Lukas 10:25-37 – 2016

10 Julie 2016 Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman

 

Die opskrif van ‘n teksgedeelte is problematies. In die aanvanklike skrywe van die Lukas evangelie was daar nie opskrifte nie, dit is later deur vertalers en interpreteerders ingevoeg met die doel om die lesers te help. “Die barmhartige Samaritaan” / “The good Samaritan”. Selfs vriende van ons wat ateïste is ken die opskrif en trant van die verhaal goed. Die probleem is egter: Hierdie opskrif is soos iemand wat ‘n grap vertel, maar voortydig die onverwagse punchline weggee. (Later meer)

Inleiding (10: 25-29)

‘n Wetskenner (Gr: ‘n lawyer, menende ‘n kenner van die Wet van Moses) stel ‘n strikvraag aan Jesus. Hy wou Jesus “toets” – dieselfde woord wat verder in Lukas net in die vertelling vd versoeking voorkom waar Jesus vanuit Deut aanhaal “Jy mag nie die Here jou God toets nie”:

“Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”

“Wat staan in die Wet? Wat lees jy daar?,” antwoord Jesus met ‘n teenvraag.

En nou hoor ons dat die wetskenner nie werklik op soek is na die antwoord nie, want hy ken dit self uit sy kop uit: “Jy moet die Here en jou naaste liefhê”.

(Verbind Deut 6:5 [Shema] en Lev 19:18 – dws openbaar baie goeie kennis vd Wet van Moses en kan selfs 2 onafhanklike dele perfek met mekaar in verband bring.)

“Nou daar het jy dit mos. Volpunte vir jou teologie! Gaan doen dit nou en jy sal lewe.”

Maar die wetsgeleerde wou homself regverdig (saving face). Daarom die volgende vraag: “En wie is my naaste?” Dikwels ook ons vraag vandag – wie is ons naastes? Is die man by Mowbray se robot daar oorkant die drankwinkel my naaste? Is die vrou wat gebukkend in die stortende reën langs die M5 loop my naaste? Is die een wat reeds my duurste tekkies dra en wat so lekker kan lieg my naaste? Die daaglikse worsteling om te verstaan wie ons naastes is vir wie ons moet liefhê (agape).

Die probleem met hierdie worsteling, hoe edel en opreg dit ookal mag wees, is dat ons soos die wetskenner ‘n grens aan naasteliefde stel. Hy wil weet wie sy naaste is sodat hy ook kan weet wie nie sy naaste is nie. In-groep vs uit-groep. Teenoor wie het hy ‘n verpligting en teenoor wie nie. Hoe wyd moet die radius van sy naasteliefde strek?

Hierdie keer antwoord Jesus weer nie self die vraag nie. Hy vertel eerder ‘n gelykenis.

Teks

Vs 31: Toevallig kom daar toe ‘n priester daarlangs…

Vs 33: Maar ‘n Samaritaan(!) – die vooropplasing dui op die verrassende, onverwagse OW en sy gevolglike optrede.

Vs 36: Wie van hierdie drie het ‘n naaste geword vir die man wat deur rowers oorval is.

Boodskap

Toe ‘n man eenmaal oppad was van Jerusalem af na Jerigo toe (27 km deur woestyngebied en areas waar daar grotte was waarin rowers geskuil het), het rowers hom aangeval. Hulle het hom kaal uitgetrek en hom geslaan dat hy halfdood bly lê, en toe padgegee. Toevallig kom daar ‘n priester met daardie pad langs (vlgs die Wet van Moses – Lev 19:17-18 – as volksgenoot ‘n naaste), en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby. Die priester gaan letterlik uit sy pad uit om uit sy pad uit te gaan. Waarom? Ons weet nie, maar dit maak nie saak nie. As dit saakgemaak het, sou Jesus vir ons die rede gee. Die punt is juis nie die legitimiteit vd priester se verskoning nie – asof sou hy ‘n goeie verskoning hê kan ons hom van naasteliefde/diens verskoon.

