Lukas 19:28-40 – 2016

20 Maart 2016 Pinelands – Palmsondag
Prediker: Dr Tiana Bosman

 

Dis Palmsondag vandag. Ons dink terug aan die Sondag waarop Jesus op ‘n donkie Jerusalem binnegegaan het, omring deur sy dissipels en volgelinge, almal in ‘n feestelike luim. Johannes vertel hoedat mense vir Jesus met palmtakke tegemoet gaan. Matteus en Markus vertel van die takke wat hulle van bome afgekap het, maar noem dit nie spesifiek palmtakke nie. Lukas maak geen melding van takke en blare nie, maar net die klere wat hulle op die donkie se rug gesit en voor Hom oopgegooi het. Almal trek op na Jerusalem om die gebruiklike jaarlikse fees van hul voorvaders te gaan vier – die Paasfees.

Dit is baie belangrik dat ons die geskiedenis van die fees sal verstaan, sodat ons kan besef: Paasfees was waarskynlik die mees plofbare en politieke fees van die Jode gewees in daardie tyd. Die volk wat hul land Kanaan verloor het en tans weer gebuk gaan, die keer onder die Romeinse imperialisme, dink terug aan die tyd toe hulle slawe was in Egipte en hoedat die reddened hand van God hulle bevry het… Vandag staan die fees onder die Jode bekend as Pesach.

Die Israeliete was nog ‘n onderdrukte volk in Egipte toe God die Paasfees ingestel het. Dit het saamgeval met die tiende plaag. In Eksodus 11-12 kondig die Here aan Moses aan dat Hy teen middernag deur Egipte sal gaan en dat elke eersgeborene in Egipte sal sterf, selfs die eerstelinge van die diere. Die Here sê verder vir Moses en Aäron dat daardie maand hul heel belangrikste maand moet word, want dit is die maand waarbinne Hy hulle uit Egipte sal bevry. Die tiende plaag val dus saam met die uiteindelike bevryding van die Israeliete. Elke Israelitiese huisgesin moes ‘n gesonde jaaroud lam slag en die bloed van die lam aan hul huise se deurkosyne smeer. Hulle moes die lamsvleis braai en dit eet. Hierdie lammers sou paaslammers genoem word, en hulle is as paasoffers aan die Here geoffer omdat Hy die mense in die huise van die Israeliete gespaar het. Daardie selfde nag het die Here toe deur Egipte beweeg en al die eerstelinge van die Egiptenaars getref, maar by die huise waarvan die deurkosyne met die bloed van die paaslammers geverf is, het Hy verbygehou.

In herinnering aan die Here se genade teenoor en bevryding van die Israeliete baie lank terug, het die volk nou weer in die belangrikste maand op hulle kalender opgetrek na Jerusalem om fees te vier en om hul verpligtinge van die paaslammers wat geoffer moes word, na te kom. Soos al sy ander volksgenote is Jesus ook oppad daarheen. Maar anders as hulle weet Hy dat die Paasfees hierdie jaar anders gaan wees, dat Hy nie soos die ander gaan om ‘n lam te offer nie, maar om as Lam geoffer te word. (Hier vind ons dan die wortels van ons Christelike Paasfees – Jesus wat as Lam van God geoffer word om ons te bevry uit die mag van sonde en lyding.) Hierdie omwenteling in die gebeure van daai week en die Vrydag wat voorlê – die dag waarop die Paaslammers geoffer moes word – was nog nie vir die ander mense duidelik nie.

Maar Paasfees was tog ook vir die volgelinge van Jesus anders as ander jare. Hulle het geglo dat die Paasfees die keer sou saamval met hulle Koning, Jesus, se inname van die Romeinse Ryk, dat Hy die keiser gaan onttroon en self die troon sal bestyg. En so die volk in ere sal herstel. Inderdaad groot rede tot feesvieringe – die volk dink terug aan hul bevryding vanuit die Egiptiese mag eeue terug, en hulle staan op die vooraand van hul bevryding vanuit die Romeinse mag nou. Die geskiedenis word herhaal, en dinge lyk belowend. Heeltyd tydens sy openbare optredes het Jesus vir die mense gesê dat Hy oppad is na Jerusalem, oppad om die koninkryk van God op te rig, en hier is hulle nou uiteindelik. Daar voor lê Jerusalem.

