Lukas 7:1-10 – 2016

29 Mei 2016 Pinelands – Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

 

In Matteus 5-7 vind ons die bekende bergrede: Jesus het teen die berg opgegaan en begin om die skare te leer…

Lukas vertel van presies dieselfde leringe van Jesus in hfts 6 (vanaf vs 17), maar volgens hom het Jesus op die vlakte gestaan en die mense geleer: “Nadat Hy saam met hulle (die dissipels) van die berg afgekom het, het hy op ‘n gelykte gestaan… en die mense begin leer. (Vandaar die benaming “sermon on the plains”.) Direk nadat Jesus die mense geleer het oor die sake van die koninkryk van God, het Hy Kapernaum binnegaan en speel vandag se gebeurtenis af. Ons sou kon sê dat dit Jesus se eerste demonstrasie was van wat Hy sopas gepredik het.

Lees 7: 1-10

Vs 2: slaaf – doulos

Hekatontarg (Grieks ekatontargou), Engels centurion, nie die hoogste op in die Romeinse ranks nie, maar hulle was darem bevelvoerders oor 100.

Baie werd – waardevol (nie as gebruiksartikel nie, maar in sy persoon – daar is ‘n gevoel van toegeneëntheid tot die slaaf)

Vs 3: Jesus het reeds baie mense genees, oa ‘n melaatse en die verlamde man wat op ‘n slaapmat deur sy vriende tussen die dakteëls afgesak is.

Waarom Joodse familiehoofde? Hulle was die who’s who’s onder die volk. As iemand ‘n Joodse rabbi, in die geval Jesus, se arm kon draai om vir ‘n Romeinse offisier ‘n guns te doen, dan sou dit die Joodse familiehoofde wees.

Vs 4: Hy verdien dit – hy is dit werd/waardig… Vir hulle gaan Jesus se hulp duidelik om die persoon se verdienste. Waar was hulle toe Hy netnou nog die saligspredikinge vir die mense geleer het? (Geseënd is die wat arm is, wat honger ly, wat gehaat en verstoot word, wat dit nie werd is nie…)

Vs 5: Hy het ons volk lief (agape) en op eie onkoste die sinagoge gebou.

“Ons volk” en nie “ons God” – dui daarop dat die offisier in sy persoonlike hoedanigheid die Joodse volk se belange op die hart gedra het, maar dat dit nie beteken het hy het hul God gedien nie. Hy het wel hulle geloof gerespekteer.

Gewoonlik het ‘n hekatontarg nie só baie geld gehad nie, maar hierdie een was duidelik vermoënd.

Vs 6: Tweede afvaardiging: sy philos – vriende.

“Ek is nie voldoende, groot genoeg, belangrik genoeg, waardig…”

Maar wat is dan so erg daaraan om vir Jesus te vra om die slaaf te kom gesondmaak? Hy is dan in elk geval in Kapernaum… Die feit dat ons hier met ‘n Romeinse offisier te doen het, beteken dat Jesus die reinheidswette sou oortree en onrein sou word indien hy by die persoon se huis ingaan om die slaaf te genees. Dis die eerste rede waarom die offisier vir Jesus in sy spore wil stuit.

Daar kan ook ‘n tweede rede wees. Die Joodse familiehoofde prys die waardigheid van die offisier – “Hy is dit werd dat U hom help”. Hierteenoor beklemtoon die offisier egter sy eie ONwaardigheid. Die doelbewuste kontras in die verhaal tussen die familiehoofde se hoë aansien van die offisier en sy persoonlike gevoel van inherente onwaardigheid openbaar tog vir ons dat hy insig gehad het in die persoon van Jesus, en in die feit dat Jesus se gesag van ‘n veel hoër mag kom as sy eie gesag (vanaf Herodes of die keiser).

Vs 7: pais (kind, seun – verklap iets van die verhouding wat spreek van meer as net baas en klaas, maar van omgee vir) ipv doulos.

