Job 38:1-7, 34-41 – 2015

18 Oktober 2015 Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Julle ken die idioom: Iemand het Job se geduld en Salomo se wysheid? Wel, so paar weke terug het ons gehoor dat Salomo dikwels in sy lewe juis nie wys opgetree het nie. Om hom as uitmuntende voorbeeld van ‘n wyse persoon voor te hou, is dalk nie aldag so wys nie. Oor die geduld van Job moet ons dieselfde sê. Want deur hierdie idioom wil ons iemand prys omdat hy of sy so besonders geduldig is, maar Job se geduld was van korte duur. In die Bybelboek oor hom van 42 hoofstukke, het Job se geduld aan die einde van hoofstuk 2 opgeraak. Dit is wat gebeur wanneer ons enkele versies of teksgedeeltes uit die Bybel neem en dit dan as die norm beskou…

Van hfst 3 af begin Job om vir God tot verantwoording op te roep. Na talle hoofstukke van wroeging, vrae, vuiste skud en beskuldigings (Hoekom ly ek so verskriklik en so onregverdig??) tree God in Hfst 38 toe tot die (stryd)gesprek. Ons het net enkele verse gelees, maar weereens sal ons dit in die lig van die groter konteks van hfste 38-41 moet beskou.

“Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom met woorde wat getuig dat hy geen insig het nie? Gord dan soos ‘n man jou heupe: Ek sal vra, leer/onderrig jy vir My.” Dws nie ‘n vra in die sin van kruisverhoor nie, maar eerder soos die vrae wat ‘n leerling aan sy onderwyser stel. “Wees jy nou die onderwyser, Job, en ek, God, sal in die skoolbank kom inskruif. Jy dink mos jy weet alles.”

Gord dan soos ‘n man jou heupe: Dit is direk vertaal vanuit die Hebreeus en was ‘n baie bekende idioom van daardie tyd. Die mans het lang klede/rokke gedra. Dit was deel van hulle alledaagse kleredrag. Maar wanneer daar ‘n geveg op hande was of aan met die aanvang van ‘n oorlog of selfs bloot net wanneer die man homself moes regkry vir fisiese aksie soos om vinnig te hardloop, was die kleed lastig en in die pad gewees. Wat die mans dan gedoen het was om die soom van die kleed te neem, dit tussen hul bene op te trek (amper soos ‘n doek!), en dan voor by hul belt in te steek. Dit het gemaak dat hulle makliker kon beweeg. Hierdie baie praktiese raad wat hul met klede gehad het, was mettertyd gegiet in ‘n idioom met die betekenis: berei jou voor vir ‘n moeilike taak. Job se moeilike taak was om nou, nadat hy al sy vrae gevra en beskuldigings geswaai het, aan die ontvangkant van die vrae te gaan staan, en te kyk of hy antwoorde het vir God.

  1. Dit is die eerste ding wat opval. Job was bang dat God hom dalk sal verpletter. Maar God is nie afsydig nie en nie vyandig nie; Hy is by Job, Hy luister. Maar wanneer God uiteindelik tot die gesprek toetree, antwoord Hy glad nie Job se vrae aangaande die onregverdige lyding wat hy moes verduur nie. God kom eerder met ‘n rits vrae van sy eie. Alles te doen met die geheimenisse van die skepping. Mens wil nou eintlik vra: Wat het dit met die prys van eiers te doen? Probeer God om Job se vrae te ontduik? Job het immers nooit God se mag of wysheid ontken nie. Hy het God se regverdigheid betwyfel. Hy wou ‘n baie spesifieke antwoord hê: Hy wou hê dat God moes bely dat Job onskuldig is en dat God dus onregverdig teenoor hom opgetree het. God moes hom gelyk gee teenoor sy vriende. (Maar eintlik staan Job veel nader aan sy vriende as wat hy graag sou wou dink. Hulle werk met dieselfde simplistiese vergeldingskema. Sy vriende: God is regverdig, dus is Job se lyding die gevolge van sy sonde. Job: Ek ly al het ek geen sonde nie, dus is God onregverdig.) Terselfdertyd verwag Job eintlik geen antwoord van God af nie. As skuldige sou God eerder wegkruip as om tot die regstryd toe te tree (hfst 29-31).

Wanneer God dan verrassend genoeg wel tot die stryd toetree, dan vra Hy vrae wat heeltemal bo Job se vuurmaakplek is, vrae oor die groot kosmiese gebeure en toestande, vrae oor daardie dele van die natuur wat wel “naby” die mens is, maar nogtans grootliks ongekend en ongetem bly, vrae wat dalk op ‘n manier vir Job wil sê: Moenie met My sukkel nie. Ek is wyser en sterker as jy.

