Johannes 9 – 2017

26 Maart 2017 Vierde Sondag in Lydenstyd Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Inleiding

Johannes se beelde van lig en donker.

Hfst 7 en 8 vertel van Jesus se optrede op die groot dag van die huttefees, ‘n fees wat algemeen bekend gestaan het as “die fees van die ligte”. Dis betekenisvol dat Jesus dan juis in 8:12 oor Homself sê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee”. Die Fariseërs wou nie hierdie uitspraak van Jesus oor homself aanvaar nie. Hulle sê vir hom “Jy getuig oor jouself; jou getuienis is daarom nie geldig nie”. Jesus maak toe die Jode kwaad met verdere uitsprake oor homself wat vir hulle te verregaande klink en hulle tel later klippe op om Hom daarmee te gooi. Met die dat Hy toe daar weggaan sien Hy die man wat van sy geboorte af al blind was.

Vertelling en opmerkings

Vs 2 – Die algemene siening was dat daar ‘n verband was tussen siekte en sonde – die rede vir siekte en lyding was sonde. Dieselfde geld vir gestremdhede. Dit bring sosiale en godsdientige uitsluiting. Oorlewingsamelewing: geglo dat iemand met ‘n gestremdheid nie ‘n bydrae kon lewer tot die huishouding nie. Godsdienstig is die persone as onrein beskou. Nie net toegang tot die tempel verbied nie, maar het op die rand van die dorp of stad geleef, afhanklik van aalmoese.

Vs 2-3 – ‘n monkey puzzle wat die dissipels vir Jesus stel: Hoekom is die man blind?

  1. a) sy eie sonde OF
  2. b) sy ouers se sonde.

Jesus antwoord c) neither of the above. Maar dan voeg hy self ‘n

  1. d) in – sodat die werke van God in hom gesien kan word.

Ons eie spekulasies oor mense wat gestremd is of siek is of lyding van ‘n ander aard beleef. Hoekom dan? En dan ook die gedagte van dalk verdien die persoon dit, dalk was dit sy ouers… nie so vreemd aan baie mense vandag se redenasies nie. Ander redeneer weer vir elke negatiewe is daar ‘n positiewe, bv die man is blind, maar hy is (daarom) ‘n geniale pianis (bv. Ray Charles). Ek lees ‘n artikel van ‘n vrou wat ‘n praatjie hieroor lewer – dat God op besonderse maniere werk deur mense met gestremdhede… toe rol ‘n vrou in haar rolstoel vorentoe en sê vir die spreker: I would like you to consider that a disability means… absolutely nothing.” Ons moet verder versigtig wees om vanuit Jesus se antwoord afleidings te maak wat sou impliseer dat God die man doelbewus blind geskape het om hom te “gebruik” as ‘n “les” vir ander, die argument van daar is ‘n doel met alles. Dit is nie waar dat stukkende mense, sodra Jesus hul pad kruis, almal wonderbaarlik genees en ‘n happily-ever-after lewe het nie.

In hierdie gebeurtenis is dit nou wel so dat God via Jesus die blindgeborene gaan genees in die lig van die voorafgaande argument – die Fariseërs soek ‘n geloofwaardige getuie dat Jesus die Lig is wat vanaf God gestuur is, hulle aanvaar nie Jesus se selfgetuienis nie, nou gaan hy vir hulle gee wat hulle soek. En nie sommer met enige wonderteken nie, maar juis een wat ook fisies die kontras tussen lig en donker demonstreer!

Vs 6 –Die gedagte dat die speeksel van ‘n belangrike persoon helende krag bevat, was nie so vreemd aan die antieke wêreld soos vandag vir ons nie.

Vs 7 – Die die eerste keer praat iemand met die blinde man self. Almal praat aanvanklik OOR die man, en nie MET hom nie. Maar Jesusis nie soos almal nie – hy praat dan met hom wanneer hy hom stuur na die Siloambad toe. Jesus se praat met hom bring genesing. (Dit sou natuurlik al wees wat nodig is om die man te genees – Jesus het ander met ‘n blote woord gesond gemaak. Waarom hier die ritueel van die spoeg en die modder? Dalk lê daar iets in die aanraking en aanvaarding van die untouchable?)

Vs 7 – Die Siloambad was via ‘n ondergrondse kanaal verbind aan ‘n fontein buite die stad. Die water in die bad was dus gestuurde water. Nes die Siloam bad was Jesus ook die Gestuurde van die Vader wat gestuur is om lewende water (geestelike water) aan mense te gee (Joh 4, 7).

Die tradisionele was in die bad van Siloam.

Die water van die Siloam bad was ook tydens Joodse godsdienstige waterseremonies, reinigingseremonies, gebruik! Jesus genees die man daarom nie net fisies nie, maar onmiddellik ook sosiaal en godsdienstig – hy word rein, aanvaarbaar vir die mense, reg om in die gemeenskap geïntegreer te word, dus nie meer ‘n uitgeworpene op die rand van die samelewing nie. Praat van Nikodemus se van bo af en weer gebore word – die man word wedergebore in ‘n nuwe (eerste) lewe van sig.

Vs 8 – Na sy genesing praat die mense wraggies weer OOR hom en nie met hom nie:

Is dit dan nie hy wat gesit en bedel het nie?

Ja, dit is hy!

Nee, dit lyk net soos hy.

Totdat hy self die moed bymekaarskraap en antwoord: Dit ís ek. (Amper asof hy uit sy plek uit praat oor homself.)

Vs 13 ev – Ons kry die gevoel van ‘n verhoor wat begin afspeel. Die eens blinde man word onder kruisverhoor geplaas om te getuig oor wat gebeur het “so help me God”.

Vs 16 – Die Sabbat: 1) jy mag nie iemand genees op die Sabbat as hierdie genesing maar kon oorstaan tot die vlg dag nie, en 2) om deeg te knie (wat hier deurgetrek word na Jesus wat met sy spoeg klei aanmaak) was vlgs die wette van die Fariseërs een van die 39 verbode handeline op die Sabbatdag.

