Lukas 12:13-23,31-34 – 2016

31 Julie 2016 Pinelands – Doopdiens
Prediker: Dr Tiana Bosman

 

Elke keer wanneer ons vir my skoonpa gaan kuier of wanneer my seun hoor dat Oupa na ons toe kom, blink sy ogies en sê hy: “Mmm Oupa, ke-ching ke-ching!” Want Oupa is ryk, hy het baie geld…

Twee broers se pa is oorlede en die ouer broer weier om aan die jonger een sy deel van die erflating te gee. In die Bybelse tyd in Palestina was dit wenslik dat die erfgename nie hul pa se eiendom/grond  verkoop nie maar dat hulle eerder saam daar sal woon(“Kyk hoe mooi is dit, hoe goed as broers eensgesind saam woon”- Ps 133:1). In die geval waarvan ons vandag lees lyk dit egter of die jonger broer wil afstand doen van sy deel van die grond wat hy geërf het – hy wil onafhanklik van sy ouer broer leef. Hy wil eerder die geld in die hand hê. Sulke geskille is gewoonlik deur rabbi’s besleg wat hulle op die wet beroep het (Num 27).

Jesus besluit egter om geen uitspraak te lewer nie. Hy rig eerder ‘n waarskuwing aan die skare. “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe word nie bepaal deur die oorvloed van sy besittings nie.”

Gierigheid. Greed. Die begeerte om meer te wil hê ongeag of jy dit nodig het of nie. Die probleem van hierdie begeerte is dat meer nooit genoeg is nie, daar is nie ‘n versadigingspunt nie. Hoe meer jy het hoe meer wil jy hê. Een van die oudste definisies in die Sanskrit taal omskryf gierigheid as “die siekte van ‘meer’”. Jesus waarsku egter dat die oorvloed van mens se besittings nie jou lewe bepaal nie.

En dan vertel Hy ter illustrasie ‘n gelykenis wat nie gaan oor hoeveel geld mens het nie, maar oor hoe jy is met dit wat jy het. Dus ‘n gelykenis nie oor geld nie, maar oor gierigheid.

‘n Sekere ryk man se plaas het ‘n goeie oes opgelewer. Ons sou kon sê hy was geseënd. Hy het niemand ingeloop nie. Hy het nie gesteel nie. Hy het waarskynlik nie self die landerye geploeg nie, maar dit was ‘n geval van “honest labour”. Hy val in die kategorie van mense wat graag sê: “Ek het gewerk vir wat ek het.”

Die man het homself toe afgevra: “Wat moet ek doen? Want ek het nie (genoeg) plek waar ek my oes kan opgaar nie.” Toe sê hy: “Dit is wat ek sal doen. Ek sal my skure afbreek en groter skure bou. Daarin sal ek al my graan en my goedere opgaar. Dan sal ek vir myself (op die skouer klop en) sê: ‘Mens, jy het baie goed opgegaar vir baie jare. Ontspan, eet, drink en wees vrolik.’” (μου μου μου; ek ek ek, myne myne myne )

Die grootste gedeelte van die gelykenis bestaan uit die man se innerlike gesprek met homself. Dis so egosentries (selfsugtig) soos wat kan kom! Hy het selfs ‘n gesprek met homself binne die gesprek wat hy reeds met homself het!

En dan kry ons die enigste keer in die hele evangelie waar Jesus vertel dat God self met die man praat en vir hom sê: “Jou dwaas! Vannag nog sal jou lewe opgeëis word (“terugbetaal word” – binne die denkraamwerk van die man wat sommetjies maak in sy kop, praat God sy taal en beskryf Hy die man se lewe as ‘n lening van Hom af [God] wat iewers teruggegee moet word). En wat jy bymekaargemaak het, aan wie sal dit dan behoort?”

“So gaan dit met iemand wat vir homself skatte bymekaar maak en nie in God ryk is nie.”

Dalk moet ons ‘n onderskeid tref tussen “om te bestaan” en “om werklik te lewe”. Om meer as genoeg geld in die bank en kos op die tafel te hê maak dit maklik om ‘n bestaan te voer, maar verhoog dit werklik ‘n mens se lewenskwaliteit? Dikwels bring dit eerder spanning en vergrype as vreugde. Waarom is dit dat Amerika een van die rykste lande in die wêreld is maar in die onderste 10% vir lewensvreugde? ‘n Paar jaar terug het ‘n Studie in Amerika getoon dat geld wel geluk of vreugde (happiness) bring, maar net tot op ‘n punt. Die Amerikanes wat (toe) minder as $ 50 000 per jaar verdien is minder gelukkig as die wat meer verdien. MAAR diegene wat $ 75 000 or $ 100 000 of selfs $ 200 000 ‘n jaar verdien is nie meer gelukkig as die wat $ 50 000 verdien nie. Genoeg geld (‘n voldoende hoeveelheid) bring geluk, maar meer as genoeg bring nie meer geluk nie.

Nadat Hy die gelykenis vertel het, draai Jesus na sy dissipels toe met die woorde: “Daarom sê Ek vir julle, moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle sal eet, of oor julle liggaam, wat julle sal aantrek nie. Die lewe is tog belangriker as kos en die liggaam as klere. Kyk na die kraaie… Kyk na die veldblomme… Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het dit goedgevind om die koninkryk aan julle te gee. Verkoop julle besittings en gee aalmoese. (Dws moenie opgaar wat julle nie nodig het nie. Wend eerder daai geld vir die armes aan). Maak vir julle beursies wat nie vergaan nie, ‘n onuitputlike skat in die hemel, waar ‘n dief nie kan bykom en geen mot kan verniel nie. (Die beeld van ‘n mot word gebruik omdat duur klere destyds ‘n duidelike teken van weelde was, en as jy te veel klere gehad het om te dra, het die motte dit opgevreet. Maar ‘n boer maak mos ‘n plan as jy iets onnodigs graag genoeg wil hê en ons het intussen motbolletjies ontwikkel…) Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”

‘n Maatskaplike werker wat in die Appalachia berggebied in Virgina gewerk het, het op ‘n keer met ‘n baie arm gesin te doen gekry. Alles het skeefgeloop en hulle het al hulle geld en meeste besittings verloor. Eendag het die man van die huis, Mr Sheldon, ‘n lastige beer wat nou al vir lank skade aangerig het, geskiet en die gesin het die vleis verwerk en ingelê sodat dit die hele winter kon hou. Met die volgende besoek van die maatskaplike werker het hulle vir hom van die vleis as geskenk gegee. Die werker het teëgestribbel, maar Mr Sheldon het aangedring daarop dat hy dit vat:

“We want you to have it. We don’t have much, but we ain’t poor!”

“What’s the difference?” vra die maatskaplike werker.

“When you can give something away, even when you don’t have much, then you ain’t poor. When you don’t feel easy giving something away even if you’ve got more’n you need, then you’re poor, whether you know it or not.”

Vanuit sy kinders en sy kleinkinders se perspektief het my skoonpa baie geld. Nie een van ons kon dit al so goed opsom soos die 8-jarige Herman nie: “Ke-ching ke-ching!”  Hy is ‘n ryk man. Maar hy is nie ‘n ryk dwaas nie. Want ten diepste is dit nie sy geld wat hom ryk maak en definieer nie; dis eerder sy oop hand. Hoe anders sal ‘n kind van ag (en ook al veel jonger as dit) weet dat sy oupa, wat geen erg het aan besittings nie, baie geld het? Omdat hy, soos in Johannes Kerkorrel se bekende lied “Hillbrow” nooit sy kop wegdraai vanaf nood nie, maar behoeftige mense met hul leë hande met liefde in die oë kyk, sy beursie oopmaak en “gee, gee, gee” – nie sente en drome en klere vol gate nie, maar note en sekuriteit en goeie klere, soms selfs met prysetikette aan.

