Lukas 18:9-14 – 2016

30 Oktober 2016 Pinelands – Hervormingsondag en doop
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Ons vier vandag Hervormingsondag. Die hart van die Hervorming was die belydenis van die regverdiging van die goddelose. In Oktober 1517 het Martin Luther dié oortuiging in 95 stellinge geformuleer en teen die kerkdeur in Wittenberg gaan vasspyker. Dit was gerig teen die Katolieke se fokus op die aflaat-stelsel, of boetedoening (dat mens jou sonde kan wegkoop wanneer jy by die priester gaan bieg, jou geldjie betaal en op hierdie manier jou verlossing self kan verdien). Niemand kan deur goeie werke of genoeg boetegeld die verlossing verdíén nie, het Luther se stellinge verkondig. Ons verlossing lê nie binne onsself nie, maar binne die karakter van God soos aan ons geopenbaar aan die kruis van Christus.

Die gelykenis wat na my mening die duidelikste hieroor praat, is die een van die Fariseër en die tollenaar. Voordat ons dit lees eers ‘n stuk karakter ontleding sodat ons vooraf presies weet met watter tipe mense ons hier te doen kry:

Die Fariseër:

– Ons default prentjie van ‘n Fariseër is gewoonlik negatief, ons dink altyd aan hulle as slegte mense en daarom die vyande van Jesus. Maar ons is verkeerd en laat ons ‘n slag ons eie vooroordele opsyskuif en die man sien vir wie hy is…

– behoort tot een van die strengste godsdienstige bewegings onder die Jode

– Hulle het nie net die wette gehoorsaam nie, maar selfs oortref.

– Goeie mens, opofferings gemaak vir sy geloof

– nie een keer ‘n jaar op die groot Versoeningsdag gevas soos die gebruik was nie, maar 2 maal ‘n week – op Maandae én Donderdae!

– die Fariseërs het gewoonlik die steun van die nasie (the common people) gehad het, omdat hulle nie besonder ryk was soos die meer elite groep Saduseërs nie. Hulle was bv bereid om baie van hulle inkomste (meer as wat voorgeskryf was) weg te gee vir die werk van die Here.

– Hy het homself ingedoen om die lewe vir arm mense meer draaglik te maak.

– all-in-all ‘n goeie mens

Die tollenaar:

– ‘n insamelaar van die Romeinse belastinggelde en deur sy eie mense, die Jode, as ‘n volksverraaier beskou.

– dikwels skuldig aan korrupsie – hulle het meer belasting ingesamel as wat nodig was en so het hulle hul eie volksgenote se geld gesteel en hulleself verryk terwyl soveel ander mense arm was. (SA …)

– ‘n skelm, ‘n kroek, ‘n sondaar

– ‘n slegte mens

Soos wie is jy/ons die meeste, as jy nou moet kies. Dalk, as ons regtig moet eerlik wees, die Fariseër? Ons is nie so goed soos hy nie, maar meeste van die mense wat vandag hier sit neig darem beslis meer na daai kant toe (en ons weet immers ons word nie meer gebind deur die 100e wette van die OT nie). Ons probeer ten minste die regte, goeie dinge doen.

Lees Lukas 18: 9-14

Vs 10-11: Die Fariseër neem sy plek in binne die tempel en hy neem die normale gebedsposisie in: arms en gesig na bo gehef en hy bid oor homself – en soos die gebruik was hardop sodat almal kan hoor…

Vs 13: Die tollenaar het op ‘n afstand bly staan. Hy het nie verder as die voorportaal gekom nie. Hy het gestop daar waar die nie-Jode moes stop, want sy volksgenote het hom in elk geval nie meer as een van hulle beskou nie.