Vs 18 – die Jode reageer glad nie op die man se getuienis dat Jesus ‘n profeet is nie. Hulle fokus eerder op ‘n meer geloofbare verduideliking: die man was nooit werklik blind nie en vertel leuens oor sy genesing!

Hy het ouers! Sy ouers het hul ook waarskynlik nie meer oor hom ontferm nie, waarom anders is hy dan ‘n bedelaar? Deur ‘n afstand te behou het hulle dalk probeer wys dat dit agv sy eie sonde was en nie hul sonde nie dat hy blind gebore is. Iets van: hul seun is blind maar hulle probeer saving face.

Vs 22 – as die ouers moet kies, kies hulle eerder hulle godsdiens en toegang tot die sinagoge as hul seun.

Vs 24 – “Gee die eer aan God” = ‘n waarskuwingsformule met die doel om iemand aan te moedig om op te staan vir die waarheid.

Amerikaans “so help me God”.

Dws “Praat die waarheid voor God” OF “Prys God deur te erken dat hierdie man, Jesus, ‘n sondaar is, ‘n sabbatsbreker. Ironie is dat die man juis vir God eer deur vol te hou dat Jesus hom genees het met ‘n goddelike mandaat.

Vs 27 – irritasie. Hy het reeds vir hulle vertel en hulle wou hom nie glo nie. Wat ‘n verskil sal nog ‘n weergawe maak? “Julle wil tog nie ook sy dissipels word nie?” En met een sin ontbloot hy die groep se verskuilde agenda – hul aanhoudende vraagstelling het onedele motiewe.

Vs 28-29 – Ons is reg en jy is verkeerd.

Vs 30 – sarkasme – Dis darem snaaks dat julle nie weet…

Vs 34 – Die hartseerste van alles: Nadat die man genees is en al die gesprekke en ondersoeke afgehandel is, word hy uit die sinagoge verban. Jesus hoor daarvan en gaan soek hom op. Die verhaal begin waar ander oor die man praat en Jesus dan met hom praat. Nadat ander met die man begin praat en hom aanhoor, verban hulle hom en aan die einde is dit weer net Jesus wat met hom praat. Hier werk “praat met” teenoor” praat oor” nie…

Vs 37 – “Jy kyk na/sien Hom.” In die lig van die man se genesing ‘n baie kragtige uitspraak. Laas wat hy met Jesus kontak gehad het, het hy Hom net kon hoor. Intussen is hy genees en nou SIEN hy Hom. Hier word sy sig egter ook INsig – die letterlike vloei oor in die figuurlike en geestelike sig, die aanvaarding van Jesus as Here.

Vs 39-41 – Jesus maak nie net die blinde gesond nie (fisies en later ook geestelik). Dis maar een helfte van die storie. Hy ontbloot ook die blindheid en die verkeerde, misplaaste oordeel van die wat dink hulle weet en sien (die leiers).

Opmerkings

Tragiese einde aan ‘n baie dramatiese verhaal. Ons moet nie so op loop gaan met die spoeg en die modder dat ons nie die werklike wonder hier raaksien nie. Die verrassende wonder van die einde: dat dit toe al die tyd die blindgeborene was wat insig ontwikkel (die fisiese wonder was bloot ‘n vehicle om hierby uit te kom), en die gang van die argument wat lig werp op die hardkoppige onkunde van die Joodse leiers.

Verder ook die erkenning daarvan dat die man wat nou weer kan sien toe ook nie ‘n happily-ever-after einde het nie. Ja, hy kan weer sien en ja, hy het die Here leer ken, maar sy lewe is voortaan dalk selfs moeiliker as wat dit was. Ons kry deur die gang van die verhaal amper die indruk dat die meerderheid van sy gehoor sou verkies da thy eerder moes aanhou ly omdat dit minder ontwrigtend vir hulle sou wees. Want nou word hulle godsdiens geskud en dis die een aspek in hul lewe waaraan ander nie moet karring nie, nie eens die Here self nie.

– Die gemeenskap vir wie Johannes skryf, kan met hierdie verhaal vereenselwig. Alhoewel hulle nie ‘n gemeenskap van blind-geborenes was nie, is ook hulle uit die sinagoge verban agv hul belydenis aangaande Jesus. Hulle het vlgs die godsdienstige leiers afstand gedoen van die Wet en die Geskrifte, dit nie meer onderhou nie, en eerder agter Jesus (se nuwe interpretasie vd Wet en Geskrifte) aangegaan. Daarom is hulle nie meer welkom in die sinagoge nie.

– Die gevaar van godsdienstige fundamentalisme: wanneer mense die Bybel lees vir hul eie ideologieë en propaganda, vir hul eie (verstaan van) Jesus of God om te wen, teenoor die boodskap van goddelike medelye teenoor mense eerste plaas en nie wette nie.

– Hoe link die verhaal met lydenstyd? Dis die verhaal van Jesus se verloorstryd teen die Fariseers. Hulle verwerp sy selfgetuienis. Daarna verwerp hulle die geloofwaardige getuienis van die man wat blind was en nou kan sien. En dan verban hulle die man uit die sinagoge – dis dus ook die verhaal van die verloorstryd van hierdie volgeling van Jesus: die godsdientige gemeenskap wil hom (ook) nie he nie. Aanvanklik mag hy nie in die sinagoge ingegaan het nie want hy was gestremd. Na sy genesing is hy ook nie welkom nie, want die Here het hom aangeraak en sy lewe ten goede verander. Die godsdientiges maak hul deur vir hom toe omdat Jesus hom raakgesien het! Ook sy eie ouers kies eerder vir die godsdiens as vir hul seun – hulle wil tog net nie hul lidmaatskap verloor nie.

