Rut 2 – 2015

8 November 2015 Pinelands Koninkrykstyd (Bevestiging van kerkraadslede)
Prediker: Dr Tiana Bosman

 

Vandag presies ‘n maand gelede is daar by die AS van die NGK die besluit geneem om gays onvoorwaardelik in die geledere van die kerk te verwelkom. Die groen lig is gegee op selfdegeslagverhoudinge gekenmerk deur liefde en trou, ons mag nou gay paartjies in burgerlike verbintenisse bevestig, soortgelyk aan die huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou, en ons mag nou God se seën op hul verbintenis afbid. Gays mag nou in die NGK in die amp van predikant bevestig word sonder dat daar van hulle verwag word om selibaat te leef wanneer hulle in ‘n burgerlike verbintenis tot hul maat staan.

En die hel is los. ‘n Storm woed steeds. Talle kerkleiers en lidmate is ongelukkig oor die besluit om mense wat op ‘n ander manier liefhet as hulle, onvoorwaardelik in die kerk en haar ampte te verwelkom. Want die Bybel sê hard en duidelik NEE. Daar is ‘n wet in die Bybel wat bepaal dat homoseksuele liefde sonde is in die oë van God, en dat God dus slegs die gay mense liefhet wat hulself daartoe bereid verklaar om nie die significant other in sy/haar lewe in totaliteit (dws ook seksueel) lief te hê nie.

Bybelkenners interpreteer die tekste wat oor homoseksualiteit handel verskillend. Daar is diegene wat reken, soos hierbo, dat dit deurlopend as sonde veroordeel word. Daar is ook diegene wat sê wag ‘n bietjie – gaan kyk na die konteks en die kultuur van daardie tyd, kyk na die spesifieke gebeurtenis waarbinne homoseksuele gedrag veroordeel word en sien raak dat dit inderdaad nie gaan om liefde tussen twee mense van dieselfde geslag nie maar om iets heeltemal anders as dit. Daar gaan waarskynlik altyd hierdie twee “ kampe” van teksuitleggers wees. As die kenners so met mekaar verskil, waar laat dit die lidmate?

Boas, ‘n ryk man met mag en baie aansien in die gemeenskap, het millennia terug voor dieselfde tipe problematiek te staan gekom as die dilemma waarin die NGK haarself vandag bevind. Vir hom was die uitdaging nie ‘n gay persoon nie, maar wel iemand wat anders was as die volk, ‘n vrou wat ‘n groep mense verteenwoordig het van wie Boas se wette, sy “ Bybel” gesê het:  “Geen Ammoniet of Moabiet mag lid van die gemeente word nie… Jy mag nooit in vrede leef met die Ammoniete en die Moabiete nie, en jy mag nooit iets goeds aan hulle doen nie” (Deut 23:3-6).

Rut 2:1 (Vir Naomi was daar ‘n familielid as ‘n man vir haar, ‘n man van aansien, hy was ryk, vanuit die stam van Elimelek, en sy naam was Boas.) (Hakies, want dis agtergrondsinligting van die verteller.)

2: Rut, die Moabiet, het vir Naomi gesê: “Laat my tog gaan na die veld dat ek kan are optel tussen die graanore agter die man in wie se oë ek guns/genade vind (die man wat my dit sal toelaat).” Naomi het geantwoord: “ Gaan, my dogter.”

3: Rut het toe gegaan en are opgetel in die veld agter die stropers aan. Sy het heeltemal toevallig beland op die stuk grond in die veld wat aan Boas behoort het, die man uit die stam van Elimelek.

4: Kan jy nou meer!, Boas kom toe net uit Betlehem (Huis van Brood) en hy sê vir die stropers: “Die Here is met julle.” En hulle sê vir hom: “Die Here seën jou.”

5: Boas vra toe vir sy jongman, die een wat oor die stropers aangestel is: “Aan wie behoort hierdie meisie?”

6: En die jongman wat oor die stropers aangestel is, het geantwoord: “Sy is die Moabitiese meisie wat teruggekom het met Naomi vanuit die veld van Moab.

7: Sy het gevra: ‘Kan ek asb are optel en bymekaarmaak  in bondels agter die stropers aan?’ En sy het gekom en het haar plek ingeneem vanaf daardie tyd in die oggend tot nou toe om ‘n rukkie in die huis (‘n hut of tipe skuiling) te sit (rus).

