggedraai van die kwaad af.

  1. Vir hom is daar sewe seuns en drie dogters gebore.
  2. Sy vee het bestaan uit 7000 skape en bokke, 3000 kamele, 500 paar trekosse, 500 donkies en baie baie slawe. Hierdie man was die vernaamste van almal in die ooste. …

 

  1. Die dag het aangebreek wanneer die seuns van God hul staanplek ingeneem het voor die Here. Die aanklaer/advokaat het ook tussen hulle aangekom.
  2. Toe sê die Here vir die aanklaer: “Waar kom jy vandaan?” En die aanklaer antwoord die Here: “Ek het die aarde deurkruis, ek het oraloor gegaan.
  3. Die Here sê toe vir die aanklaer: “Het jy jou hart neergesit op my dienaar Job?”(Mens dink met jou hart, dws “Het jy gelet op my dienaar Job? Het hy jou aandag getrek?”) Daar is beslis nie nog ‘n man soos hy op aarde nie, ‘n man eg (met integriteit) en opreg, ‘n man wat God dien en wegdraai van die kwaad af.
  4. Toe antwoord die aanklaer vir die Here en sê: “Is dit vir niks dat Job God dien? Het U dan nie ‘n heining opgerig rondom hom en rondom sy huis en rondom alles wat aan hom behoort om dit af te sonder nie? U het die werk van sy hande geseën en sy vee versprei (laat bars) deur die hele land.
  5. Maar stuur nou net u hand en verslaan alles wat aan hom behoort, en kyk of hy U nie in u gesig vervloek nie.”
  6. Die Here sê toe vir die aanklaer: “Kyk, alles wat aan hom behoort is in jou hande. Net teen hom mag jy nie jou hand uitstuur nie.” Die aanklaer het die teenwoordigheid van die Here verlaat. …

 

  1. Job het opgestaan en sy kleed geskeur, hy het sy kop geskeer en hy het neergeval op die grond en hom uitgestrek voor die Here.
  2. Toe sê hy: “Kaal het ek gekom uit die baarmoeder van my moeder en kaal sal ek terugkeer daarheen. Die Here het gegee en die Here het geneem. Laat die naam van die Here geseënd wees!”
  3. In al hierdie dinge het Job nie gesondig nie. En hy het nie vir God (rede tot) skaamte gegee nie. (Hy het nie vir God in die skande gesteek nie.)

2:1 Die dag het (weer) aangebreek wanneer die seuns van God hul staanplek ingeneem het voor die Here. Die aanklaer/advokaat het ook tussen hulle aangekom.

  1. Toe sê die Here vir die aanklaer: “Waar kom jy vandaan?” En die aanklaer antwoord die Here: “Ek het die aarde deurkruis, ek het oraloor gegaan.
  2. Die Here sê toe vir die aanklaer: “Het jy jou hart neergesit op my dienaar Job?”(Mens dink met jou hart, dws “Het jy gelet op my dienaar Job? Het hy jou aandag getrek?”) Daar is beslis nie nog ‘n man soos hy op aarde nie, ‘n man eg (met integriteit) en opreg, ‘n man wat God dien en wegdraai van die kwaad af. Hy klou steeds vas aan sy integriteit, en jy het My aangehits teen hom om hom verniet (vir niks/tevergeerfs) in te sluk (te verswelg).
  3. Die aanklaer antwoord toe die Here en sê: “Vel vir vel! Alles wat die man besit sal hy gee ter wille van sy lewe (om sy eie lewe te beskerm).
  4. Maar stuur nou net u hand en verniel sy been en sy vleis, en kyk of hy U nie in u gesig vervloek nie.”
  5. En die Here sê vir die aanklaer: “Kyk, hier is hy in jou mag (hy is joune om mee te maak net wat jy wil). Net sy lewe moet jy spaar. …

 

  1. Job het ‘n potskerf geneem om hom mee te krap terwyl hy tussen die as gesit het.
  2. Toe sê sy vrou vir hom: “Waarom klou jy steeds vas aan jou integriteit? Vervloek God en sterf!”
  3. Maar Job sê vir haar: “Jy praat soos die gepraat van een van die sinnelose vrouens. As ons die goeie vanaf God ontvang, moet ons nie ook die slegte ontvang nie?” In al hierdie dinge het Job nie gesondig met sy lippe nie.

