Matteus 5:13-20 – 2017

5 Februarie 2017 Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman 

 

Die Bergrede. In Matt 5: 1 toe Jesus die menigte sien, het Hy teen die berg opgegaan. Nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom toe gekom, en Hy het hulle geleer… ‘n Klein groepie mense wat rondom Jesus vergader om te hoor wat Hy te sê het. Naas sy dissipels waarskynlik nog enkele ander mense ook, van die siekes, die versteurdes en die verlamdes wat Hy netnou nog genees het.

Die Bergrede strek in Matteus oor 3 hoofstukke heen, vanaf hfst 5 – 7. Die inhoud daarvan draai die wêreld op sy kop. Met die aanbreek van die koninkryk van God is dit so: “Geseënd is die wat geestelik arm is, … die wat treur, … die sagmoediges, …die wat honger en dors na geregtigheid, … die barmhartiges, … die wat suiwer van hart is, … die vredemakers, … die wat vervolg word ter wille van geregtigheid, … die wat om My ontwil beledig en vervolg en vals beskuldig word. Júlle is die geseëndes. Ek het vir júlle gekom. Aan júlle behoort die koninkryk van die hemel.”

Dan volg daar verdere toeseggings aan hierdie geseëndes: Julle wat deur die wêreld nie ernstig geneem word of selfs erken word nie (klink dit nie bekend nie – in ‘n tyd wat die kerk al meer irrelevant word in die groter prentjie van die wêreld; bygesê: met goeie rede…), júlle is die sout vir die aarde, júlle is die lig vir hierdie wêreld wat hulle (nou nog) nie aan julle steur nie, julle is soos ‘n stad wat op ‘n berg lê en nie weggesteek kan word nie. NIE: julle moet dit word nie. Júlle is dit.

Die kwaliteite van sout en lig is voor die hand liggend. Die belangrikste is dalk om te sê dat die krag van sout en van lig daarin lê dat dit ‘n VERSKIL maak, ‘n positiewe verskil, ‘n noodsaaklike verskil. Want hoe proe kos wat sonder sout gemaak is? Laf. Wat gebeur as kos nie geperserveer word nie? Dit vrot. En as ‘n oop wond nie skoongemaak word nie – nog ‘n gebruik van sout in daardie dae… Julle is die sout vir die aarde. Die aarde kan nie sonder julle nie… sê Jesus hier vir die eenvoudige vissermanne wat hy as dissipels geroep het.

Wat gebeur as alles om jou net stikdonker is en niemand kan iets sien nie? Chaos! Mense word bang, val, verdwaal, gaan verlore… Julle is die lig vir die wêreld. Mens steek nie ‘n lig weg nie, ‘n lig is immers nie gemaak om weggesteek te word nie. Nee, jy sit dit op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien, en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik. Wys vir die wêreld wat julle is. En wees dit.

So gepraat van goeie werke, moenie dink dat Ek gekom het om die Wet of die Profete af te skaf nie. Ek het nie gekom om af te skaf nie, maar om te vervul, dws om hulle hulle volle betekenis te laat kry… (tot by 5: 19).

Maar wat dan van die offers wat God al (verlede week) in Miga 6 van die hand gewys, “afgeskaf” het? Die wet dat die volk offers van verootmoediging moet bring, maar nog voordat Jesus mens word trek God self ‘n streep deur daardie wet…

Wat van Jesus wat ‘n vrou wat egbreek gepleeg het in Joh 8 met seënwense wegstuur en nie die wet van doodstraf laat toepas nie?

Hoe kan Jesus die Vervuller van die Wette wees as Hy op Sondae are pluk en mense genees wat maar tot Maandag sou kon wag?

Is die Vervuller nie dan eerder die Verbreker nie? Soos die skrifkenners en Fariseërs tereg gesê het?

Laat vaar Hy dan nie eerder die Godgegewe wette omdat Hy ‘n oordrewe en ongesonde klem op die Wet van die liefde plaas nie? Plaas van die wette regtrek lyk dit of Hy dit eerder skeeftrek…

Ek hoor die skrifkenners en Fariseërs se redenasies dikwels – wanneer hulle hul vingers teregwysend uitsteek na daai teoloë en predikante en gelowiges wat durf meer klem op die liefde en liefdesverhoudingse (ja, ook tussen mense van dieselfde geslag) plaas as op die onverbiddellike wette van die “ mag nie’s” en die “ moenies” van die OT. Die redenasies van: ons moenie liefde met toegeeflikheid verwar nie.

