Lukas 9:51-62 – 2016

26 Junie 2016 Pinelands – Koninkrykstyd 6
Prediker: Dr Tiana Bosman

“Toe die tyd naderkom vir Jesus om opgeneem te word (kruis en hemelvaart), het Hy sy blik (gesig) na Jerusalem gewend (gedraai).” ‘n Semitiese uitdrukking wat spreek van ‘n vaste, onwankelbare voorneme om iets te doen – vasbeslote. Hy was ‘n man met ‘n missie. Vanaf Lukas 9 – 19 stap Hy die pad doelgerig na Jerusalem toe.

Jesus het boodskappers vooruit gestuur om in die Samaritaanse dorpie waar hulle eerste sou aankom voorbereidings te tref sodat Jesus (en sy dissipels/volgelinge) daar kan oornag, maar die Samaritane het Hom nie ontvang (‘n woord wat gasvryheid uitdruk – verwelkom) nie, want sy blik was na Jerusalem gewend.

Verduidelik die konflik tussen die Samaritane en die Jode, verskillende plekke van aanbidding (berg Sion by Jerusalem vir die Jode vs berg Gerisim vir die Samaritane), Jode beskou Samaritane as baster-Jode; alhoewel Jesus nie vyandiggesind was teenoor die Samaritane nie het Hy tydens sy aardse bediening gekom om die Jode te bedien, nie die Samaritane nie.

Die broers Jakobus en Johannes: “Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel laat neerkom om hulle te vernietig?” soos Elia in 2 Kon 1: 10, 12 en 14. Asof hulle in staat is om so iets te doen. As if! Wie weet, dalk het hierdie reaksie van hulle bygedra tot hul bynaam as “seuns van die donder”. Maar Jesus het omgedraai en hulle tereggewys – Jesus trek ‘n streep deur die Joodse wette van vergelding (‘n oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand – alhoewel die seuns van die donder se vergeldingsmetode darem baie swaarder weeg as die koue skouer wat hulle van die Samaritane af gekry het). Jesus het juis nie gekom om mense te veroordeel en te vergeld vir dit wat hulle aan Hom doen nie, sy missie is juis nie om straf uit te deel nie – hoe kan Hy toelaat dat ‘n dorpie deur vuur verteer word wanneer Hy aktief op weg is om vir die sondes van die wêreld (ook hierdie dorpie) te gaan betaal aan die kruis?

Hulle is nog so oppad toe drie volgelinge hul lojaliteit aan Jesus wil probeer verwoord. Drie kort uitsprake gevolg deur drie kort antwoorde (one-liners) van Jesus af. Binne die literêre wêreld staan hierdie antwoorde van Jesus bekend as “apokritiese chreiae” – ‘n kort spreuk of anekdote gerig aan ‘n spesifieke persoon met die doel om ‘n punt te maak . (“Apokrities” = kort, Grieks “chreiae” = bruikbaar/useful).

Die drie volgelinge wat nou aan die orde kom was nie deel van Jesus se nabye dissipelkring nie. Hulle was binne die groter groep van volgelinge, maar dit blyk dat hulle “wanna-be” dissipels was. Hulle meld hulle dus aan tot diens – dit is in elk geval waar vir die eerste en die derde man (die enigste twee mense in die evangelie van Lukas wat vrywilliglik dissipels wil wees). Die tweede een is nie onwillig nie, maar hy word deur Jesus genooi om Hom te volg.

  1. Die eerste man sê so in die loop vir Jesus: “Ek sal U volg waar U ookal gaan.” Maar Jesus het hom geantwoord: “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die Mens het geen plek waar Hy sy kop kan neerlê nie.” En wat sopas buite die Samaritaanse dorpie gebeur het, is a “case in point”.

“Jy sê jy sal My volg waar Ek ook al gaan? Maar onthou Ek is nie oral welkom nie. Jou verbintenis aan my gaan nie eens vir jou ‘n dak oor jou kop of ‘n kussing daaronder waarborg vir elke aand nie. Ek is oppad na Jerusalem en jy vrywilliglik saam met My, maar daar is dorpe wat ons gaan wegwys, daar is mense wat gaan weier om hul deure vir ons oop te maak of om vir ons iets te ete te gee vir ons pad. Met dit in gedagte, sal jy My regtig volg waar Ek ook al gaan?”