  1. Die tweede ding wat vanuit Job se verhaal na vore kom, is dat daar geen een enkele bevredigende antwoord is op lyding nie. Om vanuit een bepaalde hoek daarna te kyk, sal misleidend wees. Kan ons in elk geval ooit lyding verstandelik bemeester? Dan trap ons in dieselfde strik as Job en sy vriende. Die vriende moes leer dat lyding nié altyd die gevolg van sonde is nie. Job moes op sy beurt leer dat onskuldige lyding nie beteken dat God daarom onregverdig is nie. Ons moet baie versigtig wees om te vinnig afleidings te probeer maak oor lyding. Hierdie tipe antwoorde werk soms, maar dikwels is dit verkeerd en onmenslik (God het vir Hom die mooiste blommetjie kom pluk om in sy hemelse tuin te plant – soos Natan en die ooilam). Boonop is selfs korrekte antwoorde vir die persoon wat ly van min waarde. Die teorie bring nie ‘n einde aan die lyding nie. Ons raak ook nie lyding baas as ons heeltyd by lyding vassteek nie. God se antwoord is net dit: “Hier is my wêreld; hier is Ek – by jou.”

 

  1. Dit bring ons by die derde punt. “Hier is my wêreld. Kyk verby jouself en sien vir ‘n slaggie raak wat Ek alles geskep het!” Job het die teorieë geken, hy was ‘n man wat kon redeneer, maar dit help hom nie. Hy begryp die werklikheid eers wanneer hy uitgedaag word om verby sy lyding te kyk en God se rol oor te neem. Dan kry hy ‘n reality check.

Die briljante filosoof, astroloog, fisikus en wiskundige van die 17e eeu (die eeu van die wetenskaplike rewolusie), Isaac Newton, verstaan iets van hoe klein ons is en hoe groot die wêreld om ons is wanneer hy oor sy eie ontdekkings sê: “Ek het maar rondgeloop langs die strande van die groot oseane van kennis en ‘n paar keer daar ‘n bietjie met enkele skulpies en sandkorreltjies gespeel”.

God se probleem met Job was dat alles om homself begin draai het. Sy lyding het van hom ‘n gevangene van sy eie wêreld gemaak, selfbehep gemaak. God se antwoord behandel nie Job se probleem (kla baie uitleggers), want dit vra juis dat Job moet wegkyk van sy probleem af! Ons mag nie lyding ligtelik afmaak nie, veral ook nie ander mense se lyding nie, maar in ons hantering van lyding moet ons nie daardeur verswelg word nie. Elke poging om mense se lyding draaglik te maak bestaan daarin dat ons aan die mense die een of ander uitsig gee – iets wat hulle laat wegkyk van hulle eie lyding. (Daar is goeie en swak maniere om dit te doen. Soms sê ons in situasies iets net om nie iets niks te sê nie, word ons ware Jobstroosters). Dit vra dat ons opreg meegevoel, medelye sal hê met mense wat swaarkry, dat ons hulle hand sal vashou, na hulle sal luister, en nie resepmatige antwoorde sal gee nie. Ons kan nie altyd insig hê in ons situasies nie, maar ons word geroep om altyd uitsig te soek, of uitsig te gee aan ander mense in nood. Sonder uitsig kan mense aan hul lyding bly vaskleef en dit selfs verhef tot hul enigste waarheid, tot ál wat hulle ken.

Harold Fisch herinner ons dat van die oorlewendes van die Nazi-kampe getrou het, kinders en suksesvolle loopbane gehad het, gelag, gehuil en gelewe het. Met letsels ja, maar nie sonder lig en hoop nie.

God se antwoord los nie die probleem op deur daarop te konsentreer nie, maar deur die weg verby dit aan te dui. God, wat ongevraag na die hele skepping omsien en dit versorg, behou die verhouding met “my kneg Job”. In die ontmoeting bly Job mens en menswaardig. Job, wat sy lyding verwerp, word ook uitgedaag om sy obsessie daarmee agter te laat. Lyding mag nie verafgod word nie.

  1. Alhoewel God nie afwesig is in Job se lyding nie, alhoewel Hy nie afsydig is nie maar deurentyd by hom bly, antwoord God nie Job se vraag nie. Hy tree met hom in gesprek, maar Hy gee nie antwoorde nie.
  1. Daar is dikwels (meestal?) nie ‘n antwoord op lyding nie. Die antwoord op Job se lyding lê buite menselike begrip. In sy lyding word ‘n kosmiese stryd gestry. En wanneer Job se lyding op ‘n end is, sê hy self dat hy sy hand liewer op sy mond plaas: Hy sal liewer niks sê nie. En dit is wanneer Job by die daardie punt kom, dat hy eintlik vir die eerste keer werklik “reg” begin praat oor God, juis daar waar hy besluit om eerder te swyg…
  1. Die antwoord wat God aan Job gee, is om verby sy lyding te kyk, om daardeur te leef. En hiermee vee God nie Job se lyding van die tafel af asof dit eintlik niks is in die groter prentjie nie. Tot in die laaste hfst behou Hy sy respek vir Job (wanneer mense al hul respek vir die man verloor het), en verwys Hy na Job as “my kneg Job”. En God se laaste woord in die boek Job is ook nie sy laaste woord nie. Hy gee persoonlik gestalte aan hierdie Woord van Hom wanneer Jesus mens word, en Jób word, en as onskuldige ly – in meegevoel, liefde en verbondenheid aan alle ander mense wat sukkel om die stryd te stry en verby dit te leef.

Jy is nie alleen in jou lyding nie.

 

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.