Deuteronomium 6 – 2015

25 Oktober 2015 Pinelands – Doopdiens
Prediker: Dr Tiana Bosman 

 

Annabelle Enslin se doop in Pinelands

Die Israeliete se omswerwinge in die woestyn is verby en Moses spreek hulle duskant die Jordaan toe – sy laaste onderwysinge voordat hulle sonder hom die rivier sal oorsteek en die beloofde land Kanaän in besit sal neem.

Die mense in die tyd van die OT het in baie gode geglo, maar die gode was gebiedsgebonde. Elke land het sy eie gode gehad. Daarom was Jakob so verbaas toe hy vlug en God hom in ‘n droom op ‘n vreemde plek ontmoet. Gen 28:16: “Die Here is op hierdie plek en ek het dit nie besef nie!” Daarom was dit vir die volk so belangrik om deurgaans daarvan verseker te word dat God sáám met hulle trek.

Die gebruik onder die heidene was dat, indien jy ‘n nuwe gebied binnegaan, dan moet jy daardie gebied se gode begin aanbid. As jy dit nie doen nie, maak jy die gode van daardie land kwaad en sal hulle hul op jou wreek. Die versoeking sou dus vir die Israeliete baie groot wees om die gode van Kanaän te begin aanbid sodra hulle hul voete daar sit.

Nadat Moses ‘n slaggie asemskep in sy toespraak, val hy met die volgende deurslaggewende paragraaf weg:

4     שְׁמַ֖ע יִשְׂרָאֵ֑ל יְהוָ֥ה אֱלֹהֵ֖ינוּ יְהוָ֥ה׀ אֶחָֽד׃

5     וְאָ֣הַבְתָּ֔ אֵ֖ת יְהוָ֣ה אֱלֹהֶ֑יךָ בְּכָל־לְבָבְךָ֥ וּבְכָל־נַפְשְׁךָ֖ וּבְכָל־מְאֹדֶֽךָ׃

6:4 Luister Israel, die Here ons God, die Here is een.

Die Shema is die naam van die Joodse oggend(- en aand)gebed. Tradisie-vaste Jode resiteer die Shema as hulle laaste woorde voor hul sterf, en ouers leer hulle kinders om dit te bid voordat hulle in die aand gaan slaap. Dit is ook die eerste geloofsbelydenis in die Bybel. Die belydenis wat die Joodse volk so goed geken het (en vandag steeds ken) soos wat ons die Onse Vader gebed of die Nederlandse Geloofsbelydenis ken en kan opsê. Tydens WO2 het die Jode hierdie belydenis geprewel terwyl hulle na die gaskamers masjeer het.

Shema Israel – Luister Israel – ‘n oproep om ernstig aandag te gee en gehoorsaam te wees aan (ag te slaan op) wat kom. Let op die twee groot letters aan die begin en die einde van die sin – ongewoon, uniek in die BH, en dui op die besonderse inhoud van hierdie sin.

Die Here ons God, die Here is een.

  1. God alleen is God, die enigste god wat bestaan.
  2. God is uniek, onvergelykbaar.
  3. God is enkelvoudig, net een, nie soos die ander volke wat ‘n paneel van gode gehad het nie.

Omdat God enig, uniek en een is, is Hy ‘n “jaloerse” God en verwag Hy eksklusiewe en onverdeelde liefde van die volk aan wie Hy Homself toevertrou het, die volk met wie Hy in ‘n verbondsverhouding getree het. Nie omdat hulle so wonderlik is nie (hulle is die kleinste van al die volke – wurm Israel), maar omdat Hy al hierdie belofte aan hul voorvaders Abraham, Isak en Jakob gemaak het, en die nageslag word in die verbond ingesluit. Van daar die oproep wat spruit uit die belydenis:

6:5 Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart (jou denke) en met jou hele siel (jou lewe) en met al jou krag (besittings, krag en vermoëns – alles wat jy na die tafel kan bring).

In daardie kultuur was dit ongewoon, selfs ongehoord, vir ‘n mindere om ‘n meerdere lief te hê. (Kinders kon nie hul ouers “liefhê” nie en vrouens, behalwe 3 uitsonderings, kon nie hul mans “liefhê” nie.) Tewens, die woord vir “liefhê” was glad nie so emosioneel gelade soos vandag nie. Wanneer God die volk of individue “liefhet”, was die fokus op God se verkiesing van die volk/mense en sy belofte dat Hy toegewyd is aan hulle (commitment). En wanneer Hy in ruil verwag dat die volk Hom moet liefhê, vra Hy onverdeelde trou en lojaliteit aan Hom. ‘n Allesomvattende lojaliteit – lojaal aan Hom alleen in al jou gedagtes en met jou ganse lewe en met alles wat jy tot jou beskikking het.