Terug by Jesus. Sê Hy nie hier dat daar geen jota of tittel van die Wet tot niet sal gaan nie? Wie die geringste van hierdie gebooie afskaf, sal die geringste in die koninkryk van die hemel genoem word. Maar wie dit onderhou en ander daarin onderrig, sal groot genoem word in die koninkryk van die hemel.

Hoe is ons veronderstel om na te dink oor die wette van die OT, as ons voor ons siel weet dat ons baie van hulle in elk geval nie meer nakom nie? Wat bedoel Jesus wanneer Hy in vs 20 sê: “Ek sê vir julle: As julle geregtigheid nie aansienlik meer is as dié van die skrifkenners en die Fariseërs nie (as julle getrouheid aan die Wet nie meer inhou as die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie), sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel binnegaan nie.”

Hoe verstaan ons dit? Want die skrifgeleerdes en die Fariseërs het selfs méér gedoen as om die voorgeskrewe wette te gehoorsaam. Hulle het hierdie wette oortréf! Hulle het die jota en tittel baie ernstig opgeneem. Hoe is dit dan moontlik dat die eenvoudige dissipels se getrouheid aan die Wet méér moet inhou as die skrifgeleerdes en Fariseërs s’n?

Jesus bring nie ‘n ander evangelie as wat in die OT staan nie. Wat Hy gedoen het, was om mense te leer om te kan onderskei en in te sien waarom dit werklik alles gaan. Die Wet geld nou meer as ooit, maar dit beteken nie dat Jesus die Wet dieselfde verstaan het as die godsdientige leiers van die dag nie. Wanneer Hy sê “julle moet méér doen as die Fariseërs”, beteken dit nie “op die Fariseërs se manier maar net nog méér noukeurig nie”. Dit beteken eerder dat hulle op ‘n heel ander, nuwe manier getrouer aan die Wet moet wees as die Fariseërs. Die Fariseërs het van God self vergeet en die voorskriftelike wet begin dien. Die Wet het hulle god geword, en hulle het dit so ten alle koste nagekom dat hulle mense in die proses tenagekom het. Jesus wou hê dat die dissipels die manier waarop godsdiens deur die Fariseërs bedryf is, moes nalaat. Ons dien nie die wette nie; ons dien vir God. Godsdiens is nie ‘n bedryf nie, dis ‘n verhouding – met Gód, maar daarom ook met onsself en met andere. Vir Jesus gaan dit om getrouheid aan die volle bedoeling van die wet, elke jota en tittel van die liefde…

Kom ons kyk na die struktuur van die Bergrede. Jesus begin met die saligsprekinge as inleiding. Daarna noem Hy die aangesprokenes in die saligsprekinge, die armes van gees ens, Hy noem húlle die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld. Daarna volg die hooftema van die Bergrede: Jesus het gekom om die Wet en die Profete te vervul (5:17). Duidelik op ‘n heel ander manier as wat die Wet tot dusver verstaan is. Herhaaldelik hoor ons hierna die refrein: “Julle het gehoor dat daar gesê is (inhoud van die Wet), … maar Ek sê vir julle…” En in hierdie leringe van Jesus vanaf hfst 5 -7 verduidelik Hy op verskeie maniere wat dit beteken dat Hy gekom het om die Wet en die Profete te vervul. In 7:12 vat Hy dit saam: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, doen ook so aan hulle. Want dit is die kern van die Wet en die Profete.” Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê – dis waaroor alles eintlik gaan. Dis wat dit beteken om sout en lig te wees.

Onder die Joodse teoloë van Jesus se tyd was daar twee groepe: die skole van rabbi Shammai en van rabbi Hillel. Shammai se groep was die peroesjiem, die “reines”, wat geglo het die Messias sou kom sodra die hele Israel die hele wet vir een enkele dag kon nakom. Hillel se skool het geglo jy moenie ‘n las op ander gelowiges laai wat jy self nie kan dra nie.

