Johannes 2:1-11 – 2016

17 Januarie 2016 Pinelands – Epifanie 3
Prediker: Dr Tiana Bosman

Teks:

1: Jesus se moeder was daar (eerste genoem – nie maar net saam met Jesus gegaan nie, maar in eie reg as gas genooi. Dalk verlangse familie van die bruidspaar?)

‘n Bruilof het 7 dae lank geduur en vir daardie ganse tydperk moes die bruidspaartjie (se familie) opdok vir die spys en drank van die gaste teenwoordig.

4:Vrou” nie disrepekvol. Jesus praat nie hier vanuit sy rol as haar seun nie, maar vanuit sy rol as die Seun van God met ‘n spesifieke doel voor oë. “Vrou” was die algemene aanspreeksvorm wat Jesus vir vroue gebruik het. Dalk iets soos “Mevrou” of “Dame” vandag.

“Waarom pla u my? > Wat vir jou en vir my? > Wat het dit met jou en met my te doen?”

My uur – die tyd van die Messiaanse onthulling, die verheerliking van die Seun van God aan die kruis gevolg deur sy opstanding en hemelvaart.

6: Reinigingsgebruike vd Jode –die rituele (en wettiese) was van hande voete voor elke ete. Jesus en sy dissipels is by geleentheid aangespreek omdat hulle nie hul hande gewas het voordat hulle geëet het nie (toe hulle are in die veld gepluk het). Dis eintlik baie fyn humor dat Jesus met hierdie wonderwerk juis die reinigingswater waaroor die priesterhoofde en skrifgeleerdes so sterk gevoel het, sou verander in wyn – aan die einde van die bruilof is daar geen meer kanne of water beskikbaar waarmee die gaste hulle kan reinig nie, hierdie wettiese ritueel is vervang met die beste wyn wat daar was – die gaste moes vergeet van wette en hulle eenvoudig oorgee aan die feesvieringe.

2-3 metretai = ongeveer 100 liter, dws 600 liter altesaam.

8: Hulle neem water wat bedoel was vir handewas vir die hoofkelner om van te drink! (Dis amper soos om skottelgoedwater te neem.)

Semeia (tekens) ipv dunameis (wonderwerke, kragtoertjies)

9: “Die water wat wyn geword het” – die wonder wat gebeur raak ‘n terloopse opmerking, amper asof die verteller die omvang van die wonderwerk doelbewus onderspeel.

Om hierdie verhaal te lees is een ding. Om dit te verduidelik is egter iets heel anders. My rasionele, analitiese brein wonder onmiddellik: Hoe het dit gebeur? Hoe kan ons dit vandag verklaar? Maar om te wil soek na maniere waarop ons kan verklaar hoedat die water in wyn verander het, is om die punt van die verhaal te mis, dit te ontneem van sy krag, en om die wonderteken as’t ware af te water. Ons moet die wondertekens in die Bybel ernstig opneem, net soos wat ons ander aspekte van die tradisie ernstig neem. Die mense van die antieke wêreld het letterlik gego dat wonderwerke gebeur. Ons moet onsself binne hulle denkraamwerk (mindset) plaas, en eers as ons dit gedoen het kan ons begin vra hoe daardie stories werk, wat is hulle funksie, met die geloof van die mense van daardie tyd op die voorgrond van ons soeke na verstaan. Ons kan nie eenvoudig volstaan by: Wonderwerke gebeur nie. Ons moet ons dus op ‘n manier vir ‘n wyle losmaak van ons moderne denke en met ‘n antieke begrip dink. Ons moet ons afvra hoe die verhaal gefunksioneer het binne die tradisie van die tyd waarbinne dit geskryf is, en eers daarna die vraag stel: So wat sê dit vandag vir ons? (Amper soos om Lord of the Rings of Harry Potter te lees en om die integriteit van die gebeure in die verhaal te aanvaar vir die genre waarbinne dit geskryf is.)

