Lukas 4:14-30 – 2016

24 Januarie 2016 Pinelands – Epifanie 3
Prediker: Dr Tiana Bosman

As ons terugblaai in Lukas sien ons iets van Jesus se lewe voor die gebeurtenis wat ons vandag gaan lees. Hy het in Nasaret grootgeword. As kind het hy elke jaar saam met sy ouers na Jerusalem toe gegaan vir die Pasga. Toe hy twaalf jaar oud was het hy, sonder sy ouers se medewete (die reisgeselskap was groot) na afloop van die fees in Jerusalem agtergebly. Drie dae later het sy ouers hom eers gevind – in die tempel waar hy tussen die leermeester gesit en na hulle geluister en vir hulle uitgevra het. Van kindsbeen af openbaar hy ‘n belangstelling in die teologie. Toe sy ouers met hom raas omdat hy hulle so groot laat skrik het, was sy antwoorde: “Waarom het julle my gesoek? Het julle nie geweet dat ek met die dinge van my Vader besig moet wees nie?” Hulle het nie verstaan wat hy gesê het nie.

Etlike jare later kondig Johannes die Doper die koms van die Messias aan, doop hy vir Jesus in die Jordaanrivier, en daal die Gees soos ‘n duif op Jesus neer met ‘n stem uit die hemel wat sê: Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek my.” Hierdie geleentheid by die rivier was Jesus se inhuldiging, sy inlywing tot die bediening. Vandag word teologie student na afloop van hul studies gelegitimeer en daarna georden as predikante. Jesus het die doop van sondaars ontvang en die Gees het op hom neergedaal.

Vol van die Heilige Gees het Jesus van die Jordaan af weggegaan en is deur die Gees die woestyn in gelei waar Hy wir veertig dae deur die duiwel versoek is. Ons kan dit sy vuurproef noem – na sy inhuldiging/legitimasie word Hy dadelik in die diep kant ingegooi en getoets – of Hy werklik reg is vir sy roeping, of Hy weet wat dit vra, of Hy die regte keuses sal maak as die versoekings voor Hom kom. Jesus het elke toets geslaag.

Dan lees ons Lukas 4: 14-30…

Vs 15: Oënskynlik ‘n suksesvolle bediening.

Vs 16 ev: Weerspieëling van ‘n tipiese eerste-eeuse diens in die sinagoge: Die manne woon die diens by en resiteer die Shema. Daarna bid een van die gemeentelede die Tephillah. Hierna lees verskeie mans gedeeltes uit die Torah. Eers dan staan (uit respek vir die teks) die rabbi/prediker van die dag op, hy lees ‘n gedeelte uit die Profete, gaan sit weer na sy voorlesing en preek terwyl hy sit. Die diens word afgesluit deur ‘n priester wat die seën uitspreek. Heel laaste deel die bestuurder van die sinagoge take aan verskillende gemeentelede uit. Die bestuurder van die sinagoge was die persoon wat toesig gehou het oor die ordelike verloop van die diens en wat omgesien het na die algemene administrasie van die sinagoge.

Jesus tree op as Rabbi by hierdie diens. Hy gaan uit die Profete lees en preek. Sy eerste/intreepreek in sy tuisdorp. Die mense is nuuskierig om te hoor wat Hy gaan sê, hierdie jongman wat voor hulle oë grootgeword het.

Vs 18: Lees uit Jesaja.

Vs 19: Die genadejaar – die jubeljaar, elke 50 jaar die jaar van bevryding en verlossing, ‘n nuwe begin.

Die gemeente maak die gedeelte oënskynlik dadelik op hulle van toepassing, soos ons mos geneig is om te doen met ‘n teks in die Bybel. Hulle hou van wat hulle hoor. Hulle weet wat dit beteken om alles te verloor, om gevangenes en onderdruktes te wees. Hulle het ook al gehoor van sy wonderwerke – hoedat Hy mense genees en blindes laat sien.

Vs 21: Sy preek begin…

Vs 22: Aanvanklik aangenaam verras, maar kort daarna skop die skeptisisme in. Kan hy hierdie goeie nuus verkondig en op homself van toepassing maak? Op grond van watter gesag doen hy dit? Hy is dan maar net die seun van die timmerman Josef. Moet hy nie eerder kaste gaan bou as preek nie? Wie dink hy nogals is hy dat ons na hom hoef te luister?s

V 23: Jesus preek verder en hy ontbloot die onuitgesproke, kritiese gedagtes van die gemeente: “Dis op die punt van julle tonge om vir my te sê “Geneesheer, genees jouself…”

“Rabbi Jesus, jy sal met uithaal en wys. Ons wil nie net woorde hoor nie, ons wil wonderwerke sien voordat ons oortuig sal wees. Dieselfde wonderwerke wat jy in Kapernaum gedoen het. Jy wat soveel ander mense genees het, genees nou jou eie nederige reputasie hier in Nasaret ook. Bewys vir ons dat jy nie maar net die seun van Josef is soos ons jou geken het nie. Ons wil sien dat daar meer in jou steek voordat ons jou preke ernstig kan neem.”

