Jesaja 55 – 2016

28 Februarie 2016 Pinelands -3e Sondag in Lydenstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Die boek Jesaja kan in drie dele verdeel word – Proto-Jesaja (1-39, geskryf deur Jesaja self voor die ballingskap), Deutro-Jesaja (40-55, onbekende skrywer tydens die ballingskap) en Trito-Jesaja (56-66, ‘n ander onbekende skrywer, kneg van die Here, na die ballingskap). In hfst 55 bevind ons onsself aan die einde van die ballingskap, 50 jaar nadat die Jode weggevoer is. Hulle is steeds in Babilonië – hulle het intussen daar in die vreemde ‘n lewe begin oopskrop vir hulself, ook kinders gekry wat eintlik in Israel hoort, maar nog nooit hul “eie” land gesien het nie. Die wind begin egter nou in ‘n nuwe rigting waai, want die Babiloniese ryk is besig om te val onder Persië (koning Kores).

Die probleem is egter dat die volk nou al vir 5 dekades in ballingskap is, uitgelewer is aan politieke, ekonomiese en godsdienstige onderdrukking in ‘n land waar hulle vreemdelinge is en waar hulle regte nie tel nie. Hulle sukkel om werk te kry en indien hulle wel werk word hulle as vreemdelinge onderbetaal want daar is geen ekonomiese stelsel wat hulle beskerm nie. Hulle moet eenvoudig vat wat hulle kry en daarmee tevrede wees. Die tempel van Jerusalem is afgebreek en in Babilonië as daar nie ‘n kans dat hulle ‘n ander tempel of tydelike struktuur sou kon oprig om hulle God te aanbid nie. Die Jode het dus al meer en meer begin gaan na die tempels van die Babiloniërs en om hulle spirituele dors te probeer les het hulle hul tot die afgode begin wend. (Die verstaan van die mense in die OT was in elk geval so dat die gode beperk [ingeperk] was tot die lande waar hulle “behoort” het en dat mens die gode van die land waarbinne jy jou bevind moet aanbid as jy nie vir jou moeilikheid op die hals wil haal nie.)

Met die Jode in ballingskap gaan dit dus nie goed nie, maar daar het intussen ‘n mate van apatie oor hulle neergedaal, ‘n moegheid, ‘n aanvaarding van die omstandighede en ‘n berusting in hulle lot daar in die vreemde. Tyd het vir hulle geleer om nie meer teen die onderdukking teë te skop nie, maar om die beste te probeer maak van daar waar hulle is. “If you can’t beat them, join them” – probeer so goed as moontlik inskakel by die kultuur, lewe en godsdiens van die Babiloniërs ten einde die lewe vir jouself en jou gesin so maklik as moontlik te maak.

In hierdie omstandighede loop daar ‘n Joodse profeet deur die die strate van die nedersettings in Bablonië waar die Jode hulle huisies begin bou het en hul sukkelbestaan voer, en hy verkondig die mees verrassende en verfrissende boodskap:

  1. Julle daar! Almal wat dors is kom na die water toe! Julle wat nie geld/silwer het nie: Kom! Koop en eet; ja, kom koop sonder geld en sonder om te betaal wyn en melk! (Kom kry vir gratis dit wat julle gewoonlik voor sal betaal!)
  2. Waarom weeg julle geld vir iets wat nie brood is nie, en (gaan) julle harde werk vir iets wat nie versadig nie? Luister aandagtig (shema shema) na My en eet die goeie, mag julle siel die keurige vet (oorvloed) geniet.

  1. Draai julle oor en kom na My toe; luister (shema) sodat julle (siele) kan lewe. Ek sal met julle ‘n ewige verbond sny (>sluit). Die heseds (allesomvattende troue liefde van God) teenoor Dawid sal bevestig word.
  2. Kyk! ‘n Getuie vir die volke (le-om) het Ek hom gemaak, ‘n regeerder en ‘n bevelhebber van volke.
  3. Kyk! Jy roep nasies (goi) wat jy nie geken het nie en nasies wat jou nie geken het nie hardloop na jou toe, weens die Here jou God, die Heilige van Israel, want Hy het jou eer herstel. (net genade, geen verdienste nie.)