Ons kry dus die gedagte van ‘n rewolusie wat op hande is. Presies hiervoor was die Romeine ook elke jaar bang. Daarom, terwyl Jesus en sy volgelinge vanaf die kant van die Olyfberg af Jerusalem nader, het Pontius Pilatus en sy soldate die gerieflike omgewing van sy paleis in Sesarea Maritima ook verruil vir die bedrywige stad Jerusalem. Want die Romeine het nie die vrede in Jerusalem vertrou tydens die Joodse Paasfees nie. Hulle het geweet dat ‘n groep, ‘n skare wat deur ‘n gemene faktor aan mekaar gebind word – veral as daardie band historiese sentimente het (soos bv ras, geloof of taal) – dat so ‘n groep mekaar kan beïnvloed en opsweep om in opstand te kom teen die status quo, om mense te begin aanval, geboue af te breek, die “vyand” of “onderdrukker” se besittings brand te steek, die opposisie se leier te probeer onttroon en ‘n nuwe leier vanuit eie geledere vorentoe te stoot.

Die energie wat in die omgewing opbou in aanloop tot die fees, is elektries.

Jesus kom met ‘n plan. Toe hulle naby Betfage en Betanië teen die Olyfberg kom, stuur Hy twee van sy dissipels na die nabye dorpie (Betfage?) om ‘n donkievul te gaan haal. Die vul sal vasgemaak wees by die ingang van die dorpie en dit moet een wees waarop niemand nog ooit gesit het nie. Ons sou kon wonder of Jesus bonatuurlike kennis gehad het oor hierdie donkievul, soos die profeet Samuel wat as siener destyds al geweet het waar Saul se pa se donkies heen verdwaal het. Of dit was dalk gebruiklik om pakdiere vir die reisigers beskikbaar te stel by die ingang van die dorpies rondom Jerusalem, en donkies sou baie meer geredelik verkrygbaar wees as perde. (Die ryk mense het met perde gery, so jy sou nie maklik ‘n perd te huur of te leen vind nie.) [Die antieke gebruik van angaria – ‘n belanrike persoon het die “reg”  om iets van iemand anders te gebruik as die situasie daarna vra – FBI en motors] Jesus het dus nie omgegee vir ‘n donkie nie, maar wat wel belangrik was, was dat hierdie donkie ‘n vul moes wees wat nog nie gebruik was nie en dat daar geen saal op sy rug moes wees nie – tekenend daarvan dat hy nog nie vir arbeid “ingebreek” is nie.

Ons sou nou die vraag kon vra: Waarom het Jesus so ver gestap net om ongeveer  1,5 km voor Jerusalem vir ‘n donkievul te vra? Ja, dit was gebruiklik vir die rabbi’s om te ry waar hulle wou wees terwyl hulle dissipels te voet agter hulle aangestap het. Maar Jesus het tot nou toe nooit gery nie. Laas wat ons lees dat Hy op ‘n donkie was was in sy ma se maag toe sy en Josef na Betlehem gegaan het vir die volkstelling. En voeg hierby toe dat dit met die Paasfees juis gebruiklik was vir alle Jode om te voet Jerusalem in te gaan en nie op ‘n rydier nie, dan staan Jesus se optrede nog meer uit.

Een ding moet ons weet. Jesus het geweet waarheen Hy oppad is. Hy het geweet daar kom moeilikheid. Hy het geweet dat Hy tydens die fees gekruisig sou word. Maar nietemin het hy nie weggekruip nie. Hy het nie ter wille van die vrede maar soos die ander Jode gestap nie. Hy het juis standpunt ingeneem voordat Hy Jerusalem binnegaan: Hy het ‘n nuwe donkievul laat haal en daarop die stad binnegery (soos voorspel in Sag 9:9).

Alhoewel hulle sy koningskap op die stadium nog verkeerd verstaan het, het die dissipels en die groter skare volgelinge by hulle geweet Hy gaan die stad binne as die nuwe koning. So toe hulle teen die afdraand van die Olyfberg kom en die stad voor hulle sien lê, het hulle Psalm 118:26 begin sing. Dit is die laaste lied wat gesing is voordat die pelgrims die stad binnegegaan het. “Geseënd is hy wat kom in die Naam van die Here!” Net – die dissipels pas die lied aan na: “Geseënd is die Koning, Hy wat kom in die Naam van die Here!” En hierby voeg hulle ‘n gedeelte toe van die engelelied met Jesus se geboorte, maar hulle pas dit ook bietjie aan: “Vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste!”  Die engele kondig aan die begin aan dat Jesus se geboorte vrede op aarde gebring het, en die skare dissipels kondig aan die einde aan dat Jesus se intog in Jerusalem vrede in die hemel sal bring. In woord en daad erken die skare rondom Jesus Hom as Koning.

