Matt 5:38-42 – 2016

27 November 2016 Pinelands –  Doop
Prediker: Dr Tiana Bosman 

  1. Pinelands se verklaring oor die BAS 2016 besluit aan die gemeente voorlê.
  2. Doop
  3. Matt 5 en preek

YouTube video: Slap her Agtergrond: Seuns van 6-11 jaar oud:

“Wat is jou naam?
Hoe oud is jy?
Wat wil jy wees as jy eendag groot is? Waarom?
Ontmoet vir Martina…
Waarvan hou jy aan haar?
Streel haar nou.
Trek gesigte vir haar.
En nou… Klap haar! Slaan haar hard! Komaan! Klap haar!”

Wys die hele video: 

“In die wêreld van kinders slaan mens nie aan vroue nie…”

Ek dink daar is groot ooreenkomste aan hoe kinders die wêreld sien en aan hoe God wil hê dat ons die wêreld sien. In God se wêreld, in sý koninkryk respekteer mense mekaar, waardeer ons mekaar, maak ons mekaar nie seer nie. Ek wil hê die kinders moet nou daaroor gaan saamgesels in kinderkerk. (Kinders verdaag)

Lees Matt 5: 38-42 (ideaal tot 48, maar ons tyd is beperk).

Ons is tans in SA besig met 16 dae van aktivisme teen geweld. Maar mag ons as Christene hieraan deelneem? Hoe rym dit met Matteus 5 se oproep van Jesus dat, as iemand jou op jou regterwang slaan, moet jy ook die ander een vir hom draai? Dit lyk dan eerder in die teks asof Jesus passifisme aanmoedig: Moet juis nie opstaan teen geweld nie; staan eerder terug, wees die minste, draai die ander wang.

Maar ís dit wat Jesus sê? Of is Hy dalk eerder besig om juis die kwaad aan die lig te bring, dit te ontmasker vir almal om te sien, dit aktief aan te spreek maar op ‘n nie-geweldadige manier? “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand, ‘n hand vir ‘n hand en ‘n voet vir ‘n voet, ‘n wond vir ‘n wond, ‘n lewe vir ‘n lewe… (Eks 21:24, Lev 24:20, Deut 19:21). Julle ken die Bybelse voorskrifte waarvolgens mens geweld met geweld vergeld, dan nie?” Dit is hoe die Joodse volk die OT voorskrifte verstaan het in Jesus se tyd. “Maar Ek sê vir julle: Nee! Moenie geweld met geweld vergeld nie!”

Want, terloops – dit was ook nie die bedoeling van die OT wet nie. Die wet was nie daar om geweld as antwoord op geweld aan te moedig nie, maar eerder die teenoorgestelde: om dit te beperk. Die wet wou ‘n buitensporige vergeldingsdrang aan bande lê, want mens wil altyd iemand anders seerder maak as wat hy/sy jou gemaak het. Nikita Krushchev, een van die leiers van die Koue Oorlog, het dit baie goed verstaan toe hy sê: “Ons kommuniste het baie dinge in gemeen met Christus se leringe. Die enigste verskil tussen my en Christus is dat, wanneer iemand my op die regterwang slaan, slaan ek hom so hard op die linkerkwang dat sy kop afval.”

Wanneer die OT wet egter sê ‘n oog vir ‘n oog beteken dit nie wat die Jode in Jesus se tyd gedink het nie. Nee, as iemand jou oog neem en jy kan jou nie van vergelding weerhou nie, mag jy nie méér aan hom doen as om sy oog te neem nie.

Om Jesus se lering hier in die bergrede te verstaan, moet ons onthou wie die skare is met wie Hy hier praat. Jesus praat met mense wat aan die ontvangkant van die klappe staan, die nobodies in die samelewing. Hy praat met die mense wat in elk geval nie mág terugslaan nie, want dan sal hulle doodgeslaan word!

Maar wat sê Jesus vir hulle? In plaas van berus in die feit dat hulle altyd aan die ontvangkant van ‘n klap gaan staan, draai jou linkerwang vir die boosdoener sodat hy die ook kan slaan. Wat?!

