1 Samuel 1:1-20 – 2015

13 Oktober 2015 Pinelands (Koninkrykstyd, Belydenisaflegging en Doop)
Prediker: Dr Tiana Bosman 

1: Daar was ‘n man vanaf Ramataïm Zophim, vanaf die bergagtige gebied van Efraim, en sy naam was Elkana. Hy was die seun van Jerogam, die seun van Elihu, die seun van Togu, die seun van Suf, die Efraimiet.

2: Hy het twee vrouens gehad. Die naam van die een was Hanna, en die naam van die tweede was Penina. Penina het kinders gehad, maar Hanna het geen kinders gehad nie.

3: Jaar na jaar het hierdie man opgegaan na die stad om te aanbid en om offers te bring aan die Here van die leërskare in Silo. Dit is waar die twee seuns van Eli, Hofni en Pineas, priesters van die Here was.

4-5: En so was dit op die dag wanneer Elkana sy offer gebring het: Hy het vir Penina, sy vrou, en vir al haar seuns en dogters porsies uitgedeel. Maar vir Hánna het hy het net een porsie gegee, al was Hanna die een vir wie hy die liefste was.

Nou is dit so dat die Here Hanna se moederskoot toegemaak het.

6: Die vrou wat haar mededinger was het haar kwaad gemaak, meer nog, dit was ‘n kwaad wat haar laat bulder het (soos donderweer), omdat die Here haar skoot toegemaak het.

7: So het Penina opgetree jaar na jaar wanneer Hanna opgegaan het na die huis van die Here, so het Penina haar kwaad gemaak, en Hanna het gehuil en niks geëet nie.

8: Elkana, haar man, het vir haar gesê: “ Hanna, waarom huil jy en waarom eet jy nie en waarom is jou hart hartseer? Is ek dan nie beter vir jou as tien seuns nie?”

9: [Op ‘n dag] in Silo nadat hulle geëet en gedrink het, het Hanna opgestaan [en na die tempelplein gegaan om te bid]. Eli die priester het op daai stadium gesit op sy stoel by die deur van die tempel van die Here.

10: Sy het ‘n bitter siel gehad, en sy het tot die Here gebid en onbedaarlik gehuil.

11: Sy het met ‘n eed beloof en gesê: “Here van die leërskare, as U werklik in die ellende van u diensmeisie in kyk, en as U my onthou (aan my dink) en nie u diensmeisie vergeet nie, en as U vir u diensmeisie ‘n seunskind sal gee, dan sal ek hom gee vir die Here al die dae van sy lewe, en ‘n skeermes sal nooit oor sy kop gaan nie.

12: Sy het al hoe driftiger gesmeek voor die aangesig van die Here, en Eli het haar mond dopgehou.

13: Maar Hanna was besig om in haar hart te praat, net haar lippe het gebewe, maar haar stem het hy nie gehoor nie. En Eli het gedink dat sy dronk is.

14: Toe sê Eli vir haar: “Tot wanneer gaan jy dronk wees? Draai die wyn van jou af weg!”

15: Maar Hanna het geantwoord: “Nee, my heer. Ek is ‘n vrou met ‘n hardkoppige gees. Wyn en sterk drank het ek nie gedrink nie. Maar ek het my siel uitgestort voor die Here.”

16: U moenie u diensmeisie uitmaak as ‘n nikswerd vrou nie, want tot nou toe het ek vanuit die reikwydte van my klag en my woede gepraat.

17: En Eli het geantwoord: “Gaan in vrede en die God van Israel sal aan jou versoek toegee, wat ookal jy van Hom gevra het.”

18: Sy sê toe: “Mag u diensmeisie genade vind in u oë.” En die vrou het gegaan op haar weg, en sy het geëet, en haar gesig het nie meer gehang nie.

19: Hulle het vroeg in die oggend opgestaan en die Here aanbid. En hulle het teruggegaan en by hulle huis in Rama aangekom. En Elkana het met Hanna, sy vrou, gemeenskap gehad (haar geken – intiem), en die Here het haar onthou.

20: So het dit met die draai van die dae gekom dat Hanna swanger geword het en sy het ‘n seun verwag. Sy het hom Samuel (God het gehoor) genoem, want sy het hom van die Here af gevra.

Boodskap

‘n Storie wat afspeel in ‘n patriargale gemeenskap waar vrouens geen regte gehad het nie. Hul identiteit het gelê in die identiteit van hul pa, en later hul man en hul seuns. Maar sonder ‘n man aan hulle sy was hulle niks werd nie. Om boonop nog ‘n onvrugbare vrou te wees in ‘n gemeenskap soos hierdie –Here net nie dit nie! Vra maar vir Sara en vir Ragel en vir Hanna. Die spot wat hulle moes verduur, veral uit die monde van ander vrugbare vroue. Die onreg.