Doopouers, leer deur die voorbeeld wat julle stel. Julle is ook ryk. En ek verwys nie na julle bankrekening nie. Julle is ryk aan mekaar. Meer nog as dit het julle ‘n seuntjie ryker geword (Powerpoint foto – Kyk net hoe ryk is julle!). En nog meer as dit – julle is ryk ín Gód. 30/35 jaar terug het julle ouers sy beloftewoord oor julle uitgespreek gehoor met die water op julle voorkoppe. Vanoggend het julle dit hardop oor julle eie seuntjie gehoor – die liefdesverklaring van God: “Jan Sebastian Kruger, ek doop jou in die naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees. Jy is myne, sê God. Gaan lewe sonder bekommernisse en vrees oor die dag van môre. Ék sorg vir jou.” You’ve got it all! As Jan oor ‘n paar jaar vir julle begin uitvra oor julle bankrekening en julle besittings, dink dan terug aan Jesus se gelykenis in Lukas 12 en rig julle antwoord daarvolgens. Vertel hom dat julle so ryk is dat julle nie weet hoe julle dit het nie. En wys deur julle lewens vir hom dat dit nie julle toe hande is wat julle al ryker en ryker maak nie, maar dat julle juis so ryk is omdat julle oop hande het wat nie bang is om vanuit julle oorvloed te gee nie.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Jona – 2016

24 Julie 2016 Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman

 

Jona 1

En die woord van die Here het gekom tot Jona, seun van Amittai: “Staan op (maak klaar), gaan na Nineve, die groot stad en roep uit teen haar mense, want hulle boosheid het onder my aandag gekom.

Maar Jona het opgestaan om te vlug na Tarsis, weg van die aangesig van die Here. Hy het afgegaan na Joppe en daar het hy ‘n skip gevind wat na Tarsis oppad was. Jona het die geld betaal en in haar afgegaan sodat hy saam met hulle (die bemanning) na Tarsis kon gaan, weg vanaf die aangesig van die Here.

Maar die Hére het ‘n groot wind oor die see gesmyt (die een van wie hy gedink het hy vlug, het hom gevolg). Die storm was gróót oor die see en die skip het dit oorweeg om te breek. Die bemanning het dit gesien en hulle het uitgeroep elke man tot sy gode, en hulle het die vrag wat in die skip was in die see gesmyt om dit ligter te maak vanaf hulle. Maar Jona het (intussen) afgegaan na die agterskip en hy het gaan lê en vas aan die slaap geraak. Die kaptein van die bemanning het na hom toe gegaan en vir hom gevra: “Wat is dit met jou dat jy so vas slaap? Staan op, roep tot jou God/gode. Miskien sal die God/gode aan ons dink en ons sal nie doodgaan nie. Toe sê elke man vir die een langs hom: “Kom ons laat val lootjies sodat ons kan weet as gevolg van wie hierdie ramp ons tref.” Hulle het lootjies laat val en die lot was op Jona. Toe vra hulle vir hom: “Sê asb tog vir ons wat is die verband (Please connect the dots). Oor wie is hierdie ramp op ons? Wat is jou beroep en waarvandaan kom jy? Wat is jou land en van watter volk is jy?” Jona het hulle geantwoord: “Ek is ’n Hebreër en ek vrees/dien die Here die God van die hemele, die Een wat die see en die droë grond gemaak het.”

Die manne het met ‘n groot vrees gevrees en vir hom gevra: “Wat is hierdie ding wat jy gedoen het?” [Want die mans het geweet dat hy van die aangesig van die Here weg gevlug het, want hy het [vroeër] vir hulle vertel.] Toe vra hulle vir hom: “Wat moet ons met jou doen sodat die see kan stil word vanaf oor ons?”  Want die see het geloop en woed.

Jona het vir hulle geantwoord: “Tel my op en gooi my in die see, dan sal die see stil word vanaf oor julle, want ek weet dat dit om my onthalwe is dat hierdie groot storm oor julle is.” (Hoekom vra Jona dit? Hoekom maak hy dit die manne se verantwoordelikheid om hom oor te gooi? Hoekom spring hy nie sommer self nie?)

Die manne het egter gegrawe (geroei) om terug te gaan na die droë land toe, maar hulle was nie in die staat nie, want die see het geloop en woed vanaf oor hulle. Toe roep hulle tot die Here en sê: “Ag Here, moet asb tog nie dat ons doodgaan oor die siel/lewe van hierdie man nie. En moenie skoon (onskuldige) bloed teen ons gee nie, want U, Here, doen net soos U goeddink/ maak net soos U wil.” Toe tel hulle vir Jona op en gooi hom in die see, en die see het sy woede laat staan. En die manne het die Here met ‘n groot vrees gevrees (gedien), en hulle het offers aan die Here geoffer en hulle het beloftes belowe (ede gesweer).

Jona 2

Die Here het ‘n groot vis aangestel om vir Jona in te sluk en Jona was in die ingewande (>maag) van die vis drie dae en drie nagte. Jona het tot die Here sy God gebid vanuit die ingewande (>maag) van die vis:

“Ek roep vanuit my nood tot die Here, en Hy het my geantwoord vanuit die maag van Sheol (die onderwêreld, die doderyk); ek het om hulp geroep en U het my stem gehoor. U het my in die diepte gegooi (asof dit die Here se skuld is dat Jona is waar hy is), in die hart van die see, en die stroom het my omring. Al u brekers en u golwe het bo-oor my gegaan. Ek het gedink dat ek uitgedryf is van voor u oë. Sal ek ooit weer u heilige tempel sien? (retories: Ek sal sekerlik nooit weer u heilige tempel sien nie.) Water het my tot by my nek omsluit, die diep oseaan het my omring, seegras was om my kop gedraai. Tot by die uiteindes (die heel onderste deel) van die berge (dws die fondamente vd aarde) het ek afgesak. Die aarde – haar tralies het my vir ewig toegesluit. Maar U het my opgebring vanuit die put, Here my God. (Draaipunt – opwaartse beweging). Toe my lewe al flouer geword het, het ek aan die Hére gedink, en my gebed het na U toe gekom, na u heilige tempel toe. Diegene wat hulle steur aan valse (leë) gode – hulle troue liefde (hesed> faithfulness; die troue liefde wat hulle s’n kon wees) gaan by hulle verby (hulle ontbeer die liefde). Maar ék, met ‘n stem van danksegging wil ek aan U ‘n offer bring, wat ek belowe het sal ek doen. Redding kom van die Here af.”

Toe het die Here vir die vis beveel en hy het vir Jona opgegooi (vomit) op die droë grond.

Jona 3

En die woord van die Here het ‘n tweede keer tot Jona gekom: “Staan op (maak klaar) en gaan na Nineve, die groot stad, en roep uit tot haar die proklamasie wat Ek vir jou sal sê.”