  1. Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is. (oproep tot bekering en terugkeer – genadeaanbod)
  2. Die goddeloses moet hul (verkeerde) pad laat staan en die bose mense hul planne; hulle moet terug draai na die Here toe en Hy sal aan hulle medelye betoon, na ons God want Hy sal oorvloedig maak om te vergewe (Hy sal altyd weer vergewe). (bekering en terugkeer)
  3. Want nie is my gedagtes/planne julle gedagtes/planne nie, en nie is julle paaie my paaie nie. So sê die Here (vaste profetiese formule).
  4. Want die hemele is hoër as die aarde – so is my paaie hoër as julle paaie en my gedagtes/planne as julle gedagtes/planne. (Die Here se weë van genade en herstel)
  5. Soos wat die reën en die sneeu afkom vanuit die hemele en daarheen nie weer terugkeer nie, maar dit deurweek die aarde en veroorsaak dat dit plante voortbring en dit gee saad vir die saaier en brood vir die wat wil eet.
  6. So sal die woord wees wat uit my mond uitkom: Dit sal nie leeg (onverrigter sake) na My toe terugkom nie, maar dit sal doen wat Ek begeer en dit sal suksesvol wees in dit waarvoor Ek dit gestuur het.
  7. Inderdaad, met blydskap sal julle uitgaan en in vrede sal julle gelei word. Die berge en die heuwels sal losbreek voor julle in ‘n vreugdekreet. (die nuwe uittog, terugkeer na die Beloofde Land)
  8. In die plek van ‘n doringbos sal ‘n sipres opkom, in die plek van ‘n dissel sal ‘n mirteboom opkom. Dit sal wees vir die Here vir ‘n naam (dit sal ‘n monument wees vir die Here), as ‘n ewige teken wat nie afgesny sal word nie.

Watter troos steek daar nie in hierdie boodskap nie! Die profeet begin sy boodskap in hfst 40 letterlik met die woorde: “’Troos Troos, my volk,’ sê die Here julle God”, en dan eindig die boodskap in hfst 55 ook op hierdie manier.

Julle sal sien dat daar drie bewegings in die teks is. Dis egter moeilik om dit so in raampies af te baken want die een boodskap vloei oor in die ander in. Ek het dit tog met die rame uiteengesit omdat die vloei van die boodskap op die manier duideliker na vore kom.

  1. In die eerste beweging wil die profeet die volk se aandag trek met die mees onwaarskynlike boodskap gegewe die omstandighede waarin hulle hul bevind. Hulle leef van die hand tot die mond in ‘n vreemde land. Hulle bestaan word gekenmerk deur skaarste en nie deur oorvloed nie. Elke sent wat hulle verdien moet hulle twee keer omdraai en selfs dan het hulle nie genoeg om kos te koop wat voedsaam en gesond is nie. Dit wat hulle wel kan bekostig is van sulke swak gehalte dat dit hulle op ‘n manier aan die lewe hou, maar dit voed en versadig nie werklik nie.

Aan hulle word die uitnodiging gerig met ‘n opeenstapeling van woorde (imperatiewe): “Kom! Kom! Kom! Koop sonder geld die beste wat daar is! Moenie verder julle geld mors op gemors nie! Kom haal verniet dit wat van die hoogste gehalte is! Luister aandagtig! Eet die goeie! Geniet die keurige!”

Die profeet se uitnodiging herinner ons aan die uitnodiging van Vrou Wysheid (wat op ‘n stadium in die geskiedenis van die volk as tussenganger tussen God en die volk opgetree het). In Spreuke 9:2 – 6 lees ons: “Sy het geslag en wyn reggesit, sy het haar tafel gedek en haar bediendes na die stad toe gestuur om van die hoogste plek af te roep: ‘Kom hiernatoe, almal wat nog moet leer!’ En vir die wat kennis kortkom, het sy gesê: ‘Kom eet by my, kom drink van die wyn wat ek reggesit het! Neem afskeid van al die onkunde, dat julle kan lewe, kom op die pad van die insig!’”