8: Boas het toe vir Rut gesê: “Luister mooi, my dogter (my skat), jy moenie gaan om are op te tel in ‘n ander veld nie, en ook moet jy nie weggaan van hier af nie. Bly by (kleef aan) my meisies.

9: Fokus op die veld waar hulle stroop, en gaan agter die vrouewerkers aan. Het ek dan nie die jongmanne beveel om jou uit te los nie? En as jy dors is kan jy gaan na die kanne en drink van (die water) wat die jongmanne optrek.”

10: Rut het toe op haar knieë geval en met haar voorkop tot teen die grond gebuig, en vir hom gesê:  “U is te goed vir my, want u sien my raak (let op my), en dit terwyl ek ‘n vreemdeling is?”

11: Boas het haar geantwoord: “Ek is deeglik ingelig oor alles wat jy gedoen het vir jou skoonma na die dood van jou man. Jy het jou pa en jou ma verlaat, en jou land van herkoms, en jy het gekom na ‘n volk wat jy nie geken het gister of drie dae gelede (voorheen) nie.

12: Mag die Here jou daad vergoed, en mag jou lone ten volle betaal word deur die Here God van Israel na wie toe jy gekom het om toevlug/skuiling onder sy vlerke te soek.

13: Sy het gesê: “U is te goed vir my, my heer, want u troos my en u praat tot die hart van u bediende (u stel my gedagtes gerus), en ék sal nooit eens wees soos (gelykstaande aan) een van u bediendes nie. (Die woord vir bediende hier is die laagste vorm van ‘n vl slaaf.)

14: Met etenstyd het Boas het vir haar gesê: “ Hiernatoe! Kom eet van die kos en doop jou brood in die asyn. So het sy langs die stropers kom sit, en hy het vir haar gebraaide koring uitgehou en sy het geëet en sy het genoeg gehad, en sy het nog oorgehad.

15: Toe sy opstaan om (verder) are op te tel, het Boas sy werkers beveel: “ Sélfs tússen die gerwe mag sy optel, en julle mag haar nie verneder nie.

16: Meer nog, maak dubbel seker dat julle vir haar van die bondels graan uittrek, en julle moet dit los (laat val) sodat sy dit kan optel, en julle mag nie met haar raas nie.

17: Rut het are opgetel in die veld tot die aand toe. Sy het uitgeslaan wat sy opgetel het, en dit was gelyk aan een epha (gewigsmaat, baie swaar) gars.

18: Sy het dit gevat en sy het na die stad gegaan, en haar skoonma het gesien wat sy opgetel het, en Rut en (na haar) gegaan en vir haar dit gegee wat sy (met middagete) oorgehou het nadat sy genoeg gehad het om te eet.

19: Haar skoonma vra toe vir haar: “Waar het jy vandag gaan are optel? Waar het jy gewerk? Mag die man wat jou raakgesien het/op jou gelet het, geseënd wees!” En sy het vir haar skoonma vertel saam met (by) wie sy gewerk het. Sy het gesê: “Die naam van die man saam met wie ek vandag gewerk het, is Boas.”

20: Toe sê Naomi vir haar skoondogter: “Mag hy deur die Here geseënd wees, want hy het nie sy hesed (troue liefde, faithfulness, onverdiende guns, onvoorwaardelike liefde sonder grense) teenoor die lewendes en die dooies verwerp/agtergelaat nie.”  Naomi het verder vir haar gesê: “Die man is naby aan ons, hy is ons losser.”

21: Rut, die Moabiet, antwoord toe: “Hy het selfs vir my gesê ‘Jy mag tussen my werkers bly (stick close to them) totdat hulle klaargemaak het met my oes.

22: Naomi sê toe vir Rut, haar skoondogter: “Dit is goed, my dogter, dat jy uitgegaan het met sy meisies , en dat die manne jou nie kan bykom (seermaak) in ‘n ander veld nie.”

23: Sy het gebly by (gekleef aan) die meisies van Boas en (saam met hulle) graan opgetel tot aan die einde van die garsoes en die koringoes. Rut het by haar skoonma gewoon.

Rut het vir haar skoonma, Naomi toestemming gevra om te gaan are optel tussen die graanore op die veld van die man wat haar dit sal toelaat. Die wet van daardie tyd het bepaal dat armes en wese tydens oestyd agter die grondeienaar se werkers kan inval en dat hulle die are kan optel wat deurgeval het of oorgesien is toe die werkers daardie deel van die oes bewerk het. Die einaar se werkers mag volgens wet nooit ‘n tweede keer deur die landery gaan om te oes nie, want dit wat met die eerste oorgesien word, behoort aan die armes wat agterna mag kom.