So Jona het opgestaan (gereedgemaak) en na Nineve gegaan soos wat die Here gesê het. [Nineve was ‘n gróót stad vir God (dws ‘n ontsaglike groot stad), dit het drie dae geneem om daardeur te loop.] Jona het begin om in die stad in te gaan, ‘n reis van een dag, en hy het uitgeroep: “Nog veertig dae en Nineve sal vernietig word!” (net 5 woorde in Hebr)

Die mense van Nineve het (agv Jona se oordeelsboodskap) in God geglo, en hulle het ‘n vas uitgeroep en hulle het rouklere aangetrek, van die grootste tot die kleinste onder hulle. Die berig het gestrek tot by die koning van Nineve (het die koning van Nineve bereik) en hy het van sy troon af opgestaan en sy koningsklere uitgetrek en rouklere aangetrek en op die ashoop gaan sit. Hy het ‘n aankondiging gemaak en gesê: “In Nineve: ‘n Edik/bepaling van die koning en sy grotes (belangrike raadgewers): Mens en dier, bees en skaap, hulle mag niks proe nie en hulle mag nie wei nie en water mag hulle nie drink nie (hulle mag nie eens water drink nie). Mens en dier moet rouklere aantrek en hulle moet kragtig (hard) tot God roep en hulle moet omdraai elke man vanaf sy bose pad en vanaf die geweld wat in hulle hande is (wat hulle gepleeg het). Wie weet? Dalk draai God om en is Hy jammer en draai Hy om (weg) vanaf die brandende woede van sy neus en sal ons nie doodgaan nie.” (As ons omdraai>tot inkeer kom sal God dalk ook omdraai>tot inkeer kom).

God het hulle dade gesien – dat hulle omgedraai het vanaf hulle bose pad – en God was jammer oor die boosheid wat Hy gesê het Hy aan hulle gaan doen, en Hy het dit nie gedoen nie.

Jona 4

En dit was boos vir Jona, baie boos (‘n groot boosheid), en die woede het gebrand vir hom. Hy het gebid tot die Here en gesê: “Ag tog Here! Is nie hierdie my sê-ding toe ek nog in my (eie) land (op my grond) was nie? (Retories: Dit is nes ek gedink het toe ek nog in my eie land was!). Dis wat ek wou voorkom deur na Tarsis te vlug. Want ek het geweet U is ‘n God van genade en medelye, lank van neusgate (>stadig om kwaad te word), oorvloedig in hesed (troue liefde, faithfulness) en iemand wat berou het oor die (dreigende) ramp. En nou, Here, neem asseblief tog my lewe vanaf my weg, want die dood is beter vir my as die lewe.”

En die Here het gesê: “Is dit goed dat dit so brand vir jou?” (Het jy rede om so vreeslik kwaad te wees?)

Jona het uit die stad uitgegaan en hy het gaan sit oos van die stad. Hy het daar vir hom gemaak ‘n skuiling en hy het onder dit gaan sit in die skaduwee totdat hy kan sien wat sou gebeur in die stad. Toe het die Here God ‘n klein plantjie aangestel om op te kom (te groei) oor Jona en om ‘n skaduwee te wees oor sy kop om hom weg te ruk/te stroop vanaf sy boosheid (sy bose houding). Jona het gejuig oor die klein plantjie met ‘n groot gejuig. Toe het God ‘n wurm aangestel om op te gaan met die dagbreek die volgende dag, en die wurm het die plantjie aangeval en die plantjie het opgedroog. Soos wat die son opgekom het, het God ‘n warm oostewind aangestel en die son het Jona se kop aangeval (>gesteek) en hy het in ‘n beswyming gegaan en gevra vir sy lewe om dood te gaan. Hy het gesê: “Die dood is beter vir my as die lewe.

God het vir Jona gesê: “Is dit goed dat dit so brand vir jou oor die klein plantjie. En hy het geantwoord: “Dit is tot die dood toe goed dat dit so brand vir my.” Die Here het gesê: “Jy het medelye/is jammer oor die klein plantjie waarvoor jy nie gewerk het nie en jy het dit nie laat groei nie. Dit was ‘n kind van ‘n nag en (as) ‘n kind van ‘n nag het dit doodgegaan. Maar Ek, mag Ek nie medelye hê/jammer wees vir Nineve, die groot stad, wat bestaan in haar ‘n menigte 120 000 mense wat nie geweet het hulle regs van hulle links nie (tussen reg en verkeerd nie) en baie diere!”

Vorige week opsommend

  • Jona in die kunste: Powerpoint
  • Die mense in die Ou Nabye Ooste (die antieke wêreld vd OT) = storievertellers van formaat
  • Jona: Sosiale en godsdienstige kritiek teen die profete, die boodskappers van die Here, die “voorbeeldiges”
  • Satire: the use of humour, irony, exaggeration, or ridicule to expose and criticize people’s stupidity or vices, particularly in the context of contemporary politics and other topical issues. (humor, ironie, oordrywing en spot).
  • “Jona ten minste óók ‘n kampvuurstorie, bedoel om die gehoor te vermaak. Dit is ‘n kinderverhaal met ‘n angel daarin vir die grootmense wat ook luister. Dit wil die verbeelding prikkel, mense die skrik op die lyf jaag met die vreesaanjaende seemonster, die lagspiere kielie, almal met ‘n slap riem vang omdat ‘n mens jouself onwillekeurig in Jona se posisie indink.” (Ernst Conradie)
  • Die teks: Let op die oordrewe taal – alles is so gróót (Gewoonlik word byvoeglike naamwoorde spaarsamig gebruik in Bybelse Hebreeus)
  • Personifikasie – dooie dinge kry menslike eienskappe, bv die stad, die boot, die wind en die see (ook die diere word beskryf asof hulle mense is, dieselfde reëls geld).
  • Jona bestaan uit 2 groot dele: Hfts 1-2 en 3-4. Elk word ingelei met “En die woord van die Here het tot Jona gekom”.
  • Die 2 dele kan in 2 kleiner dele onderverdeel word soos uiteengesit in die hoofstukindelings, dws 4 dele altesaam:
  • Hfst 1: Afdaal-motief (gaan af na Joppe, in die skip, gaan slaap onder, word in die dieptes vd see gegooi. Ook simbolies: die kontras tussen Jona se verhouding met die ware God en die matrose se verhouding met hulle gode en uiteindelik met die ware God.
  • Hfst 2: Aanvanklik steeds afdaal-motief. In sy gebed sak hy tot by die fondamente van die aarde. Dan die ommekeer. “U het my opgebring vanuit die put” en die vis gooi vir Jona op op droë grond.
  • Hfst 3: Voortsetting van opwaartse-motief. Draaipunt: Jona is nou gehoorsaam, na Nineve, oordeelspreek – kort preek maar groot reaksie: Klimaks: Nineviete bekeer hulle en God sien af van sy oordeel (die inhoud van Jona se preek).
  • Hfst 4: Terugkeer na afwaartse beweging.

Boodskap van Jona

Die beste manier waarop ek die storie van Jona kan beskryf, is as ‘n toneelstuk waarvan die plot op ‘n verhoog ontvou. Die gordyne gaan oop en die eerste toneel is waar die woord van die Here tot Jona kom. “Jona, maak gereed en gaan na Nineve, die groot stad (hoofstad van jou volk se grootste vyand Assirië) en verkondig oordeel en verwoesting, want hulle boosheid het onder my aandag gekom.”