Jesus van Nasaret (God as mens) het nie, soos ons, in ‘n post-moderne, (na-)wetenskaplike era geleef en gewerk nie. Hy het geleef in ‘n tyd voor die wetenskap soos ons dit vandag ken. Byvoorbeeld, die magiese kragte van die son of maan om jou skade te kan aandoen, was iets om mee rekening te hou. Demone wat in ‘n mens invaar en van jou besit neem, was ‘n realiteit. Verlede week het ek verduidelik dat die sterrekykers toe die wetenskaplikes was, en hulle het hul wetenskap beoefen deur die sterre en konstellasies te bestudeer en daaruit afleidings te maak aangaande die ritme van die aarde en die gebeurtenisse in die wêreld. Naas die sterrekykers was daar ook magi (towenaars) wat drome uitgelê het en wonderwerke gedoen het. Towerspreuke wat inhoudelik gerig is daarop om mense te seën of te vloek was volop. Een van die bekendste towenaars of wonderwerkers in Jesus se tyd was ‘n man met die naam Apollonius van Tyana. Daar word vertel van die bo-natuurlike omstandighede rondom sy geboorte, sy buitengewone kinderjare, hoedat hy aan die einde van sy lewe verdwyn het sodat dit gelyk het asof hy dood is, maar in werklik het hy nooit gesterf nie. Hierdie einste Apollonius het ‘n meisie wat skynbaar gesterf het kort na haar dood teruggebring na die lewe deur aan haar te raak. Hy het haar wakkergemaak asof sy net geslaap het (soos Jesus met die dogtertjie van Jaïrus in Markus 5). En toe die familie vir hom 150 000 silwerstukke wou betaal om dankie te sê vir sy wonderwerk, het hy daardie geld nie vir homself gehou nie, maar aan die meisie gegee. (Michael White, Harvard, 1998). Om maar één voorbeeld van ‘n bekende wonderwerker in die tyd van Jesus te noem…

Om wonderwerke te kon aanskou, was wonderlik gewees, maar dit was nie ongewoon nie.

Wat Johannes 2 se wonder uniek maak, is dat dit ‘n onopsigtelike wonderwerk was. Die tyd vir Jesus se Messiaanse onthulling het nog nie aangebreek nie. Om nou die aandag op hom te vestig as een van die “wonderwerkers” van sy tyd, sou mense tot misverstande lei. Johannes verwys deurentyd (deur sy hele evangelie) doelbewus nie na Jesus se bo-natuurlike werke as wonderwerke (dunameis) soos die ander evangeliste nie, maar as tekens (semeia) wat heenwys na ‘n dieper be-teken-is. Jesus is nie een van die towenaars van sy dag nie, hy is die beloofde Messias, die Seun van God, en dít is waar hy sy mandaat vandaan kry om tydens sy aardse bediening te doen wat hy doen.

Waarom juis water en wyn verander by ‘n bruilof in Kana? Waarom hierdie sy eerste teken maak? Waarom nie eerder sy tekens hou vir lewenskrisisse (soos siekte of dood) nie, maar dit “vermors” op ‘n blote verleentheid – ‘n huwelikspaartjie wat nie genoeg wyn by hul bruilof gehad het nie.

Die verleentheid moenie onderskat word nie – dit was groot. Die potensiaal het bestaan om erge skande oor die famiie te bring, en die gaste sou selfs die bruidegom hof toe kon neem en ‘n eis van skadevergoeding teen hom indien – omdat hy die wet van gasvryheid (genoeg wyn) nie nagekom het nie.

‘n Verleentheid dus wel, maar nie ‘n saak van lewe en dood nie. Dalk juis om so reg aan die begin van die evangelie, soos ook nou reg aan die begin van ons jaar, vir ons te wys dat die Here nie net teenwoordig is en ingryp in die groot krisisse en tragedies in ons lewens nie. Hy is deurlopend daar, teenwoordig, ook in ons goeie tye om saam met ons bly te wees en dit saam met ons te vier, en om ook daar, vanuit die oorvloed van sy genade, tekens te gee van sy omgee en sy sorg binne die alledaagse probleme en verleenthede in ons lewens. Ook dit maak vir hom saak.

Jesus is nie “Die Wonderwerker” wat met groot toedo en vertoon agter die seremoniemeester se mikrofoon inskuif, sy keel skoonmaak, sy teenwoordigheid aankondig, en sy towerstaffie swaai oor die kanne vol reiningingswater om sodoende ten aanskoue van almal teenwoordig die water in wyn te verander en ‘n mooi meisie na vore te roep om die eerste een te wees om te proe nie.

Nee, in die stille agtergrond gee hy bloot aan die dienaars die opdrag om die kanne met water te vul, daaruit te skep en dit vir die hoofkelner te neem. Hy raak nie eens aan die kanne nie, proe nie eers self van die water/wyn nie. Hy neem nie die eerste skep persoonlik na die hoofkelner toe nie, stuur ook nie een van sy dissipels nie. Bloot die gewone dienaars. Niks buitengewoons gebeur nie. Die hoofkelner weet van niks, het geen idee waar die goeie wyn vandaan kom nie. Wat hom betref is dit bloot net die volgende skep wyn wat hy ontvang. Vir al wat ons weet weet hy nie eens dat daar so amper amper ‘n fiasko was van te min wyn op die partytjie nie. Sy verwarring lê alleenlik by die feit dat die bruidegom teen die algemene konvensie in die beste vir laaste gehou het. Afgesien van dit, niks buitengewoons nie.