Wat van ons vandag? Die vraag is dalk wat en wie sien ons raak? Hoe kyk ons na ander mense? En as ons hulle wel raaksien, praat (skinder) ons dan oor hulle of ag ons hulle menswaardigheid en praat met hulle. Wanneer ons wel met hulle praat, ag ons wat hulle sê of maak ons dit af as snert? Want dit help ook nie ons praat met mense, maar neem hulle nie ernstig op nie.

Is ons bewus daarvan dat ons ons eie blindspots het? Dat ons nie so seker moet wees van wat ons alles weet nie? Dat ons dalk dink ons sien, maar eintlik sien ons nie? Ter illutrasie: as ons dan die Woord so goed onder die knie het, hoe gemaak met die teks hierna: Joh 10:14-16: “Ek is die goeie herder en Ek ken my eie en my eie ken My… Ek lê my lewe af vir my skape. Ek het ook ANDER SKAPE wat nie van hierdie kraal is nie. Hulle moet Ek ook lei, en hulle sal na my stem luister…”

Is ons bereid om te erken dat ons dalk verkeerd is oor ander mense se blindheid al dan nie? En ons eie sig, of gebrek daaraan?

Die slawehandelaar John Newton het hierdie verhaal in sy biografiese lied geïnkorporeer nadat hy die Here “gesien” het en as gevolg daarvan opgehou het om mense te verkoop maar eerder aktief ingetree het vir hierdie mense sonder regte. Dis waar die lied “Amazing Grace” vandaan kom:

I once was lost, but now I’m found / was blind, but now I see.

John Newton het gedink hy kan sien, en hy het hom die reg voorbehou om die wat in sy oë op ‘n manier sonder sig was (die wat net werd was om slawe te word, die randfigure, die waarsonder hulle kon klaarkom, die wat nie gemis sou word as hulle verdwyn nie) se lewens in sy eie hande te neem en hulle te verkoop. Totdat hy die dag ontdek het dat hý die blinde een is, dat hý genesing nodig het, dat sý (geestelike) oë met die spoeg van die Here aangeraak moet word, sodat nie nét hy vrygemaak kan word nie, maar ook almal wat deur hom en sy manier van lewe gevange gehou is.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Johannes 4:1- 26 (42) (1-30, 39-42) – 2017

19 Maart 2017 Derde Sondag in Lydenstyd Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman  

Teks

Vs 6: Die fontein/put van Jakob was 1,5km buite die dorp. Daar was ‘n ander put wat nader aan die dorp geleë was.

Die sesde uur, dws 12hr die middag (hulle dag het begin met sonsopkoms – 6hr die oggend)

Die gebruik vir vrouens was om vroeg in die oggend of teen skemer in die aand te gaan water haal wanneer die dag koeler is. Maar hierdie vrou gaan in die middel van die dag – die warmste uur. Dit maak nie sin nie. Boonop stap sy verder as wat nodig is – sy gaan na die verste put toe.

Vs 9: Daar steek ‘n stuk verontwaardigheid in die vrou se opmerking.

Ja, Jode meng nie met Samaritane nie. Die Jode het neergesien op die Samaritane. Hulle het hulle as halfras beskou, want die Samaritane was Jode wat na die Assiriese ballingskap tussen die Assiriërs moes woon, met die gevolg dat ondertrouery plaasgevind het. Die Samaritane was dus nie volbloed Jode nie, en is derhalwe nie meer as volwaardige mense beskou nie. Om met hulle te meng, om ‘n kruik te gebruik waaraan ‘n Samaritaan gevat het en dan daaruit te drink, dit sou noodwendig veroorsaak dat jy onrein word.

Die skokkende in hierdie verhaal is natuurlik nie net dat Jesus as Jood met ‘n Samaritaan praat nie, maar ook, en dalk nog erger!, dat Hy in die openbaar met ‘n vróú praat. Vir ‘n man om met ‘n vreemde vrou in die openbaar te praat, was heeltemal ongehoord. Om die waarheid te sê – die Joodse wette was so streng dat ‘n rabbi nie eens met sy eie vrou, suster of dogter in die openbaar mag gepraat het nie, wat nog te sê ‘n vreemde vrou! (Vrouens was so laag op die sosiale leer dat die Joodse mans soms gebid het: “Ek loof U, o God, dat U my nie ‘n vrou gemaak het nie!”)

Vs 12: Let op: Jakob is beide Jesus en die Samartiaanse vrou se voorvader. Die Assiriese ballingskap het lank na Jakob se tyd eers plaasgevind. Die twee deel dus ‘n gemeenskaplike voorvader en oergeskiedenis.

Vs 15: Die vraag ontstaan natuurlik: Hoekom sou die vrou nie weer hier wou kom water haal nie? Net om haarself die 1,5 km se loop te spaar?

In vs 16 en verder steek ‘n moontlike rede sy kop uit. Hierdie vrou loop met ‘n geweldige verleentheid oor haar kop. Sy wil waarskynlik die daaglikse waterhaal gespaar word sodat sy nie in haar skaamte en skande in die openbaar hoef te verskyn nie…

In plaas daarvan om aan haar versoek te voldoen, lyk dit asof Jesus eerder sout in die wonde vryf deur juis met sy volgende vraag haar diepe verleentheid aan die kaak te stel…

Vs 19: Hierdie berg = Gerisim, die berg waarop die Samaritaanse tempel gestaan het.

Noudat die vrou besef dat Jesus ‘n profeet is, lyk dit asof sy Hom wil toets in sy Joodse standpunt rondom die regte plek van aanbidding.

Vs 22: Die Jode weet meer want hulle geskrifte is meer volledig. Die Samaritane het ‘n gewysigde weergawe van die Pentateug as hulle “Bybel” beskou, terwyl die Jode naas die Pentateug ook die Geskrifte en die Profete en Wysheidsliteratuur gehad het. En vanuit hierdie geskrifte word daar tog reeds voorspel dat die verlossing uit die Jode sal kom.

Vss 19-23: Die vrou is besorgd oor waar die mense moet bid, terwyl Jesus eerder besorgd is oor Wie die mense moet aanbid.