Hier reg aan die begin het ons die twee hoofkarakters in die storie ontmoet: Die Here en Jona, en die res van die storie gaan vir ons die kontras skets tussen Jona se siening van God en die manier waarop God aan die Nineviete geopenbaar word. Hierdie kontras is dan ook die sleutel vir die gehoor wat na die opvoering kom kyk, die is die storie agter die storie: Wat verwag Jona van God (die God van Israel) en hoe verskil dit van hoe God homself aan die Nineviete openbaar?

Dit word donker op die verhoog en wanneer dit sekondes later weer lig word vind ons vir Jona in die middel van ‘n storm in ‘n boot op die see. Hy was ongehoorsaam aan die opdrag van die Here en hy is aan die vlug. Die toneel eindig waar die heidense bemanning vir Jona oorboord gooi en alles rondom hulle stil raak. Hulle sak op hulle knieë en aanbid die Here die God van Jona. (Húlle word gehoorsaam, Jona is steeds ongehoorsaam.) Die gordyne gaan toe.

Die gordyne gaan oop. Tweede toneel. Jona is in die ingewande van die vis. Hy het rock-bottom bereik. Afsak, afsak, afsak, totdat hy die fondamente van die aarde tref en voel hoedat die tralies van die aarde hom vir ewig toesluit. Hier waar dit veronderstel is om te laat te wees – hy is reeds oorboord gegooi en reeds deur ‘n vis ingesluk, dus so goed soos dood – begin hy vir die eerste keer tot die Here bid. Die storie maak ‘n 180 grade draai.  In Jona se gebed het die Here hom opgebring vanuit die put. In “werklike lewe” bring die vis hom op op droë grond. Die gordyne gaan toe.

Die gordyne gaan oop. Toneel drie. Dit begin soos toneel 1. So weet ons die tweede helfte van die storie breek nou aan. Die woord van Here het ‘n tweede keer tot Jona gekom. Maar waar Jona die eerste keer ongehoorsaam was (waarom weet ons nou nog nie), is hy hierdie keer gehoorsaam en hy gaan op na die ontsaglike groot stad Nineve. Die storie bereik ‘n klimaks wanneer Jona se kort preek (5 woorde) so ‘n groot reaksie by die Nineviete ontlok dat die ganse stad – al haar mense en selfs al haar diere – tot bekering kom en God besluit om af te sien van sy oordeel. Nog nooit was ‘n profeet se oordeelspreek so suksesvol nie! Jona verdien ‘n klop op die skouer. Maar die gordyne gaan toe…

En die gordyne gaan oop. Die vierde toneel. Jona sit buite die stad onder ‘n handgemaakte skuiling. Hy kook oor van die woede. Nie bly oor die suksesvolle uitwerking van sy preek nie. Eerder gevul met boosheid omdat die Nineviete na aanleiding van sy boodskap tot inkeer gekom het en God hulle daarom nie meer gaan vernietig nie.  In sy gebed hoor ons dat dít die rede is waarom hy in die eerste plek gevlug het na Tarsis toe God hom na Nineve gestuur het – want hy het mos gewéét die Here is ‘n God van genade en medelye, stadig om kwaad te raak en tot oorlopens toe vol van troue liefde, Iemand wat berou het oor die ramp wat Hy beplan en wat nie sal skroom om daarvan af te sien nie. Vir die tweede keer wens Jona dat hy eerder dood was – die dood is beter as om te lewe en toe te kyk hoedat sy(!) God ook aan ander mense, vyande van hom en sy volk, genade bewys. Hoor net so ‘n nasionalis!
Dan sien ons die plantjie en dan die wurm en dan die warm oostewind – almal agente van God

wat bedoel is om vir Jona van sy bose houding te laat afsien en om hom te help om tot nuwe insigte te kom. Maar Jona wil nie in sy hart skuif nie – hy wil steeds eerder doodgaan. Die toneelstuk eindig skielik en sonder ‘n slot. God spreek vir oulaas ‘n woord: “Jy het medelye met die plantjie…, maar Ek, mag Ek nie medelye hê met die groot stad nie?” Die ligte gaan af, die gordyn gaan toe, die toneelstuk is verby maar iemand klap hande nie. Die gehoor staan verslae op en stap in stilte uit.

Ons word gekonfronteer met die vrae:

  • Wie is God?
  • Hoe reageer God teenoor mense?
  • Hoe reageer verskillende mense teenoor God? (en die verrassende ontdekking)

God is vrymatig om selfs aan heidene genade te betoon.

‘n Nuwe geloofsbelydenis: Ons glo in die God wat die hemel en die droë grond gemaak het. Ons glo dat Hy vry is om verder as die grense van Israel genade te bewys – tot in Nineve.

En ons vandag – hoe word ons geloofsbelydenis van God aangepas nav die verhaal van Jona?

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Lukas 10:25-37 – 2016

10 Julie 2016 Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman

 

Die opskrif van ‘n teksgedeelte is problematies. In die aanvanklike skrywe van die Lukas evangelie was daar nie opskrifte nie, dit is later deur vertalers en interpreteerders ingevoeg met die doel om die lesers te help. “Die barmhartige Samaritaan” / “The good Samaritan”. Selfs vriende van ons wat ateïste is ken die opskrif en trant van die verhaal goed. Die probleem is egter: Hierdie opskrif is soos iemand wat ‘n grap vertel, maar voortydig die onverwagse punchline weggee. (Later meer)

Inleiding (10: 25-29)

‘n Wetskenner (Gr: ‘n lawyer, menende ‘n kenner van die Wet van Moses) stel ‘n strikvraag aan Jesus. Hy wou Jesus “toets” – dieselfde woord wat verder in Lukas net in die vertelling vd versoeking voorkom waar Jesus vanuit Deut aanhaal “Jy mag nie die Here jou God toets nie”:

“Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”

“Wat staan in die Wet? Wat lees jy daar?,” antwoord Jesus met ‘n teenvraag.

En nou hoor ons dat die wetskenner nie werklik op soek is na die antwoord nie, want hy ken dit self uit sy kop uit: “Jy moet die Here en jou naaste liefhê”.

(Verbind Deut 6:5 [Shema] en Lev 19:18 – dws openbaar baie goeie kennis vd Wet van Moses en kan selfs 2 onafhanklike dele perfek met mekaar in verband bring.)

“Nou daar het jy dit mos. Volpunte vir jou teologie! Gaan doen dit nou en jy sal lewe.”

Maar die wetsgeleerde wou homself regverdig (saving face). Daarom die volgende vraag: “En wie is my naaste?” Dikwels ook ons vraag vandag – wie is ons naastes? Is die man by Mowbray se robot daar oorkant die drankwinkel my naaste? Is die vrou wat gebukkend in die stortende reën langs die M5 loop my naaste? Is die een wat reeds my duurste tekkies dra en wat so lekker kan lieg my naaste? Die daaglikse worsteling om te verstaan wie ons naastes is vir wie ons moet liefhê (agape).

Die probleem met hierdie worsteling, hoe edel en opreg dit ookal mag wees, is dat ons soos die wetskenner ‘n grens aan naasteliefde stel. Hy wil weet wie sy naaste is sodat hy ook kan weet wie nie sy naaste is nie. In-groep vs uit-groep. Teenoor wie het hy ‘n verpligting en teenoor wie nie. Hoe wyd moet die radius van sy naasteliefde strek?

