Jesaja 55 – 2016

28 Februarie 2016 Pinelands -3e Sondag in Lydenstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Die boek Jesaja kan in drie dele verdeel word – Proto-Jesaja (1-39, geskryf deur Jesaja self voor die ballingskap), Deutro-Jesaja (40-55, onbekende skrywer tydens die ballingskap) en Trito-Jesaja (56-66, ‘n ander onbekende skrywer, kneg van die Here, na die ballingskap). In hfst 55 bevind ons onsself aan die einde van die ballingskap, 50 jaar nadat die Jode weggevoer is. Hulle is steeds in Babilonië – hulle het intussen daar in die vreemde ‘n lewe begin oopskrop vir hulself, ook kinders gekry wat eintlik in Israel hoort, maar nog nooit hul “eie” land gesien het nie. Die wind begin egter nou in ‘n nuwe rigting waai, want die Babiloniese ryk is besig om te val onder Persië (koning Kores).

Die probleem is egter dat die volk nou al vir 5 dekades in ballingskap is, uitgelewer is aan politieke, ekonomiese en godsdienstige onderdrukking in ‘n land waar hulle vreemdelinge is en waar hulle regte nie tel nie. Hulle sukkel om werk te kry en indien hulle wel werk word hulle as vreemdelinge onderbetaal want daar is geen ekonomiese stelsel wat hulle beskerm nie. Hulle moet eenvoudig vat wat hulle kry en daarmee tevrede wees. Die tempel van Jerusalem is afgebreek en in Babilonië as daar nie ‘n kans dat hulle ‘n ander tempel of tydelike struktuur sou kon oprig om hulle God te aanbid nie. Die Jode het dus al meer en meer begin gaan na die tempels van die Babiloniërs en om hulle spirituele dors te probeer les het hulle hul tot die afgode begin wend. (Die verstaan van die mense in die OT was in elk geval so dat die gode beperk [ingeperk] was tot die lande waar hulle “behoort” het en dat mens die gode van die land waarbinne jy jou bevind moet aanbid as jy nie vir jou moeilikheid op die hals wil haal nie.)

Met die Jode in ballingskap gaan dit dus nie goed nie, maar daar het intussen ‘n mate van apatie oor hulle neergedaal, ‘n moegheid, ‘n aanvaarding van die omstandighede en ‘n berusting in hulle lot daar in die vreemde. Tyd het vir hulle geleer om nie meer teen die onderdukking teë te skop nie, maar om die beste te probeer maak van daar waar hulle is. “If you can’t beat them, join them” – probeer so goed as moontlik inskakel by die kultuur, lewe en godsdiens van die Babiloniërs ten einde die lewe vir jouself en jou gesin so maklik as moontlik te maak.

In hierdie omstandighede loop daar ‘n Joodse profeet deur die die strate van die nedersettings in Bablonië waar die Jode hulle huisies begin bou het en hul sukkelbestaan voer, en hy verkondig die mees verrassende en verfrissende boodskap:

  1. Julle daar! Almal wat dors is kom na die water toe! Julle wat nie geld/silwer het nie: Kom! Koop en eet; ja, kom koop sonder geld en sonder om te betaal wyn en melk! (Kom kry vir gratis dit wat julle gewoonlik voor sal betaal!)
  2. Waarom weeg julle geld vir iets wat nie brood is nie, en (gaan) julle harde werk vir iets wat nie versadig nie? Luister aandagtig (shema shema) na My en eet die goeie, mag julle siel die keurige vet (oorvloed) geniet.

  1. Draai julle oor en kom na My toe; luister (shema) sodat julle (siele) kan lewe. Ek sal met julle ‘n ewige verbond sny (>sluit). Die heseds (allesomvattende troue liefde van God) teenoor Dawid sal bevestig word.
  2. Kyk! ‘n Getuie vir die volke (le-om) het Ek hom gemaak, ‘n regeerder en ‘n bevelhebber van volke.
  3. Kyk! Jy roep nasies (goi) wat jy nie geken het nie en nasies wat jou nie geken het nie hardloop na jou toe, weens die Here jou God, die Heilige van Israel, want Hy het jou eer herstel. (net genade, geen verdienste nie.)