Vs 24: Jesus staan nie terug nie. Hy gee hulle sowaar nie wat hulle vra nie (‘n wonderwerk), maar hy gaan aan met preek. Tog duidelik nie om hulle tevrede te stel nie. Hulle dink hulle kritiseer net die boodskapper en nie die boodskap nie, maar nou gaan Jesus vir hulle sê dat die goeie nuus van die boodskap ook nie noodwendig vir hulle, die Israeliete, bedoel is nie, maar vir ander volke! “Ek sê vir julle…”

Vs 25-27: En dan gaan Jesus nog verder met die radikale boodskap dat die teks van die dag (Jesaja 61 en 58) nie noodwendig op die Jode van toepassing is nie, maar dalk eerder op die ander volke wat veronderstel is om buite die beloftes en die genade van God te leef. Die Jode soek ‘n boodskap van verlossing vir hulle (uitsluitlik) en vergelding teenoor hulle vyande, die onderdrukkers, maar Jesus sit sy preek voort deur voorbeelde uit die geskiedenis te gebruik waar dit juis die ander volke was wat verlossing en genesing ervaar het terwyl die Israeliete weggekwyn het!

Hy belig sy preek met die verkeerde voorbeelde. Aanmanings teenoor die gemeente en genade vir diegene daar buite, die wat nie hoort nie, die vyande, selfs! Sy sirkel van mense wat binne die dampkring van die genade hoort, het te groot geword. Dít is nie wat die gemeente wil hoor nie.

28: “Toe hulle hierdie dinge hoor, het almal in die sinagoge woedend geword.” Swak preek, seun van Josef! Teleurstellend!

29: Hulle het opgespring en Hom uit die stad gedryf want hulle wou die lynchwet toepas – om hom dood te maak oor ‘n oënskynlike oortreding sonder dat daar ‘n verhoor was (waarskynlik te stenig soos Stefanus in Hand 7).

Met Jesus se intreepreek in sy tuisdorp het die nie goed gegaan nie. Die feit dat die gemeente hom nie letterlik gestenig het nie, beteken nie dat hulle dit nie figuurlik gedoen het nie. Hy is daar weg en het elders sy bediening van bevryding en genesing en goeie nuus voortgesit (4: 31-32, 38, 42-44).

Vs 21: VANDAG, hier en nou, nie eendag nie. Ons lewe nie in die eendag nie, maar in die NOU. In Jesus het die koninkryk van God naby gekom, aarde toe gekom. Die boodskap van verlossing wat Hy verkondig en beliggaam, is nie (net) bedoel vir eendag nie, maar vir vandag en vir elke dag. Ons moet versigtig wees om alles wat Jesus gepreek en gedoen het te vinnig te vergeestelik. Ook as ons kyk na Maslow se hierargie van behoeftes – iemand wat fisies hongerly of koud kry kan nie dink aan geestelike behoeftes nie. Eers wanneer jou basiese behoeftes bevredig is, het jy die luuksheid om oor geestelike behoeftes te besin. Om daar buite vir die armes en die eensames te bid beteken absoluut niks as ons hulle nie help in hulle nood en besoek in hulle eensaamheid nie. Moet daarom nie vir iemand bid wat vir jou kos vra nie – Gee eers genoeg kos en klere en genesing, as jy kan, en bid dan daarna as jy wil.

Jesus het ook gebid, maar baie van sy gebede hy in afsondering gebid, nadat hy die mense se fisiese nood verlig het (Luk 4:42?; 5: 16).

Die WWJD (What would Jesus do) slagspreek. Ons kan nie bloot bid vir ‘n probleem as ons nie bereid is om aktief deel van die oplossing te wees nie. Ons kan bv nie tydens die huidige droogte in SA bid vir verlossing as ons nie bereid is om deel te wees van ‘n projek soos die ngdroogtehulp.co.za projek nie.

NG Droogtehulpfonds

Staan tans op R 279 600

Doelwit: R 2 Miljoen

Individueel as lidmate, maar ook gesamentlik as gemeente…

Dit is om die goeie nuus te verkondig…

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Johannes 2:1-11 – 2016

17 Januarie 2016 Pinelands – Epifanie 3
Prediker: Dr Tiana Bosman

Teks:

1: Jesus se moeder was daar (eerste genoem – nie maar net saam met Jesus gegaan nie, maar in eie reg as gas genooi. Dalk verlangse familie van die bruidspaar?)

‘n Bruilof het 7 dae lank geduur en vir daardie ganse tydperk moes die bruidspaartjie (se familie) opdok vir die spys en drank van die gaste teenwoordig.

4:Vrou” nie disrepekvol. Jesus praat nie hier vanuit sy rol as haar seun nie, maar vanuit sy rol as die Seun van God met ‘n spesifieke doel voor oë. “Vrou” was die algemene aanspreeksvorm wat Jesus vir vroue gebruik het. Dalk iets soos “Mevrou” of “Dame” vandag.