Hierdie keer antwoord Jesus weer nie self die vraag nie. Hy vertel eerder ‘n gelykenis.

Teks

Vs 31: Toevallig kom daar toe ‘n priester daarlangs…

Vs 33: Maar ‘n Samaritaan(!) – die vooropplasing dui op die verrassende, onverwagse OW en sy gevolglike optrede.

Vs 36: Wie van hierdie drie het ‘n naaste geword vir die man wat deur rowers oorval is.

Boodskap

Toe ‘n man eenmaal oppad was van Jerusalem af na Jerigo toe (27 km deur woestyngebied en areas waar daar grotte was waarin rowers geskuil het), het rowers hom aangeval. Hulle het hom kaal uitgetrek en hom geslaan dat hy halfdood bly lê, en toe padgegee. Toevallig kom daar ‘n priester met daardie pad langs (vlgs die Wet van Moses – Lev 19:17-18 – as volksgenoot ‘n naaste), en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby. Die priester gaan letterlik uit sy pad uit om uit sy pad uit te gaan. Waarom? Ons weet nie, maar dit maak nie saak nie. As dit saakgemaak het, sou Jesus vir ons die rede gee. Die punt is juis nie die legitimiteit vd priester se verskoning nie – asof sou hy ‘n goeie verskoning hê kan ons hom van naasteliefde/diens verskoon.

Maar ter wille van die storie (en omdat ons weet hoe graag ons dikwels op soek is na goeie verskonings waarom ons nie iemand kan help nie) kan ons maar ‘n ingeligte raaiskoot maak oor waarom die priester sou verbyhou by ‘n mens in nood. Die feit dat hy van Jerusalem af kom sê vir ons dat hy waarskynlik daar diens in die tempel gedoen het, wat sou beteken dat hy kulties rein is. Toe hy die man van ver af sien lê, het hy dalk gedink die man is reeds dood. En ‘n rein priester mag nie aan ‘n lyk raak nie. Dit sou veroorsaak het dat hy kulties onrein word. Mens offer nie jou reinheid sommer so op nie. Om die priester se dilemma nog beter te verstaan: hy moes ‘n sekere afstand vanaf ‘n moontlik lyk af bly, ten minste 4 el. Ons kan raai dat vir die priester was die wet om homself rein te hou onvoorwaardelik, terwyl die wet tot liefde voorwaardelik was – dit het afgehang van wie die persoon is en wat sy toestand is. Hoe beter dit met die persoon in nood gaan, hoe veiliger is dit vir die priester om hom lief te hê. Hierdie slagoffer het van ver af al te sleg gelyk.

Net so het daar ook ‘n Leviet by die plek gekom. Die Leviete het ook godsdienstige take verrig, maar hulle was nie soos die priesters gebonde aan die reinheidswette nie. Daarom kon die Leviet naderstaan, hy kon die 4 el grens oorsteek en tot by die plek kom waar die man lê, en hy hét ook. Hy kon hom help! Maar nadat hy gekyk het, het ook hy weggedraai en ver langs verbygegaan. Wat ookal die Leviet se rede kon wees, hy het nie die tyd of die lus gehad om ‘n vreemdeling te help wat duidelik baie aandag vereis nie.

Waar die rowers die slagoffer van sy klere en waarskynlik ook van sy geld beroof het, beroof die “dienaars van God” – die priester en die Leviet – hom dan van sy menswaardigheid. Die mens wat hy is en die slegte toestand waarin hy verkeer maak hom nie werd om deur hulle gehelp te word nie.

Die vbe van die priester en die leviet het nou verbygekom. Nou verwag die wetskenner (en res vd gehoor) dat die derde persoon (surprise-surprise) ‘n gewone Jood gaan wees. Dis immers al wie oorbly. Die priester en die ouderling het hul taak versuim, maar die gewone gelowige sal die regte ding doen.

Maar ‘n Samaritaan!, nou skok Jesus die wetskenner, ‘n Samaritaan van alle mense! wat op reis was, het op die slagoffer afgekom, en toe hy hom sien, het sy ingewande in beweging gekom (het hy hom innig jammer gekry). En hy het hom gehelp. Nie net daar langs die pad nie. Hy het hom ook na ‘n herberg geneem en daar versorg, ‘n héle nag aan die vreemdeling afgestaan, en hy het gesorg dat hy verder versorg word, en die Samaritaan het die koste van die man se versorging uit sy eie beursie betaal.

Hoekom is die gedagte van die Samaritaan so skokkend? Omdat ‘n Samaritaan per definisie nie goed is nie. Omdat die Samaritane as basterjode beskou is. Die ras-egte Jode het op hulle neergesien. Omdat, Rabbi Jesus, die Samaritane net nou die dag nog nie vir u wou huisvesting gee vir een nag nie (Lukas 9:51-56)! Hoe op aarde kan u nou ‘n Samaritaan as voorbeeld aan ons voorhou?!?

Dis hoekom die opskrif vir hierdie gelykenis so verkeerd is. Dit is veronderstel om ons te skok, maar die benaming skep by ons as moderne mense die prentjie wat Samaritane goeie mense is. Ons luister na die vertelling van Jesus en wanneer die karakter van die barmhartige Samaritaan aan die beurt kom, dan glimlag ons. En wanneer ons na iemand anders verwys as ‘n Samaritaan, dan gee ons die persoon ‘n kompliment en nie ‘n skeldnaam nie. Ons, vandag, ken net goeie Samaritane. Irnonies genoeg agv hierdie gelykenis. Maar vanuit die perspektief vd Jode in die destydse konteks was daar nie so iets soos ‘n “goeie Samaritaan” nie. Dis juis waarom Jesus die Samaritaan as voorbeeld gebruik.

Hier is ‘n Samaritaan in Judea, in die Jode se land. Hy kon veronderstel dat die slagoffer ‘n Jood was. Waarom dan betrokke raak? Dit kan immers net vir hom spot en veragting in die sak bring. Wie weet, dalk verset die slagoffer hom nog ook teen sy hulp as hy agterkom dis ‘n Samaritaan wat sy wonde behandel. Indien hy ‘n Jood was sou die slagoffer dalk die houding kon hê van eerder doodgaan as om deur ‘n Samaritaan gehelp te word.

Maar die Samaritaan het desondanks al hierdie moontlikhede hom innig jammer gekry. ‘n Goeie Afrikaanse woord is “mede-lye” (co[m]passion). Hy is deur sy ingewande beweeg (letterlik in die Grieks). Daarom vra hy nie wat is die veilige ding om te doen nie of dit wat die minste moeite gaan verg nie, hy vra wat is noodsaaklik. Hy maak nie eers teologiese of politieke berekeninge in sy kop nie. “Wie is nou eintlik my naaste en wie nie? Waar stop die grens? Ek bevind myself op vreemde terrein, daar is sekerlik geen verpligting op my om te stop en te help nie. Dit kan immers gevaarlik wees vir my!” Nee, hy rol bloot sy moue op en hy doen wat gedoen moet word. Hy doen wat die priester en die Leviet (die beseerde man se sogenaamde naastes as ons so na die Wet van Levitikus luister) nie wou doen nie.

Maar Lev 19 hou ook nie by vers 18 op nie. Selfs al het die priester en Leviet vlgs die Wet van Moses opgetree en die man gehelp omdat hy hulle volksgenoot was, was hulle grense vir naasteliefde steeds te eng. Want in Lev 19:33-34 lees ons dat die Jode ook die vreemdeling onder hulle as ‘n medeburger moet behandel en ook hom/haar moet liefhê soos hulleself.