Virginia Woolf skryf ‘n brief aan ‘n vriend: “I read the book of Job last night. I don’t think God comes out of it well.” Van ‘n sekere hoek af gelees verwoord sy die gevoel van miljoene mense wat al die boek gelees het. Hoe gemaak met hierdie gebeurtenis? Dit kan nie wees nie! Hierdie verhaal is só onwaarskynlik dat mens nie anders kan as om aan die waarheid daarvan te twyfel nie. Laat ek daarom hier aan die begin al te sê dis omdat dit nie waar wás nie. Dit het nie regtig gebeur nie. Ons bevind ons in ‘n sprokie met ‘n ander-wêreldse gevoel. Job is ‘n fiktiewe karakter en kom vanaf ‘n plek wat nie bestaan nie. Ons sou dit eerder ‘n gelykenis kon noem, soos Jona in die vis (ook iets wat nie régtig gebeur het nie). Ons moet dit aan die begin al vir mekaar sê, want dit help nie ons prys die integriteit van ‘n persoon as ons twyfel aan die integriteit van die verhaal wat daar oor hom vertel word nie.

Nou lieg die Bybel dan? Om stories aan ons op te dis ter wille van effek en as motivering in ons eie (rêrige) lewens vir die ideaal hoe om te leef en op te tree? Nee. Want die Bybel het homself nog nooit aangebied as ‘n boek waarin alles feitlik waar en wetenskaplik gegrond is nie. Dit is eerder ‘n boek wat bestaan uit honderde geskrifte – sommige waar en ander weer fiksie, sommige prosa en ander poësie, sommige volksgeskiedenis en biografieë en ander lewenslesse – geskryf oor eeue heen deur hoeveel mense waarvan die meeste nie van mekaar geweet het nie, versamel en te boek gestel deur ‘n gans ander groep.

Dat dit nie feitlik waar is nie neem egter niks weg van die waarde van hierdie verhaal nie. Veral nie as die grootste gedeelte daarvan geskryf is toe die volk in ballingskap gesit het nadat hulle sélf alles verloor het nie – ook hulle vee en hulle slawe en baie van hulle eie kinders het voor hulle oë gesterf of is ontvoer. Hoe gemaak as mens alles verloor het en daar vir jou niks meer oor is nie? Hoe gedink oor God in hierdie omstandighede? Is ‘n verhouding steeds mootlik? Kan ons met Hom die toekoms trotseer noudat ons weet dat Hy nie eens noodwendig diegene seën wat Hom dien, en die straf wat teen Hom sondig nie? Noudat ons weet slegte goed gebeur met goeie mense en daar is geen versekering dat die onheil jou nie gaan tref nie? Sê nou maar net dis hoe God met ons gewerk het? Sê nou maar net daar is vir ons geen versekering van ‘n beskermende heining of ‘n vangnet in ons lewens wanneer ons vir God dien nie? Sou ons Hom dan steeds nog dien?

Job word voorgehou as die prototipiese mens, ‘n voorbeeld vir almal. “Daar was ‘n man, kom ons noem hom sommer Job, en hy het gekom van ‘n plek ver hiervandaan. Het julle al van Us gehoor? Hy was eg (met integriteit) en opreg en hy het God gedien en weggedraai van die kwaad af. Hoor net hoe ryk was Job gewees! Hy het 7 seuns en 3 dogters gehad (beide merkwaardige getalle in die OT, getalle wat dui op volmaaktheid, en dit hou nie hier op nie…). 7000 van die en 3000 van daai, 500 hiervan en 500 daarvan (gesamentlik ‘n 1000). Hierdie was die mees vername man in die Ooste.”

