Lukas 12:13-23,31-34 – 2016

31 Julie 2016 Pinelands – Doopdiens
Prediker: Dr Tiana Bosman

 

Elke keer wanneer ons vir my skoonpa gaan kuier of wanneer my seun hoor dat Oupa na ons toe kom, blink sy ogies en sê hy: “Mmm Oupa, ke-ching ke-ching!” Want Oupa is ryk, hy het baie geld…

Twee broers se pa is oorlede en die ouer broer weier om aan die jonger een sy deel van die erflating te gee. In die Bybelse tyd in Palestina was dit wenslik dat die erfgename nie hul pa se eiendom/grond  verkoop nie maar dat hulle eerder saam daar sal woon(“Kyk hoe mooi is dit, hoe goed as broers eensgesind saam woon”- Ps 133:1). In die geval waarvan ons vandag lees lyk dit egter of die jonger broer wil afstand doen van sy deel van die grond wat hy geërf het – hy wil onafhanklik van sy ouer broer leef. Hy wil eerder die geld in die hand hê. Sulke geskille is gewoonlik deur rabbi’s besleg wat hulle op die wet beroep het (Num 27).

Jesus besluit egter om geen uitspraak te lewer nie. Hy rig eerder ‘n waarskuwing aan die skare. “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe word nie bepaal deur die oorvloed van sy besittings nie.”

Gierigheid. Greed. Die begeerte om meer te wil hê ongeag of jy dit nodig het of nie. Die probleem van hierdie begeerte is dat meer nooit genoeg is nie, daar is nie ‘n versadigingspunt nie. Hoe meer jy het hoe meer wil jy hê. Een van die oudste definisies in die Sanskrit taal omskryf gierigheid as “die siekte van ‘meer’”. Jesus waarsku egter dat die oorvloed van mens se besittings nie jou lewe bepaal nie.

En dan vertel Hy ter illustrasie ‘n gelykenis wat nie gaan oor hoeveel geld mens het nie, maar oor hoe jy is met dit wat jy het. Dus ‘n gelykenis nie oor geld nie, maar oor gierigheid.

‘n Sekere ryk man se plaas het ‘n goeie oes opgelewer. Ons sou kon sê hy was geseënd. Hy het niemand ingeloop nie. Hy het nie gesteel nie. Hy het waarskynlik nie self die landerye geploeg nie, maar dit was ‘n geval van “honest labour”. Hy val in die kategorie van mense wat graag sê: “Ek het gewerk vir wat ek het.”

Die man het homself toe afgevra: “Wat moet ek doen? Want ek het nie (genoeg) plek waar ek my oes kan opgaar nie.” Toe sê hy: “Dit is wat ek sal doen. Ek sal my skure afbreek en groter skure bou. Daarin sal ek al my graan en my goedere opgaar. Dan sal ek vir myself (op die skouer klop en) sê: ‘Mens, jy het baie goed opgegaar vir baie jare. Ontspan, eet, drink en wees vrolik.’” (μου μου μου; ek ek ek, myne myne myne )

Die grootste gedeelte van die gelykenis bestaan uit die man se innerlike gesprek met homself. Dis so egosentries (selfsugtig) soos wat kan kom! Hy het selfs ‘n gesprek met homself binne die gesprek wat hy reeds met homself het!

En dan kry ons die enigste keer in die hele evangelie waar Jesus vertel dat God self met die man praat en vir hom sê: “Jou dwaas! Vannag nog sal jou lewe opgeëis word (“terugbetaal word” – binne die denkraamwerk van die man wat sommetjies maak in sy kop, praat God sy taal en beskryf Hy die man se lewe as ‘n lening van Hom af [God] wat iewers teruggegee moet word). En wat jy bymekaargemaak het, aan wie sal dit dan behoort?”

“So gaan dit met iemand wat vir homself skatte bymekaar maak en nie in God ryk is nie.”

Dalk moet ons ‘n onderskeid tref tussen “om te bestaan” en “om werklik te lewe”. Om meer as genoeg geld in die bank en kos op die tafel te hê maak dit maklik om ‘n bestaan te voer, maar verhoog dit werklik ‘n mens se lewenskwaliteit? Dikwels bring dit eerder spanning en vergrype as vreugde. Waarom is dit dat Amerika een van die rykste lande in die wêreld is maar in die onderste 10% vir lewensvreugde? ‘n Paar jaar terug het ‘n Studie in Amerika getoon dat geld wel geluk of vreugde (happiness) bring, maar net tot op ‘n punt. Die Amerikanes wat (toe) minder as $ 50 000 per jaar verdien is minder gelukkig as die wat meer verdien. MAAR diegene wat $ 75 000 or $ 100 000 of selfs $ 200 000 ‘n jaar verdien is nie meer gelukkig as die wat $ 50 000 verdien nie. Genoeg geld (‘n voldoende hoeveelheid) bring geluk, maar meer as genoeg bring nie meer geluk nie.