  1. “Vir ‘n ander een het Jesus gesê: ‘Volg My!’ Maar hy het geantwoord: ‘Here, laat my toe om eers my pa te gaan begrawe.’

Of hierdie man se pa op sterwe gelê het, of reeds gesterf het, of dalk nog blakend gesond is en die seun eers die roeping van Jesus wil opneem wanneer sy pa die dag nie meer leef nie, weet ons nie. Verskillende Bybelkenners bied verskillende moontlike verklarings. Wat ons wel weet wanneer ons die tyd en konteks waarbinne Jesus geleef het in ag neem, is die volgende: Om die dooies te begrawe was ‘n goedsdienstige plig wat voorkeur gekry het bo alles anders, selfs bo die bestudering van die Wet. Priesters, wat normaalweg nie aan dooie liggame mag gevat het nie, kon dit wel doen as die oorledene ‘n familielid was. Om bystand te verleen om iemand te begrawe wat nie ‘n familielid van jou was nie, was so ‘n groot liefdesdaad dat die mense geglo het God sal so ‘n persoon ryklik vergoed – in hierdie sowel as in die ewige lewe.

Ons kan dus verstaan dat die versoek van die man om eers sy pa te begrawe, glad nie onredelik was nie. Dit was immers sy godsdientige plig en een van die belangrikstes daarby toe. Om na te laat om dit te doen was ‘n groot skande en sou ‘n klad teen jou naam bring.

Maar Jesus reageer amper genadeloos: “Laat die dooies hul eie dooies begrawe, maar jy, gaan verkondig jy die koninkryk van God.” Hoe verstaan ons dit?

Die gebruik was dat ‘n persoon na afsterwe in ‘n graftombe begrawe word. Na ‘n jaar, nadat die nodige proses van disintegrasie sy werk gedoen het en daar net bene oorbly, word die graf dan oopgemaak, die bene bymekaar gemaak en herbegrawe in ‘n kissie in die muur van die graf. ‘n Persoon se begrafnis is dus eers finaal verby ‘n jaar nadat hy gesterf het en vir hierdie 12 maande wag het Jesus nie tyd nie.

Nou kan ons na verskillende kante toe verder redeneer. Bv dat Jesus op sy pad na Jerusalem en gegewe die feit dat Hy voor Paasfees daar moet arriver, inderdaad nie tyd het om te verspeel nie en dat diegene wat toe sy dissipels was nie die luukses gehad het om hul ouers te begrawe of ander (ook baie belangrike) take af te handel nie. En as ons so rededeer dan geld hierdie reeling dalk nie so streng vir ons vandag soos wat dit in daardie tyd vir die dissipels gegeld het nie…?

‘n Ander moontlike verklaring is dat Jesus hier sê die geestelike dooies moet die liggaamlike dooies begrawe. Dws diegene wat Hom volg is geestelik lewendig, maar daar is soveel wat Hom nie volg nie en hulle is geestelik dood. Daar is genoeg mense wat agterbly om die liggame van die afgestorwenes te begrawe, die seun is dus nie nodig nie, hy sal “handiger te pas kom” in die werk van die koninkryk as in die daad van mense begrawe.

Ek weet nie watter een van die twee moontlikhede nader aan Jesus se bedoeling was nie, maar my eie geneigtheid lê dalk meer na die eerste konkrete verduideliking – dat die tyd teen hulle is en dit nie nou prakties moontlik is om te sloer nie, nie eens twv ‘n ordentlike begrafnis nie. En onthou – as Jesus vir die dissipel moes ja sê, dan kon die ander ook kom met hulle ewe goeie redes om eers ‘n bietjie te wag voordat hulle Hom kan volg.

‘n Derde man het toe vir Jesus gesê: “Ek sal U volg, Here, maar laat my toe om net eers van my huismense afskeid te neem.” In 1 Kon 19:20 is Elisa ook toegelaat om sy ouers te gaan groet voordat hy vir Elia gevolg het. Om vir Elia te volg en om vir Jesus te volg is egter twee verskillende dinge. Jesus antwoord hom: “Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en dan omkyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.”

