Johannes 21:1-19 – 2016

10 April 2016 Pinelands – Paastyd 3de Sondag
Prediker: Dr Tiana Bosman

Agtergrond

Die Sondagaand na Jesus se opstanding het Hy aan sy dissipels verskyn en nadat Hy vir hulle vrede toegewens het, het Hy ‘n opdrag aan hulle gegee: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” En Hy het die Heilige Gees oor hulle geblaas.

Ag dae later het Jesus vir ‘n tweede keer aan die dissipels verskyn. Die keer was Tomas by, en het hy sy geloof in die Here bely.

Nou verskyn Jesus vir ‘n derde keer aan die dissipels…

Lees Johannes 21: 1-19

3: “Ek gaan visvang.” Met hierdie aankondiging nooi Petrus moontlik die ander dissipels om saam met hom te gaan visvang OF hy verklaar hiermee dat hy terugkeer na sy ou beroep. Voordat hy vir Jesus begin volg het, was hy ‘n visserman, en hy reken dis tyd om weer hierdie nering op te neem.

5: “Mense > Kinders, het julle nie iets gevang om te eet nie?” Dit is belangrik dat ons bly by hierdie benaming wat Jesus vir hulle gee, want in die evangelie van Johannes word gelowiges herhaaldelik “kinders van God” genoem (1:12).

7: Ons kan aan die dissipels se reaksie sien dat hulle nie vir Jesus verwag het nie. Dat Hy daar op die strand is is vir hulle ‘n groot verrassing.

9: Jesus was besig om vis te braai.

12: Let op dat hulle nou die vis eet wat Jesus reeds gebraai het, nie die visse wat hulle sopas uitgetrek het nie. Jesus bedien dus vir hulle, en nie andersom nie.

15: “Het jy My werklik lief, meer as hulle (ml mv) OF hierdie dinge (neutr mv)”.  Jesus kan dus hier verwys na die ander dissipels wat daar is, of na die ander dinge, naamlik die boot, die nette en die see.

Boodskap

“Simon, seun van Johannes, het jy My werklik lief, meer as hulle hier? En meer as al hierdie dinge – die skuit en die see en die nette? Meer as jou ambag? Maar as diegene en dit waaruit jou lewe bestaan?”

“Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.”

“Laat my lammers wei.”

“Simon, seun van Johannes, het jy My werklik lief?”

“Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.”

“Pas my skape op.”

“Simon, seun van Johannes, het jy My lief?”

En Petrus het hartseer geword. Na ‘n drie-male verloëning was die drie-male herstel te veel vir sy emosies om te hanteer. “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.”

“Laat my skape wei.”

Ek het drie jaar gelede gepreek oor die twee bepalende momente in Petrus se lewe by die twee vure. Langs die eerste vuur in die binnehof verloën hy drie keer die Here. Langs die tweede vuur op die strand word sy verhouding met die Here drie keer herstel. Drie maal die vraag, drie maal die antwoord, en drie maal die hernude roeping: ‘n dialoog tussen Jesus en Petrus wat nie anders kan as om mens te raak nie. G’n wonder die skrywer het besluit om ook hierdie verhaal aan die einde van sy evangelie in te sluit nie.

Vandag wil ek iets anders in die teks vir julle wys. Dit gaan oor die woordkeuses wat Jesus en Petrus maak. Nou moet ons onthou dat nie een van die twee Grieks gepraat het nie. Hulle was Aramees of Hebreeussprekend – twee tale wat baie naby aan mekaar gelê het. Maar in die tyd toe die NT op skrif gestel is was die lingua franca, die wêreldtaal van die tyd, Grieks gewees. Dit was die algemene taal vir skriftelike kommunikasie (soos Engels vandag). Johannes vertaal dus die gesprek tussen Jesus en Petrus wanneer hy dit neerskryf. En juis sy fyn vertaling dui vir ons op ‘n baie belangrike nuanse in hul gesprek:

“Simon, seun van Johannes, het jy My werklik lief (agapao jy My), meer as hulle en die dinge hier? “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet (phileo).”

Waarom sou Petrus die woord vir liefde verander wanneer hy vir Jesus antwoord? Dalk is dit net ‘n glips, maar wanneer Jesus hom dan weer dieselfde vraag vra: “Simon, seun van Johannes, agapao jy My?”, dan antwoord Petrus nogmaals: “Ja, Here, U weet dat ek U phileo.”