Hoekom , dink die skare meteens, het niemand nog ooit hieraan gedink nie?! Want stel jou die volgende sosiale scenario in die Bybel voor: Mense mag nie hul linkerhande vir enigiets gebruik behalwe om onrein take te verrig soos hulself af te vee nie. Selfs om net ‘n gebaar met jou linkerhand te maak, kon jou ‘n straf van 10 dae se boetening in die sak bring. Die enigste manier waarop mens dus iemand kon slaan, was met die regterhand. En om die persoon op sy regterwang te slaan, sou beteken dat jy hom met die rugkant van jou regterhand klap, dws dat jy hom ‘n dwarsveeg gee. Dis die tipe houe waarmee meerderwaardige mense minderwaardige mense geslaan het. Dis die klappe waaronder kinders en vroue en slawe en arm kleinboere deurgeloop het. Dis hoe ‘n meerdere ‘n mindere op sy plek gesit het – nie soseer bedoel om seer te maak nie, maar erger nog, om te verneder.

Hierteenoor het gelykes mekaar of met die vuis bygedam of jy het met jou oop regterhandpalm jou gelyke broer van wie jy verskil het op sy linkerwang geslaan. Dit was ‘n eerbare hou. Wanneer Jesus dus vir die minstes in die samelewing sê: “As iemand jou op jou regterwang ‘n dwarsveeg gee, lig op jou kop, kyk die persoon vierkant in die oë en draai jou linkerwang vir hom. Dwing hom om jou menswaardigheid te ag, daag hom uit om jou op gelyke terme te slaan.

Hierdie raad wat Jesus gee, het niks te doen met passifisme nie. Dit is radikale weerstand in die hoogste graad, maar op ‘n nie-geweldadige manier.

“As iemand jou voor die hof wil daag en jou onderkleed vat, gee hom ook die bokleed.” Hoekom op aarde sal ‘n persoon iemand anders dagvaar vir sy onderkleed? Omdat die persoon in die skuld so arm is dat hy niks anders het as die klere aan sy lyf nie… Mense, veral die arm Palestyne, was baie maklik in die verstikkende siklus van skuld vasgevang en as jy jouself eers daar bevind het, was dit bykans onmoontlik om weer daaruit te kom. Skuld was gewoonlik die direkte gevolg van die Romeinse keiser se heerskappy (imperialisme). Die keiser het die ryk mense so swaar belas dat die rykes begin het om die armes in skuld in te leen sodat die armes later hul grond aan die hand van die rykes sou verloor. Land was vir geslagte binne die familie gewees en niemand sou dit vrywilliglik verkoop nie. Maar swaar skuld was ‘n manier om land te verloor (of te wen – afhangende van watter kant jy staan).

So jou skuldeiser sleep jou hof toe as jy nie jou skuld kan betaal nie. Daar word jy deur die regsisteem verplig om jou onderkleed vir die skuldeiser te gee as pand of waarborg totdat die eintlike skuld eendag (dalk?) vereffen is. Die arm gehoor met wie Jesus praat, haat die regsisteem wat hulle verneder deur hulle van hul lande, hul besittings en later selfs hulle klere te stroop. In plaas van verleë uittrek en weggee en dan weer jou bokleed beskermend om jou vou, gee Jesus ander raad: “Moenie net jou onderkleed aan die eiser oorhandig nie, gee hom sommer jou bokleed ook!” Dan loop jy poedelnakend kaal by die hof uit. Dink jou net in die mense wat staar, die konsernasie. Daar loop jy uit in jou adamsgewaad, en die skuldeiser kyk jou agterna met jou onderkleed in sy een hand en jou bokleed in sy ander hand. Jou vriende en bure wil weet wat het gebeur en jy vertel vir hulle die ryk man daar agter wat reeds alles van my het, het nou my klere ook gekry.

Om kaal te wees was ‘n taboe in die Joodse kultuur. En die skande was veel groter vir die persoon wat die naaktheid veroorsaak het as wat dit vir die kaal een self was. Die hele sisteem waardeur skuldenaars onderdruk word, word ontmasker (ontklee) en jou kaal parade word ‘n oorwinningstog.