Maar ter wille van die storie (en omdat ons weet hoe graag ons dikwels op soek is na goeie verskonings waarom ons nie iemand kan help nie) kan ons maar ‘n ingeligte raaiskoot maak oor waarom die priester sou verbyhou by ‘n mens in nood. Die feit dat hy van Jerusalem af kom sê vir ons dat hy waarskynlik daar diens in die tempel gedoen het, wat sou beteken dat hy kulties rein is. Toe hy die man van ver af sien lê, het hy dalk gedink die man is reeds dood. En ‘n rein priester mag nie aan ‘n lyk raak nie. Dit sou veroorsaak het dat hy kulties onrein word. Mens offer nie jou reinheid sommer so op nie. Om die priester se dilemma nog beter te verstaan: hy moes ‘n sekere afstand vanaf ‘n moontlik lyk af bly, ten minste 4 el. Ons kan raai dat vir die priester was die wet om homself rein te hou onvoorwaardelik, terwyl die wet tot liefde voorwaardelik was – dit het afgehang van wie die persoon is en wat sy toestand is. Hoe beter dit met die persoon in nood gaan, hoe veiliger is dit vir die priester om hom lief te hê. Hierdie slagoffer het van ver af al te sleg gelyk.

Net so het daar ook ‘n Leviet by die plek gekom. Die Leviete het ook godsdienstige take verrig, maar hulle was nie soos die priesters gebonde aan die reinheidswette nie. Daarom kon die Leviet naderstaan, hy kon die 4 el grens oorsteek en tot by die plek kom waar die man lê, en hy hét ook. Hy kon hom help! Maar nadat hy gekyk het, het ook hy weggedraai en ver langs verbygegaan. Wat ookal die Leviet se rede kon wees, hy het nie die tyd of die lus gehad om ‘n vreemdeling te help wat duidelik baie aandag vereis nie.

Waar die rowers die slagoffer van sy klere en waarskynlik ook van sy geld beroof het, beroof die “dienaars van God” – die priester en die Leviet – hom dan van sy menswaardigheid. Die mens wat hy is en die slegte toestand waarin hy verkeer maak hom nie werd om deur hulle gehelp te word nie.

Die vbe van die priester en die leviet het nou verbygekom. Nou verwag die wetskenner (en res vd gehoor) dat die derde persoon (surprise-surprise) ‘n gewone Jood gaan wees. Dis immers al wie oorbly. Die priester en die ouderling het hul taak versuim, maar die gewone gelowige sal die regte ding doen.

Maar ‘n Samaritaan!, nou skok Jesus die wetskenner, ‘n Samaritaan van alle mense! wat op reis was, het op die slagoffer afgekom, en toe hy hom sien, het sy ingewande in beweging gekom (het hy hom innig jammer gekry). En hy het hom gehelp. Nie net daar langs die pad nie. Hy het hom ook na ‘n herberg geneem en daar versorg, ‘n héle nag aan die vreemdeling afgestaan, en hy het gesorg dat hy verder versorg word, en die Samaritaan het die koste van die man se versorging uit sy eie beursie betaal.

Hoekom is die gedagte van die Samaritaan so skokkend? Omdat ‘n Samaritaan per definisie nie goed is nie. Omdat die Samaritane as basterjode beskou is. Die ras-egte Jode het op hulle neergesien. Omdat, Rabbi Jesus, die Samaritane net nou die dag nog nie vir u wou huisvesting gee vir een nag nie (Lukas 9:51-56)! Hoe op aarde kan u nou ‘n Samaritaan as voorbeeld aan ons voorhou?!?

Dis hoekom die opskrif vir hierdie gelykenis so verkeerd is. Dit is veronderstel om ons te skok, maar die benaming skep by ons as moderne mense die prentjie wat Samaritane goeie mense is. Ons luister na die vertelling van Jesus en wanneer die karakter van die barmhartige Samaritaan aan die beurt kom, dan glimlag ons. En wanneer ons na iemand anders verwys as ‘n Samaritaan, dan gee ons die persoon ‘n kompliment en nie ‘n skeldnaam nie. Ons, vandag, ken net goeie Samaritane. Irnonies genoeg agv hierdie gelykenis. Maar vanuit die perspektief vd Jode in die destydse konteks was daar nie so iets soos ‘n “goeie Samaritaan” nie. Dis juis waarom Jesus die Samaritaan as voorbeeld gebruik.