Vs 25: Die Samaritane het nie ‘n messiaanse koning uit die huis van Dawid verwag nie, maar ‘n profeet soos Moses (Deut 18:15). Die verwagting van die Samaritane word hier in Joodse terme uitgedruk. Die vrou het dus ‘n heel ander “tipe” messias in gedagte as wat die Jode verwag het. Maar Jesus se reaksie maak haar oë oop vir sy identiteit as die ware Messias.

Boodskap

Die vrou by die put. So verwys mense na hierdie verhaal. Want dit gaan immers oor ‘n vrou wat op ‘n dag, in die middel van die dag, soos waarskynlik op alle ander dae, by die put van Jakob aangekom het om water te skep.

Die vraag waar rondom hierdie verhaal gebou word, is waarskynlik vir meeste mense: Wie is hierdie vrou? En ons kom nogals baie te wete oor haar. In die eerste plek is sy ‘n vrou, en oor die sosiale status van vroue in die samelewing gaan ek vir eers nie meer sê nie. Sy is ook ‘n Samaritaan, dws nie ‘n volbloed Jood nie, maar eerder ‘n persoon van “gemengde ras”. Die Jode sou haar beskou as vuil. Sy is nie iemand aan wie hulle sal vat nie, wat nog sê praat met haar of drink uit haar kruik. Verder het hierdie vrou die vreemde gedrag (waarskynlik haar gewoonte) om nie op die normale tye van die dag (oggend en skemer) saam met al die ander vrouens van die omgewing te gaan water haal nie, maar om op die warmste tyd, 12hr die middag, te gaan, wanneer sy verseker is daarvan dat sy nie ander vrouens ook sal raakloop nie. Om die een of ander rede sonder sy haar dus af van ander mense.

Nog etikette wat mense graag oor die eeue, en ook vandag, aan die vrou by die put koppel, is die van prostituut en sondares. Want, en hierin lê ook die rede vir haar afsondering, sy het al vyf mans gehad en met die sesde een by wie sy tans woon is sy nie getroud nie. Maar oor ‘n paar dinge moet ons hier helderheid kry. Ons lees nêrens dat hierdie vrou ‘n prostituut was nie. Sy het nie haar liggaam vir geld verkoop nie. Sy het ook nie owerspel gepleeg nie. Nêrens is daar die insinuasie dat sy eintlik gestenig moet word soos wat in daardie tyd met sulke vrouens gedoen is nie.

En of sy in daardie kultuur meer van ‘n sondares was as ander mense net omdat sy al vyf mans gehad het en met die sesde een saamwoon… Hieroor moet ons ook nie te vining ‘n oordeel fel nie. Een van die Joodse wette het bepaal dat ‘n vrou nie meer as drie keer mag trou nie. Hierdie vrou was al vyf keer getroud, dws die wet is al 2 maal oortree, en nog ‘n keer sou omtrent die wenkbroue laat lig. Sy kón dus nie meer trou volgens die Joodse gebruik nie. MAAR ons moet ook onthou dat nét mans van hul vrouens kon skei. Vrouens kon nooit van hul mans skei nie. Vrouens het dus baie min sê gehad in hulle verbintenisse met mans. Dit beteken dat die man wat sy nou gehad het, die een met wie sy saamwoon, se wense waarskynlik die deurslag gegee het vir haar saambly-status. Verder was vrouens van mans afhanklik ter wille van ekonomiese oorlewing. Die vrouens het nie gewerk en ‘n salaris verdien nie – hul mans het vir hulle gesorg.

Oor die redes waarom hierdie vrou al deur vyf huwelike was en nou met ‘n sesde man saamwoon, daaroor kan ons net spekuleer. En daarom moet ons dalk nie te veel daaroor wonder nie. Miskien het sy nie goed genoeg huisskoongemaak en gekook nie. Miskien was sy onvrugbaar, en ‘n man se rykdom het in sy nageslag gelê. Geen man sou getroud wou wees met ‘n onvrugbare vrou nie. Ons weet eenvoudig nie. Wat ons wel weet is dat die feit dat sy met ‘n man saamgebly het op hierdie stadium verklap aan die een kant dat sy ‘n behoefte gehad het om te “behoort”, selfs al is dit nie (meer) in ‘n permanente verbintenis nie, en aan die ander kant dat sy nie ekonomies op haar eie voete kon staan nie. Sy leef van die genadebrood van ‘n man wat haar wil hê/gebruik, maar nie bereid is om die wet nog verder te strek en met haar te trou nie.

Hierdie vrou se lewensverhaal getuig nie van losbandigheid en sonde nie. Dit getuig van pyn, herhaaldelike verwerping – eers deur elke man wat met haar getrou het en later ook deur die samelewing, en desperaatheid.

Voordat hierdie vrou by die put aangekom het, was daar al ‘n man. En ons fokus soms so op die vrou, dat die eintlike punt van die verhaal, naamlik die identiteit en karakter van die man by ons verbygaan. Dit was ‘n moeë man wat ver gereis het. Toe die vrou kom water haal, vra Hy haar om vir Hom ‘n bietjie te gee om te drink. Aan sy voorkoms kon sy agterkom dat hierdie man ‘n Jood is wat dus twee reëls oortree – Hy praat met ‘n vreemde vrou en dan is sy nog ‘n Samaritaan ook. Dit is total ongehoord! Hy moet darem sy grense ken. En neem verder in ag – sy het nie gekom om geselsies aan te knoop nie. Sy kom juis op ‘n vreemde tyd water haal by die verste put vanuit die dorp, sodat sy ten alle koste ander mense kan vermy.

Wanneer die vrou verontwaardig die man aan hul onderskeie sosiale statusse herinner, laat Hy Hom nie daardeur afsit nie. Hy praat steeds met haar. En Hy begin praat van dinge waaroor sy niks verstaan nie – die gawe wat God gee en die lewende water wat Hy haar kan gee. Nou tree die vrou in ‘n gesprek met die man. Eers het sy bloot na Hom verwys as ‘n Jood. Nou spreek sy Hom aan as “Meneer, jy het nie eens ‘n skepding nie, en die put is diep. Waar gaan jy die lewende water vandaan kry?” (11).

