Johannes 13: 31-35 (Die liefdesgebod) – 2016

24 April 2016 Pinelands – Paastyd 4de Sondag
Prediker: Dr Tiana Bosman

 

Geloofsbelydenis: Het mooiste van de schepping – Ware verhaal wat afspeel by die plek vir gestremde / verstandelik beperkte mense

Johannes 13 as ‘n eenheid. Vs 1: “Voor die fees van die Pasga het Jesus reeds geweet dat sy uur aangebreek het dat Hy van hierdie wêreld na die Vader sou oorgaan. Daarom, omdat Hy sy eie mense in die wêreld liefgehad het, het Hy hulle liefgehad tot aan die einde…”, en Jesus was sy dissipels se voete, wys sy verraaier aan, en toe hierdie verraaier Judas opstaan en na buite gaan om die bal aan die rol te sit, gee Jesus aan die dissipels ‘n nuwe opdrag… 31-35 (fokus 33-35).

Vs 31-32: Verheerlik: In die Johannese evangelie verwysend na die kruisiging, opstanding en hemelvaart.

Vs 33: Klein kinders > “My liewe kinders” (tekna). Vgl met paidion in Joh 21:5. In Johannes se evangelie noem Jesus dikwels sy dissipels “my kinders” – toegeneëntheid, troetelnaam.

Die Jode – waarskynlik die Joodse godsdiensleiers wat in hfst 7 die tempelwag gestuur het om vir Jesus te arresteer (waar Jesus amper woordeliks dieselfde sê, met die weglating van “my kinders”).

Vs 34: ἐντολή  of the Old Testament law commandment, torah (die 10 Gebooie)

ἀγαπάω  liefhê

 Vs 35: ἀγάπη  liefde

Dan wil Petrus by Jesus weet waarheen Hy gaan, want hy wil Hom volg. Petrus beloof dat hy sy lewe vir die Here sal aflê, maw dat hy agape-liefde teenoor Jesus sal bewys al vra dit hom alles, maar Jesus antwoord: “Sal jy jou lewe vir my aflê? Amen, amen, Ek sê vir jou: Die haan sal beslis nie kraai nie voordat jy My drie keer verloën het.”

Ongeveer ‘n eeu nadat die evangelie van Johannes geskryf is, vertel Tertullianus van die heidene wat oor die Christene gesê het: “Kyk hoe lief het hulle mekaar! Hoe gereed is hulle om vir mekaar te sterf.”

Dan wonder ek – waar sal ons vandag ‘n groep mense teëkom wat nie Christene is nie, hetsy ateïste of mense van ander gelowe of spiritualiteite, wat van ‘n afstand af die Xtene waarneem en van hulle sê: “Kyk hoe lief het hulle mekaar! Hoe gereed is hulle om vir mekaar te sterf.”

Ek dink ons sal lank en ver moet soek. Die keersy is eerder waar: Kyk net hoe stry en baklei die Xtene onder mekaar, elkeen dink hul het die (meestal hul eie) waarheid in pag, die een gun die ander niks, dikwels nie eens ‘n plekkie op die bank van die kerk nie, hulle vlek mekaar se seer oop en beswadder mekaar in die openbaar. En as daar wel liefde tussen sommige gelowiges bestaan dra dit dikwels nie die goedkeuring van die hedendaagse godsdiensleiers weg nie…

“Ek gee julle ‘n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê.”

What’s new? Ons vind hierdie opdrag al in Lev 19:18: “Jy mag nie wraak neem of ‘n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.”

Die nuutheid van die opdrag word egter gekwalifiseer deur Jesus se volgende sin: “Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.”

Jesus het net voor hierdie gesprek sy andersoortige manier van liefhê fisies gedemonstreer toe Hy van die tafel af opgestaan het, sy boklere uitgetrek het, ‘n linnedoek geneem en dit om Hom vasgebind het. Toe Hy water in die waskom gooi en begin om die voete van sy dissipels te was en dit met die linnedoek wat om Hom gebind was, af te droog. Toe Hy ook Petrus se voete gewas het, en Judas s’n.

Toe Hy klaar was daarmee, het Hy weer sy boklere aangetrek en aan tafel gaan aanlê, en vir hulle gesê: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het?… Ek het vir julle ‘n voorbeeld gegee sodat julle ook kan maak soos wat Ek gemaak het.” (13: 4-15)

Hierna het Jesus diep ontroerd geraak en aangekondig dat een van hulle daar Hom sal verraai. Toe breek Hy aan sy “kinders” die ontstellende nuus dat Hy nog net ‘n kort tydjie by hulle sal wees, en waar Hy heen gaan kan hulle nie volg nie. Maar voordat Hy gaan gee Hy aan hulle ‘n nuwe opdrag, en die keer is dit nie weer 10 Gebooie op klip nie, maar dat hulle mekaar se dienaars sal word, dat hulle in mekaar se teenwoordigheid voorskote sal ombind en die een die ander se mindere sal wees, mekaar se voete sal was – om die meester en sy gaste se voete te was, was die taak van die laagste slaaf in die huishouding.