“En as iemand een myl van jou afdwing, loop twee myl met hom saam.” Een van die praktyke om onderdane tot dwangarbeid te forseer, het bekend gestaan as angareia. Hiervolgens kon Romeinse soldate Joodse onderdane (kleinboere of wat ookal) forseer om hul bagasie vir hulle te dra. (Ook bv Simon van Serene wat Jesus se kruis gedra het.) Omdat hierdie praktyk so algemeen misbruik was deur die soldate, was daar ‘n wet wat bepaal het dat ‘n soldaat net vir iemand mag dwing om sy goedere een myl ver te dra. Sou dit aan die lig kom dat jy iemand verder as ‘n myl laat stap het, kon jy swaar beboet word.

Die Jode het die praktyk van angareia gehaat. Hoe gereeld hulle hul daaraan moes onderwerp – soms is hulle daagliks van hulle landerye af geroep deur soldate om hul goedere te dra en so kon hulle dikwels nie hul eie daaglikse arbeid voltooi nie. Maar stel jou nou voor iemand dra ‘n soldaat se goed een myl ver (onder dwang), en wanneer die soldaat dan die pakkasie wil terugvat, sê die kleinboer: “Nee, ek dring daarop aan om u goed nog ‘n ekstra myl te dra.” Die Romein is bang vir straf en pleit by die boer om sy goed terug te gee, maar die boer stap eenvoudig gebukkend voort. Hy dra nie die soldaat se goed ‘n ekstra myl om sy plek in die hemel te verseker “or to kill the man with kindness” nie. Nee, dis sy manier van ‘n geweldlose protes en die bordjies van skaamte en skande word verhang. Met elke tree wat die boer verder gee wen hy ‘n stukkie van sy eie menswaardigheid terug.

Aan die laaste voorbeeld wat Jesus noem (“Gee aan wie van jou iets vra en moet die een wat van jou wil leen, nie wegwys nie”) het ons nie tyd om aandag te gee nie.

Ockert is gebore in ‘n wêreld waar daar nie plek is vir sissies nie. Hy word geroep om Jesus se leringe ter harte te neem, om in Jesus se voetspore te volg.

Moet hy geweld met geweld vergeld? Nee – ‘n oog vir ‘n oog maak beide partye blind.

Moet julle (ouers) hom van kleins af leer hoe om tevrede te wees daarmee om die minste te wees en toe te laat dat ander hom misbruik en oor hom loop? Allermins!

Julle word geroep om hom die alternatiewe derde weg te leer: hoe om op ‘n nie-geweldadige manier die kwaad in die wêreld te ontmasker en op dié manier sy man te staan. En as julle hom leer om ‘n ware man te wees, sal hy dit nie net vir homself doen nie, maar ook vir ander wat aan die ontvangkant van die wêreld se klappe staan. Sodat, wanneer hy eendag aan die kant van die bevoorregte staan en voor die keuse gestel word om ‘n meisie (of enigiemand anders) te klap, dat hy sy kop in ongeloof sal skud:

“Nee.

Ek gaan dit nie doen nie.

Waarom nie?

Want sy is ‘n meisie, ‘n mens.

Want ek kan nie.

Want ek wil haar nie seermaak nie.

Jesus wil nie hê dat ons ander moet seermaak nie.

Want ek is teen geweld.

Waarom, vra jy my? Want ek is ‘n man! Dis waarom!”

Dat hy eerder in die een wat geklap gaan word se skoene sal gaan staan, die dwarsklap neem, sy gesig optel, die opponent reguit in die oë kyk en hom/haar uitdaag: “As jy my (en diegene saam met wie ek staan) dan WIL klap, doen dit op die regte manier, equal grounds, op my linkerwang. Kyk my in my oë en erken my eers ten volle as jou gelyke en kyk of jy dan nog steeds kans sien om my te klap, nadat jy moeite gedoen het om my so te leer ken – so soos wat die seuntjies aanvanklik begelei is om die meisie te leer ken…

Daarom staan talle gemeentes en Christene (ook óns) nou op teen die besluite van die Algemene Sinode, skud ons net kop en sê, jammer, ons kan nie. Ons sal nie vir die gays klap nie. Julle (kerkleiers!) het ons anders geleer oor die Evangelie. Ons staan eerder aan hulle kant, en as hulle koppe bly hang weens al die dwarsklappe waaronder hulle al deurgeloop het, as hulle te moeg of te skaam is om weer op te kyk, dan doen ons dit nms hulle, kyk ons julle in die oë, draai ons ons linkerwange, en dring ons daarop aan om as gelykes behandel te word. Ons sal juis nie terugstaan nie, maar opstaan vir hulle. Soos wat Jesus ook opgestaan het.

