Johannes 8: 1-11 (7:53 – 8:11) – 2016

11 September 2016 Pinelands – Doopdiens
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Die owerspelige vrou, Die vrou wat op owerspel betrap is, The adulterous woman, A woman caught in adultery… Plaas was daar liewer nie opskrifte in die Bybel nie. Aanvanklik was daar nie. Dit is die vertalers wat vir ons die opskrifte ingevoeg het; ja, om ons te help, maar soms help hulle ons van die wal af in die sloot. Die mag van interpretasie wat aan ons ‘n opskrif voorsien wat van meet af aan die onwettige sekskepade van die vrou in die fokus plaas. Dit sal ons goed doen om krities te vra waarom word die teks hiertoe vereng? – Dis tog nie ‘n neutrale besluit nie, maar ‘n keuse wat die gebeurtenis ten diepste hervorm.

Voeg hierby toe dat die verhaal nie oorspronklik deel was van die evangelie van Johannes nie, ten spyte daarvan dat dit duidelike merkers het dat dit ‘n gesaghebbende gebeurtenis vanuit die lewe van Jesus beskryf. Waarom het dit aanvanklik nie ‘n Bybelse adres gehad nie, waarom het dit buite die kanon om op sy eie rondgedryf? Heel waarskynlik omdat dit onderdruk was! Patriargale vooroordele (die dominansie/oorheersing van mans) het hiertoe bygedra. Binne die verhaal self marginaliseer die skrifkenners en die Fariseërs die vrou. Die vroeë kerklike gemeenskap het nie net die vrou gemarginaliseer nie, maar ook die storie waarin sy verskyn. Die gemak waarmee Jesus genade aan ‘n owerspelige vrou betoon het, was ‘n verleentheid vir die vroeë kerklike gemeenskappe en dit het hulle eie meer strawwe boetedoeningspraktyke ondermyn.

Teks lees:

Vs 2: in sy hoedanigheid as Rabbi/Leermeester

Vs 3: In die middel van die vergadering. Dink jou in die vernedering. Die vrou word fisies omring deur die mans wat haar betrap het en wat haar veroordeel. Sy is ‘n voorwerp wat vertoon word, sonder naam, sonder stem, geen identiteit nie behalwe as “die owerspelige vrou”.

Vs 5: Wag ‘n bietjie, menere? Julle haal net ‘n halwe wet aan. Die wet van Moses: “Iemand wat egbreuk pleeg met die vrou van  ‘n medeburger, moet doodgemaak word. Dit geld vir die man en ook vir die vrou wat egbreuk pleeg.” (Lev 20:10; ook Deut 22:22)

Waar is die man dan? Mens kan immers nie ‘n vrou op heterdaad met egbreuk betrap sonder dat die man ook by is nie. Waarom het die godsdienstige leiers nie die man saamgesleep nie?

Vs 6: So eintlik gaan dit nie eens oor die vrou nie, maar oor Jesus, en oor die Fariseërs se verskuilde motiewe. Sy is net ‘n anonieme voorwerp wat hulle nodig het – die middel tot ‘n doel. (Wie weet – dalk het hulle ‘n man omgekoop of was een van hulle die man wat by haar geslaap het – sodat hulle vir Jesus kon vastrek!).

Maar Jesus het afgebuk…

Bybeluitleggers deur die eeue worstel byna almal met wat Jesus op die grond geskryf het. Sommige raai dit was die 10 Gebooie. Ander sê weer Hy het die omstanders se eie geheime sondes neergeskryf. Daar is selfs eksegete wat meen dat Jesus ‘n gedeelte uit Daniël aanhaal. Hierdie raaiskote is futiel. As die inhoud van wat Jesus neergeskryf het belangrik was, sou die verteller van die verhaal dit vir ons weergegee het. Ons sien hier baie duidelik hoedat aksies harder spreek as woorde. Deur te kniel en met sy vinger op die grond te skryf (teken?), weier Jesus om saam met die aanklaers te staan. Op ‘n sigbare manier maak Hy Homself los van hulle en weier Hy om te antwoord. Die omstanders loer nie oor sy skouer om sy antwoord te vind in sy skrif op die grond nie (soos dit meestal in die kunste weergegee word). Na hulle mening is sy geskribbel op die grond juis tekenend daarvan dat Hy hulle NIE antwoord NIE. Daarom vra hulle Hom weer… Vs 7…

Vs 7: Jesus se antwoord is nie wat die skrifkenners en Fariseërs in gedagte gehad het nie. Hulle wou nie persoonlik by die saak betrek word nie. Hulle wou dit (haar) bloot in die middel neersit, van alle kante af bekyk, en objektief ‘n antwoord kry en die oordeel voltrek. Maar in sy reaksie draai Jesus die situasie heeltemal om, en laat Hy dit nie gaan oor die vrou nie, maar oor die aanklaers! Hy konfronteer elkeen met homself: “Laat die een wat sonder sonde is, eerste ‘n klip na haar gooi.”