Net ingeval hulle dalk dink dat hulle met Jesus se heengaan onderling sal moet meeding om sy plek in te neem en voortaan die leiding te gee, keer Hy die rol van ander se meester wees op sy kop en daal Hy tot die laagste slaaf om vir hulle in woord en daad te wys dat Hy hulle nie die opdrag gee om bo mekaar te probeer uitstyg nie, maar om voor mekaar te kniel. En Hy raak die eerste een wat bereid is om Homself so te verneder – so laag dat Hy selfs bereid is om sy verraaier en sy verloënaar se voete te was (en dis nie asof Hy nie toe al geweet het dat hulle Hom in die rug gaan steek nie).

Ingebed tussen die verraad aan die een kant en die verloëning aan die ander kant, vind ons die mees radikale liefdesgebod van alle tye – die gebod om mekaar onderling lief te hê, binne die geloofsgemeenskap self, so lief te hê dat jy ook gewillig sal wees om jouself op te offer, prys te gee vir diegene in die geloofsgemeenskap wat jou naam beswadder en wat jou in die rug steek wanneer jy hom of haar die nodigste het.

Ons weet dat toe Jesus die gestalte van die laagste slaaf aangeneem en die dissipels se voete gewas het, dit nog nie die hoogtepunt van sy agapao was nie. Hierdie selfopofferende liefde van Hom sou kulmineer aan die kruis waar Hy nie net sy aansien neerlê vir die mense nie, maar letterlik sy lewe aflê.

Nou sou ons kon vra: Waarom gee Jesus in Johannes se evangelie onderlinge liefde as opdrag en nie liefde vir die vreemdelinge en die buite die gemeenskap soos in die ander evangelies nie? Ons moet die konteks in ag neem. Jesus gaan weg en die duisternis het begin kop uitsteek. Daar is reeds verraad binne eie geledere, onsekerheid, vrees en smart wat op hulle wag. Hoe sal hulle hierdie aanslae oorleef as hulle mekaar nie onderling liefhet (agapao) nie? Na Jesus se dood sal Hy terugkeer en in die bokamer aan die dissipels verskyn en vir hulle die opdrag gee: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook” (20:21). Hulle moet dus verder gaan, na buite gerig wees. Maar hoe kan so ‘n opdrag volhoubaar wees as daar nie onderlinge liefde is wat die groep gestuurdes bind en versterk nie?

Die onderlinge liefde wat hier as ‘n nuwe opdrag gegee word, die agapoa, is so vreemd aan die wêreld, dat dít die getuienis na buite sal wees dat mense Jesus se dissipels is. Agapao sal nie geken word aan watter posisie jy in die kerk beklee, of hoe slim jy is, of waar jy oral kongresse bywoon, of hoeveel grade jy het of hoe goed onderleg jy is in die Godsleer, of hoeveel Bybelversies jy kan resiteer nie, of selfs hoeveel koeke jy vir die basaar bak of geld jy gee nie. Van buite af is dit nie wat die mense beïndruk nie. Wat wel ‘n indruk maak is of jy lief bly vir die broer of suster in die gemeente of binne die groter geloofsgemeenskap wat na jou mening nie meer jou liefde verdien nie, daai een wat al genoeg kanse gehad het, daai een wat jou iewers te nagekom het, die een wat oneerlik is, die kerkman of -vrou wat jou geld gesteel het, die een wat jou so kwáád maak, met wie jy nie saamstem nie, die dominee na “wie se dienste” jy nie kom as jy weet dat hy of sy gaan preek nie. Om teen jou gevoelens in dan tóg maar nie die onderlinge bande te breek nie maar voort te gaan om met agape die pad van Jesus se liefde verder te stap – dit is baie moeiliker as om ‘n broodjie by jou tuinhekkie aan ‘n vreemdeling te gee of om hom en sy gesin met ‘n R100 “weg te help”. Ongelowiges doen dit ook…

Ons is die liggaam van Christus. Dit is die beeld wat Paulus vir die kerk, vir die gemeenskap van gelowiges gebruik. Een liggaam met baie dele. Maar as net een deel ontbreek, dan is die liggaam gebroke. Laat ons as liggaam mekaar so vashou dat ons nie eens ‘n kleintoontjie verloor nie. Ons het mekaar nodig, of ons mekaar nou wil hê of nie.

Jan, wat vind jy die mooiste in die skepping?

My lamme handjie.

Waarom vind jy dit die mooiste in die skepping?

My vader en moeder het my geleer: Dit wat siek is moet jy die liefste hê.

Liewe kinders, ons het die nuwe opdrag om mekaar as lede van een liggaam te aanvaar, te koester en met ons lewens lief te hê.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.