Matteus 2:1-13 – 2016

10 Januarie 2016 Pinelands – Epifanie 1
Prediker: Dr Tiana Bosman

Boodskap

Julle onthou die drie-jarige Siriese seuntjie, Aylan Kurdi, met die rooi en blou kleertjies aan wat as vlugteling verdrink het en op 2 September 2015 aan die kus van Turkye uitgespoel het? Jesus was 2000 jaar gelede in dieselfde bootjie gewees – ook ‘n vlugteling, ‘n refugee. Ter wille van sy lewe het sy ouers hul eie land Judea verlaat en asiel gaan soek in Egipte, van alle plekke… Die eertydse land van die vyand. Die verskil is net Jesus was een van die min seuntjies wat die aanslag teen sy lewe deur sy éie volksgenote oorleef het. Te danke aan ‘n groepie heidense wetenskaplikes wat:

  • die tekens van die tye gelees het, en
  • na die God van die Jode geluister het in plaas van na die koning van die land en aan Hom gehoorsaam was.

Jesus is in Betlehem gebore. Of dit in ‘n stal tussen diere was, weet ons nie. Dit lei ons bloot af uit die feit dat daar nie in die plaaslike herberg plek was nie (weens die volkstelling – toeloop van mense) en dat sy ouers ‘n voerkrip moes gebruik om hom in neer te lê, waarskynlik omdat daar nie ‘n wiegie beskikbaar was nie. Maar wat die Griekse teks betref kon hy net sowel in ‘n vertrek wat as gastekamer ingerig is, gebore wees, dalk aan huis van verlangse familie of vriende in die dorp…

Dit was tydens die regering van Herodes die Grote, magsbehepte koning van Juda en geestelik versteurde tiran wat nie eens sy eie familie ontsien het nie. Herodes was so verknog aan sy magsposisie dat hy sy vrou Mariamne en ook ‘n paar van sy seuns laat vermoor het, omdat hy bang was dat die seuns van hom dalk voortydig sy troon sal bestyg. Dit was dus nie net ander mense se seuntjies wat tydens die kindermoord doodgemaak is nie, maar ook sy eie seuns. Keiser Augustus (wat oor die Romeinse Ryk regeer het) word aangehaal dat hy oor Herodes gesê het dat hy eerder Herodes se vark sal wees as sy seun. Want varke is deur die wet beskerm in Palestina. (Die Moslems wil nie aan varke raak nie omdat hulle die varke as vieslik vuil beskou, maar hulle mag ook nie hul hand teen ‘n vark lig nie. Vandaar die spreekwoord “so vet soos ‘n vark in Palestina”.)

Na Jesus se geboorte het magi/wyse manne/astroloeë – wetenskaplikes! (Gr magus/magoi – nie towenaars/magicians soos in die hedendaagse sin van die woord nie) uit die ooste in Jerusalem aangekom en navraag gedoen aangaande hierdie kind: “Waar is hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan hom hulde te bewys.” Daar bestaan baie legendes oor die wyse manne, onder meer dat hulle eintlik drie konings was: Kasper die jongeling van Indië, Baltasar die man van Arabië, en Melchior die grysaard van Persië. Maar behalwe vir wat ons in Matteus oor hierdie manne lees, het ons geen ander bewysbare feite oor hulle identiteit nie. Matteus sê bloot dat daar wyse manne was vanuit die ooste en dat hulle gekom het om aan die koning van die Jode hulde te bewys. Ons weet om die waarheid te sê nie eens of hulle drie was of nie. Deur die eeue het mense die getal as drie sterrekykers bloot afgelei vanuit die aantal geskenke wat genoem word: goud, wierook en mirre.

Ons hoef natuurlik nie al die geheimenisse agter die wyse manne te verstaan nie, want hierdie verhaal in Matteus gaan nie in die eerste plek oor die besoekers nie, maar oor die kindjie wat gebore is. Hulle het sy ster sien opkom en hulle het gekom om aan hom hulde te bewys. Wat ons wel weet is dat die magoi ‘n bekende groep was onder die heidene in daardie tyd. Sommige van hulle, soos in hierdie geval, was astroloë of sterrekykers wat die tekens van die sterre bestudeer het en geïnterpreteer het om die natuurlike ritmes en die wêreldgebeure te verstaan (die destydse wetenskaplikes), terwyl ander wyse manne weer droomuitleggers of towenaars was. Bileam in Numeri 22-24 was ook ‘n magus, ‘n “siener” vanuit die ooste.