“Waarom pla u my? > Wat vir jou en vir my? > Wat het dit met jou en met my te doen?”

My uur – die tyd van die Messiaanse onthulling, die verheerliking van die Seun van God aan die kruis gevolg deur sy opstanding en hemelvaart.

6: Reinigingsgebruike vd Jode –die rituele (en wettiese) was van hande voete voor elke ete. Jesus en sy dissipels is by geleentheid aangespreek omdat hulle nie hul hande gewas het voordat hulle geëet het nie (toe hulle are in die veld gepluk het). Dis eintlik baie fyn humor dat Jesus met hierdie wonderwerk juis die reinigingswater waaroor die priesterhoofde en skrifgeleerdes so sterk gevoel het, sou verander in wyn – aan die einde van die bruilof is daar geen meer kanne of water beskikbaar waarmee die gaste hulle kan reinig nie, hierdie wettiese ritueel is vervang met die beste wyn wat daar was – die gaste moes vergeet van wette en hulle eenvoudig oorgee aan die feesvieringe.

2-3 metretai = ongeveer 100 liter, dws 600 liter altesaam.

8: Hulle neem water wat bedoel was vir handewas vir die hoofkelner om van te drink! (Dis amper soos om skottelgoedwater te neem.)

Semeia (tekens) ipv dunameis (wonderwerke, kragtoertjies)

9: “Die water wat wyn geword het” – die wonder wat gebeur raak ‘n terloopse opmerking, amper asof die verteller die omvang van die wonderwerk doelbewus onderspeel.

Om hierdie verhaal te lees is een ding. Om dit te verduidelik is egter iets heel anders. My rasionele, analitiese brein wonder onmiddellik: Hoe het dit gebeur? Hoe kan ons dit vandag verklaar? Maar om te wil soek na maniere waarop ons kan verklaar hoedat die water in wyn verander het, is om die punt van die verhaal te mis, dit te ontneem van sy krag, en om die wonderteken as’t ware af te water. Ons moet die wondertekens in die Bybel ernstig opneem, net soos wat ons ander aspekte van die tradisie ernstig neem. Die mense van die antieke wêreld het letterlik gego dat wonderwerke gebeur. Ons moet onsself binne hulle denkraamwerk (mindset) plaas, en eers as ons dit gedoen het kan ons begin vra hoe daardie stories werk, wat is hulle funksie, met die geloof van die mense van daardie tyd op die voorgrond van ons soeke na verstaan. Ons kan nie eenvoudig volstaan by: Wonderwerke gebeur nie. Ons moet ons dus op ‘n manier vir ‘n wyle losmaak van ons moderne denke en met ‘n antieke begrip dink. Ons moet ons afvra hoe die verhaal gefunksioneer het binne die tradisie van die tyd waarbinne dit geskryf is, en eers daarna die vraag stel: So wat sê dit vandag vir ons? (Amper soos om Lord of the Rings of Harry Potter te lees en om die integriteit van die gebeure in die verhaal te aanvaar vir die genre waarbinne dit geskryf is.)

Jesus van Nasaret (God as mens) het nie, soos ons, in ‘n post-moderne, (na-)wetenskaplike era geleef en gewerk nie. Hy het geleef in ‘n tyd voor die wetenskap soos ons dit vandag ken. Byvoorbeeld, die magiese kragte van die son of maan om jou skade te kan aandoen, was iets om mee rekening te hou. Demone wat in ‘n mens invaar en van jou besit neem, was ‘n realiteit. Verlede week het ek verduidelik dat die sterrekykers toe die wetenskaplikes was, en hulle het hul wetenskap beoefen deur die sterre en konstellasies te bestudeer en daaruit afleidings te maak aangaande die ritme van die aarde en die gebeurtenisse in die wêreld. Naas die sterrekykers was daar ook magi (towenaars) wat drome uitgelê het en wonderwerke gedoen het. Towerspreuke wat inhoudelik gerig is daarop om mense te seën of te vloek was volop. Een van die bekendste towenaars of wonderwerkers in Jesus se tyd was ‘n man met die naam Apollonius van Tyana. Daar word vertel van die bo-natuurlike omstandighede rondom sy geboorte, sy buitengewone kinderjare, hoedat hy aan die einde van sy lewe verdwyn het sodat dit gelyk het asof hy dood is, maar in werklik het hy nooit gesterf nie. Hierdie einste Apollonius het ‘n meisie wat skynbaar gesterf het kort na haar dood teruggebring na die lewe deur aan haar te raak. Hy het haar wakkergemaak asof sy net geslaap het (soos Jesus met die dogtertjie van Jaïrus in Markus 5). En toe die familie vir hom 150 000 silwerstukke wou betaal om dankie te sê vir sy wonderwerk, het hy daardie geld nie vir homself gehou nie, maar aan die meisie gegee. (Michael White, Harvard, 1998). Om maar één voorbeeld van ‘n bekende wonderwerker in die tyd van Jesus te noem…

Om wonderwerke te kon aanskou, was wonderlik gewees, maar dit was nie ongewoon nie.