  1. Die tweede beweging begin reeds in vs 2 waar die volk opgeroep word om “aandagtig te luister” (shiemo shamoa). Die Hebreeuse werkwoord shema beteken reeds om so te luister dat jy anders sal lewe (luister om te doen), maar hier word dit nog sterker beklemtoon deur die herhaling: “Luister aandagtig: eet die goeie en geniet die keurige!”

Die vraag is nou: Waarop slaan die luister? Wat is die goeie en die keurige wat geëet moet word? Dan hoor ons vanaf vers 3 dat dit hier (soos in die geval van Vrou Wysheid) nie gaan om fisiese water, brood, wyn en melk nie, maar om die beloftewoord van God wat ‘n ewige verbond met sy volk gesluit het dat Hy hulle nooit sal los nie.

Die volk het hulle vertroue in God begin verloor en hulle begin wend na die afgode van die Babiloniërs. In die eerste plek het hulle die ballingskap gesien as God se straf vir hulle sonde. In die tweede plek het hulle, na 50 jaar van gevangeneskap, begin glo dat God hulle nie uit hul omstandighede kán help nie, dat God nie in staat is daartoe om hulle te verlos en terug te lei na Jerusalem toe nie, dat hulle eerder moet vrede maak met die status quo en die beste probeer maak van ‘n slegte situasie, want anders gaan hulle in elk geval onder gaan.

Midde hierdie mistroostige lewensuitkyk kom herbevestig God sy ewige verbond met die volk – die verbond wat Hy al met Dawid gesluit het, die verbond van allesomvattende liefde en trou, van God wat lojaal sal bly aan die volk. Dit is nie iets van die verre verlede nie. God belowe hier dat Hy sy verbond gestand sal doen. Nou is nie meer net Dawid daar ingesluit nie, maar die hele volk en selfs nog meer universeel kring die verbond uit om ook die vreemde nasies in te sluit! Die rede vir hierdie belofte is egter nie omdat die volk God se ingrype verdien nie, maar omdat Hy die Heilige van Israel is, omdat Hy genade betoon en die volk se eer herstel, omdat Hy nie vir altyd van hulle af weggedraai het (soos wat hulle gedink het) nie.

  1. Dáárom, omdat hierdie verbond nou herbevestig word, omdat dit steeds geldig is, omdat alles nie verlore is nie want God is heilig en ‘n genadige God, dáárom: “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is.” Bekeer julle en kom terug na die Here toe.

Toe die tempel verwoes is en die volk weggevoer is, het dit nie net vir hulle die einde van hul geloof beteken nie. Op ‘n manier het dit ook vir hulle die einde van hulle God beteken. Want God was (binne hulle verstaan) fisies beperk tot die land van Israel en sy teenwoordigheid kon slegs in die tempel gevind word. Daarom moes almal ten minste een keer ‘n jaar optrek na die tempel in Jerusalem toe. Die volk het aanvaar dat hulle hul land verloor het omdat hulle ongehoorsaam was aan God, omdat hulle Hom nie “gesoek” het toe Hy nog te vinde was nie. En nou, nou is die tempel en hul land iets van die verlede en God kan nie meer gevind word nie. Maar nee, mense, shema!, luister aandagtig verder: Julle goddeloses en bose mense wat nie dink dat daar meer hoop is nie, wat nie dink dat terugkeer en herstel meer moontlik is nie, wat besluit het om Babilonië julle permanente tuiste te maak en eerder die opofferings te maak wat daarmee gepaardgaan: “Draai terug na die Here toe en Hy sal aan julle medelye betoon (vir julle jammer wees), na ons God want Hy sal sy vergifnis oorvloedig maak.” Dis nooit te laat om terug te draai nie! Dis nooit te laat vir ‘n nuwe begin nie.

Waarom nie? Want al sê ons eie gedagtes en paaie vir ons dat daar geen uitweg is nie, geen terugkeer moontlik nie; al sê ons eie planne vir ons dat ons maar moet berus by wat is, maak nie saak hoe sleg dit is nie, al is dit wat in ons koppe vassteek en die pad waarop ons lewens gerig is, moet ons nou baie aandagtig hoor: “My gedagtes is nie julle gedagtes nie en julle paaie is nie my paaie nie. Soos wat die hemele hoër is as die aarde, so is my paaie hoër as julle paaie en my planne hoër as julle planne. En wat ookal Ek sê, gebeur!”

