Rut 1 – 2015

1 November 2015 Pinelands – Dankfees/Nagmaal/Koninkryk 23
Prediker: Dr Tiana Bosman

Die eerste berig wat ek in gister se koerant raaklees praat oor die droogte in ons land en die moontlikheid dat die grootste gedeelte van die land binnekort tot rampgebied verklaar kan word. Dit is inderdaad kommerwekkend, veral omdat dit ons so na aan die lyf lê, maar dit is geensins uniek nie. Dit beteken nie dat God besluit het om die sluise van die hemel wat op SA val toe te draai omdat die regering nie vir hulle land se studente bekostigbare tersiêre opleiding moontlik wil maak nie. Ja die regering moet verantwoordelik gehou word, soos wat hulle verantwoordelik gehou moet word vir soveel van die chaos in die land. Maar ons kan nie alles voor die deur van die regering lê nie. Dit is nie ons leiers se skuld dat daar ‘n droogte in die land is nie. Dit is deel van die seisoenale ritmes van die skepping, ook deel van die versugtinge van die skepping wat onder soveel uitbuiting en vergiftiging ens gebuk gaan. Dis bloot ‘n natuurlike uitvloeisel van dit waaraan die natuur oor eeue heen blootgestel is. Seisoene van droogte, in die natuur maar ook in ons eie lewens, is eenvoudig deel van die lewe.

In die OT lees ons dikwels van droogtes wat soms vir jare geduur het. Vandag se verhaal speel in so ‘n tyd af. Vroeg in die geskiedenis van Israel, nie te lank nadat Simson die pilare en daarmee saam die hele tempelgebou op homself en al die Filistyne teenwoordig omgetrek het nie.

Rigters 21:25 In daardie tyd was daar nog nie ’n koning in Israel nie, en elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.

Rut 1:1 In die tyd van die leiers was daar op ’n keer hongersnood in die land, en ’n man het uit Betlehem (ironies beteken die naam “Huis van brood/kos”) in Juda weggetrek om te woon as ‘n vreemdeling in die gebied van Moab, die man met sy vrou en sy twee seuns.

