Lukas 14:1, 7-14 – 2016

28 Augustus 2016 Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman

(Na die vredesgroet moet almal op ander plekke gaan sit.)

Voor 1857 was daar slegs een gereformeerde kerk in Suid-Afrika waar almal welkom was – die wit mense (natuurlik!), maar ook die bruin mense en die swart mense en die Indiërs. Sedert 1829 was daar egter by die Sinodesittings ‘n voorstel op die tafel dat die nagmaal apart gevier moet word (en daar dus ook verskillende dienste vir verskillende groeperinge van mense moet wees). Die rede wat aangevoer is vir die voorstel: “Ter wille van die swakheid van sommige,” hierdie swakheid wat verwys na ‘n aantal wit dominees en ouderlinge wat nie kans gesien het vir gesamentlike dienste nie.

Interessant genoeg was dit in die beginjare ‘n staatsamptenaar, die “Kommisaris Politiek” wat die voorstel met sy vetoreg buite orde gereël het. Maar die saak het bly terugkeer en is in 1857 aanvaar. Die NG Sendingkerk kom tot stand vir die bruin mense, en die NGKA vir die swart mense en die Reformed Church in Africa vir Indiërs. Die tafelmaniere van die kerk strek veel wyer en infiltreer die huise van mense, die verhoudinge tussen boere en hul plaaswerkers, tussen witboordjie-wit-base en die fabriekwerkers, om nie eens te praat van die groepsgebiede-wet en die verbod op gemengde huwelike nie. Wat rondom ‘n tafel gebeur het die mag om die wêreld te verander.

In Lukas 14 vertel die dokter vir ons van ‘n maaltyd wat Jesus bygewoon het. Die dokter is Lukas en dis nie die eerste keer waar hy vertel van Jesus se saameet met mense nie. Vroeër lees ons dat Jesus saam met sondaars en tollenaars geëet het en dat Hy daarvan beskuldig is dat Hy ‘n vraat en ‘n wynsuiper was. Die ander evangeliste vertel ook van die geleenthede. Lukas is egter die enigste een wat ‘n paar maal melding maak van Jesus wat saam met die Fariseërs, die kerkleiers, eet. Maar elke keer wanneer dit gebeur was daar konflik gewees en het almal teenwoordig maar swaar aan hulle kos gesluk. In hfst 7 gaan dit om die sondige vrou wat Jesus se voete salf. In hfst 11 het Jesus die fout gemaak om nie voor ete sy hande te was nie. En aan die begin van hfst 14 genees Hy ‘n man wat aan watersug gely het en wat maar tot môre ook sou kon wag vir sy wondergenesing.

Wanneer Jesus genooi is om saam met die Fariseërs te eet, was daar altyd konflik. 14:1: …het hulle Hom fyn dopgehou… Dit klink soos ‘n lokval. Reg voor hom was daar ‘n man wat aan watersug gely het – Waarom was hy by die ete van die Fariseërs? Moontlik (waarskynlik?) doelbewus daar geplaas om vir Jesus voor die versoeking te stel om hom te genees en Hom so vas te trek.

Maar die Fariseërs is nie die enigste mense wat fyn kan dophou nie. Jesus het ook die situasie goed uitgekyk en niks het by Hom verbygegaan nie…

Lees 14: 7-17

Vs 7-11: Jesus leer die gaste:

Die Jode het hulle eie etiketboek vol reëls vir daaglikse maaltye gehad (soortgelyk aan Emsie Schoeman se boeke vandag?) Daar was onder andere baie streng reëls vir mense se sitplekke – wie sit waar (dis my stoel daai, nee dis myne, nee myne, ek wil langs Pappa sit!) of wie lê aan by watter kant van die tafel. Daar was ‘n plek vir die belangrikste persoon, vir die minste belangrike persoon en vir almal tussenin. Plekke was so belangrik dat die mense van die Dooie See jaarliks hul sitplekke hersien het (Vir die vlg jaar sal jou plek daar wees…)