Sien julle hoedat, vanuit Jesus se perspektief, hierdie verhaal nie gaan oor die owerspelige vrou (soos in ons opskrif) nie, maar oor die ongenaakbare en onregverdige godsdienstige leiers!

Let op hoe Jesus regop kom en Homself deel maak van die gesprek, maar nadat Hy gepraat het maak Hy Homself dadelik weer los van die aanklaers deur vir ‘n tweede keer af te buk en verder te skryf op die grond (vs 8). Hy is nie een van hulle nie, Hy sál nie saam met hulle rondom die vrou staan en haar veroordeel nie. Hy buk en kyk eerder af en hou Homself besig met sy vinger in die grond.

Vs 9a: Die oudstes was die wystes gewees, diegene wat by die stadspoort die geskille onder die volk opgelos het, die na wie die jongeres geluister het. Toe die oudstes nie meer hul man kon staan teen Jesus se uitdaging nie en een vir een hul rug op die situasie keer en wegstap, toe drentel die jonges agterna. 9b: “Net Jesus het oorgebly en die vrou daar in die middel.”

Die fisiese prentjie sê alreeds vir ons iets van die uiteinde van die verhaal: Die vrou was omring en bedreig deur die stemme van mag en veroordeling, maar nou is sy vry; nou is daar eintlik nie meer ‘n middel nie, want daar is nie meer ‘n sirkel van veroordelaars nie.

Vs 10: Hier aan die einde word die naamlose vrou vir die eerste keer aangespreek, kry sy vir die eerste keer ‘n stem. “Vrou”. ‘n Titel wat spreek van respek. Vandag: “Mevrou”.

Vs 11: … Gaan, soos die res van die omstanders is jy ook vry om te gaan… (Vryspraak).

“Gaan en moet van nou af nie meer sondig nie.” Selfs wanneer Jesus haar aanmoedig om haar lewe te verander, verwyt Hy haar nie oor die egbreuk nie. Sy is na Hom gebring as egbreukster. Hy veroordeel haar nie, maar stuur haar die toekoms in  – nie met die woorde “moet van nou af nie meer egbreuk pleeg nie,” maar met ‘n sambreelterm vir allerhande verkeerde dade: “moet van nou af nie meer sondig nie”. Dit is in Grieks dieselfde woord wat Jesus gebruik wanneer Hy in vs 7 na die leiers se sondes verwys. Die een se sonde staan nie uit bo die ander nie – almal het gesondig.

Dit is dalk die kernboodskap van hierdie teks: die gelykmakende genade van God. Almal het gesondig. Die vrou is nie die enigste sondaar in hierdie prentjie nie. Jesus hanteer die vrou en die skrifkenners en die Fariseërs as gelykes, en op hierdie manier ag en herstel Hy haar menswaardigheid. Sy was een teen baie. En soos hulle sê “strength comes in numbers”. Die speelveld was nie gelyk nie. Vanaf vs 3-7 lees ons van die godsdiensleiers as “hulle” dit en “hulle” dat, die kohesie van die groep, die jurie van die hof. Maar wanneer Jesus ‘n spieël voor hulle ophou (“Laat die een wat sonder sonde is, eerste ‘n klip na haar gooi.”), dan staan elkeen op sy eie, word elkeen met homself gekonfronteer. Ja, strength comes in numbers, maar nou loop die nommers een vir een, elkeen op sy eie, weg. Want met die nuwe spelreëls wat deur Jesus gelê is, kan niemand ‘n klip gooi nie.