Die boek Job begin en eindig in verhaaltrant. Die storie kry ‘n ruggraat, ‘n agtergrond, ‘n rede. Eendag het God en die aanklaer met mekaar oor ‘n saak verskil. Op aarde was daar ‘n man, one of a kind, sy lewe was sus en so, en God het besluit om vir Job te gebruik om homself as reg teenoor die aanklaer te bewys. Nou het ons die agtergrond wat die verhoog opstel vir die poëtiese gesprekke in die res van die boek. Nadat alles op die ou-end gesê is en Job, ‘n veranderde mens, besluit dis beter om maar liewer stil te bly, keer ons terug na die verhaaltrant van die begin en kry ons ‘n kort opsomming van hoe alles toe na dese afgeloop het. Die boek eindig dan soos wat ons van ‘n tipiese sprokie sou verwag: They all lived happily ever after. Die stof het gaan lê, die storms bedaar, en van die vonke wat in die “bulk” van die boek gespat het, is daar niks meer oor nie.

Die dag het aangebreek wanneer die seuns van God hul staanplek ingeneem het voor die Here. Geleerdes reken dat dit dalk nuwejaarsdag was, en dat dit die dag was waarop God en sy hemelse gevolg vergader het om te praat oor die gang van die wêreld in die jaar wat voorlê. Onder die seuns, boodskappers, engele van God het die aanklaer ook stelling kom inneem. Hy was nie die duiwel van die NT nie, maar eerder die een in die vergadering wat altyd duiwelsadvokaat gespeel het, die een wat vir God “op sy tone” gehou het.

God: “Waar kom jy vandaan?”

Die aanklaer: “Ek het die aarde deurkruis, ek het oraloor gegaan.”

God: “Het jy jou hart neergesit op my dienaar Job? Het jy gelet op hom? Het hy jou aandag getrek? Daar is beslis nie nog ‘n man soos hy op aarde nie, ‘n man eg (met integriteit) en opreg, ‘n man wat God dien en wegdraai van die kwaad af.”

So spog God oor hierdie voortreflike man…

DA: “Is dit vir niks dat Job God dien? Het U dan nie ‘n heining opgerig rondom hom en rondom sy huis en rondom alles wat aan hom behoort om dit af te sonder nie? U het die werk van sy hande geseën en sy vee versprei (laat bars) deur die hele land. Maar stuur nou net u hand en verslaan alles wat aan hom behoort, en kyk of hy U nie in u gesig vervloek nie.”

God: “Kyk, alles wat aan hom behoort is in jou hande. Net teen hom mag jy nie jou hand uitstuur nie.”

Hierdie wedenskap tussen God en die aanklaer het vir Job duur te staan gekom. Nie net sterf sy vee nie, maar ook al sy slawe én al sy kinders vir wie hy so bitterlik lief was.

Job het diep gerou, maar in alles het hy nie gesondig of vir God in die skande gesteek nie. He did Him proud. Maar die duiwelsadvokaat is nie tevrede nie. Toe die hemelse vergadering weer op ‘n dag bymekaarkom (dalk die volgende nuwejaarsdag?) en God uitdruklik vir hom daarop wys dat sy dienaar Job steeds na alles bly vasklou aan sy integriteit en dat die verwoesting wat in sy lewe gesaai is alles dus vir niks was, toe staan die aanklaer nie terug nie.

DA: “Vel vir vel! Alles wat die man besit sal hy gee ter wille van sy lewe (om sy eie lewe te beskerm). Maar stuur nou net u hand en verniel sy been en sy vleis (vat aan sy lyf), en kyk of hy U nie in u gesig vervloek nie.”

Dws: Sy diere en sy slawe en sy kinders se vel in ruil vir sy eie vel – dis nie dieselfde nie. As jy hom regtig wil toets dan sal jy aan die man sélf moet vat.

En hulle gaan wéér ‘n wedenskap aan!