As dit die wet was, waarom soek Rut dan beide haar skoonma en die grondeienaar se toestemming? Omdat sy binne die sosiale rangorde van daardie tyd respek teenoor haar skoonma betoon deur vir haar toestemming te vra. En omdat sy ‘n vreemdeling is, ‘n Moabiet op Israelitiese grondgebied, en die wet geld nie so onvoorwaardelik vir haar soos wat dit vir die ander arm vroue en die weses geld nie. Inteendeel, “Israeliete, julle mag nooit iets goeds aan die Moabiete doen nie!”

Rut ken haar plek, wat op hierdie stadium eintlik nêrens is, en in nederigheid gaan sy die oggend uit in die hoop dat iemand, enigiemand!, tog maar met genade na haar sal kyk en haar sal toelaat om saam met die armes agter in die ry in te val en are op te tel sodat sy en haar skoonma kan eet… Heeltemal toevallig kom sy nie by enigiemand se veld aan nie, maar juis by die veld van Boas oor wie ons aan die begin van die verhaal so bietjie inligting gekry het. Rut self het niks van hierdie man geweet nie. Boas sien die jongmeisie raak, waarskynlik was sy opvallend – sy was vir hom ‘n vreemdeling (hy het haar nog nie voorheen daar raakgesien nie), maar sy het ook vanaf ‘n vreemde plek gekom. “Aan wie behoort hierdie meisie?,” wil Boas by sy voorman weet. [‘n Vrou se identiteit was altyd opgesluit in die die van haar pa of haar man. Wanneer Boas dus wil weet wie die meisie is wat hy nie ken nie, vra hy aan wie sy behoort, wie is haar man, of, indien sy nog nie getroud is nie, wie is haar pa?] “ Sy is die Moabitiese meise wat teruggekom het met Naomi uit die veld van Moab.” “Aaaah,” gaan daar ‘n liggie vir Boas aan, nou weet hy wie sy is… Hy het al baie van haar gehoor, hierdie vreemdeling in hulle midde.

Maar in plaas daarvan dat Boas die wet onthou en onderhou en haar van sy veld af verwilder, tree hy met haar in gesprek en praat hy met haar op die sagte (most endearing) manier moontlik: “Luister mooi, my dogter>my skat” – hier sien ons nie net die verskil in status nie, maar ook die verskil in ouderdom. Boas was waarskynlik nader aan Naomi se ouderdom en Rut was ooglopend nog ‘n jongmeisie. “Jy moenie in ‘n ander veld gaan are optel nie. Moenie hiervandaan weggaan nie. Bly tussen (kleef aan) my meisies (die meisies wat vir my werk, dws nie in die agterste flanke by die armes en wese nie, maar tussen sy werksters – die vrou wat die gerwe optel wat die manne sopas afgesny het). Ek het beveel dat my jongmanne jou met rus moet laat, en gaan kry vir jou water wanneer jy dors raak.”

Rut buig diep voor Boas neer: “ U is te goed vir my, want u sien my raak, en dít terwyl ek ‘n vreemdeling is?”

“Ja, my skat, maar  jy sien, ek weet baie goed wat jy alles vir jou skoonma gedoen het na jou man se dood… Mag die Here jou vergoed, die Here God van Israel onder wie se vlerke jy hier in die vreemde kom skuil het.” So bid Boas die seën van die Here af op hierdie dogter uit Moab, van alle plekke.

Rut is oorweldig deur sy goedheid en weer sê sy dat hy te goed is vir haar. En hierdie keer verwys sy na haarself as ‘n shifkhah, die laagste vorm van ‘n vroulike bediende wat daar was. Sy sê vir Boas da thy haar troos en haar gerusstel, en sy is nie eens op dieselfde vlak as sy ander shifkhot (vroulike bediendes, mv) nie.

Toe etenstyd aanbreek, roep Boas vir Rut nader om tussen hom en sy werkers te kom sit (heeltemal ongehoord vir die armes en die wese om te kom deel in die ete in die veld!), en hy deel vir haar kos uit, meer as wat sy kon eet. En toe sy opstaan om verder te gaan are optel, gee hy vir sy werkers die opdrag dat sy selfs tussen die gerwe mag optel, daar waar hulle nog besig is, en dat hulle haar nie mag verneder omdat sy daar is nie. Meer as dit, hulle moet van die gerwe wat hulle afgesny het laat val op die grond, sodat sy dit ook kan optel, sonder dat hulle met haar raas wanneer sy dit doen!”