Hier is baie verbande met die verhaal van Nikodemus in sy gesprek met Jesus. Nikodemus het die geboorte “van bo af” konkreet as ‘n fisiese weer gebore word verstaan. Omdat hy nie besef het wie Jesus is nie, kon hy nie begryp dat Hy van ‘n geestelike geboorte vanuit God praat wat die ewige lewe moontlik maak nie. Net so verstaan die Samaritaanse vrou nou die water waaroor Hy praat ook as fisiese water en nie as iets geesteliks wat van God af kom om nuwe ewige lewe te gee nie. Maar die Man gee nie op nie – Hy gaan voort om te verduidelik van die water wat Hy gee, die water wat ‘n fontein sal wees wat in ‘n mens opborrel en die ewige lewe gee. Waarop die vrou sê: “Meneer, gee vir my van daardie water, sodat ek nie weer dors sal kry en hier hoef te kom water haal nie.”

Steeds verstaan sy nie… Sy sal maar net te dankbaar wees vir fisiese water wat haar dors so les dat sy nie weer in die openbaar hoef te verskyn en by ‘n put hoef te kom water skep nie. Maar op hierdie punt word haar skaamte en haar skande ontbloot. “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.”

“Ek het nie ‘n man nie…”

“Dis reg. Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie.”

En die Jood wat in sy gesprek met die vrou haar respek verdien het en vir wie sy as “Meneer” begin aanspreek het, word nou in haar oë ‘n profeet, want sy besef Hy weet alles van haar af. Hierop trek sy liewer die aandag van haar eie lewe af en vat sy Hom aan op die belangrikste godsdienstige twispunt tussen die Jode en die Samaritane, naamlik waar God nou eintlik aanbid moet word. Die man lig die relatiwiteit (die onbelangrikheid) van hierdie twispunt vir haar uit, en sy woorde herinner haar aan die Messias, die Christus, wat nog moet kom, en wat, wanneer Hy kom, alles aan hulle bekend sal maak. [Ons weet nou dat sy as Samaritaan ‘n ander messias as die Jode verwag het. Die Samaritane wag vir ‘n profeet soos Moses, terwyl die Jode wag vir ‘n verlosser vanuit die nageslag van Dawid.]

Maar toe die vrou melding maak van die Messias, die Christus, wat nog kom, gryp die man die geleentheid aan en sê vir haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.” Sy los haar waterkruik net daar, gaan na die dorp en sê vir die mense: “Kom kyk, hier is ‘n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?” Deur die loop van sy gesprek met haar, word (vanuit haar perspektief) ‘n vyandige Joodse man met wie sy nie eens mag praat nie, iemand wat sy as Meneer begin aanspreek; hierdie Meneer word ‘n profeet, en die profeet word die Messias, Christus.

Die verstote Samaritaanse vrou, baster wat sy is, word die tweede getuie vir Jesus. Johannes die Doper was die eerste getuie. Sy dissipels kom uit die dorp teruggestap na Hom toe en al wat hulle met hulle saambring is kos om te eet – kos wat Hy nie eens wou eet nie.  Maar die Samaritaanse vrou keer terug met ‘n dorp vol mense, Samaritáne op die koop toe, en hulle kom tot geloof in Hom.

Die eerste groot groep mense wat vlgs Johannes se evangelie tot geloof gekom het in Jesus, was ‘n groep Samaritane. En hulle kom tot geloof weens die getuienis van ‘n verstote vrou. Want sy het ‘n man leer ken by ‘n verlate put. ‘n Man wat glad nie eens veronderstel was om selfs na haar te kyk nie, maar Hy het met haar begin praat, Hy het vir haar gevra om vir Hom water te skep met haar “vuil” hande en haar “vuil” skepding en Hy was bereid om uit haar “vuil” kruik te drink. Hierdie vrou is nie gewoond daaraan dat mense met haar praat nie, om nie eens te praat van ‘n rein Jood, die “goeie” ras nie. Sy is tot dusver vir geen man goed genoeg nie – niemand wil haar hê as sy vrou nie. Sy woon tans saam met ‘n man, waarskynlik nie omdat sy wil nie, maar omdat sy nie anders kan nie.

Die ontmoeting tussen die man Jesus en die vrou wat al aan soveel mans “behoort” het, het nie net haar lewe verander nie, maar ‘n hele dorp vol van die “verkeerde” soort mense. Jesus het alle grense kom oorsteek in sy uitreiking na die vrou – geslag, ras, reinheidsgrense, sosiale status, noem maar op. En deur hierdie oorsteek van grense het haar getuienis oor Hom die mure van die dorp vol Samaritane kom afbreek. Omdat Hy vir hulle ruimte gemaak het, kon hulle in hul lewens vir Hom ruimte maak. Kon hulle in Hom glo. Nie meer as net die Verlosser van die Jode nie (soos Johannes so raak getuig in 1:11: “Hy het na sy eiendom toe gekom [dws die Jode], en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie.”), maar as die Verlosser van die wêreld. So het Jesus mos in Joh 3:16 al vir Nikodemus gesê (dat Hy vir die hele wêreld gekom het), en so getuig die Samaritane, wat in gasvryheid aangedring het daarop dat Jesus nog twee dae by hulle moet bly!), getuig hulle aan die einde teenoor die vrou (kyk – mense praat weer met haar!): “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.”

Dit is die verhaal van die moeë man by die put wat by vreemdelinge en verstotelinge water soek, en op die ou-end nie net haar dors kom les met water van die ewige lewe nie, maar ‘n hele dorp vol van minderwaardige mense.

Drie jaar terug het ek ook oor hierdie teks gepreek, en ek het afgesluit met die vrae:

Hoeveel grense is jy bereid om oor te steek?

Teenoor watter tipe mense is jy bereid om medemenslikheid te bewys?