In ‘n land van vele (af)gode, is liefde vir die Here wat uitdrukking vind in lojaliteit aan die Hom al wat vir die volk moet saakmaak. Hulle moenie hul fokus verloor nie. Om die volk hiermee te help, sit Moses dan ‘n rits hulpmiddels in plek:

6:6 Hierdie woorde wat ek vandag vir jou beveel moet op jou hart (> in jou gedagtes) bly.

6:7 Graveer hulle (die woorde) vir jou kinders (dws prent dit vir hulle in) en praat met hulle wanneer jy sit in jou huis en wanneer jy loop in die pad (wanneer jy op weg is) en wanneer jy lê en wanneer jy opstaan.

6:8 Bind hulle as ‘n teken aan jou hand en hulle moet simbole wees tussen jou oë.

6:9 Skryf hulle op jou deurkosyne en in jou hekke (stadspoorte – daar waar die reg beslis word).

Mezuzah beteken deurkosyn, maar toe hierdie praktyk begin het, het dit die woord geword vir beide die kosyn sowel as die houertjie wat aan die kosyn vasgemaak moet word (PP). Binne die houertjies is sentrale teksverse, destyds geskryf op perkament (dun papieragtige materiaal gemaak van die leer van diere), maar vandag op papier. Altyd Deut 6:4-9 en 11:13-21, en soms ook die dekaloog of 10 Gebooie, Eks 13:1-16 en Num 10:35-36.

Die tefillin is swart leer boksies wat met riempies aan die voorkop of aan die hande vasgemaak word, en binne die boksies is dieselfde skrifgedeeltes. Vandag nog bind die Joodse mans (en soms vroue, maar nie verpligtend vir hulle) elke oggend hierdie boksies aan hul voorkoppe en hande vas ter voorbereiding om hul gebede te doen. Nie net in die oggende nie; soms ook saans of tydens ander geloofsrituele soos begrafnisse of sommige feeste.

6:10 Dan wanneer die Here jou God jou bring in die land wat Hy beloof het aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob om vir jou te gee… 12: wees dan versigtig om nie te vergeet / maak seker dat jy nie vergeet die Here wat jou gebring het uit die land van Egipte, die huis van slawerny nie.

6:20 Wanneer jou seun (> jou kinders) in die toekoms vir jou vra: ‘Wat is die die verordeninge en die voorskrifte en die bepalings wat die Here ons God jou beveel het?’

6: 21 Dan moet jy sê: ‘Ons was sláwe vir Farao in Egipte, maar die Here het ons met ‘n kragtige hand uit Egipte uitgelei…’

Is hierdie gebruike uitgedien? Allermins. Dit is vandag nog “alive and well” binne die Joodse gemeenskappe. Dit is vir hulle identiteitsbepalend – dit vat saam wie hulle is, waar hulle vandaan kom, aan wie hulle behoort en aan wie hul hulself toewy, en hoe en waarmee hulle hul kinders onderrig. Dag in en dag uit onderrig. Naas die mezuzot en die tefillin is daar nog twee ander gebruike wat ook vanaf die OT tyd die Jode se identiteit gevorm het – die onderhouding van die Sabbat en die besnydenis.

G’n wonder hulle was so ontsteld toe die rabbi Jesus kom en met sy eie dade die Sabbatswet oortree nie. Jesus het dit egter gehad teen die slaafse, wettiese, betekenislose, leë onderhouding van die uiterlike rituele wat nie meer getuig van ‘n lewende verbondsverhouding met God nie. Die volk het baie gou in die Beloofde Land al vergeet van hulle enigste ware God en die Kanaäniete se (af)gode begin aanhang. So met die boksies aan hul kosyne, voorkoppe en hande, die onderhouding van die Sabbat en elke seuntjie wat besny is, het hulle keer op keer in hul dade gewys dat hulle nie meer toegewyd is aan, lojaal is aan God nie, dat hulle Hom nie meer liefhet met hulle hele verstand, hul ganse lewe en al hulle krag nie. Jesus het dit teen die skynheilige praktyk om aan die rituele vas te klou maar van die grootste gebod af te sien. Hy wil nie hê dat leiers in die gemeenskap en ouers vir hul kinders die een ding moet leer, maar dan in hul eie lewens ‘n voorbeeld van die teenoorgestelde moet wees nie. In Matteus 23:5 het Hy baie sarkasties daaroor gepraat – die breë gebedsbande om hulle voorkop en die ekstra groot tossels aan die some van hul klede sodat hulle deur mense gesien kan word, maar hulle kom nie meer die gebod van liefde na nie.