Jes 55: 8-9 is twee baie bekende verse in ons geloofstradisie. Verse waarmee ons mekaar troos in tye van swaarkry: “Die Here is gedagtes is nie ons gedagtes nie, sy paaie nie ons paaie nie. Ons weet nie wat die toekoms inhou nie, sal dit nooit verstaan nie, maar moet eenvoudig berus by die onpeilbaarheid van God en vertrou dat wat ookal gebeur, gebeur omdat Hy dit so wil. Daarom is dit vir ons beswil al maak dit nie vir ons sin nie.” Dit is egter glad nie waaroor hierdie verse gaan nie. Die boodskap is binne ‘n baie spesifieke konteks aan die volk verkondig. ‘n Konteks waar hulle moed opgegee het dat God ooit weer aan hulle sal dink, moed opgegee het dat hulle sal terugkeer na hulle eie land, begin planne maak om die situasie waarbinne hulle hul tans bevind maar so maklik as moontlik te maak vir almal want dis hoe dit gaan wees en klaar. Daarmee moet hulle nou vrede maak. Dis die konteks, en binne hierdie konteks kom sê die Here via die profeet vir die volk: “ Nee! Julle het dalk moed opgegee, julle sien geen uitkoms nie, julle pad is vasgeloop, maar Ek kyk anders, dink anders, beplan anders. Waar julle julle in uitsigloosheid vasstaar, sien en bewerk Ek herstel. “ Inderdaad, met blydskap sal julle uitgaan en in vrede sal julle gelei word. Die berge en die heuwels sal losbreek voor julle in ‘n vreugdekreet. In die plek van dood sal daar nuwe lewe wees. Dit sal ‘n monument wees vir die Here (tekenend van sy trou), ‘n ewige teken wat nie afgesny kan word nie.”

Dit het toe ook so gebeur. Na die val van Babilonië, onder die bewind van koning Kores van Persië, is die Jode vrygelaat om terug te keer na hulle land toe, met die opdrag van Kores: Gaan herbou julle land en julle tempel, maak ‘n nuwe begin.

[Ons beleef nou al 20, amper 22, jaar van demokrasie, maar alles is uitsigloos, die mense van SA is platgeslaan, ekonomiese en politieke ballinge in ons eie land, moet maar die beste maak van ‘n slegte situasie. Maar lees die koerante en kyk wat gebeur op die kampusse: die jongmense van SA sê NEE!]

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Lukas 9:28-36 – 2016

7 Februarie 2016 Pinelands – Sondag van Verheerliking
Prediker: Dr Tiana Bosman

Teks notas:

31 – uittog > eksodus

33 – hoe weet Petrus dit was Moses en Elia? Hy het hulle tog nog nooit voorheen gesien nie. Of was dit eenvoudig die mees natuurlike afleiding om te maak binne die tradisie wat hulle geleef het?

35 – “Dit is my Seun, die Uitverkorene. Luister na Hom.” Herinner aan Jesus se doop in die Jordaan. Hier vind ons dus die herbevestiging van die goddelike identiteit van Jesus.

Markus 9 en Matt 17 //

Markus (eerste evangelis) was student van Petrus

Matteus (Levi) was een van die 12

Lukas was ‘n mediese dokter en, nes Markus, nie ‘n ooggetuie nie.

Markus en Matt se weergawe baie nader aan mekaar as Lukas:
Vs 28 – 8 dae (vs 6 dae. Die 8e dag het later verwys na die opstandingsdag – Lukas gee dus simboliese betekenis deur Jesus se verheerliking te verbind aan sy opstanding)
Vs 28-29 – Om te bid – In Lukas lees ons dikwels dat Jesus gaan bid het.
Vs 31 – hulle het met Hom gepraat oor sy uittog (eksodus), verwysend na sy kruisiging (en daaropvolgende verheerliking?)
Vs 32 – deur slaap oorval
Vs 36 – hulle het (uit hulle eie) stilgebly en vir niemand daarvan vertel nie

Wat is dit wat Lukas vir ons wil sê deur sy vertelling? Hy was moontlik nog nie bewus van Matteus se manuskrip nie, maar hy het tog vir Markus as bronteks gebruik. Waarom die “afwykings”? (Dalk die feit dat hy weet Markus was ook nie ‘n ooggetuie nie, maar ‘n student van Petrus. Dalk het Lukas gehoor dat Johannes en/of Jakobus die gebeurtenis bietjie anders onthou? Weet nie, blote spekulasie. Maar tog goed om die moontlikhede op die tafel te sit.)