En die Here sê vir die aanklaer: “Kyk, Ek gee hom vir jou, hy is joune om mee te maak net wat jy wil. Jy mag hom net nie doodmaak nie…

(Jammer Job, ek hoop nie jy steur jou te veel aan nuwejaarsvoornemens nie…)

Job eindig op ‘n ashoop met ‘n potskerf in sy hand om sy sere mee te krap, so onherkenbaar verniel dat sy vriende hom nie op ‘n afstand herken nie. Sy vrou kan nie meer al die ellende aanskou nie en vra met reg: “Waarom klou jy steeds vas aan jou integriteit? Vervloek God en sterf!” Maar Job sê vir haar: “Jy praat soos die gepraat van een van die sinnelose vrouens. As ons die goeie vanaf God ontvang, moet ons nie ook die slegte ontvang nie?” In al hierdie dinge het Job nie gesondig met sy lippe nie.

Job se voortreflike karakter was nie gebou op sy rykdom en sy aansien nie. Dit is wat God teenoor die aanklaer wou tuisbring. “Daar is mense wat My dien, nie vir wat hulle uit my hand ontvang nie, maar ten spyte van wat hulle alles in die proses kan verloor.” Anders as wat die volk in die OT geglo het, is alles nie gegiet in die ritme van oorsaak en gevolg nie. Jy word toe nou nie geseën omdat jy God dien of gestraf omdat jy goddeloos is nie. As dit met jou goed gaan in die lewe beteken dit nie noodwendig dat jy ‘n goeie mens is nie, en as dit met jou sleg gaan beteken dit nie dat jy ‘n slegte mens is nie. Vroomheid waarborg nie voorspoed en veiligheid nie. God het in hierdie verhaal van die vroomste mens op aarde ‘n voorbeeld gemaak om dit te bewys.

Job se vrou kan dit glad nie verstaan nie. “Hoekom klou jy so verbete vas aan jou integriteit, Job!? Vervloek God eerder en sterf. Dis beter as om die lewe te hê waarmee jy nou sit.” Maar Job weet daar is fout met die manier hoe mense in God glo. Hy self het nie die antwoorde, maar hy weet daar is meer aan God as die seëninge uit sy hand. Job besef dat Psalm 1 nie ‘n belofte is nie, maar eintlik net ‘n lied wat geskryf en gesing is deur mense wat nog nie die donker kant van die lewe gesien het nie. Daarom is dit Psalm 1 en nie Psalm 150 nie. Want tussen 1 en 150 word daar woorde gegee aan die ontnugtering van ‘n volk wat, nadat hulle alles verloor het, nie meer so simplisties kan dink oor God soos die koor wat in Psalm 1 gesing het nie.

Ons het vandag maar die inleiding van Job gelees, en tussen hier en die laaste hoofstuk vind ons die rouste denkbare konfrontasie met God. Job het nie volstaan by “Die Here en gegee en die Here het geneem; prys die naam van die Here!,” nie. Hy hét by tye kort duskant die vervloeking van God gaan draai. Maar, sal ons sien as ons Job verder lees, Job het God nie gelos nie. Net soos wat God hom nie gelos het net omdat Hy hom nie meer geseën of beskerm het nie. En uit hierdie klaagliedere en strydgesprekke het Job op die ou-end nie antwoorde op sy vrae gekry nie, maar hy het vir God self ontmoet, hy het iets van Hom leer ken, en dit was vir hom genoeg.

Ek ken ‘n man, ‘n dominee, ‘n profeet in hierdie tyd. ‘n Dapper man wat homself voortdurend op die spel plaas vir sake van menswaardigheid. Hy vat die Bybel aan en hy breek dit op ‘n eerlike manier oop. Ek ken nie iemand met meer integriteit as hy nie. Vir dekades was hy in die bediening, altyd besig om die goeie stryd te stry. Hy het die wind van voor en van agter gekry. Die dominees en kerkleiers was sy grootste kritici. Maar hy het nooit gaan lê nie. Uit sy twee kinders het hy een verloor en word die ander een as ‘n swartskaap in die wêreld uitgemaak. Hy het met niks in die wêreld ingekom en hy sal met niks daaruitgaan. Hy dien God nie vir wat hy uit die verhouding kan kry nie. Hy dien Hom nie vir die seëninge wat hy uit sy hand ontvang nie. Hy dien God eenvoudig omdat hy nie anders kan nie, selfs al sou hy álles verloor. Dis ‘n man eg en opreg, vol integriteit. Maak nie saak wat gebeur nie, hy sal nie vir God skaamte bring nie. Vrydag het hierdie man ‘n kort toespraak gehou oor sy bediening. En hy het dit afgesluit met die votum wat ek aan die begin van die diens gelees het:

“Wat is die mens dat U soveel van hom maak, dat U hom so op die hart dra, dat U hom van dag tot dag besoek, hom van oomblik tot oomblik toets? Waarom kyk U nie net vir ‘n oomblik van my af weg nie, net lank genoeg dat ek my spoeg kan insluk.

En God antwoord: Wie wil aan Mý eise stel dat Ek iets aan hom verskuldig is? Alles onder die hemel behoort aan My.

En toe sluit hy af met: Wie dink jy is jy om so min van jouself te dink?”

Is jy bereid om vandag die goeie tekens van brood en wyn uit die hand van God te ontvang sonder enige versekering dat dit môre met jou goed sal gaan?

 

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

1 Samuel 1:1-20 – 2015

13 Oktober 2015 Pinelands (Koninkrykstyd, Belydenisaflegging en Doop)
Prediker: Dr Tiana Bosman 

1: Daar was ‘n man vanaf Ramataïm Zophim, vanaf die bergagtige gebied van Efraim, en sy naam was Elkana. Hy was die seun van Jerogam, die seun van Elihu, die seun van Togu, die seun van Suf, die Efraimiet.

2: Hy het twee vrouens gehad. Die naam van die een was Hanna, en die naam van die tweede was Penina. Penina het kinders gehad, maar Hanna het geen kinders gehad nie.

3: Jaar na jaar het hierdie man opgegaan na die stad om te aanbid en om offers te bring aan die Here van die leërskare in Silo. Dit is waar die twee seuns van Eli, Hofni en Pineas, priesters van die Here was.

4-5: En so was dit op die dag wanneer Elkana sy offer gebring het: Hy het vir Penina, sy vrou, en vir al haar seuns en dogters porsies uitgedeel. Maar vir Hánna het hy het net een porsie gegee, al was Hanna die een vir wie hy die liefste was.

Nou is dit so dat die Here Hanna se moederskoot toegemaak het.

6: Die vrou wat haar mededinger was het haar kwaad gemaak, meer nog, dit was ‘n kwaad wat haar laat bulder het (soos donderweer), omdat die Here haar skoot toegemaak het.

7: So het Penina opgetree jaar na jaar wanneer Hanna opgegaan het na die huis van die Here, so het Penina haar kwaad gemaak, en Hanna het gehuil en niks geëet nie.

8: Elkana, haar man, het vir haar gesê: “ Hanna, waarom huil jy en waarom eet jy nie en waarom is jou hart hartseer? Is ek dan nie beter vir jou as tien seuns nie?”

9: [Op ‘n dag] in Silo nadat hulle geëet en gedrink het, het Hanna opgestaan [en na die tempelplein gegaan om te bid]. Eli die priester het op daai stadium gesit op sy stoel by die deur van die tempel van die Here.

10: Sy het ‘n bitter siel gehad, en sy het tot die Here gebid en onbedaarlik gehuil.

11: Sy het met ‘n eed beloof en gesê: “Here van die leërskare, as U werklik in die ellende van u diensmeisie in kyk, en as U my onthou (aan my dink) en nie u diensmeisie vergeet nie, en as U vir u diensmeisie ‘n seunskind sal gee, dan sal ek hom gee vir die Here al die dae van sy lewe, en ‘n skeermes sal nooit oor sy kop gaan nie.

12: Sy het al hoe driftiger gesmeek voor die aangesig van die Here, en Eli het haar mond dopgehou.

13: Maar Hanna was besig om in haar hart te praat, net haar lippe het gebewe, maar haar stem het hy nie gehoor nie. En Eli het gedink dat sy dronk is.

14: Toe sê Eli vir haar: “Tot wanneer gaan jy dronk wees? Draai die wyn van jou af weg!”