Sal jy ooit met iemand vriendelik praat as jy weet dat daardie persoon so sleg is in ander se oë dat niemand meer met hom of haar wíl praat nie?

Vir wie sal jy water vra as jy dors is. Aan wie se huis en uit wie se beker is jy bereid om te drink?

Vir wie sal jy water gee as hulle vra?

As gemeente, dink ek, het ons tog ‘n ver pad gekom. Nie net in die 3 jaar nie, maar voor dit al – om ons nekke uit te steek vir mense wat histories benadeel is/word.

Ons aanvaarding van die Belydenis van Belhar (eenheid, versoening en geregtigheid) jare gelede al.

Ons gemeente se openbare verklarings na die 2015 AS en die 2016 BAS en ons praktiese, sigbare verbintenis aan predikante wat in selfdegeslagverhoudinge is of wil wees.

Ons vennootskappe met ‘n gemeente vol haweloses in Maitland en ‘n gemeente in Athlone wat op grond van hul ras uit die wit NGK uitgestoot is. Ons saamwees tydens gemeenskaplike eredienste, nagmaal en rondom etenstafels.

Die oopmaak van ons kerk se deure vir (eks)bendelede wat vir ons te kom vertel van hul lewens of saam met ons aanbid.

Mense van ander gelowe of geloofstradisies, mense wat vir God op ‘n ander berg as ons aanbid, maar tog hier inkom en welkom voel.

‘n Prostituut wat vroeg in die jaar ‘n diens bygewoon het (pas nadat sy uit die tronk gekom het) en verander is deur die liefdevolle aanvaarding wat sy ervaar het tydens die vredesgroet.

Dis nie altyd maklik, ons stem nie altyd saam nie, gaan gepaard met hikke en stote… Maar steeds: Ons hét ‘n ver pad gekom, maar nog lank is dit nie die einde nie. En moet ons daagliks voortgaan om nie net ons gemeente as organisme/groep/liggaam van Christus aan ons leuse van inklusiwiteit te bly toets nie, maar ook die erwe waarop ons woon, die ruimtes waar ons werk, die skole waarin ons kinders is, die hospitale waar ons versorg word, die winkels waar ons ons inkopies doen…

Iemand het per geleentheid gesê die grootste verskil wat die evangelie maak, lê nie in wat ín mense gebeur wanneer hulle tot geloof kom nie, maar wat tússen mense gebeur nadat (ten minste een van) hulle tot geloof gekom het.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Matteus 4:1-11 – 2017

5 Maart 2017 Eerste Sondag in Lydenstyd Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Vandag is die eerste Sondag in Lydenstyd. Verlede Sondag: Sondag van Verheerliking / Transfigurasie, bevind ons onsself saam met Petrus, Johannes en Jakobus op die berg by Jesus, sien ons hoedat Hy deur God verheerlik word, hoor ons die bevestigende stem uit die wolke: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.” Net hierna, met die afkom van die berg, het Jesus se lydensweg na die kruis ‘n baie doelgerigte aanvang geneem.

Dit is nie die eerste keer dat God so vanuit die hemel oor hierdie Seun van Hom gepraat het nie. Reg aan die begin van die Jesus se bediening, toe Johannes Hom in die Jordaanrivier gedoop het, het dieselfde gebeur. Nadat Jesus uit die water uit opkom, praat God vanuit die hemele: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.” En dan direk na die bevestiging van Jesus se identiteit as geliefde Seun van God, die versoeking in die woestyn, vandag se teks…

Lees teks

Interessant dat die oudste evangelie, Markus, se beriggewing oor die versoeking baie korter is as die dramatiese vertellings van Matteus of Lukas. Om die waarheid te sê net 2 vss lank. Dat die Gees vir Jesus in die woestyn in gedryf het, dat Hy daar was vir 40 dae, dat Hy deur die Satan versoek is, dat Hy saam met wilde diere was en dat die engele Hom versorg het. Van die inhoudelike aard van die versoekings rep Markus geen woord nie. Maar ons weet ook dat Markus as ‘n dissipel van Petrus onder druk moes skryf in ‘n tyd toe die gelowiges deur Nero vervolg was. Hy het dus in sy evangelie net gefokus op die essensie van die gebeure rondom Jesus, soos ook hier met die versoeking in die woestyn.

Wanneer ons Matteus (en Lukas) se weergawes lees, dan beskryf hulle Jesus se ervaring in die woestyn binne die tipiese verstaan van die realiteite van daai tyd, van hoe dinge gebeur. Anders as in OT (waar daar vir die volk net een mag is wat oor hul lewens seggenskap het – God teenoor die gode vd ander volke wat soms illusie en soms werklikheid is), word die mens se wel en weë in die NT altyd verstaan as ‘n stryd tussen lig en duisternis, tussen God en die bose geeste, tussen God en die duiwel. Reeds in die eerste vers word ons aan beide hierdie magte bekendgestel: Die Gees het vir Jesus die woestyn ingelei om deur die duiwel versoek te word.

Waarom dan? Hoekom hierdie versoeking? Want Jesus is pas gedoop, en ons sou kon sê dat sy doop iets was soos die legitimasie van studente aan die einde van hul studies. In die sin dat Jesus met sy doop “ingelyf” word in sy bediening, dat Hy met sy doop deur God gestuur word om sy taak te vervul, dat Hy van nou af sy roeping moet opneem.