Markus en Matteus vertel die verhaal as ‘n “bergtop-ervaring”. Positief, bemoedigend, versterkend, gee jou krag om weer terug te gaan na die lewe toe en met nuwe inspirasie en energie te leef.

Jesus en drie van sy dissipels gaan teen ‘n hoë berg uit waar hulle heeltemal alleen is. Sy voorkoms verander daar voor hulle oë. Sy klere het blink geword, spierwit, so wit soos niemand op aarde iets kan bleik nie. Skielik verskyn Moses en Elia aan hulle en hierdie twee manne wat lank terug geleef het raak aan die gesels met Jesus.

Waarom juis Moses en Elia? Ons kry nie ‘n verduideliking daarvoor in die teks nie. Maar wat ons wel weet is dat Jesus in die bergrede vir die mense kom leer het dat Hy gekom het om aan die geskrifte van die wet en die profete hul ware en volle betekenis te gee. Nou in die Bybelse tyd het Moses die wet verteenwoordig en Elia het die profete verteenwoordig. Dit maak dus heeltemal sin dat dit hierdie twee manne is wat aan Jesus verskyn.

Om dit nog verder te vat: Aan die einde van sy lewe het Moses die Moabvlakte opgeklim. Daar het die Here vir hom die beloofte land gewys en met hom gepraat en toe het hy gesterf. Die storie loop dat die Here hom self daar iewers begrawe het, maar niemand kon ooit Moses se graf vind nie (Deut 34:6)! Geen mens het dus vir Moses sien sterf of daarna bewyse gevind dat hy dood is nie.

Elia, weer, het nie gesterf nie. Sy leerling Elisa het gesien hoedat ‘n wa van vuur met perde van vuur aan die einde van sy lewe vir Elia in ‘n stormwind in die hemel opneem (2 Kon 2).

Die man van die wet en die verteenwoordiger van die profete, van wie niemand gesien het dat hulle sterf soos ander mense nie, verskyn nou tydens Jesus se lewe aan Hom op die berg. Die hele OT getuienis tree hier in gesprek met Jesus, die Een om wie die hele NT getuienis draai.

Daar is ook baie ooreenkomste met God se verskyning aan Moses in Eksodus 34. Drie manne klim saam met Moses op teen die berg, ‘n wolk oordek hulle, Moses se gesig straal, en God oorhandig die wet aan Moses. Dit is waarskynlik hierom dat Petrus drie hutte wil bou – een vir Jesus, een vir Moses en een vir Elia. In ‘n gebaar van eerbied wil hy monumente vir die drie “groot geeste” in hul geskiedenis bou, een van wie hy nogals die voorreg het om persoonlik te ken. Wat nog nie so lekker tot Petrus deurdring nie, is dat Jesus op geen manier aan Moses en Elia, hoe groot figure hulle ookal was, gelykgestel kan word nie. Moses en Elia kan nie in dieselfde asem as Jesus genoem word nie. Hy is heel anders en veel groter as hulle.

Dit is waarskynlik hierom dat Petrus drie hutte wil bou – een vir Jesus, een vir Moses en een vir Elia. In ‘n gebaar van eerbied wil hy monumente vir die drie “groot geeste” in hul geskiedenis bou, een van wie hy nogals die voorreg het om persoonlik te ken. Maar Petrus het nie geweet waarvan hy praat nie. Hy en die ander twee was totaal verskrik – vandaar Petrus se onvanpaste reaksie. Wat beslis nog nie tot Petrus deurdring nie, is dat Jesus op geen manier aan Moses en Elia, hoe groot figure hulle ookal was, gelykgestel kan word nie. Moses en Elia kan nie in dieselfde asem as Jesus genoem word nie. Hy is heel anders en veel groter as hulle.