15: Maar Hanna het geantwoord: “Nee, my heer. Ek is ‘n vrou met ‘n hardkoppige gees. Wyn en sterk drank het ek nie gedrink nie. Maar ek het my siel uitgestort voor die Here.”

16: U moenie u diensmeisie uitmaak as ‘n nikswerd vrou nie, want tot nou toe het ek vanuit die reikwydte van my klag en my woede gepraat.

17: En Eli het geantwoord: “Gaan in vrede en die God van Israel sal aan jou versoek toegee, wat ookal jy van Hom gevra het.”

18: Sy sê toe: “Mag u diensmeisie genade vind in u oë.” En die vrou het gegaan op haar weg, en sy het geëet, en haar gesig het nie meer gehang nie.

19: Hulle het vroeg in die oggend opgestaan en die Here aanbid. En hulle het teruggegaan en by hulle huis in Rama aangekom. En Elkana het met Hanna, sy vrou, gemeenskap gehad (haar geken – intiem), en die Here het haar onthou.

20: So het dit met die draai van die dae gekom dat Hanna swanger geword het en sy het ‘n seun verwag. Sy het hom Samuel (God het gehoor) genoem, want sy het hom van die Here af gevra.

Boodskap

‘n Storie wat afspeel in ‘n patriargale gemeenskap waar vrouens geen regte gehad het nie. Hul identiteit het gelê in die identiteit van hul pa, en later hul man en hul seuns. Maar sonder ‘n man aan hulle sy was hulle niks werd nie. Om boonop nog ‘n onvrugbare vrou te wees in ‘n gemeenskap soos hierdie –Here net nie dit nie! Vra maar vir Sara en vir Ragel en vir Hanna. Die spot wat hulle moes verduur, veral uit die monde van ander vrugbare vroue. Die onreg.

Om onvrugbaar te wees het groot ekonomiese implikasies gehad vir vrouens. Hulle toekoms was altyd in die weegskaal. Want vrouens het nie geërf wanneer hulle mans sterf nie. Dogters ook nie. Die erfporsie is onder die seuns verdeel. En indien die man van die huis voor sy vrou te sterwe sou kom, dan was dit die vrou se seun(s) se verantwoordelikheid om vir haar te sorg. Om aan ‘n seun geboorte te skenk was nie bloot ‘n keuse tussen pienk en blou klere nie, dit was ‘n lewensnoodsaaklike versekeringspremie. Ja, daar was die lossingsregte (bv Rut en Boas) waar die naaste volgende manlike familielid die verwese vrou in sy huis kan inneem, maar dit was nie afdwingbaar nie. Vrouens sonder seuns was uitgelewer om dalk eendag op straat te sit.

Ons kan dus begryp dat Hanna bitter graag ‘n seuntjie wou hê. Wat ons egter nie kan verstaan nie is dat sy dan, wanneer sy hierdie kindjie by die Here afsmeek, belowe dat sy hom aan Hom sal teruggee, dat sy hom na die tempel sal bring sodra hy groot genoeg is om daar sy lewe aan die Here toe te wy. Hy sou ‘n Naziriet wees (hulle het nie wyn gedrink of hul hare geskeer nie). Maar met hierdie belofte trek Hanna ‘n streep deur haar gemoedsrus oor die toekoms. Want indien jy jou seun aan die Here opdra en aan die tempeldiens wy, dan behoort daardie kind nie meer aan sy ouers nie en het hy geen reg tot ‘n erfporsie meer nie. Hy sal nie vir sy ma kan sorg indien sy pa sterf nie. Niks het dus verander nie.