  1. Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is. (oproep tot bekering en terugkeer – genadeaanbod)
  2. Die goddeloses moet hul (verkeerde) pad laat staan en die bose mense hul planne; hulle moet terug draai na die Here toe en Hy sal aan hulle medelye betoon, na ons God want Hy sal oorvloedig maak om te vergewe (Hy sal altyd weer vergewe). (bekering en terugkeer)
  3. Want nie is my gedagtes/planne julle gedagtes/planne nie, en nie is julle paaie my paaie nie. So sê die Here (vaste profetiese formule).
  4. Want die hemele is hoër as die aarde – so is my paaie hoër as julle paaie en my gedagtes/planne as julle gedagtes/planne. (Die Here se weë van genade en herstel)
  5. Soos wat die reën en die sneeu afkom vanuit die hemele en daarheen nie weer terugkeer nie, maar dit deurweek die aarde en veroorsaak dat dit plante voortbring en dit gee saad vir die saaier en brood vir die wat wil eet.
  6. So sal die woord wees wat uit my mond uitkom: Dit sal nie leeg (onverrigter sake) na My toe terugkom nie, maar dit sal doen wat Ek begeer en dit sal suksesvol wees in dit waarvoor Ek dit gestuur het.
  7. Inderdaad, met blydskap sal julle uitgaan en in vrede sal julle gelei word. Die berge en die heuwels sal losbreek voor julle in ‘n vreugdekreet. (die nuwe uittog, terugkeer na die Beloofde Land)
  8. In die plek van ‘n doringbos sal ‘n sipres opkom, in die plek van ‘n dissel sal ‘n mirteboom opkom. Dit sal wees vir die Here vir ‘n naam (dit sal ‘n monument wees vir die Here), as ‘n ewige teken wat nie afgesny sal word nie.

Watter troos steek daar nie in hierdie boodskap nie! Die profeet begin sy boodskap in hfst 40 letterlik met die woorde: “’Troos Troos, my volk,’ sê die Here julle God”, en dan eindig die boodskap in hfst 55 ook op hierdie manier.

Julle sal sien dat daar drie bewegings in die teks is. Dis egter moeilik om dit so in raampies af te baken want die een boodskap vloei oor in die ander in. Ek het dit tog met die rame uiteengesit omdat die vloei van die boodskap op die manier duideliker na vore kom.

  1. In die eerste beweging wil die profeet die volk se aandag trek met die mees onwaarskynlike boodskap gegewe die omstandighede waarin hulle hul bevind. Hulle leef van die hand tot die mond in ‘n vreemde land. Hulle bestaan word gekenmerk deur skaarste en nie deur oorvloed nie. Elke sent wat hulle verdien moet hulle twee keer omdraai en selfs dan het hulle nie genoeg om kos te koop wat voedsaam en gesond is nie. Dit wat hulle wel kan bekostig is van sulke swak gehalte dat dit hulle op ‘n manier aan die lewe hou, maar dit voed en versadig nie werklik nie.

Aan hulle word die uitnodiging gerig met ‘n opeenstapeling van woorde (imperatiewe): “Kom! Kom! Kom! Koop sonder geld die beste wat daar is! Moenie verder julle geld mors op gemors nie! Kom haal verniet dit wat van die hoogste gehalte is! Luister aandagtig! Eet die goeie! Geniet die keurige!”

Die profeet se uitnodiging herinner ons aan die uitnodiging van Vrou Wysheid (wat op ‘n stadium in die geskiedenis van die volk as tussenganger tussen God en die volk opgetree het). In Spreuke 9:2 – 6 lees ons: “Sy het geslag en wyn reggesit, sy het haar tafel gedek en haar bediendes na die stad toe gestuur om van die hoogste plek af te roep: ‘Kom hiernatoe, almal wat nog moet leer!’ En vir die wat kennis kortkom, het sy gesê: ‘Kom eet by my, kom drink van die wyn wat ek reggesit het! Neem afskeid van al die onkunde, dat julle kan lewe, kom op die pad van die insig!’”

  1. Die tweede beweging begin reeds in vs 2 waar die volk opgeroep word om “aandagtig te luister” (shiemo shamoa). Die Hebreeuse werkwoord shema beteken reeds om so te luister dat jy anders sal lewe (luister om te doen), maar hier word dit nog sterker beklemtoon deur die herhaling: “Luister aandagtig: eet die goeie en geniet die keurige!”

Die vraag is nou: Waarop slaan die luister? Wat is die goeie en die keurige wat geëet moet word? Dan hoor ons vanaf vers 3 dat dit hier (soos in die geval van Vrou Wysheid) nie gaan om fisiese water, brood, wyn en melk nie, maar om die beloftewoord van God wat ‘n ewige verbond met sy volk gesluit het dat Hy hulle nooit sal los nie.

Die volk het hulle vertroue in God begin verloor en hulle begin wend na die afgode van die Babiloniërs. In die eerste plek het hulle die ballingskap gesien as God se straf vir hulle sonde. In die tweede plek het hulle, na 50 jaar van gevangeneskap, begin glo dat God hulle nie uit hul omstandighede kán help nie, dat God nie in staat is daartoe om hulle te verlos en terug te lei na Jerusalem toe nie, dat hulle eerder moet vrede maak met die status quo en die beste probeer maak van ‘n slegte situasie, want anders gaan hulle in elk geval onder gaan.

Midde hierdie mistroostige lewensuitkyk kom herbevestig God sy ewige verbond met die volk – die verbond wat Hy al met Dawid gesluit het, die verbond van allesomvattende liefde en trou, van God wat lojaal sal bly aan die volk. Dit is nie iets van die verre verlede nie. God belowe hier dat Hy sy verbond gestand sal doen. Nou is nie meer net Dawid daar ingesluit nie, maar die hele volk en selfs nog meer universeel kring die verbond uit om ook die vreemde nasies in te sluit! Die rede vir hierdie belofte is egter nie omdat die volk God se ingrype verdien nie, maar omdat Hy die Heilige van Israel is, omdat Hy genade betoon en die volk se eer herstel, omdat Hy nie vir altyd van hulle af weggedraai het (soos wat hulle gedink het) nie.