Vandag glimlag ons en praat ons gemoedelik oor mense wat almal hul eie sitplek in die kerk het. ‘n Paar dekades gelede was daar familietwiste as een gesin per ongeluk by ‘n ander gesin se bank ingeskuif het. Nog ‘n eeu of wat voor dit het kerke afgestig, eintlik maar om dieselfde rede (sien inleiding). In die antieke wêreld was mense nie minder besorgd oor hulle spesifieke plekke nie, dalk eerder meer. Die gemeenskap was sterk hierargies. Daar was ‘n leer en elkeen het sy eie sparretjie gehad. Vir baie was dit om oorlewingstryd om elke jaar hoër en hoër te kon uitstyg. Maar jou posisie het nie net afgehang van persoonlike prestasies nie. Dit was aan jou toegeken deur die groep. Jou waarde het afgehang van wat ander mense van jou dink. Die slegste ding wat jou kon oorkom, wat skande sou bring oor jou, was om afgeskuif te word na ‘n laër posisie. “ Losing face was almost like losing one’s life.”

Etiket het dus nie net gegaan oor goeie maniere nie – dit het gegaan oor eer en skande en sosiale posisie en aansien. Jesus was nie die Emsie Schoeman van sy dag nie.

Ons sou seker die vraag kon vra of Jesus nie hier aan die elite ‘n beter strategie voorstel wat die gewensde uitkoms sal verseker nie – dws moenie by die beste plek gaan sit nie want wat as daar iemand belangriker opdaag as jy en die gasheer vra dat jy moet opstaan en sywaarts of agtertoe skuif – ondenkbaar, die skande! Nee, wees eerder slim en gaan sit op die slegste plek sodat die gasheer jou daar kan opmerk en jou voor almal teenwoordig kan nader wink en ‘n ereposisie gee. So het jy ‘n nog beter kans op aansien. (Wink-wink) Nee. Wanneer Jesus hier die mense leer, is Hy besig om die algemene tendens op sy kop te keer. As hulle maar net na Hom sal luister, sal dit die begin wees van ‘n sosiale rewolusie. Midde ‘n wêreld wat gedefinieer word deur rangordes, verkondig Jesus dat daar in die koninkryk van God geen rangordes is nie. Om te sê dat die eerstes laaste gaan wees en die laastes eerste is eintlik maar ‘n ander manier om te sê almal gaan gelyk wees. Dis jou teenwoordigheid wat saak maak en nie die sitplek wat jy inneem nie. En indien jy van hierdie les van Jesus ‘n strategie gaan maak en op ‘n “mindere”  plek gaan sit sodat jy na ‘n “meerdere” plek geskuif kan word, dan sit jy die pot heeltemal mis.

Vs 12-14: Jesus leer die gasheer:

Nadat Jesus met die belangrike gaste gepraat het (daar was net belangrike gaste – dit was immers aan huis van ‘n Fariseërs en Jesus het goed geweet om die man wat aan watersug gely het te laat gaan na sy genesing – hy het uitgestaan soos ‘n seer vinger en nie daar gehoort nie) – wend Hy Hom tot die gasheer en gee vir hom ook ‘n baie ongemaklike les wat radikaal ingaan teen die sosiale gebruike van die dag.

Ons moet onthou maaltye was plekke waar belangrike mense bymekaargekom het, mense soos leermeesters en filosowe, om hulle wyshede met mekaar te deel. Elke gas was dus geweeg en baie noukeurig uitgekies. ‘n Groot deel van ‘n intertestamentêre brief van Aristeas word opgeneem deur ‘n vraag en antwoord sessie by ‘n feesmaaltyd. Een van die vrae en antwoorde lui as volg:

The king was well pleased with what had just been said, and addressed the ninth guest, “How ought one to conduct himself at banquets?”

The reply was, “By inviting men of learning, with the ability to remind him of matters advantageous to the kingdom and to the lives of the subjects. Better harmony or music than these you would never find, because these men are beloved of God, having trained their minds for the noblest ends. This is your practice also, all your plans being directed aright by God.” [translation by R.J. H. Shutt in The Old Testament Pseudepigrapha, vol. 2]

Ons kan duidelik sien dat Jesus die gastelys verander en dat Hy ander mense in die oog het wanneer Hy dink aan die geliefdes van God. Lees vss 12-14.