Waarom dan met soveel emosie en hardkoppigheid bid en smeek en pleit dat die Here vir haar ‘n seunskind moet gee? Want wat Hanna soek is nie versekering vir die toekoms nie. Sy soek erkenning vir die mens, die vrou!, wat sy is. Onvrugbaarheid was gesien as ‘n straf van God. So lees ons dit ook in die teks: Die Here het haar moederskoot toegemaak. In die voor-wetenskaplike tyd was dit die enigste verklaring wat mense vir onvrugbaarheid kon gee. Soos wat blindheid en verlamming en ander siektetoestande beskou is God se straf vir iets wat jy of jou voorouers verkeerd gedoen het, so was dit ook met onvrugbaarheid. ‘n Wolk van skaamte en skande het oor Hanna gehang, en sy moes voortdurend spot verduur. Veral vanaf die ander vrou wat gewedywer het vir Elkana se liefde en die voordeel van baie kinders gehad het. Voeg hierby toe dat Elkana, die man wat vir Hanna die liefste was, se naam in toekomstige geslagte sou voortleef weens Penina se seuns en nie agv Hanna se seuns nie, want sy het niks gehad nie!

Hanna gaan gebuk onder die onreg van ‘n gemeenskap wat op haar neersien omdat sy nie kan kinders baar nie. Penina spot haar. Haar man, Elkana, verstaan haar nie (“Waarom huil jy…? Is ek dan nie beter vir jou as tien seuns nie?”) Die priester Eli aanskou later haar driftige gebed en smeking oor ‘n afstand terwyl hy op sy stoel by die tempel se deur sit, en hy besluit summier sy is dronk. Hy gee haar nie eens die voordeel van die twyfel nie, maar slinger van daar af sy vooroordele en oordele in haar rigting. Dit laat my dink aan Mahatma Ghandi wat tydens sy verblyf in Suid-Afrika ‘n tyd van geestelike soeke deurgegaan het, maar toe hy een Sondag die trappe van ‘n NGK in Durban bestyg omdat hy gehoop het om daar dalk geestelike rus te vind, toe stuit die gesette koster hom by die deur – hy is nie welkom nie, want hy is nie wit nie. Nogmaals ‘n voorbeeld van die aantasting van ‘n persoon se menswaardigheid…

Maar van alle kante af het Hanna waarskynlik die swaarste gedra aan die oordeel van God. Want die wêreld en die gemeenskap waarbinne sy geleef het, het haar wysgemaak dat God die een is wat haar gestraf het deur haar moederskoot toe te maak sodat sy nie kinders kan kry nie. (Dit herinner mens aan die verhaal van Job…) Hanna kan nie langer stilbly nie en sy wend haar tot die Een wat binne haar verstaan haar liggaam so gevorm het dat sy onvrugbaar is. Die Gewer van lewe wat haar ontneem het daarvan om aan nuwe lewe geboorte te skenk.

Die woorde wat gebruik word om haar gebed tot God te beskryf spreek van rou emosie. Vroeër lees ons al dat Hanna so kwaad geword het oor die spot wat sy moes verduur omdat die Here haar skoot toegemaak het, dat sy soos donderweer gebulder het van woede. En nou hier in die tempelplein voor die aangesig van God het sy haar bitter siel blootgelê, sy het onbedaarlik gehuil, sy het ‘n belofte belowe, sy vra dat die Here van die leërskare (die een wat suksesvolle oorloë kan lei) erns sal maak daarmee om diep in haar ellende in te kyk, om haar te onthou, om haar nie te vergeet nie, om aan haar, sy diensmeisie, ‘n seunskind te gee. Haar gebed het groter en groter geword, wat beteken dat sy al driftiger gesmeek het (12). Sy het nie hardop op die straathoek gebid nie, maar saggies buite die tempel geprewel. Dalk ook saggies vanweë die skande en die skaamte wat sy ervaar het weens haar toestand. Sy verduidelik vir Eli dat sy ‘n hardkoppige gees het en dat sy haar siel (haar lewe!) uitgestort het voor die Here, dat sy vanuit die reikwydte van haar klag en haar woede met Hom gepraat het.