Wat Johannes 2 se wonder uniek maak, is dat dit ‘n onopsigtelike wonderwerk was. Die tyd vir Jesus se Messiaanse onthulling het nog nie aangebreek nie. Om nou die aandag op hom te vestig as een van die “wonderwerkers” van sy tyd, sou mense tot misverstande lei. Johannes verwys deurentyd (deur sy hele evangelie) doelbewus nie na Jesus se bo-natuurlike werke as wonderwerke (dunameis) soos die ander evangeliste nie, maar as tekens (semeia) wat heenwys na ‘n dieper be-teken-is. Jesus is nie een van die towenaars van sy dag nie, hy is die beloofde Messias, die Seun van God, en dít is waar hy sy mandaat vandaan kry om tydens sy aardse bediening te doen wat hy doen.

Waarom juis water en wyn verander by ‘n bruilof in Kana? Waarom hierdie sy eerste teken maak? Waarom nie eerder sy tekens hou vir lewenskrisisse (soos siekte of dood) nie, maar dit “vermors” op ‘n blote verleentheid – ‘n huwelikspaartjie wat nie genoeg wyn by hul bruilof gehad het nie.

Die verleentheid moenie onderskat word nie – dit was groot. Die potensiaal het bestaan om erge skande oor die famiie te bring, en die gaste sou selfs die bruidegom hof toe kon neem en ‘n eis van skadevergoeding teen hom indien – omdat hy die wet van gasvryheid (genoeg wyn) nie nagekom het nie.

‘n Verleentheid dus wel, maar nie ‘n saak van lewe en dood nie. Dalk juis om so reg aan die begin van die evangelie, soos ook nou reg aan die begin van ons jaar, vir ons te wys dat die Here nie net teenwoordig is en ingryp in die groot krisisse en tragedies in ons lewens nie. Hy is deurlopend daar, teenwoordig, ook in ons goeie tye om saam met ons bly te wees en dit saam met ons te vier, en om ook daar, vanuit die oorvloed van sy genade, tekens te gee van sy omgee en sy sorg binne die alledaagse probleme en verleenthede in ons lewens. Ook dit maak vir hom saak.

Jesus is nie “Die Wonderwerker” wat met groot toedo en vertoon agter die seremoniemeester se mikrofoon inskuif, sy keel skoonmaak, sy teenwoordigheid aankondig, en sy towerstaffie swaai oor die kanne vol reiningingswater om sodoende ten aanskoue van almal teenwoordig die water in wyn te verander en ‘n mooi meisie na vore te roep om die eerste een te wees om te proe nie.

Nee, in die stille agtergrond gee hy bloot aan die dienaars die opdrag om die kanne met water te vul, daaruit te skep en dit vir die hoofkelner te neem. Hy raak nie eens aan die kanne nie, proe nie eers self van die water/wyn nie. Hy neem nie die eerste skep persoonlik na die hoofkelner toe nie, stuur ook nie een van sy dissipels nie. Bloot die gewone dienaars. Niks buitengewoons gebeur nie. Die hoofkelner weet van niks, het geen idee waar die goeie wyn vandaan kom nie. Wat hom betref is dit bloot net die volgende skep wyn wat hy ontvang. Vir al wat ons weet weet hy nie eens dat daar so amper amper ‘n fiasko was van te min wyn op die partytjie nie. Sy verwarring lê alleenlik by die feit dat die bruidegom teen die algemene konvensie in die beste vir laaste gehou het. Afgesien van dit, niks buitengewoons nie.

Maar tog só buitengewoon! Die grootste wonder van alles (as ons dit dan nou wonders wil noem) is dalk nie dat Jesus die water in wyn verander het nie, maar die manier waarop hy dit gedoen het. Sy tyd het nog nie aangebreek nie. Hy wil nie hierdie wonderteken verrig en as gevolg daarvan ge-etiketteer en aangehang word as ‘n towenaar of wonderwerker nie, want sy gesag lê elders. Dit lê nie in die magiese kragte van die dag nie, maar in sy hemelse Vader wat hom gestuur het. Heeltemal onopsigtelik red hy die bruidspaar van ‘n groot verleentheid. Nie eens hulle weet wie hul weldoener was nie. Amper niemand weet nie – net die dissipels en die dienaars. Al die gaste trek voordeel uit die teken, vier verder fees as gevolg daarvan, drink van die nuwe, beste wyn. Hulle almal leef binne die genade van die teken. Maar net ‘n handjievol weet waar dit vandaan kom. En uit hierdie handjievol is daar nog minder wat iets daarvan verstaan… Die dissipels het Jesus se heerlikheid raakgesien en hulle beginnersgeloof in hom het gegroei.