By hierdie man ontbreek daar die gevoel van dringendheid. “Here, ek wil U volg, natuurlik wil ek. Ek wil net eers my huis in orde kry.” En weereens – op weg na Jerusalem na die kruis en die opstanding, kan Jesus nie nou nog ruimte laat vir dissipels om eers hul huise in orde te kry nie. Die man moet sy prioroteite agtermekaar kry. Jesus verduidelik dit aan die hand van ‘n beeld wat vir hulle baie bekend was. Niemand wat besig is om te ploeg kan ‘n reguit en diep sloot ploeg as hy omkyk-omkyk werk nie. “Dis nou fokus-tyd, Meneer-die-wanna-be-dissipel, as jy nie 100% met my is nie, dan is jy nie geskik vir koninkrykswerk nie.”

Hierdie is ‘n moeilike teks om te lees. Nie om te verstaan wat dit sê nie, maar om te verstaan wat die bedoeling daaragter is, om te verstaan wat dit van ons vra, vandag, hier in Pinelands. Ek dink die lering moet met ‘n ouderdomsbeperking kom want dis nie geskik vir sensitiewe lesers en luisteraars nie. JP en die kinders sou vanoggend kerk toe kom, maar ek het hulle gekeer want ek weet dit wat Jesus hier sê sal my kinders diep ontstel. Hulle sal bang wees dat ek, veral in my hoedanigheid as dominee (priest), vir Jesus kies bo hulle. En daarmee sal hulle nie nou kan saamleef nie.

In my eie kop probeer ek ook die teks rasionaliseer. Bv dat dit gaan om Jesus se laaste reis oppad na Jerusalem en diegene wat daar met Hom saamloop, en dat dit daarom nie noodwendig op dieselfde radikale manier vir ons geld vandag nie. Of ek sê vir myself die voorbeeld wat hier gebruik word is baie spesifiek die van ‘n volwasse kind wat nie nog tyd kan verspeel om sy ouers te gaan groet of begrawe nie, hy of sy moet dadelik en onvoorwaardelik die Here volg. Maar dit geld tog nie vir jong kinders wat nog van hul ouers afhanklik is nie (regtig nie). Dit geld ook nie vir ouers wat nog nodig het om vir hulle kinders te sorg nie – jy kan tog nie jou kinders net eenvoudig agterlaat en agter die Here aangaan soos wat jy Hom hoor roep nie?!

Maar dan is daar tog mense wat dit doen. Sendelinge wat in Afrika of in die Ooste gaan werk en wanneer hulle kinders kry stuur hulle die kinders na Engeland vir ‘n skoolopvoeding en sien hulle eers baie jare later – dit het al baie gebeur! Hierdie ouers plaas duidelik hul roeping voor hul kinders. En die kinders het dit so aanvaar. Daar is dus mense wat dit vandag steeds regkry.

Maar ek – ek sal nie kan nie. En daarom sukkel ek met die teks. Ek kan my voorneem om die Here te volg so goed as wat ek kan in my eie omstandighede, maar ek kan Hom nie volg so radikaal soos wat Hy hier vra nie. Ek weet Hy het sy lewe vir my gegee, en ek probeer om my lewe op ‘n meer geestelike vlak ook vir Hom te gee, en dan op ‘n fisiese vlak so goed as wat ek myself kan toelaat daartoe. Maar ek is nie bereid om willens en wetens in totale finansiële onsekerheid te leef en van alles afstand te doen en selfs die belangrikste verhoudings in my lewe agter my sit en sonder ‘n omkyk agter Jesus in te val nie. As ek moet kies tussen Jesus en my kinders, dan staan Jesus nie ‘n kans nie.

Dan gaan ek terug na Joh 21:

Petrus het jy my lief…..

Apagao

Phileo

Petrus, agapao jy My?
Ja, Here, U weet dat ek U phileo(! – vriendskapsliefde nie goddelike selfopofferende liefde nie)

Petrus, agapao jy My?
Ja, Here, U weet dat ek U … PHILEO.

So, Petrus, phileo jy My dan?
Petrus huil: Here, U weet alles, U weet dat ek U PHILEO.

Dws – Petrus bely dat hy nie agapao het vir die Here nie, maar die Here verlaag sy standaarde en roep Hom nietemin steeds:

Laat my skape wei.

Pas my lammers op.

Laat my skape wei.

Petrus kon nie alles gee wat Jesus gevra het nie, maar Jeus het aanvaar wat hy kon gee en dit was voldoende.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.