  1. Die man se naam was Elimelek (“my God is koning”), sy vrou Naomi (“aangenaam”/”sweet”/ “pleasant”), en sy twee seuns Maglon (“swak, siek”) en Kiljon (“tingerig”). Hulle was afkomstig uit Efrata in Betlehem in Juda. Hulle het in Moab aangekom en hulle daar gevestig. [Weens die ongenaakbare toestande in die Ystertydperk (1200-540vC) was die mortaliteitsyfer van babatjies hoog gewees, en die gebruik was dikwels om nie eens vir jou kind ‘n naam te gee voordat hulle op kleuterouderdom van die bors af gespeen is nie. Dit is baie waarskynlik dat die twee seuns se name dui op die droogtetydperk waartydens hulle gebore is.]
  2. Toe het Naomi se man, Elimelek, doodgegaan, en sy en haar twee seuns het agtergebly.
  3. Hulle het vir hulle Moabitiese vroue geneem. Die naam van een was Orpah (nw “agterkant van die nek”, ww “om jou rug te draai”) en die naam van die tweede een was Rut (“vriendskap”). Hulle het vir omtrent tien jaar daar gewoon. [Die twee vrouens se name is dalk eerder afgelei van hul karakter as dat dit hul geboortename was. Nes “Mara” later in die hfst. So ook vandag, bv Vaatjie Malan.)
  4. Toe het Maglon en Kiljon ook gesterf en die vrou het agtergebly sonder haar kinder(tjie)s en sonder haar man.
  5. Sy het klaargemaak, en haar skoondogters, en sy het omgedraai vanaf die gebied van Moab, want toe sy nog in Moab gewoon het, het sy gehoor dat die Here haar volk besoek het (dat die Here aan hul behoeftes aandag gegee het) om vir hulle kos te gee.
  6. Sy het vertrek vanaf die plek waar sy was, en haar twee skoondogters met haar, en hulle het op hulle weg gegaan om terug te keer na die land van Juda.
  7. Toe sê Naomi vir haar twee skoondogters: “Gaan, draai om elke vrou na die huis van haar ma, en mag die Here met julle hesed (troue liefde, guns, goedertierenheid, loving kindness, faithfulness) doen soos wat julle gedoen het met die oorledenes en met my.
  8. Mag die Here vir julle gee, en mag julle ‘n rusplek vind, elkeen in die huis van haar (nuwe) man. En Naomi het hulle gesoen en hulle het hul stem verhef en gehuil.
  9. Maar hulle het vir haar gesê: “Nee! Saam met jou sal ons terugkeer na jou volk toe.”
  10. Maar Naomi antwoord: “Gaan terug my dogters. Waarom sal julle saam met my gaan? Is daar dan nog seuns in my baarmoeder dat hulle julle mans kan word?” (Leviraatshuwelik – die oorlede man se broer moes met sy vrou wat agterbly trou om die familielyn te verseker.)
  11. Draai om, my dogters, gaan, want ek is te oud om weer iemand se vrou te word. Selfs al het ek gedink dat daar vir my hoop is en selfs al trou ek vanaand en selfs al baar ek seuns,
  12. sal julle tog sekerlik nie wag tot wanneer hulle groot is nie, julle sal julself tog nie wegsluit met die oog daarop om nie te trou nie. Nee, my dogters, want dit is baie bitterder vir my as vir julle, want die hand van die Here het teen my uitgegaan.
  13. Hulle het hulle stem verhef en weer gehuil, en Orpah het haar skoonma gesoen, maar Rut het aan haar gekleef.
  14. En Naomi het gesê: Kyk! Jou skoonsuster draai terug na haar volk en na haar god. Draai jy nou ook terug agter jou skoonsuster aan.
  15. Maar Rut antwoord: “Moenie my soebat om jou te verwerp deur weg te draai van jou af nie, want waar jy gaan sal ek gaan, en waar ookal jy woon sal ek woon, jou volk is my volk en jou God is my God.
  16. Waar jy doodgaan sal ek doodgaan en dáár sal ek begrawe word. So mag die Here aan my doen en so mag Hy toevoeg (selfopgelegde eed-formule wat straf oproep), behalwe as die dood skeiding bring tussen my en jou.
  17. Toe Naomi sien dat Rut sterk was/vasbeslote was om saam met haar te gaan, het sy opgehou om met haar te praat.
  18. Hulle twee het toe gereis totdat hulle in Betlehem aangekom het, en nes hulle in Betlehem ingekom het, het die hele stad oor hulle begin murmer en die vrouens het gesê: “Is dit Naomi?”
  19. Maar sy antwoord hulle: “Moet my nie Naomi noem nie. Noem my Mara, want Shaddai het dit vir my uitermate bitter gemaak.
  20. Vól het ek weggegaan, maar léég het die Here my teruggebring. Waarom sal julle my Naomi noem as die Here teen my getuig en as Shaddai teëspoed/ramp vir my gee?”
  21. So het Naomi teruggegaan, en Rut die Moabiet, haar skoondogter saam met haar. Sy het teruggekom vanuit die gebied van Moab en hulle het in Betlehem ingegaan aan die begin van die garsoestyd.

Destydse konteks: Ons weet nie wat die gevoelens van die dorpelinge in Betlehem was rondom Elimelek se trek met sy vrou en twee seuns agter die groener weivelde van Moab aan nie. Daar is al baie daaroor bespiegel, maar dit gaan ons nie help om verder daaroor te raai nie. Wat ons wel weet is dat die Israeliete in Deuteronomium 23 verbied is om enigsens verhoudinge te smee met die Ammoniete en die Moabiete. Hulle mag nie in vrede met hulle saamleef nie, hulle mag ook niks goeds aan hulle doen nie. Want Moab en Ammon is gebore uit die bloedskande tussen Lot en sy dogters (die dogters het hom dronk gemaak en by hom geslaap, want hulle was bang dat hulle nooit mans sou kry en kinders sal hê nie). En hier trek ‘n Efraimiet, wat se naam nogals beteken “My God is Koning” met sy vrou en kinders na Moab toe, vir kos ja, ter wille van oorlewing, maar hy laat ook toe dat sy seuns met Moabitiese meisies trou. Daar is geleerdes wat die argument voer dat Elimelek en sy seuns gesterf het weens God se straf omdat hulle met die Moabiete gaan meng het. Die verteller laat egter niks daarvan blyk wanneer hy die storie neerskryf nie. Selfs al sou die skinderstories daaroor loop, is dit nie waarom hy die verhaal vertel nie. Tog is dit baie belangrike agtergrondsinligting vir ons – die Moabiete wat ‘n vervloekte volk gewees.