Na die gelykenis gaan haal Jesus dan weer die tweede vraag van die wetskenner: “Wie is my naaste?” Maar Jesus wys dan vir die wetskenner dat hierdie vraag nie gevra moet word nie. Jesus draai die vraag om. Nie: “Wie is my naaste nie,” maar “So, watter een sê jy  uit hierdie drie het as naaste opgetree teenoor hom wat onder rowers verval het?” Waar die wetskenner die fokus plaas op die persoon in nood en vir Jesus vra: “Watter mense wat in nood is, is ek veronderstel om lief te hê en te help? Waar lê die grens? Wie van hulle is my naastes en waar mag ek maar halt roep?”, plaas Jesus die fokus op die een wat die hulp verleen: “Watter een van die drie karakters was bereid om ‘n naaste te wees vir die slagoffer?”

Vir die wetskenner moes dit verskriklik wees dat Jesus die priester en die Leviet en dan die Samaritaan! teenoor mekaar stel. Die wétskenner moet nou kies, hy word genoop om te sê. En hy weet hy gaan nie van sy eie antwoord hou nie. Hy hou so min van die antwoord dat hy die Samaritaan nie eens as “Samaritaan” wil identifiseer nie. Al wat hy uitkry is: “Die man wat aan hom medelye bewys het.” So sê die meeste teksuitleggers.

Of wie weet – dalk moet ons die wetskenner meer krediet gee as dit. Dalk is sy eie ingewande in beweging gebring en is hy by die aanhoor van die gelykenis op sy eie vooroordele gewys, dat daar nou nie meer in sy antwoorde itv groeperinge gepraat word nie (priester, Leviet of Samaritaan), maar dood eenvoudig itv watter méns bereid was om ‘n naaste te wees. Dat die wetsgeleerde nou nie meer fokus op die identiteit van die persoon nie, maar op sy optrede. Dis nie (meer) die Samaritaan wat gestop en gehelp het nie, maar dood eenvoudig die man wat in sy binneste ontsteld was oor die nood van die vreemdeling, en toevallig was hy ook ‘n Samaritaan. Ek wil graag glo dat dit die tweede rede is wat maak dat die wetskenner nie die identiteit van die helper uitsonder nie.

En Jesus? “Gaan maak jy ook so.” Maak soos die een wat medelye betoon het. Hy was bereid om ‘n naaste te wees vir iemand in nood. Sonder om vrae te vra het hy sy eie lewe vir die vreemde slagoffer op die spel geplaas. Is jý bereid om ‘n naaste te wees vir iemand anders? Moenie vir My vra: ‘Wie is my naaste,?’ Nie. Laat Ek eerder vir jou vra of jy ander mense se naaste is? En noudat ons so by vrae vashaak: Vir wie almal is jy bereid om ‘n naaste te wees? Is daar ‘n grens aan jou naasteliefde? Of is jy bereid om, ongeag wie die persoon in nood is, ‘n naaste te wees vir hom of haar? Maak nie saak of daardie persoon belangriker of minder belangrik as jy is nie. Maak nie saak of hy bekend of vreemd is aan jou nie. Maak nie saak of jy in jou bekende omgewing of in ‘n vreemde area is nie. Maak nie saak of mense vriendelik of vyandig na jou sal kyk nie.

Deur die gelykenis te vertel wys Jesus vir die wetgeleerde dat naasteliefde nie gaan oor die “regte geloofskennis”nie.  Naasteliefde is nie gelyk aan die vermoë om te filosofeer of te spekuleer oor die aard en die grense van liefde nie. Naasteliefde is om op te hou vrae vra oor wie dan nou gehelp moet word en wie nie, en wie verdien my hulp en wie nie, en wanneer is genoeg genoeg… Naasteliefde is doodeenvoudig om liefde “te doen” teenoor iemand in nood.

Burma – ‘n verhaal uit die volksmond: ‘n reisiger stap deur die woude van Burma en kom by die rand van ‘n klein dorpie. Hy besluit om buite die dorp langs die pad te slaap en eers die volgende dag die dorp binne te gaan. Hy steek sy beursie onder ‘n klip naby hom weg om dit veilig te hou. ‘n Dorpeling sien dit en gaan steel die beursie in die nag terwyl die reisiger slaap. Volgende oggend sien die reisiger sy beursie is weg en hy huil langs die pad. ‘n Skare mense drom saam, later ook die burgermeester. Hy luister na die reisiger se storie en vra om die klip te sien. “Arresteer die klip. Bring die dief van die dorpsplein sodat ek die geskil in ‘n hofgeding kan besleg.”

Burgermeester tree as regter op. Die oudstes sit ook daar.

Die regter aan die klip: “ Wat is jou naam?” Stilte. “Waar kom jy vandaan?” Stilte. “Sê my ten minste hoe oud jy is.” Dorpelinge begin agter hul hande lag.

Aan die klip: “Hoekom soek jy moeilikheid?”

Dorpelinge lag hardop. “Orde in die hof! Respekteer die prosedure!”

Aan die klip: “ Antwoord my vrae om jy gaan tronk toe vir minagting van die hof. As straf sal jy 30 slae met die sweep geslaan word.”

Die skare kan dit nie meer hou nie en bars uit van die lag.

Die burgermeester draai na hulle: “Het julle geen respek vir die hofprosedure nie? Ek beboet julle met ‘n boete van een muntstuk elk.” Die geld word aan die reisiger gegee. Die burgermeester beveel dat die klip teruggeneem word waar dit was. Mense bly praat oor die gebeurtenis. Sommige dink die burgermeester was sommer simpel gewees, maar ander erken dat hy met wysheid opgetree het. Want elke keer wanneer die dorpenaars verby die klip stap, word hulle daaraan herinner aan die laste van hul naastes (ook vreemdelinge) wat deur hulle dorpies reis en dat hulle moet help om mekaar se laste te dra…

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

2 Konings 5:1-14 – 2016

3 Julie 2016 Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman

 

Inleiding

In die OT was Sirië ‘n baie sterk politieke mag. Dit is die land Aram van ouds. Gedurende die Omriede dinastie van die 9e eeu vC was Aram Israel se grootste vyand en menigte oorloë is tussen die twee lande gevoer. Een van die Aramese soldate was verantwoordelik vir die doodskoot van koning Agab van Israel, toe die pyl hom so sekuur tussen die skubbe van sy harnas getref het (1 Kon 22:34).  In hierdie geveg het die Aramese die oorwinning behaal en Israel is verslaan. Die verhaal wat ons vanoggend lees, speel af in ‘n tyd nadat Aram die Israeliete verslaan het.

Skriflesing met verklarende opmerkings

Vs 1: Die Here het vir Naäman, die hoof van die weermag vd vyande van Israel, gehelp om die Israeliete te verslaan. Maar Naäman het nie geweet dat dit die Here was wat hom gehelp het nie.

Hierdie gesiene man en dapper soldaat het melaats geword. Daar was verskillende grade van velsiektes en melaatsheid. Hy was nie so erg melaats dat hy uit die samelewing uitgeban was en in een van die dorpies vir melaatses moes gaan woon nie, maar sy melaatsheid kon vererger en veroorsaak dat hierdie ondenkbare uitsluiting sou gebeur.