Hier in Matteus het die wyse manne gereageer vlgs die tradisie dat die verskyning van ‘n ster (of ‘n konstellasie van planete) die geboorte van ‘n belangrike koning sou aandui. Ons weet nie hoe goed hulle die beloftes van die OT verstaan het nie, want hulle het tog nie binne die tradisie van die Joodse geloof of die Messiaanse verwagting grootgeword en geleef nie. Maar dit was heel waarskynlik deur kontak met Jode wat sedert die tyd van die Joodse ballingskap in Babilonië geleef het, dat die wyse manne gehoor het van die verwagte Messias wat gaan kom. En toe hulle die ster sien opkom, was dit vir hulle die teken dat hierdie koning van die Jode in die lyn van Dawid gebore is, en hulle het vanuit die ooste gereis na die stad Betlehem toe, op weg om aan hom, die Gesalfde, hulde te bring.

Hoe lank die manne gereis het weet ons nie, maar daar was nog nie vliegtuie of motors nie. Toe Herodes hoor dat daar wyse manne vanuit die ooste aangekom het wat op soek is na die koning van die Jode wat gebore is, was hy hewig onsteld (hý is dan die koning van die Jode en die bedreiging is vir hom te groot). Nie net hy nie maar ook die hele Jerusalem (die Joodse volk!) was saam met hom ontsteld. Is dit nie vreemd nie? – Die heidense wetenskaplikes is opgewonde oor die geboorte van Jesus en gaan om hom te eer, maar die Jode (sy eie mense) is ontsteld en hulle leier wil hom laat doodmaak! En let op: die adviseurs van hierdie leier Herodes is niemand anders nie as die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk.

Toe Herodes vir die priesterhoofde en die skrifgeleerdes uitvra oor waar die Christus gebore sou word, haal hulle vir hom aan uit die profetiese boek van Miga. En Herodes het die wyse manne in die geheim laat kom en vir hulle uitgevra oor die ster. Hy het hulle gestuur om die seuntjie te gaan opsoek en dan vir hom te kom sê waar hy is, sodat hy wat Herodes is ook aan hom hulde kan gaan bewys. Natuurlik ‘n gruwelike leuen, want eintlik wou Herodes by die kindjie uitkom om hom dood te maak.

Hierna het die wyse manne die ster verder gevolg tot waar dit gaan staan het bo die plek waar die kindjie was. En met hul aankoms vereer hulle vir Jesus op die manier wat aan hulle bekend was, die tipiese oosterse wyse waarop hulle ‘n oosterse koning sou nader. Hulle was baie bly en hulle het by die huis ingegaan en die kindjie saam met sy ma, Maria, gesien. Hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys, hulle reissakke oopgemaak en die geskenke oorhandig. Die goud en die wierook was algemene geskenke aan konings in daardie tyd. Goud as simbool van rykdom en wierook wat as parfuum gebruik is. Mirre, ‘n salf wat gebruik is om iemand se liggaam na sy dood te salf, was nie ‘n algemene geskenk by geboorte nie, en tog is dit interessant dat die wyse manne vir Jesus (‘n paar maande of ‘n jaar) na sy geboorte ook mirre sou gee. So asof hulle tog wel die toekoms in kon sien… Een van sy verwelkomingsgeskenke is die tipe salf waarmee sy liggaam later gebalsem sou word.