‘n Mens se posisie in die samelewing hang nie net af van wie jou nooi na hulle tafel toe en waar jy aanlê by daardie tafel nie. As jy die gasheer is van die ete hang jou eie sosiale posisie ook af van jou gastelys. Jy nooi ryk en belangrike mense want hulle poets jou eie beeld. Nogmaals ‘n geval van die een hand was die ander. Ja, dit was baie eervol om aalmoese aan die armes te gee en sop vir hul sopkombuise te skenk – dis wat ryk mense met geld doen; maar dis heeltemal ‘n ander storie om, in stede van jou familie en vriende, eerder hierdie armes na jou huis te nooi en saam met hulle te eet. Deur dit te doen het jy jouself skuldig gemaak aan die ontering van jou familie en jou vriende en jou bure. Jy ontneem hulle die eer om hulle te nooi en jy gee daardie eer aan arm mense. Meer nog – wanneer jy dit doen beteken dit dat jy met die armes identifiseer en in die oë van die elite verloor jy dus jou eie eer en posisie in die samelewing. Jy verneder jouself. Mens vat nie hande met ander mense se vuil of siek hande aan tafel nie, want dan word jy soos hulle.

Jesus sê jy sal juis geseënd wees as jy die armes, kreupeles, verlamdes en blindes na jou tafel toe nooi, omdat hulle niks het om jou mee te vergoed nie; want jy sal beloon word by die opstanding van die regverdiges. Weereens moet hierdie laaste versie nie die motivering vir ons gastelys wees nie. Soos wat ons nie die minste moet wees sodat ons die meeste kan word nie, moet ons nie aan mense wat ons nie kan vergoed nie, goed doen sodat ons eendag deur God beloon kan word nie. Martin Luther sou sê ons moenie aan mense goed doen sodat ons geprys kan word of warm kan voel in ons binneste of die hemel kan beërwe nie. Nee, sê hy, “ons moet goeie werke doen omdat ons naaste dit nodig het.” Finish en klaar. En as dit beteken dat ons ‘n paar sparre van die leer af val, so be it.

Ek sluit af. Die man wat aan watersug gely het was deur die Fariseërs daar geplaas as lokval vir Jesus. Iemand wat aan watersug ly swel vreeslik op van al die water in sy liggaam – maar hoe meer water jy drink hoe meer wil jy hê, jy is nooit versadig nie. Nadat Jesus Hom genees, hou hy die gaste by die “dinner party”  fyn dop en sien Hy dat hulle ook aan watersug ly. Hulle watersug is net nie fisies nie, maar psigies. Hulle het ‘n onversadigbare dors na eer en aansien, na eie belang. Hulle veg hul weg oop na die beste plekke aan tafel en die gasheer nooi net die who’s who van die samelewing. Alles om raakgesien te word, alles om eie belang, alles om teruggenooi te word na die ander se huis sodat jou kring van elite kennisse en vriende kan vergroot.

Martin Luther King jnr se bekende I have a dream toespraak in 1963: “Let us not wallow in the valley of despair, I say to you today, my friends. I have a dream that one day on the red hills of Georgia, the sons of former slaves and the sons of former slave owners will be able to sit down together at the table of brotherhood.”

Jesus se I have a dream toespraak is saamgevat in Lukas 14 en kan vandag soos volg vertaal word: “Laat ons nie moed opgee nie, lidmate van Pinelands. Ek het ‘n droom dat vlg Sondag 4 Sept 2016 in die Gemeenskapskerk van Maitland, die kinders van voormalige slawe en die kinders van voormalige slawe-eienaars langs mekaar in die kerkbanke sal sit en na afloop van die diens saam met mekaar sal aansit vir ‘n middagete rondom die tafel van Christelike gemeenskap.

Ons hét die potensiaal om hierdie droom van die Here te verwesenlik… Nie net een keer ‘n jaar nie, maar iewers moet ons begin.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Jesaja 5:1-7 – 2016

14 Augustus 2016 Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman

Jesaja: 3 boeke: 1-39 = Protojesaja (voor ballingskap vd Noordryk Israeliete deur die Assiriërs 722 vC en die Suidryk Judeërs deur die Babiloniërs 586 vC); 40-55 = Deutrojesaja (tydens ballingskap) en 56-66 = Tritojesaja (na terugkeer vanuit ballingskap).