Hedendaagse gewilde gebruik van die teks: Huwelikspreek. Want die teks verleen homself so goed daartoe! Vs 16 en 17 bevat die mooiste moontlike huweliksbeloftes: Kyk mekaar in die oë en sê agter my aan: “Waar jy gaan sal ek gaan, en waar ookal jy woon sal ek woon, jou volk is my volk en jou God is my God. Waar jy doodgaan sal ek doodgaan en daar sal ek begrawe word.” Dit ís mooi, en sentimenteel. Maar ons maak ‘n fout. Hierdie is nie ‘n huweliksteks nie. Die agtergrond, konteks en implikasies van Rut se beloftes aan haar skoonma, is heeltemal anders as die van ‘n huwelikspaartjie. Vir ons is ‘n huwelik ‘n wedersydse verbintenis, ‘n vennootskap, waar beide mekaar liefhet en mekaar wil hê, ‘n wen-wen situasie. Natuurlik draai dit dikwels nie so uit nie, maar op jou troudag en met die beloftes wat jy dan maak is alles nog net maanskyn en rose.

But what happens when the going gets tough? Dan begin huwelike dikwels wankel. Dan is die lewe nie meer so rooskleurig soos op die dag toe julle getrou het nie. Ons verhoudinge word gewoonlik eers werklik getoets na ons beloftes en nie voor ons beloftes nie.

Met Rut is dit anders. Sy wéét waarvan sy praat wanneer sy haar beloftes maak. Sy en Naomi het alreeds sewe sakke sout saam opgeëet. Hulle het beide alles verloor. Niemand het niks meer oor nie. Die mans was hulle enigste kans op ‘n menswaardige lewe. So was dit in daardie tyd. G’n wonder Lot se dogters het hom uit radeloosheid dronkgemaak en bespring toe hulle besef dat hulle nie mans gaan kry nie (Gen 23?). Want ter wille van ‘n toekoms moes hulle doen wat hulle kon om aan seuns geboorte te skenk.

Beide Naomi en Rut het alles verloor. Maar dit was nie dieselfde nie. Vir Rut was daar ‘n kans op ‘n nuwe begin. Sy was nog jonk – het nog nie eens haar eie kinders gehad nie. Sy sou kon teruggaan na haar ma se huis en weer trou, en haar nuwe man sou vir haar kinders en sekuriteit vir die toekoms kon gee. All is not lost. Veral nie vir ‘n vrou wat se naam “vriendelikheid” beteken nie. Orpah het hierdie weg gekies. Sy was ook bereid om saam met haar skoonma terug te gaan na ‘n vreemde land toe. Sy wou haar nie los nie. Hulle het ook gedeelde seer gehad. Maar toe Naomi vir ‘n tweede keer sê dat die skoondogters tog liewer moet teruggaan na hul ma toe en oor begin, het Orpah dit wel gedoen.

Maar Rut skop vas. Toe Naomi sien dat Rut haarself “sterk gemaak” het om saam met haar te gaan, het sy opgehou om met haar te praat. Want sy het besef praat gaan nie help nie, hierdie meisie weet wat sy wil doen, en niemand gaan in haar weg staan nie. Rut stap oopoë in ‘n doodloopstraat in.