Die aand gaan Rut met ‘n baie groot opbrengs huistoe en Naomi se mond val oop: “Waar het jy vandag are opgetel? Waar het jy gewerk?! Mag die man wat jou raakgsien het, geseënd wees!”

“Die naam van die man saam met wie ek vandag gewerk het (hoor net hoe laat die verteller die spanning opbou deur die naam tot heel laaste te los), is BOAS.” Vir Rut beteken hierdie naam nog niks meer as dat hy haar weldoener was nie, maar Naomi weet van beter: “Mag hy deur die Here geseënd wees, want hy het nie sy hesed (liefde sonder grense) teenoor die lewendes en die dooies verwerp/agtergelaat nie. Die man is naby aan ons, hy is ons losser (goël, guardian, beskermheer, redeemer, verlosser).

Volgende keer sal ons sien dat Boas inderdaad ‘n losser is vir Rut deur sy bande met Naomi se man Elimelek, maar daar is twee komplikasies: 1: Hy is nie die primêre losser in lyn om verantwoordelikheid te neem vir hulle nie. Die losser se verantwoordelikhede was iedergeval ‘n morele verpligting, maar nie wetlik afdwingbaar nie. En 2: Rut was ‘n Moabiet, en Boas het alle reg gehad om terug te val op die wet van Deuteronomium en homself so uit sy verlangse lossersplig te wikkel. Hy was maar verlangs familie van Elimelek, en Rut was op die koop toe as Moabiet ver verwyder van die volk van die Here.

Boas het voor ‘n keuse te staan gekom toe hy die jongmeisie raaksien wat anders is as die res en hoor wie sy is. Hy kon die letter van die wet van Deut 23 nakom en haar verwilder, Moabiet wat sy is, maar hy kies om eerder die wet van goddelike liefde (hesed) na te kom, en haar nie net toe te laat om in die agtergrond are op te tel nie, maar om haar tot in die binnekring van sy werkers in te nooi, om haar te hanteer soos een van hulle, om vir haar toe te wens die seën van die Here God van Israel, om toe te sien dat sy kos en water kry, veilig is, geholpe, geborge in sy sorg.

Ek het verlede week probeer om die term “hesed” te verduidelik. Die term wat hoofsaaklik met God in verband gebring word, want dis amper te hoog vir mense om uit te voer, dis amper te veel gevra. Liefde sonder grense, lojaliteit en trou, guns en genade aan mense wat in ons oë dit nie verdien nie, maar wat nie daarsonder sal kan oorleef nie. Hesed is om die ekstra myl stap, dit is om grense te verskuif, ja, selfs wette te verskuif, sodat mure afgebreek en mense ingesluit kan word, hesed is om te gaan beyond the call of duty sodat die liefde kan seëvier.

Die insider trek die outsider in en laat haar voel soos ‘n insider. In hoofstuk 4 maak hy van haar ‘n insider! Rut verwys aanvanklik na haarself as nie eens gelyk aan ‘n shifkhah (laagste vorm van bediende wat daar was) nie. Maar Boas hanteer haar as veel meer as dit. In so ‘n mate dat, wanneer hy haar in hoofstuk 3 in die donker nag vra wie sy is, sy na haarself verwys as sy amah, ‘n verhoogde vorm van vroulike dienaar. Die manier waarop Boas met haar omgaan, maak dat hierdie vreemde Moabiet anders na haarself begin kyk, en meer van haarself begin dink. Meer mens, as voordat haar paaie met syne gekruis het…

Ek wonder hoe ons gay broers en susters tans oor hulself dink, nadat die grense by die Algemene Sinode verskuif is, inaggenome wat tans in die kerklike geledere en die koerante aan die gang is agv die besluit om mense wat anders is as “ons” en mense wat anders liefhet as “ons” in te nooi in ons binnekring in? Ek wonder of hulle ook nou beter voel oor hulself as voor ‘n maand gelede? Ek wonder of hulle werklik bevry is deur die besluit wat geneem is? Ek wonder of hulle enigiets van die hesed beleef wat Boas teenoor Rut gedemonstreer het? Ek wonder maar?

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.