Dus: Vandag se teks speel af voor die ballingskap, in die tyd toe die profete die volk gewaarsku het oor wat gaan gebeur as hulle nie van hulle wandade/misdade afsien nie. Midde die waarskuwings hierdie aangrypende maar eienaardige liefdeslied oor ‘n geliefde en sy wingerd. Die woord dôd wat in vs 1 vir “geliefde” gebruik word is dieselfde woord wat die minnares in Hooglied gebruik wanneer sy van haar geliefde (beloved) praat. Dit blyk dus duidelik ‘n intieme verhouding te wees waaroor dit hier gaan.

Jesaja5Pic
Kliek op prentjie om Jesaja 5:1-7 te lees (sal nuwe oortjie oopmaak)

Die Here het ‘n besondere band gehad met sy volk, die mense van Israel en Juda. Sy verhouding met hulle was so intiem dat die woord “Geliefde” aan die Here toegeskryf word. Die Here is hier ‘n wingerdboer en sy volk is die wingerd. Ons lees hoeveel sorg Hy in die plantasie ingesit het. Die plek wat Hy vir sy wingerd gekies het was ‘n baie vrugbare heuwel. Daar het Hy die grond omgespit, die klippe verwyder, die wingerd geplant, ‘n heining en ‘n uitkyktoring opgerig om die veiligheid van die wingerd te verseker, en ‘n parskuip uitgekap. Hy het alles en nog meer gedoen om te verseker dat sy wingerd ‘n goeie oes sal lewer. Dit is die plantasie wat vir Hom plesier sou gee, waarin Hy sy vreugde sou vind. Daarom het Hy met groot afwagting gehoop vir die beste. Daar was geen rede om enigiets anders te verwag nie.

Maar toe oestyd aanbreek was dit ‘n misoes gewees; in plaas van goeie druiwe was daar wilde, suur druiwe aan die takke. En die Here onderneem om met die plantasie te doen wat mens gewoonlik met ‘n mislukte wingerdoes gedoen het. Hy gaan die heining verwyder en die grond sal ‘n plek word waar diere kan wei, verlate en oorgeneem deur dorings en doringstruike, droogte sal die laaste bietjie lewe uit die plantasie uit tap. Inderdaad ‘n plek van verwoesting.

Waarom gaan dit alles gebeur? Wat presies is die suur druiwe wat Israel en Juda dra? Ter verheldering kry ons in vers 7 een van die mees bekende woorspelings in Bybelse poësie:

Jesaja5Vers7Hebreeus

Op geen manier kan ‘n vertaling aan hierdie woordspeling reg laat geskied nie. Die Here het gewag vir mishpat (geregtigheid), maar KYK! – mispag (bloedvergieting); tsedaqah (regverdigheid), maar KYK! – tse-aqah (noodkrete).

Die volk se goeie druiwe sou geken word aan hulle dade van geregtigheid en regverdigheid. Maar nou word hulle suur druiwe geken, nie net aan die afwesigheid van geregtigheid en regverdigheid nie, maar ook aan die teenwoordigheid van bloedvergieting en mense se noodkrete.

3 Kernwoorde in hierdie gedeelte:

Die Here het gehoop/gewag: Dit kom in al drie afdelings voor.

  • Die wingerdboer (>Here) het die plantasie versorg en gehoop vir goeie druiwe.
  • Die Here self in emosionele taal: “Wat meer moes Ek nog doen? Waarom het ek gehoop vir goeie druiwe?!”
  • Die Here het gehoop vir geregtigheid en regverdigheid.

‘n Teken van die Here se geduld met die volk.

Geregtigheid en regverdigheid:

Die twee woorde lê in BH baie naby aan mekaar in betekenis. Mishpat geregtigheid het ‘n baie breër betekenis as die Afrikaanse “ reg en geregtigheid”, “om reg te laat geskied”. Vir ons is dit gewoonlik ‘n negatiewe term wat verwys na die straf van oortredinge. Om reg te laat geskied is daar ‘n oortreding, ‘n hofuitspraak en dan ‘n straf (bv tronkstraf in SA). In die wêreld van oud-Israel het dit egter ook ‘n positiewe betekenis gehad. Dit het verwys na ‘n persoon se wetlike en sosiale regte (Eks 23:6: ‘n arm persoon mag nie in ‘n beslissing veronreg word nie). tsedaqah regverdigheid het baie dieselfde betekenis, maar verwys ook dikwels daarna om jou verpligtinge teenoor andere na te kom (Engels: to do right by somebody).

