Jesaja 7:10-17 – 2017

25 December 2017 Pinelands Kersdiens
Prediker: Dr Tiana Bosman 

 

Die Christelike geloof was nog nooit gebaseer op die wondergeboorte van Jesus Christus wat ons tydens Kersfees vier nie. Tewens, vir die eerste eeue van die geloof was daar nie eens so ‘n fees nie. Ek lees gister weer oor die geskiedenis van 25 Des as Jesus se geboortedatum, ‘n artikel deur Piet Muller: Die eerste verwysing na Jesus se geboortedag en kerke wat dit vier, vind ons eers in die jaar 200 by Origenes. Volgens hom gedenk sekere gemeentes wel Jesus se geboortedag, maar doen hulle dit op heeltemal verskillende tye. Hy noem nie eens 25 Desember  nie.

Die heel eerste verwysing na 25 Desember kom van die kerkvader Augustinus van Noord-Afrika (laat vierde eeu).

Uit die vierde eeu kom ook ’n Romeinse kalender waarop 25 Desember gemerk is as natus Christus in Betleem (die geboorte van Christus in Betlehem).

Keiser Augustus het later ook 25 Desember verklaar tot die dag van Sol invictus, oftewel die “onoorwinlik son”, omdat dit die terugkeer van die son ná die wintermaande inlei.

Keiser Konstantyn, wat hom tot die Christendom bekeer het, wat besef het die Christendom en die songodsdiens het verskeie raakpunte, en daarom het ook hy 25 Desember as die geboortedatum van Jesus aanvaar.

In teenstelling hiermee is Paasfees wel al vroeg in diegeskiedenis van die Xtendom gevier, omdat Jesus se dood en sy opstanding (nie sy geboorte en die gebeure daarrondom nie) die kern van hierdie nuwe godsdiens waarvan ons ook deel is, is.

Dit is belangrik dat ons hierdie perspektief voor oë hou – dat ons geloof nie staan of val by die verhaal, waarvan baie van die elemente ‘n anderwêreldse atmosfeer het, rondom Jesus se geboorte nie. Ons het laasweek al gepraat daaroor dat die geboorte narratief slegs in Matteus en Lukas voorkom (nêrens anders in die ganse NT nie) en dat daar tussen die twee diskrepansies is.  In ons teks van verlede week, Matt 1:18-25, praat die engel van die Here met Josef en daarna verklaar Matteus die engel se geboorte aankondiging deur Jesaja 7:14 aan te haal, sekerlik een van die mees bekende dele in die OT: “Dit alles het gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word: ‘Die maagd sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring, en hulle sal hom Immanuel noem’”. [In die BH bronteks staan daar egter eerder: “Kyk, die jongvrou is swanger en gaan binnekort aan ’n seun geboorte gee, en sy sal hom Immanuel noem.”

Vandag gaan ons kyk na wat die omstandighede van Jes 7 was…

Jes 7: 1-16 vry en vereenvoudigde vertaling:

In die tyd toe Agas koning van Juda was, het die Aramese koning Resin en die Israelitiese koning Peka ‘n veldtog teen Jerusalem (hoofstad van Juda) onderneem. Die veldtog het egter op niks uitgeloop nie.

Die konteks is die Siro-Efraimitiese oorlog (Sirië = destydse Aram, Efraim = Israel) in die 8e eeu v.C. Die rede waarom Aram en Israel teen Juda optrek is omdat Juda nie saam met hulle teen die groot mag van Assirië (koning Tiglath Pelser) wil veg nie.

Die berig dat die Arameërs reeds in die Israelitiese gebied in Efraim kamp opgeslaan het, het vir Agas, die koning uit die geslag van Dawid, in Jerusalem bereik, en hy en sy volk het baie bang geword. Hulle het gebewe soos die bome in die bos bewe in die wind.

Die Here het toe vir Jesaja gesê: “Vat jou seun Sear-Jasub (“‘n oorskot sal terugkeer”) saam en gaan ontmoet vir Agas by die punt van die kanaal uit die boonste dam, daar waar die vrouens klere was.

Die rede waarom die Here aan Jesaja die opdrag gee om sy seun saam te vat, is waarskynlik omdat daar hoop in die kind se naam opgesluit lê. Dit moet reeds ‘n teken wees vir Agas dat die Here hom sal help.