  1. Dáárom, omdat hierdie verbond nou herbevestig word, omdat dit steeds geldig is, omdat alles nie verlore is nie want God is heilig en ‘n genadige God, dáárom: “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is.” Bekeer julle en kom terug na die Here toe.

Toe die tempel verwoes is en die volk weggevoer is, het dit nie net vir hulle die einde van hul geloof beteken nie. Op ‘n manier het dit ook vir hulle die einde van hulle God beteken. Want God was (binne hulle verstaan) fisies beperk tot die land van Israel en sy teenwoordigheid kon slegs in die tempel gevind word. Daarom moes almal ten minste een keer ‘n jaar optrek na die tempel in Jerusalem toe. Die volk het aanvaar dat hulle hul land verloor het omdat hulle ongehoorsaam was aan God, omdat hulle Hom nie “gesoek” het toe Hy nog te vinde was nie. En nou, nou is die tempel en hul land iets van die verlede en God kan nie meer gevind word nie. Maar nee, mense, shema!, luister aandagtig verder: Julle goddeloses en bose mense wat nie dink dat daar meer hoop is nie, wat nie dink dat terugkeer en herstel meer moontlik is nie, wat besluit het om Babilonië julle permanente tuiste te maak en eerder die opofferings te maak wat daarmee gepaardgaan: “Draai terug na die Here toe en Hy sal aan julle medelye betoon (vir julle jammer wees), na ons God want Hy sal sy vergifnis oorvloedig maak.” Dis nooit te laat om terug te draai nie! Dis nooit te laat vir ‘n nuwe begin nie.

Waarom nie? Want al sê ons eie gedagtes en paaie vir ons dat daar geen uitweg is nie, geen terugkeer moontlik nie; al sê ons eie planne vir ons dat ons maar moet berus by wat is, maak nie saak hoe sleg dit is nie, al is dit wat in ons koppe vassteek en die pad waarop ons lewens gerig is, moet ons nou baie aandagtig hoor: “My gedagtes is nie julle gedagtes nie en julle paaie is nie my paaie nie. Soos wat die hemele hoër is as die aarde, so is my paaie hoër as julle paaie en my planne hoër as julle planne. En wat ookal Ek sê, gebeur!”

Jes 55: 8-9 is twee baie bekende verse in ons geloofstradisie. Verse waarmee ons mekaar troos in tye van swaarkry: “Die Here is gedagtes is nie ons gedagtes nie, sy paaie nie ons paaie nie. Ons weet nie wat die toekoms inhou nie, sal dit nooit verstaan nie, maar moet eenvoudig berus by die onpeilbaarheid van God en vertrou dat wat ookal gebeur, gebeur omdat Hy dit so wil. Daarom is dit vir ons beswil al maak dit nie vir ons sin nie.” Dit is egter glad nie waaroor hierdie verse gaan nie. Die boodskap is binne ‘n baie spesifieke konteks aan die volk verkondig. ‘n Konteks waar hulle moed opgegee het dat God ooit weer aan hulle sal dink, moed opgegee het dat hulle sal terugkeer na hulle eie land, begin planne maak om die situasie waarbinne hulle hul tans bevind maar so maklik as moontlik te maak vir almal want dis hoe dit gaan wees en klaar. Daarmee moet hulle nou vrede maak. Dis die konteks, en binne hierdie konteks kom sê die Here via die profeet vir die volk: “ Nee! Julle het dalk moed opgegee, julle sien geen uitkoms nie, julle pad is vasgeloop, maar Ek kyk anders, dink anders, beplan anders. Waar julle julle in uitsigloosheid vasstaar, sien en bewerk Ek herstel. “ Inderdaad, met blydskap sal julle uitgaan en in vrede sal julle gelei word. Die berge en die heuwels sal losbreek voor julle in ‘n vreugdekreet. In die plek van dood sal daar nuwe lewe wees. Dit sal ‘n monument wees vir die Here (tekenend van sy trou), ‘n ewige teken wat nie afgesny kan word nie.”

Dit het toe ook so gebeur. Na die val van Babilonië, onder die bewind van koning Kores van Persië, is die Jode vrygelaat om terug te keer na hulle land toe, met die opdrag van Kores: Gaan herbou julle land en julle tempel, maak ‘n nuwe begin.

[Ons beleef nou al 20, amper 22, jaar van demokrasie, maar alles is uitsigloos, die mense van SA is platgeslaan, ekonomiese en politieke ballinge in ons eie land, moet maar die beste maak van ‘n slegte situasie. Maar lees die koerante en kyk wat gebeur op die kampusse: die jongmense van SA sê NEE!]

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.