Aan die begin van die 2016 help hierdie verhaal ons om onsself te orienteer om hierdie jaar bewustelik te leef binne die teenwoordigheid van God. Hy is nie soos Aspoestertjie se “Fairy Godmother” of Aladdin se “Genie” wat net verskyn wanneer ons werklik in die kryp is, sy towerstaffie swaai en dan weer verdwyn tot ‘n volgende keer nie. Ons moet ook versigtig wees om hom nie so te hanteer nie – om nie net te bid of te roep wanneer die werklike nood druk en tussendeur van hom te vergeet asof hy nie bestaan nie. God bestaan. Hy is deurentyd in ons lewens teenwoordig. Of ons hom nou raaksien of nie. En wanneer daar nood is, selfs al is dit so “klein” soos wyn wat opraak by ‘n huweliksviering, dan weet hy daarvan, en alhoewel hierdie kleine probleem eintlik niks met sy groter mandaat in die wêreld te make het nie, al hoef hy nie daar in te gryp nie, doen hy dit tog dikwels wel. Onverwagse verrassings in ons lewe, iets wat op ‘n onverklaarbare manier gebeur, wat ons dikwels net die kop in ongeloof laat skud, maar ons is dankbaar vir die verwikkeling en ons leef daarmee verder die toekoms in, totdat so-iets weer eendag gebeur – iets toevalligs dalk, hoe anders kan ons dit dan verklaar?, wat ons lewe en ons daaglikse beplanninge net ‘n bietjie makliker maak.

Meeste mense het hierdie ervarings van tyd tot tyd, en alhoewel hulle nie weet waar dit vandaan kom nie, hoe dit gebeur nie, kan dit waar wees nie?!, leef hulle ook vanuit daardie genade. Maar ons het die Bybel, ons het verhale en getuienisse van mense wat voor ons so deur die genadige betrokkenheid van die Here in hulle of ander se alledaagse lewens verras is. Ons word deur die wonder van water na wyn genooi om hierdie jaar meer bewustelik in te gaan en om deel te wees van die groepie dissipels wie se geloof gevoed word omdat ons die heerlikheid van die Here raaksien in die verrassende gebeure rondom ons van dag tot dag.

Vir my was Woensdag so ‘n dag. Herman is die afgelope 3 jaar al baie onseker, eers oor kleuterskool en nou oor skool. Nadat sy skooljaar verlede jaar op ‘n positiewe noot geëindig het, het hy Dinsdag (die dag voor die skole begin het) heeldag vir my vertel hoe moeilik skool eintlik is en hoedat hy nie “môre wil teruggaan nie”. Dinsdagnag, voor die eerste skoologgend, het hy wakkergeword van nagmerries en ek moes by hom gaan slaap. Woensdagoggend is hy baie onwillig skooltoe met ‘n maag wat vreeslik pyn en dit was nie vir my maklik om vir hom totsiens te sê, my rug te draai en huistoe te gaan nie. Graad 2, nuwe klas, nuwe juffrou, al sy beste maatjies van verlede jaar is in die ander klas ingedeel hierdie jaar. Toe ek die middag by die hek vir hom wag, sien hy my raak, stap na my toe, kom by die hek, lig beide sy hande in die lug en sê net een woord vir my: “Wonderful!!!”, met ‘n gesiggie wat straal.

Die Here was by Herman gewees in sy klassie daai dag. En vir my was sy “Wonderful!” selfs ‘n groter wonderTEKEN (‘n teken van verandering en hoop) as die water wat destyds in wyn verander is. Genade is om, soms wanneer jy die swakste verwag, deur die beste verras te word.

“Uit sy volheid het ons almal genade op genade ontvang.” Mag hierdie wete julle deur die jaar van 2016 begelei.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Matteus 2:1-13 – 2016

10 Januarie 2016 Pinelands – Epifanie 1
Prediker: Dr Tiana Bosman

Boodskap

Julle onthou die drie-jarige Siriese seuntjie, Aylan Kurdi, met die rooi en blou kleertjies aan wat as vlugteling verdrink het en op 2 September 2015 aan die kus van Turkye uitgespoel het? Jesus was 2000 jaar gelede in dieselfde bootjie gewees – ook ‘n vlugteling, ‘n refugee. Ter wille van sy lewe het sy ouers hul eie land Judea verlaat en asiel gaan soek in Egipte, van alle plekke… Die eertydse land van die vyand. Die verskil is net Jesus was een van die min seuntjies wat die aanslag teen sy lewe deur sy éie volksgenote oorleef het. Te danke aan ‘n groepie heidense wetenskaplikes wat:

  • die tekens van die tye gelees het, en
  • na die God van die Jode geluister het in plaas van na die koning van die land en aan Hom gehoorsaam was.