Ons sien hoedat die Fariseër met ‘n oop gemoed en ons sou kon sê ‘n goeie gesindheid tempel toe gaan. Hy weet hy het baie om voor dankbaar te wees. Maar as ons sy gebed mooi lees sien ons dat die Fariseër eintlik maar net dankbaar is vir homself, en vir die feit dat hy soveel beter as ander mense is. Kyk dan net die tollenaar daar by die deur!

Ja, kyk. Hy weet dat hy nie verdien om sy voete oor die drumpel van die kerk te sit nie. (Hoeveel van julle het vanoggend by die deur gehuiwer?) Gee hom dit, hy ken ten minste sy plek. Hy weet ten minste hoe skuldig en hoe onwaardig hy is, so dat hy homself nie eens kon kry om na die hemel op te kyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: “O God, wees my, sondaar, genadig.”

Twee mense gaan kerk toe. Die een is ‘n wonderlike Christen; die ander ‘n verwese sondaar. Die een bring sy CV, die ander sy sonde. Die een bring sy álles (meer as wat nodig is), die ander bring sy níks. Die een kom om te brag, die ander om te bid. “Ek sê vir julle,” sê Jesus dan: “Hierdie man en nie die ander een nie, het huistoe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.”

Nadat ons die gelykenis en Jesus se gevolgtrekking gelees het, hoe oordeel ons nou oor die Fariseër? “Goddank, ek/ons is nie soos die Fariseër nie! Ja, ek weet ons doen nie so goed soos hy nie, maar ten minste minag ons nie ander mense wat minder het om vir die koninkryk te bied as ons nie. In ons ywer neig ons na die Fariseër, maar in ons houding neig ons gelukkig eerder na die tollenaar se kant toe. Ons doen soos die Fariseër, maar ons bid soos die tollenaar. Ons is veilig!”

En in ons oordeel oor die Fariseër word ons net soos hy… Ons oordeel net nie nou oor die tollenaar nie, maar oor die Fariseër.

Maar laat ons ophou harekloof oor watter kamp ons in behoort. Want in wese gaan hierdie gelykenis nie oor die Fariseër of oor die tollenaar nie. Dit gaan oor God. En God kies nie teen die Fariseër en vir die tollenaar nie. Daar is niks mee fout om vroom te wees of om te streef daarna om ‘n “goeie christen” te wees nie. Die Fariseër doen immers ‘n klomp wonderlike dinge en dis ook goed so! Die probleem by die Fariseër kom egter wanneer hy begin dink dat sy goeie werke hom beter maak as ander mense, en wanneer sy goeie werke hom laat dink dat hy die reg het om oor ander (minder goeie?) mense te oordeel – baie fyn skimpe (dankie Here dat ek nie soos ander mense is nie, en ook nie soos die tollenaar wat daar staan nie!), maar tog in wese oordele… Doen ons dit nie ook soms nie? “Dankie Here dat ek nie só is nie.” “There but for the grace of God go I.”

Vroomheid wat neersien op ander mense. Liefde vir God staan los van liefde vir die naaste.

Die verskil tussen die Fariseër en die tollenaar se gebede is dat die een roem op sy goeie werke en die ander een roem op niks. Die tollenaar probeer ook nie vir God oortuig hoe sleg hy is en dat hy daarom verdien om begenadig te word nie. Ons hoor hom nie bid, soos iemand so mooi verwoord: “Ek dank U, o God, dat ek nie so hoogmoedig is soos daardie Fariseër nie. Ek is ‘n rower, ‘n deugniet, ‘n hond. Twee maal ‘n week gee ek my oor aan bedrog. En nege-tiendes van my bestaan gee ek aan die duiwel. Dankie God, dat my lewe my nederig hou.” Hy lê nie sy sondige dade op sy CV voor as “prestasies vir die onwaardige en daarom die ware ontvangs van die koninkryk van God nie”.