Jesaja 1-39 is egter vol van verwysings na die teenoorgestelde: die weerloses wat uitgebuit word, in besonder die weduwees, wese en armes (1:17, 23; 10:2). Jesaja veroordeel die korrupte juridiese sisteem (1:23; 10:1) en die ongekontroleerde toename in rykdom en eiendom deur die uitverkose elite (3:14, 5:8) ten koste van die armes en die veronregtes. [Sien ook Amos 2:6-8; 5:11–12; Miga 2:1-2 en die Torah (Eks 22:21-27; Lev 19:9–10, 15; Deut 24:10–17.]

Die probleem was dus nie dat daar geen geregtigheid was nie, maar dat daar slegs geregtigheid was vir die rykes. En meeste van die winste van die rykes is op die verkeerde manier verkry, deur die bloedvergieting van die armes. Hulle het dalk vroom voorgekom en gereeld na die Tempel gegaan, die Sabbat onderhou en gebid. Maar hulle ore was doof vir die geroep van die onderdruktes. Hulle het die instelling van die Jubeljaar geïgnoreer, boere het nie meer die are wat op die grond geval het vir die armes gelos om op te tel nie (Rut), maar het self alles (laat) vergader. Skuldeisers het nie iewers hul skuldenaars se skuld afgeskryf soos die wet gevra het nie. Mense wat hul grond verloor het, het nie meer ‘n geleentheid gekry om dit terug te koop vir die familie nie. ‘n Permanente laë klas mense het ontwikkel en dit was vir hulle onmoontlik om daar uit te kom; die regsisteem wat daarvoor ruimte moes maak is nie geag nie. Een van die grootste misdade waaraan die volk skuldig was, was die vertrapping van die weduwees, wese en vreemdelinge in hulle midde, almal mense wat so maklik uitgebuit kon word. [Praktiese vb vir ons dag: Mense wat vreemdelinge (Zims/Malawiërs) aanstel om in hul huis en tuine en in hul fabrieke en op hul plase te werk want hulle kan hul minder betaal/oortyd laat werk/vakansiedae uitbuit…]

Geregtigheid in die OT gaan veel meer oor die versorging van die hulpbehoewendes as oor die pleeg van sonde soos moord.

(Terloops: Opvallend dat God in die profetiese boeke nie net as ‘n wingerdboer uitgebeeld word nie, maar ook as ‘n silwersmit en ‘n byeboer en ‘n pottebakker. Hierdie blouboordjie metafore sê tog dalk iets van God se solidariteit met werkers, hande-arbeiders.)

Dit wat Protojesaja in hfst 5 voorspel het, het toe gebeur. Die volk het alles verloor, hulle land is verwoes en gelos as weiveld vir die wilde diere, en die elite van die volk is weggevoer in ballingskap. Hulle het dit verstaan as die straf van God soos voorspel in oa die lied van die wingerd wat suur druiwe dra. Maar die land is toe nie vir ewig braak gelaat nie. Die ballingskap het geëindig en mense het weer begin om ‘n lewe te bou en ‘n bestaan in Israel te voer. Baie jare later is Jesus in Nasaret gebore, was Hy deel van die volk na die ballingskap. En vertroud met die boekrol van Jesaja en die lied oor die volk Israel wat veronderstel was om die ware wingerdstok te wees, maar toe nie goeie druiwe opgelewer het nie, leer Jesus dan die mense:

“Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. 2Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. 3Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. 4Julle moet in My bly en Ek in julle. ’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie (Joh 15: 1-4b). En dan vers 16: “Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou.”

Teenoor die mispag (bloedvergieting) van die ongehoorsames stel Ek julle aan om mishpat (geregtigheid) te laat geskied, en laat julle tsedaqah (regverdigheid) ‘n helende salf wees wat die tse-aqah (noodkrete) van die noodlydendes nie verdoof nie, maar verlig.

Nagmaal. (Jesus self wat aan met sy kruisiging die dieptepunt van mispag beleef (of eerder daaraan sterf) en ‘n tse-aqah uiter – “My God, my God… Die aand voordat Hy gesterf het aan die onreg van die mensdom het Hy die nagmaal ingestel en sy liggaam en sy bloed aan sy volgelinge uitgedeel as versterking vir die pad vorentoe, sodat hulle geregtigheid en regverdigheid sal laat geskied.)

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.