Jesus is in Betlehem gebore. Of dit in ‘n stal tussen diere was, weet ons nie. Dit lei ons bloot af uit die feit dat daar nie in die plaaslike herberg plek was nie (weens die volkstelling – toeloop van mense) en dat sy ouers ‘n voerkrip moes gebruik om hom in neer te lê, waarskynlik omdat daar nie ‘n wiegie beskikbaar was nie. Maar wat die Griekse teks betref kon hy net sowel in ‘n vertrek wat as gastekamer ingerig is, gebore wees, dalk aan huis van verlangse familie of vriende in die dorp…

Dit was tydens die regering van Herodes die Grote, magsbehepte koning van Juda en geestelik versteurde tiran wat nie eens sy eie familie ontsien het nie. Herodes was so verknog aan sy magsposisie dat hy sy vrou Mariamne en ook ‘n paar van sy seuns laat vermoor het, omdat hy bang was dat die seuns van hom dalk voortydig sy troon sal bestyg. Dit was dus nie net ander mense se seuntjies wat tydens die kindermoord doodgemaak is nie, maar ook sy eie seuns. Keiser Augustus (wat oor die Romeinse Ryk regeer het) word aangehaal dat hy oor Herodes gesê het dat hy eerder Herodes se vark sal wees as sy seun. Want varke is deur die wet beskerm in Palestina. (Die Moslems wil nie aan varke raak nie omdat hulle die varke as vieslik vuil beskou, maar hulle mag ook nie hul hand teen ‘n vark lig nie. Vandaar die spreekwoord “so vet soos ‘n vark in Palestina”.)

Na Jesus se geboorte het magi/wyse manne/astroloeë – wetenskaplikes! (Gr magus/magoi – nie towenaars/magicians soos in die hedendaagse sin van die woord nie) uit die ooste in Jerusalem aangekom en navraag gedoen aangaande hierdie kind: “Waar is hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan hom hulde te bewys.” Daar bestaan baie legendes oor die wyse manne, onder meer dat hulle eintlik drie konings was: Kasper die jongeling van Indië, Baltasar die man van Arabië, en Melchior die grysaard van Persië. Maar behalwe vir wat ons in Matteus oor hierdie manne lees, het ons geen ander bewysbare feite oor hulle identiteit nie. Matteus sê bloot dat daar wyse manne was vanuit die ooste en dat hulle gekom het om aan die koning van die Jode hulde te bewys. Ons weet om die waarheid te sê nie eens of hulle drie was of nie. Deur die eeue het mense die getal as drie sterrekykers bloot afgelei vanuit die aantal geskenke wat genoem word: goud, wierook en mirre.

Ons hoef natuurlik nie al die geheimenisse agter die wyse manne te verstaan nie, want hierdie verhaal in Matteus gaan nie in die eerste plek oor die besoekers nie, maar oor die kindjie wat gebore is. Hulle het sy ster sien opkom en hulle het gekom om aan hom hulde te bewys. Wat ons wel weet is dat die magoi ‘n bekende groep was onder die heidene in daardie tyd. Sommige van hulle, soos in hierdie geval, was astroloë of sterrekykers wat die tekens van die sterre bestudeer het en geïnterpreteer het om die natuurlike ritmes en die wêreldgebeure te verstaan (die destydse wetenskaplikes), terwyl ander wyse manne weer droomuitleggers of towenaars was. Bileam in Numeri 22-24 was ook ‘n magus, ‘n “siener” vanuit die ooste.

Hier in Matteus het die wyse manne gereageer vlgs die tradisie dat die verskyning van ‘n ster (of ‘n konstellasie van planete) die geboorte van ‘n belangrike koning sou aandui. Ons weet nie hoe goed hulle die beloftes van die OT verstaan het nie, want hulle het tog nie binne die tradisie van die Joodse geloof of die Messiaanse verwagting grootgeword en geleef nie. Maar dit was heel waarskynlik deur kontak met Jode wat sedert die tyd van die Joodse ballingskap in Babilonië geleef het, dat die wyse manne gehoor het van die verwagte Messias wat gaan kom. En toe hulle die ster sien opkom, was dit vir hulle die teken dat hierdie koning van die Jode in die lyn van Dawid gebore is, en hulle het vanuit die ooste gereis na die stad Betlehem toe, op weg om aan hom, die Gesalfde, hulde te bring.

Hoe lank die manne gereis het weet ons nie, maar daar was nog nie vliegtuie of motors nie. Toe Herodes hoor dat daar wyse manne vanuit die ooste aangekom het wat op soek is na die koning van die Jode wat gebore is, was hy hewig onsteld (hý is dan die koning van die Jode en die bedreiging is vir hom te groot). Nie net hy nie maar ook die hele Jerusalem (die Joodse volk!) was saam met hom ontsteld. Is dit nie vreemd nie? – Die heidense wetenskaplikes is opgewonde oor die geboorte van Jesus en gaan om hom te eer, maar die Jode (sy eie mense) is ontsteld en hulle leier wil hom laat doodmaak! En let op: die adviseurs van hierdie leier Herodes is niemand anders nie as die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk.