Hier is ‘n Samaritaan in Judea, in die Jode se land. Hy kon veronderstel dat die slagoffer ‘n Jood was. Waarom dan betrokke raak? Dit kan immers net vir hom spot en veragting in die sak bring. Wie weet, dalk verset die slagoffer hom nog ook teen sy hulp as hy agterkom dis ‘n Samaritaan wat sy wonde behandel. Indien hy ‘n Jood was sou die slagoffer dalk die houding kon hê van eerder doodgaan as om deur ‘n Samaritaan gehelp te word.

Maar die Samaritaan het desondanks al hierdie moontlikhede hom innig jammer gekry. ‘n Goeie Afrikaanse woord is “mede-lye” (co[m]passion). Hy is deur sy ingewande beweeg (letterlik in die Grieks). Daarom vra hy nie wat is die veilige ding om te doen nie of dit wat die minste moeite gaan verg nie, hy vra wat is noodsaaklik. Hy maak nie eers teologiese of politieke berekeninge in sy kop nie. “Wie is nou eintlik my naaste en wie nie? Waar stop die grens? Ek bevind myself op vreemde terrein, daar is sekerlik geen verpligting op my om te stop en te help nie. Dit kan immers gevaarlik wees vir my!” Nee, hy rol bloot sy moue op en hy doen wat gedoen moet word. Hy doen wat die priester en die Leviet (die beseerde man se sogenaamde naastes as ons so na die Wet van Levitikus luister) nie wou doen nie.

Maar Lev 19 hou ook nie by vers 18 op nie. Selfs al het die priester en Leviet vlgs die Wet van Moses opgetree en die man gehelp omdat hy hulle volksgenoot was, was hulle grense vir naasteliefde steeds te eng. Want in Lev 19:33-34 lees ons dat die Jode ook die vreemdeling onder hulle as ‘n medeburger moet behandel en ook hom/haar moet liefhê soos hulleself.

Na die gelykenis gaan haal Jesus dan weer die tweede vraag van die wetskenner: “Wie is my naaste?” Maar Jesus wys dan vir die wetskenner dat hierdie vraag nie gevra moet word nie. Jesus draai die vraag om. Nie: “Wie is my naaste nie,” maar “So, watter een sê jy  uit hierdie drie het as naaste opgetree teenoor hom wat onder rowers verval het?” Waar die wetskenner die fokus plaas op die persoon in nood en vir Jesus vra: “Watter mense wat in nood is, is ek veronderstel om lief te hê en te help? Waar lê die grens? Wie van hulle is my naastes en waar mag ek maar halt roep?”, plaas Jesus die fokus op die een wat die hulp verleen: “Watter een van die drie karakters was bereid om ‘n naaste te wees vir die slagoffer?”

Vir die wetskenner moes dit verskriklik wees dat Jesus die priester en die Leviet en dan die Samaritaan! teenoor mekaar stel. Die wétskenner moet nou kies, hy word genoop om te sê. En hy weet hy gaan nie van sy eie antwoord hou nie. Hy hou so min van die antwoord dat hy die Samaritaan nie eens as “Samaritaan” wil identifiseer nie. Al wat hy uitkry is: “Die man wat aan hom medelye bewys het.” So sê die meeste teksuitleggers.

Of wie weet – dalk moet ons die wetskenner meer krediet gee as dit. Dalk is sy eie ingewande in beweging gebring en is hy by die aanhoor van die gelykenis op sy eie vooroordele gewys, dat daar nou nie meer in sy antwoorde itv groeperinge gepraat word nie (priester, Leviet of Samaritaan), maar dood eenvoudig itv watter méns bereid was om ‘n naaste te wees. Dat die wetsgeleerde nou nie meer fokus op die identiteit van die persoon nie, maar op sy optrede. Dis nie (meer) die Samaritaan wat gestop en gehelp het nie, maar dood eenvoudig die man wat in sy binneste ontsteld was oor die nood van die vreemdeling, en toevallig was hy ook ‘n Samaritaan. Ek wil graag glo dat dit die tweede rede is wat maak dat die wetskenner nie die identiteit van die helper uitsonder nie.