Daar is vir haar geen toekoms saam met haar skoonma nie. Naomi is ‘n weduwee, te oud om weer te trou, sonder kind of kraai om vir haar te sorg. Die enigste vooruitsig wat sy gehad het, was om terug te keer na haar tuisland toe, want sy het intussen gehoor dat die Here weer kos gegee het in die land (die droogte is verby), en daar sal sy haar trots in haar sak moet steek en onder haar eie mense ‘n bedelbestaan gaan voer. Om die waarheid te sê – Rut is vir Naomi eerder ‘n las as ‘n welkome metgesel. Want nou sit sy nog met haar óók opgeskeep. Wie in Betlehem gaan nou vir ‘n Moabitiese weduwee help sorg? Hulle mag nie eens nie, dis teen die wet!

Maar sy gaan haar nie omgepraat kry nie, so Naomi hou eerder op met praat.

Ons lees dat Rut gekleef het aan haar skoonma (14). Dit is dieselfde woord wat ons in Gen 2:24 kry wanneer daar staan “’n man sal sy pa en sy ma verlaat en hy sal aan sy vrou kleef, en hulle sal een word”. Dit het nie beteken dat die man sy ouers se huis verlaat wanneer hy met sy vrou trou nie. Die vrou het haar ouerhuis verlaat en by die man se familie ingetrek. Dit gaan eerder om ‘n diep emosionele verbintenis – die man se fokus sal verskuif. Sy ouers sal nie meer die nr 1 persone in sy lewe wees nie, sy vrou word dit nou. Rut se fisiese klou aan haar skoonma demonstreer haar liefde vir en haar lojaliteit aan haar. Soos wat ‘n man hom aan sy vrou verbind, so verbind Rut haar aan haar hulpbehoewende skoonma.

In hierdie hele ontknoping van die verhaal en die diep, onselfsugtige en onbaatsugtige verbintenis van Rut aan Naomi, is die skreiende dat Naomi al die pad glad nie vir Rut ag nie. Sy sien haar eerder as ‘n las. Of erger – sy sien haar nie eens raak nie (kies dit dalk selfs). Toe die dorpsvrouens agter hul hande begin fluister toe Naomi by die dorp instap, bekla sy haar lot en gee sy vir die Here die skuld daarvoor: “Moet my nie Naomi noem nie. Noem my Mara, want Shaddai het dit vir my uitermate bitter gemaak. Vól het ek weggegaan, maar léég het die Here my teruggebring. Waarom sal julle my Naomi noem as die Here teen my getuig en as Shaddai teëspoed/ramp vir my gee?”

“Vól het ek weggegaan, maar léég het die Here my teruggebring.” Regtig, Naomi, is dit waar? Sien jy dan nie die vrou aan jou sy nie, die een wat alles prysgegee het en die grootste moontlike risiko loop, net omdat sy jou nie alleen in jou nood wil los nie. Omdat sy nie eens sal toelaat dat jy alleen begrawe word nie!? Tel jou seëninge, Naomi, jy weet nie wat jy in daai Moabitiese skoondogter van jou het nie.

Rut het haar oor Naomi ontferm en sy was bereid om haarself agterweë te laat ter wille van Naomi.

Die boek eindig in hfst 4 met Naomi se eer wat herstel is toe sy ‘n ouma word, en die vrouens van die dorp wat getuig: “Jou skoondogter wat jou liefhet, het aan hom geboorte geskenk, sy wat vir jou beter is as sewe seuns!” (Dogter wat ma liefhet – Maar in die OT kan die mindere nie die meerdere “liefhê” nie. Dit dui du shier daarop dat die rolle omgekeer is – Naomi het alles verloor en die mindere geword, Rut die Moabiet het die meerdere geword – sy het vir Naomi versorg, en later ‘n man en ‘n seuntjie gekry, en sodoende Naomi se posisie in die gemeenskap herstel.)

Waar is God in dit alles? Is Hy werklik die een wat straf, soos wat Naomi gedink het? Of is Hy eerder die Een wat deur  die maer jare en die noodwendige verliese bly voorsien? In die boek Rut is God (se ingrype  sigbaar in) ‘n Moabitiese vrou. Hfst 1 begin by ‘n droogte op verskeie vlakke – die land, maar ook die familie (verlies aan broodwinners). Dit eindig by die belofte van ‘n uwe oes wat in die landerye wink…

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.