Omdat God die sterrekykers in ‘n droom gewaarsku het dat hulle nie na Herodes toe moet teruggaan om verslag te doen oor waar die kindjie is nie, het hulle met ‘n ander pad na hulle land toe teruggegaan. En dan verdwyn die sterrekykers heeltemal van die toneel af. Ons lees nooit weer van hulle in die Bybel nie. Die aard van hulle geloof en die verloop van hulle lewe bly vir ons ‘n geheim. Maar hier aan die begin van die evangelies, aan die begin van die NT, het hierdie manne ‘n deurslaggewende rol gespeel in die erkenning van die baba Jesus se identiteit as die Koning van die Jode terwyl sy eie volk nog in ontkenning was of vyandig teenoor hom gestaan het.

Israel het die voorspellings van die kindjie wat as “Koning van die Jode” sou kom geken- dit was in hulle geskifte opgeteken, hulle godsdienstige leiers kon dit uit hul koppe resiteer! Hulle het vir hom gewag, maar toe nie geken toe hy opdaag nie… Die wyse manne het alleen maar ‘n ster in die hemel gesien en hulle verder op hoor-sê verlaat. En so word die heidene getuies en boodskappers van God se grootste daad. Kan daar ‘n groter goddelike ironie wees? Die eerste mense wat oor sy koms opgewonde is, die eerste mense wat voor Hom kniel, die eerste mense wat aan Hom hulde bring, is die heidene. Hy is nie eens in Jerusalem, die stad van die tempel, gebore nie, maar ‘n hele ent daarvan in die klein niksseggende ou dorpie Betlehem. Daar waar die heidene nie bang was om Hom op te soek nie, en nie skaam was om Hom te aanbid nie. Ook dit word al in die OT voorspel. In Jes 2, en 60, Miga 4 en Ps 68: die volkere kom en die heidene bring geskenke vir die Messias. Die aanbreek van die eindtyd word ingelui wanneer die heidene, die wat van ver af kom en buite die tradisie leef, die knie buig voor die kind.

Ons kan nie die kontraste in Matteus 2 ignoreer nie. Heidense sterrekykers soek die Messias op om hom te aanbid, maar Herodes soek hom om hom dood te maak. Die vreemdes vereer hom en die Jode verwerp hom. Vreemdelinge is baie bly oor sy geboorte, maar Herodes en die hele Jerusalem is hewig ontsteld (‘n woord wat ook “angstig” kan beteken).

En die wonder word groter. Want aanvanklik het die sterrekykers bloot getrou gebly aan hulle tradisie – deur die ster te volg en aan die nuwe koning van die Jode hulde te bring. Maar wanneer die God van die Jode hulle dan in ‘n droom waarsku om nie na Herodes toe terug te gaan nie, dan luister hulle. ‘n Vreemde God verskyn aan hulle en tóg gehoorsaam hulle Hom. Dit is die erns waarmee die heidene met God omgaan. Meer nog is dit die wonder van God wat in beheer is, selfs al matig Herodes homself alle mag en gesag aan. Herodes, ten spyte van sy menseslagting, bepaal op die ou-end nie die geskiedenis nie. Gód laat die heilsgeskiedenis in vervulling gaan – Hy verskyn aan die heidene en deur die gehoorsaamheid van hierdie heidene word die seuntjie Jesus se veiligheid bewaar, selfs al het soveel ander seuntjies onder 2 rondom Hom gesterf. Was dit nie vir die heidene nie, was ons dalk nie vandag hier in die kerk nie… En dan hou ons onsself so dikwels beter en heiliger as die heidene wat nie vir God ken nie en wat nie weet hoe Jesus lyk nie. Christene sê so maklik die wetenskaplikes weet nie waarvan hulle praat nie. Hierdie groepie wyse manne het ook waarskynlik nie geweet waarvan hulle praat nie. Hulle het maar gegaan op die gepraat van die Jode. Maar hulle het op die ou-end geweet waarvan God praat – hulle het na Hom geluister en hulle, heidene wat hulle is, was aan Hom gehoorsaam. Was dit nie vir die heidene wat die wetenskap van hul dag reg geïnterpreteer het, en reg geluister en gedoen het toe die Jode verkeerd gepraat het nie, was Jesus dalk ook maar net nog ‘n babaseuntjie op Herodes se kerf…