Nou kan ons onsself voorstel dat hierdie Jesus van Nasaret, met al die bohaai rondom sy geboorte al, van kleins af grootgeword met die idee dat Hy ‘n bepaalde taak en roeping het om te vervul – as profeet, rabbi, iemand wat deur God gestuur is om ander te leer. Dit was sy werk. En Hy moes seker dikwels gedink het: “Jong, Ek weet nie of Ek vir hierdie ding kans sien nie. Hier gaan Ek in die moeilikheid kom, want die soort ding wat Ek vir mense moet sê is nie dit wat hulle graag wil hoor nie”. Juis in daardie tyd wil die Jode hoor hulle is baie spesiaal vir God, want hulle word deur die Romeine beheer en regeer en moet belasting betaal aan ‘n vreemde staat, is nie meer hul eie base nie. Wat hulle graag by Jesus sou wou hoor is dat Hy hul nuwe politieke leier is wat hulle van die Romeinse onderdrukking sal bevry, dat Hy die langverwagte Messias is wat na sy volk se belange gaan kom omsien en hulle eer gaan herstel. Maar dit was nie die boodskap, die roeping wat Jesus gehad het nie…

So, op ‘n stadium (betekenisvol – juis na sy doop, sy inlywing in sy bediening in), kan ‘n mens jou voorstel dat Hy eenkant toe gaan. In daardie tyd was dit niks vreemds dat die profete en die mense met spesiale opdragte juis uit die woestyn uit gekom het nie, waar hulle hul sou afsonder vir ‘n simboliese tyd van 40 dae en 40 nagte wat ‘n lank tyd was (dit herinner aan Moses se 40 dae van afsondering, ook aan vele ander profete, en die boodskappe soos oor Johannes die Doper berig). En dan daar hulself oopstel vir bepaalde boodskappe. Baie profete het in daai tyd opgestaan en gesê dat hulle ‘n woord van God ontvang het. Natuurlik ook valse profete en die uitdaging was om met onderskeiding te luister. (Dis nog vandag net so, interessant genoeg mense wat hierdie soort van aanspraak maak dat hulle ‘n woord van God gekry het. Maar daardie tyd nog baie meer so.)

En in die woestyn word Jesus dan herhaaldelik deur die duiwel versoek. Na 40 dae en 40 nagte van geïsoleerd wees, van niks eets nie, toe Jesus baie kwesbaar was, stel die versoeker vir Jesus voor sy eerste toets: “As jy die Seun van God is” (die bevestiging wat Jesus juis by sy doop gekry het) – “As jy dan nou werklik die Seun van God is beroep jouself op daardie identiteit en sê dat hierdie klippe brode moet word.”

“Die mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom,” antwoord Jesus hom uit Deut 8:3.

Nou kan ek myself voorstel die duiwel se reaksie wanneer hy vir Jesus na die heilige stad toe neem en Hom op die hoogste punt van die tempel laat staan:

“Jy sê jy leef van elke woord wat uit die mond van God kom… God het mos gesê: ‘Wat jou betref, Hy sal sy engele opdrag gee…’ (Ps 91) As jy die Seun van God is, neem Hom dan op sy woord en spring hier af!”

Maar Jesus vang hom vas en wys hom wat kan gebeur as mense tekste buite konteks aanhaal – die duiwel hou aan hom ‘n “belofte van God” voor, maar heeltemal buite konteks, en Jesus antwoord met ‘n teks uit Deut 6:16 – ook buite die konteks van Psalm 91, maar juis daarom ‘n baie goeie antwoord, ‘n illustrasie.

En dan neem die duiwel vir Jesus na ‘n baie hoë berg en beloof aan Hom al die koninkryke van die wêreld in hul prag as Jesus net voor hom sal kniel en hom aanbid, maar weer beroep Jesus Hom op Deut 6:13: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hóm alleen dien.”

Al drie die versoekings gaan oor die vraag na mag – waar kan ek dit kry, hoe kan ek dit in myself vestig, of eerder dalk nie vestig nie en afgee twv ander. Dit gaan oor die vraag na ‘n selfgesentreerde lewe. Dit word beskryf as ‘n stryd tussen Jesus se opdrag om te gaan doen waarvoor Hy gestuur is aan die een kant, en aan die ander kant die meer aanloklike opsie: Ek kan tog sekerlik met my kennis en gawes iets anders doen wat darem baie meer aangenaam sal wees en My persoonlik tot voordeel sal wees. As Jesus daaraan sou toegee sou Hy op die oog af veel beter daaraan toe wees, maar dan het Hy sy roeping versaak.

Ons dink vandag dalk anders, maar binne die verstaan van daardie tyd was dit heeltemal moontlik vir Jesus om anders te kies, om te kies soos die duiwel Hom nooi, en dan ook te kry wat Hy kies: klippe wat in brode verander, engele wat Hom vang voordat Hy sy toon kan stamp, en om die magtigste heerser op aarde te wees. Daar was toe wel later ‘n dag waarop Hy ‘n handjie vol broodjies in mandjies vol verander het sodat Hy die honger mense rondom Hom kon voed. Daar was ook ‘n dag in die Tuin van Getsemane waar sy dissipel ‘n swaard uit die skede ruk om die soldaat se oor af te kap en Jesus hom dan teregwys met: “As Ek beskerming nodig het kan Ek 12 legioene engele roep om My te kom help.” En alhoewel Hy nie toegegee het aan die versoeking om die duiwel te aanbid en die koninkryke as geskenk te kry nie, is alle mag en gesag op die aarde sowel as in die hemel in elk geval deur die Vader aan Hom gegee (Matt 28:18).

Jesus het die versoekings om net aan Homself te dink en sy opdrag te versaak, weerstaan en “die duiwel het Hom met rus gelaat, en kyk, daar het engele gekom en Hom versorg”.

Nou kan ons terugkyk na hierdie verhaal en hierdie gebeurtenis baie jare later en ons weet dat die bedoeling van God met Jesus Christus soos ons dit beskryf kry in die Bybelse verse was dat Hy vir hulle iets moes kom leer van hoe God oor mense dink, dat God vir mense liefhet en omgee, dat Hy nie onderskeid maak nie, dat mense vir hom almal menswaardigheid moet wees, en dat hulle ook daarom in die sending die opdrag kry: “So moet julle vir die wêreld gaan sê: God is lief vir julle, Hy gee vir julle om, Hy sal sorg vir julle, Hy is die geneesheer wat kom vir die siekes, Hy is die een wat eet saam met die tollenaars en die sondaars.” Hierdie boodskap, die leringe en lewe van Jesus keer die orde van daardie tyd op sy kop. Om in daai konteks vir hulle te kom sê kyk na mense wat in die natuurlike (biologiese) en kulturele (Jode, Samaritane, Kanaäniete, Grieke) en sosiale kategorieë (man/vrou, ryk/slaaf) van mekaar af geskei is op ‘n ander manier. Om te leer dat die kindertjies belangrik is. Om te leer dat die vrou wat egbreek pleeg nie meer sondig is as die skrifkenners wat gereedstaan om die klippe te gooi nie. Hy kon daarom ook verwag dat daar moeilikheid sou kom.