Of ja tog: Jesus mag. Die enigste een wat by die vrou oorbly is die een wat wel geen sonde het nie en daarom ‘n reg het om die eerste klip op te tel en te gooi! Maar selfs al mag Hy, gaan Hy nie. Die wat nie mag nie (ander sondaars) wil so graag klippe gooi. Die een wat mag (Jesus) het geen intensie om dit te doen nie…

Eers wanneer ons bereid is om in die spieël te kyk en onsself as sondaar erken, eers dan is ons gereed om van ons veroordelende harte genees te word, eers dan sal ons dit regkry om in liefde en medelye na ander mense uit te reik. Ons almal deel ‘n gemeenskaplike struggle met sonde, al lyk ons sondes nie dieselfde nie. Ons almal is ewe afhanklik van God se genade.

Dit lyk vir my die NGK staan op skeur agv die gay-debat. Omdat groepe gelowiges hulself die reg toeëien om te besluit wat tel as sonde en wat tel nie. En, ten spyte van wetenskaplike en biologiese bewyse dat mense se seksuele identiteit juis dít is – hulle ingebore en godgegewe identiteit en daarom nie sonde nie! – dink gelowiges wat niks weet van die biologie en fisiologie van mense nie, dat hulle wel van beter weet. En tel hulle hulle klippe op en slinger dit na diegene wat anders is as hulle. Plaas dat hulle na Jesus toe gaan en sien hoe Hy gebroke vooroor buig en liewer in die grond krap as om saam met hulle oordele te fel. Plaas dat hulle die moed aan die dag lê om indringend in die spieël van hulle eie lewens te gaan kyk.

Kerk- of godsdiensgroep-skeuring is nie ‘n nuwe ding nie. Dit lyk vir my in Jesus se tyd het die “kerk” nie beter daaraan toe gelyk as die NGK vandag nie. Elke keer na ‘n onderonsie met Jesus het die kerkleiers hul rug op Hom gedraai en weggeloop, terwyl diegene wat oorgebly het die sogenaamde sondaars was – die tollenaars en die owerspelige vrou, die siekes – wat natuurlik siek was as straf op hulle sonde, die randfigure wat uit die samelewing uitgedryf is omdat hulle niks beter as dit verdien het nie, die vroue, die kindertjies wat deur die dissipels wegge-shoo is omdat Jesus besig was om die grootmense te leer… Elke keer wanneer die skrifkenners en die Fariseërs vir Jesus voor ‘n keuse gestel het, het Hy teen hierdie belangrike leiers gekies en vír die minstes in die samelewing.

Waldimar Pelser het vanoggend ‘n uitstekende artikel in die koerant geskryf: “Skeuring in NGK sal ‘n ramp wees”: “Kerkskeuring kan ’n maatskaplike ondersteuningsnetwerk aan flarde ruk wat baie mense in dié stukkende land tans met ’n mate van waardigheid deur die dag help kom.

En tog, soos wat berigte die laaste maande in veral Rapport maar ook ander media wys, sukkel lidmate, gemeentes en sinodes om ter wille van die voortbestaan van die geheel verskille opsy te skuif en ’n besluit te bekragtig wat mik om die kring van die kerk groter eerder as kleiner te trek.

Om nou om te draai en die lys vereistes weer te gaan rek waaraan jy moet voldoen voor jy in die kerk welkom mag voel, kan nie anders nie as om meer en meer mense te vervreem van ’n kerk wat in soveel opsigte ’n positiewe rol in die samelewing speel.

Dit sal ’n keuse wees vir ’n kleiner kerk met ’n kleiner voetspoor, en nie net gay lidmate sal daaronder ly nie; die kerk sal die geleentheid deur sy vingers laat glip om moreel vóór te loop en vir die breër samelewing ’n ding of twee oor liefde te leer.”

Indien die kerk tot skeur kom omdat leiers en lidmate se oordeelsdrang bo hul liefdesroeping seëvier, het ek geen twyfel waar ons vir Jesus sal vind nie. Daar waar Hy nog altyd was – by die minstes, die verstotenes, die onwelkomes. Stephan en Annemarie – ek weet nie of die NG kerk soos hy nou is nog gaan staan wanneer Klara dalk eendag belydenis van geloof wil aflê of wil trou of jul kleinkinders tot doop wil bring nie. Maar hoe die kerk waarin sy grootword ookal gaan lyk, mag dit ‘n gemeenskap van gelowiges wees waarin sy altyd welkom sal voel en waarin sy altyd sal veg om ander welkom te laat voel. God het haar vanoggend voor baie getuies in hierdie familie ingelyf. Moenie toelaat dat mense haar ooit probeer uitstoot nie!

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.