In sy onderwysing bring Jesus hulle dan terug na die inhoud van die boksies – “Meester, wat is die grootste gebod in die wet?” probeer ‘n wetskenner hom vastrek … “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod.” Jesus ken die Shema. Maar dan gaan hy verder as die Shema en hy voeg ‘n tweede gebod hierby toe, een wat ons al aantref in Lev 19:18: ‘Die tweede gebod wat hieraan gelyk staan is, jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Op hierdie twee gebooie berus die hele Wet en die Profete” (Matt 22:36-40).

Jesus was ‘n Jood, Hy het die Shema geken en Hy sou dit ook bid. Maar Hy het die inhoudelike betekenis daarvan kom herstel – die boksies, het Jesus vir die mense kom leer, is nie leeg nie – dit gaan juis oor die inhoud wat daarbinne geskryf staan! Dit help nie julle besny jul seuns, maar julle harte is nie besny nie. Dit help nie julle onderhou die Sabbat, maar mense gaan dood omdat julle hulle nie wil bystaan, versorg en gesondmaak nie. Dit help nie, dissipels van my, dat julle my toe staan en by my kom leer, maar julle jaag die kindertjies weg nie – die koninkryk is juis vir kinders bedoel. Wie die koninkryk van God nie soos ‘n kind ontvang nie, sal dit nooit beleef nie! (Markus 10:13-16).

Annabelle is vanoggend gedoop, ‘n daad van God self, ‘n heilige sakrament. Hier het vanoggend veel meer gebeur as wat ons met die blote oog kan sien. Sy kan nog geen wette onderhou nie, niks verstaan daarvan nie (maak nie saak hoe slim haar ouers is nie). Klein soos sy is, wurmpie Annabelle – aan haar beloof God sy liefde, genade en trou, onvoorwaardelik. En wat Hy van julle vra, Nico en Charlotte-Louise, is nie dat julle vir haar al die honderde wette van die OT moet leer nie. Nie eens die 10 Gebooie is deurslaggewend nie. Leer haar net díe drie sinne:

Shema Annabelle, Adonai Eloheino, Adonai ehad. (Luister Annabelle, die Here ons God, die Here is een.

Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou ganse lewe, en met al jou krag.

Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Niks meer nie, maar ook niks minder nie. Prent dit vir haar in. Praat met haar wanneer julle sit in julle huis en wanneer julle gaan stap om die blok. Wanneer sy julle wakkerhou in die nag en wanneer julle opstaan in die oggend. Skryf dit oor julle huis, maar veel belangriker as dit – skryf dit oor jul eie lewens.

 

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Job 38:1-7, 34-41 – 2015

18 Oktober 2015 Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Julle ken die idioom: Iemand het Job se geduld en Salomo se wysheid? Wel, so paar weke terug het ons gehoor dat Salomo dikwels in sy lewe juis nie wys opgetree het nie. Om hom as uitmuntende voorbeeld van ‘n wyse persoon voor te hou, is dalk nie aldag so wys nie. Oor die geduld van Job moet ons dieselfde sê. Want deur hierdie idioom wil ons iemand prys omdat hy of sy so besonders geduldig is, maar Job se geduld was van korte duur. In die Bybelboek oor hom van 42 hoofstukke, het Job se geduld aan die einde van hoofstuk 2 opgeraak. Dit is wat gebeur wanneer ons enkele versies of teksgedeeltes uit die Bybel neem en dit dan as die norm beskou…

Van hfst 3 af begin Job om vir God tot verantwoording op te roep. Na talle hoofstukke van wroeging, vrae, vuiste skud en beskuldigings (Hoekom ly ek so verskriklik en so onregverdig??) tree God in Hfst 38 toe tot die (stryd)gesprek. Ons het net enkele verse gelees, maar weereens sal ons dit in die lig van die groter konteks van hfste 38-41 moet beskou.

“Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom met woorde wat getuig dat hy geen insig het nie? Gord dan soos ‘n man jou heupe: Ek sal vra, leer/onderrig jy vir My.” Dws nie ‘n vra in die sin van kruisverhoor nie, maar eerder soos die vrae wat ‘n leerling aan sy onderwyser stel. “Wees jy nou die onderwyser, Job, en ek, God, sal in die skoolbank kom inskruif. Jy dink mos jy weet alles.”

Gord dan soos ‘n man jou heupe: Dit is direk vertaal vanuit die Hebreeus en was ‘n baie bekende idioom van daardie tyd. Die mans het lang klede/rokke gedra. Dit was deel van hulle alledaagse kleredrag. Maar wanneer daar ‘n geveg op hande was of aan met die aanvang van ‘n oorlog of selfs bloot net wanneer die man homself moes regkry vir fisiese aksie soos om vinnig te hardloop, was die kleed lastig en in die pad gewees. Wat die mans dan gedoen het was om die soom van die kleed te neem, dit tussen hul bene op te trek (amper soos ‘n doek!), en dan voor by hul belt in te steek. Dit het gemaak dat hulle makliker kon beweeg. Hierdie baie praktiese raad wat hul met klede gehad het, was mettertyd gegiet in ‘n idioom met die betekenis: berei jou voor vir ‘n moeilike taak. Job se moeilike taak was om nou, nadat hy al sy vrae gevra en beskuldigings geswaai het, aan die ontvangkant van die vrae te gaan staan, en te kyk of hy antwoorde het vir God.

  1. Dit is die eerste ding wat opval. Job was bang dat God hom dalk sal verpletter. Maar God is nie afsydig nie en nie vyandig nie; Hy is by Job, Hy luister. Maar wanneer God uiteindelik tot die gesprek toetree, antwoord Hy glad nie Job se vrae aangaande die onregverdige lyding wat hy moes verduur nie. God kom eerder met ‘n rits vrae van sy eie. Alles te doen met die geheimenisse van die skepping. Mens wil nou eintlik vra: Wat het dit met die prys van eiers te doen? Probeer God om Job se vrae te ontduik? Job het immers nooit God se mag of wysheid ontken nie. Hy het God se regverdigheid betwyfel. Hy wou ‘n baie spesifieke antwoord hê: Hy wou hê dat God moes bely dat Job onskuldig is en dat God dus onregverdig teenoor hom opgetree het. God moes hom gelyk gee teenoor sy vriende. (Maar eintlik staan Job veel nader aan sy vriende as wat hy graag sou wou dink. Hulle werk met dieselfde simplistiese vergeldingskema. Sy vriende: God is regverdig, dus is Job se lyding die gevolge van sy sonde. Job: Ek ly al het ek geen sonde nie, dus is God onregverdig.) Terselfdertyd verwag Job eintlik geen antwoord van God af nie. As skuldige sou God eerder wegkruip as om tot die regstryd toe te tree (hfst 29-31).

Wanneer God dan verrassend genoeg wel tot die stryd toetree, dan vra Hy vrae wat heeltemal bo Job se vuurmaakplek is, vrae oor die groot kosmiese gebeure en toestande, vrae oor daardie dele van die natuur wat wel “naby” die mens is, maar nogtans grootliks ongekend en ongetem bly, vrae wat dalk op ‘n manier vir Job wil sê: Moenie met My sukkel nie. Ek is wyser en sterker as jy.

  1. Die tweede ding wat vanuit Job se verhaal na vore kom, is dat daar geen een enkele bevredigende antwoord is op lyding nie. Om vanuit een bepaalde hoek daarna te kyk, sal misleidend wees. Kan ons in elk geval ooit lyding verstandelik bemeester? Dan trap ons in dieselfde strik as Job en sy vriende. Die vriende moes leer dat lyding nié altyd die gevolg van sonde is nie. Job moes op sy beurt leer dat onskuldige lyding nie beteken dat God daarom onregverdig is nie. Ons moet baie versigtig wees om te vinnig afleidings te probeer maak oor lyding. Hierdie tipe antwoorde werk soms, maar dikwels is dit verkeerd en onmenslik (God het vir Hom die mooiste blommetjie kom pluk om in sy hemelse tuin te plant – soos Natan en die ooilam). Boonop is selfs korrekte antwoorde vir die persoon wat ly van min waarde. Die teorie bring nie ‘n einde aan die lyding nie. Ons raak ook nie lyding baas as ons heeltyd by lyding vassteek nie. God se antwoord is net dit: “Hier is my wêreld; hier is Ek – by jou.”