Die tollenaar in hierdie gelykenis roem juis nie in sy sonde nie. Hy neem nie doelbewus ‘n nederige houding in want hy weet dit is wat die Here verwag nie. Hy besef dat hy níks het om voor God te bring nie, hy kom staan daar by met sy leegheid, en hy beroep hom alleen maar op die genade van God. Want die verskil lê by God, nie by die Fariseër of die tollenaar nie. Ons verdien nie God se vryspraak deur ons goeie of deur ons slegte werke nie. Dit is God alleen wat ons vryspreek. Hierdie tollenaar het besef dat hy op geen manier kan verdien om voor God te kom staan nie, en juis daarom mag hy daar staan (selfs al ontbreek die vrymoedigheid). As die Fariseër dit maar net ook kon besef.

Twee dae voor sy dood het die Martin Luther, die Vader van die Hervorming, die volgende neesgeskryf: “Dit is waar, ons is bedelaars.” Ons vier vandag die Hervormingsfees – die regverdiging van die goddelose. Vlg jaar sal dit 500 jaar wees vandat Luther sy lewe op die spel geplaas het vir hierdie evangeliese waarheid. Almal van ons sondige, goddelose mense. Geeneen van ons het iets om op te roem nie. Daarom het ook geeneen van ons die reg om oor ander se kwalifikasies te oordeel nie. Dank die Vader daar is nog mense wat kerk toe wíl kom in vandag se tyd. Laat ons oordele en minagting nie die oorsaak wees van ‘n al kleiner wordende kerk of ‘n keur wat skeur nie.

Mense hoor so moeilik. Jesus se woorde oor die Fariseër en die tollenaar was nog nie koud nie, toe wil die dissipels al mense met hul babas en kleuters wegwys omdat hulle die groep gesteur het. Nog ‘n groep mense wat nie roem op hul verdienstelikheid nie – die babas. Hulle het niks om te gee nie. Soos die tollenaar het hulle geen prestasies nie, hulle kan net maar ontvang. Dit is juis om hierdie rede dat ons binne die NGK verkies om mense te doop wanneer hulle babas is en nie wanneer hulle al groot genoeg is om self te besluit nie. Want as ons eers self kan besluit raak ons doop te maklik iets soos ‘n gradeplegtigheid – ons het mooi geleer hoe om goeie Christene te wees en die doop raak dan ons sertifikaat tot volwasse toetrede in die geloofsgemeenskap. Nee, die doop is nie ‘n prestasie nie, dis ‘n geskenk vir mense wat toegang tot die familie van God op geen manier kon verdien nie. Lia Smit, jy is gedoop binne die familie van God ongeag wat jy eendag gaan bereik of nie. En as jy eendag vind dat daar vir jou nie ‘n plek is nie, mag dit wees dat jy hierheen kan terugkom en ontdek dat jy saam met al die ander bedelaars hier rondom jou welkom is.

Binne die huidige woelinge en onmin in die NGK, mag dit so wees dat mense wat nie kwalifiseer om by ander deure in te gaan nie, of dit nou is omdat hulle te arm is of te eenvoudig, te sondig, te lig of te donker, of te jonk of te oud, of te gay of te skaam, hoe ookal hulle is of nie is nie – dat hulle welkom sal wees. Julle, ons, almal. Ons oordeel nie. Ons weeg mekaar nie op nie. Niemand word hier te lig gevind nie. Hier is plek vir almal.

Ek wil afsluit met ‘n gebed van Thomas Ken (17e eeu) vir ons gemeente wat ek vry vertaal en aangepas het: O Here, maak die deur van hierdie huis wyd genoeg om almal te ontvang wat na liefde en samesyn smag; maak die deur smal genoeg om alle jaloesie, trots en twis uit te keer. Maak die drumpel glad genoeg sodat dit nie ‘n struikelblok sal wees vir ons kindertjies en oumense nie, en ook nie vir voete wat afgedwaal het nie; en maak die drumpel grof en sterk genoeg om die krag van die versoeker weg te keer. Here, maak van die deur van hierdie huis die ingang tot u ewige koninkryk. Amen.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.