Mag die ongelowiges se soeke na die Here ons opnuut tot geloof bring. Wat ‘n verandering sal dit nie in 2016 meebring nie. As álle mense wat hulself christene noem sal begin optrek op Sondae om hulde aan die Kindjie te bring, en sal uitbeweeg in die week om hierdie Kindjie te eer met geskenke, nie meer aan hom persoonlik nie, maar aan diegene vir wie hy homself geskenk gegee het. As die ongelowige “heidense” soekers en wetenskaplikes en filosowe, wat self al hoe meer en meer bewus word van die feit dat God bestaan en wat Hom daadwerklik begin opsóék, as hulle sien dat hulle nie meer in die hemelruim na die regte ster hoef te soek nie, omdat daar op aarde christene is wat nie skaam is om hulle lig van getuienis te laat skyn nie, en wat nie bang is om die pad vir ander aan te wys nie. Christene wat selfs nie eens bang is vir die Herodesse van vandag nie…

Omdat ek begin het met verhaal van die Siriese seuntjie wat verdrink het, het ek daardie krisis gebruik as voorbeeld en gaan google watter hulp- en ondersteuningsorganisasies daar is wat uitreik na die vlugtelinge. Ek het die eerste bladsy se organisasies geneem en gaan oplees wie hulle is en waarvoor hulle staan. Dit was opvallend dat nie een van hierdie organisasies hulself as ‘n kerk of christelike organisasie bekendstel nie. Hulle identifiseer hulself eerder as humanitêre groepe. Waarom sou dit wees? Dalk om inklusief te wees? Maar om jou geloof in Christus te bely beteken tog juis nie dat jy ander uitsluit nie, of hoe? Dalk is dit eerder soos ek vermoed – dat meeste van die hulpverleningsorganisasies in ons dag en tyd wat werklik hul moue oprol en ‘n verskil maak in ander se lewens, nie in die eerste instansie christen-kerkmense is nie, maar eerder mense soos die wyse manne van destyds… Buite die kerklike tradisie, maar tog is hulle sensitief vir die roeping van God vir mense in nood.

Ons moet versigtig wees dat ons nie soos die Skrifgeleerdes en die wetskenners maak nie. Om so besig te wees met die resitasie van tekste en die letter van die wet, dat ons nooit uitkom by die juiste interpretasie en die praktiese implikasies van die wet nie. So besig met die verkeerde fokus dat die vervulling van die tekste dalk ook by ons verbygaan.

Ek wil afsluit met ‘n gedig van Adam Small. Mense sê dat hy nie ‘n christen is nie. Van sy pa, Jan Small, is daar op sy begrafnis gesê: “Al was Jan Small nie ‘n kerkmens nie, was hy ‘n christen.” Ek wonder of mens nie tog ook van Adam dieselfde as van sy pa kan sê nie.

Op reis

‘n Man is ek nou van amper sewe-en-sewentig, ja,

en steeds op reis. Op my trek tot nou het ek

medemense ontdek, en doen dit steeds, sommiges

boordevol smart en pyn, gemene haat en hoon,

ander vol liefde, erbarming, vreugde en geluk:

elkeen, haal na haal, taal na taal, op soek na

sy eie heilige graal.

Almal van ons, kerklikes én nie-kerklikes én anti-kerklikes, maar net mense, tastend en soekend. Ons vier Epifanie – die verskyning van God in die wêreld wat nie net vir Israel nie, maar vir alle nasies goeie nuus beteken.

Dalk moet ons in 2016 teruggaan na die roots van die evangelie, daar waar alles begin het met en na Jesus se geboorte, en hierdie jaar nie so naarstigtelik (net) binne die kerklike geledere na die Messias gaan soek nie, maar ons eerder (ook) wend tot die wêreld, die heidendom, vandag beter bekend as die ongelowiges/agnostici/atheïste? Die wetenskaplikes maak dikwels deel uit van hierdie groep. Wie weet – die wetenskaplikes en die filosowe weet dalk beter en met meer nederigheid as die “gelowiges” (dalk eerder kerklikes) waar om na die Here te soek? En wie sê God praat nie ook met en deur hulle nie? Wie so sê, moet Matteus 2 weer ‘n keer gaan lees.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.