Vs 2: “klein klein dogtertjie”

Hierdie klein ou dogtertjie was heel onder op die sosiale leer van die samelewing. Na Aram se oorwinning oor Israel is sy as buit ontvoer na ‘n vyandige land om Naäman (die hoof offisier oor die weermag) se vrou se bediende te word. Sy waag geweldig baie wanneer sy so uit haar plek uit praat in die hoop dat haar groot en belangrike baas by die profeet in Samaria kan uitkom sodat hy genees kan word.

Naäman is duidelik moedeloos met sy toestand en baie desperaat en hy gryp na hierdie grashalmpie. Omdat hy so belangrik is wend hy hom direk tot sy koning. Vs 4…

Vs 5: Hierdie buitensporige geskenk dui op hoe belangrik Naäman werklik was. Hy was ‘n man van hoë aansien en status. Dat hy genesing moes ontvang, was van groot belang – al kos dit hoeveel. Dit is ook duidelik uit die feit dat sy koning ‘n brief rig aan die koning van Israel, waarin hy die situasie aanspreek.

Vs 6: Die Aramese koning verwag om die een of ander rede dat die Israelitiese koning self die genesing gaan bring. Of dalk is dit net oordat die Aramese koning nie sal daal tot die vlak om met ‘n profeet te korrespondeer nie, hy skryf net briewe aan mense wat dieselfde sosiale rang as hy beklee. Hoe dit ookal sy: Vs 7…

Vs 8: Israel is nou wel verslaan, maar hier het ons ‘n geleentheid om vir Naäman die Arameer te wys dat daar wel nog ‘n profeet, en deur hom ‘n God, in Israel is.

Vs 9: Die aankoms met wa en perde toon weereens aan net hoe belangrik hierdie Naäman werklik was. Wat is Elisa se reaksie teenoor hierdie belangrike man van hulle vyandige buurland? Vs 10…

Vs 11-12: Naäman het, weens sy hoë posisie, verwag dat die profeet darem self sou uitkom, hom ontmoet, en ‘n ritueel sou uitvoer wat pas by sy status – sodat hy in groot vertoon voor al sy bediendes en amptenare wonderbaarlik genees kon word. Maar nou stuur Elisa hom, via sy bediende, na die Jordaan om 7 maal te gaan bad. Hy is bitter verontwaardig want die Jordaan is bloot maar ‘n ou stroompie in vergelyking met die magtige riviere van Damaskus in Aram.

Vs 13: sy amptenare = letterlik sy “slawe/bediendes”

“iets moeiliks” = “’n groot ding”

Vs 14: letterlik “klein klein seuntjie”

Boodskap

Wat ons hier het is ‘n verhaal van groot aan die een kant en klein aan die ander kant, belangrike mense en onbelangrike mense, en ‘n universele God wat oor grense heen beweeg op verrassende maniere – ‘n God wat vir Naäman, die vyand, help selfs toe Naäman Hom nog nie geken het nie. Kom ons kyk ‘n bietjie na die belangrike karakters in hierdie verhaal…

1) Die eerste van wie ons lees is Naäman, die hoof van die leër van Aram, ‘n gesiene man wat die agting van die koning geniet het, ‘n dapper soldaat. Hier het ons iemand wat op die sosiale leer van destyds net ‘n klein koppie onder die koning self was. Dit verduidelik waarom hy so direkte toegang tot die koning gehad het. Naäman het mag en status in die samelewing. Met al sy oorwinningsveldtogte het hy die mense se eer verdien. Daar is net een probleem – hy het melaats geword. Nog nie so erg dat hy uit sy posisie en uit die gemeenskap verban is nie, maar waarskynlik oppad daarnatoe. In Engels sou mens nogals raak kon sê: He was busy losing face. Drastiese ingrype was nodig.

2) Die tweede belangrike karakter is die koning van Israel (eintlik die konings – ook die koning van Aram). Die storie ontwikkel so dat Naäman se koning ‘n brief skryf aan Israel se koning met die opdrag dat hy vir Naäman van sy melaatsheid moet genees. Die koning van Israel is gebroke. Hy bedink die koning van Aram van vuilspel aangesien hy die onmoontlike van hom vra en hierdie uitsiglose situasie stuur onvermydelik af op nog ‘n oorlog en waarskynlik nog ‘n nederlaag vir die reeds verslane Israel. “Is ek dan God wat mense laat sterwe of aan hulle die lewe gee dat hierdie man iemand na my toe stuur om hom van sy melaatsheid gesond te maak?” Die koning van Israel sien die neerdrukkende situasie van sy volk rondom hom, en met dit saam word ‘n (vir hom!) onmoontlike versoek aan hom gerig, en hy weet nie meer waar om God te vind nie.

3) Die derde belangrike karakter is die profeet Elisa. Die nuus dat die koning van Israel sy klere in wanhoop geskeur het bereik sy ore en hy stuur ‘n boodskap aan die koning: “Hoekom het u u klere geskeur? Laat Naäman na my toe kom, sodat hy kan besef dat daar ‘n profeet in Israel is.” Wat Elisa eintlik wil hê is dat Naäman sal besef dat daar nog ‘n God in Israel is. Elisa is ‘n groot en belangrike karakter in hierdie verhaal, maar hy tree so op dat niemand hom ooit eens sien nie. Hy kom nie eens by sy huis uit toe Naäman in groot brawade daar stilhou nie. Hy stuur bloot sy boodskapper met die eenvoudige opdrag dat Naäman homself 7 keer in die Jordaan moet gaan was. En wanneer Elisa dan wel verskyn nadat Naäman genees is weier hy om enige betaling of eer te ontvang vir die genesing, want sê hy, hy is in diens van die Here (16). Dit is in sy naam wat die genesing plaasgevind het en Elisa, die groot en belangrike profeet, kies doelbewus om klein en in die agtergrond te bly.

Daar het ons nou al die groot en belangrike karakters in die verhaal. Naäman, die (twee) koning(s), en die profeet Elisa. Daar is egter nog ‘n karakter, maar in die sosiale hierargie is sy heel onder op die leer. Sy is so klein en onbelangrik dat sy nie eens ‘n naam het nie. Ons lees in vs 2-4 van haar. “Op een van hulle strooptogte het die Arameërs ‘n jong dogtertjie uit Israel ontvoer wat Naäman se vrou se bediende geword het.” Letterlik staan daar in die Hebr “’n klein klein dogtertjie”. Die dogtertjie het alles verloor, sy is gevange geneem en ontvoer na ‘n vyandige land, en daar het sy die bediende geword van die belangrikste en vernaamste soldaat se vrou.

Wat doen die kind wat álles verloor het en weens haar geslag en ouderdom elk geval geen regte gehad het om op aanspraak te maak nie? Die klein dogtertjie word geraak deur die siekte van ‘n groot man, haar baas en haar eie mense se vyand, en sy help hom. Sy tree uit haar plek uit op, openbaar geweldige durf, en praat met Naäman se vrou oor die profeet in Samaria, en dat, “as Meneer net by (hom) kan uitkom hy hom van sy melaatsheid gesond sal maak.” En met hierdie aansporing en getuienis van ‘n vreemde kind wat ‘n vreemde God aanbid word die bal van genesing aan die rol gesit.