In die wêreld van kinders slaan mens nie aan vroue nie. In die wêreld van God nog minder.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

 Haggai 2:1-9 – 2016

6 November 2016 Dankfees, Kerkraadsbevestiging, Nagmaal
Prediker: Dr Tiana Bosman

“Anything worth doing is worth doing badly.” So het die Christen filosoof Chesterton. Most of what must be done to make the world go ’round is done by the average Joe who does not do it perfectly–or sometimes even well” (www.psychologytoday.com)

1. Deur die profeet Haggai praat God met mense wat bou. Hulle is besig om God se tempel te bou en boonop in God se opdrag. Bou is mos goed, en tempelbou seker nog beter. Maar hierdie mense werk nie entoesiasties nie, en daarom sê God vir hulle wat hulle klaar dink:

Lees Haggai 2: 1-3.

Die bouwerk lyk vir hulle nietig, want sommige van hulle onthou nog die majestieuse tempel van Salomo. Maar hulle het nie nou, dekades later, Salomo se rykdom en vakkundiges tot hulle beskikking nie. Esra vertel wat gebeur het toe die bouers die fondamente vir hierdie nuwe tempel gele het. Die hele volk het gejubel, maar baie van die oueres onder die priesters, die Leviete en die familiehoofde wat nog die eerste tempel geken het, het hardop aan die huil (ween) gegaan toe hulle sien hoe die fondamente van hierdie tempel gelê word (Esra 3:12) Is hierdie afskeeptempel die moeite werd?

Wie is hierdie mense? Dit is die Israeliete wat uit ballingskap teruggekeer het. Dis die Israeliete wat die trauma van die verwoesting van Jerusalem en die tempel in 586/7 vC beleef het. Die leiers, rykes en vernames is in ballingskap weggevoer. In 539 vC het daar vir hulle hoop gekom toe die Persiese koning Kores, nadat hy Babilon ingeneem het, die Joodse ballinge toegelaat het om terug te keer en om hulle tempel te herbou volgens die Persiese beleid van godsdiensvryheid.

Van die teruggekeerdes se aanvanklike poging om die tempel te herbou, het daar niks gekom nie. Dis nou amper 20 jaar later en hulle het steeds niks om te wys nie. Hul drome van glorieryke herstel het veel te wense oorgelaat. Alles is net eenvoudig minder goed as soos hulle dit in die vervloeë jare onthou het. Wat het van hulle groot God geword? Waar is Hy?

2. Hy is presies waar mense vervelige sleurwerk doen in moeilike omstandighede! Daar waar mense gehoorsaam opbou:

Lees Haggai 2: 4-5.

Julle sien, eers wou die mense nie bou nie. Hulle was ontnugter en teleurgestel na hul terugkeer uit ballingskap. Dis nie dat hulle krepeer het nie, maar hulle het geen dryfkrag gehad nie. Hulle ploeter maar net elke dag voort en fokus meestal op hul eie lewens en hul eie belange (bou vir hulself pragtige huise om in te woon terwyl die Here se huis in puin lê, 1:4). Tempelbou was nie ‘n prioriteit op hul lysie nie. “Dis nie nou die tyd nie,” hoor ons in 1:2 hulle sê. Hulle stel uit, maar ons almal weet van kom van uitstel… Hulle dink verskonings uit (ons het nie goud en die silwer om mee te bou nie – maar wat van die bome in die berg?, vra die Here, 1:8). Hulle sien swarigheid en hulle verwag mislukking.

Maar God is by klein mense in hulle takies wat gehoorsaam uitgevoer word. Die eerste wat God sê wanneer die volk kla oor hoe hierdie tempel by die eerste een gaan afsteek, is: “Skep moed/wees sterk en bou voort! My gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie!” God wil met sy gees deur ons werk, al is dit dalk nie op die manier wat ons sou verkies nie. Al is dit dan nou net om die een balk bo-op die ander een te sit. Al is dit om op ander “ondankbare” maniere te bou binne die gemeente en die gemeenskap. In sy preekuitleg oor hierdie teks vertel Douglas Lawrie so skerp: “As Moeder Theresa geweier het om vir die Here ‘n kersie aan te steek omdat sy liewer ‘n kragstasie sou wou bou, was daar vandag minder lig in die wêreld… Ons werke steek nie altyd die wêreld aan die brand nie en laat nie almal regop sit nie… Nogtans moet ons luister en gehoorsaam wees.”