Hanna staan op vir haar reg as mens, sy soek erkenning en respek, sy wil dat die Here haar menswaardigheid sal herstel. En die enigste manier waarop dit kon gebeur, was om haar moederskoot oop te maak sodat sy aan ‘n seuntjie geboorte kan skenk. En toe die seuntjie kom, toe noem sy hom Samuel, “God het gehoor”. Interessant dat sý besluit oor die toekoms van die seun. Gewoonlik was dit so dat ‘n seun aan sy ma behoort het totdat hy oud genoeg was om haar rokspant te los en saam met sy pa te gaan leer boer en jag en oorlog voer. Maar Hanna het ‘n belofte aan die Here gemaak dat sy haar seun na ‘n ander Pa sal bring wanneer die tyd aanbreek. Elkana was in die posisie om ‘n stokkie daarvoor te steek as hy sou wou. Die enigste manier hoe ‘n vrou van haar eed kwytgeskel kon word was wanneer haar man dit teenstaan en sê “dit geld nie meer nie”. Maar Elkana het Hanna se belofte gerespekteer. Haar menswaardigheid het ook in sy oë toegeneem. En toe Samuel oud genoeg was om sonder sy ma voort te gaan (nie 3 nie, maar dalk eerder 10 – nie gespeen van die bors nie, maar gespeen van sy afhanklikheid aan haar), toe doen sy haar belofte gestand.

Sy het nie haar kind vergeet nie. Elke jaar wanneer sy en Elkana na Silo gegaan het om te offer, het Hanna vir Samuel ‘n nuwe kleedjie gemaak en dit vir hom geneem. Sy het ‘n vrou geword wat die wêreld vierkant in die oë kon kyk. En alhoewel sy nie finansiële standvastigheid en versekering vir die toekoms gesoek het nie, het sy dit ook gekry. Eli wat intussen geleer het om op ‘n nuwe manier, met respek!, na hierdie waardige vrou te kyk, het vir Elkana en Hanna geseën en gesê: “ Mag die Here jou uit hierdie vrou ‘n nageslag gee in die plek van die seun wat van die Here afgesmeek is…. En die Here het Hom oor Hanna ontferm, en sy het swanger geword en nog drie seuns en twee dogters gehad.” (2:20-21)

Ons samelewing oordeel nie meer so fel oor vrouens wat nie kan kinders kry nie. Ons verstaan dit nie meer as straf uit die hand van God nie, as ‘n vrou se verdiende loon nie. Maar tog leef ons nie oordeel-vry nie. Ongelukkig veral nie in die geloofsgemeenskap nie. Daar het ander “maatreëls” gekom waarvolgens ons mense se waarde meet. Een daarvan is:

Is jy darem getroud teen ‘n sekere ouderdom? Verál as jy ‘n kind het?

Want as jy nie ‘n goed genoeg verskoning het vir jou ongetroude status maar met ‘n kindjie op jou heup of aan jou sy nie, dan kan dit gebeur (en gebeur dit hopeloos te veel) dat jou waarde in die oë van ander mense afneem.

XXX, jy het vanoggend alleen hier voor gestaan. Sonder ‘n man aan jou sy en sonder die pa van jou kind. Soos Hanna staan jy op vir wat reg is, jy maak aanspraak nie net op jou en jou seun se menswaardigheid nie, maar op julle Godwaardigheid! Jy is een van die dapperste mense wat ek ken, en ek het vir jou die ongelooflikste respek. Jy is ‘n voorbeeld vir elkeen van ons.

Maar dan wil ek ook vir jou sê: Jy is nie alleen nie. Jy voel dalk dikwels alleen, maar ons as gemeente is hier saam met jou. Jy is deel van ons, een van ons. Ons het saam met jou gestaan, ons kinders het saam met joune om die doopvont gestaan. Hulle dra almal dieselfde seël op hulle voorkoppe – die sagte watermerk van God.

Jy is vanoggend hier omdat jy weet dat jy nie sonder God kan of wil leef nie. Jy is ook hier omdat jy weet dat jy nie alleen jou seun kan grootmaak nie. En omdat jy vir hom so lief is, omdat hy vir jou so kosbaar is, kom wy jy hom vandag aan die Here toe. Jy gee hom terug vir sy werklike Pa, die een op wie julle kan staatmaak, die een wat na julle omsien, die een wat op ‘n dag sy eie seun moes afstaan sodat daar plek kan wees op sy skoot vir al ons kinders.

Welkom in die familie van die Here, waar daar vir almal ‘n plek is.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.