Nadat Hy die gelykenis vertel het, draai Jesus na sy dissipels toe met die woorde: “Daarom sê Ek vir julle, moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle sal eet, of oor julle liggaam, wat julle sal aantrek nie. Die lewe is tog belangriker as kos en die liggaam as klere. Kyk na die kraaie… Kyk na die veldblomme… Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het dit goedgevind om die koninkryk aan julle te gee. Verkoop julle besittings en gee aalmoese. (Dws moenie opgaar wat julle nie nodig het nie. Wend eerder daai geld vir die armes aan). Maak vir julle beursies wat nie vergaan nie, ‘n onuitputlike skat in die hemel, waar ‘n dief nie kan bykom en geen mot kan verniel nie. (Die beeld van ‘n mot word gebruik omdat duur klere destyds ‘n duidelike teken van weelde was, en as jy te veel klere gehad het om te dra, het die motte dit opgevreet. Maar ‘n boer maak mos ‘n plan as jy iets onnodigs graag genoeg wil hê en ons het intussen motbolletjies ontwikkel…) Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”

‘n Maatskaplike werker wat in die Appalachia berggebied in Virgina gewerk het, het op ‘n keer met ‘n baie arm gesin te doen gekry. Alles het skeefgeloop en hulle het al hulle geld en meeste besittings verloor. Eendag het die man van die huis, Mr Sheldon, ‘n lastige beer wat nou al vir lank skade aangerig het, geskiet en die gesin het die vleis verwerk en ingelê sodat dit die hele winter kon hou. Met die volgende besoek van die maatskaplike werker het hulle vir hom van die vleis as geskenk gegee. Die werker het teëgestribbel, maar Mr Sheldon het aangedring daarop dat hy dit vat:

“We want you to have it. We don’t have much, but we ain’t poor!”

“What’s the difference?” vra die maatskaplike werker.

“When you can give something away, even when you don’t have much, then you ain’t poor. When you don’t feel easy giving something away even if you’ve got more’n you need, then you’re poor, whether you know it or not.”

Vanuit sy kinders en sy kleinkinders se perspektief het my skoonpa baie geld. Nie een van ons kon dit al so goed opsom soos die 8-jarige Herman nie: “Ke-ching ke-ching!”  Hy is ‘n ryk man. Maar hy is nie ‘n ryk dwaas nie. Want ten diepste is dit nie sy geld wat hom ryk maak en definieer nie; dis eerder sy oop hand. Hoe anders sal ‘n kind van ag (en ook al veel jonger as dit) weet dat sy oupa, wat geen erg het aan besittings nie, baie geld het? Omdat hy, soos in Johannes Kerkorrel se bekende lied “Hillbrow” nooit sy kop wegdraai vanaf nood nie, maar behoeftige mense met hul leë hande met liefde in die oë kyk, sy beursie oopmaak en “gee, gee, gee” – nie sente en drome en klere vol gate nie, maar note en sekuriteit en goeie klere, soms selfs met prysetikette aan.

Doopouers, leer deur die voorbeeld wat julle stel. Julle is ook ryk. En ek verwys nie na julle bankrekening nie. Julle is ryk aan mekaar. Meer nog as dit het julle ‘n seuntjie ryker geword (Powerpoint foto – Kyk net hoe ryk is julle!). En nog meer as dit – julle is ryk ín Gód. 30/35 jaar terug het julle ouers sy beloftewoord oor julle uitgespreek gehoor met die water op julle voorkoppe. Vanoggend het julle dit hardop oor julle eie seuntjie gehoor – die liefdesverklaring van God: “Jan Sebastian Kruger, ek doop jou in die naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees. Jy is myne, sê God. Gaan lewe sonder bekommernisse en vrees oor die dag van môre. Ék sorg vir jou.” You’ve got it all! As Jan oor ‘n paar jaar vir julle begin uitvra oor julle bankrekening en julle besittings, dink dan terug aan Jesus se gelykenis in Lukas 12 en rig julle antwoord daarvolgens. Vertel hom dat julle so ryk is dat julle nie weet hoe julle dit het nie. En wys deur julle lewens vir hom dat dit nie julle toe hande is wat julle al ryker en ryker maak nie, maar dat julle juis so ryk is omdat julle oop hande het wat nie bang is om vanuit julle oorvloed te gee nie.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.