Maar tog só buitengewoon! Die grootste wonder van alles (as ons dit dan nou wonders wil noem) is dalk nie dat Jesus die water in wyn verander het nie, maar die manier waarop hy dit gedoen het. Sy tyd het nog nie aangebreek nie. Hy wil nie hierdie wonderteken verrig en as gevolg daarvan ge-etiketteer en aangehang word as ‘n towenaar of wonderwerker nie, want sy gesag lê elders. Dit lê nie in die magiese kragte van die dag nie, maar in sy hemelse Vader wat hom gestuur het. Heeltemal onopsigtelik red hy die bruidspaar van ‘n groot verleentheid. Nie eens hulle weet wie hul weldoener was nie. Amper niemand weet nie – net die dissipels en die dienaars. Al die gaste trek voordeel uit die teken, vier verder fees as gevolg daarvan, drink van die nuwe, beste wyn. Hulle almal leef binne die genade van die teken. Maar net ‘n handjievol weet waar dit vandaan kom. En uit hierdie handjievol is daar nog minder wat iets daarvan verstaan… Die dissipels het Jesus se heerlikheid raakgesien en hulle beginnersgeloof in hom het gegroei.

Aan die begin van die 2016 help hierdie verhaal ons om onsself te orienteer om hierdie jaar bewustelik te leef binne die teenwoordigheid van God. Hy is nie soos Aspoestertjie se “Fairy Godmother” of Aladdin se “Genie” wat net verskyn wanneer ons werklik in die kryp is, sy towerstaffie swaai en dan weer verdwyn tot ‘n volgende keer nie. Ons moet ook versigtig wees om hom nie so te hanteer nie – om nie net te bid of te roep wanneer die werklike nood druk en tussendeur van hom te vergeet asof hy nie bestaan nie. God bestaan. Hy is deurentyd in ons lewens teenwoordig. Of ons hom nou raaksien of nie. En wanneer daar nood is, selfs al is dit so “klein” soos wyn wat opraak by ‘n huweliksviering, dan weet hy daarvan, en alhoewel hierdie kleine probleem eintlik niks met sy groter mandaat in die wêreld te make het nie, al hoef hy nie daar in te gryp nie, doen hy dit tog dikwels wel. Onverwagse verrassings in ons lewe, iets wat op ‘n onverklaarbare manier gebeur, wat ons dikwels net die kop in ongeloof laat skud, maar ons is dankbaar vir die verwikkeling en ons leef daarmee verder die toekoms in, totdat so-iets weer eendag gebeur – iets toevalligs dalk, hoe anders kan ons dit dan verklaar?, wat ons lewe en ons daaglikse beplanninge net ‘n bietjie makliker maak.

Meeste mense het hierdie ervarings van tyd tot tyd, en alhoewel hulle nie weet waar dit vandaan kom nie, hoe dit gebeur nie, kan dit waar wees nie?!, leef hulle ook vanuit daardie genade. Maar ons het die Bybel, ons het verhale en getuienisse van mense wat voor ons so deur die genadige betrokkenheid van die Here in hulle of ander se alledaagse lewens verras is. Ons word deur die wonder van water na wyn genooi om hierdie jaar meer bewustelik in te gaan en om deel te wees van die groepie dissipels wie se geloof gevoed word omdat ons die heerlikheid van die Here raaksien in die verrassende gebeure rondom ons van dag tot dag.

Vir my was Woensdag so ‘n dag. Herman is die afgelope 3 jaar al baie onseker, eers oor kleuterskool en nou oor skool. Nadat sy skooljaar verlede jaar op ‘n positiewe noot geëindig het, het hy Dinsdag (die dag voor die skole begin het) heeldag vir my vertel hoe moeilik skool eintlik is en hoedat hy nie “môre wil teruggaan nie”. Dinsdagnag, voor die eerste skoologgend, het hy wakkergeword van nagmerries en ek moes by hom gaan slaap. Woensdagoggend is hy baie onwillig skooltoe met ‘n maag wat vreeslik pyn en dit was nie vir my maklik om vir hom totsiens te sê, my rug te draai en huistoe te gaan nie. Graad 2, nuwe klas, nuwe juffrou, al sy beste maatjies van verlede jaar is in die ander klas ingedeel hierdie jaar. Toe ek die middag by die hek vir hom wag, sien hy my raak, stap na my toe, kom by die hek, lig beide sy hande in die lug en sê net een woord vir my: “Wonderful!!!”, met ‘n gesiggie wat straal.

Die Here was by Herman gewees in sy klassie daai dag. En vir my was sy “Wonderful!” selfs ‘n groter wonderTEKEN (‘n teken van verandering en hoop) as die water wat destyds in wyn verander is. Genade is om, soms wanneer jy die swakste verwag, deur die beste verras te word.

“Uit sy volheid het ons almal genade op genade ontvang.” Mag hierdie wete julle deur die jaar van 2016 begelei.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.