Jesaja 8:23 – 9:4 – 2017

22 Januarie 2017 Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman 

 

Proto/Eerste Jesaja – in die tyd voordat Juda verslaan is, Jerusalem teen die grond, en die volk van die Suidryk na Babilonië weggevoer is (586 vC). Ballingskap was in 2 fases – eerste is die Noordryk (Israel) verslaan en ongeveer 150 jaar die Suidryk (Juda met Jerusalem). Knegliedere van die afgelope twee weke is uit Deutero Jesaja en dateer uit die twee fase van die ballingskap. Maar ons gaan vandag ‘n verdere sowat 150 jaar terug in die geskiedenis – na die gebeure rondom die eerste fase van die ballingskap toe.

Dit is die jaar 734 vC (eerste Assiriese inval toe Israel verskeie gebiede aan die Assiriërs moes afstaan), miskien 723 na die verwoesting van Samaria en die einde van die Noordryk.

Teks:

8:23 Want [daar sal nie wees] donkerte vir die land wat angstig is nie.

In die verlede (in die tyd wat agter is) het Hy verneder die land na Sebulon en die land na Naftali, maar in die latere tyd sal Hy in ere herstel die pad na die see, die gebied oorkant die Jordaan, Galilea van die nasies.

9:1 Die volk wat geleef het in die donkerte, het ‘n groot lig gesien,

die wat gewoon het in ‘n land van doodskaduwee – lig skyn oor hulle.

2 U vermeerder die nasie, U vergroot hul vreugde;

hulle juig voor U aangesig (in U teenwoordigheid) soos met die blydskap van oestyd, soos wat hulle juig in die verdeling van buit.

3 Want die juk van hulle las, die juk van hulle skouer, die knuppel van die verdrukker teen hulle – U het dit verpletter soos op die dag van Midian.

4 Want elke stewel  wat marsjeer dat dit bewe en kledingstuk (soldate uniform) wat gerol is in bloed, is (gebruik) as brandstof vir die vuur.

Notas:

8:23 die pad na die see = kusstrook en vlakte van Jisreël

die gebied oorkant die Jordaan = noordelike gebied

Galilea van die nasies  = gebied vd heidene, samevattend die hele gebied wat nou onder heidense oorheersing val

9:2 bevolkingsaanwas = teken van status, eer, rykdom

  • God se teenwoordigheid en seën word dikwels verbind met die groot godsdienstige feeste wat in of net na oestyd plaasgevind het.

9:3 verdrukking onder ‘n juk = algemene beeld vir vreemde oorheersing

  • Dag van Midian verwys na Gideon se oorwinning oor die Midianiete (Rigters 7). ‘n Klein groepie wat ‘n oormag oorwin het. Hierdie herinnering wil moontlik aandui dat God weer die onmoontlike kan doen. Profete het dikwels die volk aan God se magsdade in die verlede hernner ten einde hul geloof te versterk en nuwe hoop te gee.

9:4 Stewel = ook simbool van onderdrukking.

Waarom die klere verbrand en nie gebruik nie?: Om te sê dat elke teken van militêre oorheersing vernietig sal word. (Jesaja het deurentyd ‘n sterk pasifistiese lyn.)

Die toneel van verlossing word geskets asof dit reeds gebeur het, terwyl ons weet die volk het nog geen verlossing ervaar nie. Hoe so? Die Profetiese Perfektum (Profetiese Verledetyd) baie algemeen in die OT: profete verkonding die boodskap so sterk dat hulle dit vertel asof dit reeds gebeur het. “Só seker gaan dit gebeur, dat ek dit vir julle vertel asof dit reeds plaasgevind het – só seker!”

Het Jesaja die onmiddellik vervulling van die lotsverandering verwag? Weet nie. Het hy dit beleef? Beslis nie.