Sê vir hom: ‘Kry beheer oor jouself en word rustig! Moenie bang wees nie! Jou hart moenie swak wees oor die woede van koning Resin (Aram) en koning Peka (Israel) nie. Hulle is twee stukke brandhout wat net rook maak. Ja, die Arameërs en die Israeliete beplan jou ondergang. Hulle het vir mekaar gesê: ‘Kom ons val Juda aan en oorrompel hom. Dan verdeel ons die land onder ons en ons maak die seun van Tabeal koning van Juda.’

Maar so Ek, die Here jou God: Dit sal nie plaasvind nie, dit sal nie gebeur nie, want dit is maar net Aram met Damaskus as hoofstad, en sy koning Resin. En wat Israel betref, hy sal binne 65 jaar so verwoes word dat hy geen volk meer is nie, want dit is maar net Israel met Samaria as hoofstad, en sy koning Peka.

Maar luister mooi Agas, ook júlle sal nie standhou as julle nie in die geloof standhou nie.

Verder het die Here vir Jesaja gesê: ‘Jy moet ook nog vir Agas sê: Vra vir die Here jou God ‘n teken, enigiets, diep uit die doderyk of uit die hoogtes daarbo.’

Maar Agas het gesê: ‘Ek sal nie vra nie, ek sal die Here nie tart nie.’

Hier gaan dit nie oor godsdienstige vroomheid en gehoorsaamheid aan die wet in Deut nie (Jy mag die Here jou God nie toets nie). Die koning se weiering om God se belofte vir homself toe te eien deur die teken te vra, plaas die vergrootglas op sy ongeloof en sy kastige vroomheid is slegs maar ‘n rookskerm waaragter hy skuil. Hy glo nie dat God hom uit hierdie polities-benarde kan help nie. Aan die een kant is daar Aram en Israel wat ‘n koalisie vorm en aan die ander kant is daar die groot mag van Assirië. Hy is between a rock and a hard place en hy wil nie God se belofte as derde moontlikheid vir uitkoms oorweeg nie. Dan gooi hy eerder die handdoek in na Assirië se kant toe.

Dis natuurlik presies wat Agas gedoen het. Ons lees daarvan in 2 Kon 16: Agas word onderdanig aan Assirië in ruil daarvoor dat Assirië vir Juda sal beskerm teen die Aramese en die Israeliete. Hy neem selfs goud en silwer uit die huis van Here en stuur dit as geskenk aan Assirië (2 Kon 16: 7-8)! Dit is nou uit die huis van die Here wat belowe het dat hy vir Agas en die land Juda sal beskerm! Agas is dus banger vir en het meer vertroue in die magtige Assirië as wat hy in die Here het. As hy voor ‘n keuse te staan kom, dan kies hy Assirië.

Ons was nog laas by Agas wat nie ‘n teken van die Here wil vra nie onder die voorwendsel dat hy te vroom is om dit te doen…

Toe sê Jesaja: ‘Luister, geslag van Dawid (Agas)! Is dit vir julle nie genoeg om mense te vermoei nie (die geduld van mense te toets), dat julle nou ook my God moet vermoei? Die Here sal daarom self vir julle ‘n teken gee: Kyk, die jongvrou is swanger en gaan binnekort aan ’n seun geboorte gee, en sy sal hom Immanuel noem. Hy sal net dikmelk en heuning hê om te eet totdat hy weet om te verwerp wat verkeerd is en te kies wat goed is (totdat hy selfstandig kan dink). Maar nog voordat daardie tyd aangebreek het, sal die lande van die twee konings vir wie jy bang is, verwoes lê.”

Soos julle seker kan dink het Aram en Israel alles verloor soos wat die Here deur die profeet Jesaja voorspel het. En dit kom waarskynlik nie as ‘n verrassing nie dat Assirië kort nadat Agas met hom ‘n ooreenkoms aangegaan het om ‘n vasaalstaat te wees in ruil vir Assirië se beskerming, hierdie einste beskermheer teen Juda gedraai het en Agas se omkoopgeskenke uit die huis van die Here alles verniet was.