Terwyl Petrus nog so praat, het ‘n wolk sy skaduwee oor hulle gegooi en ‘n stem het uit die wolk met hulle gepraat…

Skielik het hulle, toe hulle rondkyk, niemand anders behalwe net Jesus by hulle gesien nie. Toe hulle afgaan terug na die mense toe het Jesus vir hulle beveel om niks te sê van wat gebeur het nie. Die dissipels het dit dus (vir eers) vir hulself gehou, maar hulle het met nuwe geloof verder gestap met Jesus. Geloof wat hulle op die ou-end met die gebeure rondom die kruisiging tog weer versaak het… Maar hierdie was ‘n bergtog-ervaring, ‘n bevestigende gebeurtenis, iets om aan vas te hou en later aan terug te dink.

Lukas skets ‘n ander prentjie in sy vertelling. Hy neem ons nie heeltemal weg van die positiewe bergtop-ervaring nie, maar daar is tog by hom ‘n veel meer somber atmosfeer rondom die gebeurtenis.

  • Lukas se ag dae na Jesus se eerste aankondiging van sy dood dui simbolies op wat voorlê – want vir Jesus om by die agste dag van die opstanding uit te kom, moet Hy eers sterf.
  • Jesus gaan by die berg op om te gaan bid. Ons kry geen indruk dat Hy sy drie dissipels daar opneem sodat hulle sy glans en glorie kan raaksien nie. Eerder die gevoel van die tuin van Getsemane – Jesus wil nie alleen wees nadat Hy sy dood aangekondig het en nou tot die Vader gaan bid vir die pad wat voorlê nie. Vir Jesus is hierdie tyd bo-op die berg dalk eerder ‘n tyd van ontwrigting en ontsteltenis as wat dit ‘n oomblik van verheerliking is.

En tog – terwyl Jesus bid het die voorkoms van sy gesig verander en sy klere het helderwit geskitter.

  • Skielik is Moses en Elia ook daar, en hulle voer gesprek met Jesus. Maar Lukas gee vir ons die inhoud van die gesprek. Hulle praat nie oor die Wet en die Profete wat hulle verteenwoordig nie. Hulle praat met Jesus baie spesifiek oor sy uittog, sy eksodus wat Hy in Jerusalem tot vervulling sou bring. Hulle praat oor sy lydensweg wat Hom gaan bring tot aan die kruis. Dit lyk dus vir ons asof Moses en Elia daar is om vir Jesus moed in te praat vir die pad wat voorlê.
  • Petrus en die ander twee het nie die gesprek gevolg nie. Soos ook later in Getsemane sou gebeur het hulle hier aan die slaap geraak terwyl Jesus bid. Hulle was nie “daar” vir Hom nie. Gelukkig het Moses en Elia “ontslaap” en by Jesus kom wees.
  • Teen die einde se kant word die dissipels wakker, betyds om te sien hoedat Moses en Elia van Jesus afskeid neem, hulle weet nie wat om daarvan te maak nie en Petrus wil drie hutte bou. Hy wil hierdie bergtop-ervaring (want dis wat dit toe vir hom was) vasgryp en in die geskiedenis in sement. Maar hy was nog besig om te praat, toe kom daar ‘n wolk wat ‘n donker skaduwee oor hulle gooi. Dis onheilspellend want die dissipels word bang toe hulle in die wolk verdwyn.
  • Daar kom egter ‘n stem uit die wolk: “Dit is my geliefde Seun, die Uitverkorene. Luister na Hom.” Binne die tradisie van die wolk was ‘n wolk of ‘n wolkkolom dikwels ‘n teken van die teenwoordigheid van God. En nou, hier: Midde Jesus se vrese oor sy eksodus wat voorlê en die dissipels se angs oor wat aan die gebeur is, kom die bevestigende stem van God. Jesus ís sy Seun. En ten spyte van sy aankodiging dat Hy nie Jerusalem toe gaan om die troon oor te neem nie maar om aan die kruis te hang moet hulle steeds na Hom luister, moet hulle Hom steeds volg.
  • Nadat die stem gepraat het, het die dissipels vir Jesus alleen aangetref. In Lukas se vertelling hoef Jesus hulle nie te vermaan om niks te sê oor wat hulle hier gesien en beleef het nie. Hulle is vanself stomgeslaan, sprakeloos, nie in ‘n toestand om enigstens (vir nou) daaroor te praat nie.