Boodskap

Almal van ons sit met ons eiesoortig probleme en klagtes, en as iemand net die tyd het om lank genoeg te luister, sal ons waarskynlik vir ‘n uur of langer ons harte kon uitstort oor die sleg in ons lewens. Oor skete en pyne kan ons nie uitgepraat raak nie – hierdie boud en daai skouer, die voet en daai laë rug. My en JP se gedagtes word die afgelope dae oorheers deur die diepe bekommernis of ons met ons eie huis sal kan doen wat ons graag wil nadat die huurders uitgetrek het, of ons genoeg geld het om dit op te knap sodat dit vir ons standaarde darem leefbaar kan wees? Iets wat – vir my ten minste – soms tot diep in die nag laat wakkerlê. My skoonsuster is baie lief vir die uitdrukking “om te kla met die witbrood onder die arm”. Want soms is ons klagtes werklik oorbodig.

Daar ís mense wat vanuit ‘n ander plek kyk na die vernedering, die duisternis, die juk in hul lewens. Mense vir wie hul klagtes nie bloot ‘n paar klippies in hul skoen is wat irriteer nie, maar wat, by wyse van spreke, nie meer skoene het om die berg wat voor hulle lê mee uit te stap nie. Dink aan mense wie se leefwêrelde in duie gestort het. Sommige (gedeeltelik) uit eie toedoen, ander buite hul beheer. Dink aan die gemeentelede wat almal onlangs met kanker gediagnoseer is. Dink aan vriende en familie wat in die afgelope jaar of twee die mense naaste aan hulle aan die dood moes afstaan. Dink aan die man wat in die week met my kom praat het omdat sy gesinslewe rondom hom inmekaargetuimel het en daar net eenvoudig geen uitkoms blyk te wees nie. Dink aan Dawie Brink, die uitvoerende hoof van Solidariteit, wat twee kinders in ‘n ongeluk verloor het waarvan hy die bestuurder was, en sy vrou se linkerbeen is bo die knie ge-amputeer. In ‘n onderhoud met Hanlie Retief sê hy: “Jy kan jouself nie dood treur nie. As jy kon, sou jy.” En ons wat kla oor Suid-Afrika se belemmerde situasie – kyk net na arme Amerika!

Dink verder aan mense wat nie meer in hul eie lande kan woon nie. Vlugtelinge. Dink ver terug aan die ballinge van die Noordryk van Israel in die jare 734 – 723 vC – die ongeluk wat hulle getref het, die lotsverandering wat hulle beleef het. Hulle was nie sonder meer armes en verdruktes en nederiges nie. Baie van hulle was hooggeplaastes in die samelewing. Hierdie groep mense was ook nie bloot die onskuldige slagoffers van omstandighede nie. Die vernietigde Noordryk was eens op ‘n tyd baie magtiger en ryker as sy klein buurman Juda in die suide. Amos en Hosea teken die boorlinge van die Noordryk as arrogante sondaars, as ryk mense, sorgeloos, as mense wat self verdrukkers was. Hulle was so ongehoorsaam dat hul eerste lotsverandering van God af gekom het – die vernedering waarvan ons in 8:23 lees. Nou is die bordjies verhang en hulle sit in duisternis. Hulle wou mos! Dit was hulle verdiende loon! So het die profete ook gesê…

Maar wag ‘n bietjie – het ons nie ook elkeen ‘n verdiende loon nie? Ons wat so maklik kla, maar dan so gemaksugtig lewe. Ons wat nie een van arm is nie, maar tog die sente omdraai wanneer ons ons tuinman of huiswerker moet betaal, of wanneer die petroljoggie of karwag hoop op ‘n fooitjie.  Ons wat self onderdrukkers is in eie reg. Of ons probeer vergeet van iemand wat eensaam in die hospitaal lê en hoop op ‘n besoek. Meeste van ons motors ken nie die paaie na hospitale buite Pinelands nie – dis te ver. Ons wag eerder tot na ontslag wanneer die persoon weer naby is. Ons kla maklik oor kleinighede, maar dan kyk ons verby diegene wat werklik in die duisternis sit. Ons is te besig om ons eie klippies uit te skud om nog elders aandag ook te gee waar mense kaalvoet en bakhand wag om net raakgesien te word – ook diegene wat figuurlike honger en dors na aandag.