Naäman wil nie afstand doen van sy aansien nie en, nadat sy vrou met hom gepraat het, volg hy dan die weg van die VIP’s. Hy gaan praat met die koning, en die skryf ‘n brief aan die ander koning, ‘n groot prosessie vind plaas en buitensporige geskenke word saamgeneem. Maar Naäman kry nie daadwerklike hulp langs hierdie belangrike kanale nie. Die profeet Elisa hoor van die hele petalje en laat hom na hom toe kom. Net om nie self uit te kom nie, maar bloot sy boodskapper te stuur met die opdrag dat Naäman hom 7 maal in die kleine Jordaan moet gaan was. Naäman is woedend oor die gebrek aan respek wat hom toekom en hy weier om sy trots in sy sak te steek. Op hierdie stadium is sy trots, sy ego, vir hom selfs belangriker as sy genesing. Hy ruk die teuels om en besluit om eerder huistoe te gaan.

Maar wat gebeur? Die onbelangrikes, die naamloses in sy eie kring praat hom ‘n gat in die kop. Sy vrou se klein ou bediendetjie sit die bal van genesing aan die rol, en sy eie bediendes voltooi die proses. “Meneer, as die profeet iets moeiliks (‘n groot ding) van u verwag het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy eenvoudig vir u gesê het: Was jou en jy sal rein wees?” En met die aansporing van sy onbelangrike bediendes gaan hy toe af na die Jordaan (simbolies dui die “afgaan” daarop dat hy nederig word), en hy gaan bad hom 7 keer soos die man van God gesê het, “en sy vel het gesond geword soos dié van ‘n klein klein seuntjie en hy was weer rein.” En in vs 15 lees ons dan, toe die groot Naäman so klein geword het en in die proses genesing ontvang het, het hy ook tot bekering gekom.

Naaman moet klein word, nederig, hy moet sy Naam verloor voordat hy God se genesing ontvang. Ons moet daarteen waak om hiervan ‘n resep te wil maak: As ‘n siek persoon maar net klein en nederig genoeg kan raak dan sal God hulle van hul siekte genees. Die lewe werk eenvoudig nie so nie. Almal word nie van hul siektes genees nie – selfs al word hulle nederig, selfs al is hulle van meet af aan nederig. Dit is die pad wat God met Naäman gestap het in ‘n wêreld toe wondergenesings op daardie manier gebeur het, maar ons kan nie daarvan ‘n universele waarheid maak nie.

‘n Paar kritiese vrae aan die samelewing van destyds maar ook vandag:

1) Wat van die mense wat nie genesing ontvang nie, selfs al het hulle soos Naäman baie belangrike kontakte asook die rykdom om vir die beste behandeling te betaal? Hoe preek mens hierdie verhaal aan hulle? Daar was diesulkes in die OT, maar ook deur alle tye heen, ook vandag.

Ek het die week ‘n tannie in Groote Schuur Akademiese Hospitaal besoek. So gelowig en so nederig soos wat mens maar kan kry. Vanaf die platteland. Sy het gekom vir toetse en was op die ou-end baie korter hier as wat sy verwag het. Nie weens ‘n wondergenesing nie, maar omdat die drs niks meer vir haar kan doen nie en na die scan haar teruggestuur het platteland toe waar sy en haar mense moet gaan besluit rondom haar sterwenstydperk wat nou voorlê – tuis of hospice? Alle behandeling is stopgesit.

Moes ek haar soos Elisa na Pinelands se kanaal stuur om haar sewe keer te gaan was? Nee. Moes ek bid vir ‘n wondergenesing noudat die drs nie meer iets kan doen nie. Ek glo nie so nie.

2) Wat van die mense wat moontlik nog ‘n kans het op genesing, maar nie die invloed en die rykdom van Naäman het om te kom waar hulle gehelp kan word nie? Ja, Naäman het op die ou-end nie betaal vir Elisa se “dienste” nie, maar was dit nie vir sy posisie en rykdom nie het hy in die eerste plek nooit by Elisa uitgekom nie… Destyds kon Naäman betyds by Elisa uitkom. In vandag se tyd is daar ander voorsorgmaatreëls wat mens kan tref indien jy genoeg geld het – soos Angeline Jolie wat ‘n dubbelle mastektomie gehad het toe toetse toon dat sy geneties ‘n kans staan op borskanker. Nie almal kan hierdie maatreëls tref nie. In Bono U2 se lied “Crumbs from your table” sing hy: “Where you live should not decide whether you live or whether you die, Three to a bed, sister Ann, she said, dignity passes by…”

Weet nie wie van julle gelees het van die 2000 verstandelike gestremde staatspasiëte wat teen die afgelope Donderdag uit die 4 hospitale in Gauteng gesit is nie (sommige verskuif na ander hospitale ver van hul geliefdes en wat ook nie vir hulle plek het nie, ander uitgeboek as privaatpasiënte). Wat word van die siekes in ons samelewing wat nie geld en middelle het nie? Wie sorg vir hulle?

3) Wat van die dogtertjie wat, as dit nie vir haar getuienis was nie, Naäman nie gesond sou word en hierdie verhaal nooit geboekstaaf sou wees nie. Wat word van haar? Is daar vir haar ook ‘n nuwe toekoms? Of bly sy net eenvoudig aan as slavin in die land van die vyand? Selfs al sou sy vrygelaat word om terug te gaan na haar eie land toe – wat is die kans dat haar pa nog lewe na die oorlog? Wat is die kans dat haar ma nog daar is? Watter hoop gee hierdie gebeurtenis aan haar?

Dalk is dit die heel beste om te volstaan by die volgende wat ons met ons kan saamneem:

  • Die verrassende dat ons telkens in die Bybel spore daarvan kry dat God op ‘n sinvolle manier na vore kom daar waar mens dit nie verwag nie.
  • In ons reis met God deur die lewe gebeur daar onverwagse dinge, vreemde dinge, soms selfs aversiewe dinge, bv dat God ons vyande ook liefhet en genees terwyl ek self dalk nooit genesing ontvang nie…
  • Die eerste verrassing is dat God enigstens bereid is om die Aramese offisier te genees.
  • Die tweede is dat Hy dit deur onbeduidende mense doen – die slavinnetjie, ‘n profeet wat kies om gesigloos en naamloos te bly, en die offisier se eie naamlose bediendes.
  • Die derde is die manier waarop God hier te werk gaan – Naäman wat homself 7 keer in die Jordaan moet gaan bad. Selfs in die tyd waarbinne hy geleef het was dit ‘n vreemde opdrag. ‘n Profeet wat ‘n towerstaf swaai en die gepaste “abarakadabara” sê – ja, dit is wat hy verwag. Maar die gewassery in ‘n klein riviertjie – ondenkbaar.

Toe Jesus eeue later vir die Jode herinner aan hierdie verhaal waar God die Siriese offisier Naäman genees het maar nie een persoon in Israel nie, was hulle ontstoke. Maar net ‘n rukkie daarna is dit Jesus wat 10 melaatses sou genees, en wie kom terug om Hom te bedank? Nie die 9 Jode nie. Wel die Samaritaan, die outsider, die een wat die genesing eintlik nie toekom nie. Die een wie se mede-volksgenote nou-die-dag (laasweek se teks – Lukas 9) nie vir Jesus huisvesting vir een nag wou gee nie.

Dit is die God wat ons aanbid. Die een wat ons telkens verras met waar ons sy werke sal aantref en deur wie (die geringes) sy werke geskied.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.