 

  1. Dit bring ons by die derde punt. “Hier is my wêreld. Kyk verby jouself en sien vir ‘n slaggie raak wat Ek alles geskep het!” Job het die teorieë geken, hy was ‘n man wat kon redeneer, maar dit help hom nie. Hy begryp die werklikheid eers wanneer hy uitgedaag word om verby sy lyding te kyk en God se rol oor te neem. Dan kry hy ‘n reality check.

Die briljante filosoof, astroloog, fisikus en wiskundige van die 17e eeu (die eeu van die wetenskaplike rewolusie), Isaac Newton, verstaan iets van hoe klein ons is en hoe groot die wêreld om ons is wanneer hy oor sy eie ontdekkings sê: “Ek het maar rondgeloop langs die strande van die groot oseane van kennis en ‘n paar keer daar ‘n bietjie met enkele skulpies en sandkorreltjies gespeel”.

God se probleem met Job was dat alles om homself begin draai het. Sy lyding het van hom ‘n gevangene van sy eie wêreld gemaak, selfbehep gemaak. God se antwoord behandel nie Job se probleem (kla baie uitleggers), want dit vra juis dat Job moet wegkyk van sy probleem af! Ons mag nie lyding ligtelik afmaak nie, veral ook nie ander mense se lyding nie, maar in ons hantering van lyding moet ons nie daardeur verswelg word nie. Elke poging om mense se lyding draaglik te maak bestaan daarin dat ons aan die mense die een of ander uitsig gee – iets wat hulle laat wegkyk van hulle eie lyding. (Daar is goeie en swak maniere om dit te doen. Soms sê ons in situasies iets net om nie iets niks te sê nie, word ons ware Jobstroosters). Dit vra dat ons opreg meegevoel, medelye sal hê met mense wat swaarkry, dat ons hulle hand sal vashou, na hulle sal luister, en nie resepmatige antwoorde sal gee nie. Ons kan nie altyd insig hê in ons situasies nie, maar ons word geroep om altyd uitsig te soek, of uitsig te gee aan ander mense in nood. Sonder uitsig kan mense aan hul lyding bly vaskleef en dit selfs verhef tot hul enigste waarheid, tot ál wat hulle ken.

Harold Fisch herinner ons dat van die oorlewendes van die Nazi-kampe getrou het, kinders en suksesvolle loopbane gehad het, gelag, gehuil en gelewe het. Met letsels ja, maar nie sonder lig en hoop nie.

God se antwoord los nie die probleem op deur daarop te konsentreer nie, maar deur die weg verby dit aan te dui. God, wat ongevraag na die hele skepping omsien en dit versorg, behou die verhouding met “my kneg Job”. In die ontmoeting bly Job mens en menswaardig. Job, wat sy lyding verwerp, word ook uitgedaag om sy obsessie daarmee agter te laat. Lyding mag nie verafgod word nie.

  1. Alhoewel God nie afwesig is in Job se lyding nie, alhoewel Hy nie afsydig is nie maar deurentyd by hom bly, antwoord God nie Job se vraag nie. Hy tree met hom in gesprek, maar Hy gee nie antwoorde nie.
  1. Daar is dikwels (meestal?) nie ‘n antwoord op lyding nie. Die antwoord op Job se lyding lê buite menselike begrip. In sy lyding word ‘n kosmiese stryd gestry. En wanneer Job se lyding op ‘n end is, sê hy self dat hy sy hand liewer op sy mond plaas: Hy sal liewer niks sê nie. En dit is wanneer Job by die daardie punt kom, dat hy eintlik vir die eerste keer werklik “reg” begin praat oor God, juis daar waar hy besluit om eerder te swyg…
  1. Die antwoord wat God aan Job gee, is om verby sy lyding te kyk, om daardeur te leef. En hiermee vee God nie Job se lyding van die tafel af asof dit eintlik niks is in die groter prentjie nie. Tot in die laaste hfst behou Hy sy respek vir Job (wanneer mense al hul respek vir die man verloor het), en verwys Hy na Job as “my kneg Job”. En God se laaste woord in die boek Job is ook nie sy laaste woord nie. Hy gee persoonlik gestalte aan hierdie Woord van Hom wanneer Jesus mens word, en Jób word, en as onskuldige ly – in meegevoel, liefde en verbondenheid aan alle ander mense wat sukkel om die stryd te stry en verby dit te leef.

Jy is nie alleen in jou lyding nie.

 

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.