Moeilikheid soos ons ook vandag in die kerk beleef. Want enige struktuur, selfs kerklike strukture, is onderhewig aan die verleiding van mag om uiteindelik die (in-) groep se eie belange te beskerm en te voed en net na hulleself om te sien en daarom weer te verval in die versoeking van in kategorieë te dink van hierdie is ons en ons goed en hoe ons dink en vir wie ons sorg, want dit is ons s’n TEENOOR die evangeliese boodskap wat sê die aarde behoort aan die Here. So ook al die mense op die aarde. Nie net sommiges nie! Jesus kom en Hy bring weer hierdie boodskap op ‘n nuwe manier vir die mense. En dan op geen ander manier nie as wat vir daardie tyd aanvaarbaar was of wat vanselfsprekend was: Ook by Jesus was die magte aan die worstel om vir Hom te oortuig: “Man doen vir ons wonders, wees hierdie wonderwerker wat mense beïndruk. Of aan die ander kant: kom val voor my neer en doen afstand van jou roeping. Daar is ander maniere om mag te bekom, om vir jouself te bevredig in die lewe wat jy het.”

Maar dan kom Jesus daarvandaan terug, en daar was geen aanduiding in enige van die berigte dat daar iemand saam met Hom was nie, so dit moes iets soos ‘n latere geleentheid gewees het waar Hy dalk vir hulle sou vertel: “Weet julle, daar was ‘n tyd toe Ek gedink het Ek gaan hierdie dinge nie doen nie, dit is te veel gevra. En Ek het eenkant gegaan in die woestyn, Myself daar oopgemaak vir God om te hoor wat Hy vir My wil sê, en Ek wil vir julle sê dit was moeilik gewees, maar Ek het daardeur gekom. God het sy engele gestuur om My te versorg en Ek het teruggekom net meer vas oortuig van my roeping.”

En as ons nou vandag vir onsself moet afvra: Hier sit ons nou in hierdie kerkgebou en wat sê dit nou vir ons, dan is dit eintlik maar nie anders nie, dan is dit doodeenvoudig dat elkeen wat julle wat hier sit, maak nie saak wie jy is, wat jou agtergrond is, hoe die huis lyk waar jy uit kom, watter kultuur jy het, watter taal jy eintlik verkies om te praat nie, om te hoor dat jy vir God baie besonders en spesiaal is en dat Hy jou liefhet, dat Hy jou op geen manier in een of ander kategorie druk as ‘n tweede of derderangse mense nie, dat Hy jou menswaardigheid ten volle aanvaar. Dat Hy die hele wêreld so lief het dat Hy vir Jesus van Nasaret sy roeping opgelê het om juis dít te kom demonstreer. Dat jy deel is van sy liefde.

En dan is die tweede ding: As ons so na mekaar kyk en aan die mense dink wie ons onsself kan verbeel dat ons hulle iewers sien, dat ons die opdrag kry om ook ander mense so te laat voel, en vir hulle ook te laat voel dat hulle is ongeag wie/wat hulle is, hoeveel geld hulle het, watter kleur hul is, taal praat, kultuur aan behoort – hulle is mense, soos God hulle wil hê dat hulle sal wees. Dat ons nie aan die versoekings van die wêreld moet toegee om onsself belangriker te ag as ander mense nie.

Dat ons nie aan die versoekings moet toegee om brood net vir onsself te bak terwyl ander sterf van die honger nie.

Dat ons nie aan die versoeking moet toegee om tekste buite konteks aan te haal en so te misbruik vir ons eie boodskappe nie – boodskappe wat in ons geval dan dikwels daarop gerig is om mense uit te sluit en nie in te trek nie. (soos Ps 91)

Dat ons nie aan die versoeking moet toegee om mag en status na streef sodat mense ons kan ken nie, maar dat ons van mag sal afsien juis soda tons meer toeganklik kan wees vir die mense in nood.

En op hierdie wyse sou die Christelike boodskap einlik dan die bolwerk moet wees van versoening, wat mense bymekaar bring, wat mense vir mekaar aanvaarbaar maak, wat mense leer om met ander oë na mekaar te kyk, met sagte oë wat tederheid het vir mekaar se leed en omstandighede, wat genaakbaar is. Dit hoort die kerk te kenmerk, dit hoort die uitstaande kenmerk van die kerk te wees, om nie aan die versoekings te voldoen en die magspeletjie te speel nie, om nie aan die versoekings te voldoen en hiervan ‘n tipe wondergeloof te maak nie, maar om in die realiteit van die werklikheid, van die lewe vandag mense hulleself te laat ontdek as iemand wat besonders is.

Wat is die kerk se opdrag, roeping vandag? Soos met Jesus lê dit in ons identiteit.

Met Jesus se doop: Geliefde Seun van God. Versoeking: As jy die Seun van God is…

En so ook vir ons: As julle die kerk van God is, kinders van God, seuns en dogters…?

Die versoeking in die woestyn was nie die laaste keer dat Jesus versoek is nie. Ook toe Petrus Hom vra om van sy lydensweg afstand te doen (en Hy vir Petrus Satan noem), ook einde laaste aan die kruis: Matt 27:37-44: Red jouself AS JY DIE SEUN VAN GOD IS!

Weer dink Jesus nie aan Homself nie, red Hy Homself nie…

En ons, die seuns en die dogters van God, wat van ons?

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.