Die Fariseërs onder die skare was ontevrede oor die aandag wat Jesus en die skare trek en hulle spreek Hom aan, letterlik: “Meneer, waarsku jou volgelinge!”

Ons moet onthou die Fariseërs was ook Jode, hulle het ook opgetrek na Jerusalem vir die fees. Hulle het reeds vir Jesus as moeilikheidmaker leer ken, maar hulle was waarskynlik nie nou lus vir moeilikheid nie. Wat as daar Romeinse soldate is wat die oproer raaksien en wonder wat aangaan? Dalk word hulle wat Fariseërs is saam gegroepeer met die opstokers en dan is hulle ook in die moeilikheid. Dit wil hulle nie hê nie.

“Meneer, maak stil jou volgelinge! Hou hulle in toom!” Maar Jesus antwoord: “Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep.”

Die tyd vir stilbly is verby, antwoord Jesus die Fariseërs.

Hulle het toe veilig die stad binnegegaan. Sonder onderonsies. Daar was seker soveel mense wat oppad was en alles was elk geval so rumoerig dat die oproer rondom Jesus op die donkie nie te veel ongewenste aandag getrek het nie.

Maar Jesus se subversiewe, amper uitdagende gedrag het nie daar buite die stad op die donkie opgehou nie. Soos ons vroeër gehoor het – Hy het nie Jerusalem toe gekom om weg te kruip nie. Die eerste ding wat Hy gedoen het toe Hy in Jerusalem aankom, was om die tempelterrein te reinig nadat die handelaars daarvan ‘n rowerspelonk gemaak het. Toe die leierpriesters en skrifkenners Hom uitvra na sy gesag, het Hy hulle die mond gesnoer en boonop geweier om hul vraag te beantwoord. Toe vertel Hy die gelykenis van die huurders en die wingerd en die eienaar van die wingerd (God) wie se seun aan die einde van die dag onskuldig doodgemaak word. Daarna leer Hy hulle oor belasting aan die keiser en nog baie ander moeilike, uitdagende temas: die weduwee wat meer gee as hulle almal saam, die tempel waaraan hulle so lank gebou het wat weer afgebreek sal word, misleiding en oorloë en die groot verdrukking wat sal kom, onverstaanbare profetiese uitsprake oor die eindtyd.

Jesus kom om vrede te bring, maar die weg daartoe is nie deur die vrede te probeer bewaar nie. Dit sou goedkoop, onegte vrede wees. Dit is eerder deur die onvrede aan die kaak te stel. Ware vrede gaan juis deur die moeilike pad van onvrede. In die geval van Jesus het die onvrede van die samelewing so septies geword dat Hy daaronder moes sterf, en eers na sy kruisiging het mense werklik begin verstaan dat Hy die prys vir ware vrede kom betaal het.

Ons kan nie doen wat Jesus gedoen het nie. Hierdie verhaal gaan oor die pad wat Jesus kom stap het en ons moet onsself nie te vinnig daar probeer inlees nie. Dit is die tyd in die kerklike jaar waar ons Hóm eer vir die prys wat Hy vir die wêreld betaal het. Tog kan ons nie anders as om die vraag te vra na waarom daar dan vandag steeds soveel onvrede heers nie? Die Vredevors het alles gegee, en steeds woed die oorloë. Nie net in die Midde-Ooste nie. In ons eie land se politieke situasie dreig daar ‘n oorlog. Ons studente voer kampus-oorloë. Die een Afrikaner forum baklei met die ander Afrikaner party. En onvrede op soveel ander vlakke – groot en klein.

En waar is die Christene in dit alles? Die navolgers van Jesus… Hoekom sien en lees ek so min van kerklike standpunte oor die onvrede wat heers. Kruip ons almal dan weg? Bang dat ons aandag sal trek? Bang dat daar van ons ‘n voorbeeld gemaak sal word? Ek dink dit is hierdie week tyd dat ons as Christene nie onsself tussen die Fariseërs al skaar en alles in ons vermoë sal bly doen om eerder stil en onder die radar te bly en die vrede te bewaar nie. Kom ons volg ons Koning op die donkie, kom ons maak ‘n slag ‘n bohaai oor alles wat verkeerd is, en ons bly nie stil totdat dit reg is nie. Selfs al kos dit ons dan ook. Ons sê dan ons behoort aan die Man op die donkie…

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.