Toe Herodes vir die priesterhoofde en die skrifgeleerdes uitvra oor waar die Christus gebore sou word, haal hulle vir hom aan uit die profetiese boek van Miga. En Herodes het die wyse manne in die geheim laat kom en vir hulle uitgevra oor die ster. Hy het hulle gestuur om die seuntjie te gaan opsoek en dan vir hom te kom sê waar hy is, sodat hy wat Herodes is ook aan hom hulde kan gaan bewys. Natuurlik ‘n gruwelike leuen, want eintlik wou Herodes by die kindjie uitkom om hom dood te maak.

Hierna het die wyse manne die ster verder gevolg tot waar dit gaan staan het bo die plek waar die kindjie was. En met hul aankoms vereer hulle vir Jesus op die manier wat aan hulle bekend was, die tipiese oosterse wyse waarop hulle ‘n oosterse koning sou nader. Hulle was baie bly en hulle het by die huis ingegaan en die kindjie saam met sy ma, Maria, gesien. Hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys, hulle reissakke oopgemaak en die geskenke oorhandig. Die goud en die wierook was algemene geskenke aan konings in daardie tyd. Goud as simbool van rykdom en wierook wat as parfuum gebruik is. Mirre, ‘n salf wat gebruik is om iemand se liggaam na sy dood te salf, was nie ‘n algemene geskenk by geboorte nie, en tog is dit interessant dat die wyse manne vir Jesus (‘n paar maande of ‘n jaar) na sy geboorte ook mirre sou gee. So asof hulle tog wel die toekoms in kon sien… Een van sy verwelkomingsgeskenke is die tipe salf waarmee sy liggaam later gebalsem sou word.

Omdat God die sterrekykers in ‘n droom gewaarsku het dat hulle nie na Herodes toe moet teruggaan om verslag te doen oor waar die kindjie is nie, het hulle met ‘n ander pad na hulle land toe teruggegaan. En dan verdwyn die sterrekykers heeltemal van die toneel af. Ons lees nooit weer van hulle in die Bybel nie. Die aard van hulle geloof en die verloop van hulle lewe bly vir ons ‘n geheim. Maar hier aan die begin van die evangelies, aan die begin van die NT, het hierdie manne ‘n deurslaggewende rol gespeel in die erkenning van die baba Jesus se identiteit as die Koning van die Jode terwyl sy eie volk nog in ontkenning was of vyandig teenoor hom gestaan het.

Israel het die voorspellings van die kindjie wat as “Koning van die Jode” sou kom geken- dit was in hulle geskifte opgeteken, hulle godsdienstige leiers kon dit uit hul koppe resiteer! Hulle het vir hom gewag, maar toe nie geken toe hy opdaag nie… Die wyse manne het alleen maar ‘n ster in die hemel gesien en hulle verder op hoor-sê verlaat. En so word die heidene getuies en boodskappers van God se grootste daad. Kan daar ‘n groter goddelike ironie wees? Die eerste mense wat oor sy koms opgewonde is, die eerste mense wat voor Hom kniel, die eerste mense wat aan Hom hulde bring, is die heidene. Hy is nie eens in Jerusalem, die stad van die tempel, gebore nie, maar ‘n hele ent daarvan in die klein niksseggende ou dorpie Betlehem. Daar waar die heidene nie bang was om Hom op te soek nie, en nie skaam was om Hom te aanbid nie. Ook dit word al in die OT voorspel. In Jes 2, en 60, Miga 4 en Ps 68: die volkere kom en die heidene bring geskenke vir die Messias. Die aanbreek van die eindtyd word ingelui wanneer die heidene, die wat van ver af kom en buite die tradisie leef, die knie buig voor die kind.

Ons kan nie die kontraste in Matteus 2 ignoreer nie. Heidense sterrekykers soek die Messias op om hom te aanbid, maar Herodes soek hom om hom dood te maak. Die vreemdes vereer hom en die Jode verwerp hom. Vreemdelinge is baie bly oor sy geboorte, maar Herodes en die hele Jerusalem is hewig ontsteld (‘n woord wat ook “angstig” kan beteken).

En die wonder word groter. Want aanvanklik het die sterrekykers bloot getrou gebly aan hulle tradisie – deur die ster te volg en aan die nuwe koning van die Jode hulde te bring. Maar wanneer die God van die Jode hulle dan in ‘n droom waarsku om nie na Herodes toe terug te gaan nie, dan luister hulle. ‘n Vreemde God verskyn aan hulle en tóg gehoorsaam hulle Hom. Dit is die erns waarmee die heidene met God omgaan. Meer nog is dit die wonder van God wat in beheer is, selfs al matig Herodes homself alle mag en gesag aan. Herodes, ten spyte van sy menseslagting, bepaal op die ou-end nie die geskiedenis nie. Gód laat die heilsgeskiedenis in vervulling gaan – Hy verskyn aan die heidene en deur die gehoorsaamheid van hierdie heidene word die seuntjie Jesus se veiligheid bewaar, selfs al het soveel ander seuntjies onder 2 rondom Hom gesterf. Was dit nie vir die heidene nie, was ons dalk nie vandag hier in die kerk nie… En dan hou ons onsself so dikwels beter en heiliger as die heidene wat nie vir God ken nie en wat nie weet hoe Jesus lyk nie. Christene sê so maklik die wetenskaplikes weet nie waarvan hulle praat nie. Hierdie groepie wyse manne het ook waarskynlik nie geweet waarvan hulle praat nie. Hulle het maar gegaan op die gepraat van die Jode. Maar hulle het op die ou-end geweet waarvan God praat – hulle het na Hom geluister en hulle, heidene wat hulle is, was aan Hom gehoorsaam. Was dit nie vir die heidene wat die wetenskap van hul dag reg geïnterpreteer het, en reg geluister en gedoen het toe die Jode verkeerd gepraat het nie, was Jesus dalk ook maar net nog ‘n babaseuntjie op Herodes se kerf…