Tot hiertoe die agtergrond van die Immanuel-teken in die bekende Jesaja 7. Nou iets meer oor die teken self. Wanneer ons die konteks in ag neem en die oorspronklike OT teks lees (nie die interpretasie van ‘n latere vertaling (LXX) soos ons dit vind in Matteus nie, dan is dit duidelik dat die jongvrou van wie Jesaja praat, reeds swanger is met kind. Hierdie kind is wat Jesaja betref nie ‘n voorspelling wat eers in die verre toekoms waar sal word nie. Dis in die teks so werklik dat mens die idee kry dat Jesaja, terwyl hy met Agas praat, met sy vinger wys na die vrou: Kyk, daar is sy! Sien jy sy is swanger? Nou luister mooi, sy gaan daardie seuntjie Immanuel noem, en voordat hy groot is, gaan Israel en Aram tot niet gaan…

Oor die identiteit van die vrou en die kind weet ons niks verseker nie. Daar is raaiskote dat dit dalk ‘n vrou van Agas was, maar hierdie inligting maak nie saak nie. Die punt wat God wil maak is nie in die OT gekoppel aan die identiteit van die vrou of die kind nie, maar eerder dat die naam wat die vrou vir haar seuntjie gaan gee, ‘n teken daarvan is dat God met die volk van Juda is, of hulle of hul koning dit nou wil glo of nie. Immanuel: God met ons.

Wanneer Matteus eeue later hierdie teken in herinnering roep, probeer hy dus nie daarmee sê dat Jesaja doeriejare al die tyd vir Jesus van Nasaret in die oog gehad het nie. Hy wys egter vir die mense van sy tyd en ook vir latere gelowiges dat die profesie wat reeds in die OT in vervulling gegaan het, nou weereens in vervulling sal gaan, maar hierdie keer heelwat anders, aangepas – want Matteus praat nie van ‘n jongmeisie nie, maar van ‘n maagd. En wanneer hy die profesie onthou, onthou hy dit as ‘n swangerskap wat nog moet kom, terwyl Jesaja wys na ‘n meisie wat reeds swanger is. En die tweede keer maak die werklike identiteit van die kind baie meer saak as die eerste keer – dis ‘n saak om lewe en dood vir die ganse mensdom! Hierdie kind wat binne die profesie die naam kry van Immanuel, moet genoem word Jesus, want dit is Hy wat sy volk van hulle sonde sal verlos (Matt 1:21).

In ‘n artikel wat Hermie van Zyl hierdie week (20 Des 2016) geskryf het, verduidelik hy dit baie mooi: Kersfees en God se reddingsdaad. Ek lees dele daaruit voor:

“[Kersfees] gaan daaroor dat ons God se groot reddingsdaad in die geskiedenis herdenk.

Om te red is wat God die graagste doen. Trouens, dit is waaroor die Bybel eintlik handel. Dit is die verhaal van God se magtige reddingsdade, waarvan die geboorte van Jesus die kulminasie is. Jesus se geboorte lê ingebed in wat God vooraf, in die geskiedenis van Israel, gedoen het. Ons kan sê God se reddingsdade kring soos golwe uit totdat dit in die geboorte van Jesus uitmond. Die Skrif is eintlik net ’n refleksie op die gebeure. Wanneer dit lyk asof Israel hom in sy geskiedenis vasloop, kom God met ’n nuwe reddingsdaad en dan interpreteer die Bybelskrywers dit met die vorige reddingsdade in ag genome…

Een van die merkwaardigste profesieë kry ons in Jes. 7:14. Dit het in ’n benouende tyd gebeur toe Sirië en Israel met oorlog teen Juda gedreig het. In die tyd stuur God die profeet Jesaja na Agas, koning van Juda, met die boodskap: ’n Jong vrou in die koninklike hof sal swanger word, ’n seun in die wêreld bring en hom Immanuel noem wat beteken: God by ons. Te midde van die dreigende nood moes Agas weet God het nie sy beloftes aan die Dawidshuis vergeet nie: Ek is by julle; Ek is jul Redder.

En dit is by die reddingsdaad dat Matt. 1:23 aansluit wanneer hy Jesus se geboorte teen die agtergrond van die lig van Jes. 7:14 vertolk. Nie net is Jesus uit die koningshuis van Dawid nie, maar die profesie van Jesaja gaan opnuut in vervulling: God is by ons.

Die soveelste keer is God die Redder; die keer nie net van Israel nie, maar die ganse mensdom; nie net van oorlog nie, maar van die mens se diepste nood: sonde, vervreemding van God.

En so kring die redding uit na die hele wêreld, in afwagting op die nuwe hemel en aarde wanneer God volmaak by ons sal wees.

Dít is wat ons met Kersfees vier.”

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.