In die Talmoed word vertel van ‘n man wat die Joodse geloof wou aanneem en toe na rabbi Shammai gegaan het. “Ek wil graag ‘n Jood word,” het hy gesê, “maar op voorwaarde dat u my die hele Tora (die Wet) leer terwyl ek op een been staan.” Die rabbi het hom egter met ‘n bouersliniaal weggejaag.  (Hy kan self gaan meet en pas hoe goed hy die gebooie nakom.)  Toe is die man met sy versoek na rabbi Hillel. Hillel het hom op sy een been laat staan en gesê: “Wat jy nie wil hê ander mense moet aan jou doen nie, moet jy ook nie aan hulle doen nie. Dit is die hele Tora. Die res is kommentaar daarop. Gaan oefen dit.” (Uit Deist)

Jesus begin die Bergrede op ‘n bult met enkelinge wat rondom Hom kom sit en luister. Maar dit eindig heel anders. Die laaste sin in hfst 7: “Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verstom oor sy onderrig, omdat Hy hulle geleer het soos iemand met gesag en nie soos hulle skrifkenners nie.” Hoe verder Jesus gepraat het oor die koninkryk van die hemel en oor ‘n nuwe interpretasie en beoefening van die Wet, hoe vreemder het dit geklink, en hoe meer mense het nadergestaan om te kom luister. Hy het met hulle gepraat soos ‘n man met gesag.

Oor die Christelike geloof kan ons sê wat ons wil. Ons kan bevestig hoe noodsaaklik die eredienste is en hoe belangrik dat ons as gemeente onderling aan mekaar gebind sal wees en deur die liturgie en die liedere versterk sal word om voort te gaan met ons daaglikse lewens. Ons kan bevestig hoe belangrik dit vir ons is “lekker te voel” as ons uitstap by ‘n diens, hoe nodig dit is vir ons Christelike moraal. Maar op die ou-end kom ons geloof neer op dít: Jesus van Nasaret, die stigter van ons geloof – alhoewel Hy by tye in die sinagoges mense geleer het – het die kern van sy geloof buite op ‘n bult verkondig voor ‘n ope gehoor bestaande uit die eenvoudigdes in die samelewing. Terwyl die skrifkenners en die Fariseërs net aan die vernaamstes toegang tot die tempel verleen het en aan hulle die onbuigbare wette as swart en wit geleer en oo so goed gedemonstreer het (hulle kon bv vinnig uitwys as Jesus werk op die Sabbat of as Hy sondaars te maklik daarvan laat afkom…), het Jesus op die bult vir die res geleer: “As jy alles vergeet wat Ek jou vandag geleer het, is daar net een ding om te onthou. Al wat Ek op verskillende maniere probeer sê het, is dit: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, doen ook so aan hulle. Want dit is die kern van die Wet en die Profete.”

 Prof Anton van Niekerk skryf in vandag se Burger die artikel “Kerk moet áltyd hervorm”. Hy skryf dit omdat vanjaar die 500 jarige herdenking van die Reformasie is wat begin het met Luther se 95 stellinge wat hy in 1517 teen die kerkdeur in Wittenberg vasgespyker het – in opstand teen die leringe en standpunte van die kerk van sy tyd. 4 Jaar later word hy deur ‘n pouslike kommissie beskuldig van kettery en voëlvry verklaar. Van Niekerk sluit sy artikel soos volg af: “Ten spyte van sy volgehoue relevansie, leef ons vandag in ander tye en omstandighede as Luther. Die groot vraag van ons tyd is nie meer ‘waar vind ek ’n genadige God’ nie, maar ‘waar vind ek ’n genadige medemens’. Luther se lewe is gedryf deur die sug na ortodoksie: konsensus oor die leer van die kerk. Dis ’n vraag of daardie ortodoksie ooit haalbaar is. Miskien kom ons vandag verder deur ons liewer sorge te maak oor ortopraksie: Konsensus oor hoe mense behoort te lewe, en watter rol die kerk kan speel om die wêreld eerder te vermenslik as te kersten.”

Dis ingrypend om die ontwikkeling van Jesus se leringe in die Bergrede in sy eie lewe te volg. Want die boodskap van vrede bring toe juis nie vrede nie! Hy het weer eendag 3 jaar later ‘n skare getrek op en rondom ‘n bult. Die Een wat destyds met soveel gesag gepraat het oor die koninkryk van Gods vrede, en van mense en verhoudinge wat belangriker is as wette, en dat die hele bedoeling van die Wet in net één wet opgesom kan word; Hy het soveel onvrede met sy leringe veroorsaak. … “Uiteindelik het die peroesjiem – die reines van God – daarin geslaag om vir Jesus, met die beste bedoelinge en ter wille van die suiwer leer, tereg te stel” …

Op ‘n bult ja. Soos ‘n lamp op ‘n lampstaander. Soos ‘n stad op ‘n berg. Hy word die sout vir die aarde – dis sy bloed wat die aarde, die wêreld kom skoonmaak, kom reinig van alle sonde. Praat van practice what you preach. Die ironie is skreiend. Dat die peroesjiem, in al hulle wanopvattings en heeltemal onwetend, van Hom kom maak presies dit wat Hy gekom het om te wees…

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.