Om onvrugbaar te wees het groot ekonomiese implikasies gehad vir vrouens. Hulle toekoms was altyd in die weegskaal. Want vrouens het nie geërf wanneer hulle mans sterf nie. Dogters ook nie. Die erfporsie is onder die seuns verdeel. En indien die man van die huis voor sy vrou te sterwe sou kom, dan was dit die vrou se seun(s) se verantwoordelikheid om vir haar te sorg. Om aan ‘n seun geboorte te skenk was nie bloot ‘n keuse tussen pienk en blou klere nie, dit was ‘n lewensnoodsaaklike versekeringspremie. Ja, daar was die lossingsregte (bv Rut en Boas) waar die naaste volgende manlike familielid die verwese vrou in sy huis kan inneem, maar dit was nie afdwingbaar nie. Vrouens sonder seuns was uitgelewer om dalk eendag op straat te sit.

Ons kan dus begryp dat Hanna bitter graag ‘n seuntjie wou hê. Wat ons egter nie kan verstaan nie is dat sy dan, wanneer sy hierdie kindjie by die Here afsmeek, belowe dat sy hom aan Hom sal teruggee, dat sy hom na die tempel sal bring sodra hy groot genoeg is om daar sy lewe aan die Here toe te wy. Hy sou ‘n Naziriet wees (hulle het nie wyn gedrink of hul hare geskeer nie). Maar met hierdie belofte trek Hanna ‘n streep deur haar gemoedsrus oor die toekoms. Want indien jy jou seun aan die Here opdra en aan die tempeldiens wy, dan behoort daardie kind nie meer aan sy ouers nie en het hy geen reg tot ‘n erfporsie meer nie. Hy sal nie vir sy ma kan sorg indien sy pa sterf nie. Niks het dus verander nie.

Waarom dan met soveel emosie en hardkoppigheid bid en smeek en pleit dat die Here vir haar ‘n seunskind moet gee? Want wat Hanna soek is nie versekering vir die toekoms nie. Sy soek erkenning vir die mens, die vrou!, wat sy is. Onvrugbaarheid was gesien as ‘n straf van God. So lees ons dit ook in die teks: Die Here het haar moederskoot toegemaak. In die voor-wetenskaplike tyd was dit die enigste verklaring wat mense vir onvrugbaarheid kon gee. Soos wat blindheid en verlamming en ander siektetoestande beskou is God se straf vir iets wat jy of jou voorouers verkeerd gedoen het, so was dit ook met onvrugbaarheid. ‘n Wolk van skaamte en skande het oor Hanna gehang, en sy moes voortdurend spot verduur. Veral vanaf die ander vrou wat gewedywer het vir Elkana se liefde en die voordeel van baie kinders gehad het. Voeg hierby toe dat Elkana, die man wat vir Hanna die liefste was, se naam in toekomstige geslagte sou voortleef weens Penina se seuns en nie agv Hanna se seuns nie, want sy het niks gehad nie!

Hanna gaan gebuk onder die onreg van ‘n gemeenskap wat op haar neersien omdat sy nie kan kinders baar nie. Penina spot haar. Haar man, Elkana, verstaan haar nie (“Waarom huil jy…? Is ek dan nie beter vir jou as tien seuns nie?”) Die priester Eli aanskou later haar driftige gebed en smeking oor ‘n afstand terwyl hy op sy stoel by die tempel se deur sit, en hy besluit summier sy is dronk. Hy gee haar nie eens die voordeel van die twyfel nie, maar slinger van daar af sy vooroordele en oordele in haar rigting. Dit laat my dink aan Mahatma Ghandi wat tydens sy verblyf in Suid-Afrika ‘n tyd van geestelike soeke deurgegaan het, maar toe hy een Sondag die trappe van ‘n NGK in Durban bestyg omdat hy gehoop het om daar dalk geestelike rus te vind, toe stuit die gesette koster hom by die deur – hy is nie welkom nie, want hy is nie wit nie. Nogmaals ‘n voorbeeld van die aantasting van ‘n persoon se menswaardigheid…

Maar van alle kante af het Hanna waarskynlik die swaarste gedra aan die oordeel van God. Want die wêreld en die gemeenskap waarbinne sy geleef het, het haar wysgemaak dat God die een is wat haar gestraf het deur haar moederskoot toe te maak sodat sy nie kinders kan kry nie. (Dit herinner mens aan die verhaal van Job…) Hanna kan nie langer stilbly nie en sy wend haar tot die Een wat binne haar verstaan haar liggaam so gevorm het dat sy onvrugbaar is. Die Gewer van lewe wat haar ontneem het daarvan om aan nuwe lewe geboorte te skenk.

Die woorde wat gebruik word om haar gebed tot God te beskryf spreek van rou emosie. Vroeër lees ons al dat Hanna so kwaad geword het oor die spot wat sy moes verduur omdat die Here haar skoot toegemaak het, dat sy soos donderweer gebulder het van woede. En nou hier in die tempelplein voor die aangesig van God het sy haar bitter siel blootgelê, sy het onbedaarlik gehuil, sy het ‘n belofte belowe, sy vra dat die Here van die leërskare (die een wat suksesvolle oorloë kan lei) erns sal maak daarmee om diep in haar ellende in te kyk, om haar te onthou, om haar nie te vergeet nie, om aan haar, sy diensmeisie, ‘n seunskind te gee. Haar gebed het groter en groter geword, wat beteken dat sy al driftiger gesmeek het (12). Sy het nie hardop op die straathoek gebid nie, maar saggies buite die tempel geprewel. Dalk ook saggies vanweë die skande en die skaamte wat sy ervaar het weens haar toestand. Sy verduidelik vir Eli dat sy ‘n hardkoppige gees het en dat sy haar siel (haar lewe!) uitgestort het voor die Here, dat sy vanuit die reikwydte van haar klag en haar woede met Hom gepraat het.