Ek wil amper sê waar die gebeure in Markus en Matteus se vertelling vir die dissipels ‘n out-of-this-world bergtop-ervaring gee (‘n geestelike “high”), bring Lukas se vertelling hulle terug aarde toe. Wat hulle gesien het ontstel hulle. Hulle kan nie daaroor praat nie.

Ek dink ons het ook soms sulke geloofservarings nodig. Ervaringe van die Here wat ons nie noodwendig elke keer aanvuur om die wêreld aan die brand te steek met ons getuienisse nie, maar wat ons eerder die hand op die mond laat sit en laat swyg. Aanvanklik wou Petrus in sy haas 3 monumente bou om die oomblik in tyd vas te vang, maar nadat hulle deur die donker wolk omring is en die stem van God gehoor het, het hy besef dit is nie ‘n tyd vir feesvieringe nie. Dis ‘n oomblik vir stilte. Hulle gaan nie hier by die berg af om liedere te sing en bergtop-ervarings te deel nie. Hulle gaan af om aan Jesus se sy te (probeer) stap oppad na sy kruis toe.

Woensdag is die begin van lydenstyd. Die aand hou ons ons Aswoensdag diens. Dalk moet ons in hierdie dae eerder minder sê as meer. Want hoe op aarde kan ons in elk geval die lyding van Jesus Christus verklaar?

Die glans van God se verskyning en die donker wolk van sy teenwoordigheid val ook in hierdie tyd oor ons. Ons het gisteraand die fliek Spotlight gaan kyk. Oor die onlangse skandaal (begin 2001) oor die “cover-up” van die stories van honderde RK priesters wat duisende kinders gemolesteer het. Aan die einde van die fliek, nadat alles aan die lig gekom het en ook die joernaliste van hierdie span besef dat hulle in die verlede oor informasie beskik het waarmee hulle nie genoeg erns gemaak het nie, sê die nuwe redakteur van The Boston Globe aan sy span: “Sometimes it’s easy to forget that we spend most of our time stumbling around in the dark. Suddenly a light gets turned on, and there’s a fair share of blame to go around.” Maar dan troos hy hulle deur te sê dat dit nie nou help om in die (selfopgelegde) onkunde van die verlede vas te val nie. Nou is dit die tyd om vorentoe te stap, selfs is dit oppad na ‘n kruis. Dalk juis daarom.

Die berg van verheerliking was waarskynlik of Berg Tabor of Berg Hermon. Meeste aanvaar dis Berg Tabor. Tipies aan ons ras het die mense nie erns gemaak met Jesus se woorde aan Petrus om nie 3 monumente te bou nie. Toe Petrus dit nie kon bou nie, het die Fransiskane jare later vir hom ingestaan en ‘n groot kerk op die einste berg gaan bou. The Franciscan Church of the Transfiguration op berg Tabor in Israel. ‘n Toeriste attraksie. Heel gerieflik ook gemaak – mens hoef nie meer te voet op te klim nie, daar is ‘n bus wat jou ry. Vandat die bus onder vertrek totdat jy bo is en weer terug onder neem 30 minute. Want die toergroep moet aanbeweeg na ‘n volgende besienswaardigheid.

Mag die Here ons in hierdie lydenstyd dan eerder van die bergtop afhou as ons nie gereed of bereid is om raak te sien wat Hy daar aan ons wil openbaar nie. Dit is ‘n tyd vir stomgeslaan wees en vir luister. Toe die lig vir die joernaliste van die Boston Globe eers aangegaan het, kon hulle nie meer maak asof hulle nie geweet het nie. Soos Lukas weet ons nou wat die doel was van Jesus se “Verheerliking” op die berg. Ons hoef nie meer soos die dissipels rond te tas in die donker nie. Kom ons behou ons fokus in die volgende paar weke. In stille bewuswording hou ons die kruis voor oë.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.