Dit is dus nie net ‘n slip of the tongue nie. Kom ons kyk na die onderskeie betekenisse van die twee Griekse woorde in die woordeboek: PowerPoint:

ἀγαπάω:  agapao,  love, especially of love as based on evaluation and choice, a matter of will and action

ἀγάπη:  agape, especially as an attitude of appreciation resulting from a conscious evaluation and choice; used of divine and human love; love, devotion

φιλέω:  phileo, love, as devotion based in the emotions

φιλία:  philia, friendship, affection, love

φίλος:  philos, friend, congenial associate, close companion (ook familie, bv tussen man en vrou en tussen ouers en hul kinders, broederlike liefde)

Rofweg sou ons kon onderskei tussen goddelike liefde (agapao) en menslike liefde (phileo). Beide is gesonde vorme van liefhê, maar die fokus verskil. Agapao is ‘n liefde wat nie die self in die oog het nie, maar daar is ter wille van die ander. Dit is selfopofferende liefde, dit is ‘n liefde wat vra dat jy van jouself sal afsien, dit is die moeilikste liefde wat daar is. Wanneer Jesus sy dissipels en volgelinge leer dat hulle vir God moet liefhê en dat hulle hul naastes moet liefhê en ja, ook hulle vyande, dan is dit sonder uitsondering agapao wat Hy van ons vra. ‘n Liefde wat nie gedryf word deur hoe ons voel oor die ander persoon nie, maar deur ons wilskrag – gaan ons iemand liefhê selfs al hou ons nie van hom/haar nie, of selfs al kos dit ons ons lewe.

Dis na hierdie liefde wat Jesus vir Petrus vra. Maar, na sy verloëning van Jesus, is Petrus nie in staat daartoe om met die dieselfde selfvertroue as in die verlede (Joh 13:37: “Ek sal my lewe vir U aflê.”) sy liefde aan die Here te verklaar nie. Want hy weet nou uit ervaring, when it comes to the push dan ritereer hy, dan het hy nie wat dit vra om die Here te agapao nie. Al wat hy op hierdie stadium vir Jesus kan gee is sy philia. En wanneer Jesus hom dan ‘n derde keer vra of hy Hom liefhet, dan probeer Jesus hom nie tog maar oorreed om hom te verbind tot agapao eerder as blote philia nie. Nee, Jesus verander dan sy vraag:

“Simon, seun van Johannes, phileo jy My?”

Petrus het bedroef geword omdat Hy hom die derde gevra het, nie meer “Agapao jy My nie,” maar “Phileo jy My?” en hy antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U phileo.”

Petrus se gebrek aan onvoorwaardelike toewyding diskwalifiseer hom nie om ‘n dissipel van Jesus te wees nie. Elke keer as Petrus sy philos in stede van sy agape teenoor die Here verklaar, dan gee die Here hom steeds die opdrag:

“Laat my lammers wei.”

“Pas my skape op.”

“Laat my skape wei.”

Jesus ontmoet die dissipels nadat al die opwinding getaan het, nadat die stof gaan lê het, nadat die geselsies oor Hom opgehou het en mense begin vergeet en begin aangaan met hulle gewone lewe – dis dán dat Hy na ons toe kom met die vraag: “Het jy My lief?” Daar waar ons nie met emosie-belaaide harte gaan antwoord binne die opgesweeptheid van Kersfees en Paasfees nie, maar met moeë lywe wat deurnag geswoeg het in arbeid wat dikwels sieldodend is en nie vrugte lewer nie. Na so ‘n lang nag kom vra die Here vir ons.

En ja, as ons heeltemal eerlik is, is dit dalk nie vir almal van ons ewe maklik om dan te verklaar dat ons die Here agapao nie. Maar Hy wys ons nie weg nie, Hy vat ons soos ons is. Petrus is altyd verteenwoordigend van die dissipelgroep. “Jacques, Susan, Magda… Agapao jy my meer as almal anders en meer as alles anders in jou lewe?”

“En as jy My dan nie agapao nie, phileo jy My darem?”

“Sal jy vir my skape sorg soos wat Ek vir jou sorg? Sal jy hulle voed soos Ek jou nou gevoed het? Onthou as my dissipel vra Ek van jou om ‘n herder te wees, soos wat Ek was. En ‘n herder, het Ek julle mos geleer, lê sy lewe af vir sy skape. Dus: of jy nou wil of nie, of jy nou gereed voel of nie, iewers gaan die dag kom wat jy agape aan jou lyf gaan voel – nie my agape teenoor jou nie, maar jou agape teenoor My. Want om My te volg gaan jou bring waar jy nie wil wees nie, dit gaan lyding oor jou pad bring, jy gaan dit nie altyd kan vryspring nie. Maar moenie daarom wegdeins nie. Volg My!

Naam, agapao jy My?

Ja, Here, U weet alles, U weet dat ek U phileo…

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.