Hanna staan op vir haar reg as mens, sy soek erkenning en respek, sy wil dat die Here haar menswaardigheid sal herstel. En die enigste manier waarop dit kon gebeur, was om haar moederskoot oop te maak sodat sy aan ‘n seuntjie geboorte kan skenk. En toe die seuntjie kom, toe noem sy hom Samuel, “God het gehoor”. Interessant dat sý besluit oor die toekoms van die seun. Gewoonlik was dit so dat ‘n seun aan sy ma behoort het totdat hy oud genoeg was om haar rokspant te los en saam met sy pa te gaan leer boer en jag en oorlog voer. Maar Hanna het ‘n belofte aan die Here gemaak dat sy haar seun na ‘n ander Pa sal bring wanneer die tyd aanbreek. Elkana was in die posisie om ‘n stokkie daarvoor te steek as hy sou wou. Die enigste manier hoe ‘n vrou van haar eed kwytgeskel kon word was wanneer haar man dit teenstaan en sê “dit geld nie meer nie”. Maar Elkana het Hanna se belofte gerespekteer. Haar menswaardigheid het ook in sy oë toegeneem. En toe Samuel oud genoeg was om sonder sy ma voort te gaan (nie 3 nie, maar dalk eerder 10 – nie gespeen van die bors nie, maar gespeen van sy afhanklikheid aan haar), toe doen sy haar belofte gestand.

Sy het nie haar kind vergeet nie. Elke jaar wanneer sy en Elkana na Silo gegaan het om te offer, het Hanna vir Samuel ‘n nuwe kleedjie gemaak en dit vir hom geneem. Sy het ‘n vrou geword wat die wêreld vierkant in die oë kon kyk. En alhoewel sy nie finansiële standvastigheid en versekering vir die toekoms gesoek het nie, het sy dit ook gekry. Eli wat intussen geleer het om op ‘n nuwe manier, met respek!, na hierdie waardige vrou te kyk, het vir Elkana en Hanna geseën en gesê: “ Mag die Here jou uit hierdie vrou ‘n nageslag gee in die plek van die seun wat van die Here afgesmeek is…. En die Here het Hom oor Hanna ontferm, en sy het swanger geword en nog drie seuns en twee dogters gehad.” (2:20-21)

Ons samelewing oordeel nie meer so fel oor vrouens wat nie kan kinders kry nie. Ons verstaan dit nie meer as straf uit die hand van God nie, as ‘n vrou se verdiende loon nie. Maar tog leef ons nie oordeel-vry nie. Ongelukkig veral nie in die geloofsgemeenskap nie. Daar het ander “maatreëls” gekom waarvolgens ons mense se waarde meet. Een daarvan is:

Is jy darem getroud teen ‘n sekere ouderdom? Verál as jy ‘n kind het?

Want as jy nie ‘n goed genoeg verskoning het vir jou ongetroude status maar met ‘n kindjie op jou heup of aan jou sy nie, dan kan dit gebeur (en gebeur dit hopeloos te veel) dat jou waarde in die oë van ander mense afneem.

XXX, jy het vanoggend alleen hier voor gestaan. Sonder ‘n man aan jou sy en sonder die pa van jou kind. Soos Hanna staan jy op vir wat reg is, jy maak aanspraak nie net op jou en jou seun se menswaardigheid nie, maar op julle Godwaardigheid! Jy is een van die dapperste mense wat ek ken, en ek het vir jou die ongelooflikste respek. Jy is ‘n voorbeeld vir elkeen van ons.

Maar dan wil ek ook vir jou sê: Jy is nie alleen nie. Jy voel dalk dikwels alleen, maar ons as gemeente is hier saam met jou. Jy is deel van ons, een van ons. Ons het saam met jou gestaan, ons kinders het saam met joune om die doopvont gestaan. Hulle dra almal dieselfde seël op hulle voorkoppe – die sagte watermerk van God.

Jy is vanoggend hier omdat jy weet dat jy nie sonder God kan of wil leef nie. Jy is ook hier omdat jy weet dat jy nie alleen jou seun kan grootmaak nie. En omdat jy vir hom so lief is, omdat hy vir jou so kosbaar is, kom wy jy hom vandag aan die Here toe. Jy gee hom terug vir sy werklike Pa, die een op wie julle kan staatmaak, die een wat na julle omsien, die een wat op ‘n dag sy eie seun moes afstaan sodat daar plek kan wees op sy skoot vir al ons kinders.

Welkom in die familie van die Here, waar daar vir almal ‘n plek is.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.