En Jesus? “Gaan maak jy ook so.” Maak soos die een wat medelye betoon het. Hy was bereid om ‘n naaste te wees vir iemand in nood. Sonder om vrae te vra het hy sy eie lewe vir die vreemde slagoffer op die spel geplaas. Is jý bereid om ‘n naaste te wees vir iemand anders? Moenie vir My vra: ‘Wie is my naaste,?’ Nie. Laat Ek eerder vir jou vra of jy ander mense se naaste is? En noudat ons so by vrae vashaak: Vir wie almal is jy bereid om ‘n naaste te wees? Is daar ‘n grens aan jou naasteliefde? Of is jy bereid om, ongeag wie die persoon in nood is, ‘n naaste te wees vir hom of haar? Maak nie saak of daardie persoon belangriker of minder belangrik as jy is nie. Maak nie saak of hy bekend of vreemd is aan jou nie. Maak nie saak of jy in jou bekende omgewing of in ‘n vreemde area is nie. Maak nie saak of mense vriendelik of vyandig na jou sal kyk nie.

Deur die gelykenis te vertel wys Jesus vir die wetgeleerde dat naasteliefde nie gaan oor die “regte geloofskennis”nie.  Naasteliefde is nie gelyk aan die vermoë om te filosofeer of te spekuleer oor die aard en die grense van liefde nie. Naasteliefde is om op te hou vrae vra oor wie dan nou gehelp moet word en wie nie, en wie verdien my hulp en wie nie, en wanneer is genoeg genoeg… Naasteliefde is doodeenvoudig om liefde “te doen” teenoor iemand in nood.

Burma – ‘n verhaal uit die volksmond: ‘n reisiger stap deur die woude van Burma en kom by die rand van ‘n klein dorpie. Hy besluit om buite die dorp langs die pad te slaap en eers die volgende dag die dorp binne te gaan. Hy steek sy beursie onder ‘n klip naby hom weg om dit veilig te hou. ‘n Dorpeling sien dit en gaan steel die beursie in die nag terwyl die reisiger slaap. Volgende oggend sien die reisiger sy beursie is weg en hy huil langs die pad. ‘n Skare mense drom saam, later ook die burgermeester. Hy luister na die reisiger se storie en vra om die klip te sien. “Arresteer die klip. Bring die dief van die dorpsplein sodat ek die geskil in ‘n hofgeding kan besleg.”

Burgermeester tree as regter op. Die oudstes sit ook daar.

Die regter aan die klip: “ Wat is jou naam?” Stilte. “Waar kom jy vandaan?” Stilte. “Sê my ten minste hoe oud jy is.” Dorpelinge begin agter hul hande lag.

Aan die klip: “Hoekom soek jy moeilikheid?”

Dorpelinge lag hardop. “Orde in die hof! Respekteer die prosedure!”

Aan die klip: “ Antwoord my vrae om jy gaan tronk toe vir minagting van die hof. As straf sal jy 30 slae met die sweep geslaan word.”

Die skare kan dit nie meer hou nie en bars uit van die lag.

Die burgermeester draai na hulle: “Het julle geen respek vir die hofprosedure nie? Ek beboet julle met ‘n boete van een muntstuk elk.” Die geld word aan die reisiger gegee. Die burgermeester beveel dat die klip teruggeneem word waar dit was. Mense bly praat oor die gebeurtenis. Sommige dink die burgermeester was sommer simpel gewees, maar ander erken dat hy met wysheid opgetree het. Want elke keer wanneer die dorpenaars verby die klip stap, word hulle daaraan herinner aan die laste van hul naastes (ook vreemdelinge) wat deur hulle dorpies reis en dat hulle moet help om mekaar se laste te dra…

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.