Hierdie ontnugterde volk is natuurlik ook ons. Ons leef in ‘n Haggaityd. Apartheid het geval, soos dit moes, maar die reënboog het vervaag en die son van geregtigheid het nie deurgebreek nie, alhoewel dit die week soms lyk asof hy so wil-wil kopuitsteek. Baie gewone Suid-Afrikaners voel moedeloos en magteloos. Daar is tog niks wat ons aan die stand van sake kan doen nie, wie is óns immers? Dan doen ons maar wat vir ons dinge so bietjie beter maak – ons bou of verbou ons eie huise met hoë veiligheidsmure, ons bou ‘n afdak omdat die motorhuis te klein is, ons bou ons eie lugkastele. Maar dis nie plekke waar God se teenwoordigheid kan verskyn nie. Ons raak apaties en daarmee saam so bietjie selfsugtig. Omdat ek nie groot bouwerke vir die Here kan aanpak nie, bou ek maar my eie huis (loopbaan, bankbalans, vriendekring, stokperdjie). Omdat my drupel tog nie ‘n verskil in die emmer sal maak nie, bied ek dit nie aan nie.

3. Maar dan kom God se nuwe belofte:

Lees Haggai 2: 6-9.

God se groot werk is net met my of met ons nie; hemel en aarde, al die nasies word daarby ingesluit! God se magtige teenwoordigheid vervolmaak ons geringe takies en maak daarvan iets groots. Dalk nie nóú nie, maar binnekort. Sy grootste werk kom later in Jesus, nie die Gekroonde nie, maar die Gekruisigde.

Die werk wat ons vir die Here doen, die werk wat soms voel na ‘n gevoortploeter op ‘n plek waar ons éíntlik nie wil wees nie, dit is nie maar blote onbaatsugtige selfopoffering nie. Dit is waar God sy vrede bewerkstellig! Wat veel meer “werd is” as tempels van goud en silwer. Hierdie shalom van God is ‘n gawe wat uiteindelik vir almal bedoel is – dis nie die resultaat van ons werk nie, ook nie die beloning daarvoor nie. Dis eerder die fondament daarvan. Omdat God in sy belofte (my Gees is bý julle) en in Jesus Christus (Immanuel) aan ons skenk, kan ons moedig werk, al bereik ons op die oog af min.

Soos ons gemeente teksvers op die hoeksteen hier buite sê: “Julle (nie hierdie gebou nie) is die gebou van God… Niemand kan ‘n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus.” (1 Kor 3:9, 11). Solank ons mekaar daaraan herinner dat die fondament Christus is, mag ons maar weet dat die bietjies wat ons elke dag verder bou, maar bietjies kan wees. Ek sluit af met Eliot: “Perhaps neither gain nor loss. For us, there is only the trying. The rest is not our business.”

Magda, Herman, Johlene en Pieter, dankie dat julle bereid is om saam met die res van die kerkraad en die wyksleiers te bou,  al dink julle dat jul bydraes maar net ‘n druppel in die emmer gaan wees en al weet julle dat dit dikwels maar sleurwerk gaan wees. Julle is alleen nie. Julle fondament is Christus en julle krag is die Gees van God. Hy is by julle in hierdie taak.

En liewe gemeente, dankie vir elkeen van julle se druppels in die emmer van ons gemeente. ‘n Klompie jare terug was daar sprake dat Pinelands NG gemeente nie meer as ‘n gemeente sou kon voortbestaan nie. Dis julle wat hier sit se getroue druppels wat val op die fondament van Christus waardeur God ons staande hou en waarom on sook vanoggend kan getuig dat dit goed gaan met ons. Die hemel en die aarde, die see en die land het nou wel nie vir ons gebewe nie, maar die kinderkamer bars uit sy nate. Ons het ons eie tekens van God se magtige teenwoordigheid en vrede.

(Bron: Laurie, D; Woord en Fees 2016)

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.