Die feit dat Israel eens ‘n geskiedenis van onderdrukking in Egipte geken het, bring nie versagtende omstandighede as hulle in hul dag van vryheid self begin om ander uit te buit en te onderdruk nie. Hulle geskiedens gee nie aan hulle die reg om in die toekoms na binne gerig te lewe en nie die mense buite hul kring raak te sien nie.

Maar die omgekeerde is ook waar, en dít is die blye boodskap van vandag se teks: mense wat verneder is of in die duisternis leef, wat die rede ookal mag wees, word nie aan hul verlede gemeet nie. In elk geval nie deur God nie. Die spreekwoord: jou verlede haal jou altyd in – dit tel nie by God nie. God is bý diegene wat nóú in nood verkeer. Vir hulle tree Hy in. Nie deur hulle tot bekering te roep nie, maar omdat Hy wil, omdat dit is hoe Hy is. God is “passievol betrokke by mense wat ly, ongeag hulle geskiedenis”, lees ek in ‘n kommentaar. Straf, selfs in die situasies waar dit ruim geregverdig sou wees, is altyd vreemd aan God se aard. Sy teenwoordigheid bring lig en vreugde vir diegene wat swaarkry – want Hy is genadig en barmhartig, Hy is getrou selfs aan mense wat ontrou is.

Aanvaar ons hierdie lig en vreugde wat van God af kom, die eer, die fees en die oestyd, die jukke wat verpletter word. Ís dit inderdaad vir ons goeie nuus? Wil ons regtig hê dat God die jukke verpletter? Of sou ons dalk eerder verkies om dit te verskuif na die booswigte se skouers? Die wat jukke verdien? Oor hoeveel mense wat swaarkry spreek ons die oordeel uit: Ja dis sleg, ek wil nie daar wees nie, maar dit is darem sy of haar, hulle verdiende loon. Hy het gevra daarvoor.

Maar onthou dan net – hierdie boodskap van lig en vreugde is juis gerig aan booswigte, aan die Noordryk se mense wat sondaars was. God wil nie die instumente van straf verplaas na meer “verdienstelike skouers” nie, nee, Hy wil dit heeltemal vernietig, verbrand!

Ons kan nie ons eie heil bewerk nie. Israel kon ook nie. Hulle wat verdruktes was het heeltemal vinnig genoeg geleer om die verdrukkers te word. Maar ons word tog geroep om in te spring ten hoewe ander verdruktes – om hulle by te staan in hul tyd van duisternis. Wat God nie van ons vra nie is om in te spring teen die verdrukkers en om oordeel en straf te begin uitdeel. Die bevrydingsteologie waartoe ons opgeroep word is om mense wat gevangenes is van hul omstandighede te help bevry, om daarin instrumente te wees in die hand van God. Dis by hulle waar ons ons moet skaar. Dit is daarom nie om die wapens op te neem teen die vyand nie. As dit gebeur sal God Hom skaar by die vernederde vyand – want Hy is by diegene wat in nood is, wat ly, maak nie saak hoe hulle daar gekom het nie.

Die van julle wat in swaarkry – God is by julle. Die van julle wat nie regtig swaarkry nie, maar tog te maklik kla – probeer vergeet van die irritasies en frustrasies in jou eie lewe (God lag dit af – ‘n goedige laggie want Hy ken ons ook, maar nietemin). Sien eerder diegene om jou raak wat ly. Hulle mag selfs jou eertydse vyande wees. As ons in die lig en die vreugde van God se teenwoordigheid wil leef, laat ons dan uitreik na mense hierdie mense. En mag ons so seker soos die profeet met sy werkwoorde van profetiese verledetyd God se bevrydingsboodskap verkondig asof dit reeds plaasgevind het:

Liewe vriend of vriendin wat leef in die donkerte, ons het ‘n groot lig gesien,

Jy wat gewoon het in die land van doodskaduwee – God se lig skyn oor jou!

As ek Barack Obama se laaste woord van sy uittrede toespraak effe kan aanpas: “Yes, we can! Yes, we have” Na “Yes, He will. Indeed, He has!”

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.