Vs 8: “Ek weet hoe gesag werk. Vir my eie soldate sê ek spring en hulle vra ‘hoe hoog?’.”

Vs 9: Verwonderd. Hierdie woord word gewoonlik gebruik om die mense se reaksie teenoor Jesus se wonderwerke te beskryf: Hulle was verwonderd gewees… Hier is dit Jesus wat verwonderd is deur die geloof van ‘n Romeinse offisier!

Wat staan uit nadat ons die teks gelees het?

  1. Die verhouding tussen die Romeinse offisier en die Joodse familiehoofde is opvallend. Vanwaar die positiewe verhouding? Die offisier was die volk goedgesind, hy het selfs vir hulle ‘n sinagoge gebou. Dit lyk dus na ‘n verhouding waar die een rug die ander krap. “Kom ons bly aan die regte kant van die offisier en ons help hom waar ons kan, dan sal hy voortgaan om toegeeflik te wees teenoor ons volk in hierdie groter vyandige omgewing waarbinne ons woon. Dit is immers voordelig om ‘n ‘vriend’ aan die kant van die vyand te hê – ons weet nooit wanneer ons hom weer gaan nodig hê nie. Hy het ons nou nodig. Hy het ons genader om met Jesus te praat om Hom te oortuig om sy slaaf gesond te maak. En ons sal ons bes probeer – maak nie saak dat dit gaan beteken dat die rabbi Jesus in die proses onrein gaan word nie.”
  1. Al gee die Joodse familiehoofde nie om vir die besmetting van Jesus se reinheid in die versoek wat hulle tot hom rig nie en die situasie wat dit tot gevolg sal hê nie, gee die ‘vyand’, die Romeinse offisier wel daarvoor om. Die familiehoofde redeneer dat die offisier dit werd is dat Jesus na sy huis toe gaan om die slaaf te genees, die offisier weer weet dat hy dit nie werd is nie. Nie net dit nie, hy weet ook dat Jesus nietemin die genesing kan doen oor ‘n (veilige) afstand – net deur ‘n woord te spreek.

Dit wil voorkom of die offisier aan die kant van die vyand nie net meer geloof het in Jesus as sy eie mense nie, maar of hy ook meer respek gehad het vir Jesus en omgee vir sy reinheid.

  1. Die offisier weet nie net hoe gesag werk nie. Hy weet ook dat alle persone met gesag nie oor dieselfde gesag beskik nie. Dan sou hy mos sy eie slaaf kon genees. Hy ken sy beperkinge. Hy weet wanneer hy moet terugstaan. Hy weet dus dat hierdie Jesus oor ‘n andersoortige, hoër gesag as hy beskik.

Teruggrype en vooruitgrype:

Hierdie verhaal is nie een van sy soort nie. In Lukas 4 gryp Lukas terug na 2 Kon 15 waar Naäman die Siriër van melaatsheid gereinig word. (Die volk, sy eie mense, wou vir Jesus van die rand van die berg afgooi toe Hy hierdie gebeurtenis in herinnering roep.)

En in Hand 10 – Kornelius die hekatontarg en Petrus se verhaal. (lees Hand 10:1 en 25-29)

Afsluiting

Be prepared to be amazed… Ons het geen reg om “heidene” / ongelowiges (na ons oordeel) uit te sluit uit die gemeenskap van gelowiges nie. Die Here self mag dalk net meer geloof, en agape en goeie werke (omgee en sorg) onder die ongelowiges vind as wat Hy binne die geledere van die sogenaamde gelowiges self vind. Kom ons stel ons daarom oop vir die geloof en die christelike werke van mense wat nie Sondae hier onder ons sit nie. Kom ons sien hoe die Here deur hulle werk. Kom ons erken dat ook hulle vir die Here werk. Ons leer by hulle en ons dank die Here vir die voorbeeld wat hulle stel.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.