Mag die ongelowiges se soeke na die Here ons opnuut tot geloof bring. Wat ‘n verandering sal dit nie in 2016 meebring nie. As álle mense wat hulself christene noem sal begin optrek op Sondae om hulde aan die Kindjie te bring, en sal uitbeweeg in die week om hierdie Kindjie te eer met geskenke, nie meer aan hom persoonlik nie, maar aan diegene vir wie hy homself geskenk gegee het. As die ongelowige “heidense” soekers en wetenskaplikes en filosowe, wat self al hoe meer en meer bewus word van die feit dat God bestaan en wat Hom daadwerklik begin opsóék, as hulle sien dat hulle nie meer in die hemelruim na die regte ster hoef te soek nie, omdat daar op aarde christene is wat nie skaam is om hulle lig van getuienis te laat skyn nie, en wat nie bang is om die pad vir ander aan te wys nie. Christene wat selfs nie eens bang is vir die Herodesse van vandag nie…

Omdat ek begin het met verhaal van die Siriese seuntjie wat verdrink het, het ek daardie krisis gebruik as voorbeeld en gaan google watter hulp- en ondersteuningsorganisasies daar is wat uitreik na die vlugtelinge. Ek het die eerste bladsy se organisasies geneem en gaan oplees wie hulle is en waarvoor hulle staan. Dit was opvallend dat nie een van hierdie organisasies hulself as ‘n kerk of christelike organisasie bekendstel nie. Hulle identifiseer hulself eerder as humanitêre groepe. Waarom sou dit wees? Dalk om inklusief te wees? Maar om jou geloof in Christus te bely beteken tog juis nie dat jy ander uitsluit nie, of hoe? Dalk is dit eerder soos ek vermoed – dat meeste van die hulpverleningsorganisasies in ons dag en tyd wat werklik hul moue oprol en ‘n verskil maak in ander se lewens, nie in die eerste instansie christen-kerkmense is nie, maar eerder mense soos die wyse manne van destyds… Buite die kerklike tradisie, maar tog is hulle sensitief vir die roeping van God vir mense in nood.

Ons moet versigtig wees dat ons nie soos die Skrifgeleerdes en die wetskenners maak nie. Om so besig te wees met die resitasie van tekste en die letter van die wet, dat ons nooit uitkom by die juiste interpretasie en die praktiese implikasies van die wet nie. So besig met die verkeerde fokus dat die vervulling van die tekste dalk ook by ons verbygaan.

Ek wil afsluit met ‘n gedig van Adam Small. Mense sê dat hy nie ‘n christen is nie. Van sy pa, Jan Small, is daar op sy begrafnis gesê: “Al was Jan Small nie ‘n kerkmens nie, was hy ‘n christen.” Ek wonder of mens nie tog ook van Adam dieselfde as van sy pa kan sê nie.

Op reis

‘n Man is ek nou van amper sewe-en-sewentig, ja,

en steeds op reis. Op my trek tot nou het ek

medemense ontdek, en doen dit steeds, sommiges

boordevol smart en pyn, gemene haat en hoon,

ander vol liefde, erbarming, vreugde en geluk:

elkeen, haal na haal, taal na taal, op soek na

sy eie heilige graal.

Almal van ons, kerklikes én nie-kerklikes én anti-kerklikes, maar net mense, tastend en soekend. Ons vier Epifanie – die verskyning van God in die wêreld wat nie net vir Israel nie, maar vir alle nasies goeie nuus beteken.

Dalk moet ons in 2016 teruggaan na die roots van die evangelie, daar waar alles begin het met en na Jesus se geboorte, en hierdie jaar nie so naarstigtelik (net) binne die kerklike geledere na die Messias gaan soek nie, maar ons eerder (ook) wend tot die wêreld, die heidendom, vandag beter bekend as die ongelowiges/agnostici/atheïste? Die wetenskaplikes maak dikwels deel uit van hierdie groep. Wie weet – die wetenskaplikes en die filosowe weet dalk beter en met meer nederigheid as die “gelowiges” (dalk eerder kerklikes) waar om na die Here te soek? En wie sê God praat nie ook met en deur hulle nie? Wie so sê, moet Matteus 2 weer ‘n keer gaan lees.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.